Rondom "Die Land", Steve Hofmeyr, vryheid van spraak, en wie se taal is Afrikaans in elk geval?

  • 39

Skermgreep uit "Die Land": YouTube

Toe ek gevra is om ’n stuk vir die seminaar te skryf, het ek lank daaroor gedink. Dit was ’n rowwe naweek en ek voel nog effe vuisvoos. Lang storie kort: Iemand het gevra of iets wat ek op Facebook geskryf het, openbaar gemaak kan word sodat hy dit kan deel. Ironies genoeg was dit oor hoe goed dit met Afrikaans gaan, my stuiwer na aanleiding van die Ghoema-fiasko en mense se persepsie dat daar ’n totale aanslag op Die Taal is. Soos ek vir iemand gesê het: Ek het ’n hek oopgemaak en toe het daar ’n vreemde klomp bokke kom wei. Voor ek my oë kon uitvee, is daar uit verskeie oorde kommentaar gelewer en is ek onder meer ’n “skynheilige liberale teef” genoem.

Sondag het Steve Hofmeyr ’n stuk op sy Facebook-blad geplaas waar hy my genoem het as deel van ’n as’t ware anti-Steve-bende. (My van was verkeerd gespel, maar hy het ook Gucci verkeerd gespel, so ek is in goeie geselskap.) In sy relaas vra hy of sensuur afgedwing mag word, skryf hy van “die brandende Notre Dame van jou moedertaal” en noem hy homself “die mees geboikotte sanger op die kontinent”. Hy skryf ook dat sy CD’s nommer een bly en dat sy konserte vol is, maar “ek en my vrou stoei met ons begroting”.

Laat ek van meet af sê: Ek glo aan vryheid van spraak. Ek glo borge het die reg om hulle naam te koppel aan of te ontkoppel van ’n persoon of instansie soos hulle goed dink. Ja, die situasie kon anders hanteer gewees het, maar ek glo nie daar is ’n totale aanslag op Afrikaans nie. Ek glo wel dat hierdie geval nie ’n geïsoleerde geval was nie, maar net nog ’n voorval wat wys dat as jy die kolletjies verbind, dit altyd na een plek lei: Steve Hofmeyr.

Die kommentare op verskeie plekke – van Steve se eie Facebook-blad tot my blad en ’n paar ander tussenin – was met tye skokkend. Hieronder is sommige daarvan, direk aangehaal met spel- en taalfoute, maar met sekere woorde met asteriske vervang as gevolg van die aard van die rassisme: 

“Maar jys seker te onnosel om dit agter te kom Ilza.. Jys nie ’n Afrikaner nie... Jys ’n stuk gemors.”

“Jy’s siek en sterkte vir wanneer julle gatkruip dae verby is..”

“Die pangas is oppad vir jou en jou mense ook. Ek wonder wat jy gaan doen wanneer dit jou Volk is wat uitgemoor word. Vir jou kinders se onthalwe hoop ek julle ervaar dit nie mau-mau styl nie, maar soos ek hierdie ***** ken, sal julle nie so gelukkig wees nie.” (Hierdie kommentaar is deur iemand anders met ’n hartjie gemerk met ander woorde “love”.)

“Nog ’n liberaal wat geen sin maak nie. Het jy al opgestaan as ons Afrikaner verdruk word? Ons weet almal Steve is jou vyand maar hy het meer guts as wat jy ooit sal he. Gaan speel met die Anc, Eff en Blf asb.”

“Gelukkig en ongelukkig vir die res van ons is jou vel ook wit so geniet die dag wanneer jou oë oop gaan en dit is te laat. Dalk terwyl een jou verkrag, met ’n mes steek of skiet.”

“Jy lag, Afrikaner, maar ook net tot die pangas jou of joune inhaal.”

Vir Shihaam Domingo, wat Woensdagaand by die toekennings die Ghoema oorhandig het in die hip-hop-kategorie, is die volgende boodskap gestuur: “Your racist comments have killed innocent little children because they are white… loop bid eerder vir jou bitter bek.” (Dit was na aanleiding van ’n gesprek wat sy gehad het oor “Die Land” en vir wie die lied werklik geskryf is.)

Op ’n vriendin van Shihaam se blad: “Hoekom het jy ’n witman se van? Kry een van daardie kak ****** vanne, dan eet jy sommer ’n varktjoppie en drink n bottel brandewyn uit.”

En op Steve se blad: “Steve, maak daar a rekening oop sodat ons geld inbetaal om die potte aan die kook te hou. Solank as wat daar a Julius Malema en ’n Mxitama ******* kop is, het jou sienswyse ’n bestaansreg.”

Die haat en venyn het my met tye my oë laat toeknyp. Met sommige van die mense kon mens nog praat, ander het net in hoofletters en uitroeptekens gegil. En dit alles in Steve Hofmeyr se naam. Want ja, maak nie saak hoe jy hierna kyk nie, dit is sy aanhangers wat namens hom praat. Dis hy wat vir hulle die deur oopmaak om hierdie dinge te sê. Toe sy seun Devon Hofmeyr by die Ghoemas opstaan en begin gil het terwyl Shihaam ’n toekenning moes oorhandig, was dit in Steve se naam. Steve, die kaal keiser.

