................................
“Maar wanneer die koppeling van musiek en land as ’n eng nasionalistiese of etniese bevrydingstryd aangevoer word deur behoudende groepe, is daardie musiekkoppeling bloot ’n verklanking van regsgesinde populisme.”
................................
Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met die brandende kwessies van 2019.
Tans word land en Afrikanerwees aangespreek, oor besin en bevraagteken, te midde van steeds voortslepende debatte wat woed oor hier-wees en verbonde wees aan die grond.
“Behoort” die Afrikaner in Suid-Afrika? Waar bevind Afrikaners hulle in 2019?
LitNet het vir Marietjie Pauw gevra om oor die hedendaagse herrie met Steve Hofmeyr en die “Die Land”-musiekvideo te besin.
- Gaan lees nog ’n perspektief op uitbeeldings van Afrikanerwees in Afrikaanse musiek in die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel “De la Rey, De la Rey, sal jy die Boere kom lei?”, tien jaar gelede gepubliseer. Kyk hier na die “De la Rey”-musiekvideo.
................................
Die koppeling tussen musiek en land, veral rondom bevrydingstryde, is ’n kenmerk van wêreldgeskiedenis.
Dink byvoorbeeld aan die aard van, bemagtiging in, en veral die samehorigheid gesmee deur, liedere genoem Black Anthems: liedere vir vryheid van en as weerstand teen rassistiese onderdrukking, soos onder meer deur Shana Redmond in haar boek Anthem (2014) bespreek, en soos op die mixtape https://www.mixcloud.com/TheDreadstarMovement/anthem te hoor is.
Hierdie liedere beskryf Redmond as “proaktiewe” liedere wat hulle bemoei met en “debatswaarde” toevoeg tot “politieke alternatiewe opsies” in ’n eietydse onderdrukkende bestel (Redmond 2014:4).
Daar is ook die musiek wat oor die jare in die Soedan bygedra het tot politieke kommentaar en die stryd om ’n meer regverdige bestel, veral te midde van outokratiese regerings. Lees hieroor meer uit Mohamed A Satti se skrywe in The Conversation van 12 April 2019: http://theconversation.com/songs-of-freedom-the-soundtracks-of-political-change-in-sudan-115383.
Ook in Suid-Afrika is “struggle songs” teen die apartheidsbestel welbekend, tesame met hul herhaalde gebruik in eietydse bewegings soos die #FeesMustFall-beweging wat hul onder meer vir toeganklike hoër onderwys beywer.
Tydens die protes-aksies op kampusse is ou liedere gesing, nuwes geskep, en oues vernuwe, soos verklank in die lied van Koketso Poho van Black Thought Symposium en iPhupho l’ka Biko: http://www.capetalk.co.za/articles/191693/watch-new-adapted-national-anthem-by-students.
Hierdie soort koppelings tussen musiek, land en bevryding verklank progressiewe insluiting, sosiale openheid en ’n wyer-denkende sin vir intermenswees waarin die eiebelang van groepe ondergeskik is aan wedersydse respek.
Maar wanneer die koppeling van musiek en land as ’n eng nasionalistiese of etniese bevrydingstryd aangevoer word deur behoudende groepe, is daardie musiekkoppeling bloot ’n verklanking van regsgesinde populisme.
Hier verwys ek na die soort populisme wat kenmerkend is van die emosionele opsweping wat die “De la Rey”-lied in 2007 ontketen het, en ’n populisme wat ook nou weer met die “Die Land”-musiekvideo van Steve Hofmeyr en sy medesangers na vore kom. (“Die Land” is aan die onlangse Ghoema-toekennings onttrek op voorstel van die borge, weens Steve se omstrede uitlatings.)
Die retoriek van regse populisme dra kenmerke soos nie-insluiting van anderses; selfvergryping; nie-deling; en ’n nostalgiese verlange na heldeverhale uit die verlede. Regse populisme wat praat (of sing) oor “land” dra dikwels die boodskap dat land, of grond, of landskap ’n “reg” is, “my reg” is, en boonop “my Godgegewe reg” is.
