Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem: ’n paar gedagtes oor ontlaering uit QwaQwa

  • 21
......

“Ontlaering van Afrikaans verg ’n voortdurende bewustheid van die grense wat wit bevoorregting (in al sy verskuilde vorme) daarstel.”

......

In Januarie woon Azille Coetzee Ontlaering 2020 by en sy skryf hier oor haar ervaring.

Soveel Afrikaanssprekende studente wat jonk is, swart of bruin is, queer is, vrou is, stel vandag nie daarin belang om die Afrikaanse letterkunde te bestudeer nie. Sommige Afrikaans-departemente aan universiteite moet op veldtogte gaan om studente te werf. Die studente dink Afrikaanse literatuur is simpel, of hulle vind dit vervreemdend, onderdrukkend, en onmoontlik om hulself en hul eie leefwêrelde daarin te herken.

Die Afrikaanse letterkunde as establishment verteenwoordig steeds ’n laer, in formasie getrek om dit wat binne is te beskerm teen dit van buite. ’n Strewe na tydlose suiwerheid, gekenmerk deur vrees vir dit wat vreemd is, melankolie oor alles wat altyd reeds anders is.

Vandag, in ’n wêreld waar die verloop van tyd meedoënloos versnel, en waar ’n soeke na suiwerheid altyd verdag is, is daar ’n argument te maak dat ontlaering van die Afrikaanse letterkunde ’n voorvereiste is vir die voortlewing daarvan. Of dan ten minste vir die morele regverdigbaarheid daarvan, en die relevansie natuurlik.

Dit is met hierdie vraagstuk dat ons (’n groepie akademici en studente) Oos-Vrystaat toe reis in Januarie 2020 vir die tweede Ontlaering-kongres by die QwaQwa-kampus van die UV. Die organiseerders van Ontlaering (waarvan ek nie een is nie) probeer platforms skep waardeur die pedagogiek van die Afrikaanse letterkunde herverbeel kan word deur die Afrikaanse letterkunde te situeer in ’n globale konteks, oor fisiese en metafisiese grense heen. Hulle vra: Hoe kan ons Afrikaanse letterkunde aanbied vir nuwe generasies studente op ’n manier wat die skanse van die laer deurbreek? Hoe word die studie van Afrikaanse letterkunde in verhouding gebring met ander geskiedenisse, tale, literêre tradisies en invloede? Hoe kultiveer ons die soort gemak met beweging, fragmentasie, interne verskil en teenstelling waardeur die Afrikaanse letterkunde sal oopgaan eerder as toe?

Die ligging van die kongres is versigtig gekies om die desentralisering van kennisproduksie te bevorder, om ander soorte denke te stimuleer as waarby ons sou uitkom in Pretoria of Stellenbosch, om die kongres toeganklik te maak vir ’n ander publiek. Die QwaQwa-kampus van die UV is geleë in Phuthaditjhaba, ’n deel van Moshoeshoe se eertydse beroemde Basotho-koninkryk, oorspronklik bewoon deur die San. Phuthaditjhaba beteken “ontmoetingsplek van die stamme” en is histories ’n plek van vermenging en beweging oor grense. Hier is entanglement (in hierdie konteks “verweefdheid”) die mees gepaste intellektuele modus, sê Jared McDonald, visedekaan van Geesteswetenskappe by QwaQwa. Dit gaan daaroor om onsself en die kennis wat ons genereer te verstaan in interafhanklike en dinamiese relasie met wat anders en Ander is, verduidelik hy – sonder om te probeer om die onteiening, uitwissing en geweld van die verlede en die hede te verbloem of te vergeet. QwaQwa is ’n voormalige tuisland van die Suid-Afrikaanse apartheidstaat.

......
“Om oor ontlaering te dink is anders as om te ontlaer. En makliker.”
......

Phuthaditjhaba is ure weg van die lughawe af. Dit is duur om daar uit te kom; jy moet ’n motor hê of huur. ’n Week voor die kongres het deelnemers wat die afstande en gepaardgaande koste onderskat het, begin onttrek. Dit is net ’n klein groepie van ons wat uiteindelik daar uitkom, meestal wit en middelklas. Ontlaering van Afrikaans verg ’n voortdurende bewustheid van die grense wat wit bevoorregting (in al sy verskuilde vorme) daarstel. Die organiseerders neem hulle voor om volgende jaar se kongres in Mowbray in Kaapstad te hou.

Vir die twee dae van die kongres woon ons almal in Clarens. Om die kampus te bereik ry ons soggens vir ’n uur lank deur die Golden Gate Nasionale Park. Die landskap is onheilspellend mooi – elektriese kleure en oeroue rotsformasies van ’n wetenskapfiksiefilm. Daar is tekeninge van die San in die grotte en dinosouruseiers in die klip.

Die kongrestema hierdie jaar is “Transnasionale Pedagogiek: Afrikaans & X – wat is die simboliese, realistiese, en politiese implikasies daarvan om Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem te bedink en onderrig?” Die praatjies is uiteenlopend as gevolg van al die onttrekkings. Die fragmentasie word ’n tema wat die verskillende referate saambind.

......
“Die laaste vraag waarby ons stilstaan, is of dit belangrik is vir studente en leerders om hulself in die voorgeskrewe tekste te herken.”
......

’n Spreker daag ons uit om te vra wat gebeur as ons aan die Afrikaanse letterkunde in risomatiese verbintenis met ander letterkundes dink, eerder as ’n totaliserende, verdringende penwortel. Ontlaering verg ’n aanvaarding van onsekerheid, dubbelsinnigheid, interafhanklikheid en onstabiliteit, ’n omarming van swerwerskap en verplasing.

Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde is geheuewerk, die ontwrigting van wit nostalgie. ’n Spreker lê vir ons uit hoe Heidi, die Afrikaanse kinderprogram van ouds, ’n oorklanking was van ’n Japannese anime-reeks van die 1970’s (gebaseer op ’n Switserse kinderboek van die laat 19de eeu). Die dinge wat so suiwer wit en Afrikaans voel, is dit selde. 

’n Ander spreker ondersoek Ronelda Kamfer se bundel Grond/Santekraam in die konteks van die kultuurstudie van die Swart Atlantiese en Indiese oseane. Sy lees dit as ’n bundel wat ontstaan nie netjies binne die grense van die Afrikaanse letterkunde nie, maar vanuit die beweging, verplasing, geweld, vermenging en veelvuldigheid van die Transatlantiese slaweroetes as ruimte van gekreoliseerde kulturele konstruksie. ’n Mens sien die invloed van Antjie Krog op Kamfer se werk, maar so ook die komplekse genealogieë en ryk argief van transnasionale swart denke. Die werk van ontlaering vra watter geskiedenisse en betekenisse ons verdring wanneer ons Afrikaanse letterkunde eenvoudig situeer binne die amptelike weergawe van die kultuurgeskiedenis van die (wit) Afrikaner.

......
“Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde is geheuewerk, die ontwrigting van wit nostalgie.”
......

Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde verg ernstige, literêre omgang met die woede in die werk van skrywers soos Kamfer, die skrywers wie se swartheid, vrouwees en weiering om stil te wees in sigself ’n transgressie verteenwoordig in die libidinale ekonomie van die laer. Ontlaering is nie net ’n projek wat witheid uitdaag nie, maar ook manlikheid. Die verdringende penwortel is fallies; in die laer van Afrikaanse letterkunde geld die wet van die (wit) vader. Ontlaering van die Afrikaanse letterkunde en die pedagogiek vereis ’n verqueering, die uitdaging van rigiede binêre teenstellings, ondermyning van die hiërargieë.

Ons kyk die rolprent Die stropers (2018) (gemaak deur Etienne Kallos), waarin ’n Oos-Vrystaatse boeregesin ’n dwelmverslaafde seun aanneem van die strate van Johannesburg af, waar hy ’n bestaan gemaak het deur sekswerk te verrig. Daar is van meet af ’n sterk seksuele energie tussen hierdie aangenome seun en die boerseun van die huis, selfs terwyl hulle meeding vir die eersgeborene se reg om die grond te erf. So lê die film die arbitrêre aard van die eersgeboortereg bloot, die broosheid/vreemdheid van die heteroseksuele manlike bloedlyn, die lukraakheid van die godgegewe reg op grond, die kunsmatigheid van die genderbinariteite, en die geweld wat die instandhouding van patriargale mag onderlê. Die fliek speel af in dieselfde deel van die Oos-Vrystaat waar ons ons bevind vir die kongres; op die skerm flikker dieselfde sondeurdrenkte landskap as die een wat ons omring.

’n Spreker wonder hardop of Marlene Van Niekerk se Agaat, benewens die feit dat dit as die laaste plaasroman getipeer word, nie ook die laaste Afrikaanse literêre roman is nie. Ons verstaan nie meer genoeg oor die ruimtes van Suid-Afrika om dit te kan allegoriseer nie. As van Niekerk dit nie meer kan doen nie, wie kan? Die argument is elegant gestruktureer en aanloklik in die eenvoud daarvan. Maar ons dink daardeur. “Oh please,” sê iemand later die aand, met ’n glas wyn in die hand, net omdat dit nie nou meer moontlik is om weer Agaat te skryf nie, beteken dit nie ons skryf nie ander dinge nie. Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde vereis jeugdige bravade en ongehoorsaamheid.

......
“Ontlaering is nie net ’n projek wat witheid uitdaag nie, maar ook manlikheid.”
......

Die uitdagings verbonde aan die onderrig en dosering van Afrikaanse letterkunde op skole en universiteite word deurentyd bespreek. Die laaste vraag waarby ons stilstaan, is of dit belangrik is vir studente en leerders om hulself in die voorgeskrewe tekste te herken. Baat die tieners van die Noord-Kaapse platteland spesifiek by Anzil Kulsen se jeuglektuur waarin hul eie konteks en gemeenskappe weerspieël word? Nee, is een argument. Die funksie van literatuur is om ons na ander wêrelde te neem, om iets oor die universele menslike kondisie uit te beeld waarmee iedereen identifiseer, onafhanklik van plek en tyd, klas en ras. Maar baie van die jong dosente stem nie saam nie. By studente en leerders wie se subjektiwiteit histories radikaal afwesig is in die wêrelde van die Afrikaanse kanon, gaan jy nooit ’n liefde vir Afrikaanse letterkunde kweek deur die “tydlose” classics voor te skryf nie. Die pedagogiek van die Afrikaanse letterkunde in Suid-Afrika vandag word irrelevant en oorbodig as dit nie kan slaag in die relativering van die wit subjek wat aanspraak maak op universele ervaring nie. In die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde is identiteitspolitiek onvermydelik.

Hierdie week is ek terug in Kaapstad, nog ’n laer. Om oor ontlaering te dink is anders as om te ontlaer. En makliker.

Lees meer oor Ontlaering 2018:

Ontlaering: ’n Herverbeel van die pedagogiek van Afrikaanse letterkunde

Lees meer oor transnasionalisme in die Afrikaanse letterkunde op LitNet Akademies, LitNet en Voertaal:

“’n Postkoloniale Umweltkas”: die vraag na ’n transnasionale poëtika in Afrikaans aan die hand van Marlene van Niekerk se Kaar

’n Transnasionale poëtika in Afrikaans: ’n onderhoud met Louise Viljoen

“’n Pouse tussen oorsprong en bestemming”: Heterochronisiteit en laterale transnasionalisme in Marlene van Niekerk se Gesant van die mispels en In die stille agterkamer

Twintig jaar na demokrasie: Realiteitshonger, die populêre wending en transnasionalisme

Tydskrif vir Letterkunde plaas Afrikaans binne die groter konteks van Afrika deur transnasionale literatuurstudie

Suid-Afrikaanse letterkundes en transnasionale bande: in gesprek met Louise Viljoen

Winternachten fokus al hoe meer op transnasionale gesprek in die letterkunde

Poolshoogte-afsluiting: Nuwe ontwikkelinge in die Afrikaanse literatuurstudie

Lees meer oor witwees:

In my vel deur Azille Coetzee: ’n skrywer wat haarself blootlê sodat ons onsself kan sien

In gesprek oor witwees in Suid-Afrika met Melissa Steyn en Christi van der Westhuizen / In conversation about whiteness in South Africa with Melissa Steyn and Christi van der Westhuizen

The volksmoeder, ordentlikheid and whiteness

Sitting pretty: ’n onderhoud met Christi van der Westhuizen

LitNet Akademies Weerdink: Skottelbraai in Ghoema-land: die grense van Steve Hofmeyr se identiteitspolitiek

  • 21

Kommentaar

  • "Die Afrikaanse letterkunde as establishment verteenwoordig steeds ’n laer, in formasie getrek om dit wat binne is te beskerm teen dit van buite. ’n Strewe na tydlose suiwerheid, gekenmerk deur vrees vir dit wat vreemd is, melankolie oor alles wat altyd reeds anders is." Ek sal bly wees as Azille Coetzee voorbeelde kan gee van onlangse, beduidende tekste wat hierdie ernstige veralgemening kan staaf. En is Ronelda Kamfer werklik 'n skrywer van "buite die laer"? Sy en haar man, Nathan Trantraal, is vanaf hulle eerste boeke deur die literêre establishment omhels.

