Vanjaar se Nobel-Vredesprys is toegeken aan Abiy Ahmed Ali, die eerste minister van Ethiopië. Hy is die jongste regeringshoof in Afrika en is benoem vir die prys na skaars ’n jaar aan bewind. Hoe op aarde het hy die wêreld se mees gesogte toekenning gekry?
Kom ons kyk eers waar die Vredesprys vandaan kom.
Alfred Nobel, ’n Sweedse ingenieur, het in sy leeftyd honderde uitvindsels gepatenteer, waarvan die bekendste dinamiet is. Laasgenoemde het die wêreld se wapenbedryf en konstruksiebedryf ingrypend verander, in so ’n mate dat dit die slim Sweed fabelagtig ryk gemaak het. Alfred is in 1896 oorlede, maar ’n dekade of wat voor dit het ’n koerant verkeerdelik ’n doodsberig oor hom geplaas (dit was ’n ander Nobel, een van sy broers, wat gesterf het). Die berig se opskrif het geskree: “Die handelaar van die dood is dood!” Alfred was natuurlik geskok om die berig te lees, nie net omdat hy self nog springlewendig was nie, maar ook omdat hy nooit aan homself gedink het as ’n “handelaar van die dood” nie. Sy lewe lank was hy dan so ordentlik: lief vir literatuur, die natuur en mense. Diegene wat hom persoonlik geken het, het hom as ’n pasifis beskou. Sy nalatenskap moes summier geherformuleer word! Net daar – en tot die konsternasie van sy familie – het hy besluit om sy massiewe rykdom aan vreemdelinge na te laat.
Hy het ’n reusetrust gestig waaruit verskeie prestasietoekennings gemaak sou word: jaarlikse pryse vir uitstaande individuele bydraes tot fisika, chemie, fisiologie en literatuur (alles dinge waarin bleeksiele soos hy self ’n internasionale reputasie kon bou). Maar daar was ook ’n vyfde kategorie wat hy identifiseer het, ’n eienaardige keuse wat nie aan ’n akademiese veld gekoppel kon word nie: vrede1.
Die Vredesprys was nie net vreemd nie, maar ook kontroversieel: Vandat die Vredesprys die eerste keer in 1901 toegeken is, het dit gereeld (onvreedsame!) debat ontketen. Daar is altyd politiek betrokke by rusies oor vrede, des te meer wanneer ’n luisterryke internasionale toekenning op die spel is. Hoekom byvoorbeeld moet die prys gegee word aan ’n geweldenaar wat bloot (en dalk net tydelik) afsien van sy oorlogspraatjies? (Dink aan Jasser Arafat.) Wat van ’n ontvanger wat die prys kry vir haar dapper stryd om menseregte, en daarna haar rug op menseregte draai (Aung San Suu Kyi)? Of iemand wat nooit iets gedoen het om dit in die eerste plek te verdien nie? (Barack Obama sê self hy het geen idee waarom hy die 2009-Vredesprys gekry het nie.) Terselfdertyd is daar individue soos Moeder Teresa wat onteenseglik die wêreld ’n beter plek gemaak het.
En wat van die jong Ethiopiese politikus wat dit vanjaar gekry het? Abiy Ahmed Ali mag dalk nog net sedert April 2018 aan bewind wees, maar hy het al dinge vermag wat sy eweknieë na amateurs laat lyk. Ethiopië is nie sommer enige land nie – daar is rede waarom dit die setel van die Afrika-Unie is. Die land se geskiedenis strek terug na een van die oudste beskawings op aarde (die koningin van Skeba se tuiste!). Dit het ’n enorme bevolking – meer as 100 miljoen mense – en het die grootste ekonomie in Oos-Afrika. Maar die land se moderne politieke en ekonomiese geskiedenis is meesal tragies: Koloniale verdrukking is vervang met siniese inmenging deur die supermoondhede tydens die Koue Oorlog, en vererger deur die politieke korrupsie van een na die ander Ethiopiese leier. Daar is tans omtrent drie miljoen Ethiopiërs wat vlugtelinge in hulle eie land is weens politieke onderdrukking en voortslepende konflik tussen die land se meer as 90 verskillende etniese groepe. Daar is boonop ook miljoene ander vlugtelinge, vreemdelinge wat probeer ontsnap aan onmenslike omstandighede in die buurlande. Terreur, seerowery, burgeroorlog, “mislukte state” en verdrukking is aan die orde van die dag in die streek wat as die Horing van Afrika bekend staan.
Vir die meeste leiers sou dit ’n intimiderende taak wees om Ethiopië te bestuur. (Abiy se voorganger het immers uit wanhoop bedank, tydens Februarie 2018). Maar hierdie man is besonders, en hy beskou sy leierskap as ’n eksistensiële missie. Hy is ook hoogs geleerd. Een van sy twee meestersgrade is behaal in transformatiewe leierskap; die ander een is ’n MBA, en sy doktorsgraad het gefokus op konflikresolusie. Sy houding is positief en inklusief: bou ’n brug eerder as ’n muur. In Junie verlede jaar was daar ’n mislukte sluipmoordaanval op hom. Sy amptelike reaksie? Vergewe hulle! Geweld is nie die antwoord nie! (Ja, Abiy is ook ’n oortuigde Christen.)