Dit was nie altyd so nie. Ek kan ’n tyd onthou toe Steve nog gevra is vir sy opinie oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe. Moenie ’n fout maak nie: Die man is nie ’n fool nie. Hy is een van die mense wat ek ken wat die wydste lees. Sy kennis strek ver. Maar iewers het iets gedraai. Was dit toe hy “Die Stem” by Innibos in 2014 gesing het? Voor dit toe hy by Zuma gaan braai het? Sy vriendskap met Dan Roodt en verering van Eugene Terre’Blanche? Die feit dat hy nie kan erken hy het ’n fout gemaak nie? Wie weet.

Ek het al gewonder of dit nog vir Steve enigsins oor Die Saak gaan. Of dit nie ’n kwessie is van, om Jan Rabie se woorde te gebruik, aanhou beweeg en geraas maak nie? ’n Tyd gelede, ná een of ander kontroversiële uitlating, was Steve deel van ’n konsert. Iemand vertel na die tyd toe hulle hom vra hoe dit gaan, het hy geantwoord: “Terwyl ek nog kan kak aanjaag, gaan dit goed.” Is dit dalk deesdae meer oor die “chase” as die “kill”?

Die Afrikaanse musiekbedryf het sedert die opbloei in die begin van die 2000’s ’n paar draaie gemaak. Van ongekende sukses en reuseverkope tot ’n oorvol mark en ’n sukkelende ekonomie. Voeg daarby die laaste Skouspel en die eerste Afrikaans is Groot (dis ’n storie vir ’n ander dag), die onder-mekaar-bakleiery by die Coleskes (daar gaan nog ’n paar groot wurms uitkruip), asook platemaatskappye wat nie meer die geld maak wat hulle eens het nie en landspolitiek wat mense laat laer trek, en jy kry die poespas van vandag. (Hier moet mens net noem dat daar buite hierdie geraas wel kunstenaars is, oud en jonk, wat aangegaan het met wat hulle doen. Afrikaanse musiek is veel, veel groter as dit wat som sopspraak verwek.)

Wat moet gebeur?

Hou om vadersnaam asseblief net op met die boikotte. Dit werk nie. Jy kan nou maar dink jou een minder Cheddamelt Burger by die Spur het die groep tot bankrotskap gedryf, maar dit het nie. Julle shop in elk geval almal weer by Pick n Pay (het julle vergeet van daai ene?) en die boer en sy Toyota is onafskeidbaar. Om MultiChoice, en daarmee saam die vier Afrikaanse kanale (kykNET, kykNET & Kie, kykNET NOU! en Via) te boikot, beteken jy boikot op stuk van sake Afrikaans. En is dit nie waaroor almal dan juis so bekommerd is nie? En nee, mevrou, jy kan nie kykNET en SuperSport op ’n ander manier kry nie. Hou op met vra.

Kunstenaars wat nie met Steve se polemiek en uitlatings saamstem nie, moet begin praat. Soos die Engelsman sal sê: Just grow a pair. Hou op wegkruip en staan op. Wees braaf. Die verantwoordelik lê by julle. Ek weet julle is daar. Begin praat. Ja, ook julle wat steeds ’n verhoog met hom deel.

En terwyl ek nou met die kunstenaars besig is: Jy kan nie die Ghoemas boikot omdat jy kwansuis MultiChoice boikot, maar dan verwag dat hulle goed en gaaf terug moet wees nie. Jy kan byvoorbeeld nie die aand van die Ghoemas ’n foto van jouself post waar jy selfvoldaan ’n bier by die huis sit en drink en dan ’n paar dae later word die nuwe reeks van jou program op Via met groot fanfare bekend gestel nie. (Ek praat van julle, Bobby en Karlien.) Net so kan jy nie #boikotmultichoice op jou sosiale media gebruik, maar vinnig sê dat jy ’n geleentheid sal aangryp as kykNET vir jou ’n rol aanbied nie. Die een hand was die ander. Besluit waar jy wil wees en wys minstens ’n bietjie lojaliteit aan die mense wat gehelp het om jou te kry waar jy vandag is.

Die Ghoema-toekennings moet beslis voortgaan. Ons kan nie dat een man ’n hele bedryf  en toekennings soos die Ghoemas op sy knieë dwing nie. Die bedryf en Afrikaans gaan die verloorders wees indien dit gebeur. Ek sien daar is reeds sprake van nuwe toekennings, maar dink mooi in watter laer jy jou bokke wil laat wei.

Steve, as jy hier lees: Ek wens so jy besef hoeveel jy kan vermag as jy die groter “ons” sien. Ek hoop ek en jy kan weer eendag praat; oor boeke en ons kinders en flieks wat ons gesien het. Ek het oor die naweek vir iemand gesê ek dink wat jou die seerste maak is nie die geld nie, maar die feit dat jy intellektueel geïsoleerd is. Ek het nog altyd die idee gekry dat dit die een ding is wat jy wil bewys: Dat jy nie nog ’n oningeligte popster is nie. Dalk is ek verkeerd. Dalk is jy gemaklik daar waar jy nou is. Ewenwel. Gaan jou goed en dink asseblief vanaand wanneer jy alleen is wat jy wil hê die uiteinde van hierdie moet wees. Ek weet (hoop) jy weet dit is nie net oor jou nie.