  • Daar is geen manier waarop die Afrikaanse letterkunde sedert die 1960's as 'n laer getipeer kan word. Skrywers soos Breyten Breytenbach, Andre P. Brink, Bartho Smit en Etienne Leroux se werk is deur die staat verbied juis weens die "volksvreemdheid" daarvan. Dit behoort Azille Coetzee te weet. Maar sy is waarskynlik heeltemal verdoof en verblind deur die gedreun van die akademies-ideologiese gonswoorde in haar kop.

  • Azille
    Ek stel voor julle skryf so spoedig moontlik Die Dao van Daan van der Walt van 'Andries Buys' en beide Hendrik Groen internasionale topverkoper 'blok'boeke voor, wat tersiêre studente se lewensuitkyke oor 'n magdom (dikwels onnodige) kontensieuse onderwerpe te goede kan 'ontlaer' en verander?

  • Ek het Azille Coetzee se tipering van die Afrikaanse letterkundige establishment as 'n (wit) Afrikaner-laer 'n "ernstige veralgemening" genoem. Ek trek dit terug. Dit is 'n ernstige, ongegronde aantyging.

  • Gustaf Claassens

    Die vrou bevind haar in ’n kulturele menopouse. Mens moet (eintlik) nie notisie neem van diegene soos sy wat hulle geroepe voel om met ongegronde en oordrewe veralgemenings donshael op gevestigde Afrikaanse letterkundiges af te vuur nie.

    Wát buite die sogenaamde (huidige) Afrikaanse 'laer' is volgens me. Coerzee so aantreklik wat aangehang en bevorder moet word? En hoekom? Overgesetsynde, wat van die huidige geslag skrywers en digters gee me Coetzee en haar selfaangestelde kruistog-ridders so aanstoot? Vir my lyk dit eerder na ’n identiteitskrisis wat uit ’n soort selfopgelegde skuldkompleks voortspruit. Skep liewer ’n alternatief en oortuig en oorreed die mense daarbuite dat, wat jy ookal voorstaan, dalk beter kan wees as wat tans bestaan. Terloops, me Coetzee se betoog los ’n sterk reuk van ’n verwarde groep individue wat ’n slag vir politieke korrektheid wil slaan. Hoe vervelig en afgesaag het dit nie al geword nie. Om in te wees, het dinge intussen alweer aanbeweeg na nuwe besprekingspunte soos die '4de industrieële rewolusie' en aardverwarming ... Probeer dit op die agenda kry voordat daar weer honderde kilometers gery gaan word om mekaar warm te broei oor dinge wat ongevraagd, moedswillig is.

    Tot dan dink ek dit is beter om die gifpen so bietjie eenkant toe te skuif.

  • Barend van der Merwe

    Dis nou interessant want net verlede week vertel ’n Afrikaans dosent my hulle het nou meer studente as ooit tevore. Mens sal na statistiek oor die saak moet kyk in plaas van anekdotiese waarnemings. Indien dit waar is dat Afrikaanse letterkunde op universiteit minder studente lok, dan wonder ek ook maar so by myself of dit nie in ’n groot mate met die oog op ’n beroep te doen het nie. After all, werk is so skaars en wat doen jy met ’n graad in Afrikaanse letterkunde, behalwe nou miskien onderwys, wat nie vir almal is nie.

  • Dit kan ook beoordeel hoe die dosente oor Afrikaans by ‘n sekere universiteit voel en hoe die Afrikaanse dosente die vak aanbied.

