Francis Galloway gesels met Breyten Breytenbach oor die Dansende Digters Fees

  • 1

FG: Die geleentheid word beskryf as “’n internasionale fees van digters en digkuns”. Hoe sluit hierdie geleentheid aan by soortgelykes elders in die wêreld (en plaaslik)? Hoe verskil dit? Wat laat dit “dans”?

BB: "Internasionaal" omdat die meerderheid deelnemende digters van elders kom. "Dans" omdat die beswerende beweging van poësie voorop gestel word – behalwe nou vir die aanname dat om te dig 'n dans met die onnoembare is. Die wegspring vir die konsep was die kriteria dat ons 'n aantal deurwinterde en gesoute digters kry (en plek-plek slaan die salpeter op hulle uit) om met genoeg ruimte (in iedere betekenis van die begrip – spasie, tyd, verwysingsveld, geheue, taal) hulle gedigte en/of gedagtes met ons te deel. Verkieslik is hulle ook al oud genoeg om te weet dis nie die moeite werd nie, maar daar is tog nog passies wat gedeel kan word, landskappe wat opgeneem kan word, klippe met wie gepraat kan word, wind waarna geluister kan word, wyn wat gedrink moet word. Dit is dus 'n fees van woorde en beweging (al is dié ook subtiel en soms onsigbaar) wat 'n posisionering impliseer, en nié om die digkuns as kommoditeit of slimmigheid of gezoem vir feesvee nie.

Ek weet nie of daar soortgelyke benaderings elders in die wêreld is nie, al is dit ook opvallend dat al hoe meer feeste rondom 'n tema gekonseptualiseer word. Ek vermoed ons word almal meer bewus daarvan dat die alternatiewe wêreld die werklike en enigste oorblywende uitkoms is, en poësie het nog altyd die basiese tweesieligheid of tweehartigheid (en hartlikheid) in haar gedra van marginaliteit én van essensie. Ten minste wanneer dit kom by bewuswording van die implikasies van menswees.

"Plaaslik" (alle poësie is plaaslik) dink ek ons is voorlopig nog meer toegespits op die vooropstel van die dorp of die streek of die taal of die kultuurgroep waaruit geput word of wat gevier word. En poësiefeeste – dis ook elders die neiging, 'n soort van Amerikanisering – is nog te dikwels 'n soort van afgewaterde konsert waar toehoorders verwag om vermaak te word, met af en toe 'n bietjie onskuldige provokasie daarby; vandaar die soeke na praatverse, na opvoerings.

FG: Ek het die volgende konsepte onderstreep in jou terugvoering op my eerste vraag: beweging, ruimte, posisionering, alternatiewe wêreld, implikasies van menswees, want dit kom vir my voor as ankers in jou denke oor hierdie digtersfees. Maar nou wil ek eers meer weet oor die “plaaslike” implikasies. Jy noem dat “ons” voorlopig nog meer toegespits is op “die dorp of die streek of die taal of die kultuurgroep waaruit geput word of wat gevier word”; dat “alle poësie plaaslik is”; dat daar ’n soeke is na “praatverse” (is dit iets anders as wat Charl-Pierre Naudé en ander digters beoefen / ’n pleidooi voor lewer?). Brei asseblief daaroor uit – ook dalk met inagneming van die konteks van die sogenaamde “wêreldliteratuur” en opkoms van “wêreldskrywers” wat sedert die Koue Oorlog deur Amerikaanse en Britse kultuurorganisasies gestu en ondersteun is (soos onder andere toegelig in Andrew Rubin se Archives of Authority. Empire, Culture, and the Cold War).