Die soort musiek wat hierdie landbemoeide populisme verklank, is ewe nostalgies. Die musiek is melodies en ritmies voorspelbaar, en aanloklik eenvoudig omdat dit so herhalend is. Die musiek maak ook dikwels gebruik van klanke (en beelde as daar musiekvideo’s vrygestel word) wat emosioneel gelaaide snellers sou kon wees.
Voorbeelde van emosiegelaaide visuele snellers en klanksnellers is in die “Die Land”-musiekvideo volop. ’n Ouer sing vir ’n kind: “Ek los vir jou die son, en die see, en die land, my kind [...] my plaas [...] sade sal ek saai vir jou [...] die land behoort aan jou”, terwyl beelde van ’n plaaslandskap vertoon word.
Die kruuste klanksneller is die orrelspel wat die lied inlei en afsluit, en dit is dan ook hierdie klanksneller wat suggereer dat (die) land ’n Godgegewe reg is.
In die musiekvideo is daar orrelspel van gedrae klanke met die openingstoespraak (gelewer in ’n stemtoon wat klink na preek). Die orrel se tonale harmonieë (wat sou pas in die eerbiedwaardige ruimtes van ’n kerk) is die skakel tot die suggestie dat die land nie net aan die setlaar behoort nie, maar dat eienaarskap van die land deur God so bedoel en bewillig is.
Die sin “Die Here hoor my” later in die lied bevestig hierdie gedagte, en so ook die sin “Belowe jy sal my vind aan die anderkant”, as ’n verwysing na ’n moontlike nadoodse voortbestaan. Die lied eindig weer met die stigtelike klanke van die orrel, en dan met ’n hartklopritme op perkussie.
Hierdie vlugtige perkussie as klanksneller sein weer die normaliteit van alles: Die gebondenheid en reg op grond is (mos) gewoon menslik, doodnatuurlik, biologies, en reg, soos wat ’n normale hartklop is.
Postkoloniale kunsteorie wat analities kyk na setlaarslandskappe leer van die mite van oop vlaktes wat onbewoon is: oop ruimtes wat wag om deur die God-gestuurde setlaar betree te word, bewerk te word, bestuur te word en besit te word.
So sou Pierneef se skilderye, waarin daar geen mensefigure voorkom nie, deur onder meer Nic Coetzee (1992) en Jeremy Foster (2008) uitgewys word as kunswerke wat hierdie mite van ’n Godgegewe reg op grond in die 20ste eeu voortsit.
Die “Die Land”-video, met die orrel vooropgestel, doen dieselfde; trouens daar word in die lied “belowe” (soos met ’n eertydse Geloftedag) dat “die land behoort aan jou” (en dit is dalk nie net die vader wat hier praat nie, maar die ondertoon van ’n Goddelike vader se stem wat hier versinnebeeld word).
................................
“Die klanke, musiek en kletsrym van Dookoom raak vir my simbolies van beter-uitgedinkte, ekonomies-beredeneerde, mens-regverdige opsies, verby eenduidige oppervlakkige argumente wat in nostalgieë verval.”
................................
Met ons land se geskiedenis van rasgebaseerde grondvergrype en ’n koloniale setlaarsgeskiedenis wat neerslag gevind het in die apartheidsbestel, en met die krisismoment van die Grond Wet (“Land Act”) van 1913 se nieregverdige verdelings, is dit in hierdie eeu veel dringender om te sing van ’n beter toekoms vir almal, waarin grond, onteiening, toe-eiening en regverdige ekonomiese omgang met ons geskiedenis dringende vraagstukke is wat erkenning kry en aandag geniet.
