Poolshoogte, ’n aanlyn kongres oor die stand van die Afrikaanse letterkunde 20 jaar ná demokrasie, kon die afgelope paar maande op LitNet gevolg word. Hierdie projek is ondersteun deur LitNet Akademies. Op Woensdag 11 Maart 2014, tydens die jaarlikse US Woordfees in Stellenbosch, is die gesprek in lewende lywe voortgesit. Francis Galloway, Louise Viljoen, Marga Stoffer en Bettina Wyngaard was in gesprek met Sonja Loots. Hieronder is 'n opsomming van Francis Galloway se bydrae by dié geleentheid.
Na die erkenning van Afrikaans as amptelike taal in 1925 was die sogenaamde Derde Afrikaanse Beweging ’n poging “om die Afrikaner se agterstand uit te wis deur op alle gebiede van die geesteslewe na volwassenheid en gelykwaardigheid te strewe” (Kannemeyer 2005:12). Die voortgesette georganiseerde stryd op kulturele terrein word veral deur die FAK (gestig in 1929) en die ATKV (gestig in 1931) gedryf. Die literêre stryd kry uitdrukking in groepvorming rondom die skrywers en letterkundiges van die beweging van Dertig (CM van den Heever, WEG Louw en veral NP Van Wyk Louw) wat krities is oor die ouer literatuur en die heersende literatuuropvatting (gemoedelike lokale realisme) en wat oor die tydgenootlike taak van die Afrikaanse skrywer en letterkunde besin.
In 1934 word die Afrikaanse Skrywerskring (ASK) in die noorde gestig om (op behoudende wyse) Afrikaanse skrywers bymekaar te bring om literêre probleme te bespreek, die verspreiding van die Afrikaanse boek te bevorder en raad te verleen met die voorskryf van boeke. In 1936 loods die vereniging die Jaarboek,wat in 1951 vervang word met Tydskrif vir letterkunde, wat dekades lank ’n rigtinggewende invloed op die Afrikaanse literêre veld sou uitoefen. In die suide ontstaan die behoefte om vernuwende boeke te bevorder en uit te gee. Die Vereniging van die Vrye Boek (VVB) kom in 1936 tot stand, benut die Kaapstadse Boekeweek om lesers met goeie boeke en ’n nuwe literatuuropvatting in aanraking te bring, en gee in sy kort bestaan ’n paar boeke uit.
Die Sestigers en hulle opvolgers oefen hulle invloed op die gemeenskap uit deur middel van hulle skeppende werk én hulle betogende bydraes (oor onder andere die verhouding tussen literatuur en owerheid) in die vorm van dagbladartikels, mediaverklarings, briewe in koerante, onderhoude en geleentheidstoesprake. In die besonder neem skrywers deel aan polemieke oor die publikasiewetgewing en die vryheid van die kuns. Die instelling van die Publikasiebeheerraad in 1963 en die nuwe Wet op Publikasies van 1974 dra daartoe by om solidariteit onder hulle te versterk (Kannemeyer 2005:268 ev).
Hierdie nuwe openbare wyse van standpuntinname deur skrywers bereik ’n hoogtepunt met die Sestigers-Simposium, aangebied deur die Departement Buitemuurse Studies van die Universiteit van Kaapstad, van 12 tot 16 Februarie 1973. Die byeenkoms was ’n gebeurteniswat terugskouend beskryf kan word as ’n vroeë hoogtepunt van byeenkomste van hierdie aard.
Vir die skrywers was dit ’n geleentheid van bestekopname en toenemende solidariteit – soos vergestalt in die slotwoorde van die eerste voordrag, deur André P Brink:
Is ons te middelmatig en te middelstanderig om werklik te wil risiko’s loop? Dan sal ons stilswye self ’n veroordeling word. Kom ons sê: Sestig is dood; lank lewe Sewentig! Kom ons sê: ... ons laat ons nie doodpraat nie en bowenal doodswyg nie. Kom ons sê: hier is die plek waar ons weer begin.