Breyten Breytenbach

BB: Die "ons" waarby ek my so onopsigtelik moontlik probeer aansluit het in my vorige antwoord, is Afrikaners. Dalk ook Suid-Afrikaners. Ons wat poësieverbruikers en feesgangers is. Niks negatiefs in die identifisering nie. Ter lande (in Mzansi) is die feeste lokaal, soms taal-lokaal, reeds ook net omdat die land geografies in die buitewyke lê, 'n bietjie antipodies, sou mens kon sê, en omdat dit minder gebruiklik is om digters van die Groot Elders te nooi. Benewens miskien 'n Hollander of twee, of 'n Suid-Afrikaanse “wegkommer”. (Ek dink die paring “inkommer”-“wegkommer” kan nogal verhelderend wees, of hoe?) Ten spyte van ons bontkomberserigheid in terme van stand en agtergrond en aksent, en partykeer ook taal, is ons nie werklik ingestel op vertaling nie en bly die wêreld maar 'n duister plek tensy dit na ons toe kom in Engels of, minder algemeen, Nederlands.

Ek gaan katvoet loop om die mynvelde van “Sentrum” en “Authority” – al het ek my dikwels daaroor uitgelaat. Baie van ons postkoloniale en postmodernistiese bemoeienisse is skyngevegte, dink ek – 'n getorring wat eintlik meer sê oor die diepte van ons kopkolonisering (soos Fanon of Biko dit sou stel) as wat ons onder die oë wil sien. Die kulturele hegemoniste het ons ore aangesit toe die Sentrum vervang is deur globalisering, of “wêreldburgerskap” – die troetelnaam vir ons kondisie van kapitalistiese verbruikersverslawing. Dat die sogenaamde “Masters of Culture” doelbewus gebruik gemaak het van hulle kultuurgoedere om die Empaaiers te vestig en die res van “ons” (alle onse, die smarties en die smartlikes) te verkneg, is 'n onomstootlike gegewe. Waar ons lustig saamwerk aan die interiorisering van hulle “liberale” waardes en begeertes in die globale trogmentaliteit, die kitskultuur – en soms bevestig ons agterhoede-gevegte slegs die mate waartoe ons afgeskeep voel, en so bevestig ons hulle meerderwaardigheid.

Maar met "alle poësie is plaaslik" bedoel ek slegs die voor die hand liggende: dat die gedig se habitus altyd in die teenswoordige is. Poësie as 'n universele vergestalting van die menslike kondisie is by uitstek die paradoksale verskynsel van plaaslikheid (ek praat nie van die gemoedelik-lokale of die gemeenplaaslike nie) – want dit “verskyn” net, meld haar net aan, kom alleen na die oppervlak van hier-wees by die lees van die ding. Die gedig trek die baadjie van woorde aan, van die taal wat aan jou bekend is, om herken en geëien te word deur die leser by die troue en vertroue van lees. (Of luister.) Ongeag waar dit vandaan kom, uit watter kultuurtyd. Die gedig is plek.

"Soeke na praatverse" sê nie duidelik genoeg wat ek in gedagte gehad het nie. Charl-Pierre Naudé het 'n sterk saak wanneer hy voorspraak maak vir "praatpoësie". My verwysing was na "performance poetry" enersyds, die gemoedelike en gevatte vers andersyds. (In Nederland, sal jy onthou, was daar vir 'n tyd die tradisie van gevatte of grappige gedigte; by ons is dit meer in die mode van "uit dieptes gans verlore".) Vanselfsprekend is daar plek en ruimte vir almal in die stoet, hoe kruppel of koppig ons ook mag wees. My beswaar is weer 'n keer dat ons gevaar loop om 'n norm te maak van vervlakking. Die amusante, die sentimentalistiese, die “crowd-pleasing”, trek te dikwels 'n digte sluier (van preutsheid, eintlik) oor die wilder en ouer moontlikhede van die digkuns. Dis egter nie 'n aantyging nie. Eerder 'n bekommernis dat ons nie die ruimtes van nieverstaan moet laat oorgroei nie. En dit beteken glad nie dat ek pleit vir 'n soort eksklusiwiteit of die snobisme van die geïnisieerdes nie – maar wel vir uitnemendheid en die uit-jouself-neem van vreeslose kreatiwiteit. Nog 'n teenstelling dan: dat ons ons vrese slegs in vreesloosheid kan beliggaam.