  • Klara du Plessis

    Ek is verstom oor die negatiewe kommentaar op Azille Coetzee se artikel, beide hier en op Facebook waar ek dit eers raakgesien het. Al wat haar artikel regtig sê, is dat Afrikaanse letterkunde bestudeer moet word in 'n internasionale raamwerk, in gesprek met kreatiewe en intellektuele strominge wat nie net insulêr tot 'n denkbeeldige nasionale letterkunde behoort nie. Vir Afrikaans om deel te neem aan 'n groter, breër gesprek oor taal en letterkunde is baie sterker as om vas te val in 'n ouderwetse metafoor van 'n laer.

  • Daar is immer vrugbaarheid te ontgin in nuwerige terreine soos wat Azille betree. En die woordeskat vir sulke nuwerige terreine is nog rou. Daarom kon mens darem so 'n bietjie ruimte vir Azille gun om die weg daar te baan. Vanne soos Coetzee is nie te onderskat nie :-).

  • Henning Janse van Vuuren

    Die dood presenteer in verskeie liminale gedaantes; so is doodverveel een wyse.

    Indien een vir Azazel toegelaat word om weer so ʼn relaas op die niksvermoedende publiek los te laat, meld ek sonder verwyl ʼn klag van poging tot moord teen haar en US by my naaste polisiekantoor aan.

    Hans Pienaar skryf die volgende op Voertaal (lees die volledige artikel hier: https://voertaal.nu/bestaan-suid-afrika-nog):

    “En is die regbank van die Konstitusionele Hof bevoeg om uitspraak in die saak tussen die twee te lewer? In watter mate het hoofregter Mogoeng Mogoeng se oorhandiging van ’n Bybel aan Ramaphosa tydens sy inhuldiging sy onpartydigheid gekompromitteer?

    ...

    Die groter kwessie is soewereiniteit: Wie gaan die sweep klap? Waar gaan die grens tussen Zimbabwe en Suid-Afrika wees? Al wat ons weet, is dat die Chinese die sweep gaan maak.

    Die vakansie kuier ek by ’n boer. Hy vertel van ’n Zimbabwiese groepie wat besig is om ’n vakbond te organiseer onder sy werkers en gesprekke hou oor grondgrype. Hy reken hulle is net desperaat: Hulle sal enigiets doen om hul teenwoordigheid as werkers teenoor hul xenofobiese kollegas te regverdig. Die Suid-Afrikaanse werkers laat hul dit welgeval.

    Maar hoe affekteer dit die soewereiniteit van die plaaslike politieke diskoers?”

    Ek wonder hoe ʼn Matie op relevante debatvoering sou reageer. Daar is tog sekerlik ʼn gesubsidieerde lugverkoelde ruimte vir prominente meningsvormers.

  • Klara, dit is presies waarteen ek beswaar maak: dat Azille Coetzee vasval in die ouderwetse, ongeldige metafoor van die laer. Nog die Afrikaanse skrywers nog die literatore nog die taalkundiges maak hulle aan 'n laermentalitiet skuldig. As sy so dink, moet sy bewyse verskaf.

  • Barend van der Merwe

    @Klara du Plessis

    Ek dink die kritiek is redelik gegewe die argumente in die artikel - en dit nogals met geen praktiese voorbeelde nie. Mens kan nog baie name voeg by die wat Daniel Hugo hier bo noem. Wat van Eben Venter? Marlene van Niekerk? Marita van der Vyver? En so aan en so meer. Om te wil beweer dat al hierdie skrywers laer trek val nogals vreemd op die oor. Dit klink vir my ook maar bietjie na 'n "sweeping statement".

  • Heinrich Matthee

    Wat Afrikaanse poëtika aan betref, bou Coetzee ’n strooipop, uiteraard genderneutraal. Volgens Louise Viljoen (onderhoud Linet, 25 November 2019) is dit waarvoor Coetzee vra reeds daar: “Ek dink daar is byna nie ’n digter in Afrikaans wie se werk nie berus op ’n transnasionale poëtika nie – die meeste Afrikaanse digters is beïnvloed deur poëtikale opvattings en intellektuele tradisies wat uit ’n groter wêreld as net die Afrikaanse of die Suid-Afrikaanse kom (hetsy Europa, die Ooste of Afrika).” Van daardie digters het in Stellenbosch en Pretoria gewerk en geskep, en doen dit steeds.

