NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose

  • 2

Ek koop boeke, vandat ek dit kon begin bekostig, Kleintyd, was dit aan huis so skaars soos ’n stukkie verdwaalde rooivleis, op die bord, in die week.

Boeke bied aan my ’n onstuimige hawe teen afstomping, lees laat my toe om te luister na ander, afwykende, uitdagende stemme (iets waarmee ons almal in hierdie land, op hierdie tydstip kan doen), het my geleer om my vrees vir daardie alleenstiltes in ’n woonstel in die stad te besweer, daag my vooroordele uit of laat my toe om ongemaklike gebeure uit ’n vergete era weer aan die strot te gryp en tot voor die spieël te sleep.

Daardie, soms, broodnodige konfrontasie met die self:

Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien
en ken jy jou?

(NP van Wyk Louw)

Ongeveer twee weke gelede koop ek weer ’n boek aan op ’n aanlynwerf – ’n Afrikaanse boek. Dit is een waarna ek al vir jare soek, maar nooit gekoop kry nie. En dit word spotgoedkoop aangebied – R20, plus posgeld.

Op ’n manier word dié aankoop vir my ’n soort WVK-oomblik met Afrikaans, ’n konfrontasie met my verlede, met my woede, wat met verloop van tyd, getemper is tot aanvaarding en berusting en uiteindelik, (daardie bitter pil om te sluk), vergifnis teenoor die Bose … die maniese magshebbers en hul ballades van blinde vergryp en ontneem, inperk, beperk en grense trek.

Vandag het ek dié boek, netjies en veilig verpak, gaan afhaal by die poskantoor, wat tog nog soms effektief kan funksioneer. Ek skeur die verskillende lae van die verpakking oop met die driftige opgewondenheid van ’n weeshuiskind wat vir die eerste keer in sy lewe ’n present van iemand kry.

Nadat ek die boek verlede week bestel het, het ek gaan soek na Bruce Hornsby and the Range se The Way it is, op YouTube. Ek verwonder my opnuut aan  daardie briljante klavierspel en die bekende lirieke kom lê nou baie nader aan die lyf, kry ’n betekenis wat aan die bas gevoel is:

Said hey, little boy, you can’t go where the others go
'Cause you don’t look like they do

Said hey, old man, how can you stand to think that way?
Did you really think about it before you made the rules?
He said, son
That’s just the way it is

Some things will never change
That’s just the way it is.

Ek begin om deur die boek te blaai, ek kan sien dit is deeglik en gereeld gelees, ’n deurleefde boek – die advertensie het immers gemeld:

elfde druk 1972 hardeband met stofomslag 130 bladsye, die stofomslag is effe verweerd – paar merkies en klein skeurtjies, die hardeband is goed maar die hoekie voor bo is liggies gestamp, inskripsie voor in boek, een of twee klein vlekkies in boek, die teks is skoon en die binding goed – geen oorsese versending.

Voor in die boek is ’n inskripsie – eens is dit aan iemand as geskenk gegee – vir “Kersfees, 1973.” Toe dit later oorbodig raak, het dit op die mark en in my gretige hande beland.

Dit word die kosbaarste besitting op my boekrak.

You think your pain and your heartbreak are unprecedented in the history of the world, but then you read. It was books that taught me that the things that tormented me most were the very things that connected me with all the people who were alive, who had ever been alive.

(James Baldwin)

Boeke bring vreugde en (soms) vrede.

Om te dink daar was ’n tyd toe ek, as nuuskierige en leesgierige kind, nie hierdie boek by daardie munisipale biblioteek mag uitneem nie, toe daar ’n wet was wat dit verhoed/verbied het.

Maar daar was één man wat dit “klandestien” vir my, nadat ek my pa onophoudelik verpes het, op sy naam uitgeneem en laat lees het. Die Vader weet, almal was nie so nie. Ek het gedroom en gelees, by flikkerende kerslig – die skemer was skielik draagliker.

As ek só oor ’n boek kan voel, dink net, hoe moet ander mense voel oor koesterdinge ná aan hulle wat weggeneem is, tóé sowel as nóú – grond, leefwyses, lewens van geliefdes?  

Ek is bly dat Hornsby die geloof in sy medemens gehad het om daardie laaste twee reëls by sy aanvanklike gelate en siniese wêreldbeskouing te voeg:

Some things will never change
That’s just the way it is.

Ah, but don’t you believe them
Yeah.

Die Groen Ghoen, deur PH Nortje, behoort uiteindelik aan my.

Daar is selfs ’n gedig oor hierdie boek en dáárdie gebeurtenis geskryf en opgeneem in my 2013-bundel, Rangeer.

Ja, Die Groen Ghoen – is myne, ek besit dit. Vir vele, net nog ’n boek, ’n ou boek uit ’n vergange tyd. Vir my en my oorlede pa egter, word hierdie besit ’n klein geskiedkundige regstelling.

’n Regmerkie teenoor mág bestaan, mág leef, mág wees in hierdie taal – ’n taal, hoop ek van harte, wat voortaan werklik en doelgerig sonder beletsel, sonder grendel en sonder slot, elkeen sal toelaat om sy eie “droewe” storie oor hierdie “dor, verlate land” te mag vertel:

Ek haat en ek het lief

Ek haat en ek het lief: ek weet nie hoe nie.
O my land, o my land: jy is ek.
Ek ken jou en ek haat jou soos ek my haat.
Ek het jou lief soos ek my soms lief durf hê.

*   

Dat liefde so tot haat kon skif.
Liefde wat tóg vol goue room was.
Haat wat sulke dun wei-water is.

(NP van Wyk Louw)

 

Lees nog NouNet-menings hier:

NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"

NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet

NouNet-mening: Hong Kong – steeds eiland met geur en kleur

NouNet-mening: Beteken bo vyftig dat jy breindood is?

NouNet-mening: Skuldlas

NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis

NouNet-mening: Ons sal die gemors moet uitsort

NouNet-mening: Die Stilswye van Stilte

NouNet-mening: Somers in Skotland

NouNet-mening: Sisteem, watter sisteem?

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

NouNet-mening: ’n Plaaskind probeer die K53 en die ongeskrewe padreëls van die stad met mekaar vereenselwig

 

Hoe publiseer ek op LitNet? Lees meer hier:

 

NouNet: publiseer jou mening op LitNet!

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top