FG: Jy voel dat “ons nie werklik ingestel is op vertaling nie”. Die eerste gesprekstema van die digtersfees is dan ook “Lost in translation, found in poetry” – hoekom staan dit so sentraal? Brei asseblief uit oor jou siening van die rol van vertaling en die “beweeg tussen tale”. Hoe voel jy oor die gebruik van ’n “wêreldtaal” (Engels) wat ingespan word vir die skepping en posisionering van ’n “wêreldletterkunde” en “wêreldskrywers”? Wat is die verhouding met die “plaaslike” aard van die poësie?

Carolyn Forché
David Shulman

BB: Die oorweging was eenvoudig dat “vertaling” so sentraal in die verrigtinge gaan wees dat dit 'n ewig onopgeloste debat ontketen, dat dit interessant gaan wees om ander mense met praktiese ervaring te hoor praat. Al die digters wat gaan deelneem, het te staan gekom voor die probleme van oorgaan na ander tale – deur self te vertaal (Forché het Darwish vertaal,  byvoorbeeld, en dit gaan goed wees om te hoor of sy enige Arabiers magtig is) of omdat hulle werk deur 'n sogenaamde portaaltaal (Engels) 'n groter publiek bereik het. Die kwessie van brontaal gaan nogal pertinent te berde gebring word – veral tydens die vertalinggesprek gelei deur Gunther Pakendorf. Feit is dat twee van ons gesprekleiers Engelstalig gaan wees, en alhoewel net twee buitelandse deelnemers Engels as skryftaal gebruik (Forché, en Shulman tot 'n mindere mate) verwag ek dat Engels as imperiale skakeltaal (en brabbeltaal wanneer dit by ons parlement kom) die omgangstaal gaan wees. Ek verwag egter dat dié van ons wat Afrikaans as eerste taal gebruik, ons gedigte so sal aanbied, net soos die ander hulle werk gaan aanbied in hulle onderskeie moedertale.

 

Ek weet nie of my eie siening en ervaring van tale veel ter sake is nie. Punt nommer een is dat 'n gedig – enige gedig – vir my uit veel meer as taal bestaan. Of dan, dat die tekstuur en die ritme en kleur van die taal waarin dit geskryf is, of vertaal word, daarvan 'n objek maak amper nog voor die plek-spesifisiteit en historiese kondisionering van die taal ter sprake kom. Want elke taal is draer van 'n unieke geskiedenis en kennis wat in die woordeskat en metafore weerspieël word, maar ook in die “gebruike” van die gegewe taalgemeenskap. Mens verlaat jou tog redelik instinktief op gedeelde kennis. Maar 'n gedig het 'n eie organiese lewe, 'n binnelewe wat onder andere gaan bepaal watter woorde toegelaat word om saam te bestaan binne daardie ruimte. Die “konneksies” tussen onderskeie elemente van die gedig word tot 'n mate assosiatief bepaal. Die een klank (of beeld) sal die ander versterk of nuanseer of selfs verander. Die gedig “sê” anders en op ander wyses as wat die digter weet! Dit is, dink ek, 'n funksionering wat mens in die vertaling probeer herwin. Wanneer jy dan meer as een taal langs mekaar gebruik, soos ek met Oorblyfsel/Voice Over probeer doen het, kan dit selfs wees dat die versies mekaar oor en weer gaan beïnvloed. Partykeer het iets wat ek raak-gelees het in Engels die Afrikaanse weergawe anders gemaak.

Punt nommer twee, in my geval, sou wees dat ek Frans en Engels eweseer as “eerste tale” belewe as Afrikaans, al sy dit om uiteenlopende redes. Ek gaan nie nou hier uitbrei nie, behalwe dat die “direkte naelstring”, die lyn terug na die nagruimtes, in Afrikaans gebeur wat poësie aangaan. (Dit geld slegs vir poësie.) Dit behels egter dat ek my eie werk, wanneer ek dit in Engels “oorskryf”, as oorspronklik beskou. Poësie is eintlik nie binne 'n taal wat gedeel en verstaan word as 'n kommunikasiemeganisme nie. Te veel ander eienskappe weeg ewe swaar. Dis seker hoekom Yang Lian sê poësie is sy moedertaal – dus iets wat losstaan of wegstaan van die omgangstaal, in sy geval Chinees.

