Herinneringe aan my oom Breyten
Een
My ma, Rachel (Rachel Breytenbach, Breyten se suster), het altyd geskerts oor my sogenoemde “bad timing” met my geboorte in 1978. Nie net het ek besluit om twee dae voor Kersdag my verskyning te maak nie, maar my ouers se huwelik was aan flarde en my ma het nog diep getreur oor haar moeder, Ounooi. My ouma se arme hart was gebreek. Hoe kon ons eie mense haar seun so nodeloos in die tronk stop? ’n Skamele agt maande voor my geboorte woon sy haar vriendin en buurvrou se begrafnis by. En net daar, langs die graf, kry sy ’n hartaanval en sterf. Breyten mog nie sy ma se begrafnis bywoon nie.
Ek was nog baie klein toe ek my oom Breyten vir die eerste keer gesien het. Elke somer het ons gekuier by vriende in die Kaap. My ma het my vroeg die oggend wakker gemaak, verskriklik op haar senuwees. Sy was klaar aangetrek in ’n sagte bloes met ’n bypassende romp bedek met klein blommetjies van malvapers. Ons ry na ’n lelike plek met baie hekke en beton. Ek word sit gemaak in ’n wagkamer, maar kan sien hoe my ma na ’n ander kamer langsaan beweeg.
Daar is Breyten. Hy sit in ’n klein vierkantige kamer agter ’n dik laag glas. Niemand kan hom hoor nie. Hy lyk verskriklik alleen. Hy wil nie na my kyk nie. My ma het ’n bos blomme vir hom gebring. Ek verstaan nie hoekom hy so eenkant moes wees nie.
Jare later lees ek wat my ma geskryf het oor daardie verskriklike tronkjare. Sy en my oupa het spesiale toestemming gekry om ’n bonsai vir Breyten te gee sodat hy die seisoene kon sien verander. Sy skryf: “Uiteindelik arriveer ons by die regte gang en die regte deur. Ek gaan binne en gaan sit voor die man agter sy lessenaar. Skielik skreeu hy op my: ‘Wie dink jy is jy, om hier op te daag met ’n bonsaiboompie? Wil jy dit vir jou broer gee? Weet jy dan nie dit is teen die reëls nie? Maak dat jy wegkom en neem jou boompie saam.’”
Ek was by my pa die dag toe Breyten vrygelaat is. Die veiligheidspolisie het my ma laat die vorige aand (1 Desember 1982) gebel en aangedui sy moet by die huis wees die volgende oggend. Sy het vinnig ’n rolstoel gereël vir my oupa, wat gedeeltelik verlam was van beroerte, om ook daar te wees. Maar sy kon dit nie oor haar hart kry om enige beloftes te maak nie. Hulle sê altyd een ding en doen ’n ander. Maar hierdie keer was dit waar. Nie lank daarna nie kom kuier my oom Basjan, en hierdie foto word in ons tuin geneem.

Agter, van links: Rachel Breytenbach (Breyten se suster), Sebastiaan (Basjan) (een van Breyten se broers) en Yolande. Voor: Hans (Oubaas) (Breyten se pa) en Breyten. Foto: Breytenbach-familie
Twee
Toe ek nege was, gaan ons op ’n vakansie wat my lewe verander het. Ek trippel rond in Parys in my pers leg warmers en eet Quiche Lorraine en drink warm sjokolade uit ’n masjien. By Versailles stap ons deur die enorme salon van spieëls en ek voel soos ’n prinses.