Dit was ook ’n gebeurtenis van besonderse betekenis vir die Afrikaanslesende publiek, soos onder andere blyk uit die feit dat inskrywings vir die Somerskoolkursus gesluit moes word toe dit 480 haal, die grootste getal mense wat die grootste beskikbare lesingsaal kon huisves, asook uit die belangstelling van joernaliste wat die geleentheid entoesiastiese blootstelling gegee het. Bowenal was dit ’n besonderse gemeenskapsontmoeting waartydens die skrywers en die publiek kon gesels, hul situasie en insigte kon bespreek, kon argumenteer en kon vier (Polley 1973:7–10).
André P Brink
|
Chris Barnard
|
Die verbod op Brink se Kennis van die aand in Januarie 1974 gee aanleiding tot die stigting van ’n Skrywersfonds om vir ’n moontlike appèl teen die verbod te betaal, asook tot die loodsing van ’n nuwe skrywersvereniging en -platform. In hierdie tyd toe gevoelens hoog loop oor die verbod (en die implikasies daarvan vir die literêre veld), breek ’n klompie skrywers weg van die Afrikaanse Skrywerskring, stel ’n konsepgrondwet vir ’n nuwe vereniging op en reël ’n byeenkoms waarby die nuwe vereniging sy beslag sou kry. Bartho Smit (in Malan en Smit 1985:5) vertel:
Dis vandag nie meer ’n kuns om ’n skrywersberaad (Chris Barnard se mooi woord) te organiseer nie. Dit geskied min of meer volgens ’n vaste patroon wat hom al oor en oor bewys het. Maar destyds was dit makliker gesê as gedaan. Waar moes mens begin? Watter vorm moes so ’n beraad aanneem – formeel, informeel, of iets tussenin? [...] Hoe en waar kry mens skrywers bymekaar wat so wydverspreid oor die land woon? [...] Moet ons liewer ’n goedkoper plek soek? Ens ens.
Die Broederstroomberaad van 9 tot 11 Julie 1975 het die organiseerders se hoogste verwagtinge oortref en talle skrywers het opgedaag vir die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde (ASG). Die referate van die eerste beraad het feitlik in geheel in die teken gestaan van sensuur. Hierna sou, tot in 1984, nege berade volg met ernstige, deurdagte referate oor aktuele skrywersake (byvoorbeeld knelpunte met voorgeskrewe boeke, die stand van literêre kritiek, die sosiopolitieke situasie, die verhouding tussen skrywer en kerk, vervreemding, die situasie rondom Afrikaans, die skrywer en sy ambag) en genoeg tyd vir bespreking. Met die oorgang na ’n demokratiese bestel was die ASG se aanvanklike bestaansgrond (gesamentlike optrede teen sensuur) vervul en het die vereniging dormant geword.
In dieselfde jaar dat die laaste kongres van die ASG plaasvind, vind die stigtingskongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV) plaas (op 26 en 27 Oktober 1984). Die ALV is die vereniging wat na die vakbelange van die Afrikaanse letterkunde omsien. Een van die vier fokusgebiede van die referate van die stigtingskongres was die faktore wat die Afrikaanse letterkunde in daardie tydvak ideologies beïnvloed en tot groepvorming gelei het. Sedertdien bied hierdie vereniging tweejaarlikse kongresse aan. Tydens die 2014-kongres (met 80 mense wat geregistreer het en 58 referate wat gelewer is) is daar vir die eerste keer 'n dag lange werkswinkel vir nagraadse letterkundestudente aangebied waartydens studente hul navorsing kon voorlê, hul referate vir die hoofkongres kon inoefen en waardevolle terugvoer of wenke daarop kon kry. Die lyfblad van die vereniging, Stilet, is gewy aan die wetenskaplike studie van die Afrikaanse literatuur in die vorm van navorsingsartikels, literêre ontledings, kommentaar oor aktuele literêre vraagstukke en ALV-kongresreferate.
Daar is ook ander vakverenigings wat platforms bied vir beraaddeelname.
