
Foto van Francis Galloway: verskaf
- Breyten Breytenbach: 16 September 1939 – 24 November 2024
Dit is vir my baie moeilik om hierdie herinnering-en-huldiging-teks te skryf. Die ontwikkeling van my denke (en my professionele loopbaan) is ten nouste met Breyten Breytenbach verstrengel sedert ’n eksentrieke dosent aan die Universiteit van die Vrystaat in 1969 die bundel Die ysterkoei moet sweet vir my geleen het en die lees daarvan ’n totale aanslag op my gemoedelike lokale bestaan gemaak het. Hier gaan ek egter nie verder in op my persoonlike reis met Breyten nie.
Wat volg, is ’n poging om ’n oorsig te bied van Breyten se openbare loopbaan wat oor 60 jaar strek, sonder om in besonderhede te verval en daarom soms die noodsaak van opstapeling / lysies van voorbeelde. Die klem val op sy toegewydheid aan bepaalde ideale en die “dans met die volk”.
Breyten Breytenbach (ook skrywend as Bangai Bird, BB Lasarus, Buffalo Bill, Panus, Don Espejuelo, Jan Afrika, ens) was (is vir sommige nog steeds) ’n doring in die vlees van die plaaslike politieke en kuns-establishments en jan-en-san-alleman met geen diepgaande agtergrondkennis nie (soos steeds gesien kan word in kommentaar onderaan berigte oor sy afsterwe); enfant terrible wat weier om hom te laat hokslaan; Zen-Boeddhis wat hallejulaliedjies aan woordsnoere ryg; terroris en/of vryheidsvegter; briljante literêre vernuwer en invloedryke Afrikaanse digter/skrywer; volksvreemde surrealistiese skilder; politieke denker; intellektueel op wêreldverhoë; verkenner van begrippe soos self en ander, identiteit, taal, herinnering, swerf, omskepping en verantwoordelikheid, en saam-mekaar-anders-maak.
Die buitelyne van sy persoonlike lewe is welbekend: 16 September 1939 gebore in Bonnievale in die hart van ’n Afrikanerfamilie en grootwordjare in die Boland; kortstondige studie aan die Michaelis-kunsskool van die Universiteit van Kaapstad; die roepstem van die vreemde wat lei tot ’n swerwersbestaan en vestiging in Parys, Frankryk, waar hy in 1962 trou met sy “goue lotus” van Viëtnamese afkoms, Ngo Thi Huậng Liên Yolande Bubi; sy dubbele debuut in 1964 by Perskor met die digbundel Die ysterkoei moet sweet en die bundel korttekste Katastrofe wat hom onmiddellik in die kalklig plaas. Die weiering van ’n visum aan sy vrou om saam met hom na sy geboorteland te kom om die APB-prys vir sy debuut te ontvang, was vir hom ’n ontnugterende gebeurtenis wat tot selfballingskap en die radikalisering van sy denke gelei het. Reeds van heel vroeg in sy kunstenaarsloopbaan vervloei die grense tussen menswees en digterskap, tussen privaat en openbaar, en word sy persoonlike geskiedenis intiem met die geskiedenis van Suid-Afrika verweef.

Foto: Naomi Bruwer
Breyten se poësie verteenwoordig tegnies en tematies ’n radikale verskuiwing in die argeologie van die (Suid-) Afrikaanse literêre landskap. Lesers se verwagtingshorison word radikaal verskuif deur die oënskynlik losbandige vryevers, die knooppunte met die Zen-Boeddhisme en die surrealisme, die outobiografiese en lyflike aanwesigheid van die digter in sy verse, die speelse en fantasmagoriese en paradoksale, die oorweldigende ryk struktuur van beelde en metafore, die beheersing en vermenging van taalregisters, die onstuitbare proses van transformasie wat voltrek word.
............
Breyten se poësie verteenwoordig tegnies en tematies ’n radikale verskuiwing in die argeologie van die (Suid-) Afrikaanse literêre landskap. Lesers se verwagtingshorison word radikaal verskuif deur die oënskynlik losbandige vryevers, die knooppunte met die Zen-Boeddhisme en die surrealisme, die outobiografiese en lyflike aanwesigheid van die digter in sy verse, die speelse en fantasmagoriese en paradoksale, die oorweldigende ryk struktuur van beelde en metafore, die beheersing en vermenging van taalregisters, die onstuitbare proses van transformasie wat voltrek word.
