NouNet-mening: Somers in Skotland

  • 0

   

Vandag is ek meer as ’n maand in Edinburg, Skotland – my tweede winter weg van die huis. En toevallig ook my tweede somer in die Verenigde Koninkryk, waar die woord “somer” beslis ’n ander betekenis het. Tog is die Skotse somer so groen, so lewendig en uiters spesiaal dat ek besluit het om my Suid-Afrikaanse definisie van “somer” ’n bietjie aan te pas.

Voor my oorsese tog vanjaar het ek talle nuusberigte gelees oor die heersende hittegolwe in verskeie Europese lande. Soveel so, dat ek die pak van my reistasse as ’n uiters belangrike taak gesien het om enige verlies van ponde te voorkom. Ek móés net versigtig en meer gebalanseerd pak, want met die huidige wisselkoers soos wat dit nou is … kon ’n trippie na Primark vir ’n paar noodsaaklike kledingstukke ’n spanner in die wiel gooi vir my ander spandabelrige somerplanne in die land van tartan.

...........

“Somer is ’n gevoel. Dis die herlewing van mens se gees op ’n innerlike manier wat aansteeklik word. Dis in die lug. In die plante. In die gras.”

...........

Helaas, was ek meer as voorbereid. Ek kon met my Freestyle-veldskoene en katoenkortbroekie teen die heuwels van die nabye digterstuin, Little Sparta, uit hardloop soos Julie Andrews terwyl sy “The Hills Are Alive” eufories sing in The Sound of Music, en op ander kere my reënjas orals saamdra ingeval die Skotse “drizzle” my op pad na die kampus vang. Drizzle is vir die Skotte absoluut normaal en kan nie beperk word tot die Afrikaanse definisie van motreën nie. En Little Sparta is die tuin van die Skotse digter, visuele kunstenaar en tuinier Ian Hamilton Finlay. Orals in die tuin is verse op stene, houtbankies en klein dwaaltuintjies wat jou lei na nog meer literêre aanhalings. Die naam van die tuin sinspeel op Edinburg se bynaam, “Athens of the North”. Dit is hier waar ek so vry gevoel het soos ’n kinderlike herinnering van myself tussen die koringlande naby my tuisdorp terwyl die koel windjie op ’n somerdag waai.

Ek by die digtertuin, Little Sparta, van die Skotse digter Ian Hamilton Finlay

Edinburgh het ook vanjaar sy hoogste somertemperatuur aangeteken, maar dit was alles net van korte duur – terwyl ek nou skryf, is daar weer ’n reënstorm wat in die wolke broei. Maar dis nie asof dít enigiemand gaan keer om ’n vertoning by die Fringe te gaan kyk of om net vinnig op na Arthur’s Seat te draf nie. Arthur’s Seat is ’n bergtop in Edinburg wat net agter my koshuis is en neem ongeveer 40 minute teen konstante spoed om die tog boontoe te voltooi. Van bo af sien jy die hoofstad van wes tot oos en suid tot noord. Arthur’s Seat is veral in glorie tussen die mis, maar nes my lot dit sou bepaal, klim ek dit nou die dag in die Europese hitte met my SA krieketsonhoed (sonder enige skaamte). 

Tydens die Fringe-kunstefees voor die Gilded Balloon Teviot-teater – voor die begin van ’n opvoering

Alhoewel ons Suid-Afrikaanse klimaat, veral in somer, ongeëwenaar in my geheue bly met meestal gelukkige herinneringe van strandstappies, roomys-lippe, boeke lees op grasperke, sonhoede, alkoholiese rehidrasie en die genot van die koelte as die temperatuur teen skemer grasieus daal, vind ek vanjaar se somer in Skotland net so meelewend en eiesoortig.

