Tans gons die land oor die “Die Land”-musiekvideo, Steve Hofmeyr en MultiChoice.
LitNet het vir Kees van der Waal gevra om vergelykend oor die “Die Land”-musiekvideo en die “De la Rey”-lied, ook ’n uitbeelding van Afrikanerwees in Afrikaanse musiek, te besin.
- Die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel “De la Rey, De la Rey, sal jy die Boere kom lei?” het tien jaar gelede verskyn.
Waar bevind Afrikaners hulle in 2019? “Behoort” die Afrikaner in Suid-Afrika?
Opmerklik in die nasleep van die uitsluiting van Steve Hofmeyr by die Ghoema-toekennings vir Afrikaanse musiek (17 April 2019 in Pretoria) op grond van beweerde rassisme was die Suid-Afrikaanse stormpie daaroor vlak voor die nasionale verkiesing van 8 Mei 2019.
Afrikaanse sangers het uit ondersteuning van Steve die toekenningsgeleentheid geboikot en sy seun het die verrigtinge probeer ontwrig (Laubscher 2019). Op Facebook wys ondersteuners van Steve toe hoe hulle die mees voorhande simbole van MultiChoice, die hoofborg wat die boikot afgedwing het, woedend vernietig.
In videogrepe sien jy hoe DStv-skottels braai nadat Steve R10 000 as ’n prys uitgeloof het vir iemand wat sy voorbeeld van vernietiging van ’n skottel volg (Folb 2019).
Waarvandaan hierdie dramatiese woede-uitings en waarop dui dit?
Sommige kommentators en die Freedom of Expression Institute (Grobler 2019; Scholtz 2019; Van Niekerk 2019) sien die uitsluiting van Steve se musiek deur MultiChoice as sensuur en vergelyk dit met die 1970’s.
Maar destyds was dit ’n regering wat uitgesluit het, nou is dit ’n groot mediamaatskappy, wat slegs oor sy eie kanale en publikasies beheer het. Natuurlik het dit ’n negatiewe effek op ’n kunstenaar se inkomste en is dit ongewild onder ’n betekenisvolle deel van die gebruikers, maar dit is tog iets anders as staatsensuur.
Die werklike aanleiding tot die uitsluiting van die “Die Land”-musiekvideo (Solidariteit 2018), benoem vir die toekenning as beste musiekvideo, uit die Ghoema-toekennings van 2019 en al Steve se werk uit MultiChoice se programme, was nie “Die Land” self nie, al het hierdie liedjie van Steve en sy vier musiekvriende seker daartoe bygedra.
Die lirieke, die visuele beelde en die musikale vorm van die musiekvideo is ’n nostalgiese, melankoliese en melodramatiese vertolking van wit Afrikaanssprekendes se historiese en mitiese verbondenheid met en besit van die Suid-Afrikaanse landskap.
Die gebruik van kerkorrel-agtergrondmusiek bevestig die plegtigheid van die boodskap: “Die land behoort aan jou”. Die woorde van “Die Land” is die volgende:
Waar gaan jy speel met jou maatjies?
Waar gaan jou spore toewaai?
Waar gaan jy val, gaan jy opstaan en huil,
En waar gaan jy staar na die sonsak wat myle strek?
Wat los ons oor vir ons kinders?
Wat gaan ons eendag kan wys?
Wat is nog reg of verkeerd, wil ek weet?
Wat maak ons as jare se sweet te vergete gaan?
Ek los vir jou die son en die see en die land my kind
Belowe jy sal my aan die einde vind.
My vlag sal aanhou waai en die sade sal ek saai vir jou, en jou veilig hou.
Ek los vir jou die son en die see en die land my kind
Die Here hoor my – ons sal ’n lewe vind.
My vlag sal aanhou waai en die sade sal ek saai vir jou.
Ek belowe jou
Die land behoort aan jou. (Maroelamedia 2018)
Dit verbind die verlede, hede en toekoms van Afrikaners in terme van ’n apokaliptiese en onuitgesproke bedreiging van grondbesitreg.
Dit is veral ’n projeksie van ’n aanspraak op ’n historiese identiteit as grondbesitters wat nou onder bedreiging is. Dit is ’n versugting dat die toekoms soos die verlede moet wees.
Al die meestersimbole van Afrikanerskap is in die visuele beelde van “Die Land” sigbaar: die landelike bestaan van wit mense (nou grootliks verstedelik, maar nog simbolies en kultureel daarmee verbonde), patriargale verhoudings, wit manlikheid en die paternalistiese verhoudings met swart werkers.
Op verskeie vlakke is die opspraakwekkende “Die Land” (2018) en die “De la Rey”-liedjie (2007) vergelykbaar.