Hy was skaars aan bewind toe hy duisende politieke gevangenes vrylaat, politieke organisasies ontban en aan die Ethiopiese media vryhede gee wat hulle nog nooit beskore was nie. Hy het ook ’n reeks stappe gedoen om vroue te bemagtig. Sy vredespogings was nie net binnelands nie. Binne daardie rowwe streek waarin hy hom bevind, het hy onmiddellik vrede gemaak met sy buurland Eritrea, ’n Noord-Korea-tipe land wat die laaste kwarteeu al in een of ander vorm van oorlog met Ethiopië gewikkel was. Voor die oë van ’n verstomde wêreld het aangrypende tonele hulle afgespeel. Sjampanje wat geskink word op die eerste vlugte tussen die twee lande se hoofstede, voormalige aartsvyande wat mekaar omhels en verskeurde families wat mekaar weer sien, na dekades. Abiy het nog verder gegaan om sy bure te stabiliseer: Hy het Eritrea gehelp om diplomatieke bande met Djiboeti te sluit, Soedan bygestaan om ’n oorgangsbedeling te bereik (nadat die Soedannese diktator in April 2019 omvergewerp is), gehelp om spanning tussen Soedan en Suid-Soedan te besleg, en bemiddel in ’n maritieme dispuut tussen Kenia en Somalië. Nie sleg vir ’n splinternuwe eerste minister nie! Mens kan verstaan hoekom hy die Nobelkomitee beïndruk het.
Die begin van ’n feëverhaal? Helaas, nee. En die dinamika klink nogal bekend vir Suid-Afrikaners, of hoe? Net soos in ons eie geval, toe Nelson Mandela en FW de Klerk in 1993 die Nobel-Vredesprys gedeel het, begin die moeilikste deel eers daarná. Vrede kan nie net aangekondig word nie. In Afrika veral ondervind ons dikwels “negatiewe” vrede, ’n toestand waar die gewere amptelik ophou skiet, maar niemand veilig voel nie. Vrede is vrede alleen wanneer dit volhoubaar is. Dis iets wat gebou moet word, en dit kan generasies neem voordat dit “positief” is. Daar is geen waarborge nie.
Arme Abiy dra nou swaar aan sy Nobel-kroon, want daar is tans meer gewelddadige opstande in Ethiopië as voor sy bewind – en dit terwyl die hele wêreld hom dophou. Gaan hy sy belofte nakom dat 2020 se verkiesings vry en regverdig sal wees? Gaan hy afwyk van sy transformatiewe leierskap? Die demokratiese deur is oopgemaak in sy land, en dekades se opgekropte frustrasies kom nou uit. In die streek bly dinge ook pla. Eritrea kom nie sy vredesbeloftes na nie, en die vredesprosesse elders is delikaat. Ethiopië se ekonomiese vooruitgang (dit is tans die land met die vinnigste groeikoers in Afrika: digby die 9%) veroorsaak onverwagse probleme. Hulle is byvoorbeeld besig om ’n massiewe dam in die Nylrivier te bou, ’n monster van ’n projek wat een van die grootstes ter wêreld gaan wees, en die grootste opwekker van hidroëlektrisiteit in Afrika. Ander lande wat op die Nyl se water staatmaak, soos Egipte en Soedan, is ontsteld daaroor dat die Ethiopiërs die water so skouspelagtig (en effektief!) wil opdam.
Net soos Mandela, en veral De Klerk, uitgevind het, is Abiy besig om te ervaar hoe daardie Nobel-kroon kan skaaf. Ironies genoeg kom die meeste teëstand van mens se eie mense af, veral dié wat bedreig voel deur verandering ... soos die Israeliete wat heelpad luidkeels kla terwyl hulle deur die woestyn gelei word.
Nou wat op aarde help die Vredesprys dan? Sommige mense meen dit moenie aan individue gegee word nie, omdat vrede nie deur ’n enkele mens gemaak of gewaarborg kan word nie. Daar is mense wat sê dat alle vrede ’n fiksie is en beslis nie objektief gemeet of beloon kan word nie. Daar is selfs mense wat wil hê die Vredesprys moet slegs aan waardige ontslapenes gegee word – sodat hulle beoordeel kan word op ’n leeftyd se werk (en geen geleentheid gaan hê om ooit weer menslike foute te begaan nie).
Ek is seker Alfred Nobel sou met al hierdie besware saamstem. Hy het self oor sy Vredesprys gesê: “Ek beoog om na my dood ’n baie groot fonds te laat vir die bevordering van die vrede-idee, maar oor die resultate daarvan is ek skepties.”
Was hy regtig so sinies? Ek twyfel. Ek dink hy sou vandag, meer as ’n eeu later, steeds aandring op hierdie spesifieke jaarlikse toekenning. Maar die Vredesprys, dink ek, was vir hom ’n simbool, eerder as die uitslag van ’n kompetisie. Menslike simbole word gebruik om die tasbare, die huidige te transendeer, en dis wat hierdie prys doen. Dis inspirasie vir besonder moedige mense, soos Abiy Ahmed Ali, wat oplossings soek vir ons mensdom se mees fundamentele probleem: hoe om met mekaar saam te leef. ’n Boodskap van hoop, dus, en hopelik ’n selfvervullende profesie – om vredeswil.
Yolanda Kemp Spies
.......
1 Die sesde prys, die een vir ekonomie, is nie ’n oorspronklike Nobelprys nie. Die kategorie is in 1968 geskep, nadat die Nobelstigting ’n spesifieke skenking daarvoor ontvang het.
Lees nog NouNet-menings hier:
NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt
NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"
NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet
NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose
NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis