Die Sestiger-somerskool, Universiteit van Kaapstad: Die "bont begrafnis"

  • 0

Op 12 Februarie 2023 – 50 jaar gelede – was dit die eerste dag van ’n byeenkoms wat ’n onuitwisbare impak op die rol van die Afrikaanse skrywer en die aard van die Afrikaanse letterkunde sou hê. 

Die Sestiger-somerskool het van 12 tot 16 Februarie 1973 by die Universiteit van Kaapstad plaasgevind. Die byeenkoms is van stapel gestuur deur James Polley en het die gedaante aangeneem van ’n “buitemuurse kursus” oor die Afrikaanse Sestiger-skrywers. Toe die inskrywings 480 persone bereik, moes die uitnodiging gestaak word omdat dit die kapasiteit van die grootste beskikbare lesinglokaal was (Polley 1973:9). Hierdie simposium was ’n ware “gebeurtenis” in die evolusie van skrywersbyeenkomste, soos ek elders aangetoon het,i en ’n padaanwyser en inspirasiebron vir die skrywers van die 1970’s en 1980’s.

Die openingsrede is deur DP de Villiers gelewer en die deelnemende skrywers, literatore en ander geleerdes (in die volgorde waarin hulle in die verslag oor die byeenkoms opgeneem is) was: André P Brink, John Miles, PD van der Walt, Ampie Coetzee, PG du Plessis, Chris Barnard, Abraham H de Vries, Hennie Aucamp, Etienne Leroux, Adam Small, Jack Cope, JJ Degenaar, Jan Rabie, Richard Rive, Frederik Van Zyl Slabbert, WEG Louw en JC Kannemeyer.

En dan was daar ook Breyten Breytenbach, wie se bydrae nie in die verslag van die gebeurtenis opgeneem is nie (maar later wel in ’n Seisoen in die paradys) en wie se optrede die lokaal behoorlik uit sy nate laat bars het. Mense het op die vloer voor die podium gesit en die trappe van die ouditorium volgepak. Dit was sy eerste besoek aan die land nadat ’n visum aan sy vrou sedert 1965 geweier is, en dus sy eerste openbare verskyning en plaaslike optrede.ii

Ek was ’n jong dosent in die Departement Afrikaans aan die destydse Universiteit van die Noorde (Turfloop), vandag die Universiteit van Limpopo. Ek en my kollega Piet Roodt (later professor verbonde aan die Universiteit van Pretoria) het die reis per motor van Pietersburg na Johannesburg en daarvandaan per vliegtuig na Kaapstad aangepak. Ons het in ’n soort van losieshuis aan die agterkant van die imposante Mount Nelson Hotel tuisgegaan en daagliks met die universiteitsbussie van die Hiddingh-kampus na die Bo-kampus gery. Na die dag se verrigtinge is daar in koffiewinkels byeengekom waar die lesings van die dag geesdriftig bespreek is.

In hierdie terugkyk lig ek slegs enkele van die belangrikste temas in Brink, Breytenbach en Small se bydraes uit, omdat dit vandag nog deurwerk in die diskoers rondom die Afrikaanse letterkunde.