Beide werk sterk met visuele en musikale nostalgie en gebruik Bok van Blerk, maar in “Die Land” is Steve die hooffiguur (self ’n sterk simbool van wit Afrikanerskap, soos De la Rey, maar sonder laasgenoemde se historiese onskuld aan apartheid).
Albei liedjies is op die verlede gebaseer met implikasies vir die toekoms, maar “De la Rey” was indirek meer op die hede gerig (“Sal jy die Boere kom lei?”), terwyl “Die Land” uitdruklik na die toekoms vra.
In “De la Rey” was daar ’n sentrale historiese figuur met al die assosiasies van die Anglo-Boereoorlog. Die spelers in “Die Land” is veral hedendaagse wit mans, bakkie en al, maar ook wit en swart seuns met hul draadkarre, swart plaaswerkers en ’n wit vrou.
In “Die Land” gaan dit nie oor ’n enkele historiese figuur nie, maar oor die verhouding van wit Afrikaanssprekendes tot grondbesit, dus ’n meer abstrakte begrip wat deur die spelers vergestalt word in die hedendaagse plattelandse landskap.
Albei gebruik Afrikaners se vermeende slagofferskap, vrees vir die toekoms en ervarings van uitsluiting om subtiele boodskappe vir politieke mobilisering oor te dra. “Die Land” sluit aan by wat in die letterkunde “die plaasroman” genoem word: ’n nostalgiese wit Afrikaanse identifisering met die plattelandse landskap as ’n plek van histories-verworwe regte, pionierskap en ’n Christelik-nasionale lewenswyse.
Die uitgangspunt en doel van hierdie denkraamwerk is die belang van ’n eksklusiewe groep: wit Afrikaanssprekers. In die konserwatiewe Afrikaanse populêre musiek is daar wel ruimte vir ’n swart stem wat die Afrikaanse liedjies goed kan sing (Refentse Morake), maar nie vir die kritiese en kreoolse stemme van bruin hip-hop nie (Pauw 2019; Lätti 2019).
Wit Afrikaanse populêre musiek weerspieël, en miskien vorm dit ook die konstruksie van, ’n homogene en eksklusiewe wit, Afrikaanse identiteit (Marx en Milton 2011:726, 727). Daar is ook ’n ekonomiese (klas-) faktor ter sprake: Afrikaners is meestal die teikenmark vir Afrikaanse kommoditeite (boeke, CD’s, ens.).
Steyn maak ’n raak opmerking oor die sikliese selfbevestiging in hierdie mark: “The implication is that many of the domains in which Afrikaans language commodities are produced, sold and bought have become Afrikaner-majority enclaves, where Afrikaners can continue to construct themselves and their collective identities through acts of consumption” (2016:494).
Die groeiende mark in Afrikaanse nostalgiese produkte ná 1990 het Steve laat oorslaan van Engelse songs na Afrikaanse liedjies en die bewustelike gebruik van nostalgie om die mark te ontgin (Hofmeyr 2014). Dit is immers ’n tyd wat deur Michael Titlestad ’n “contemporary recapitalization of Afrikaner mythology” genoem word (2016:71). Hiermee kan ’n man ’n loopbaan bou.
In “Die Land” kry ons veral indirekte boodskappe en dubbelsinnigheid, anders as in “De la Rey”, waar die boodskap ook subtiel, maar baie duideliker was. Dit gaan in “Die Land” oor “ons land”, maar wie die “ons” is, is duidelik slegs uit die konteks, die taal en “kleur” van die spelers en die periferale rol van die enkele swart spelers: plaaswerkers in werksklere, ’n flits van ’n swart maatjie saam met ’n wit seun.
In “De la Rey” was dit duidelik dat die liedjie handel oor ’n versugting na ’n eerbare leier wat Afrikaners kan kom lei. Afrikaners in die hede word immers (so is die veronderstelling) vir al die ongeregtighede van apartheid verkwalik.
Daar is ’n rede vir die groter dubbelsinnigheid in “Die Land”. “De la Rey” is in ’n ander tyd vrygestel, toe daar veral op Afrikaner-slagofferskap gefokus is (uitsluiting uit geleenthede deur swart bemagtiging, druk op Afrikaans in die onderwys, naamsveranderinge en dergelike meer).
Die liedjie met sy populêre walsmelodie het vinnig wyd versprei en ’n tydelike simbool vir Afrikanerskap en weerstand teen ANC-politiek geword. “Die Land” het nie daardie potensiaal nie en die liedjie sal waarskynlik vinniger na die kollektiewe geheue wegsyfer. “Die Land” is in sigself nie so ’n belangrike liedjie nie. Ook het Steve, as selfverklaarde skoorsoeker, al verskeie meer omstrede dinge aangevang as om in hierdie video op te tree.
