Op die eerste oggend van ’n splinternuwe jaar ontwaak ek. My kop klop, my ore suis. Die wollerigheid in my brein begin stadig plek maak vir herinneringe aan gisteraand. Dit kon net sowel herinneringe aan die feesvieringe van afskeidsfunksies, Oukersaand, Kersdag gewees het. Die jollifikasie van soveel naweke. Dit is alles min of meer dieselfde: doef-doef-musiek in die agtergrond, stemme en skaterlag wat druis en donder soos getye wat te vinnig kom en gaan. Die blieng van geskenkpapier, die pieng van selfone, die klieng-klieng-klieng van messe en vurke op borde, lepels in poedingbakkies. Klinkende glase, flikkerende ligte. Gillende kinders. Skietende klappers. Blaffende honde. Tussendeur hoor ek my eie gepraat en gelag.
Ja, dit is aangenaam, prettig aan die begin, tussen bekendes, familie en vriende. Maar namate die aand vorder, raak my tong lam, verloor my gesig die vermoë om uitdrukkings af te wissel. Die tydsverloop tussen die woorde wat by my mond uitkom, word al hoe langer; die woorde word later eenlettergrepige klanke soos “um” en “o”. Heelwat later knik my kop net, en agter my verstarde oë vind die mentale inploffing in stadige aksie plaas. Daar is altyd ’n punt waar alles begin sin verloor. Waar niks meer verstaan kán word nie. Dit is dan altyd te laat om te ontsnap.
Te laat om ’n introvert-babelas te verhoed.
.........
“Een van die vernaamste verskille tussen ’n introvert en ’n ekstrovert lê in hulle manier van batterye herlaai: die introvert deur stilte en alleenwees; die ekstrovert deur interaksie met ander mense. Nog een van die talle verskille is die feit dat introverte ook gou oorweldig word deur omgewings waar daar te veel stimulasie is, terwyl ekstroverte in sulke omgewings floreer.”
.........
Ja, gaan google maar “introvert hangover”, die toestand waarin introverte verkeer nadat hulle te lank gesosialiseer het. Die tydperk wissel van introvert tot introvert, en hang ook af van die geselskap, maar bronne beweer dat die meeste introverte reeds na ongeveer ’n halfuur se interaksie al aangeklam raak. Want tien minute se koeitjies-en-kalfies-gesels is amper te veel gevra vir mense wat elke woord wat hulle sê, dubbel oordink – en elke woord en gebaar wat van jóú af kom, haarfyn ontleed.
Die simptome van ’n sosiaal beskonke introvert is onder meer hoofpyn, duiseligheid, spierpyne, oormoegheid, die onvermoë om behoorlik te dink, verandering in spraak en/of gedrag, angs, ’n gevoel van oorweldig wees, skuldgevoelens, oormatige pessimisme, oormatig emosioneel of tranerig, toenemende irritasie en weersin, ’n intense begeerte om alleen te wees.i
Hierdie simptome kan vir ’n onbepaalde tydperk duur. Die felheid daarvan wissel ook: Sosiale interaksie met goeie vriende en naby familie is soos die Comrades – dis lank, maar jy kan loop wanneer jy wil; daar’s water, ondersteuning, kamerade. Sosiale interaksie met kennisse en vreemdelinge? Kamp Staaldraad.
Dit is Jung wat in 1921 die begrippe introversie en ekstroversie (of ekstraversie) in sy kernidees oor persoonlikheid geformuleer het. Volgens hom word die vernaamste onderskeid tussen persoonlikhede getref op grond van die bron en rigting van ’n persoon se uitdrukking van energie – uitwaarts vir die ekstrovert, inwaarts vir die introvert. Ekstroverte se belange is gerig op hulle omgewing, waar die introvert s’n na binne gerig is. Jung het ook verwys na ’n derde kategorie, ambiversie, by diegene wie se energie van binne of buite kan kom in verskeie grade op die introvert-ekstrovert-kontinuum.ii
.........
“Miskien is ek oorsensitief. Miskien sien ek mysélf as vyfjarige, later as tiener, wat gereeld vrae moes trotseer soos ‘Hoekom is jy so stil?’, of ‘Wat sou jy kon sê as jy kon praat?’ (waarop ek dan in my kop sou antwoord: ‘Jy wil nie weet nie’).”
.........
Hierdie begrippe het vir lank tot die domein van die sielkunde behoort, maar die afgelope dekade of wat het daar ’n soort “revenge of the introverts”-beweging ontstaan, amper soos “revenge of the nerds” in die ‘80’s. Artikels in die trant van 5 things you should never say to an introvert, of 15 things an introvert would never tell you en grappige memes het op die internet verskyn en begin om deur middel van humor die stigma wat aan introversie kleef, te help beveg. Op talle ander vlakke, ook besigheid, is daar ’n duidelike fokus op die sakewêreld uit die introvert se perspektief met terme soos introvert-entrepreneur en introvert-leier wat ook na vore begin kom.