Oproep tot (Suid-) Afrika-gerigtheid en uitdaging van die muilbandwet

Brink (sien Polley 1973:15–31) was die eerste skrywer aan die woord by hierdie Sestiger-“sirkus”, soos hy daarna verwys het, en hy het ’n knap bestekopname (aan die hand van ’n wye verwysingsveld) gegee van die herkoms en situasie van Sestig (wat “die literatuur van ná die Vloed verteenwoordig”). In sy bespreking van die internasionale inslag van die Sestigers se werk wys hy ook op die teenkant, naamlik “’n amper-skroomvalligheid of bedugtheid om in en uit die Suid-Afrikaanse wêreld te skryf” en dit terwyl die roman nog altyd ’n belangrike sosiale kunsvorm was. Hy maak dit duidelik dat hy “nie gekwel is oor Suid-Afrika as lokaliteit nie”, maar oor ’n groter Afrika-gerigtheid: “Ek bepleit geen maklike littérature engagée nie. Dit gaan oor iets groters: Dit gaan om Afrika. Dit gaan om ’n ontdekking wat ons literatuur moet maak: of hy behoort tot die Europese of tot die Derde Wêreld. Dit is nie primêr ’n literêre oorweging nie, maar sy implikasies het op die duur ook ’n deurslaggewende uitwerking op die literêre.” Hy verwys na voorbeelde van romans waarin wel uitgereik word na die kontinent, maar besluit dat Adam Small se drama Kanna hy kô hystoe (“stellig die belangrikste drama van Sestig, sekerlik die mees virtuose in Afrikaans”) die teks is “waar Afrika uit elke oomblik praat sonder dat hy by die naam genoem hoef te word”.

Sy slotsom is dat daar “in die klein oes van Sestig [...] ’n vernuwing plaasgevind het waarvan die gevolge nog onberekenbaar is [...] [W]at uitgesif kan word en behoue bly, dié het vir goed die aangesig van ons literatuur verander. Maar was dit genoeg?” Vir hom voel dit of daar ’n stilstand gekom het, ’n moegheid begin insypel het, en hy skryf dit tentatief ook toe aan die “vretende, broeiende, bose klimaat” rondom die Wet op Publikasies en Vermaaklikheid van 1963. Op ’n manier het Afrikaans reeds “slagoffer van sensuur geword” – “en dit terwyl geen Afrikaanse werk nog verbied is nie!” Hy vra of die Afrikaanse skrywer “te middelmatig en te middestanderig [is] om werklik te wil risiko’s loop”. En dan doen hy ’n beroep op sy medeskrywers: “Kom ons sê: Sestig is dood: lank lewe Sestig! Kom ons sê: Ons is nog almal min of meer jonk, ons laat ons nie doodpraat nie en bowenal nie doodswyg nie. Kom ons sê: Hier is die plek waar ons weer begin. En biedêm die res.” 

Apartaans, gewaande stamidentiteit, sosiale praktyk

Breytenbach bied sy “’n Blik van buite” (opgeneem in Lasarus 1976:119–28) aan as ’n “baie ekstremistiese lykrede” by die “bont begrafnis” van die “plek-plek nog warm Sestigerlyk”. Anders as Brink wonder hy oor die moontlikheid van ’n “heropstand [...] van ons Lasarusse”. Hy bring sy blik as “witterige of off-white Suid-Afrikaner teenoor sy soortgelykes” en in aanvaarding dat wat in die land gepleeg is, ook in sy naam en sy taal gedoen is. Hy draai nie doekies om met sy kritiek op die beperkte rol en uitset van die Sestigers en hulle werk nie. Die byeenkoms gaan vir hom oor “die doen en veral die late van ’n aantal jongerige skrywers wat skryf in die taal van die stam aan bewind, die magsgroep, die heersers – en wat daarom ’n besonderse verantwoordelikheid dra”. Die skrywers beklee “’n bevoorregte alhoewel onbenydenswaardige posisie” in die stam – al is dit ook net een van bohaai, “omdat soveel van daardie stam se aspirasies deurgaan vir kulturele aspirasies, omdat die sg Afrikaner se identiteit oorspronklik ’n taalidentiteit was”. Hierdie skrywers het sekere stellings waarop die gevestigde belange van die Afrikanerstam berus, in twyfel begin trek en dit het juis “so baie stof opgeskop omdat ’n gepeuter met die instellings en taboes van die stam onvermydelik die gevaar inhou dat dit knaag aan die bestaande bestel van sake”; “vat jy aan die Afrikaner dan vat jy mos aan die staat.” ’n Sekere mate van opstandigheid sal deur die heersers geduld word, solank dit wentel om die “vryheid van die Afrikaner” en nie om “die vryheid van die mens, van die individu” nie – dan is dit “ondermynend, volksvreemd”. Maar dit is juis “ons gewaande stamidentiteit” (en die ontkenning dat ons ’n “bastervolk met ’n bastertaal” is), die apartheidmure wat ons om ons gebou het om ons “suiwerheid” te verskans, wat die “bestek van ons selfmoord, ons selfvernietiging, ons dood” geword het.

Wat het binne die mure met die skrywers gebeur? Ten spyte van “spasmodiese geraas maak” het “ons die mure help bou, ons hou dit in stand”. Waar hoort ons? (“Kom dit by ons op dat ons vassit aan Afrika?”) “Teen wie kan ons ons meet?” “Vir wie skryf ons ons verwronge, pretensieuse, nouveau riche-werke?” “Wat weet ons van die res van Suid-Afrika [en wat met mede-Suid-Afrikaanse skrywers gebeur]?” Hy voer aan dat ons literatuur, “hoe slim ook soms, grotendeels ’n produk van ons verstarring en ons vervreemding” is. Hy vra: “Is ons as skrywers dan net hierdie wit establishment se skokbrekers, sy waghonde?” En wanneer die opstand teen apartheid kom en dit tyd word om te kies tussen “ons” en “hulle” (wat ons nie kén nie), “gaan dit ’n wetende keuse wees, of ’n desperate stamkeuse?” Volgens hom moet die werk van die skrywer groei uit die sosiale praktyk (met verwysing na Pasolini, Roman Jakobson en Godard) – “om te skryf is om te kommunikeer” – “ons eerste dimensie is die mens – in sy eendersheid en in sy andersheid, in sy mensheid.” Wat homself betref, wil hy probeer skryf “vir hiér, vir nóú [...] dis die verbygaande wat seermaak, die plaaslike.” Sy oproep is: “Ek dink dat ons deur kennis te neem van die natuur van die stryd waarby ons betrek word en waarin ons ’n aandeel het, deur hierdie stryd duideliker te maak – en meer nog: Deur stelling te neem gebaseer op hierdie kennis, verruim ons ons menslikheid en ons taal. Dan sal ons nie meer gevang sit in die strikke van Apartaans nie, maar Afrikaans kan praat: een van die baie tale van Afrika!”

Die gesplete werklikheid van hierdie plek en tyd

Adam Small (sien Polley 1973:140–8) se “sentrale krisis as Sestiger wat homself nooit Sestiger genoem het nie” is die begrip “ons” wanneer dit gaan oor “stemme in ons letterkunde”. Hy ervaar dit as ’n Afrikaner-“ons”. Die stemme vir “Wit-Afrikaans” is nie noodwendig die stemme vir ander, “Swart-Afrikaans” nie: “Ons leef nog in hierdie gesplete werklikheid van Suid-Afrika.” Hy kontrasteer kleinlik-Afrikaner met Afrikaans: “Baie meer mense [...] as wat Afrikaner is, praat, en is dus in die een of ander sin, Afrikaans.” Plaaslike stemme waarna geluister kan word, is NP Van Wyk Louw (dalk ondanks homself) en Martin Versfeld, wat nie meer “Wit” is nie, nie meer bo alles Afrikaner nie, maar Afrikaans.

Small se siening van die rol van die digter/filosoof/dramaturg is gewortel in wat hy noem “die tradisie van die kunstenaar en die denke”. Hy haal die historikus Johan Huizinga aan wat aanvoer dat “in any flourishing, living civilization, above all in archaic cultures, poetry has a vital function that is both social and liturgical” en dat “the true appellation of the archaic poet is vates, the possessed, the God-smitten, the raving one.” Die funksie van die God-aangeraaktes “is eminently a social one; they speak as educators and monitors of their people.” In ’n tyd waarin die “vertegnologisering van die mensdom”, met die gepaardgaande proses van “holle gesofistikeerdheid” en “nihilistiese materialisme”, soos dit ook in Wit Suid-Afrika voorkom, so ’n siening van kunstenaarskap ondermyn, onderskryf Small dit heelhartig.