Terwyl ek bedags op die geplaveide stene tussen die ietwat rosbruin geboue stap, pronk die son as die wolke soms padgee. In die Meadows waar die reuk van die gras jou van alle kante platslaan, word sommer nog ’n boek klaar gelees en verder stap jy aan tot in die bedrywige Princes-straat waar die toeriste al die winkels bykom. Anderkant die Skotse Nasionale Gallery steek die Edinburg-kasteel bo uit met sy sigbare rotsvesting en orals in die stad is daar ’n vierkant of park waar jy en vriende kan happies eet en babbel oor laasnag se pints wat vanoggend se opstaan ietwat moeiliker gemaak het.

Ja, die stad is voller as gewoonlik danksy al die feeste, maar nes somer terug by die huis is dit meer as net die temperature en humiditeit. Somer is ’n gevoel. Dis die herlewing van mens se gees op ’n innerlike manier wat aansteeklik word. Dis in die lug. In die plante. In die gras. In die talle cumulus-wolke wat nou en dan kom groet. Dis orals om jou. Dis binne jou. Jy word somer.

...........

“Ek sal my seëninge tel en die somer hier verder waardeer – nie soos dit terug by die huis is nie, maar nét soos dit hier in Skotland kan wees.”

...........

Dis dalk als net ’n oordrewe spel van drogbeelde wat in my oog steek oor hierdie naïewe gevoel van herlewing binne myself soos ek nog ’n Skotse somer beleef. Dit is nie alles maanskyn en rose nie, want Edinburg het ook vanjaar hoë stuifmeelvlakke wat beslis die eerste paar dae van my aanlanding hier hel gemaak het. Maar met die regte pille soggens en saans maak ek en my neus dit darem nou gemaklik deur die dag.

Om af te sluit: Dit is werklik merkwaardig en spesiaal vir my om as skrywer en jong man weer hierdie tyd van die jaar in Skotland te wees. Edinburg is as UNESCO se eerste stad van Literatuur aangewys en Harry Potter-liefhebbers stroom steeds na die kafees waarin JK Rowling geskryf het. Iewers in ’n teater klap gehore hande vir akteurs en môre sal die Lothian-busse steeds soos miere tussen geboue en geskiedenis ry. Ek sal die cèilidh doen en Engels praat met al die studente. Ek sal elke dag die argitektuur aanskou op pad na klasse en smiddae in die biblioteek-kafee die Skotse nasionale koeldrank, IRN-BRU, drink asof ek assimileer met die res van die trotse nasie. Ek sal van Calton Hill afstap met nog ’n Suid-Afrikaner en Afrikaans praat totdat ’n ander Suid-Afrikaner by die bushalte ons herken. Ek sal my seëninge tel en die somer hier verder waardeer – nie soos dit terug by die huis is nie, maar nét soos dit hier in Skotland kan wees.

Ek in die Playfair Library by die Ou Gebou van die Universiteit van Edinburgh

En as ek weer huis toe kom, hoop ek ook dis nes Breyten sê in sy gedig Die hand vol vere: 

“’n liedjie vir my ma ’n bietjie trots vir mý pa”

  • Foto’s: verskaf

.................

Lees nog NouNet-menings:

NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt

Die opkoms van die introvert

NouNet-mening: Om vredeswil! Nobel se vreemdste prys

NouNet-mening: Genoeg is genoeg

NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"

NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet

NouNet-mening: Hong Kong – steeds eiland met geur en kleur

NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose

NouNet-mening: Oor vrouelogika en ander geite

NouNet-mening: ’n Plaaskind probeer die K53 en die ongeskrewe padreëls van die stad met mekaar vereenselwig

NouNet-mening: Beteken bo vyftig dat jy breindood is?

NouNet-mening: Ons sal die gemors moet uitsort

NouNet-mening: Sisteem, watter sisteem?

NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

NouNet-mening: Skuldlas

NouNet-mening: Die Stilswye van Stilte

 

Hoe publiseer ek op LitNet? Lees meer hier:

NouNet: publiseer jou mening op LitNet!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top