Lees ook

LitNet Akademies Weerdink: Skottelbraai in Ghoema-land: die grense van Steve Hofmeyr se identiteitspolitiek

Steve Hofmeyr: Bannelingskap redux – stil is die windjie en skraal

''Die Land'', Steve Hofmeyr en die grondhervormingsdebat

LitNet Akademies Weerdink: Die "Die Land"-musiekvideo, mites en nostalgie

  • 39

Kommentaar

  • Karen Stander

    Briljant gepraat, koppe gewas en oopkop gedink! Intellektuele gesprekke is nodig sodat ons kan uitwys wat is interessant, merkwaardig en belangrik. Om te skel, te skreeu en blindelings te volg is gevaarlik.

  • Kom ons wees eerlik vir ‘n slag ... almal van julle ... die politieke bestel hou die wit gemeenskap in ’n wurggreep ( deur middel van die sakewêreld, sport, geleenthede, beleid en uitsluiting) agv van diep gewortelde wantroue, haat en ekonomiese jaloesie. Taal en kultuur is maar net nog ’n toevallige prooi en terwyl julle stry oor waar die stoele moet staan, sny die berg onder die water die romp oop ... julle sien net wat julle wil sien.

  • Trudi Griffiths

    Kan net sê "Amen!"Die hoeveelheid onaangename, kru en rassistiese kommentaar op Facebook is om van naar te word en jou Facebookblad vir ewig te sluit. Soveel daarvan van sogenaamde Christene wat hul "witmens-God" met dieselfde monde loof. En die ewige taalstryd deur dié wat die taal die slegste gebruik. Ai ai! Siestog!

  • Dit is nie soseer die boikotte, al dan nie. Soos jy sê: Dit gaan oor die groter saak en die tyd wanneer dit gebeur. Nét voor die vertoning - wanneer 'n ander borg nie beskikbaar is nie. Op die hakke van die maatskappye wat Afrikaans is Groot boikot dat ek, al druk ek die kode om in Afrikaans bedien te word steeds met een kommunikeer wat nie eens Engels magtig is nie.
    Ek hoop jy verstaan waaroor dit werklik gaan.
    Gelukkig word die Afrikaanssprekende die hoofborg van Afrikaans is Groot en gaan Pretoria FM 'n glansaand vir die kunstenaars aanbied in die tweede helfte van die jaar. Waarom dink jy is die reaksie so? Omdat dit Toyota en MultiChoice is of omdat ek nie 'n werk kan kry omdat ek wit is en behoede tog indien ek nog Afrikaans is. Die boere uitgemoor word - 15 plaasaanvalle Paasnaweek, wanneer mense hul grootste Christelike oomblikke vier, met ek dink vier? moorde.
    Dalk dra die dreigemente van die ANC/EFF/ BLF/DA-alliansie oor onteiening ens daartoe by?
    Ek stem volmondig met jou saam dat dit nie oor Steve is nie ... Nee, dit is oor baie meer. Die Afrikaanssprekende persoon in hierdie land is moeg om rondgeskop te word. Indien jy aanmerkings maak en nie die terugvoer kan hanteer nie, moet jy dalk ook selfondersoek doen en dink met wie jy kommunikeer, veral op sosiale media.
    Ek laat my kommentaar verder.

  • My opinie, net 'n opinie ... Afrikaans is almal s'n wat dit praat en wat dit wil leer praat. Afrikaans kan nie uitsterf solank ons dit bly praat nie ... “Die Land” is almal s'n wat hier bly, nie 'n uitgesoekte klomp mense nie. Ons het te ver gekom om weereens gepolariseerd te word. Vir eens in jou lewe is dit belangrik om vir jouself te dink en nie iemand slaafs na te volg nie. Om in 'n wonderlike diverse land soos ons s'n te leef en oorleef is nie sonder struikelblokke nie, maar dis nooit vervelig nie en dit is juis wat ons laat groei in ons denke ... Johannes Kerkorrel het 'n beweging begin om mense in te sluit deur musiek en mense te oortuig dat daar nie net een denkwyse oor Afrikaans is nie. Ek is lief vir my taal, ek is lief vir my land en ek is lief vir my mense, almal van hulle waarmee ek die sonsopkoms en sonsondergange deel ... My identiteit was nog nooit gekoppel aan Afrikaner wees of die land waarin ek bly nie, maar eerder in my menswees en hoe ek teenoor ander optree. Afrikaans en SA is deel van my, maar dis 'n geskenk en nie iets wat ek net vir myself toe-eien nie. My menswees is baie groter as net 'n taal of 'n land. Kyk wyer as net dit wat jy ken.

  • Jy is só reg, Ilza. Ek het soveel respek vir sy skryfwerk, belesenheid en intelligensie, so dit maak my hartseer om te dink dat hy 'n afdraaipad gekies het waarmee ek my nie kan assosieer nie. Daar is getalle ja, maar die getalle word nie versterk deur hulle insig en emosionele volwassenheid nie. Hy sou 'n uitstekende politikus kon word met sy vinnige denke en intelligensie, maar helaas het hy 'n koers gekies wat skade aanrig, pleks van saamsnoer. Hy is meegesleur in 'n stroom waaruit hy waarskynlik nie meer kan kom nie.

  • Steve wil net graag die "leier" van die Afrikaners wees. Hy hou net te veel daarvan om vir "die volk" te praat. Ek is seker hy sien homself al klaar as so tipe leier. Daar sou geen probleem wees nie behalwe dat Steve te arrogant is om sy eie foute (ja, sy uitlatings op Twitter is onvanpas en te veel met opinie gevul) te erken. Behalwe dit, dankie vir die fantastiese artikel.

