Ons almal wonder die een of ander tyd oor die regverdigheid van die lewe. Tog weet ons dat daar nog nooit êrens geskryf staan dat die lewe net altyd maanskyn en rose gaan wees nie. Inteendeel.
Dit is veral in vandag se lewe wat dit meer opvallend raak hoe skeef die dice vir baie mense val. Ek wil juis die klem hier op mense plaas, want sien dit raak al meer opvallend dat ons dice deur mense, eerder as die Opperhand, beheer word.
Dat ons dit sommer net so aanvaar, is hartverskeurend, want sien, ons het geleer om te aanvaar dat ons lot ons lot is. Die valse boodskap word ook dan aan ons kinders oorgedra en leer hulle van kindsbeen af om nie terug te baklei nie, want hoe baklei jy teen ’n sisteem wat in werklikheid nie bestaan nie. Die korruptheid en selfsug van mense het gekom en ons regte versmoor.
Wat van die kinders? Veral die pleegkinders, weeskinders en jeugsorgkinders? Die kinders wie se dice by die afgrond afgerol word. Ons sogenaamde kinders van die stelsel. Wie kan opstaan teen die sisteem en volwassenes keer om reeds beskadigde kinders terug te stort in ’n nuwe hel?
..........
“Hier sit ek vandag soos ’n wafferse Fiela Komoetie en ek huil oor die onreg teen ons kinders.”
..........
Vir die laaste nege maande het ek ’n blou-oogdogtertjie in my sorg gehad. Oortrek met bloukolle, ’n brandwond waar haar ma in haar tik-trans die kind met kookwater gebrand het. ’n Kop vol luise wat my weke geneem het om van ontslae te raak. ’n Enkele sak met voddeklere. Sy kon vir maande nie op ’n bed slaap nie, want sy het nog nooit in haar lewe ’n bed gehad om op te slaap nie. Lewende vrees vir slae en hare was, blou moord geskree wanneer ’n kam naby haar kop kom. Bed natmaak en nagmerries was aan die orde van die dag. Verrotte tandjies as gevolg van wanvoeding.
Vir die eerste maand het sy haar kieste vol kos geprop sodat sy naar sou word. Sy het nie kos geken nie. ’n Gebroke sieletjie wat by my opgedaag het en wat ek met elke moederlike vreugde in my hart met ope arms ontvang het.
Vir maande het ons haar gekoester en getroos. Geleer liefhê en lag. Drukkies was onbekend aan haar. ’n Kindjie wat nooit wou praat nie moes ons later smeek om net ’n paar minute bietjie minder te praat. Aan die een kant het ek met alle mag baklei om haar mens te kry en aan die ander kant verwese teen die sisteem moes baklei.
..........
“Week vir week stry ons in die hof, die sisteem faal ons weer.
Papierwerk is nie op datum nie.
Huisbesoeke word nie uitgevoer nie.”
..........
Elke week ’n besoek aan haar ma wat my herhaaldelik in die publiek verskree, vloek en verneder. Ek wat met ’n snikkende kindjie moet wegry en van voor vir haar moet verseker dat hulle haar nooit weer sal vat en verniel nie.
Op ’n volgende dag moet sy by haar pa kuier, ’n man wat sy nooit geken het nie en op die naam noem. Verwarrende dinge word aan haar vertel. Na die besoeke is ons terug by bed natmaak en nagmerries. Ons smeek dat die besoeke gestaak word, die kind word ontwrig.
Die sisteem het net oë vir die ouers, wat is nou so erg daaraan dat ’n kind haar bed natmaak en haar naels in die lewe afkou? Week vir week stry ons in die hof, die sisteem faal ons weer. Papierwerk is nie op datum nie. Huisbesoeke word nie uitgevoer nie. Dwelmtoetse word uitgestel. Maande kruip verby en steeds kry ons nie antwoorde nie.
Ons liefde vir die kind groei daagliks, sy kruip onder ons vel in. Ek word haar mamma. Die sisteem beloof dat hulle haar nie terug gaan plaas by haar ouers nie, sy sal vir twee jaar by ons geplaas word waarna als weer ondersoek sal word. ’n Sug van verligting sy is veilig by ons.
Wanneer ’n mens mag kry is dit selde dat hulle nie beheer verloor nie. Sien, vir een maatskaplike werker wat moeg word om te baklei is dit maklik om ’n besluit te neem. Case closed! Op my prinses se vierde verjaardag, op ’n koue stoep voor die welsynkantoor lig mev. Sisteem my in dat my prinses by haar pa geplaas gaan word …
Wie bepaal watter persoon besluit oor ’n kind se lewe?
“Laat die kindertjies na My toe kom en
moet hulle nie verhinder nie, want die
koninkryk van God is juis vir mense soos
hulle.” Lukas 18:16
Wanneer het mens God geword? Wanneer het ’n salaris belangriker as ’n kind se lewe geword? Hoeveel onskuldige kinders moet ons gesinne, gemeenskappe en land nog in die sisteem verloor voordat iemand gaan opstaan en sê tot hier toe en nie vêrder nie?
Opvolging word nooit uitgevoer nie, kinders word verniel en verkoop, maar dis als orraait, solank ons net nog ’n lêer uit die sisteem kan skuif.
Hier sit ek vandag soos ’n wafferse Fiela Komoetie en ek huil oor die onreg teen ons kinders. Ek huil oor ek weet my blou-oog hanskind huil vanaand vir haar “Mamma”. Na nege maande se intieme verhouding bou en liefde kweek is sy op ’n Dinsdagoggend uit my arms geskeur en sal ons mekaar nie weer sien nie.
Ek bid dat sy sal onthou wat ware liefde is en dat ons haar werklik liefgehad het. Dan vee ek my trane hardegat af en wil soos Fiela skree: “My jirre, meneer! God vergeef ons baie dinge, maar hy vergeef ons nie die sonde wat ons ’n kind aandoen nie!”
18 Julie 2019. Mandeladag sal nooit weer dieselfde wees nie. Ek sal jaarliks my 67 minute bestee om te bid vir ’n blou-oogdogtertjie wat weggeskeur is uit als wat goed was vir haar en teruggeprop is in ’n onstabiele huis gevul met drank en vreemdelinge.
Had ons nie ’n bed saam met haar gestuur nie, sou sy weer eens op die vloer moes slaap. Ek sal bid vir elke sieletjie wie se dice ashoop toe rol wanneer dit uit mense se hande val …
Nou vra ek jou watter sisteem?
..........
Lees nog NouNet-menings hier:
NouNet-mening – "Ek het my eerste parkrun oorleef": ’n Ware verhaal van onfiksheid en selfverwyt
NouNet-mening: Drink en bestuur – "Mamma wag nie vir my nie"
NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet
NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose
NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis
Kommentaar
Ilisna! Hoe verskriklik hartseer. My hart breek saam met joune.
Baie dankie Trisa. Elke dag word beter.