..............
Sy (meertalige) oeuvre sluit in: poësie, kortprosa, ’n roman, verhoogstukke, reis- en verblyfjoernale, politieke en kunsfilosofiese besinnings en getoonsette verse. Sy oeuvre en denke word intens bestudeer, soos blyk uit ’n bibliografiese opname van boeke en hoofstukke in boeke, verhandelinge en proefskrifte, asook artikels in vak- en literêre tydskrifte. Hy word herhaaldelik, dikwels polemies, bekroon – onder andere met die CNA-prys (vier maal), die Rapport-prys, die Alan Paton-prys, die Helgaardt Steyn-prys, die WA Hofmeyr-prys, die UJ-prys, en twee maal met die kroonjuweel van die Afrikaanse literêre establishment, die Hertzogprys. Laasgenoemde prys is in die 1960’s en 1970’s om ideologiese redes van hom weerhou, en in 1984 het hy dit van die hand gewys.
Breyten se skildersloopbaan verdien indringende toeligting wat nie hier aangebied kan word nie.
*
In die tien jaar na die visumdebakel ontwikkel Breyten tot grondlegger van ’n kontesterende kunsopvatting en welsprekende uitdager van die apartheidstaat. Sy openbare uitsprake op plaaslike (tydens die 1973-Sestigersomerskool aan die Universiteit van Kaapstad) en internasionale verhoë, asook in die Nederlandse media (soos in die plaaslike koerante opgedis), haal hom die gramskap van die Afrikaanse pers, die publiek en selfs medeskrywers op die hals.
Hy raak betrokke by die buitelandse anti-apartheidorganisasies Atlas en Okhela en word in 1975 in hegtenis geneem tydens ’n “ondergrondse” besoek aan Suid-Afrika; summier verhoor kragtens die Wet op die Onderdrukking van Terrorisme en tot nege jaar tronkstraf gevonnis, waarvan hy die eerste twee in alleenopsluiting in Pretoria Sentraal deurbring. Na ’n tweede verhoor (wat ander lig op die eerste verhoor werp) word hy na Pollsmoor in Kaapstad oorgeplaas. Die verhore vind plaas in ’n klimaat van, aan die een kant, toenemende swart verset teen die apartheidstaat en die aggressiewe onderdrukking van dissidensie en, aan die ander kant, toenemende introspeksie aan die kant van Afrikaner-intellektuele. Die gebeure rondom die verhore dra grootliks by tot die skipbreuk van “betrokkenheid” en “lojale verset” in die openbare diskoers en tot die opkoms van nuwe literatuuropvattings wat op radikaler wyse rekenskap gee van die verband tussen “teks” en “werklikheid”.
Breyten se vonnis word na sewe jaar, aan die vooraand van die sogenaamde Nuwe Bedeling, opgeskort, en hy keer vroeg in Desember 1982 terug na Frankryk, waar sy huis en sy vrou is en hy ook Franse burgerskap verwerf wat hom die geleentheid bied om internasionaal te reis en homself te posisioneer.
In die era na sy vrylating groei sy internasionale statuur as skrywer en kultuurfiguur in Europa en die VSA: grootskaalse vertaling en publikasie van sy skryfwerk, lesings voor uitgelese gehore, deelname aan internasionale skrywersverrigtinge soos Poetry International in Rotterdam en digtersfeeste, lidmaatskap van die Wêreldparlement vir Skrywers, en die aanbied van kursusse in skeppende skryfwerk aan Amerikaanse universiteite. Breyten se internasionale uitgeegeskiedenis, optredes en statuur word nie hier toegelig nie. Enkele eerbewyse sluit in: die Franse Prix littéraire des droits de l’Homme (1984), die Chevalier de l’Odre des Arts et Lettres (1985) en die Max Jacob-prys (2010); ’n eredoktorsgraad deur die Universiteit Gent (2014); die internasionale Zbigniew Herbert-letterkundetoekenning (2017). Die Nobelprys vir letterkunde, wat hy volgens verskeie ingeligte lesers reeds dekades lank waardig was, het hom egter ontwyk.
*
Na sy vrylating word die poësiemanuskripte wat hy tydens sy gevangeskap ontwikkel het, asook sy “tronk-memoires” True confessions of an albino terrorist, uitgegee deur die onafhanklike anti-establishment uitgewery Taurus, wat ná die verbod op André P Brink se Kennis van die aand opgerig is, en hy vind daar ’n ware “uitgewershuis” tot in die vroeë 1990’s. Breyten se plaaslike uitgeegeskiedenis is ’n rondomtalierit wat elders deur my ondersoek is.
Breyten deins nie terug daarvan om kritiek uit te spreek teen die PW Botha-era nie, soos tydens die ontvangs van die Rapport-prys in 1986. Hy bemoei hom wel nie meer, soos in die voortronkfase, met ondergrondse politieke bedrywighede nie, maar is mede-inisieerder van ’n andersoortige “ondergrondse aksie”, naamlik die reël van ’n geheime ontmoeting tussen lede van die verbode ANC en ’n groep progressiewe Suid-Afrikaanse meningsvormers in Dakar in Julie 1987 – met die gemene deler die beywering vir die skep van ’n verenigde, demokratiese en nierassige Suid-Afrika. Hy neem ook deel aan ander onderhandelingsinisiatiewe, soos die Victoria-waterval-beraad met skrywers in 1989. Hy glo dat hy as skrywer ’n bepaalde verantwoordelikheid het, naamlik om ’n bydrae te lewer tot ’n regverdiger gemeenskap en die totstandkoming van ’n nuwe Suid-Afrikaanse kulturele identiteit. Daarom neem hy deel aan die eerste inklusiewe skrywerskongres wat die koerant The New Nation en die Congress of South African Writers (Cosaw) reël (Desember 1991), asook die Winterskool van Wits, "Afrikaans uit die doofpot" (Julie 1993). In die 1990’s bring dialoog wel staatkundige verandering tot stand, en dit loop in 1994 uit op die eerste vrye algemene verkiesing (waaraan Breyten met vreugde deelneem) en die inhuldiging van Nelson Mandela as president.
*
Nuwe platforms en moontlikhede ontstaan vir Breyten in die “Nuwe Suid-Afrika” en hy omarm dit omdat hy meen dat hy daardeur ’n bydrae tot ware vernuwing en andersmaak kan lewer. Slegs enkeles hiervan word gelys: sy eerste plaaslike kunsuitstalling (1994) en ander daarna; deelname aan die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) met onder andere die opgevoerde dramas Boklied (1998) en Die toneelstuk (2001); mede-inisieerder van die eerste rondreis van Nederlandse en Vlaamse skrywers in die land (1996); medestigter van die Centre for Creative Arts aan die Universiteit van Natal in Durban, en die van stapel stuur van die poësiefees Poetry Africa (1997); deelname aan die Nasionale Kunstefees op Grahamstad met die multimediaproduksie The life and times of Johnny Cockroach (1999); aanstelling as gasprofessor aan die Universiteit Kaapstad se Nagraadse Skool vir Geesteswetenskappe (2000 tot 2002). Hy neem deel aan nuwe podiums vir die Afrikaanse taal en kultuur: naas die KKNK ook die Oorlegplatform vir Afrikaans, Groep 63, kykNET (met die aanbieding van sy en Ampie Coetzee se program oor digters en digkuns) en LitNet.
Sy beroep op Afrikaanssprekendes om na hulle kulturele en sosiale regte om te sien, sorg vir nuwe etikette om sy nek. Hy word óf omarm as nuwe “kampvegter” vir die taal en minderheidsregte óf afgestoot as “nuwe regse” wat vasskop teen nasiebou, regstellende aksie, die Waarheid-en-versoeningskommissie, die verlies van Afrikaans se bevoorregting, asook die soort hervorming waarna hy so reikhalsend uitgesien het. Ek het die sikliese ritme waarop die “volk” en Breyten mekaar omarm en afstoot binne sisteemverskuiwings, elders toegelig.
Na ’n kwetsende ope-brief-aanval op sy LitNet-Skrywersberaad-bydrae (2000) en negatiewe reaksies op en polemieke rondom sy kunsuitstallings en feesbydraes (insluitende die openbare verbranding in die “volkstemming” van Die Burger) word Breyten se stem stil in openbare gesprekke. Hy stuur vanaf Augustus 2002 ’n aantal nuwe verse elektronies aan vriende, maar ook dit ontaard in ’n nuwe herrie in die Afrikaanse pers en hy onttrek hom van die plaaslike toneel. Die bundel Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte 1964–1975 is in 2001 deur Human & Rousseau uitgegee (sy uitgewery sedert 1994), en sy plaaslike publikasieprogram sou eers weer ’n paar jaar later hervat word. Breyten se fokus verskuif nou na die buitelandse projekte waarby hy betrokke is, soos aan New York Universiteit en die Goreé-instituut (waarvan hy van 2002 tot 2010 die uitvoerende direkteur is).
*
In September 2005 keer Breyten egter terug in die plaaslike openbare ruimte toe hy (teësinnig) inwillig om medeondertekenaar saam met Frederik Van Zyl Slabbert en Hermann Giliomee van ’n ope brief in Die Burger te wees. Daarin lewer hulle kritiek op die verreikende besluit van die Universiteit Stellenbosch om vanaf 2006 in alle kursusse in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte die sogenaamde tweetalige of T-opsie (dubbelmedium) te gebruik, in teenstelling met parallelmedium, waar Afrikaans en Engels in afsonderlike klasse as voertale aangewend word. Hierdie brief is die impetus vir ’n uitgebreide debat oor die US-taalkwessie.
Weer eens is Breyten in die oog van ’n openbare (taal)storm waaroor hy hom op verskillende platforms uitspreek. Voorbeelde daarvan is ’n artikel in Die Burger (18 Maart 2006) met nege genommerde stellings oor Afrikaans; ’n onderhoud op Talk Radio 702 (24 Maart 2010) waar hy die stelling maak dat “Afrikaans [in sy tyd] gaan uitsterf” weens die inkrimping aan amptelike status en die uitfasering daarvan aan universiteite (en die uitwerking daarvan op skoolonderrig) en op ander terreine; sy uitdagende toespraak as geleentheidspreker tydens die US-konvokasievergadering (26 Januarie 2016); ’n ope brief op LitNet (11 April 2016) gerig aan die rektor van US oor ’n nuwe konseptaalbeleid; die stigting van Gelyke Kanse (12 April 2016) as drukgroep vir die behoud van en spesifiek ’n gelyke kans van Afrikaans met Engels op US en wat selfs (onsuksesvolle) hofsake daaroor aanhangig maak. Die geleentheidspreker van die US-konvokasie se 2018-jaarvergadering vat vir Breyten aan omdat hy sogenaamd “geskuif” het van sy eertydse inspirerende opvattings oor Afrikaans tydens die apartheidsera na sy huidige standpunt oor Afrikaans (aan die US). Breyten reageer daarop in ’n skrywe op LitNet (19 November 2018), en daarmee buig hy hom uit die openbare gesprek oor die taalkwessie by die US.
Hy bly wel betrokke by ander inisiatiewe en kwessies, soos die voorgestelde Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting (die “muilbandwet”); die debat rondom die instelling van ’n “nasionale boekeredakteur en dus die inperking van diversiteit in opinies; en die stigting van PEN Afrikaans (2012). Breyten word self direk geraak deur aksies van sensuur, soos die verwydering van kunswerke tydens die #RhodesMustFall-beweging en protesaksie op die kampus van die Universiteit Kaapstad waar ook van sy skilderye in die slag bly.
Ander plaaslike optredes en inisiatiewe waaraan hy deelneem (en dus “aanhou beweeg en geraas maak”), sluit die volgende in: sy 2008-openingstoespraak tydens die 11de Time of the Writer-fees (die opvolger van die eertydse Poetry Africa); ’n ope brief aan Mandela in die Amerikaanse Harper’s Magazine (Desember 2008) wat plaaslike reaksie ontlok; die uitreiking van ’n ope brief saam met ander ondertekenaars na die selfdood van die joernalis Chris Louw (wat hom sterk uitgespreek het teen toenemende geweld in die land); ’n volbladbydrae in Rapport Weekliks (22 September 2013) getitel “Die reënboog is ’n spieël aan skerwe” waarin hy ’n pleidooi lewer vir gesprekke rondom ’n opnuut geformuleerde Suid-Afrika; ’n toespraak by die Universiteit van die Vrystaat (2 Maart 2013). Tydens laasgenoemde lees hy voor uit ’n tweetalige brief aan sy dogter waarin hy ’n gesprek met haar (en sy jong gehoor) voer oor die toestand van die wêreld en die “menslike penarie” dat as ons nie “bewustelik daardie weg inslaan van inklusiewe verbeelding en versinnebeelding nie, as ons onsself nie méér inklusief en eties kan bedink as wat ons in feite is nie [...] ons vir seker die barbaarsheid wat ons nou belewe sal moet voortsit”.