Is die hype om “Die Land” dan maar bloot deel van die polarisering wat saam met ’n verkiesing gaan?
Een belangrike aspek van “Die Land” is dat dit ’n beplande openbare stellingname is. Dit is deel van ’n 2018-aksie van Solidariteit wat saamgaan met ’n “plegbelofte” ter mobilisering van Afrikaners rondom die voortslepende en rasverdelende gronddebat.
Gegewe die ANC se voorneme om vinniger te vorder met die herverdeling van grond, is die reaksie van so ’n regse organisasie begryplik. Daarom is hierdie liedjie, met lirieke geskryf deur Johan Oberholzer, as onderdeel van Solidariteit Helpende Hand se “Die land behoort aan jou”-veldtog geskep en versprei (Solidariteit 2018).
Maar alhoewel dit die liedjie op die regterflank van die spektrum op die politieke mark plaas, is ook dit nie voldoende rede vir Steve se uitsluiting deur MultiChoice nie, al mag dit daartoe bygedra het.
Nou wat het dan tot Steve se uitsluiting gelei, as dit nie “Die Land” was nie?
Vir my lei die spoor vanaf Steve se uitsluiting uit die Ghoemas in eerste instansie terug na Panyaza Lesufi se reaksie op Steve se 2014-twiet oor swart mense as argitekte van apartheid wat in die weke voor die Ghoema-debakel weer opslae gemaak het toe dit in die sosiale media herversprei is.
Lesufi het daarna, kort voor die Ghoema-toekenning, ’n sistematiese twietveldtog gevoer om die borge van die jaarlikse Afrikaans is Groot-konsert daarvan te laat wegstaan, juis omdat Steve daar sou optree. Lesufi, as prominente ANC-politikus en minister van onderwys in Gauteng, het met sy suksesvolle druk op MTN, Coca-Cola, Emerald Resort, Toyota, Media24 en MultiChoice effektief ’n wit Afrikaanse simbool van Afrikaner-slagofferskap en rassistiese verwoording uitgeskakel (Mjo 2019). Eina.
Oor die algemeen het wit Afrikaanssprekendes baie ruimte om hul ding te doen en om te gedy, maar hier is ’n gevoelige slag teen Steve geslaan en dit raak ook sy ondersteuners negatief. Die maatskappye wat onttrek het uit Afrikaans is Groot en Steve se werk boikot, weet dat hulle met ’n magtige ANC te doen het en dat die simboolpolitiek van Afrikaner-witheid nie vir hulle werk nie, veral nie deur assosiasie daarmee nie.
Dat die boikot van Steve se werk nie teen Afrikaans gemik is nie, word deur Toyota se borgskap van die Woordfees vanaf 2020 bewys (Du Toit 2019). Die twiet-ingreep van Lesufi was op die oog af uitermate suksesvol en het sy posisie binne die ANC dalk versterk, en ook die ANC se sterk arm gewys op die veld waar die EEF gewoonlik die leiding neem, maar die onlangse verkiesingsuitslae, met die aansienlike groei van beide die VF+ en die EFF laat ’n mens wonder of dit nie dalk ’n teenproduktiewe ingreep was nie. Eina.
Steve Hofmeyr is in die middel van hierdie politieke toutrekkery en het in die afgelope jare ’n sentrale simbool van Afrikaner-identiteitspolitiek geword weens die “frustration experienced by a newly politically emasculated white Afrikaner constituency stripped of historical party political platforms” (Van der Merwe 2015:227, 228).
Steve is sedert 2012, toe die Ghoema-musiektoekennings begin het, gereeld daarmee vereer. Hy vergestalt ’n onverwerkte politieke verlede, gekenmerk deur kolonialisme en apartheid, en dra by tot die misplaaste soeke na ’n trotse Afrikanerskap om die aandag van ’n uitgediende kollektiewe witwees af te lei.
Steve het 10 boeke in Afrikaans geskryf, waaronder twee oor homself, 200 Afrikaanse liedjies geproduseer, 15 uiters gewilde Afrikaanse musiekalbums uitgegee (altesaam 30 in Afrikaans en Engels), en in 10 Afrikaanse rolprente, asook in verskeie TV-reekse opgetree.
Hy het al meer as twee miljoen van sy liedjies verkoop en is in talle opsigte baie suksesvol. Hy is deur sy blogs, twiets, talle optredes en uitsprake rondom die ou vlag, die ou volkslied en oor ras omstrede tot die mate dat hy al talle kere deur maatskappye en feesorganiseerders agtergelaat is as te uitgesproke polities regs.