Punt nommer drie is dat 'n vertaalde gedig binne sy eie gedig-wil-wees moet bestaan, anders het dit nie bestaansreg nie, behalwe nou as dit tot stand gekom het as dokument of nuusagent. Dis hoekom ons sê (so 'n bietjie tong-in-die-kies) dat die oorspronklike gedig in die vertaling verlore kan gaan, maar dat daar in die soeke en gesukkel dalk afgekom gaan word op 'n "found object" wat net so goed of beter is as die brongedig. Die oorspronklike gedig is met ander woorde net nog 'n gegewe, 'n parameter, 'n juk wat jou in staat gaan stel om met méér substansie te dans. As jy werklik wil leer skryf, moet jy vertaal; jy word gedwing om te sien hoe en waarom die oorspronklike werk, en daarvandaan word elke truuk 'n moontlike benadering (en moet jy aanmekaar besluite neem), maar binne die vereistes van om 'n nuwe haalbare gedig te probeer maak.

Yang Lian

Dit is natuurlik – punt vier – waar die etiese oorwegings inkom. Hoe “getrou” moet jy bly? “Getrou” aan wie of wat? Wat mag jy jouself toelaat om te sê of die woorde te laat sê? En as die woorde en die gedig dan in die moeilikheid beland – gaan jy daarvoor instaan? Of gaan jy sê jy het jou plig gedoen – die oorspronklike was byvoorbeeld 'n sonnet en hier het jy nou weer een. Jy sou verder kon gaan, naamlik: Wat is die rol van etiek wanneer dit kom by mimetisme en by reproduksie? Is die oppervlak nie net so belangrik soos die substansie nie? Is dit nie meer opreg om 'n skadubeeld van die oorspronklike te skep wat die nuwe-gedaante-gedig mag invul nie – of nie? Die veteraan-vertaler Eliot Weinberger stel dit so (hy vertaal self uit Spaans, alhoewel sy kennis van die taal maar eina is, en uit Chinees, wat hy glad nie ken nie): “In its way a spiritual excercise, translation is dependent on the dissolution of the translator's ego: an absolute humility toward the text. A bad translation is the insistent voice of the translator – that is, when one sees no poet and hears only the translator speaking." Mens sou heelwat verder met die voorgaande wil argumenteer. (Soms is die vertaling juis 'n argument met die oorspronklike.)

Die werke wat ons gaan vertaal, sal byna onvermydelik via Engels moet geskied – behalwe as ons daarnaas goeie vertalings kan opspoor in ander tale waarmee ons gemaklik is (ek vind byvoorbeeld dat Rumi beter vertaal word in Frans as in Engels), of in die geval van Antjie, wat direk by Sartorius se Duits kan aanklop en aanklank. Nie dat so 'n kruisverwysery wanneer jy toegang het tot die vertaling in een of meer tale noodwendig beter eindprodukte oplewer nie. En daarmee, dink ek, is een van die kruise van poësie vertaal en die oorkruiskykery waartoe dit lei, reeds geïdentifiseer.

Ek dink ek het die tweede deel van jou vraag in 'n vorige antwoord opgevang. Miskien moet ek net byvoeg dat "wêreldletterkunde" gestroop van die magskonnotasies slegs uit 'n swetterjoel "plaaslikes" kan bestaan. "Die wêreld is waar ek is," sou enige skrywer kon beweer. Net soos die verlede en die toekoms slegs in hierdie moment van vertaling kan bestaan. En hoe word “wêreldskrywers" bepaal? Deur hulle invloed op ander? Pryse? Die oplaag?

FG: In die essay “Making Being – On Arts and Culture” in Notes from the Middle World (Haymarket Books, 2009) omskryf jy die konsep space (ruimte) as “that area or interstice in time – and of course, sometimes it is geographical – where something is allowed to exist or come about”. Jy verwys dan (in die konteks van die essay wat op Afrika fokus) na die ruimte van identiteit en burgerskap, die toenemende ruimte van die burgerlike gemeenskap en die ruimtes van kreatiwiteit, en jy vra: “What movement do they generate? What ethics do they incarnate? What are their values?”. Watter ruimtes poog hierdie digtersbyeenkoms om te ontsluit?

