NouNet-mening: Hong Kong – steeds eiland met geur en kleur

  • 0

Hong Kong in Julie is nie ’n grap nie. Die gemiddelde temperatuur van 32°C klink nie te erg nie, maar voeg ’n gemiddelde humiditeit van 87% by die hitte wat selfs snags selde laer as 28°C daal en skielik begryp ’n mens die oormaat van lugreëlaars in die selfregerende stadstaat.

Hong Kong is in 1842 ná die eerste Opium-oorlog aan Brittanje gegee. In 1898 word die “New Territories” en 235 eilande rondom Hong Kong aan Brittanje verhuur vir 99 jaar. Hong Kong het in 1997 weer deel van China geword maar daar word gewaarborg dat Hong Kong vir minstens 50 jaar kapitalisties en demokraties sal voortbestaan. Dit word ’n Chinese spesiale-administrasie-area genoem. Die huidige opstande is dan ook teen te veel inmenging deur China.

Die Hong Kong-area is 2755km² en bestaan uit Hong Kong-eiland, die Kowloon skiereiland, die “New Territories”, Lantau-eiland en nog meer as 200 eilandjies. 

Hong Kong se wolkekrabbers vanaf Kowloon bekyk

Elke trein, elke bus en byna elke winkel van groot tot klein, in die hele Hong Kong-area, het lugreëlaars wat effektief werk. Wanneer ’n mens dan uit die koel omgewing in die hitte van Hong Kong instap, is dit asof jy in ’n sauna instap. Brildraers kry swaar, want brille wasem onmiddellik toe. Maar nou ja, die mens is geweldig aanpasbaar en ’n mens pas maar net aan. Selfs die nie-sweters sweet in Hong Kong en ’n mens leer gou om maar planne te maak.

Ek was nie in Hong Kong as ’n toeris nie, maar het by my seun gaan kuier. Ons het in die 11 dae wat ek daar was, net een toeriste-aantreklikheid besoek. Dit was ook maar moeilik om ’n droë dag te kry tussen al Hong Kong se somerreënbuie. Dit is wonderlik hoe die sambrele oopgaan wanneer die eerste druppels begin val. Sambrele in die somer is ’n noodsaaklikheid vir enige ordentlike Hong Konger. Nie net vir die reën nie, maar ook as die son te warm begin steek. En natuurlik, dié wat aan die Hong Kong opstande deelneem, kruip ook gerieflik agter sambrele weg in die konfrontasies met die polisie.

Jy moet maar die skielike reënbuie aanvaar

Ja, ek was al voorheen in Hong Kong en het toe meer die toeristeding gedoen, maar selfs die elkedagse doen en late is soos ’n toeriste-aantreklikheid. Ek het in Tai Po, deel van die “New Territories” gebly. Om te gaan vis koop in Tai Po, is aanskoulik. Tai Po het ’n groot mark. Die onderste vloer is net vis. Daar kan krewe, krappe, garnale, vis en elke denkbare soort skulpvis gekoop word. Die volgende vloer van die mark is net groente. En wanneer ’n mens op die mark koop, raak kos in Hong Kong baie billik. 

Skulpvis van vorms en smake

Groente te kus en te keur

Die pragtige Tai Po waterfrontpark is gewild by drawwers

Hong Kong-eiland is ’n opgeboude digbewoonde area. Die meeste Westerlinge woon in hierdie area wat bekend is vir sy finansiële instellings en banke. Baie Suid-Afrikaners werk ook in Hong Kong, in die regsberoep. Die “new territories”, hoewel ook dig bewoon, het nog meer ’n kleindorpse en Asiese gevoel. Natuurlik is daar supermarkte en groot winkelsentrums, maar die lekkerste koop is by die kleiner winkeltjies op die straatfront.   

Ek was ook nie in Hong Kong vir winskopies of inkopies nie. Ek was daar vir kuier en om te leer hoe die mense daar elke dag leef. ’n Mens stap baie in Hong Kong. Bitter min mense besit motors. Doodgewoon omdat dit vinniger is om trein of bus te ry as om met ’n motor deur die verkeer te sukkel. Die openbare vervoerstelsel is dan ook uitstekend en gerieflik. En verder is dit stap. 

Wanneer jy iets groots iewers anders wil kry, bel jy ’n afleweringsdiens wat jou en jou kaboedel vat tot waar jy dit wil hê. Selfs as jy die dag te groot inkopies gedoen het. Maar, o wee, moenie hulle skakel as jy en jou bagasie met gemak in ’n taxi kon inpas nie. Hulle vervoer net swaar goed. 

Hong Kong het baie parke en groen areas. Ongeag die hitte wou ek darem met my drawwery bybly. Daarvoor is daar die pragtig Tai Po waterfrontpark. Hier is baie drawwers, stappers en selfs georganiseerde oefengroepe. Die fietsryers het ook paadjies vir hulle oefening. ’n Mens sweet so baie in Hong Kong dat dit nie werklik ’n verskil maak of jy in die reën draf nie, maar Hong Kongers sal tot onder hulle sambreel draf!

Die Hong Kongers wat wel troeteldiere het, maak ’n groot ophef van hulle. Daar is reënjasse, skoentjies, waentjies, drasakke en vele meer vir troeteldiere. Kleiner Franse poedels is baie gewild en het natuurlike pragtige haarsnitte en is baie goed versorg. 

Mang Kok is die distrik wat niemand ooit moet misloop nie. My seun is ’n vis-entoesias en het gaan inkopies doen vir korale. Daar is ’n straat met net viswinkels, dan weer een met baie ander troeteldierwinkels, ’n straat vir voëls en dan ook ’n straat met blomwinkels waar orgideë soos bossies is. Hier kan ’n mens se mond net oophang. Ek het darem nog probeer ordentlik bly en nie te veel gestaar nie, veral nie toe twee mense met hul papegaaie en spesiale drasakke met ’n venstertjie vir die dier verbykom nie.

Vissies van alle kleure en groottes te koop

Ons troetel orgideë en daar groei hul sommer in beddings

Wat kan ek sê, Hong Kong is ’n stad met soveel interessanthede en ’n geweldige vermenging van Oosters en Westers. Die nuwe Operahuis in Kowloon is ’n tekenende voorbeeld hiervan.

Die pragtige nuwe operagebou in Kowloon-Oos

So, dit maak nie saak of jy Hong Kong besoek as toeris, vir sake of om sommer net by ’n familielid te gaan kuier nie, jy sal definitief nie verveeld wees nie – selfs al gaan koop jy net groente en vrugte.

 

Lees nog NouNet-menings hier:

NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt

Die opkoms van die introvert

NouNet-mening: Om vredeswil! Nobel se vreemdste prys

NouNet-mening: Genoeg is genoeg

NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"

NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet

NouNet-mening: Oor vrouelogika en ander geite

NouNet-mening: Beteken bo vyftig dat jy breindood is?

NouNet-mening: Skuldlas

NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis

NouNet-mening: Ons sal die gemors moet uitsort

NouNet-mening: Die Stilswye van Stilte

NouNet-mening: Somers in Skotland

NouNet-mening: Sisteem, watter sisteem?

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

NouNet-mening: ’n Plaaskind probeer die K53 en die ongeskrewe padreëls van die stad met mekaar vereenselwig

NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose

 

Hoe publiseer ek op LitNet? Lees meer hier:

NouNet: publiseer jou mening op LitNet!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top