Dit is douvoordag in die Harold Porter-natuurreservaat in Bettysbaai. Stomende stralekranse hang bo die koppe van die fikses. Sulke vroom natuurliefhebbers wat nie te hard praat nie, want feetjies is ook deel van die skepping en hulle doeks nog. Die meeste drawwers is geklee in helderkleurige broeke, neon tekkies en hemde van vorige padwedlope wat hulle aangedurf het.
Bo my kop hang daar nog ’n droom van ’n hoppende seekrap wat my net-net nie gevang het nie. Ek was uitasem toe ek wakker word en net voor die eerste knyper my pajamabroek kon gryp, het my wederhelf my met ’n tekkie getart: "Kom, kom! Vandag is jou eerste parkrun." Die vorige aand was rof. ’n Professor in statistiek het my in ’n kuierplek in Kleinmond verduidelik dat die jong turke wat sy studieveld betree, nie meer die kuns van navorsing verstaan nie. Biblioteke gaan binnekort vir parkeergarages gebruik word, want slimfone het nou ’n app wat al die dinkwerk vir jou doen. Hy dra Grasshopper-skoene, daai plattes wat oupas nog in hulle kaste het.
Dit is dan ook ’n seëning dat die parkrun drie dae na Kersfees is. Beesboud, koringslaai en sagopoeding neem ’n dag of twee om te verteer en dit is ongewens om ’n kat te skiet op ’n bedreigde fynbosspesie.
Ek en my wederhelf loer na ander drawwers se opwarmroetines en luister na hulle praatjies. Dit is belangrik om in te pas en ontspanne te lyk. Strek ’n bietjie, draf op die plek, "oe" en "aa" oor dié en daai se nuwe tekkies.
’n Tannie met ’n clipbord (’n laerskooljuffrou-tipe met ’n "hallo maatjies"-stem) staan op ’n stoel en blaas ’n fluitjie. "So, let's all welcome everybody." ’n Honderd slawe van dopamien skree dat die Overberg se kranse antwoord gee: "Hallo everybody!" Sy gaan voort. "You are all very welcome at this lovely event. Do we have any first-time joggers here?" My arm word opgepluk. "Oh, it is so lovely to have new friends here. Let's make him feel very welcome." Applous. Te vinnig, te veel. Die druk om te presteer verswelg my vakansieluim.
’n Verlangse neef pomp my in die ribbes. Hy is ’n parkrundissipel. Ken die reëls, die organiseerders, en wanneer hy draf, haal hy in-en-uit asem op elke vierde trapslag. Dis hoe die pro's dit doen. Ek vra hom of mens iets kan wen. Soos ’n braaitang of ’n biltongruiker. Een wat met ’n bokstert opgedraai is in sellofaan. Indien iemand ’n enkel sou verstuit, sal die bottel rooiwyn nuttig te pas kom vir die afkomslag van die morfien. Hy sê mens kan nie iets wen nie, want almal wat deelneem aan ’n parkrun is wenners.
Die tannie verduidelik die roete. ’n Skoot klap en die optog is in volle swang. ’n Menigte voete en arms baklei vir ’n plekkie op die paadjie. Rooi-en-wit linte dui die swenke en draaie aan. Op elke afdraaipad wat moontlik ’n verkeersknoop kan veroorsaak, staan iemand in ’n glimmende onderbaadjie met ’n vlaggie. "This way, everybody. Keep going. Well done."
Die geharde drawwers het ’n manier van dankbetuiging aan vrywilligers. Lig net ’n vinger. "Thank you, marshall", oë gevestig so twee meter voor hulle op die grond. Die vorige aand saam met die prof het my laat wonder oor die statistiese moontlikheid dat al die vlagmanne se naam Marshall is. Is dit ’n intelery? ’n Grappie tussen die hoëpriesters van longkapasiteit?
My neef sweef verby, groet ’n vlagman om ’n skerp draai met ’n "Hey, John! Thanks, man!" Die volgende een om die draai is ’n "Joan" en nog ’n ander een "Werner". Die sluier is finaal gelig oor of daar ’n kousale band bestaan tussen vrywilligheidswerk, beroepstitels en generiesebenamingspraktyke.
’n Nadeel van die Harold Porter-parkrun is dat daar baie opdraandes is. En nogals onverwags. Jy dink nog oor of jou braaisous vir vanaand ’n ekstra skoot Worcestersous moet ... Op een so ’n skelm stel trappe begin my erfsondes en selfverwyt deur my vel sweet. Ek is nie die enigste een nie. ’n Oom met hoepelbene en ’n brakkie wat ook maar, nes ek, uit die kooi geskop is, hyg in gelid. Medemenslikheid is ’n voorvereiste vir wêreldvrede en dit begin met ’n goeie daad. Ek bied my hulp aan, sonder enige voorvereistes vir eie gewin. Ons drie bestyg saam-saam die kruin met ’n heroïese oorlewingsdrang. So ’n ekstra vryfie oor Wagter se kop en ’n bladskud met die oom besorg my nog ’n oomblik van asemskep. Voorwaarts, mars! My geliefde is iewers in die bondel en ek het mededingingsangs.