  • Baie dankie vir hierdie artikel. Ek hoop dit gaan deur baie mense gelees word en dat mense van insig sal verander.
    Veral dankie vir die laaste paragraaf waarin jy uitreik na Steve (en sy aanhangers) en 'n beroep doen op hom om die strydbyl te begrawe. Ons moet saamstaan eerder as wegbreek, maar die geskiedenis van die Afrikaner is nie 'n goeie spieël nie ...

  • Danie Grobler

    Hoor wat jy sê .... maar ons is moeg dat as ons blankes iets sê dan word daar teen ons opgetree. Wat van Malema en andere? Hulle mag sê net wat hulle wil. En jy, daaroor sê jy niks. Nee wat, ek dink ons Afrikaners moet saamstaan en ja kry ’n ander toekenning wat nie deur politiek gedryf word nie.

  • Ek het bostaande gelees en ek stem grootliks daarmee saam. Ek is een van diegene wat my subskripsie by MultiChoice opgeskort het omdat ek ongelukkig is met daardie maatskappy se dubbele standaarde. Verstaan mooi, ek is nie 'n groot aanhanger van Steve Hofmeyr se musiek nie en nog minder assosieer ek myself met sy politieke denkrigting. Maar, hy is in die eerste plek 'n Afrikaanse musikant en behoort slegs op grond van sy insette in die Afrikaanse musiekwêreld geoordeel te word wanneer dit kom by toekennings. MultiChoice maak presies net soos wat die destydse apartheidsregime gemaak het toe hulle sportmanne en vroue op grond van hulle kleur (en soms politiek) uit die Springbokspanne gehou het. Hofmeyr gaan nie, as gevolg van sy uitsluiting, ophou musiek maak nie. Hy gaan ook nie van politieke siening verander net omdat die raad van MultiChoice nie van hom hou nie. Die wêreld het groter geword as maatskappy-boikotte om mense van siening te wil laat verander. En ek? Wel, ek gaan nie vir MultiChoice of KykNet mis nie.

  • Ja Ilza. Dit lyk vir my dat "common sense" en om die ooglopende uit te wys deesdae vir jou die "liberale skynheilige"-titel met vlieënde vaandels laat wen. Baie geluk. Ek het ook een. My vraag aan my Afrikanervriende was waar is jou taal nou so onder bedreiging? Jy gaan kerk toe in Afrikaans, kyk elke aand KykNet, gaan KKNK toe en het talle opsies op radio. Jy en jou vriendinne drink Saterdae in Afrikaans wyn by julle Afrikaanse braaivleis en niemand kom arresteer julle nie. Ek was laas jaar by Absa se hoofkantoor toe Maria Ramos op 'n vraag van 'n swart kollega oor die vele vergaderings wat in Afrikaans plaasvind gesê het dit moet stop. Besigheidsvergaderings gebeur in Engels dat almal kan volg. Steve hammer op die hoeveelheid Afrikaanse skole en universiteite wat nie meer eksklusief Afrikaans is nie. En ek kan nie help om te vra hoe op dees aarde kan jy kla as jou kinders leer om Engels te bemagtig as hulle jonk is nie. Dis nie 'n aanslag op Afrikaans nie. Dis prakties en dit beteken 'n skool kan deur almal benut word. Ek is in die week deur 'n ma in ons gemeenskap gevra om haar derdejaar-seun op universiteit se Engelse handboek vir hom in Afrikaans te vertaal dat hy kan leer vir 'n toets die volgende week. Ek was so kwaad. Gevra of die mannetjie nie klas bywoon nie en hoe het hy nie 'n idee wat aangaan nie. Ek het basies gesê hy is 'n swak student. Die antwoord was die nuwe jong professor het niks in Afrikaans vir hulle opgelaai nie ... my antwoord was "good luck" mamma. Jou kind gaan nog hard val. En dis my gevoel oor baie Afrikaners op die oomblik. Die konsert is #AfrikaansIsGroot, nie #AfrikanersIsGroot nie. Maar geen feite kan 'n Afrikaner oortuig nie. So ek hou nou maar op probeer. Mense het klaar hulle "minds" opgemaak. Hulle is windballe wat skree, maar hulle gaan basies niks doen nie. Hulle sou dáái week al hulle Toyotas vir Steve verkoop het, maar ek sien die bakkies staan nog in die "driveways". Dis wat Afrikaners so "weak" maak. Jy gee vir jouself twee ghoemas/biere op Twitter en dan begin jou reeks op Via. Almal eet weer by die Spur want Mamma kort 'n breek van die kinders.
    Ek wag saam met jou Ilza vir iemand "to grow a pair". Maar vir nou het jy en net 'n paar ander "a pair".
    Viva Afrikaans!

  • Ek dink nie dit was die een man Steve wat die Ghoema-aand geskaak het nie. Dit was Multi-Choice. Hoekom was “Die Land” aanvaar as genomineerde as hulle nie Steve se liedjies daar wil hê nie? Hulle kon dit mos van meet af geweier het. En so terloops, Domingo het ook op haar Facebook teen wit, Afrikanermans uitgevaar en die lied wat haar wil laat opgooi. Netso rassisties. Lees gerus Leopold Scholtz se artikel op Netwer24 oor die debakel en nog meer sy artikel op Maroela Media oor die taal wat nie deur Afrikaners gesteel is nie.