Yolande, Breyten en Rachel Breytenbach (Breyten se suster) in die sneeu, Parys. Foto: Breytenbach-familie

Yolande en Breyten naby die Jan en Jorie-getypoel, Vermont (Oktober 2023). Foto: Leon Breytenbach
Ons bly in Breyten en Yolande se woonstel in die Latynse Kwartier. Daar is nie genoeg plek vir ons almal nie, dus vertoef Breyten in sy ateljee. Hy wys ons sy kuns en sy nuutste bundel, Endpapers.
Na aandete maak Yolande ’n pot geurige, effens bitter tee wat ons uit Chinese bekertjies drink. Sy bedien blokke donker sjokolade daarby. Dis die eerste keer dat ek dit proe en ek is dadelik versot daarop. Breyten terg my en sê hy gaan my stukkie sjokolade vir homself vat. Toe vra hy: “Wat wil jy wees wanneer jy groot is?”
“Ek wil my eie huis hê,” antwoord ek. “En ek wil ’n skrywer word en ek wil Ierland toe gaan om die feetjies te teken.” Die skrywer Jack Cope het my vertel dat in Ierland mense nog in feetjies glo.
“Maar moet jy nie eers ’n man kry voordat jy ’n huis het nie?”
Ek skud my kop – ek het nog nie eintlik die woorde om nie met hom saam te stem nie.
Ons neem die nagtrein na Spanje. Wat ’n droom. Die groot ou kliphuis met ’n wilde tuin. Kronkelende lanings met granate wat van die heinings hang. My ma koop vir my ’n miniatuur-porseleinteestel in die dorpsmark. In die stilte van die oggendure sit Breyten voor die enorme ou vuurherd in die kombuis en skryf in sy notaboekie, elke woord netjies en perfek gevorm. Hul buurman, Vicente, roep ons oor die heining om by hom te kom eet. Hy sny vir ons dik skywe van ’n ronde brood vasgeknyp onder een arm. Die skywe word op ’n oop vuur gerooster, met ’n ryp tamatie gevryf en met olyfolie bedruip. Toe eet ons geroosterde sardientjies, dieselfde oggend nog uit die see gevis. En toe paella. Ek moet keer dat Vicente wyn in my waterglas skink. Dit was onvergeetlik: die beste maaltyd van my lewe.

Yolande in Simonstad in 1991 by Suzanne en Revel Fox se huis. Dit was die eerste keer dat sy en Breyten na Suid-Afrika teruggekeer het sedert Breyten se vrylating, en, volgens Yolande, die eerste keer dat almal weer saam kon wees; hulle het hulself net geniet. Foto verskaf deur Yolande Breytenbach.

Breyten in Simonstad in 1991 by Suzanne en Revel Fox se huis. Foto verskaf deur Yolande Breytenbach.
Een middag, terwyl die grootmense rus, speel ek in die tuin met my teestel. Skielik bars twee vreesaanjaende honde uit die ruigte, blaf kliphard en pyl reg op my af. Ek is vreesbevange, vasgenael van die skok. Skielik hoor ek ’n gebulder van bo. Dis Breyten. Hy hang uit die eerste verdieping se venster met ’n kaal bolyf, sy pyp nog in sy hand. Die honde skrik hulle boeglam en trek terug.
Na daardie vakansie gee hy aan ons hierdie litograaf: “Aan Rachie en Anna-Kriek”. Dus was my geliefde (en enigste) noemnaam gebore.
Drie
Ek dink ek was 13 of so toe ons die nuus kry dat Breyten gaan kom kuier by ons huis in Makhanda (voorheen Grahamstad). Hierdie keer sonder Yolande, want hy is op reis met ’n joernalis van die New Yorker.
Lawrence Weschler was ’n elegante, intelligente Joodse man. Hy het sulke lang Italiaanse-leer-stewels gedra en ’n skilpaddopbril. My ma was baie beïndruk, want ons het verneem hy was in ’n verhouding met een van die dansers van die film Flashdance!
In ons kombuis vra Larry my ma uit oor toe Breyten vrygelaat is. En toe draai hy om en vra my wat ek onthou. Ek vertel van die dag met die bos blomme en probeer my verwarring artikuleer. “I thought he wanted to be alone …” Tot almal se verbasing is ek in die artikel aangehaal. Al kan Larry nie Afrikaans verstaan nie, lees ek hardop die gedig “Die brandende amandelboom”, wat begin: “en skielik word dit aand …” uit Breyten se tweede bundel, Die huis van de dowe (1967). Ek het dit geken van die teks wat hy geskilder het vir die ’n buiteblad van ’n katalogus vir een van sy uitstallings.
Vier
Ek kuier by my pa, Quentin, op die plaas. Onder die boerboonboom sit ons terwyl hy Rilke resiteer, eers in Duits en dan sy eie vertalings na Afrikaans. Ons maak my gunstelingbundel van Breyten oop: nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde – toe pas uitgegee deur Breyten se uitgewer Daantjie Saayman se dogter Sandra. Ons lees saam hardop en verwonder ons aan sy magiese manier van woordspel. Hoe soms in één woord tot vier verskillende poëtiese betekenisse gevind kan word. Soos hy sê: “Taal is die spieël waarin jou asem ’n herkenbare gesig kry.”