Harold Porter is te groot vir sy skoene. Jy kan net sóveel keer kruis en dwars draf, om ’n varing en oor ’n bruggie wat paddas se broeiplek beskerm, voor die logistiek sy krake begin wys. Om hierdie rede is sekere van die enkelspoorpaadjies omskep in ’n snelweg sonder stippellyne. Jy dink nog dat dit lekker is om net mense se agterkoppe te sien en dan kom die middagverkeer skielik van die ander rigting af. Jy weet nie meer of jy eerste of laaste is nie. Hoekom swenk niemand vinnig oor die pad en galop saam met die skouperde nie? Versoeking is ’n lelike ding, maar my liggaam is my tempel en ek sal nie my longe, knieë en selfbeeld verder straf nie. Ek vat ’n vinnige trappie links, maak ’n 180 grade-draai en vat-vat so aan my maag. Lig net ’n vinger: "Sorry everybody, my tummy is not lekker."
Ons drawwers darem. Ons is ’n span, gee om vir mekaar. Good luck, buddy. See you on the other side. Niemand oordeel nie.
Padvarke is orals. Veral dié wat nie die verkeersreëls ken nie. Hulle is die groot gevaar. ’n Jong laaitie, seker so agt jaar oud, probeer dieselfde truuk as ek. G’n maniere nie. Flap sy arms en gil iets vir sy pa: "Look, daddy!" Die draadheining verwelkom my rugkant met ’n bose paar staalhakkies. My hemp word op drie plekke gevang. Een op elke skouer en een bo die stuitjie. Ek spartel. ’n Vlieg in ’n spinnerak. Die broederskap kyk net af. Maar, julle? Ons was dan nou net nog ’n span?
Ek staar na die blaredak, half gekruisig, en wonder of dit ’n metafoor is vir my onlangse denke oor of draf dalk sonde is. Die drawwers kom en gaan, bied nie water aan nie, dink ek rus net ’n bietjie. Poësie het ’n manier om die individu wat in ’n lewensknyptang is, te red. Die mistige wyshede hou jou brein besig en sit die eksistensiële angs vir ’n wyle onder ’n maatemmer. En daar, te midde van sweet, angs, blatante woede en selfverwyt, sweef ’n swerm versreëls tot my redding.
(Die verwysings na Peter Stuyvesant hier onder is nie geskoei op die skrywer se voorliefde vir tabak nie. Net soms.)
Draf is Sonde.
Draf is net so gevaarlik soos rook.
Bene, ons het almal nodig, want wat is ’n ordentlike graf sonder bene?
Niemand kan longe sien as die vlees droog en leeragtig in die kis lê nie.
My longe is heilig, tekkies seker ook.
My longe is geduldig, maar my tekkies loer vir my met neon oë.
My longe is vol liefde vir vars lug, so ook my tekkies.
My longe is nie slymsakke nie, my tekkies sal dit verhoed.
My longe is vir seker afgunstig teenoor die tabak en sy skelmpie, nikotien.
My tekkies is tjommies, reg uit die fabriek, wat rokers bekeer.Maar, ai tog.
Stuyvesant-blou, bokkie. Ek hou van jou.
As ek aan jou dink, spoel daar liefde deur my are.
Takbakplante is deel van die skepping
Oulike bruin stingeltjies.
En van ver af, uit Amerika iewers, het iemand hierdie skepsels ’n wit ronde baadjie van
liefde gegee
om pypsteelperfek in my oesophagus af te mik.
En met daardie liefde wil ek jou styf vashou
totdat ons harte gloei van die hitte.
En dan kan ons deel raak van mekaar,
Een galbitter, teerbelaaide poefffff op ’n slag.
En met hierdie grysblou rooksein
Eer ek die gode wat vir ons reën bring,
Eer ek die god van plante,
Eer ek die gode wat plesier so klein verpak.
Jy maak my kwaad, maar ek het jou lief,
Piepklein tondeldoosskermunkel. Jou broloksuitlaatpyp bastardo!Die ewige geveg tussen lewe ... en rook is pas gewen.
Harold Porter ain't big enough for tekkies and Stuyvesant.
Go forth, ye shoes of doom
and destroy the bones of healthy men.
Hell hath no fury like a man without his smokes......
NouNet: publiseer jou mening op LitNet!
Lees nog NouNet-menings hier:
NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"
NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet
NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose
NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis
Kommentaar
Parkrun is die beste. Ek beskou dit soortvan as my kerk, maar het ook maar onlangs eers begin. Los daardie twak. Ek is 10 jaar tabakvry.