Op 2 Maart 2015 lewer hy die hoofrede tydens ’n huldigingsgeleentheid vir André P Brink na Brink se afsterwe. Hy open in Oktober 2016 die kongres getiteld “African and diasporan African literature: imagining, modernities and visions” by die Universiteit van Pretoria. Hierin verwerp hy ’n vereenvoudigde opvatting van (Suid-) Afrika as ’n gewaande “geheel”. Volgens hom behoort die diversiteit van ervarings, van verskillende uitdrukkings van bewussyn, van hibriede kultuurprodukte gevier te word. In Junie 2017 neem hy op die Spier-landgoed deel aan die reüniedinee en seminaar met drie gespreksessies ter herdenking van die eertydse Dakar-beraad 30 jaar tevore in Senegal. Al is kontensieuse onderwerpe tydens die eerste twee sessies aangeroer, ontaard die sessie oor sosiokulturele aangeleenthede soos versoening en samehorigheid (waaraan Breyten deelneem) in ’n vuurwarm debat en word hy deur sommige van die eertydse Dakar-gangers aangevat. Die byeenkoms eindig ongedurig en Breyten verskyn hierna nie weer op ’n plaaslike meningsplatform nie.
Op 26 Februarie 2007 word die Grevilleas-ouerhuis van Breyten en sy sibbes op Wellington feestelik ingewy as die Breytenbach Sentrum. In September 2012 word die Tuin van Digters-fees die eerste keer by die sentrum aangebied – dit vind gewoonlik plaas in die naweek die naaste aan 16 September, Breyten se verjaardag. Die sentrum en die fees bied gereeld geleenthede aan waarby ook Breyten betrokke is: bekendstellings van sy publikasies, kunsuitstallings (die laaste getiteld “Skeursels” in 2021), gesprekke (soos die eerste Filosofiekafee in Maart 2022), en geleentheidsvierings (sy 75ste verjaardag in 2014 en sy 80ste in 2019). Sy laaste teenwoordigheid by die fees is in 2023 met deelname aan ’n groepuitstalling en ’n voorleessessie saam met Dominique Botha (ontvanger van die Ingrid Jonker-prys) en Rian Malan.
Breyten het ’n aandeel gehad in die daarstelling van nog ’n internasionale digtersfees op eie bodem (naas Poetry Africa), naamlik Dancing in other words / Dansende digtersfees as gesamentlike projek van die Spier-landgoed en die Pirogue Kollektief, een van die inisiatiewe van die Goreé-instituut. Hierdie uitsonderlike fees vind in 2013, 2014 en 2016 plaas.
Sy eerste plaaslike boekpublikasie sedert 2001 by H&R is die tweede versamelbundel Die ongedanste dans. Gevangenisgedigte (1975–1983) (2005). Hierna volg ’n bloeitydperk in die laatfase van sy uitgeegeskiedenis met die volgende titels: Die windvanger (2007), A veil of footsteps (2008), Oorblyfsel / Voice over (in gesprek met Magmoed Darwiesj) (2009), die 19de digbundel, Die beginsel van stof (2011), Katalekte (2011), Vyf-en-veertig skemeraandgesange uit die eenbeendanser se werkruimte (2014), die derde versamelbundel, Die singende hand (met 11 bundels wat tussen 1984 en 2014 uitgereik is) (2016), die na-dood (2016), die 26ste digbundel, Op weg na kû, asook die bloemlesing liefdesgedigte Rooiborsduif (2019). In 2015 gee Penguin ’n tweetalige keur van sy toesprake / openbare uitsprake, getitel Parool/Parole, uit. In 2021 verskyn daar ’n klein bundel (met ’n oplaag van 100 eksemplare), getitel Hokhokaai. Fragmente, uitgegee deur die onafhanklike uitgewersinisiatief HOND BK.