Ten spyte van die jongste aandag aan sy openbare rol gaan die FAK hom in September 2019 vereer met hul hoogste toekenning, die FAK-prestigetoekenning vir 30 jaar se bydraes tot Afrikaanse musiek (Die Burger, 29 April 2019) en bly Afrikaans is Groot en Solidariteit hom steun.
Steve sal die jongste debakel kan oorleef en terugbons. Al het David Kramer in 2017 ’n prys geweier weens Steve se deelname, kry Steve die steun van die meerderheid Afrikaanse popsangers en die publiek (Lätti 2019). Populisme en etniese nasionalisme is immers ’n groeibedryf in ’n toenemend bedreigde en onseker land, vasteland en wêreld.
Maar dit bring ons by die wyer prentjie. Hoekom is daar hoegenaamd soveel aandag op Steve en waarom het hy aansienlike invloed op wit Afrikaanssprekendes?
Daar is ’n gehoor – wit, Afrikaanssprekend en honger vir simboliese bevestiging in ’n sosiaal-politieke konteks waarin witwees toenemend bevraagteken en dekolonialisties gekritiseer word.
’n Vermeende etniese samehorigheid wat deur die ou Suid-Afrika gevoed is, stoom nog voort in baie wit Suid-Afrikaners se bewussyn. Dit is ’n denkraamwerk waarin die verlede beter lyk as die hede (nostalgie oor Afrikanergeskiedenis en die apartheidsverlede) en wittes die kwesbares, die slagoffers, is van swart mense se emansipasie (rasdenke en rassisme).
Hierby hoort veralgemenings oor “groepe”, “rasse”, “etnisiteit”, “taal” en “kultuur”. Voortgesette gebruik van raskategorieë en die ervaring van afsonderlike woonbuurte en instellings bevestig die denkraamwerk wat rondom “verskille” sentreer. Hierdie is nie soseer net Steve se probleem nie, dis die land s’n. Hy het ’n gewillige gehoor, en hierdie gehoor en sy ervaring van witwees verskaf die denkbeelde waarmee hy dan verder liedjieboer. Die verskille-denkraamwerk kom op baie plekke na vore: die Stellenbosse artikel oor bruin vroue se denkvermoë (Niewoudt ea 2019) is ’n meer onlangse voorbeeld daarvan.
Die probleem is dat die minderheidspolitiek van wittes met slagofferskap as enigste verweer ’n verdoeming is tot ontuisheid op enige plek anders as op eie werf en ’n veroordeling tot ’n swart gat van negatiewe energie tydens die patrollering van die grense van groepsidentiteit.
Identiteitspolitiek gebaseer op “kleur” is egter nie ’n wit prerogatief nie; die reaksie van swart nasionalisme op wit oorheersing en bevoorregting is soortgelyk.
Swart rasse- en kulturele essensialisme (oorveralgemening) wat wel as ’n reaksie op apartheid in die nuwe bedeling voorkom, dra by tot die wit teenhanger se voortbestaan. Soos wat wittes vervreem word in die nuwe Suid-Afrika, het hulle soms rede om onwelkom te voel en óf die land te verlaat óf in wit enklawes te semigreer (onttrekking na binne soos in Solidariteit) waar Melissa Steyn se treffende konsep van ’n “ignorance contract” geld (Ballantine 2004:123, 124; Steyn 2016:499; Van der Merwe 2015:231).
Steve se assosiasie met die dominante Afrikanerdenke lei tot sy beeld van strakke konserwatisme, soos verwoord deur Broodryk: “Steve Hofmeyr continues to embody a past-centric, singular Afrikaner identity that refuses to correspond to socio-political South African realities in ways that encourage dialogue and debate in a constructive manner” (2016:71).
Is die wit identiteitspolitiek van Steve, sy maats en sy ondersteuners sodanig dat hulle nie uit die vasgeverfde hoek kan ontsnap om ’n gedeelde Suid-Afrikanerskap te bereik nie?
Ek wil beweer dat die talle teenstrydighede, liminale (grens-) posisies en dubbelsinnigheid in Afrikaners se grensafbakenings rondom die verskille-denkraamwerk krake gaan veroorsaak wat wel ontsnaproetes sal verskaf. Dit is waar van alle fundamentalistiese en essensialistiese standpunte.