Ek skaar my kreatiewe werk, hoor, luister en nadenke dus eerder by die sangers wat oor land en landskap sing op maniere wat soek na beter oplossings. Een so ’n sanger is Dookoom. Een van sy musiekvideo’s (nie vir sensitiewe luisteraars nie) sing om die plaaswerker se ervaring as eietydse slawe-arbeider te verwoord.
Die beeldmateriaal by Dookoom se kletsrymlied wys brandende bale hooi, en werkers wat die vlamme aanstook. Binne die konteks van Dookoom se kuns is hierdie musiekvideo ’n toevoeging tot die debat omtrent politieke alternatiewe wat gesoek word. Dookoom lewer oor sy groep se musiek die volgende kommentaar:
We deal with everything we see around us and our responses to those things. We deal with emotions, our inner lives, where we come from, and our demons. We are a product of South Africa. […] We want listeners to get in touch with themselves through our music. To wake up out of their passive slumber and start seeing and feeling again.
We want to create a space for people to experience real, raw emotion [...] even if it’s temporarily. It’s a form of therapy. Ultimately we’re all humans, we need to understand each other more, we need to listen to each other more. (https://idmmag.com/featured/dookom-interview)
Dookoom se musiek is nie eenvoudige, nostalgiese musiek nie: dis ongemaklike, komplekse en veelgelaagde musiek. Die klanke, musiek en kletsrym van Dookoom raak vir my simbolies van beter-uitgedinkte, ekonomies-beredeneerde, mens-regverdige opsies, verby eenduidige oppervlakkige argumente wat in nostalgieë verval.
Aan die einde van Dookom se musiekvideo verskyn daar die beeld van ’n jong seun wat staan en toekyk. Vir my is hierdie seun die simbool van die toekoms wat die geskiedenis in ag neem, sien, onthou, kinderlik die “vuurwerke” geniet, maar vorentoe kyk, nie deelneem aan die geweld van afbreek nie, net begin insien dat daar beter opsies móét wees: keuses wat sy ouers dalk nie gehad het nie, maar wat hy het, en hy sou kon help uitoefen en uitvoer.
Dís wat ek sien, dís wat ek hoor, en dís die musiek wat ek luister om te probeer verstaan hóé dalk vorentoe.
................................
Marietjie Pauw is ’n Mellon postdoktorale navorser-musikant by die Universiteit Stellenbosch se Africa Open Instituut, www.aoinstitute.ac.za.
Lees ook
Steve Hofmeyr: Bannelingskap redux – stil is die windjie en skraal
Rondom "Die Land", Steve Hofmeyr, vryheid van spraak, en wie se taal is Afrikaans in elk geval?
From Voëlvry to De La Rey: Popular music, Afrikaner Nationalism and lost irony
Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met aktuele sake:
LitNet Akademies Weerdink: Van Voëlvry na Voëlvryf na Spoegwolf
LitNet Akademies Weerdink: ’n Globale perspektief op groepregte en diversiteit
LitNet Akademies Weerdink: Die klaskamer in ’n posthumanistiese samelewing
Kommentaar
Gegewe die tydsberekening van die plasing, beskou ek dit bloot as "clouding the issue". Dit behoort nie nou te gaan oor 'n slimme en mooi geskryfde waardeoordeel oor die musiek nie, maar oor die misdadige sensuur wat 'n borg instel. Dít is nou die kwessie. Dít behoort die skrywer se fokus te wees as sy enigsins omgee vir kuns. Die skrywer rep egter geen woord daarvan nie en stel dit nóg minder in konteks. Hierdie triviale, ongebalanseerde plasing sê tóg iets van die benoudende radikale linksheid waarin akademiese denkstrome tans verkeer. Spesifiek Stellenbosch.
Nog iemand wat in 'n ivoortoring gefinansier word deur my belastinggeld -"virtue signalling"-doener.
Van wanneer af mag mense nie sing of skryf oor dit wat hulle raak of vir hulle belangrik is nie? Wie bepaal wanneer iets dan boonop "reg" of "verkeerd" is en op watter gronde?
