Dit is Vrouemaand, en of jy nou “mx”, “me”, “mej” of “mev” in jou korrespondensie verkies, die gonswoord is geslagsgelykheid. As deurwinterde weduwee en feminis neem ek die pen op om die draak te steek met vrouelogika en die vreemde geite van die skoner geslag. En ek mág daaroor skryf, want ek is ’n vrou – as ’n man dit sou doen, mag dit beskou word as seksisties. Want sien, ek het grootgeword in ’n matriargale familie. Om die een of ander rede is die mans in ons familie broos of sterf hulle jonk. Ek is grootgemaak deur ’n dominante ma, drie ouer susters en ’n klomp kwaai tantes uit dieselfde patroon. Tot vandag nog kom ek op aandag wanneer ’n gesaghebbende ouer vrou met my praat.
En enige meisie was in Afrikaans Hoër Meisies was, sal vir jou vertel dat dit geen grap is om jou weg oop te baklei tussen ’n klomp evas nie. In ’n skool, of argumentshalwe enige sosiale konstruk, bring seuns of mans balans. ’n Spul meisies saam is meesal venynig, jaloers en afknouerig. Ek het klein-klein geleer dat die belangrikste bate nie is om groot en sterk te wees nie, maar vinnig en rats. As laatlam moes ek gereeld vlug vir een van my susters wat my geboelie het en op ’n keer met ’n steakmes oor ’n sesvoetmuur gejaag het. Ja. Ek het die stel messe nog gewen as tweede prys in ’n interskoolkunskompetisie tydens die opening van ’n Spur-tak in die eertydse Verwoerdburg. Dit was dekades voor die berugte Spur-boikotte, en daardie steakmesse was deel van ’n limited edition.
............
“Nadat ek vir jare die eienaardighede so eie aan vroue bestudeer het, het ek besluit om enkeles daarvan neer te pen.”
............
Nee, die lewe in ’n matriargale familie was nie aldag maklik nie. Ons het nie verveeld rondgesit en lees, swierige briewe skryf of siersteek gedoen soos die dames in die Victoriaanse tyd nie: as gemenebes van vroue was ons ingestel op oorlewing. Voor my 14de verjaardag was ek bedrewe met al wat power tool is – ek het gesweis, geboor en ge-grind, en onthou nog daardie Flymo-grassnyers van die ‘80's wat so kon zig-zag en jou maagspiere ’n volledige work-out gegee het. My ma het smiddae musiekles gegee, en aandete was mý prioriteit, as die jongste. Ek het sommer wors of tjops op ’n Hot Rock gegooi terwyl ek my huiswerk buite onder ’n boom doen, en vandag nog is ek ’n bobaasbraaier. Soms het my ma sulke bonkige, boerterige bredies gekook – Jeanne Goosen het na haar moeder se bredies verwys as "landskappe vol troos". Die kookproses self was vinnig en kragdadig en ek onthou die drukkoker het soos ’n oerdier oor die stoof gesug en gespu. Ons het gebak ook, ja, maar lekkernye soos rotskoekies of gemmerkoekies wat só kon brand jou oë het getraan daarvan. Skuimpies en ander delikate deli was nie hoog op die agenda nie. Natuurlik het ons die fyner kunsies soos borduur, koekversier, garneer en dekoreer baasgeraak, maar dit was ondergeskik aan die vaardighede van oorlewing. En nee – ek breek nie ’n lansie vir die patriargie nie, maar moet bieg dat ek begeer het om ’n broer te hê, of ’n pa met wie ek mooi memories kon maak.
Ons kon bykans enigiets regmaak. My oudste suster, die slim een van ons vier, se spesialiteit was yskaste. Sy het die binnewerking van kompressors en kondensators verstaan. En myne? Stofsuiers. Ek het my dienste uitverhuur vir ekstra sakgeld en ander mense se stofsuiers in ’n japtrap uitsorteer. My ma het ’n swaar, geroeste toolbox gehad wat sy Suzie gedoop het. Dis die mag van die gewoonte, maar een van my kosbaarste besittings is steeds ’n pienk, meerdoelige ACDC-skroewedraaier wat ’n ereplekkie in my handsak het.
Nadat ek vir jare die eienaardighede so eie aan vroue bestudeer het, het ek besluit om enkeles daarvan neer te pen.