Hier is ’n paar moontlike krake om oor na te dink:
- Afrikaans is in die openbare debat nie meer in die eerste plek ’n wit taal soos wat dit in die pre-1994 dae was nie. Taalvegters maak ruimte vir bruin leiers, erken die demografiese meerderheid van bruin Afrikaanssprekers, en die debat oor Afrikaans se herstandaardisering is oop en lewendig. Steve se ondersteuners vra hom waarom sy kinders Engels praat en hy antwoord dat hulle hul moedertaal gebruik. Die grense het geskuif en Steve is ’n simbool van taalverskuiwing, maar die aandag is nie daarop nie; hy bly voorlopig eerstens ’n Afrikanersimbool.
- “Die Land” maak hoofsaaklik van beelde gebruik waarin wit mense figureer, maar dis nie uitsluitlik wit nie, anders as in die geval van soveel ouer musiek en liriek. Al word swart mense slegs as plaaswerkers in die musiekvideo aangebied, is hulle tog vlugtig daar en kry sodoende erkenning as mede-Suid-Afrikaners, iets wat in die ou Suid-Afrika nie nodig sou gewees het nie. In Solidariteit Helpende Hand se veldtog en “plegbelofte” word alle Suid-Afrikaners opgeroep om deel te neem. Dis inklusief, maar die oproep is slegs in Afrikaans, en daarom weer eksklusief, dus dubbelsinnig. Solidariteit en die VF+ praat ook liewer van “minderhede” as van “blankes”, omdat dit beter in die nuwe Suid-Afrika werk om nie ras te openlik op sy naam te noem nie. Die VF+ het selfs ’n bruin politikus hul premierskandidaat in die Wes-Kaap gemaak in die jongste verkiesing. Witwees is versigtig besig om sy regterflank oop te maak.
- Toe Steve destyds gedreig het om die k-woord te gebruik, het hy dubbelsinnigheid gebruik: hy dreig met iets wat hy nie werklik sal doen nie. Dis soortgelyk aan die politiek van die EFF en ander politieke spelers wat deur omstredenheid spanning wil opwek om aandag op hulleself te vestig. Die dubbelsinnigheid kom ter sprake by die ontkenning van dit wat die publiek of teenstanders verwag. Dis iets waarmee Trump ook baie suksesvol is. Hierdie strategie dui op die onvolhoubaarheid van ekstreme aansprake wat sodoende tot ’n persepsie van standpuntverskuiwing bydra.
- In Steve se 2014-twiet: “Swartmense is die argitekte van apartheid, go figure” (Mjo 2019) het hy sy sosiale-kommentator-rol gespeel met soveel moontlik spanning en dubbelsinnigheid daarin opgesluit. Die reaksie is bekend, maar is die enigste lesing van sy twiet noodwendig dat hy na pre-1994 verwys? My indruk is dat Steve herhalend ’n argument voer dat die huidige ANC-bewind se optrede lei tot die versterking van rassespanning. Dit noem hy ook apartheid (verwysend na die hede, bv Hofmeyr 2018, deel 5). Steve spreek hom gereeld uit teen die vorige bedeling se foute (bedoelende “klein apartheid” en menseregte-vergrype), maar vergelyk terselfdertyd die huidige nasionale administrasie se tekortkominge met die ou bedeling se veronderstelde meer effektiewe bestuur. Hy sien die vorige bedeling se beleid van veelvolkigheid as in wese natuurlik en goed (Hofmeyr 2018). Dubbelsinnig, nie waar nie, en dalk deel van ’n strategie om onvoorspelbaar en skokkend te wees? Steve is deurlopend in die openbare oog en tree dan bewustelik as moedswillige akteur op met ’n uitgesproke persona wat ex cathedra-uitsprake maak: as die persoon wat weet. Sulke uitsprake, soos sy apartheid-twiet, is egter gewaagde woordeksperimente met onvoorsiene gevolge. Maar dis nie heeltemal wat die ANC-leiers vermoed dit is nie en ook nie heeltemal wat die mees ekstreme regse Steve-ondersteuners dink dit is nie. Steve is meer kompleks as dit. Go figure.