    Wie vandag werklik liminaal en transnasionaal wou werk, sou dalk ook die identiteitspolitiek en Lager lite moet hanteer wat die reël eerder as die uitsondering is by baie wêreldmagte: Bolsonaro-Brasilië, Poetin-Rusland, Hindoe-nasionalistiese Indië, assertiewe China, om maar net die ANC se voorkeurbondgenote te noem. Hoeveel aandag gee hulle aan die stammekoalisie van vroulike, queer, jeugdige, swart of bruin deelidentiteite?

    Coetzee se skrywe gaan steeds mank aan die absolutistiese toon oor witheid en manlikheid wat Lindie Koorts reeds genoem het (resensie LitNet, 14 Augustus 2019). Die deelidentiteite van manlike wit Afrikaners is die hoofteiken, en daarteen word ’n redelik kunsmatige stammekoalisie van vroulike, queer, jeugdige, swart of bruin deelidentiteite opgestel. As mens sulke eendimensionele karakters en kampe in ’n verhaal sou opdis, sou dit onder strooilektuur moes val. Is daar nog ’n regmatige plek vir ‘n eiesoortige Bennie Griessel in haar skryfwerk? En is dit sonder so 'n regmatige plek werklikheidsvreemd, propaganda of iets gehaltevol?

    Ek lees graag Coetzee se skrywes, en sy maak ’n geldige punt oor die spanning tussen literatuur en mense se belewenis. Maar daardie gapings en wisselwerkings is van alle tye. Lesers onder die Afrikaners en Afrikaanssprekers het dit ook in verskillende ordes beleef, of steeds. Waarom benoem sy nie ook hulle ervarings nie?

    Desentralisering van kennis is lofwaardig. Die Qwa-Qwa-toer ook. Is die plek of die magsposisie waar iets geskryf word egter ’n waarborg vir groot skryfwerk? Vir diegene wat steeds die Kaapse flikkerligte verkies: talle groot Franse skrywers gaan ook nie binnekort Parys verruil vir Craponne nie.

  • Gustaf Claassens

    Klara du Plessis se digbundel "Ekke" wat ek tydens die Vrystaatse Kunstefees gekoop en gelees het, is puik. My indruk was dat dit 'n jong nuwe stem met hope talent is. Iemand wat 'n sterk aanvoeling vir filosofie het en met teenstellings speel wat goed werk. Die bundel mag dalk oorwegend Engels wees maar die wyse hoe Afrikaans geïnkorporeer word, is slim en treffend.

    Na Azille Coetzee se betoog het ek JUIS GEWONDER of sy Klara du Plessis se bundel onder oë gehad het. En, of dit volgens me. Coetzee ook iewers in die "laer" tuishoort waarna sy smalend verwys. Natuurlik sou dit twak wees en dis die rede hoekom baie hier, ondermeer mnr. Hugo, ook vra vir opheldering.

    Me. Coetzee begin haar stuk hierbo so: "Soveel Afrikaanssprekende studente wat jonk is, swart of bruin is, queer is, vrou is, stel vandag nie daarin belang om die Afrikaanse letterkunde te bestudeer nie. Sommige Afrikaans-departemente aan universiteite moet op veldtogte gaan om studente te werf. Die studente dink Afrikaanse literatuur is simpel, of hulle vind dit vervreemdend, onderdrukkend, en onmoontlik om hulself en hul eie leefwêrelde daarin te herken." - Aldus me. Coetzee.

    Hoe mens dit ookal lees, die innuendo is duidelik dat ons laer- mentaliteit skrywers het, dat dit 'agter die tyd' is en glad nie aanklank vind by die groepering mense waarna sy verwys nie. Een groep wat me. Coetzee nie by die naam noem nie, maar natuurlik op sinspeel, is natuurlik die een van wit, middeljarige Afrikaanse mans." 'n Polities gedrewe slagspreuk wat uiteraard oordrewe en kwaadwillig is en in die konteks van ons skrywers, digters en literatore, min of geen meriete het nie....... Inteendeel, totaal afgesaag en oorbodig.

    Die realistiese afleiding is dat voornemende skrywers en digters liefs vir, soos sy dit stel, die wat "swart of bruin is, queer is, vrou is," moet skryf want hulle stel nie belang daarin om "vandag se letterkunde te bestudeer nie." Haar veralgemening waarby sy wit jong mense insluit, dink ek is ook erg oordrewe.

