
Foto van Francis Galloway en grafika: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-ken-lewenslange-lidmaatskap-aan-dr-francis-galloway-toe/
Francis Galloway se loopbaan strek oor dekades waarin sy op verskillende maniere ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde en boekbedryf gelewer het as dosent, navorser, akademiese uitgewer en redakteur. Haar diepgaande navorsing oor die lewe en werk van Breyten Breytenbach is een van die belangrikste bakens in haar loopbaan.
PEN Afrikaans het tydens sy algemene jaarvergadering in 2026 lewenslange lidmaatskap aan haar toegeken uit erkenning vir haar volgehoue betrokkenheid en bydrae tot die organisasie. In hierdie onderhoud met Jean Oosthuizen praat Galloway oor haar loopbaan, haar besondere belangstelling in Breytenbach se literêre nalatenskap, die uitdagings waarvoor die Afrikaanse boekbedryf staan en waarom die voortbestaan van Afrikaans nie as vanselfsprekend aanvaar kan word nie.
Hoe het jy gevoel toe jy hoor dat PEN Afrikaans se lede eenparig besluit het om lewenslange lidmaatskap aan jou toe te ken? Was dit iets wat jy verwag het, of het dit jou verras?
Catrina Wessels, die bestuurder van PEN Afrikaans, het in Mei vanjaar vir my gevra of ek sou instem tot so ’n voorstel tydens die 2026- algemene vergadering. Dit was inderdaad besonders vir my dat dit oorweeg kon word. Maar ek het eintlik reeds daarvan vergeet (en kon ook nie self die aanlyn vergadering bywoon nie). Die aankondiging was dus wel ’n groot verrassing vir my toe ek boodskappe van gelukwense ontvang – nog voor ek self daaroor in die jongste Nuusbrief in my inmandjie gelees het.
Wat beteken hierdie erkenning persoonlik vir jou, veral omdat jy oor soveel jare op verskillende maniere by PEN Afrikaans betrokke was?
Ek is nie juis iemand wat pryse of eerbewyse ontvang of daarna strewe nie. Op skool en op universiteit was daar boekpryse vir opstelwedstryde en my DLitt-proefskrif is destyds bekroon met die DF Malherbe-prys vir Afrikaans-Nederlands van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Ek wonder vandag nog wat Malherbe sou dink oor ’n proefskrif wat gehandel het oor die denke en skryfwerk van ’n grensverkuiwende (en omstrede) digter van ná die Tweede Wêreldoorlog. Cordis Trust se “Orde van die Goue Pen” vir “Buitengewone bydrae tot die bevordering van Afrikaans” in 2015 was nogal gaaf. Dus: Die PEN Afrikaans-erkenning is ’n unieke loopbaanpluimpie vir my.
Jy was nie net ’n lid van PEN Afrikaans nie, maar ook ’n bestuurslid wat aktief by die organisasie se werksaamhede betrokke was. Hoe het jou betrokkenheid deur die jare ontwikkel, en watter herinneringe staan vir jou uit?
Dit is belangrik om die groter konteks waarbinne PEN Afrikaans tot stand gekom het, te onthou. Dit was naamlik in die tyd van gerugte van sensuur en die konsentrasie van mag in die literêre veld. Sedert 2005 het daar openbare debatte oor die stand van Afrikaans aan hoëronderwysinstellings soos die Universiteit Stellenbosch geheers. In 2010 het die destyds jongste weergawe van die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting voor die parlement gedien en plaaslik en selfs internasionaal was daar sterk bewoorde verklarings van verskillende instansies (soos PEN South Africa) teen die “muilbandwet” en ’n voorgestelde mediatribunaal. Breyten Breytenbach het in ’n volbladartikel in Rapport Weekliks skrywersoptrede teen die beoogde wetgewing en die beskerming en uitbouing van die “Vrye Woord” bepleit en die totstandkoming van ’n skrywersunie voorgestel. In 2011 het Media24 ’n advertensie geplaas vir ’n “nasionale boekeredakteur” vir Beeld, Die Burger en Volksblad. Dit het aanleiding gegee tot uitgebreide debatte op Versindaba en LitNet se SeminaarKamer.