’n Merkwaardige uittog na die Sederberge in die 1970’s. Van links: James Polley, Quentin Otto, Yolande en Breyten. Foto: Justin Fox
Vyf
Dis my verjaarsdag en ons kuier op my geboortedorp, Stellenbosch, op ’n witwarm somersdag. Ek en my ma gaan na ons geliefde D’Ouwe Werf met die mooi binnehof waar ek ’n sny sjokoladekoek bestel. Breyten kom effens laat daar aan, geïrriteerd – hy het gesukkel om te parkeer. Hy probeer koffie bestel, maar die kelnerin sê sy gaan van diens af so sy gaan iemand anders stuur om ons bestelling te neem. Breyten vererg hom so hieroor hy staan sommer op om te loop; ons word oorreed om ons bestelling te kanselleer. Ons ry ver in die hitte in sy ou Mercedes. Ek is diep teleurgesteld dat ek niks lekker kon eet op my verjaarsdag nie. Uiteindelik parkeer ons onder groot plataanbome en ’n kunstenaarsvriend van Breyten kom uit om ons te groet. Ek is uitgeput en raak aan die slaap op ’n ou bank in sy ateljee terwyl die grootmense gesels. Later vertel my ma die kunstenaar was William Kentridge. Hy het sy heel nuutste werk vir hulle gewys: houtskooltekeninge omskep in animasie.
Ses
Ek is 16 jaar oud en ek en my ma woon nou in ’n groot Victoriaanse huis wat effens uit mekaar uit val. Die boonste verdieping word uitverhuur aan kunsstudente – eintlik ’n soort boheemse weergawe van Ounooi se bôrdienghuis. ’n Filmspan sak op ons toe – hulle is besig om ’n dokumentêr oor Breyten te maak: A season in paradise, vervaardig deur Richard Dindo. Dit was omtrént ’n belewenis. Maar die beste was dat ek vir die eerste keer vir Daphnée (Breyten se dogter) ontmoet het. Breyten het haar Naeltjie genoem. Sy is pragtig, met ’n blas vel en blinkswart krullerige hare. Sy kon net Frans praat en ek net Engels, maar ons verstaan mekaar en speel Uno in die sitkamer en lag ons oor ’n mik.

Daphnée Breytenbach (Breyten se dogter) teken. Foto: Breytenbach-familie

Anna-Karien Otto (Breyten se susterskind) en Daphnée Breytenbach in die 1990’s. Foto: Breytenbach-familie
Sewe
Laas jaar Oktober. Breyten, Yolande en van ons familie ry deur ’n natuurreservaat op die rand van Hermanus. Ek probeer intuïtief die perfekte plek vind om my ma se as te strooi.

Rachel Breytenbach (Breyten se suster) en Timba, Rachel se papegaai. Foto: Breytenbach-familie
En daar is dit, langs ’n krans wat uitkyk oor die glinsterende see, die berge en die begraafplaas waar Ounooi en Oubaas begrawe is. Dit was die laaste keer dat ons mekaar gesien het.

Breyten met sy geliefde iPad op die krans buite Hermanus (Oktober 2023). Foto: Leon Breytenbach
Dit spyt my dat ons mekaar nie beter geken het nie. Wie weet, dalk het die epiese drama van sy lewe en die onstuimigheid van ons gekompliseerde familie in die pad gestaan. Op baie maniere is hy steeds vir my soos ’n mitiese figuur. Ek staan op die rand van die golf van ons diep, diep rou; dit rys van diep uit die aarde. Ek staan saam met almal wat hom geken en bewonder het, dankbaar vir alles wat hy vir ons gegee en beteken het. Maar wat hy nie geweet het nie (al hinkepink ek voort met my eie skrywery) is dat ons ’n diep liefde vir die woord gemeen gehad het, veral al die interessanthede wat in die skaduwees skuil. Daar waar die magic is, daar wat jy “droomskryf” genoem het, woon ek ook.
- Foto’s deur die bydraer verskaf.
Kommentaar
Sulke mooi - en tog ook tragiese - herinneringe. Sterkte aan die familie.
Dankie vir hierdie kwesbare eerlike herinneringe. Dit is hartroerend mooi.
Dis onvermydelike nodig om bloot 'n hartjie-emoticon hier neer te pen. By gebrek aan 'n intiemer, hegter verhouding, bloot die interaksie tussen die leser en die teks, die oorstelpte leser en die oorstelpende toornaar met woorde. Daar is 'n element van afguns in my lees van jou ervaring van jou Breyten, en terselfdertyd 'n dankbaarheid dat hy, ondanks so oud soos my pa, vir my die abstraksie en essensie van romanse, sowel as lewenskragtige idealisme en intellektuele soewereiniteit was.
Hartlike dankie vir die besondere woorde en foto's.
Lieflik.
Ek het Breyten net een keer ontmoet, maar my hart was lankal syne omdat sy woorde my so betower het. Dankie vir hierdie skrywe van jou - dis soos daardie Kerskalenders wat mens dag vir dag oopmaak. Geluk ook met jou verjaarsdag 2 dae voor Kersfees.
Dit is hartroerend.
Dankie, Anna-Karien, vir hierdie kosbare herinneringe ... aangrypend, roerend ... hoop dit gaan goed met jou ...
Die beste artikel wat ek nog op LitNet gelees het. Die ritme van die sinne, die eenvoudige Afrikaans, met kort woorde, kort sinne en kort paragrawe. Uit die hart geskryf, met die kunstenaar se oog op die gebeure.
Ek wens ek kon so skryf.
Ek het self vir Breyten net een keer ontmoet. Dit was by Time of the Writer in Durban 2008. Ek dra sy naam agter op my T-hempie. Breyten Breytenbach (South Africa)
'n Groot, groot gees. Vir my saam met Bram Fischer QC, 'n toonbeeld van vry denke en beginselvastheid.
Wonderlike herinneringe, Anna-Karien, ek dink ver terug na al ons dae in Grahamstad... Rachel, Timba, Yolanda (ander Yolanda), wonderlike gesprekke met wyn, 'n vakansie in Port Alfred waar ek veel meer op my agenda gehad het, (ons het op die stoeptrappe gesels), en wat nooit gebeur het nie! Thanx for the memories!
Ek het so lekker aan jou herinneringe aan jou oom Breyten gelees, Anna-Karien. Wat ’n mooi naam. Met verwysing na jou hinkepink met jou skrywery, moenie moed opgee nie. In ’n resensie van my bundel Bloot Mens is ek kwaai geraps oor my soetsappige soort van verliefdheid op Breyten. Of iets in dier voege. Want ek het ’n gedig vir bb geskryf. Ek was koud van skok oor die venynige resensie op LitNet. Van nou af, het ek gedink (naïewe ekke, debuutdigter, op geen wyse voorbereid op of gesout teen die gif uit resensiepenne), slyt ek maar die res van my lewe onder ’n tapyt. Wat ek in elk geval ook min of meer doen. Maar weet: Breyten het wragtag vir my ’n e-pos geskryf waarin hy my gelukwens met my bundel en sê hy hou baie van my meesleurende gedigte. Hier is die laaste drie strofes van my gedig VIR BB:
in jou woordtorinkie dig
dooldraai ek lig:
dít is die ondenkbare verskil: die sig
in en uit, want jou woordsaad skiet
soos sterre met sterte
in hierdie geknelde land
vou jou leë vertel-vel vér oop
en wyd wapper die tapyt
waarop ek hop vir ’n trip en ’n half
deur ’n duisend-en-een nagte
vir hierdie oomblik, vir altyd,
Woordvoël, sug en snak
jou vlugverslag
die oë op my vlerke oop
Baie dankie Anna-Karien. Vandag het jou oom vir my lewendig geword. Jou hartstogtelike woorde met aangrypende kiekies vertel 'n kosbare stukkie van sy storie. As self-opgelegde banneling keer ek na baie omswerwinge oor drie dekades terug na my moederland. "Taal is die spieël waarin jou asem 'n herkenbare gesig word." Jou oom se woorde skilder die prentjie in my hart. Dankie, Anna-Karien. Dankie, Breyten.
Rita B was my buurvrou-vriendin naby die Bergkwaggapark. Soms het ek 'n blik gekry in haar, destyds komplekse familie. Dit was die 1980's. Ons innige simpatie. Baie dinge was vir my verstaanbaar, ons besit steeds die plaasgrond waarop die SAP-tronk,Post Charlmers, geleë is/was. Sien die PEPCO 3-dokumentêr. Dankie, jou skrywe was baie interessant.
Ek het die voorreg gehad om Jan Breytenbach se RSM te wees
Oom Jan en Tannie Ross sy vrou was ook twee ongelooflike mense.
Ek het so baie by hom geleer.
Sy broer Cloete ook ontmoet destyds in die Ciskei.
Dankie vir jou skrywe oor Oom Breytenbach.
Wat vir my staan is die drie broers as vrye denkers en hulle beginselvastigheid. Niks kan hulle roer as hulle eers daardie standpint ingeneem het.
Vir my as mens was, om ondere, Oom Jan te kon dien 'n hoofing in my lewe.
Sy verhale of stories toe hy in die Britse vloot 'n navigeerder was op die vliegtuie.
My mond het behoorlik oopgehang.
Dat een mens soveel avontuur kon beleef in sy leeftyd!
Ek is seker al drie broers het 'n vol lewe gehad. Hulle het gelewe.
Waar hulle was, was daar vonke. Daar was lewe. Dinge het gebeur.
Met Oom Jan se afsterwe kon ek slegs die gedenkdiens bywoon in Pretoria saam met manne wat die grootste bewondering vir hom as mens en soldaat gehad het.
Toe ek sy RSM was, het hy my vertel van Oom Breyten. Daar was so baie stories geskryf en gepraat oor Breyton, maar diep binne in Oom Jan se hart het ek geweet Breyten was sy broer.
Ons het Oom Jan geterg. Die ou Nasionale party regering moes eintlik vir hom wat Jan is toegesluit het.
Hy het dan met 'n opreggeteelde Britse dame getrou en in land ingebring.
Oom Jan het so gelag.
Tannie Ross het net so gelag en gesê: "It would have served him right."
Dankie vir die skrywe oor Oom Breyten.
Baie dankie Jelleke. Ons vind ons weg in sy skaduwee!
Treffend, meesleurend, hierdie artikel is een van die mooistes ooit.
Baie dankie Anna-Karien! Jou inset dra op 'n ander manier by. Ek het jou eenkeer by 'n Eisteddfod in Grahamstad ontmoet toe ek daar was met my skoolspan. Ek het jou pa Quentin geken. Hy was op 'n tyd ons bibliotekaris op Adelaide. Breyten staan vir my uit as individu op alle vlakke. Ons het dikwels op Onrusrivier by goeie vriende gekuier op die draai van die jaar. Die sestigers boei my nog deurgaans.
Baie dankie, Herman.