Die strekking van hierdie gevraagde inset deur Me Pauw is inderdaad (in die konteks van huidige gebeure) eintlik ongevraagd. Die bedoeling is duidelik om 'n bepaalde "uitkoms" te verseker; om te probeer beïnvloed, etiketteer, af te breek en te verkleineer. Absoluut deursigtig!
Feit is, verskillende liedjies het verskillende invloede op verskillende mense. Dis tog waaroor musiek gaan en die mark is wyd. Dus twee dinge in hierdie verband:
1. die skryfster het die volle reg op haar mening en
2. sy kan kies in wie se geselskap sy wil wees.
Dit is immers waaroor "Vryheid van Spraak" gaan en ook die reg op "Vrywillige Assosiasie." Dit staan so in die Grondwet. Uit hierdie bydrae is dit duidelik sy skaar haar by Koketso Poho van Black Thought Symposium en iPhupho l’ka Biko. Sy doen dit, want die beginsel ter sprake vir haar is die begrip "insluiting." Niks verkeerd met "insluiting" per sê nie, want hierdie begrip dui in wese om "andersheid" te akkommodeer anders sou die begrip "insluiting" onnodig gewees het. Nie waar nie?
Nietemin, Bok van Blerk en Steve Hofmeyer se liedjies is volgens u "opswepend" en (daai gewilde woord deesdae) "populisties" waarna ek terug sal kom. Wat in hierdie liedjies vind Me Pauw dan tog so afstootlik? Ek vra dit met die erkenning dat dit haar reg en keuse is maar ook met die voorbehoud dat sy spesifiek moet wees. Ek het 'n goeie idee ... Kom ek sê egter aan u, wat vir u afstootlik is, is vir diegene waarna u verwys, mooi en patrioties. Hulle ervaring is dat hulle regte en taal vertrap word en dat met BEE en kwotas teen hulle gediskrimineer word. Hulle voel soos tweedeklas-burgers en bywoners in, wat hulle gedink het, ook hulle land gaan wees. 'n Sogenaamde nuwe SA waar almal dieselfde regte het, waar taal en kultuurregte beskerm en meriete die sleutel tot sukses is. Nie soos sekere kapitaalkragtige instansies dit verstaan en doen nie.
Afgesien dat die liedjies (De La Rey) 'n lekker ritme vir hulle het, gee die woorde ook 'n sekere soort betekenis in hul lewe. Hulle voel daar word omgegee en dat hulle nie alleen is in 'n land wat in totale korrupsie en agteruitgang verval het nie. Hulle staan, soos ek, verstom dat mense (soos ondermeer u) kan dink dat dit verkeerd is om oor jou "eie" te sing en hoe 'n klein minderheidsgroep van 9% 'n bedreiging vir die identiteitlose grys massa kan wees.
En dan die gebruik van die woord "populisme" wat so gerieflik aan 'n vloek(woord) gelyk gestel word. Ek sou u aanraai om die woordeboek oop te slaan en te gaan kyk na wat die woord "populisme" beteken. Ek gee dit in Engels aangesien politiek korrektes Engels verkies en dan ook sommer meer insluitend is: " A political approach that strives to appeal to ordinary people who feel that their concerns are disregarded by established elite groups." U sien, daar's niks snaaks of lelik aan dié woord nie. Inteendeel dis presies hoe die mense waarna u verwys voel EN waarteen u dit het. Ons mense is siek en sat vir mense wat dink hulle is die elite en dat wat hulle doen en sê, vir ewig slaafs nagevolg moet word. Mense het dus die reg om hulle dienooreenkomstig te organiseer hetsy polities, kultureel, sosiaal en so meer. Mens noem dit demokrasie. Ons het volgende Woensdag die uitvloeisel daarvan ... om te gaan stem. Die party wat gaan wen, is die huidige een aan bewind. Ek wonder hoe insluitend hulle is. Ek waarborg u egter dit gaan net meer van dieselfde wees ... So, wees liewer meer verdraagsaam en gun mense hulle standpunte en keuses. U het duidelik reeds u keuse gemaak.