BB: Die mense wat ons genooi het, probeer almal op byna prioritêre wyse deur die praktyk van poësie, in al die geledinge (skryf, vertaal, pedagogie, aktivisme) sin maak van hulle lewens, die lewe, die geskiedenis, breuke en oorgange in die geskiedenis, kwessies rondom taal, hulle omgewing, die rol en funksie van ’n digter in die samelewing.

Mens sou die Gesprekke anders kon konseptualiseer, byvoorbeeld rondom die vrae: Sou dit enige verskil aan jou en die mense om jou gemaak het as jy niks geskryf het nie? Dink jy die maak van gedigte essensialiseer identiteit? Of nuanseer dit die wyses waarop ons ons menswees ervaar?

Ons weet dat ’n gedig tot stand kom onder andere omdat dit persepsies skep. Om dit te doen put ons meer uit gemeenskaplike voorraad – woorde, metafore, simbole, insigte, emosies, vooroordele, vrese – as wat die politici en ander kommunikeerders doen. Hoe en met watter middele, of selfs bedoelings, verskil ’n gedig dan van ’n sedepreek of ’n politieke betoog?

Vir wie skryf jy? Waar is jy “tuis”? Teenoor wie of wat moet jy rekenskap van jou rentmeesterskap gee? En om wat te verander of te bevestig? Noudat daar nie meer gode is om te paai nie – maar wel markte en wêreldse magte, en slim mense aan universiteite wat die soom optel om te loer of jy kaal onder die woordejas is – vir wie dans jy?

As dit dan waar is dat die hart van poësie niks verander het sedert die begin van mensebewussyn nie, al klop dit nie altyd met dieselfde ritme nie, waarom bodder met vertalings uit ander tale? Of is dit juis om herinner (hierinner) te word aan die gedeeldheid en deurlopendheid van daardie dimensie wat blykbaar net deur die maak van self en ander geken kan word?

Dit is hoekom ons met die middele en die tyd tot ons beskikking probeer om ’n aantal oorwegings, of selfs oortuigings, meer asemruimte te gee. Hieronder tel: digters of poësie verander nie die wêreld nie; dit is selde “hoofstroom”, en tog bepaal dit hoe ons onsself sien, ervaar en posisioneer teenoor of binne die groter siklusse van die geskiedenis en raamwerke van epistemologie en moraliteit.

Hoe leef jy met jouself saam in die gedig?

Wat is die raakruimtes tussen “plaaslik” en wat van elders kom?

En dan: ten minste sedert Auschwitz weet ons (weet ons dit regtig?) dat die pogings om sin of betekenis te skep deur gebruik te maak van rede in ons konfrontasie met die werklikheid, ’n verlore saak is. (Ek parafraseer Jean Améry hier.) Maar ons weet eweneens dat Améry – hy wat Auschwitz oorleef het – die grootste minagting gehad het vir die makers wat blind was vir die skoonheid en geregtigheid en goedheid van hierdie onvolmaakte wêreld in hulle eenogige soeke na ’n utopie of ideale vergestaltings. Dis tog slegs in die erkenning van teenstrydige aansprake dat jy aan die beweeg bly en dat jy rede aan die lewe kan hou. Miskien was dit alleen in die totale vernietiging van sy illusie (of gevoel) van iewers in hierdie wêreld tuis te wees dat Améry kon betoog dat dit nodig is om te aanvaar dat wanhoop en ’n gebrek aan harmonie altyd met ons sal wees. En – of dan maar – soos Améry in sy laaste boek (voor hy selfdood gepleeg het) argumenteer: “Die geloof in die mens as die bestaansrede vir die menslike laat sig nie vernietig deur konseptuele kontradiksies nie!”

Jy sien dus hoekom ons ’n baie ruwe kapstok vir die gesprekke probeer voorsien het – die interaksie tussen die etiese en verbeelding – met die gedagte dat ons gaste en ander deelnemers in alle vryheid en vrymoedigheid hulle hoede of kepse of pruike daar kan ophang om te praat oor wat hulle op die hart of in die vers het, en natuurlik ook om die gehoor kans te gee om in die gesprekruimtes te deel.