    Wat my laat wonder. Behoort daar volgens haar voortaan meer vir spesifieke teikengroepe geskryf te word. En dan meer pertinent, vir haar groepering mense? Waaroor moet die teks gaan en hoekom? Meer nog, niemand staan in die pad van enige iemand om juis dít te doen nie. Trouens, dit sal goed wees maar hoekom dit so voorskriftelik probeer maak en ten koste van ander? Mense skryf wat hulle wil skryf en daarvoor het hulle redes of selfs geen spesifieke rede nie. Moet ons nou doelbewus skrywers en digters afraai om te doen waarvan hulle hou en eerder volgens 'n agenda te werk wat me. Coetzee en haár geesgenote voorstaan? Wat sal die kriteria van so iets anders wees as een met 'politiese ondertone' wat 'n polities korrekte agenda dien.

    Hoekom nie eerder in die algemeen praat en gesels nie maar dit dan aan individue oorlaat om te skryf wat op hulle harte is. Skep eerder 'n en-en' situasie in plaas plaas van 'n 'en-of' een. Daar's plek en ruimte vir almal en Afrikaans is lankal besig om "lug" te kry. Maak eerder 'n tasbare bydrae as om dit wat is, verdag te maak.

  • Dekolonisasie, Klara, is 'n wyer begrip as ontlaering wat spesifiek op (manlike) Afrikaners gerig is. Dekolonisasie sluit ook die Engelse van hierdie land in.

  • Klara du Plessis

    @Daniel Hugo Baie interessant. Daar leer ek nou iets. Alhoewel die digter in my dink dat "ontlaering" eintlik 'n besondere goeie vertaling kon gewees het.

    @Gustaf Claassens Dankie vir jou positiewe opmerkings oor "Ekke"- ek waardeer dit dat jy my werk gelees het!

  • Klara, ossewa-laers het alles met die Voortrekkers en die stryd teen die swart inheemse bevolking te doen. Dink maar aan Bloedrivier (1838). Dit is 'n besonder gelaaide term. Deesdae verwys "laer trek" veral na Afrikaanse wit mense wat nie deel wil wees van 'n inkliusiewe, demokratiese bedeling nie - om dit op die Afrikaanse letterekunde van toepassing te maak is doodgewoon moedswillig of onkundig of albei.

  • Piet Prinsloo

    In haar verslag oor die Ontlaeringskongres op die QwaQwa-kampus van UV, verklaar Azille Coetzee: "Om oor ontlaering te dink is anders as te ontlaer. En makliker." Dit is die reine waarheid. Die kongresgrangers het elke aand met groot moeite op Clarens gaan slaap - stadsjapies se gewilde naweekuitspanplek wat nes Melville na ou kookolie ruik - in plaas van in die omgewing van die kampus waar inwoners in opstand kom omdat vir jare al geen krag en water is nie.

  • Waldemar Gouws

    Geagte me Coetzee, sonder om 'n voet in die veld van planttaksonomie te sit, wil ek beswaar maak teen u beskrywing van penwortels as synde totaliserende en verdringende geaardhede te hê. Ek breek dus 'n (falliese) lansie vir die boontjie, die kapokbossie en die kiepersol. Die geelwortel is in staat om vir haarself te praat.

    Ook wil ek graag drie name van "laerskrywers" op papier sien, gepaard met drie titels van "laerwerke" sodat ons almal op dieselfde bladsy kan wees.