Die Afrikaanse Skrywersunie (ASU) is op 7 Maart 2012 op Stellenbosch gestig. Intussen is PEN Pretoria in ’n ander trajek op 20 Oktober 2012 herkonstitueer as PEN Afrikaans en die lede van die ASU is daarin opgeneem. Sedert 2012 is PEN Afrikaans ’n welluidende kritiese stem teen enige onredelike beperking op vryheid van spraak en persvryheid. Lees gerus oor die organisasie se persverklarings deur die jare om ’n idee te kry van die werksaamhede: https://penafrikaans.org.za/category/nuus/persverklarings.
Wanneer het jy persoonlik betrokke geraak by PEN Afrikaans en wat is jou herinneringe van daardie jare en die tyd toe jy op die bestuur gedien het?
Ek was vanaf die ontstaan daarvan lid van PEN Afrikaans en het in 2018 en 2019 op die bestuur gedien.
Een helder herinnering uit die vroeë bestaanjare van die vereniging dateer terug na 2015. Op 2 Maart het Breyten Breytenbach die hoofrede gelewer tydens ’n huldigingsgeleentheid vir André P Brink by die Universiteit van Kaapstad. Hy het aangevoer dat “André nie dood is nie”, want hy sal aanhou om deel te wees van die groter gesprek. Hy stel, soos destyds tydens die Sestiger Somerskool van 1973, ’n uitdaging (in vraagvorm) aan medeskrywers: “Wat word van die skrywer as openbare intellektueel?”; “Is ’n figuur soos Brink denkbaar in ons huidige tydsgewrig?” In reaksie op Brink se afsterwe en die uitdaging deur Breytenbach gestel, is daar op verskillende platforms (soos LitNet) ’n klimaat van selfondersoek, vraagstelling en uitdaging rondom die eietydse rol van die Afrikaanse skrywer geskep. Ook PEN Afrikaans het ’n gesprekplatform vir “konstruktiewe oop gesprek”. Meer as vier dekades ná die waterskeidende Sestiger Somerskool sit Adam Small en Breytenbach op 25 Maart 2015 weer saam voor ’n geesdriftige gehoor. Hierdie keer op Wellington, Small se geboortedorp, in die eertydse buitegebou van Breytenbach se ouerhuis, Grevilleas, wat toe die Bôrdinghuis-teater van die Breytenbach Sentrum is. Saam met hulle is die skrywers Danie Marais (eerste bestuurshoof van PEN Afrikaans) en Bettina Wyngaard. Al vier sprekers het nugter gekyk na die beperkinge en uitdagings wat die destydse bestel vir Afrikaanse skrywers en hulle moontlike rol as openbare intellektuele ingehou het.
Tydens die tyd waarin ek op die bestuur van PEN Afrikaans gedien het, het ek diep onder die indruk gekom van die entoesiasme, toewyding en ywer van die bestuurslede. Wat veral vir my uitstaan, is die denke en energie wat ingegaan het in die voorlegging wat PEN Afrikaans in Julie 2018 aan die Nasionale Vergadering van die parlement gemaak het oor die kontroversiële aspekte van die voorgestelde Copyright Amendment Bill (wat tot vandag toe nog nie bekragtig en onderteken is nie). Ek onthou ook die saamstel van PEN Afrikaans se jaarlikse voorlegging en motivering aan die Nobelpryskomitee ten opsigte van die toekenning van die Nobelprys vir letterkunde aan Breyten Breytenbach.
PEN Afrikaans beywer hom onder meer vir die beskerming van skrywers se regte, vryheid van uitdrukking en die bevordering van die Afrikaanse letterkunde. Hoe belangrik is die organisasie se rol vandag, veral in ’n tyd waarin vryheid van spraak en die onafhanklikheid van skrywers en joernaliste wêreldwyd toenemend onder druk kom?
Ek meen die organisasie se rol raak al meer uitdagend – ook ten opsigte van die beskerming van skrywersbelange in ’n tyd waarin die skeppende gees gestoomroller word deur masjiene.