- Dit help nie om Steve in te boks en hom te probeer verstaan slegs uit sy liedjies, blogs en twiets nie. Sy outobiografie (Hofmeyr 2008) en TV-onderhoude met Ernst Roets van AfriForum (Hofmeyr 2018, deel 1–5) vertel nogal ’n ander verhaal. Sy lewenservaring is vol diversiteit: een oupa was ’n leier van die Stormjaers in die Ossewabrandwag en ’n Rhodes-student; maar een ouma was ’n kleinkind van generaal Louis Botha; en hy is deel van ’n familie waarvan sommige Nattes en ander Sappe was. Sy huislike ervaring as kind het die elite en die laer middelklas ingesluit wat vir jare nie ’n eie huis kon bekostig nie. Hy het aanvanklik net Engelse liedjies geskryf. Hy was ’n lid van die Engelssprekende Metodistekerk tydens sy Grey Kollege-jare. Hy is met ’n Engelssprekende vrou getroud. Hy is trots op sy foto’s saam met prominente swart leiers (Mandela, Zuma, Lekota), ondersteun die nuwe Grondwet van Suid-Afrika en voel hom aangetrokke tot randfigure. Hy het baie oor musiekmaak geleer by ’n bruin kitaarspeler in ’n restaurant waar Steve ’n kelner was en beskou bruin mense as deel van die Afrikaners. In die koshuis van Pretoria se Technikon, waar hy in die middel 1980’s drama studeer het, het hy hom oor die enkele swart student ontferm deur gereeld saam met hom te eet, waarvoor hy deur die ander studente uitgeskel is as ’n “kafferboetie”. Hy het hom losgemaak van ’n konserwatiewe Afrikaanse christelikheid (al gebruik hy graag Bybelse verwysings), het begrip vir gays (alhoewel hy die kerk se konserwatiewe houding teenoor gays ondersteun), en het ’n persoonlikeverhoudingstrajek met vroue wat nie pas by die norme van tradisionele Afrikaners nie. Tog is hy sterk beïnvloed deur ’n konserwatiewe wit ervaring sonder veel blootstelling aan die lewe van die meerderheid Suid-Afrikaners. Terwyl hy homself eerstens ’n Suid-Afrikaner voel, verpersoonlik en verdedig hy wit Afrikaanse simbole en identiteit en kry wye aanhang uit Afrikanerkringe. By hom is daar baie dubbelsinnigheid en diversiteit as deel van sy ervaring en dit vorm talle moontlike groeipunte vir nuwe perspektiewe. Op die oomblik word slegs dit uitgelig en benadruk wat pas by die eise van die konserwatiewe Afrikanersaak: Steve as Afrikanersimbool, sy siening van swart mense se veronderstelde onvermoë, ten spyte van soveel in sy denke wat nie regtig pas by die idees van die meeste van Solidariteit se ondersteuners nie. Hy is meer ’n liminale figuur as wat hy bereid is om toe te gee. Tot watter mate is Steve tydelik vir die doeleindes van konserwatiewe Afrikanerpolitiek gekaap? Liminaliteit gee ’n kreatiewe basis vir ’n verskeidenheid ervarings en insigte wat tot bruikbare musikale en poëtiese sosiale kommentaar omgesmee kan word.
- Steve is ’n selfverklaarde en uitgesproke rebel, is geneig tot impulsiwiteit, en uit sy lewensbeskrywing is dit duidelik dat hy dikwels keuses gemaak het om ander uit te daag en onkonvensioneel te wees. Hy skroom nie om die grense van norme en verwagtings oor te steek nie, en dit is wat hom so gewild maak as huidige uitdagende kritikus van swart magsuitoefening. Maar hy is in baie opsigte sy eie norm en dikwels waaghalsig. Daar is ’n groot mate van aanpasbaarheid en opportunisme in sy lewensloop te sien, iets wat hom vorentoe selfs van konserwatiewe Afrikanerskap kan vervreem. Daarby is daar ’n sensitiwiteit by hom vir kritiek uit die gemeenskap en raak die morele veroordelings oor sy verhoudings en verantwoordelikheid teenoor sy voormalige vriendinne en sy kinders hom diep. Ek dink nogal, nou dat ek meer van Steve weet en sy biografie gelees het, dat hy ons kan verras. Hy het reeds as gevolg van ’n ernstige operasie anders na die lewe begin kyk, hy wys ’n sensitiewer en refleksiewer kant in sy biografie (naas die bekende uitdagende en aggressiewe testosteroon). en kan soos hy ouer word (hy is nou 55) toenemend versag. Hy is iemand wat met ander mense se swaarkry kan assosieer en hulle soms bystaan. Na konflik met Anton Goosen en Max du Preez het hy weer met hulle versoen geraak. Dis ’n uitstekende grondslag vir ’n nuwe uitdaging: ’n herposisionering na ’n meer inklusiewe omgeestrategie en ’n vernuwing van die Afrikaanse rock-genre wat hy so sterk help vestig het. Of is hy ’n slagoffer van sy “groep” se vermeende “ras”, klas en etniese grense? Dit is denkbaar dat Steve en sy ondersteuners die idee van “ras” sal laat vaar, al voer hulle nou nog ’n verwarde stryd met gebruikmaking van “ras en kultuur”. Daardie (wit) “ons” van “Die Land” is nie die toekoms nie en baie mense wat veronderstel word om daarmee te assosieer is nie gemaklik op daardie simboliese plek nie (jongmense veral, en dit toenemend). Ek dink Steve en sy ondersteuners kan daarvan kennis neem en daarna meer ontspan en uit die selfopgelegde geestelike laer ontsnap. Daar is baie plek vir hulle deelname aan ’n nierassige Suid-Afrikaanse debat en nasieskap. Dit sal egter verg dat hul eie onderdrukte ervarings en diversiteit van idees van groter belang sal moet word en dat hulle sal moet oopstaan vir die ervarings en denke van die hele bevolking.
