Is die vloekwoorde in die Kaapse gangsta-rappers Dookoom se lied “Larney jou p**s” Suid-Afrika se 12de amptelike taal wat poog om (sommige?) plaaswerkers se slegte werksomstandighede te verwoord?
Dit blyk so te wees, want boere oor die land heen is die harnas in oor die lied. Dermate dat die burgerregtegroep AfriForum met regstappe gedreig het.
Dit is duidelik nie ons almal se gewoonte om sulke kwetsende woorde te gebruik nie, maar Dookoom se geskreeu en die gebruik van sulke morsige woorde moet nie ligtelik opgeneem word nie.
Met die gebruik van woorde soos “brand die plaas en f** die baas” blyk dit ’n ernstige noodroep te wees op die owerhede om in te gryp om iets omtrent die oorwegend ongunstige werkslewe van ons plaaswerkers te doen.
“Woorde kan spraakdade wees,” het wyle Jakes Gerwel geskryf.
Die onmin tussen boer en plaaswerker en die gebruik van onwelvoeglike taal deur Dookoom en beelde van ’n wit boer wat op sy plaaswerkers skreeu, dreig om dié twis – veral na die De Doorns-plaasopstande in 2012 – verder te verdiep.
“Larney jou p**s” is ’n lied wat ou herinneringe terugbring en boonop diep sny; tot op die been.
’n Paar jaar gelede ry ek van Graaff-Reinet na Uitenhage. ’n Beeld uit die verlede het skielik voor my aangesig kom verskyn. Skuins voor Jansenville het dit skemer geword.
’n Ligte reëntjie het sy verskyning gemaak en die stilte van die uitgestrek-verlate Karoo-vlaktes is stadig uitgedoof. Die gesuis van die reëndruppels was alomteenwoordig.
Voor my het ’n (wit) Toyota-bakkie gery. Oud, geroes en vervalle. Swart rook en ’n swaar reuk van diesel het die verfrisde reuk van die reëndruppels gedemp.
Hulle was in (blou) overalls geklee, al vyf van hulle – al was dit Sondag. Sou hulle dan gewerk het, al is dit Sondag? het ek gedink. Toe ek verbysteek, het dit harder gereën en donkerder geword.
Die skokkende beeld uit die verlede: ’n hond neffens die boer in die bakkie; agterop reën die plaaswerkers nat.
Dié beeld uit (die ou) Suid-Afrika neem jou terug tot in 1978 toe Adam Small sy Engelse drama The Orange Earth, gebaseer op sy grootwordplek, Goree, geskryf het. Waar sy ma deur die (wit) vrou agterom gestuur is toe sy by die plaashuis meel gaan haal het vir die nagmaalbrood.
Dit neem jou tot by vandag. ’n Verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het dit uitgewys: “Skokkende vergoeding, alkoholmisbruik, ’n gebrek aan geleenthede, armoede, geweld, seksuele teistering, haatspraak en gebrekkige huisvesting.”
In Nelson Mandela – freedom to the future, 2003 skryf Gerwel oor nasiebou en versoening dat Madiba steeds glo daar is goeie mans en vroue in elke gemeenskap. Net so ook is daar goeie boere wat hul plaaswerkers menslik behandel.
Miskien bied die Dookoom-lied en die plaaswerkersvakbond Bawusa se dreigende stakings op plase die regering, boere, plaaswerkers en alle belanghebbendes die geleentheid om dié probleme in die landbousektor suksesvol aan te pak en op te los.
Die vloekwoorde in “Larney jou p**s” hoef dus nie Suid-Afrika se 12de amptelike taal te word nie.


Kommentaar
“Voor my het ’n (wit) Toyota-bakkie gery. Oud, geroes en vervalle. Swart rook en ’n swaar reuk van diesel het die verfrisde reuk van die reëndruppels gedemp.”
Jason, my gevoel is dat dit NIE 'n boer (wit landbouer) was wat die Sondagaand met die bakkie gery het nie. Dis nogtans wat jy dink. Dit was klaarblyklik 'n armsalige sukkelaar wat, afgesien van homself, nog 'n paar ander mense van 'n (klein) verdienste voorsien. Behoort jy nie simpatie met alle sukkelendes te hê nie – selfs met 'n witte wie se bakkie net-net nog aan die gang is? Moenie vir my sê jou empatie is beperk tot donkerder velskakerings nie?
Jy verwys ook na die De Doors plaasopstande van 2012. Geweldige skade en ontwrigting het hier en elders plaasgevind. Met 'n regering wat simpatiek is teenoor die werkers het verskillende vakbonde op die gebied toegesak en hulle hulp aan werkers aangebied. Sover my kennis strek is geen boere hierna in die hof vervolg nie – jy weet wel van 'n geval van 'n “wit boer” wat op plaaswerkers skreeu – in omstandighede waar almal emosioneel was! Miskien moet jy meer holisties en minder emosioneel na sulke dinge kyk of verkies jy 'n land wat brand?
Om na De Doorns 2012 woorde soos “brand die plaas en f** die baas” te vergoeilik op die wyse wat Dookoom dit doen is hoogs onverantwoordelik.
Jy maak nog 'n oordeelsfout: “… boere oor die land heen is die harnas in oor die lied.” As dit spesifiek boere was sou landbou-organisasies geprotesteer het. Afriforum mag toevallig boere insluit, maar verteenwoordig eintlik Afrikaanssprekendes wat voel dat die rassetemperatuur in die land op 'n onverantwoordelike manier opgejaag word. Helaas stem jy nie saam nie. Jy voel dit is reg as Dookoom tot op die been sny om gevoelens onder die aandag te bring. Ek is nie 'n ondersteuner van Steve Hofmeyr nie, nogtans, as Dookoom sonder inhibisies geregtig is op 'n “ernstige noodoproep” en op die kruste wyse na 'n boer se (vroulike) geslagsorgaan mag verwys, het Steve seker ook die reg tot 'n “kleiner noodoproep” om sy frustrasies onder die aandag te bring? Gee vir ons 'n aanduiding wat Steve omtrent swart mans mag sê of nie mag sê nie. As dit vir Dookoom aanbevelingswaardig is om tot op die been te sny waar is Steve se grens?