  • Kyk wat om ons aangaan! Sien jy dit nie? Wow! Ek dink alles lei na Steve, want hy is die enigste een, soos Donald Trump, wat iets sê wat die nuus, media, ens nooit sal sê nie. Ons wéét natuurlik hoekom nie ...

  • Al wat as verloorder uittree uit hierdie en soortgelyke insidente is Afrikaans en sy sprekers. Die woord Afrikaner word breedweg gebruik sonder dat enigiemand in staat is om die term ordentlik te definieer. Ek is Afrikaans, wit, ’n uitgesproke Christen en absoluut beledig as iemand my ’n Boer of Afrikaner noem. Dit is oor die bagasie wat geskep word deur ondeurdagte en kortsigtige insidente wat in die midde van boer wees en Afrikaner wees geplaas word. Standpunte van vooraanstaande kunstenaars wat ongedaan gemaak word deur hulle onwilligheid om totaal te boikot bewys hulle opportunisme en skynheiligheid. Mense, ’n wyse ou man het eens in goeie Afrikaans gereken dat die sprekers van Afrikaans nie sulke twaksakke is as wat hulle monde geplooi is nie. Pasop dat julle mark, wat julle so willens en wetens gebruik en misbruik, teen julle draai!

  • So sit ek vanaand in my bed, en kom ek op hierdie artikel af. Ek wonder by myself, waar sal alles eindig? Almal val mekaar aan ... kwansuis oor hulle taal en regte, maar eintlik net oor elkeen wil wys hy weet beter. Mense lewer oningeligte kommentaar ... volg jou of Steve na en aan die ander kant van dit alles is die res van ons besig om te werk, ’n bestaan te voer en op belangrike dinge te fokus. WANT in die lewe van ’n gewone landsburger (ongeag kleur, taal, of agtergrond) moet ons werk ... neem dit ons tyd in beslag. Sal ons eerder die tyd spandeer wat ons het aan ons geliefdes. Hoe lank wil sommige van julle nou nog ’n storie aan die gang hou wat die helfte van die land reeds vergeet het? Soms is stilbly ook ’n antwoord ... baie keer die moeiliker pad, maar tog soms die meer volwasse een.

  • En al wie glimlag is ... Steve Hofmeyr, want nou kyk ALMAL na "Die Land" om te sien waaroor die bohaai is. Dieselfde was destyds so met "Delarey" van Bok van Blerk.

