#AmINext-optog: ’n perspektief

  • 1

“Jy is ’n vrou. Hierso! Kom.”

Dit was ’n opdrag wat ek Maandag kort ná middagete in Langstraat, Kaapstad, ontvang het. ’n Vrou het ’n pamflet in my hand gedruk en voor ek kon keer, het sy aanbeweeg.

Ek het teruggestap kantoor toe, maar ek kon nie die uitdrukking op haar gesig vergeet nie: Dit was hartseer, intens en kortweg: fed up!

Sy het genoeg gehad.

Ek dink dit was algehele emosie wat Maandag deur die land vibreer het, toe dit duidelik word dat Uyinene Mrwetyana, ’n student aan die Universiteit van Kaapstad, verkrag en vermoor is.

Vroue in Suid-Afrika het hul versadigingspunt bereik.

Tot hier toe en nie verder nie, is die mening wat verskeie sosiale-media-platforms oorheers.

Ek het besluit om die protes by te woon en ’n kollega het my by die protes in Pleinstraat gaan aflaai, terwyl sy parkeerplek gaan soek het (wat sy nooit gekry het nie).

Aanvanklik toe ek uit die kar klim, het ek ’n paar mense gesien – teleurgesteld dat ek die optog gemis het of dat hierdie al mense is wat opgedaag het.

Ek het begin opstap na die parlementsgebou, maar nie ver gekom nie voor ek my teen die massa betogers vasloop: mans, vroue, oud en jonk het na beraming in hul derduisende opgedaag.

Baie min van die betogers wou met my praat, meestal het hul plakkate opgehou in antwoord op ’n vraag.

Ek het besluit om saam met hulle af te stap om te sien waarheen hulle gaan.

Mans en vroue het met plakkate geloop wat elke vrou se vrese en nagmerries vasgevang het, soos: “Yoh, ek is veiliger in ’n kis”, “Hou op om ons dood te maak!” en “Vroue skuld jou niks.”  

Mans het plakkate omhoog gehou wat lees: “Ek staan saam met haar.”

Die een plakkaat wat dalk die meeste voorgekom het, was: #AmINext.

Dit was oorweldigend en tog het ek veilig gevoel. Hulle woede was nie teen my nie, dit was teen ongeregtigheid dat daar ten spyte van al die vroueslagoffers en nagmerrie-verhale nog niks gedoen is nie.

Ek het begin saamstap in Pleinstraat, deur die stasie tot in Adderleystraat en gekyk hoe die vroue vredevol sing en hul plakkate omhoog hou. Ek het ’n ruk gestaan en die optog ingeneem, voordat ek terug kantoor toe gestap het.

In die kantoor het ek op sosiale media geklim en ’n boodskap ontvang van die Facebook-groep, South Africans in the Netherlands. Om die optogte teen die geweld teen vroue en kinders te ondersteun, het hulle ’n geleentheid geskep wat lede op Sondag 8 September 2019 kan bywoon.

Die oomblik van hoop is egter vinnig versplinter toe ek die sosiale media dophou en sien hoe die protes begin skeefloop het. Ek het by my tafel gesit en gevoel hoe moedeloosheid en woede oor my neersak, want die polisie het die betogers met water bespuit.

En al wat deur my kop gegaan het, was: Hoe kan julle nie verstaan nie? Ons gaan dood, word verkrag, lewe in vrees en al wat jy sien, is die woede waarmee ons reageer? Waarom is julle nie ook woedend nie? Wat moet ons nog doen?

  • Foto’s: Cliffordene Norton
  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Alanah van Rooyen

    Dis 'n skande wat in hierdie land aangaan! Geen vroulike inwoner baba, kleuter, kind, tiener, verloofde, getroude of stokoue is veilig nie! Daar MOET nou strenger opgetree word teen mans wat geweld teen ons pleeg! Tronkstraf is nie genoeg nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top