Miskien as gevolg hiervan weet effens meer mense dat een van die vernaamste verskille tussen ’n introvert en ’n ekstrovert lê in hulle manier van batterye herlaai: die introvert deur stilte en alleenwees; die ekstrovert deur interaksie met ander mense. Nog een van die talle verskille is die feit dat introverte ook gou oorweldig word deur omgewings waar daar te veel stimulasie is, terwyl ekstroverte in sulke omgewings floreer. Dit klink na niksseggende verskille, maar dit kan verreikende gevolge hê.
In die VSA stuur sommige ekstrovert-ouers hulle introvert-kinders na psigiaters om hulle vir hul introversie te “behandel”.iii Baie ouers voer dit dalk nie so ver nie, maar probeer dit sommer by die huis “behandel”, of hoop die skool doen dit namens hulle.
Neem byvoorbeeld my vriendin se vyfjarige introvert. Kom ons noem hom Jos. Jos is hoogs begaaf, geen gebrek aan selfvertroue nie. Maar Jos is ’n “stil enetjie” tussen mense, doodgelukkig om homself besig te hou. Verlede kwartaal kry Jos ’n 3 (uit 7) vir “Vol energie en lewendig in die klas”, so ook vir skoenveters vasmaak en eenbeentjie spring.
.........
“Tog dink ek daar is ’n saak te maak vir die argument dat die wêreld ’n plek is wat geskep is vir ekstroverte, deur ekstroverte, en dat ekstroversie as die ideale temperament gesien word – veral in Westerse lande. Hier word introverte as ’n rare spesie gesien: skaam, preuts; omgekrap, afsydig, apaties.”
.........
’n 3 beteken “matige prestasie”, heelwat ruimte vir verbetering. Wat veters vasmaak en eenbeentjie spring betref, maak dit sin. Jos sukkel nog ’n bietjie met fyn motoriese vaardighede en balans en dié is immers twee belangrike mylpale wat bereik moet word, vir fisieke sowel as kognitiewe ontwikkeling. ’n Bietjie oefening, ’n draai by die biokinetikus word aanbeveel. (Heel waarskynlik is Jos maar net ’n “late bloomer” en sal hy sonder enige ingryping dié twee mylpale vóór sy volgende verjaarsdag bereik.)
Maar wat is “matige prestasie” ten opsigte van energie en lewendigheid in ’n klas? Watter behandeling moet Jos kry vir die 3 om ’n 7 te word? Monkeynastix vir geaardheid?
Is alle introverte dus eintlik onderontwikkelde ekstroverte en op ’n laer rang op die evolusieleer van geaardheid?
Miskien is ek oorsensitief. Miskien sien ek mysélf as vyfjarige, later as tiener, wat gereeld vrae moes trotseer soos “Hoekom is jy so stil?”, of “Wat sou jy kon sê as jy kon praat?” (waarop ek dan in my kop sou antwoord: “Jy wil nie weet nie”). Tog dink ek daar is ’n saak te maak vir die argument dat die wêreld ’n plek is wat geskep is vir ekstroverte, deur ekstroverte, en dat ekstroversie as die ideale temperament gesien word – veral in Westerse lande. Hier word introverte as ’n rare spesie gesien: skaam, preuts; omgekrap, afsydig, apaties.
.........
“Dus, eerder as om te verstaan, word gepoog om te verander, te help. Die ‘stil enetjie’ om nuwe vriende te maak. Die muurblom wat die lewe en al die genot wat dit bied, misloop, hier eenkant in die hoek, ver weg uit die kring van die skoffelendes.”
.........
Een van die voorste stemme in die koor, Susan Cain, beweer in haar boek Quiet: The power of introverts in a world that can’t stop talking dat die wêreld ’n uitermatige en misplaasde respek vir ekstroverte het.iv Nog ’n stem vra: “Is it time to tackle discrimination against introverts?” ’n Ander bely: “I’m sick of our culture’s bias against introverts – and I’m ashamed to admit I share in it.”v
Die idee van diskriminasie teen introverte is vir my tog effens verregaande, gesien in die lig van die soort ongelykhede wat in soveel wêrelddele, en hier by ons, steeds teenwoordig is. Een ding lyk vir my egter by die dag meer seker: Die mens is nie mal oor andersheid nie. Bo en behalwe die ooglopende diskriminasie op grond van velkleur, geslag, klas, geloof, seksuele oriëntasie, herkoms, opvoeding, is daar ander meer subtiele vorme, soos diskriminasie op grond van gewig, aksent, lengte (sogenaamde “heightism”),vi en haarkleur (bv “gingerism”). Ook hoeveelheid hare, want blykbaar is daar vroeër op kaalkoppe neergesien. Gelukkig het bekendes soos Bruce Willis en Vin Diesel in die laat ’90’s die bles help bevry tot die volwaardige haarstyl wat dit vandag is.