Jy het ’n besondere loopbaan in die Afrikaanse letterkunde en uitgewersbedryf gehad – as dosent, navorser, akademiese uitgewer en dosent in uitgewerswese aan die Universiteit van Pretoria. Hoe het hierdie verskillende ervarings jou begrip van die Afrikaanse literêre stelsel en die uitdagings waarvoor skrywers te staan kom, gevorm?
In 1972, in die vroeë era van “verantwoordelike verligtheid”, word ek met ’n goeie skoot naïewe idealisme en voortvarendheid, asook bewapen met die opvatting van die “outonomie” van die Afrikaanse letterkunde, aangestel as jong dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die eertydse Universiteit van die Noorde, toe bekend as Turfloop, naby Pietersburg. Hier, waar die Broederbond en die Swart Bewussynsbeweging intiem skouers geskuur het, sou my oë oopgaan vir die politieke werklikheid van die land en ander sienings oor die aard van die letterkunde en die rol van die intellektueel/skrywer. ’n Groot leerskool was die geleentheid wat ek gehad het om die Sestiger Somerskool by te woon en ooggetuie te wees van hoe talle grense sienderoë verskuif is.
In die 1980’s was ek ’n (senior) navorser verbonde aan die nuwe sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (Sensal) van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). Destyds was die formalisties-strukturele benadering, met klem op die teks in isolasie, nog gangbaar. Sensal sou ’n belangrike rol in die opkoms van “nuwe paradigma”-benaderings speel. My groot projek in daardie tyd was as samesteller van ’n jaaroorsigreeks (SA Literature/Literatuur) wat al die plaaslike letterkundes in ’n sisteembenadering betrek het.
In die 1990’s was ek ’n werwingsredakteur by Van Schaik Uitgewers – verantwoordelik vir nuwe akademiese tekste. In die oorgangs- en vroeë euforiese era van die “Nuwe Suid-Afrika” was daar talle geleenthede om sogenaamde tweelinguitgawes (in Engels en Afrikaans) van handboeke in verskillende vakgebiede uit te gee wat in groot getalle voorgeskryf is aan tersiêre instansies. Ek het spesifieke vreugde gehad aan Afrikaanse taal- en letterkundepublikasies soos Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam van Ena Jansen; die driedelige Perspektief & Profiel onder redakteurskap van HP van Coller; Alkant olifant – ’n inleiding tot die literatuurwetenskap van Chris N van der Merwe en Hein Viljoen; Ampie Coetzee se ’n Hele os vir ’n ou broodmes – Grond en die plaasnarratief sedert 1595; Ons klein en silwerige planeet – Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing, saamgestel deur Johann Lodewyk Marais en Ad Zuiderent; asook Christo van Rensburg se Afrikaans vir Afrika. Ander belangrike publikasies oor die taallandskap was Mohamed Adhikari (redakteur) se Straatpraatjies – Language, politics an popular culture in Cape Town, 1909–1922, asook boeke in die reeks “Studies in language policy in South Africa” onder redakteurskap van Theo du Plessis en ander. In 1998/99 het die destydse voorsieningsisteem vir skoolhandboeke (wat die ruggraat van die plaaslike uitgewersbedryf was/is) ineengestort. Dit het ook implikasies gehad vir die uitgewerye van Afrikaanse fiksie en het tot sluitings, oornames, samesmeltings en herstrukturering in die bedryf gelei.
In November 1999 is ek as dosent in die nuwe program vir Uitgewerswese in die Departement Inligtingkunde van die Universiteit van Pretoria aangestel, en ek het in Mei 2009 (vroeg) afgetree as hoof van die program. Naas die uitdaging om tersaaklike modules te ontwikkel vir voor- en nagraadse onderrig en om studente voor te berei vir ’n werksomgewing in die bedryf, was navorsing oor die plaaslike boekbedryf deel van my werk. Ek noem slegs twee uitvloeisels daarvan: opdragnavorsing vir die Publishers Association of South Africa (Pasa) in die formaat van ’n jaarlikse oorsig van die stand van die bedryf, en medewerking aan ander programme vir bedryfstatistiek en boekgeskiedenis. Laasgenoemde het jaarlikse deelname aan die internasionale kongresse en vaktydskrifte van die Society for the History of Authorship, Reading and Publishing (Sharp), ’n vereniging vir boekhistorici, ingesluit.