*
Twee besonderse erkennings van sy (internasionale) statuur as skeppende kunstenaar en openbare figuur val Breyten in hierdie laattyd te beurt. Tydens die sesde Afrikaans-kollokwium van die Universiteit van Gent word daar op sy literêre oeuvre gefokus en lewer hy die jaarlikse Mandela-lesing aldaar (Oktober 2019). Op 6 Desember 2023 word hy deur die Stad Kaapstad erken met die “Cape Town Civic Honours recognising the contributions of some truly remarkable people”.
Persoonlike verliese bly egter nie uit nie.
Op 17 Junie 2019 vind daar op Spier ’n herinneringsdiens plaas vir Breyten se fotograafbroer Cloete, wat op 31 Mei na ’n hartoperasie oorlede is, en hiertydens lewer Breyten ’n hartseer en roerende huldeblyk.
Sy groot “broervriend” Ampie Coetzee sterf op 15 Oktober 2020 en Breyten kan tydens die hoogtyd van die Covid-pandemie die huldigingsgeleentheid by die Breytenbach Sentrum slegs virtueel meemaak.
Sy enigste suster, Rachel, sterf op 23 Mei 2023. In persoonlike korrespondensie vertel hy hoedat hy daardie oggend op die stoep van hul huis in Katalonië gesit en dink het nog voor hy die nuus ontvang het: “nie nodig om desperaat te probeer vashou, onthou, besit nie; niks wat is gaan immers ooit verlore nie. ook nie jy nie. ook nie wat ons ‘lewe’ noem nie. léwe die lewe!”
Op 16 Junie 2024 sterf sy oudste broer, kolonel Jan Breytenbach. Teen daardie tyd is Breyten self te siek om vir die begrafnis na Suid-Afrika te reis.
Na maande se versigtige en eerbiedwaardige bekommernis van vriende kom die boodskap in die “uur van die idiote” op 24 November 2024: Breyten het rustig oorgestap na die groot anderkant.
Ek sluit af met die boodskap wat hy op 18 April 2019 aan my gestuur het toe ek per e-pos met hom geskakel het oor sy loopbaan as skrywer en openbare figuur vir die huldigingsbundel Woordenaar woordnar:
Dis seker goed dat ons gebeure en omwentelinge en geskiedenisse probeer byhou. Op voorwaarde natuurlik dat dit ook tekenend of verwysend sou kon wees na ’n tydvak wat deur baie mense gedeel is en waarin hulle hulself sou herken, al is dit ook net gedeeltelik. Al hierdie drade is verstrengel met die drade van ander mense, ander drome, dalk ander verwagtings en sekerlik ander stryde. Agteraf gesien gaan dit gou verby. Waarmee – of waaraan – sal ons ons troos? (Die ou onopgeloste vraag waarmee die mensdom sukkel.)
Ek troos my aan die pad wat ek met hierdie digter-denker kon stap en die vistas wat hy vir my geopen het.
Francis Galloway
27 November 2024
Lees ook:
Francis Galloway gesels met Breyten Breytenbach oor die Dansende Digters Fees
Die Sestiger-somerskool, Universiteit van Kaapstad: Die "bont begrafnis"
Francis Galloway se teks oor Breyten Breytenbach vir die publiek beskikbaar
Persverklaring: Huldeblyk aan Breyten Breytenbach, ’n pionier in Afrikaanse Letterkunde
Kommentaar
In sy are het die bloed gepomp van ons voorvaders wat oor die eeue die stryd van oorheersing in al sy vorme beveg het. Ons die agterblywendes eer daardie bloed.
Baie dankie vir hierdie lieflike huldigingsartikel, Francis! In die besonder dankie vir jou aanhaling van Breyten se woorde (in afwagting van sy suster se afsterwe in 2023): “nie nodig om desperaat te probeer vashou, onthou, besit nie; niks wat is gaan immers ooit verlore nie. ook nie jy nie. ook nie wat ons ‘lewe’ noem nie. léwe die lewe!”
Dankie, Francis, vir jou merkwaardig volledige en ingeligte skrywe oor een van ons wêreld se Grotes. Wat 'n voorrreg om so naby hom te kon leef. Maar hy was ook bevoorreg om jou as vriend en medewerker te kon hê.