  • Gustaf Claassens

    Steve Hofmeyr sal self erken dat hy dit nie altyd reg het nie. Hy oorreageer ook, let wel (oor)REAGEER want heel dikwels word hy uit verband aangehaal of woorde/dinge word aan hom toegedig wat glad nie gesê is nie, of, na bewering gesê is en in spesifieke gevalle ook glad nie verstaan word nie. Dat hy 'n moedswillige streep het is nie te betwyfel nie. Dit is egter ook so dat daar kwaadwilliges is wat poog om hom die "swartskaap" te maak om indirek en eindelik ook Afrikaanses by te kom nie. Of glo Me Roggeband dat Afrikaans se status en plek in ons samelewing nog dieselfde is. Nietemin, u is seer sekerlik geregtig op u standpunt. Soos die ou tannie gesê het: "Ons leef in 'n vrye land onder die Britse vlag ..."
    Feit van die saak is dat dit politieke korrektheid is waaroor dinge deesdae gaan en daar word verwag dat almal op hierdie wa moet spring. En hemeltjie tog, spring die mense nie op nie! Vryheid van Spraak (met inagneming van art 16(2) van die Grondwet is geensins deur Hofmeyr oortree nie. Indien wel, sou hy dadelik aangekla gewees het. Daarteenoor is MultiChoice (en ander wa-springers) se optrede niks ander as (politieke) sensuur nie. Hulle optrede is doodgewoon een waar hulle aan 'n kunstenaar wil voorskryf wat sy/haar politieke standpunte behoort te wees. Politiek word dus by die kunste ingesleep asof SA nie reeds harde lesse uit die verlede geleer het nie. In sy wese kom demokrasie hier in gedrang. MultiChoice het met sy optrede getoon dat hy die beginsel dat elke individu regte het, nie aanvaar en respekteer nie. Iemand wat nie dieselfde standpunte huldig en verkondig nie, word geïsoleer en moet geboikot word. Maar behoed diegene wat van teenboikot-aksies praat. U sê in u relaas hierbo dat u glo MultiChoice kon die saak anders hanteer het. Wel dan, hoe? Indien hulle het, sou u stuk mos nie vandag verskyn het nie en dis die punt. So, ek beveel aan u gaan dink weer.
    Ek het nog nooit gehoor dat Hofmeyr te kenne gee dat hy ander rassegroepe nie ag of respekteer. Hy mag wel die doen en late van leiers en mense aanval maar aan 'n algemene kollektiewe verwysing het hy hom nog nooit (waarvan ek weet) aan rassisme of haatspraak skuldig gemaak nie. Inteendeel, dis welbekend dat hy goed met almal oor die weg kom en vriende oor rassegrense het. Wat hy soms wel doen, is om ongevraagde uitlatings te maak wat as "ongeskik" geklassifiseer kan word en ek glo, ook dit sal hy toegee. So asof Roggeband en almal van ons dit nie soms ook doen nie! Haar aanhalings in die verband het egter niks met die prys van eiers, oftewel MultiChoice se optrede te doen nie. Indien dit wel die geval sou wees twyfel ek of iemand in die toekoms vir enige toekenning sal kwalifiseer. Nee wat dame, u skaar u maar net aan die kant van hulle wat anti-Hofmeyr is waarvan 'n groot groep onder hulle 'n ander agenda het en dit is om eindelik ook Afrikaans te "slag." Hofmeyr sal heel waarskynlik nie verbaas of aangedaan wees waar u, u skaar nie.
    Uitlatings dat ons nog kerk toe gaan in Afrikaans en ook braai en wyn drink in "ons taal" is die beste voorbeeld van naïwiteit wat die verstand te bowe gaan. Hierdie aktiwiteite vind plaas tussen vriende en in instellings (kerk) waar "buite invloede" nie teenwoordig is nie. En nou klink dit my moet ons dankbaar wees dat dit nie ook verbied word nie. Afrikaans word dus gereduseer tot 'n vleisbraai en wyndrinkery agter in jou erf; en dis skynbaar genoeg vir mense soos 'n dame hierbo na verwys, bid jou aan! Gaan jy uit die kokon en kom jy egter in aanraking met die wêreld daarbuite (waar veral die staat betrokke is) is dit oorwegend Engels, liewe mensies. Dit is presies die rede hoekom soveel nuwe feeste en ander inisiatiewe ontstaan. Afrikaanses staan op en organiseer en skep in hulle taal. Dis het niks met die regering of met ander taalgroepe se doen en late te doen nie. En, maklik gaan dit ook nie altyd nie omdat feitlik nooit op finansiële bronne van diesulkes staatgemaak kan word nie. Aardklop is 'n goeie voorbeeld, maar wat weer kon aangaan. Kimberley was nie so gelukkig nie en hulle fees het 'n stille "dood" gesterf.
    O, 'n laaste gedagte Me Roggeband; u veralgemenings is vergesog en effe pateties. So ook die misplaaste meerderwaardigheidsgevoel wat u beleef. Die spreekwoord sê "wat die hart van vol is, loop die mond van oor...” Ek verwys na hierdie deursigtige poging in u verwysing na Hofmeyr waar u sê: "Ek het oor die naweek vir iemand gesê ek dink wat jou die seerste maak is nie die geld nie, maar die feit dat jy (Steve Hofmeyr) intellektueel geïsoleerd is. Ek het nog altyd die idee gekry dat dit die een ding is wat jy wil bewys: Dat jy nie nog ’n oningeligte popster is nie." Wat u eintlik sê is dat almal wat Hofmeyr ondersteun "intellektueel gestremd" is. Jip, dis wat u sê. Om die kort sinnetjie "Dalk is ek verkeerd" by te voeg is bloot daar om u te beskerm sou iemand u hieroor aanvat, nie waar nie?! Hofmeyr het nog nooit nodig gehad om hom aan iemand te bewys nie en met respek, met hierdie opmerking val u verseker uit die bus. Hofmeyr se veelsydige talente as sanger, akteur en skrywer spreek vanself. As Joan Hambidge sê jy kan skryf, glo my, dan kan jy! En ek sou haar, en talle soos sy, nie as intellektueel geïsoleer of oningelig beskou nie. As sanger en akteur gaan dit maar oor smaak en smaak verskil. Steve Hofmeyr is wie hy is. Jy hou van hom of jy hoef nie van hom te hou nie. Ons kan duidelik die verskillende menings hieroor sien en dit sal nie sommer verander nie. Al gooi Hofmeyr gat om, sal dit nie sommer mense se menings verander nie. Dis hoe dit is.
    Voorspoed waarmee u besig is.

  • Jy, Ilze kan sê wat jy Wil van Steve, sy WARE ondersteuners sal by hom staan. Steve maak die mense – ALMAL! – bang want die man is way too intelligent for people that condemn and try to oppress his talent and integrity. Julle joernaliste sal enige stront skryf net om reaksie uit te lok, om versekering te kry dat mense weet jy's nog daar. Okay, ons het nou jou "novelle" gelees, en ek gee jou 4/10. For effort. Gaan verf nou maar jou "white picket fence" en Los Steve vir die wat hom waardeer en respekteer.

  • Rynhardt Stander

    Afrikaans se grootste problem is nie die taal nie, nee dis die verraaiers wat dit praat. Steve het ’n platform om sy stem en baie ander se stem te laat hoor. Julius en die BLF is gedurig op die kassie en dit krap onder die kraag van baie. Ek dink dit is net maklik en seker veiliger vir die liberale, en ek sê met respek liberale, om die minderheid Afrikaner aan te vat op sosiale media ens as vir bv die EFF, ANC. Ons Afrikaners staan net nie saam nie!

  • Steve, het wakker geword. Hy was verkeerd (1994), maar is nou wakker. Dis nie rassisties om die Stem te sing nie. Dis als persepsie. Wat nie persepsie is nie maar ’n feit, is dat borge in beheer is van die bevordering al dan nie, van ’n taal. Word wakker. Dit gaan oor mag en geld. Wie dit het swaai die septer. Diegene wat gemaklik wil wees is blind, by keuse. Dit gaan nie oor Steve nie. Hy is een persoon van baie met min of meer dieselfde sienswyse, persepsie. Hy het net ’n verhoog en is bekend onder baie. Jy hoef nie van hom te hou nie en ook nie noodwendig saam met hom te stem nie. Maar om hemelsnaam, verander tog net die bril waardeur julle kyk.