Die Eerste Swart Afrikaanse Skrywersimposium is in April 1985 by die Universiteit van Wes-Kaapland gehou. Verskeie temas is aangeraak, onder andere die gebruik van Kaaps in skryfwerk, swart eksklusiwiteit, verset teen koöptering en marginalisering, en die rol van skrywers in die stryd teen apartheid. Die Tweede Swart Afrikaanse Skrywersimposium vind 10 jaar later op Paternoster plaas. As uitvloeisel van hierdie byeenkoms word die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) op 28 Maart 1996 gestig, met ’n sterk klem op bemagtiging. In Oktober 2005 bied die ASV die Derde Swart Suid-Afrikaanse Skrywersimposium aan.
In die vroeë 2000’s woed daar ’n vurige debat – gedryf deur middel van ’n e-pos-verspreidingslys genaamd “Boekbelange” en later die Boekindaba-forum op LitNet– oor kwessies wat die produksie van Afrikaanse fiksie en die implikasies daarvan vir Afrikaanse skrywers onder die nuwe politieke bedeling raak. Dit loop uit op twee gespreksbyeenkomste, waartydens ooreengekom word dat die ASV as inklusiewe en verteenwoordigende Afrikaanse skrywersvereniging aanvaar word. Hierdie poging versand egter.
Op 20 Oktober 2012 vind die eerste algemene vergadering van die nuutgestigte PEN Afrikaans op Stellenbosch plaas. Die vereniging se doelstellings is in die eerste plek om die belange van Afrikaanse skrywers, in die wydste sin van die woord, te beskerm en te bevorder. Die vereniging sal daarom ook die belange van letterkunde oor die algemeen bevorder, taalregte beskerm en uitbou, en kampvegter bly vir die vryheid van spraak en die reg op selfstandige denke. Dit beoog egter nie om berade te organiseer nie.
Intussen is LitNet in Januarie 1999 gestig en dit het spoedig in ’n volwaardige interaktiewe aanlyn tydskrif ontwikkel met (sedert 2008) sy eie geakkrediteerde akademiese joernaal, LitNet Akademies. Die moontlikhede wat hierdie kanaal vir skrywers- en letterkundeberade bied (en wat die meeste probleme ten opsigte van die reëling van konvensionele berade, soos uitgestippel deur Bartho Smit, oorkom), is reeds vroeg ontgin. In 2000 bied LitNet sy eerste aanlyn beraad aan, Briewe deur die Lug, met ’n (polemiese) openingsrede deur Breyten Breytenbach en 40 ander bydraes. In 2004 neem 53 stemme aan die meertalige beraad Young Voices deel. Verlede jaar se beraad, Poolshoogte, ’n bestekopname van die stand van sake ten opsigte van die Afrikaanse letterkunde en literatuurstudie na twee dekades van demokrasie, betrek 38 deelnemers. Laasgenoemde beraad het die potensiaal om 60 000 mense te bereik, want dit is tans die getal unieke besoekers per maand aan LitNet. Hierdie besoekers kan ook op die bydraes reageer – direk onderaan ’n spesifieke bydrae of op LitNet se Facebook-blad.
Gemeet aan die gehalte van bydraes tot die kongresse van vakverenigings en die aanlyn berade van LitNet, asook die “bywoning” daarvan, is daar nog ’n lewendige gesprek oor Afrikaanse skrywers en die letterkunde aan die gang. Die deelname en gesprek kan op verskillende maniere uitgebou word. So byvoorbeeld meen Andries Visagie, voorsitter van die ALV, dat die aanlyn komponent van vakkongresse in samewerking met LitNet en ander aanlyn platforms versterk kan word. Daar kan byvoorbeeld kort video's van hoogtepunte uit die kongresse via YouTube geplaas word om belangstelling aan te wakker en om 'n wyer gehoor te betrek.
Bibliografie
Kannemeyer, JC. 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Kaapstad: Human & Rousseau.
Malan, C en B Smit (reds). 1985. Skrywer en gemeenskap. Tien jaar Afrikaanse Skrywersgilde. Pretoria: HAUM Literêr.
Polley, J. 1973. Verslag van die simposium oor Die Sestigers. Kaapstad: Human & Rousseau.