- Wanneer ’n vrou in ’n selfoongesprek baklei, druk sy die foon dood met ’n lang, ferm wysvinger. Sy druk met mening. Hoe groter die afstand tussen die indeksvinger en die foon, hoe groter die konflik. Die virtuele geselsvinger het die laaste sê. Ek vermoed die ekwivalent hiervan jare gelede was toe vroue briewe opgeskeur het met lang, dramatiese hale en die flenters dan voor ’n man gestrooi het.
- As vroue shopping doen, ondergaan hulle ’n gedaanteverwisseling. Hulle oë raak smal en glasig van begeerte, asof hulle kontak met die werklikheid verloor. Oor die mistieke multimiljoenbedryf van kosmetiek hoef ek nie eers uit te brei nie. Wanneer ’n vrou op ’n shopping spree gaan, skei haar brein skynaar endorfien af wat por: koop, koop, koop. Maar o wee, vroue wat saam bargains jag, is bitter gevaarlik. Met enige Black Friday sien jy onverbloemde moordgedagtes in hulle oë. Wat my die meeste irriteer, is vroue wat knaend met hulle waentjies jou hakke raakry. Of vriende wat mekaar raakloop in ’n supermark en sommer ’n kuier of reünie daar tussen die rakke inwerk, en dít sonder enige konsiderasie vir ander klante wat items van die rakke wil afhaal.
- Vroue loer in ander mense se badkamerkassies. So, as jy gevoelig is oor jou Anusol, kondome, tampons of draks, dink weer.
- Wat het geword van die Victoriaanse vloermoere? Mens sien dié toneel dikwels in ou films: die vrou wip haar skouertjies regop; sy klap die arme drommel van ’n man wat met ’n pokergesig soos op ’n paradegrond bly staan, arms regaf teen sy lyf – dan los sy ’n klein, verontwaardigde gilletjie, ruk om en hardloop weg. ’n Ware man het sy klap gevat; dit was ondenkbaar dat hy ooit sou terugslaan. In die ou dae het vroue ook meer flou geval as vandag. Of dit aanstellerigheid was, of korsette, swak ventilasie, hitte of senuwees is ’n ope vraag. Dan is die dame met ’n groot fanfare gelawe – suikerwater of laventel – en toe ek ‘n kind was, het dit ’n reuse-indruk op my gemaak. Ek wou ook gelawe word.
- Vroue misbruik mans om stukkende huishoudelike apparaat reg te maak. Wat die arme stommerik nie besef nie, is dat vroue met aftiklysies (agendas) opereer. Sy sal die ou se ego streel, selfs vir hom kook of bak, maar uiteindelik word die arme jafel net ’n bruikbare nutsman binne haar groter beplanning van herstelwerk.
- Wanneer vroue ’n gesprek voer, hou hulle aan deur die huis loop. Skynbaar het hulle nog nie van die Doppler-effek gehoor nie en hulle stemme styg en daal van vertrek tot vertrek. Die gespreksgenoot moet dan alles los en agter haar aanloop. En ook: vroue is lief om te gesels terwyl hulle tande borsel, en die toehoorder moet al borrelend en gorrelend probeer volg wat sy sê.
- Sommige vroue is soos supermarkte: alles wat hulle het, stal hulle uit, maar alles is nie noodwendig kwaliteit nie. En sommiges is vreeslik lief vir opgaar (clutter is eerder die woord) en miljuisende goetertjies met kuriowaarde word oral uitgepak – estetika en sentiment seëvier bó praktiese oorwegings.
- Wanneer twee vroue mekaar raakloop en hulle het identiese klere aan (waarskynlik nuut, by dieselfde winkel gekoop), dan vlug hulle verleë van mekaar. En vroue het die kuns van skelmkyk vervolmaak; hulle kan byvoorbeeld ongemerk die fynste besonderhede waarneem (soos om na mekaar se tone (naellak) in hysbakke te loer).