  • Tannie Tossie

    Probleem wat ek het met sulke kry-my-jammer-opstelle is, is dit uit die hart of is dit sensasie? As jy kommentaar lewer maak jy jouself oop vir kritiek en dit sluit goeie en slegte kritiek in. As jy dit nie kan hanteer nie, hou jou kommentaar vir jouself.

  • André Badenhorst

    Uitstekende kommentaar deur Gustaf Claassens hierbo wat die mooiskrywery konfronteer. Vir my lê die hoop van Afrikaans in die kwaliteit van die denke - krities en onafhanklik - van sy sprekers. Dit gaan dus klopdisselboom met Afrikaans as rebeltaal teen die hegemonie van benoudende denke.

  • Hi die 18de tot 22ste was vir my een van die lelikste naweke. ’n Tyd wat vir Jesus bedoel was om hom te eer het meer gegaan oor Steve en sy volgelinge wat hulle eie mense slegsê. Dink net hoe hartseer moet ons pappa wees. Ek wil net vir almal se niks behoort aan ons nie dis net vir ons geleen en as God dit gaan vat gaan niemand hom keer nie. Alle eer moet aan God gaan, nie aan sangers nie. My man sing en skryf al vir agt jaar en ja, ons was by Ghoemas maar net soos ek Steve en vriende se keuse respekteer voel ek hulle moet ons keuses ook respekteer. Kom ons hou op om mekaar sleg te sê en laat eerder Jesus se lig skyn. My man het nog nooit by Skouspel, Afrikaans is Groot of die Ghoemas opgetree nie, maar sing, sing hy tot eer van ons Skepper. Ons praat nie eers oor begrotings nie ,want daar is nie. Ons is gelukkig en leer ons kinders van geloof, hoop en liefde. Kom ons almal probeer dit en bid eerder saam.

  • Ek is nie 'n Steve Hofmeyr-aanhanger nie. Wat my tot stomheid slaan is die nydigheid waarmee almal en alles aangeval word wat nie met die "hoofstroommedia" saamstem nie. Jy word as verkramp, agterlik en intellektueel gestremd beskou durf jy teen die staat en enige ander openbare instelling jou opinie uitspreek. Ek vergelyk dit met die rassekaart wat elke keer uitgepluk word. Vrye spraak is vir almal beskore, meer net vir sekere groepe.

  • Werner van Zyl

    Wel, wat Bobbie en Karlien se reeks op Via aanbetref, dit word al uitgesaai lank voor hierdie hele gemors. Wat MultiChoice aanbetref, Netflix is klaar besig om Afrikaanse programme op hulle lys te sit. Sou alle Afrikaners ontslae raak van die instansie wat hulle kanale en pakkette bou rondom die meerderheid sou daar net meer rede wees vir dienste soos Netflix om Afrikaans op hulle lyste te sit. Wat MultiChoice en sport aanbetref is jy oningelig. Jy kan die groot meerderheid van sport wat uitgesaai word op SuperSport kry op ten minste 10 ander maniere en dit sluit rugby in.

  • Die mense moet ook asseblief daarmee ophou om enige inisiatief of iets Afrikaans te brandmerk as eksklusief of laer trek of wat ook al banale name/etikette gee. Het die slimjanne wat so maklik enige inisiatief van die Afrikaners al ooit by die Black Business Forum of Black Lawyers Ass, Muslim Brotherhood of Joodse Raad probeer aansluit? Moenie vir my sê dit het niks met mekaar uit te waai nie. Hoekom kan enige ander bende-lidmaatskap eksklusief gehou word, maar die Afrikaner moet elke lieplapper, jakkals en muishond toelaat. Word wakker. Nie net die taal word vertrap nie, maar die mens die Afrikaner ook. Dit blyk 'n skande te wees om 'n Afrikaner te wees. Hoekom weet ek nie. As jy wil kommin sien, kyk so bietjie om jou.