Sedert September 2009 is ek die Geesteswetenskappe-redakteur van LitNet se akademiese joernaal LitNet Akademies. Dit stel my in staat om op hoogte te bly van die stand van Afrikaanse akademiese publikasies in vaktydskrifte (dié wat nog in Afrikaans publiseer). My navorsingbemoeienis met die Afrikaanse uitgewersbedryf bereik ’n hoogtepunt met die publikasie van ’n perspektiefbydrae oor die produksie van Afrikaanse volwassenefiksie in die derde deel van Perspektief & Profiel (tweede uitgawe, 2016) onder redakteurskap van HP van Coller. My medenavorser en -skrywer is oudstudent en -kollega Rudi (MR) Venter, wat in 2006 die eerste doktorsgraad in Uitgewerswese behaal het.
In die voorstel vir jou toekenning vir lewenslange lidmaatskap word jou diepgaande literêr-biografiese studie van Breyten Breytenbach se lewe en werk spesifiek uitgesonder. Wat het jou aanvanklik tot hierdie navorsing gebring, en wat het jy tydens die navorsingsproses oor Breytenbach en sy plek in die Afrikaanse letterkunde ontdek?
Ek het al elders uitgebreid vertel van my lewenslange (navorsings)betrokkenheid by Breyten Breytenbach as openbare figuur en by sy skrywersloopbaan, onder andere in ’n praatjie by NALN (https://www.litnet.co.za/my-pad-met-breyten-op-die-taalspoor).
Die publikasie van Breyten Breytenbach as openbare figuur (HAUM-Literêr, 1990) is opgevolg en uitgebrei met die hoofstukke wat ek bygedra het tot die huldigingsbundel van die SAAWK, breyten breytenbach – woordenaar, woordnar, waarvan ek die redakteur was (Protea Boekhuis, 2019). Sedertdien fokus ek op spesifieke fases in sy uitgeegeskiedenis: by die Afrikaanse Pers Bpk (APB) / Perskor en by Buren-Uitgewers; en tans werk ek aan die Taurus-fase.
Dit is nie vir my moontlik om in ’n sin of twee saam te vat wat ek oor Breytenbach se plek in die Afrikaanse letterkunde ontdek het nie. Hy het self bely in die na-dood: “en die wêreld / die skepping / die kosmos // het met my gepraat in Afrikaans” (bl 44). Daniel Hugo het dit al by meer as een geleentheid gestel dat Breytenbach se poësie ’n “ondeelbare eenheid soos die wolkehemel is” en dat sy hele oeuvre “’n uitdyende heelal” verwoord en herskep in Afrikaans. So voel ek oor sy plek in die Afrikaanse letterkundekonstellasie.
.......
Daniel Hugo het dit al by meer as een geleentheid gestel dat Breytenbach se poësie ’n “ondeelbare eenheid soos die wolkehemel is” en dat sy hele oeuvre “’n uitdyende heelal” verwoord en herskep in Afrikaans. So voel ek oor sy plek in die Afrikaanse letterkundekonstellasie.
........
Jy het deur jou navorsing en ander werk ’n belangrike bydrae gelewer tot die dokumentering en bestudering van die Afrikaanse boek- en uitgewerswêreld. Hoe sou jy die huidige stand van die Afrikaanse boekbedryf beskryf? Wat is volgens jou die grootste uitdagings én geleenthede?
Ek het hopelik met my navorsing (asook via studente wat ná my daarvan gebruik gemaak en daarop uitgebrei het) ’n bydrae gelewer tot die kartering en bestudering van die plaaslike en ook spesifiek Afrikaanse boek-en-uitgewersbedryf. Maar ek is nie meer deel van die akademiese boekuitgewersbedryf nie en kan slegs van buite waarneem dat daar ’n groot inkrimping is (of dalk reeds ’n doodgang) vir die publikasie van vakverwante akademiese handboeke. KI (en die daarmee gepaardgaande problematisering van outeursreg) bied toenemende uitdagings vir die bedryf wat met menslike kreatiwiteit aangepak sal moet word.