- Steve is nou egter nog steeds ’n simbool van wit kwesbaarheid en teatrale “terugslaan” in die postapartheid tydperk. ’n Groot deel van die wit Suid-Afrikaanse bevolking deel in hierdie onkritiese aanvaarding van ’n groepdefinisie wat op “kleur” gebaseer is. Dis logies dat soos wat hierdie groepdefinisie histories tot stand gekom het in die 19de eeu, dit ook weer kan emansipeer na iets anders – daar is nie ’n noodwendigheid in die voortbestaan van hierdie sosiale kategorie in hierdie vorm nie. Indien die land goeie en doeltreffende regering, groter ekonomiese gelykheid en sterker samewerking tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes sou ervaar, kan die ruimte vir herdefiniëring van groepsidentifisering en herposisionering in die rigting van gedeelde Suid-Afrikanerskap toeneem. Dan sal “Die Land” en “De la Rey” retrospektief slegs historiese verwysings wees na herinneringsplekke funksioneel tot raspolarisasie in ’n tyd van ’n onverwerkte verlede en die skade van die Zuma-jare.
- Kees van der Waal, emeritus professor, Sosiale Antropologie, Universiteit Stellenbosch
- E-pos: csvdw@sun.ac.za
Bibliografie
Ballantine, C. 2004. Re‐thinking “Whiteness”?: Identity, change and “white” popular music in post‐apartheid South Africa, Popular Music, 23(2):105–31
Broodryk, C. 2016. Ons sal antwoord op jou roepstem: Steve Hofmeyr and Afrikaner identity in post-apartheid Afrikaans cinema. Communicare, 35(1):59–76
Die Burger. 2019. 29 April
Du Toit, P. 2019. Why Steve is increasingly isolated. News24, 18 April 19. Beskikbaar by https://www.news24.com/Columnists/Pieter_du_Toit/why-steve-hofmeyr-is-increasingly-being-isolated-20190418 (10 Mei 2019 geraadpleeg)
Folb, L. 2019. Watch: Steve Hofmeyr fans join in DStv campaign. Weekend Argus, 5 Mei 2019. Beskikbaar by https://www.iol.co.za/weekend-argus/watch-steve-hofmeyr-fans-join-anti-dstv-campaign-22617864 (13 Mei 2019 geraadpleeg)
Grobler, R. 2019. Agter elke ban: speech freedom experts weigh in on MultiChoice and Steve Hofmeyr. News 24, 3 Mei 19. Beskikbaar by https://www.news24.com/SouthAfrica/News/agter-elke-ban-speech-freedom-experts-weigh-in-on-multichoice-and-steve-hofmeyr-20190503 (10 Mei 2019 geraadpleeg)
Hofmeyr, S. 2008. Mense van my asem. Kaapstad: Zebra
—. 2014. Steve Hofmeyr 50. Kaapstad: Zebra
—. 2018. Wederstrewig – ’n gesprek met Steve Hofmeyr. Konteks, Forum Films, Deel 1 tot 5. Beskikbaar by https://www.youtube.com/watch?v=IFTmRjPhZLw (13 Mei 2019 geraadpleeg)
Lätti, R. 2019. Die bastions van Kwak in Afrikaanse musiek. Vrye Weekblad, 19 April 2019. Beskikbaar by https://www.vryeweekblad.com/menings-en-debat/2019-04-19-die-bastions-van-kwak-in-afrikaanse-musiek (13 Mei 2019 geraadpleeg)
Laubscher, MT. 2019. Ghoemagate 2019: Moenie die Taal saam met die Skottel weggooi nie. Vrye Weekblad, 26 April 2019. Beskikbaar by https://www.vryeweekblad.com/menings-en-debat/2019-04-26-ghoemagate-2019-moenie-die-taal-saam-met-die-skottel-weggooi-nie (13 Mei 2019 geraadpleeg)
Maroelamedia, 2018. Steve, Jay, Bobby, Bok en Ruhan sing liedjie saam. Beskikbaar by https://maroelamedia.co.za/vermaak/musiek/steve-jay-bobby-bok-en-ruhan-sing-liedjie-saam (13 Mei 2019 geraadpleeg)
Marx, H en VC Milton. 2011. Bastardised whiteness: “zef”-culture, Die Antwoord and the reconfiguration of contemporary Afrikaans identities, Social Identities, 17(6):723–45
Mjo, O. 2019. Timeline: Steve Hofmeyr vs Afrikaans is Groot sponsors. Times Live, 27 Maart 2019. Beskikbaar by https://www.timeslive.co.za/tshisa-live/tshisa-live/2019-03-27-timeline-steve-hofmeyr-vs-afrikaans-is-groot-sponsors (10 Mei 2019 geraadpleeg)
