NouNet-mening: ’n Plaaskind probeer die K53 en die ongeskrewe padreëls van die stad met mekaar vereenselwig

  • 1

As plaaskind was dit vir my glad nie ’n probleem om uit te figure hoe om met die plaasbakkie te ry nie. Dit was eintlik heel eenvoudig. Maak seker die bakkie is uit rat, draai die sleutel, trap die clutch in, verander na eerste en trap die petrol. Daar gaan jy!

Onthou net om links op die groot grondpad te hou – of wel, daar waar ook al die pad die beste is. Moet nie verby ander karre jaag nie, netnou skiet ’n klip op en tref hulle voorruit. Groet almal wat verbyry. Hulle is heel moontlik jou familie of die dominee, en let tog net op vir die donkies in die pad.

Dit was egter ’n nagmerrie om te gaan vir jou lisensie, want nou speel jy met ’n hele klomp reëls wat nie op ’n plaaskind van toepassing is nie.

Robotligte, sirkels, eenrigtings, veelvuldige bane, bordjies met ’n verskeidenheid tekens en stopstrate – of ten minste was daar twee stopstrate in ons dorpie. So dit het ons darem geken. Maar grotendeels lyk alles soos georganiseerde chaos! Hoe op dees aarde sal mens die reëls van die speletjie kan leer en self toepas?

……….

“As plaaskind was dit vir my glad nie ’n probleem om uit te figure hoe om met die plaasbakkie te ry nie. Dit was eintlik heel eenvoudig. Maak seker die bakkie is uit rat, draai die sleutel, trap die clutch in, verander na eerste en trap die petrol. Daar gaan jy!”

……….

In graad 11 het ek na die K53 gegryp as my toevlug van oorlewing op die pad en agter die stuur. Ongelukkig sou my kennis van die reëls egter nie genoeg wees nie. Dit sou prakties ook uitgevoer moes word. Iets wat nie so maklik vir plaaskinders in die koshuis is nie. Dit is nie asof Pappa die plaasbakkie vir ’n hele week in die dorp kan los nie. Boonop is ratte wissel tussen landerye en die vlakvarke wat oor die pad loop nie heeltemal soos spitsverkeer in die dorp nie.

Dit verg toe drie probeerslae voordat ek wettiglik met die plaasbakkie mag rondbestuur, maar veel langer om gewoond te raak aan die see van karre wat nie hulle K53’s tot op die letter volg nie. Dus is ek as plaaskind steeds in die duisternis oor die reëls van hierdie rondryspeletjie. Benoud val ek in, saam met die stroom karre – onseker oor wat die kar voor en agter my gaan doen.

Bestuurders kondig aan dat hulle van bane gaan wissel, eerder as om te kyk of daar genoeg spasie tussen hulle en die kar agter is. Hulle ry in die reël in die vinnige baan, wat volgens die K53 eintlik net die verbysteekbaan is. Ander hanteer ’n geel lig as ’n uitdaging en ’n stopstraat as ’n glybaan. Nie eens gepraat van die relatiewe reël van ’n rooi lig tydens spitsverkeer nie. Eens het ek in Durbanville se vyfuur-verkeer vasgesit. Waar karre in bane stilgestaan het – regoor die kruising. Hopelik onkundig eerder as selfsugtig het hulle die verkeer opgehou wanneer dit vir die ander bane groen geword het.

Hel! Dis genoeg om al jou vrese vir kapings en kuberkrakings te staak en Elon Musk se selfdriving Teslas te ondersteun.

Ongelukkig sal selfs die Teslas nie die verontagsaming van padreëls deur fietsryers kan voorspel nie. Waar in jou lewe sny ’n fietsryer – sonder om te stop – skuins oor die aankomende verkeer se pad omdat hy direk nadat hy links afgedraai het, regs wil gaan? Nee man! As fietsryers as karre in ag geneem wil word, moet hulle dan ten minste ook ’n bietjie deur die K53 gaan blaai.

Dis erg genoeg vir ’n plaaskind om al die nuwe reëls te leer en te besef taxi’s maak soos hulle wil. Dit is wragtig te veel gevra dat mens nou versigtig moet wees dat jy ’n fietsryer gaan omry wat soos ’n haas vanuit ’n blinde kol deur die gras oor jou baan sny. ’n Mens moet behoorlik weet waarvoor jy ingelaat word wanneer jy agter die stuur inklim en wegtrek.

Maar dalk is dit hoogtyd dat die K53 in bietjie bygewerk moet word. Of ten minste ’n Addendum A kry wat die ongeskrewe reëls van die stad verduidelik.

 

Lees nog NouNet-menings hier:

NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt

Die opkoms van die introvert

NouNet-mening: Om vredeswil! Nobel se vreemdste prys

NouNet-mening: Genoeg is genoeg

NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"

NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet

NouNet-mening: Hong Kong – steeds eiland met geur en kleur

NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose

NouNet-mening: Oor vrouelogika en ander geite

NouNet-mening: Beteken bo vyftig dat jy breindood is?

NouNet-mening: Skuldlas

NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis

NouNet-mening: Ons sal die gemors moet uitsort

NouNet-mening: Die Stilswye van Stilte

NouNet-mening: Somers in Skotland

NouNet-mening: Sisteem, watter sisteem?

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

 

Hoe publiseer ek op LitNet? Lees meer hier:

NouNet: publiseer jou mening op LitNet!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top