As jy terugkyk oor jou loopbaan, watter bydraes of projekte beskou jy as die belangrikste, en is daar iets wat jy graag nog sou wou aanpak of verder sou wou ondersoek?
Ek is dankbaar dat ek die geleentheid gehad het om op verskillende maniere betrokke te kon wees by hopelik nuttige navorsing oor die boekbedryf. My hartsprojek bly egter die pad wat ek as navorser met die doen en denke van Breyten Breytenbach kon loop. Ek hoop ek kan my huidige fokus op die fases van sy uitgeegeskiedenis volhou en uitbrei.
Watter hoop en verwagtinge het jy vir PEN Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde in die volgende dekade? Wat moet gedoen word om te verseker dat Afrikaans se skrywers en letterkundige erfenis ook in die toekoms ’n sterk stem het?
Daar kan glad nie aangeneem word dat Afrikaans (en die Afrikaanse letterkunde) “sal bly voortbestaan” solank dit gepraat en gesing en gefees word nie. As Afrikaans in al sy gedaantes nie deur al sy sprekers omarm en gekoester word nie; as jongmense nie meer in Afrikaans kan lees, skoolgaan of tersiêre (beroeps)opleiding ontvang nie; as uitgewers en boekhandelaars moed opgee en boekkopers wegbly; as bewaarplekke van boeke/geskrifte nie doelmatig beskerm en ondersteun word nie ... dan is die dood in die pot.
.........
Daar kan glad nie aangeneem word dat Afrikaans (en die Afrikaanse letterkunde) “sal bly voortbestaan” solank dit gepraat en gesing en gefees word nie. As Afrikaans in al sy gedaantes nie deur al sy sprekers omarm en gekoester word nie; as jongmense nie meer in Afrikaans kan lees, skoolgaan of tersiêre (beroeps)opleiding ontvang nie; as uitgewers en boekhandelaars moed opgee en boekkopers wegbly; as bewaarplekke van boeke/geskrifte nie doelmatig beskerm en ondersteun word nie ... dan is die dood in die pot.
..........
PEN Afrikaans het sedert die totstandkoming van die organisasie reeds talle indrukwekkende inisiatiewe van stapel gestuur – https://penafrikaans.org.za/projekte. In die konteks van toenemende druk en uitdagings vir Afrikaanse skrywers en die letterkunde sal daarop uitgebrei moet word. Mag die ledetal toeneem (dalk deur samewerking met vakverenigings soos die Afrikaanse Taalkunde-en-Letterkundevereniging), en mag daar hardwerkende, entoesiastiese en kreatiewe mense aan die stuur van sake bly wat telkens nuwe geleenthede raaksien en skep.
Dalk kan PEN Afrikaans weer ’n byeenkoms soos in 2015 van stapel stuur waar nuwe, jong en kreatiewe deelnemers nugter en met praktiese voorstelle vorendag kan kom oor die beperkinge en uitdagings wat die huidige bestel vir Afrikaanse skrywers en denkers, die boekbedryf in sy geheel, asook verwante organisasies/verenigings inhou.
Hiermee spreek ek my dank teenoor PEN Afrikaans uit – vir die pad wat ek met die ontstaansgeskiedenis van die organisasie kon stap, die tyd waarin ek ’n bydrae kon lewer tot die ontplooiing van die rol daarvan, en vir die besonderse toekenning wat ek koester. Ek sien uit na voortgesette betrokkenheid as lid.
Lees ook:
Praatjie oor Vlam in die sneeu: U3A Hermanus, 21 Augustus 2017
Die lang man met die bril: ’n fotolegkaart van 60 jaar gelede
50 jaar gelede: tydlyn van Breyten Breytenbach se traumatiese jaar
Die Sestiger-somerskool, Universiteit van Kaapstad: Die "bont begrafnis"
Poolshoogte-afsluiting: Die evolusie van Afrikaanse skrywers- en letterkundebyeenkomste
Die belang van literêre toekennings binne die Afrikaanse literêre sisteem
Francis Galloway gesels met Breyten Breytenbach oor die Dansende Digters Fees
Francis Galloway reageer op The Cambridge History of South African Literature
YouTube-onderhoud: Francis Galloway gesels oor LitNet Akademies

