NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"

  • 2

’n Nuwe perspektief oor drink en bestuur is nodiger as ooit. En dit sluit nie padblokkades en blou ligte in nie.

“Gisteraand se partytjie was een vir die boeke. Daar was gelukkig nie blou ligte op die N1 nie … pappa wag nie vir my in die tronk nie,” sê ’n kennis onlangs.

’n Vriendin praat saam: “Ek en my kollegas het Vrydag ná werk aan die kuier geraak. Ek wou nie so baie wyn drink nie, maar, nouja, ek wou ook nie ’n spoilsport wees nie.” Sy het stadig huis toe gery, links van die geel streep.

’n Verkeersman het beduie sy moet aftrek. “Ek flirt toe met hom en sê ek is so jammer dat ek van die padreël ‘vergeet’ het.” Die wetstoepasser het my vriendin se wynasem misgeruik en sy is met ’n waarskuwing laat gaan. “Mamma wag nie vir my nie,” het sy gesê en gelag.

Al versag ons ons misstappe ook hóé, die feite spreek vanself: In Suid-Afrika is alkohol betrokke by sowat 65% van fatale padongelukke. Nagenoeg 18 000 mense sterf jaarliks so en sowat 150 00 word beseer.  

Om die wettige alkoholperk – 0,5 gram per 100 ml bloed – vir drink en bestuur te oorskry, bly ’n ernstige misdaad.

Volgens die AA (Automobiel Assosiasie) is twee-derdes van ’n bier of ’n drankie met ’n 5% alkoholinhoud die wettige maksimum. Wyndrinkers mag nie meer as (net) 75 ml wit- of rooiwyn met ’n alkoholinhoud van 12 tot 14% drink nie. Indien jy whiskey of brandewyn verkies, is 25 ml per uur die limiet. Sou jy vyf enkel-brandewyne drink (behoede ons!), sal jy eers ná tien uur mag bestuur.

Faktore soos jou gewig, geslag, metabolisme en hoeveel jy geëet het, dra wel by tot hoe jou liggaam alkohol verwerk. Ons liggame kan net een eenheid per uur verwerk. As jy minder as 68 kg weeg, sal jy meer tyd nodig hê om dieselfde hoeveelheid alkohol te verwerk.   

Selfs al reken jy dalk dat jy “nie te veel gedrink het nie,” het alkohol ’n effek op jou bestuursvermoë. Jou reaksietyd word stadiger. Jou oog-, hand- en voetkoördinasie laat veel te wense oor. Jou konsentrasie- en oordeelsvermoë verswak en jou visie word belemmer.  

Gestel jy begaan ’n oordeelsfout en ry voor ’n aankomende motor in? Gestel daar stap ’n kind aan haar ma se hand aan die linkerkant van die geel streep?

Natuurlik is dit beter om glad nie te drink voor jy bestuur nie, maar dis waarskynlik onprakties of pure wensdenkery. Maar, sou jy enigsins verkeerd trap (!), kan jy vir ses jaar opgesluit word, tot R120 000 beboet word en ook jou bestuurslisensie verloor. Om nie te praat van die manslag-klag wat jy teen jou kan hê nie.

Veel erger is egter die swaard wat tot en met jou dood oor jou kop sal hang. Hoe leef mens met die wete dat jy ’n man vir ewig in ’n rolstoel laat beland of ’n kind doodgery het?

Dís waaraan ons behoort te dink, nie aan die vermyding van padblokkades, blou ligte of selfs die prys van ’n Uberrit nie. Om “te uber” is in elk geval goedkoper as die boete. As jy werklik nie so ’n diens kan bekostig nie, vra liewer ’n vriend of vriendin wat ’n geheelonthouer is, om jou te kom haal. Sommige versekeraars verskaf ook ’n diens. Ná ’n gekuier word jy en jou motor huis toe bestuur. Die eerste paar keer is gewoonlik gratis.

Om ná te veel drankies ’n “agterpad” te ry, is nie die oplossing nie. Jy sal waarskynlik nie uitgevang word nie, maar jy kan steeds verantwoordelik wees vir iemand anders se tragedie.

Om van wanpersepsies nie te praat nie. Koffie gaan jou nie gou-gou nugter maak nie. Liters water, ’n yskoue stort of ’n Disprin ook nie.   

’n Vriend en wynliefhebber het vir die eerste keer geen alkohol op ’n partytjie gedrink nie. Hy stel dit toe (tong-in-die-kies) só: “Ek is eintlik spyt daar was nie ’n padblokkade nie, ek wou so graag (nugter) in die pypie blaas.” 

Op ’n ernstiger noot … wat verkies jy? Om padblokkades en blou ligte mis te ry, of om bloedvergieting te vermy?  

..............

Lees nog NouNet-menings

NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt

Die opkoms van die introvert

NouNet-mening: Om vredeswil! Nobel se vreemdste prys

NouNet-mening: Genoeg is genoeg

NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet

NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose

NouNet-mening: Hong Kong – steeds eiland met geur en kleur

NouNet-mening: Oor vrouelogika en ander geite

NouNet-mening: ’n Plaaskind probeer die K53 en die ongeskrewe padreëls van die stad met mekaar vereenselwig

NouNet-mening: Beteken bo vyftig dat jy breindood is?

NouNet-mening: Somers in Skotland

NouNet-mening: Sisteem, watter sisteem?

NouNet-mening: Ons sal die gemors moet uitsort

NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

NouNet-mening: Die Stilswye van Stilte

NouNet-mening: Skuldlas

Hoe skryf ek vir NouNet? Hier is meer inligting:

NouNet: publiseer jou mening op LitNet!

  • 2

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Dronkenskap is iets waaroor ons mense graag spog. En nie net dronkenskap nie. Spoed. Hoe vinniger daar gejaag word, hoe beter. En meng die tweetjies, dronk en spoed, en dan het jy die perfekte resep vir chaos. En dit is eintlik nie so moeilik om uit die moeilikheid te bly nie. Dit neem net bietjie wilskrag.

  • Hans Richardt

    Barend van der Merwe, ek deel jou opinie. Om een of ander rede is dit rede om te spog en jou manlikheid by pêlle te bewys, hoe jy "polisie" uitoorlê het.
    Die dag wat hul gearresteer is, kla die dronkgatte en spoedvrate oor "polisie" wat tyd mors met "minderwaardighede", instede van misdaad. Tog het SA ongelukssterfte en beserings syfer gelyk aan siviele oorlog.
    In my oë is daar nie klein en groot sonde nie en bly wetlike misdaad net misdaad, net soos gemeenregtelike misdade. Luister net na belaglike gronde vir spoedoortredings in verhore, om Eenvoudige mentaliteit van oortreders te begin begryp.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top