- Mans is doodbang vir vroue wat kan toor. Wiccans (die woord “hekse” dra tog soveel bagasie saam), sjamaans, pagans, noem maar op, is vir eeue lank gewelddadig deur mans vervolg en gedood. Jare gelede het ek by ’n esoteriese boekwinkel gewerk en een mooi dag het daar ’n vrou ingesweef. Sy was ’n fantastiese wese, ’n oudprofessor in filosofie, met ’n lang, wit vlegsel en ’n uitgerekte T-hemp (geen bra). Maar dit was eers toe sy saam met my deur die winkel gestap het, stilgestaan het by elke rak en in die verbygaan begin lesings gee het oor die boeke dat ek verstom gestaan het voor haar belesenheid en insig. "Die feministe van vandag is die wiccans van gister," het sy gesê. "’n Vrou wat kan toor, het mag. 'Wiccan' beteken nie verniet 'die wyse een' nie. Die meeste mans is bang vir vroue met mag. Nie almal nie, nee. Net soos hulle lugtig is vir vroue wat buitengewoon intelligent of sterk is." En sy het uitgewei oor (sub)kulture waar mans lang baarde dra. Hoe langer die baard, hoe meer patriargaal en onverdraagsaam is hulle teenoor vroue. ’n Vrou moet haar plek ónder in die pikorde ken. Mans laat hulle baarde lank uitgroei om ander mans af te skrik – dis byna primitief, soos ’n leeu se maanhare. En hierdie baardbrigades is almal bloedbroers in vaderregtelikheid, ongeag hulle onderskeie ideologieë. (Ek verwys nou nie na ’n modieuse baard, of die metroman-mode om vir ’n jaar lank nie te skeer om ’n jaard (yeard) te groei nie.)
Die feminis, TV-persoonlikheid en skrywer Karen Fratti beweer dat vroue mekaar nou, met die Trump-administrasie, méér moet kritiseer. Ek stem rondborstig saam. Maak dit van my ’n slegte feminis? Nee. Geslagsgelykheid impliseer lankal nie meer ’n binêre geslagtelikheid nie, en so ‘n belangrike diskoers kan baat by ‘n skeutjie humor en selfspot.
Lees nog NouNet-menings hier:
NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt
NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"
NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet
NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose
NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis
Kommentaar
Enkellopend
So baie mense dink dit is weird wanneer jy enkellopend is, daar is dan iets fout met jou of jy is net anders. Doen dinge wat jou gelukkig maak met of sonder iemand in jou lewe. Deur foute en teleurstellings is dit die veiligste pad om te loop, sonder stampe en stote. Waardeer die tyd, wees wie en wat jy die graagste wil wees. Om bitter te bly vir die verlede is nie 'n rede om ongelukkig te wees in die hede. Maak jou vir jouself mooi, wees lief vir jouself, en al doen of sê jy is verkeerd lag daaroor...
Dit is nou jou voorreg om nie perfek te wees.
Diere "siele"
Wanneer iemand sê diere het nie siele, wonder ek waar kom hulle daaraan?
Hulle was heel eerste op die aarde, die dinosaurisse nie waar nie.
Noag het opdrag van God gekry om 'n groot ark te bou, nie net vir mense maar ook vir diere. 'n Duif is vrygelaat om te soek na lewe toe dit ophou reën. Selfs in die Bybel lees ons dat God gesê het dat die mens nie bloed mag eet nie. Indien hy wild of 'n voël eet moes hy eers al die bloed laat leegloop in die grond en dit dan begrawe...
want die siel van Alle vlees se bloed is met sy siel verbind.
Baie lekker gelees hieraan. Wat logika betref - onthou dat Marie Curie een van die min persone was, indien nie die enigste nie, wat 'n Nobelprys in Fisika EN Chemie gekry het.
Genade, dankie tog. Ek het nie die moed om soortgelyke waarnemings op skrif te stel nie. Dankie daarvoor. Wat ek ook al agtergekom het met my vrou, ek weet nie of ander vrouens dieselfde vermoë het nie, is sy sien alles. Ek sal ure aan iets werskaf of iets doen, en selfs vir haar goeters doen. Sodra ek egter klaar is en myself skoon gemaak het en skoon klere aangetrek het en my boude op 'n stoel wil neersit, dan vra sy om gou nog net ietsie te doen. Sy is selfs aan die ander kant van die huis. Sy weet presies wanneer jou boude daardie stoel gaan slaan. Ongelooflik. Een durerige kettingwinkel is vir haar soos terapie. Sy raak skoon in 'n beswyming. Sien en hoor kan vergaan.