    Groete

    Waldemar

  • Spook Speurder

    Ek het jou seminaar geniet. Dit lê ‘n onsekerheid van jonger vrae wat nuut in my kulturele oog spartel. Die Afrikaanse literatuur is oor eeue gebore en jul kongres dui op verdere oplewing. Ons ervaar reeds 'n heropbloei in die huidige eeu teen die onderdrukking van die regering in en met die stadige herstel van die ‘mentalitiet van die verslaandes’ nou elders op Litnet deur FR van Dyk beskryf.
    Ja, dankie vir die beeld. Ons betree die liminale spasie waaruit bestaan voortvloei. Ons verhouding daarmee is individueel maar ons is elk aan allerhande groepe verbonde. Liminaliteit beskryf 'n verdere stap, vanuit eksistensialisme, waarin die onbekende betree word en as reëel erkenbaar ervaar word. Die self alleen nou vry om in ‘ngroep te stap. Die establishment van Afrikaanse literatuur werk ook liminaal maar om die spore wat reeds getrap is, beskermend en behoudend per definisie maar ook voedend soos ek voel jul doen..
    Die literatuur maak die geskiedenis sigbaar maar as ons onderskeidingsvermoë nie betwyfel word nie maak ons verkeerde nuwe definisies daarmeesaam. Ons taal ons vak strek die onsigbaarheid in en uit. Dis 'n boom beide meerpennig en sywaarts van wortel, vroulik manlik en ook seksloos soos 'n boom dierloos. Ek glo die liminaliteit wys lewenskragtigheid en spruit uit hoe na aan die taal bron ons is, hoe wakker daartoe en besig daarmee.
    Ek waardeer jou erns met die literatuur establishment en pedagogiek en ek wens daar was befondsing vir jul kongres beskikbaar gewees. Dis sou sekerlik 'n klein happie uit 'n gewillige sakappel gevat het.
    Die betrokkenheid van identiteitspolitiek by die Afrikaanse literatuur se ontlaering is interessant. Toe die etniese minderheid Afrikaners in die laaste eeu, die hele eeu lank en vanaf voor 1900 tot na 1999, teen twee magtige laers van meerderhede opgestaan het, is hul daarvoor deur die wêreld-as-meerderheid vermorsel. Die twee magte floreer steeds as WMC en EMES (een-mens-een-stemmers) alhoewel ek voel dat kapitaal kleurblind en noodsaaklik soos privaatheid ook is, WMC daarom 'n halwe waarheid.
    Graag wil ek uitvind hoekom 'n strewe na suiwerheid altyd verdag is, ek wil nie raai nie. Ek voel beide die mens en hul laer word misvat. Die laer was die gevolg van 'n skerp beplande strategie wat uitgewerk en geskep is toe lewensgevaar jou in die oog kom staar het. Dit was soos meeste groeperinge tydelik maar genoodsaak en briljant en die mense binne in die laer destyds was uit in die wilde oopte, ja, op pad weg van onderdrukking na 'n menslik meer suiwer omgewing, maar ook oorgegee aan en oop tot ontmoeting en ommegang met die wildvreemde.
    Ek aanvaar dat jy ‘die Afrikaanse letterkunde as establishment’ se laer kan sien. Dit vorm mi deel van die vrug van die twintigste eeu se aanvalle van verskeie oorde binne en buite die laer af. Ek kan dit swaarlik anders sien as wat ek myself as ervaar, enkel en onbekend verskuil, tog hier, 'n geboorte in beskerming van self verskans.
    Vele ryk kommentaar is hier bo gelewer. Daaroor sien ek jou skrywe en jul werk saam as 'n reddingspoging om heling na 'n gebroke samelewing, met die klem op die jeug, te bring. Hoeveel van die laager mentalitiet in die literatuur establishment lê en hoeveel in projeksie lê onduidelik tussen jou en jou kommentators.
    Sover die wortel wil ek verder as die skatlike Waldemar gaan en manlikheid as penwortel aan iets anders as die se seksualitiet koppel, in erkenning daarvan dat die nuwe ervarings van kinders wie geslagsrypheid betree met baie meer as geslag op daai jong ouderdom te doen het. Nou eers kry emosie en intellek voet en vleuel, pen en graf.
    As kindertjies van meet af aan en deur die eerste sewe skooljare lank meer dmv kuns eerder as intellek leer lees, skryf en menswees, is jy meer deeglik voorberei vir die gesonde ontvang van jou emosionele en intellektuele self, hier waar jy nou jou stem begin vind.
    My vroegste duidelike herinnering aan leeservaring is as die Rooi Ridder. Later was daar die liggaamsoefeninge onnie se cowboys en kroeks en is ek ook meer deur my ma se leesboeke beïnvloed, my pa s’n te swaar vir my kleine koppie dus Mills & Boon. Elk van hierdie vroeër gevalle was van 'n moreel reële wêreld wat ek vrylik met morele verbeelding kon betree en beleef met die herkoms van karakter maar veral skrywer onsigbaar tot my jong verwondering. My menslike omgewing het dit my so kon toelaat en eers later het ons meer gemeng, mekaar ten goede en slegte beïnvloed; Shakespeare oa was goed, natuurlik Engels.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top