  • Een van die tragiese uitkomstes van liberale denke is dat mense ontneem word van die ankers wat daar is om voortdurend sekerheid te gee oor die lewensrigting wat 'n persoon inslaan. Een so 'n anker is moedertaal. Nie almal bestudeer moedertaal as eksistensiële verskynsel nie en daarom wil ek net eers verduidelik: Moedertaal begin reeds in die baarmoeder en teen die kind se derde verjaarsdag is die struktuur van taal in daardie kind gevestig. Daarna neem dit nog ses jaar om die woordeskat uit te brei om die kind goed vaardig te maak in sy moedertaal. Daarom is dit baie skadelik om 'n jong kind in 'n skool te plaas waar die taal van onderrig nie die kind se moedertaal is nie.
    Jou moedertaal is die taal wat jy sal wil gebruik as jy die hoogste mate van vreugde beleef en ook wanneer jy in die diepste diepte van rou gedompel is. Dit is ook die taal waarna jy sal gryp as jy jou laaste woorde uiter – of dit op 'n bed of 'n harde teerstraat is. Ja, jou moedertaal is inderdaad deel van jou identiteit en ons moet alles moontlik inspan vir die behoud van Afrikaans sodat ons onsself as persoon en as volk kan uitdruk in woorde en uitdrukkings wat reeds 'n lewe het in die harte van Afrikaanse aanhoorders.
    Volgens Johannes I van die Bybel het die “logos” of innerlike gedagte reeds bestaan voordat die Skepping tot stand gekom het en daardie gedagte kan alleen verwerklik word as daar 'n aanhoorder is. Die teenwoordigheid van 'n aanhoorder impliseer dadelik ook die bestaan van 'n verhouding. Dit is dus die aangehoorde (moeder)taal wat lei tot skepping of handeling. Daarom mag ons nie toelaat dat Afrikaans, ons moedertaal, geminag of verwaarloos word nie. Dit is 'n anker waaraan ons moet vashou om vir ons volk rigting te gee.
    Nog 'n anker waaraan 'n mens kan vashou, is die voorbeeld wat jou pa vir jou is/was. Ek ken nie vir Steve Hofmeyr persoonlik nie, maar weet uit sy biografie dat sy pa 'n man is wat bereid was om sy planne vir 'n professionele loopbaan permanent te kanselleer sodat hy volle verantwoordelikheid kon neem vir hierdie seun wat hy verwek het. En van daar af het hy homself onder moeilike omstandighede toegewy aan sy kind se menswording. Is dit dan nie vanselfsprekend nie dat Steve geanker is in die wete dat hy vir sy pa soveel die moeite werd was dat die opoffering gemaak is? En is dit nie vanselfsprekend nie dat so 'n anker van hom 'n selfversekerde leier sal maak nie? Het sy pa dan nie ook vir die Afrikanervolk 'n man gegee wat met 'n verskeidenheid talente die koers kan aandui nie? Steve se genoemde foute verskraal in die skerp lig van die moontlikhede wat verwerklik kan word as hy die ondersteuning van ons almal kry.

  • Francois Verster

    Daar is talle aspekte aangaande vryhede en regte hier ter sprake en elkeen sal sy/haar prioriteite hê, en daarop fokus. Later skel ons mekaar en praat ons by mekaar verby weens frustrasie, juis hieroor. Kom ons kyk gou net na een invalshoek. Dubbele standaarde – dit kan geen postiewe uiteinde hê nie. Nieteenstaande wie wat sê, moet dit oor dieselfde kam geskeer word en wat Malema en sy sielsgenote al kwytgeraak het is uittarting, soms effe verbloem, soms blatante opswepery – en … skotvry, blykbaar met carte blanche om so voort te gaan. Nou, hoekom word die Penny Sparrows van ons land egter figuurlik nekom gedraai? Natuurlik beteken dit nie jy kies kant as jy verwag dat almal wat oortree gestraf word nie. When some animals are more equal than others, ‘skies mnr Orwell, shit will happen, ‘skies mnr Gump. Ons kan die verdienste van elke taal ook bespreek, of van multitaligheid, maar hier gaan dit tog eerstens oor vryheid van spraak. En, ek is ook nie 'n Hofmeyr-aanhanger nie. Maar reg is reg en die grondwet maak dit duidelik genoeg om met 'n bietjie ewewigtige oordeel te verstaan en konsekwent toe te pas.

  • Trots Afrikaans

    Francois Verster, en die liberales speel reg in die radikales se hande. Hulle is doodstil oor die haatuitsprake, hulle draai teen hulle eie mense wat hul liefde vir die land en vir hul mense in 'n vreedsame lied uitbeeld. Hierdie radikales gebruik die liberales om hul eie mense af te takel en aan te val. Hoe min trots moet jy in jouself oorhê om teen als wat eties en korrek is te draai, hoe moet die radikales nie vir die slim libs agter hul moue lag, dat hulle so maklik gemanipuleer word nie? My trots is my eer, wat het die libs oor? Ek glo hulle gaan eendag hulle koppe in skaamte laat sak, dat hulle die woorde van die radikales toegelaat het, maar die woorde van hul eie mense se lief en leed, verontagsaam het. Die libs is bang vir woorde, selfs die in 'n lied wat niks sing van moord en doodslag nie, maar als van dit wat ons trots is ... ons kinders, ons land, ons taal.

  • Andries Gerhardus Henning van der Walt

    Ek is nie een van die intellektuele soort wat eintlik hier kommentaar kan lewer nie. Ek is 'n gewone middelklas mens, die soort wat maklik aanstootlike kommentaar lewer op kritiek op Steve Hofmeyr. Ek is nie 'n Steve Hofmeyr-aanhanger nie. Ek gee nie om vir sy sang en sy pogings om vir hom polities naam te maak nie. Hoe meer aandag aan hom gegee word, hoe lekkerder kry hy. Oor die toekoms van Afrikaans het ek Hermann Giliomee se artikel: "Die troebel toekoms van Afrikaners en Afrikaans" (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 54 No. 4: Desember 2014) van groter waarde gevind as wat ek hier gelees het. Hy sluit sy artikel af met die woorde: "Gedurende die twintigste eeu het die opkoms van die Afrikaners as etniese groep en van Afrikaans as publieke taal groot aandag in die Westerse wêreld getrek. Die kans dat albei in die loop van die een-en-twintigste eeu kan verdwyn, is nie meer vergesog nie."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top