Vooroordeel op sy herkenbaarste. Dit was te wagte. Maar linkse ivoortoringbewoners in akademiese instellings gun Afrikaners nie ’n liefde vir hulle land nie. Eerder word allerlei bose motiewe in die werk geprojekteer. Daar is vooraf besluit dat hierdie lied geen meriete het nie, maar dat DOOKOOM se kru taal besondere kuns verteenwoordig en soveel meer "eerlik" is en meriete het.
O my Here, met "kenners" soos die "skrywer" het die Afrikanervolk NIE vyande nodig nie!
Ons sit hier in SA met dieselfde patetiese situasie (wat nou snel omgekeer word! Die rewolusie het begin!) wat hom voor(ge)doen (het) in bv die VSA - kamtige "kenners"- deur die bank "liberaal" en nie die klassieke soort nie hoor ! - ook bekend as "geleerdes", wat hul "opinie", vervul met liberale wensdenkery en ontkenning van dit wat die natuurlikste is - die feit dat rasgroepe saamskaar en mekaar ondersteun - op lesers probeer afsmeer.
Dit sal nie meer gebeur nie! Trouens is die situasie reeds aan't omkeer, sien bv die VSA waar The Gateway Pundit, Breitbart, Daily Caller, Townhall, en les bes, FOX NUUS nou gedy en waar die ou "kenners" met hul liberale vergrype LETTERLIK in hul kanon in is soos bv "Communist News Network".
Ha!
Vir die rekord: "Die Land" is 'n PUIK produksie, ons is Afrikaners en hierdie is ons land! (Saam met die ander volkere wat in vrede wil leef saam met ons!)
Liberales is altyd gepla met post-koloniale begrippe soos "setlaars" en "setlaarsgemeenskappe" en kan in hul bejammerlike selfkastyding en oikofobie nie die denkskuif maak dat hulle, al haat hulle dit, inheems is nie!
Ons eer ons helde (Steve, Bok en die andere)!
"Die Land" (soos in land(erye), ook geboorteland/country of birth) se gepaardgaande beeldmateriaal is net so pateties soos die sentimentele lirieke.
Die "saad" val beslis op droë klipperige grond volgens die uitgestrekte semi-woestyn se Karootonele, waar nie land(erye) moontlik is, of gesaai word nie, maar met vee geboer word. Selfs die trekker met sleepwaentjie, ry stof uit op pad na iewers, waarskynlik nêrens (die land, huidige Suid-Afrika?).
'n Windpomp en nostalgie na versukkelde boere(gespeel deur 'n swak akteur as landbouer!) bied geen inspirasie of die "hoop" wat die sangers beweer hul doel met hierdie lied is.
Waarom anders is 'n land met sonneblomme, kleurloos? Inteendeel, ek ervaar hierdie lied(jie) eerder as opruiend met 'n verskuilde agenda. Hoeveel van die "popsangers”weet wat moderne boerdery behels, of was al op suksesvol bestuurde plase? Waarom steeds 'n plaas as metafoor vir die geboorteland gebruik, soos deur Steve en kie vir 'n Solidariteit/Afriforum/Afrikaans is Groot-gehoor wat in stede/dorpe woon en selde 'n plaas besoek of hul hande vuil maak met tuingrond?
Die Afrikaans en vertaling op die internet is net so lagwekkend: Waar gaan jou spore toe vaai [sic]?: Where will your spores flow?
https://lyricstranslate.com/en/die-land-behoort-aan-jou-land-belongs-you.html
Bogemelde deur 'n sogenaamde Franssprekende vertaler, waarskynlik 'n Front Nacionale ondersteuner en/of 'n opstandige "Geelhemp"-klipgooier in Parys, met kontakte in hierdie "land" aan die suidpunt van Afrika?