Nieuwoudt, S, KE Dickie, C Coetsee, L Engelbrecht en E Terblanche. 2019. Retracted article: Age- and education-related effects on cognitive functioning in Colored South African women. Aging, Neuropsychology, and Cognition: A Journal on Normal and Dysfunctional Development
Pauw, M. 2019. Die “Die Land”-musiekvideo: mites en nostalgie. LitNet. Beskikbaar by https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-weerdink-die-die-land-musiekvideo-mites-en-nostalgie (10 Mei 2019 geraadpleeg)
Scholtz, L. 2019. Dié sensuur was ’n dwase besluit. Die Burger, 25 April 2019
Solidariteit 2018. Die land behoort aan jou, beskikbaar by www.dielandbehoortaanjou.co.za (13 Mei 2019 geraadpleeg)
Steyn, A. 2016. Afrikaans, Inc: the Afrikaans culture industry after apartheid, Social Dynamics, 42(3):481–503
Titlestad, M. 2016. Nostalgia and apocalypticism in two post-apartheid films. English in Africa, 43(3):61–76
Van der Merwe, SD. 2015. The dynamics of the interaction between music and society in recorded popular Afrikaans music, 1900–2015. PhD dissertation in history, Stellenbosch University
Van Niekerk, A. 2019. Laat húlle maar lig trap. Die Burger, 30 April 2019
Lees ook
LitNet Akademies Weerdink: Die "Die Land"-musiekvideo, mites en nostalgie
Steve Hofmeyr: Bannelingskap redux – stil is die windjie en skraal
Rondom "Die Land", Steve Hofmeyr, vryheid van spraak, en wie se taal is Afrikaans in elk geval?
Assemblage-teorie, affek en witwees. ’n Alternatiewe blik op die werking van witwees
Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met aktuele sake:
LitNet Akademies Weerdink: Van Voëlvry na Voëlvryf na Spoegwolf
LitNet Akademies Weerdink: ’n Globale perspektief op groepregte en diversiteit
LitNet Akademies Weerdink: Die klaskamer in ’n posthumanistiese samelewing
Kommentaar
Uiteindelik iemand wat objektief na die hele situasie gekyk en dit onemosioneel ontleed en uiteengesit het. En aan die einde van die dag is hy ook maar net 'n "entertainer" wat sy politiek en musiek gebruik om mense te vermaak.
Meer as 100 jaar gelede het die filosoof F W Nietzsche gewaarsku: “Equality is a lie concocted by inferior people who arrange themselves in herds to overpower those who are naturally superior to them. The morality of “equal rights” is herd morality, and because it opposes the cultivation of superior individuals, it leads to the corruption of the human species.”
(Aangehaal in Zacharias, R: The End Of Reason)
Dit is die verskille tussen mense wat beklemtoon moet word omdat dit almal inspireer om vooruit te beur en te streef na uitnemendheid. As 10 mense 'n taak moet uitvoer op die basis dat almal gelyk is, sal almal so hard werk soos die luiste een in die groep.
Wat is verkeerd daarmee om te streef na “trotse Afrikanerskap” of “… singular Afrikaner identity” of “...die patrollering van die grense van groepsidentiteit.” Ons kan bloot rondom ons kyk na die verval wat daagliks erger word om genoeg redes te vind om onafhanklik en met suiwer integriteit te “ontsnap” uit die “vasgeverfde hoek”, want ons word ondersteun deur die onwegdinkbare Waarheid in die Skepping dat daar geen gelykheid in die ganse Werklikheid bestaan nie. Verskeidenheid is duidelik die tema in alle opsigte.
Ons durf nie konformeer met die selfvernietigende norme wat aan ons voorgehou word as die ideaal nie. Ons, die Afrikaners, leef op 'n ander vlak.
As 'n mens honger is en jy sorg nie vir kos nie, gaan jy self daaronder ly - go figure.
Breytie, ek is self 'n Zacharias-aanhanger. Jy het dit mooi opgesom. Denkende mense sien die dwaasheid van die gelykheidsorde in.
Objektief? Belaglik.
Baie goed gestel. Ek stem volmondig saam.