Uitgaande van hierdie opvatting formuleer Small die “swakheid” van Sestig soos volg: “[D]at by die mees doelbewuste Sestigers [...] bewustheid van die sosiale, die kontemporêre sosiale, die werklikheid van hierdie plek en hierdie tyd, ontbreek.” Die moontlike toekoms van Sestig “lê vir my opgesluit in die feit dat daar miskien tog, op grond van Sestig, so ’n bewustheid kan intree, of aan die intree is”. Hy baseer hierdie hoop daarop dat die land, ten spyte van die feit dat Sestig “ook ’n tyd van meer as ’n bietjie ontvlugting” uit “hierdie wye en droewe Suiderland” was, ook “’n bietjie, so op ’n manier, oopgemaak is, los of losser gemaak is, minder verkramp, minder – let wel, minder – verlig ook.”

Talle saadjies is tydens hierdie byeenkoms gesaai wat in die volgende twee dekades wasdom sou bereik, onder andere die opkoms en hoogbloei van sosiale betrokkenheid in die literatuur. In Januarie 1974 word daar ’n verbod geplaas op Brink se eerste “betrokke” roman, Kennis van die aand, en dit word gesien as die skrywer se antwoord op sy eie vraag en uitdaging tydens die Sestiger-somerskool, naamlik of geen Afrikaanse boek nog verbied is nie omdat daar dalk nog nie iets geskryf is wat verbied werd was nie. Breytenbach se bundel protesverse, Skryt, wat einde 1972 in Nederland gepubliseer is en in 1974 ’n polemiek ontlok het toe dit oorgesien is vir die Hertzogprys, word in Junie 1975 die eerste Afrikaanse slagoffer van die nuwe sensuurbedeling. In Augustus van dieselfde jaar word Breytenbach in hegtenis geneem en ingevolge die Wet op Terrorisme tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis vir sy “ondermynende en volksvreemde” optrede. In 1973 bedank Small uit sy pos by die UWK in solidariteit met studente wat van die kampus gedwing word, en vanaf die vroeë 1990’s onttrek hy hom aan die openbare lewe en verbreek die swye eers ongeveer 20 jaar later, tydens Tuin van Digters op Wellington. In 1976 is Afrikaans die lont by die kruitvat van die Soweto-opstand in hierdie era van toenemende georganiseerde weerstand teen apartheid.

Terugskouend was die “bont begrafnis” van die Sestigers in 1973 ’n nuwe groeipunt. En vir ons wat gelukkig genoeg was om die geleentheid te kon meemaak, was dit ’n baken in ons eie groei en ontwikkeling as lesers en navorsers en/of letterkundiges. Dit was ons geleentheid van “ontlaering”.


Eindnotas

i https://www.litnet.co.za/poolshoogte-afsluiting-die-evolusie-van-afrikaanse-skrywers-en-letterkundebyeenkomste.

ii Elders het ek uitvoerig berig oor die inhoud van Breytenbach se bydrae en die openbare reaksie daarop, asook op die byeenkoms as sodanig (Galloway 1990:122–9 ea).


Bronne

Galloway, F. 1990. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM-Literêr.

Lasarus, BB. 1976. ’n Seisoen in die paradys. Johannesburg: Perskor-Uitgewery.

Polley, J. 1973. Die Sestigers. Verslag van die simposium gehou deur die Departement van Buitemuurse Studies van die Universiteit van Kaapstad. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.


Lees ook op LitNet 

Poolshoogte-afsluiting: Die evolusie van Afrikaanse skrywers- en letterkundebyeenkomste

Hibriditeit, of die baster in ons2000

Die lag van die lumpen-proletariaat as idioom van hibriditeit: hulde aan Adam Small

Video: #SAS4_2015 – Adam Small

Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem: ’n Paar gedagtes oor ontlaering uit QwaQwa

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top