Dis asof ons dit net nie kan verhelp om iets wat anders, is met agterdog te bejeën nie; dit as ’n fout te sien wat reggestel moet word sodat dit soos die norm lyk. Wat ook al die norm is.
Dus, eerder as om te verstaan, word gepoog om te verander, te help. Die “stil enetjie” om nuwe vriende te maak. Die muurblom wat die lewe en al die genot wat dit bied, misloop, hier eenkant in die hoek, ver weg uit die kring van die skoffelendes.
.........
“Agter elke introvert staan minstens een ekstrovert wat al vir jou ’n ‘I love pets more than humans’-T-hemp gekoop het. Iemand wat jou as rare spesimen werklik ken as selfversekerd, vrymoedig; gelukkig, besorg, passievol.”
.........
Op sigself is daar niks fout met mense wat nuwe vriende wil maak, wil skoffel of enige aktiwiteit wil beoefen wat ’n ekstrovert se batterye tot barstens toe sal herlaai nie. Soos menige introvert sal erken: Agter elke introvert staan minstens een ekstrovert wat al vir jou ’n “I love pets more than humans”-T-hemp gekoop het. Iemand wat jou as rare spesimen werklik ken as selfversekerd, vrymoedig; gelukkig, besorg, passievol.
Terug by die salige stilte in my veilige bed – een van die min teengiwwe vir hierdie toestand – met ’n splinternuwe jaar wat voorlê. Dalk is vanjaar die jaar waarin die samelewing sy ewigdurende bedrywighede, nimmereindigende vrolikhede gaan afskaal en die “revenge of the introverts”-beweging gaan begin spoed optel. Ek twyfel egter. Introverte beantwoord nie fone nie, vergader nie, hou nie van skares nie, wil nêrens heen opruk nie ... As ons dié ding van die grond af wil kry, het ons ’n paar ekstroverte nodig.
.........
i https://introvertdear.com/news/introvert-hangover-signs (4 Sept 2019 geraadpleeg); https://www.learning-mind.com/introvert-hangover-symptoms (4 Sept 2019 geraadpleeg)
ii https://positivepsychology.com/introversion-extroversion-spectrum (17 Sept 2019 geraadpleeg)
iii https://www.theguardian.com/books/2012/mar/22/quiet-power-introverts-susan-cain-review (17 Sept 2019 geraadpleeg)
iv ibid
v https://www.taxresearch.org.uk/Blog/2019/03/17/is-it-time-to-tackle-discrimination-against-introverts (4 Sept 2019 geraadpleeg); https://www.forbes.com/sites/kathycaprino/2017/12/29/im-sick-of-our-cultures-bias-against-introverts-and-im-ashamed-to-admit-i-have-one/#49337ded50da (4 Sept 2019 geraadpleeg)
vi https://listverse.com/2011/09/24/top-10-subtler-forms-of-discrimination (18 Sept 2019 geraadpleeg)
............
Lees nog NouNet-menings hier:
NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt
NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"
NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet
NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose
NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis
Kommentaar
Vriende nooi ons verlede week om saam met hulle op 'n bootreis te gaan - op Kanada se riviere en mere en van daar op see tot in Boston. Toe ek die aanbod van die hand wys, vra hulle, toekom nie? My antwoord het hulle nie aangestaan nie. Ek is 'n buitestaander, 'n waarnemer, nie 'n deelnemer nie.
So dit lyk my ek is ook 'n introvert. Gelukkig in my eie gedagtewêreld.
Uitstekend, ek is 'n introvert, my seun is 'n introvert, my hele familie is introverte. Ons oordink alles 'n 100 keer, maar as ons als uitgefigure het in ons koppe, is ons baie sterk. Ek is baie bevoorreg om 'n man en familie te hê wat almal mekaar ondersteun in hierdie 'andersheid'.
Om 'n introvert te wees is nie "andersheid" nie, dis 'n gegewe. Net soos om 'n ekstrovert te wees. Dit is 'n persoonlikheidstipe en daar's nie 'n "reg" of "verkeerd" nie.
Die uitdaging is om ruimte te maak vir mekaar se gedragspatrone en die twee gegewes te erken, te verstaan en te aanvaar. Dit is op die punt waar daar 'n probleem is. Onderrig van 'n vroeë ouderdom af ontbreek. Ons kyk deur die bril van die 'ek/jy' of 'ons/julle' anti-tese.
Goed om te hoor vanuit die mond van nog 'n uiters suksesvolle en interessante mens soos jy, Chris! Baie respek vir jou. Ek is ook in die introvert-clan. My spasie is my heiligdom.