Om saam te vat: die ruimte wat ons probeer skep, is een waar die noodsaaklikheid van ’n diep etiese verbeelding en die omgang met en viering van die mees nederige dinge (klippe, doek, woorde, drome, lig, musiek) weer bevestig kan word – en waar dit verryk kan word deur die sienswyses en die ervaring van “reisigers” en “vreemdelinge” wat van ander windstreke na ons toe kom. En soos met die vertaling van poësie dink ons dat daardie ruimte (die produk) geskep gaan word deur die beweging van uitgewisselde gedagtes en beelde en verbeeldings. Ons verwag nie dat die teenstrydighede, soos tussen die inheemse en die universele, opgelos gaan word nie. Trouens, ons weet dat dubbelsinnighede en selfs duisternis nodig is – daarsonder is dit nie net ons empiriese werklikheid wat vervals word nie, maar ook ons drome.

Maar die ruimte (gesprekke, uitruil van gedagtes, vertalings, reise) het ook ander konnotasies. Een: dat wat ons gaan wys, nie gesê kan word nie. Twee (en dit is ’n etiese stellinginname): waar sommiges sterker is, behoort ons altyd aan die kant van die swakkeres te wees. Drie: dat niemand, en sekerlik nie die staat nie, vir ons (die digters) sal doen wat ons nie bereid is om self te doen nie, en dat dit selfs ’n soort verknegting is om te dink die staat of die regering behoort dit te doen. Ons dampwêreld en ons grond is die burgerlike maatskappy.

Francis Galloway

FG: “Ons dampwêreld en ons grond is die burgerlike maatskappy.” Jy het in By (Die Burger, 20 April 2013) ’n pleidooi gelewer dat literêre pryse liewer vervang moet word met andersoortige aanmoedigingsinisiatiewe, soos borge wat die voortbestaan van “moeiliker” werk kan verseker, veral deur verspreiding; ’n volhoubare kultuur en praktyk van verskillende soorte beurse en die ondersteuning van die skrywer se status op praktiese maniere. Hoe knoop jy die burgerlike maatskappy aan hierdie digtersfees?

BB: Die hoop met ’n geleentheid soos hierdie is ook om te wys dat Afrikaans ’n volwaardige plek kan inneem in watter geselskap ook al. En dat die besoekers kennis gaan neem van die plaaslikheid, die skoonheid, die diversiteit, die knellinge. En net so vanselfsprekend hoop mens dat die plaaslike digters en belangstellendes deeglik gebruik gaan maak van die geleentheid om kennis te neem van wat hierdie ou klomp dansers bring. En dat dit duidelik word dat steun vir die kunste uit die privaatsektor kom, van weldoeners; dat dit vir hulle die moeite en geld werd is om geassosieer te word met uitinge van (hopelik) uitnemendheid, kreatiwiteit, internasionalisme en gasvryheid.

Ek dink dis oral in die wêreld al hoe meer waar dat regerings en ideologieë, veiligheidstelsels – al word hoeveel mense nou ook gedroon – en selfs die groot pes van verbruikerswaansin en van jouself dieper in die gat van eensaamheid begrawe deur die histeriese geknetter van fysboek-kommunikasie – nie die noodsaaklike omgewing kan skep waarbinne burgerskap ten volle kan ontplooi nie. In Suid-Afrika is dit flagrant – waar 'n bevrydingsbeweging wat oënskynlik aangespoor is deur edelmoedigheid, sedert die bewindsoorname verraad van historiese afmetings pleeg, nie slegs teenoor die drome en regmatige verwagtinge van die volk nie, maar ook teenoor die voorvaders wat so baie opgeoffer het, én teenoor die komende generasies, wat desperaat dom gemaak word.

In Athene plant mense nou groentetuintjies in wat openbare gemeenskaplike ruimtes was, of op sypaadjies. Selfs in Brooklyn begin mense tuinbou op die dakke van die hoë geboue. Dis nie dat die geld makeer nie – die rykes word net ryker; dis eerder 'n totale ontkoppeling van die verhouding tussen produk en spekulasie (mens sou kon sê tussen “werklikheid” en die virtuele), en daarmee saam 'n selfsugtigheid en 'n straffeloosheid en onverskilligheid van die magtiges teenoor die bevolking. Daar is nie meer internasionale solidariteit nie. Die staat en die politieke strukture het alle geloofwaardigheid verbeur.

Maar dit is ook waar, veral in Afrika, dat seker meer as 70% van die ekonomie, basiese administrasie, opleiding, selfs gesondheidsdienste, “informeel” geword het. Dis die konteks waarbinne nuwe patrone van oorlewing en ontwikkeling geskep moet word. Aanspreeklikheid moet afgewentel word na 'n veel meer intieme vlak. Die genie van Europa, byvoorbeeld, was die konsep en geskiedenis van stadstate waarbinne funksionele strukture en gebruike kon gedy. Direkte en deelnemende demokrasie, dus.

Die privaatsektor kan help. In die Wes-Kaap word kuns en kultuur aan die gang gehou deur ondersteuning van die privaatsektor. Maar die sleutel is in die hande van burgerlike organisasies, al is hulle ook dikwels sektoraal en korporatisties toegespits op één aangeleentheid of op die belange van hulle lede. Want "burgerlike samelewing" is tog eintlik dit: gewone mense, kerke en vakbonde en genootskappe en verenigings. Ons moet ontslae raak van die afhanklikheidsindroom teenoor staat en geskiedenis, én daardie universitêre instellings wat maar net verlengings van die Party aan bewind of die sakesektor is. Ons moet ons eie potjies kan krap. (En die politici en die selfgenererende elite en selfverklaarde “kaders” met 'n paplepel wegboender van ons potte.) Ons heil lê in alliansies met ander burgerlike organisasies om 'n maksimum selfstandigheid te bewerkstellig. Natuurlik is dit gevaarlik om afhanklik te wees van vermoënde borge, is die lepelsteel dalk nie lank genoeg nie – want wat sou dit help om die een monopolie met 'n ander te vervang, al is dié minder hegemonisties? Maar indien die gewers heldersiende en helderdenkend genoeg is, en boweal nie bang is vir omvorming en radikale bevraagtekening nie – waarom nié?

Vanselfsprekend is die bedoeling geensins om die Dansende Digtersfees te versin as platform vir aktivisme nie. Die bevraagtekening is wel implisiet. As die ruimte, seker ook onvoorspelbaar, ons help om tot 'n helderder stelling van die implikasies te kom, ons miskien help om duideliker te sien waar ons hoort en wat ons kan doen met die werktuie en werkmetodes wat eie is aan ons nering – is dit reeds veel.

FG: Jou terugvoering bied ryk stof tot nadenke en skep ’n raamwerk vir hierdie byeenkoms. Mag die “Dancing in Other Words”-digtersfeesfees die beweging en die oopmaak van ruimtes wat aan die gang gesit is met die destydse Poësie-karavaan, verder voer. Soos jy dit stel in die essay waarna ek hier bo verwys het: “For ideally, a space is not a refuge or a sanctuary, but a place of metamorphosis.”

BB: Enfin: enkele aanhalings wat ek in gedagte gaan probeer hou tydens die komende weke – en dis juis die verskuiwings en die spel tussen fokus en verdwyning wat my fassineer. Dit kom uit “Wen fu”, geskryf deur Lu Chi in die tweede eeu van ons moderne era en vertaal as “The Art of Writing” deur Sam Hamill: “Shadowy thoughts are brought/ into the light of reason;/ echoes are traced to their sources.” (Is dit dan nie wat ons probeer doen deur vertaling nie?) Maar verder: “Things move into shadows and vanish;/ memory returns in an echo.” (Is dit dan nie die penarie waarvoor ons te staan kom wanneer ons probeer vertaal nie?) Daarom: “Shadows cannot be held; echoes cannot be harnessed.”

 

Lees nog: Groot stemme in gesprek by Spier tydens digtersfees
Dancing in Other Words Programme Announcement

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top