.......
“Robotika as keusevak vir ouer leerders met ’n intense belangstelling in tegnologie en ingenieurswese mag dalk meriete hê, maar nie vir jong kinders nie.”
.......
Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met aktuele sake.
Menán van Heerden gesels met Henriëtte Loubser oor haar 2018 LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel, “Uitdagings van die Antroposeen: Onderwys in die era van ’n mensgemaakte wêreld”.
- Lees ook: “Onderwys, opvoeding en gebruike in ’n nuwe era”
In jou artikel beskryf jy die Antroposeen as “die era van die mens, en die impak daarvan op natuurlike en niemenslike bestaansvorme op aarde”. Die negatiewe impak van die mens op die aarde, byvoorbeeld klimaatsverandering, is welbekend. Wat is die positiewe aspek(te) van die Antroposeen?
Dit klink miskien na ’n yslike paradoks, maar daar is wel diegene, soos Jeanson en andere (2019), wat verwys na die sogenaamde good Anthropocene – ’n epog waar menslike lewenskwaliteit in stand gehou en bevorder kan word sonder skade aan die omgewing: “that the quality of human life may increase without hindering the environment, that functioning ecosystems are central to socio-economic successes and human well-being, and that dynamic and adaptive conservation actions are vital to managing current and future environmental realities”.
Dan is daar diegene wat hierdie standpunt as blote wensdenkery en oëverblindery afmaak. Lesly Sklair (2019) beweer byvoorbeeld dat die idee van ’n “good Anthropocene” in direkte, radikale opposisie teenoor die kritiese narratief van die Antroposeen staan en hy reken dit is ontwikkel as ’n strategie “to defend the socio-economic status quo by the proponents of sustainable development and their successors in the Anthropocene era”.
Vir my is die enigste positiewe aspek van die Antroposeen die feit dat dit groter bewustheid gebring het. Ek stem saam met Le Grange (2019) waar hy meld dat die Antroposeen ’n tydperk is van groterwordende bewustheid by mense oor die skadelike uitwerking van ons optredes en ingesteldhede op die planeet. Mense wil dit nie hoor nie en daarom is daar fel kritiek teen omgewingsaktiviste, maar die boodskap van die Antroposeen staan vas: As mense nie hulle ingesteldhede en hulle optrede gaan verander nie, is daar geen omdraaikans meer nie.
Die “niemenslike” sluit masjiene in. Volgens Die Burger (29/01/2020) gaan robotika volgende jaar as vak van gr R tot gr 3 aangebied word (dit gaan vir ander grade oor ’n tydperk van drie jaar infaseer word). Dink jy so ’n vak is nodig, aangesien 78% van graad 4’s nie verstaan wat hulle lees nie?
Alhoewel robotte en ander “masjiene” voorbeelde is van niemenslike bestaansvorme, is hulle allereers mensgemaak. Hulle vorm dus nie deel van dit wat “natuurlik” op aarde hoort nie.
My onmiddellike reaksie op hierdie vraag is: Nee. Kinders moet allereers deeglike taal- en wiskunde-onderrig kry, wat tans nie die geval is nie. Daaroor hoef ons nie eens uit te wei nie – dit is ’n gegewe. Robotika as keusevak vir ouer leerders met ’n intense belangstelling in tegnologie en ingenieurswese mag dalk meriete hê, maar nie vir jong kinders nie.
Wat dink jy is die ideale kurrikulum in die era van ’n mensgemaakte wêreld?
Die ideale kurrikulum sal interdissiplinêr van aard wees, waar daar oor vakgebiede heen volle samewerking is met een hoofdoel voor oë: dat leerders taal- en wiskundevaardighede sal bemeester. Máár: sentraal in hierdie kurrikulum sal omgewingsopvoeding en die ontwikkeling van ekogeletterdheid by leerders staan. Tans suig omgewingsopvoeding aan geen speen nie, wat nog te sê die agterste een!
Die ideale kurrikulum sal geleenthede bied waar leerders die natuur kan beleef, waar hulle kan deelneem aan kritiese gesprekvoering en etiese ondersoeke na die waarde van die natuur, waartydens hulle begelei sal word na die gevolgtrekking dat verantwoordelike saambestaan van alle dinge op aarde uiteindelik ook hulle eie toekoms gaan bepaal.
Ek glo in wat Jickling en andere (2018) “wild pedagogies” noem. Waar verhoudings met plek, landskappe, die natuur en die sogenaamde wildernis (the wild), herondersoek word. So ’n kurrikulum sal ’n soeke aanmoedig na ’n nuwe (maar eintlik oeroue) verhouding met die aarde.
Daar is onlangs die eerste “lewende robotte” gemaak:
The world’s first living robots have been built using stem cells from frog embryos, in a strange machine-animal hybrid that scientists say is an entirely new life-form. [These] “xenobots” are the first to be constructed from living cells. Researchers are hopeful they could be programmed to move through arteries scraping away plaque, or swim through oceans removing toxic microplastic. And because they are alive, they can replicate and repair themselves if damaged or torn. (Bron)
If we could make 3D biological form on demand, we could repair birth defects, reprogram tumors into normal tissue, regenerate after traumatic injury or degenerative disease, and defeat aging … This research could have a massive impact on regenerative medicine (building body parts and inducing regeneration). (Bron)
Jou gedagtes hieroor?
Saam met die veelbesproke Vierde Industriële Revolusie is die era van die robot en robotika sekerlik die realiteit. Hulle kan beslis die lewe van die mens vergemaklik (byvoorbeeld die kobot), en selfs red, soos wat jy dan ook noem. Indien robotte op so ’n wyse vervaardig kon word dat dit geen skade aan die natuurlike omgewing sal aanrig nie (dalk herwin kon word), sou dit ideaal wees.
Soos met die “good Anthropocene” is daar sekerlik verskeie menings oor hierdie onderwerp. Navorsers soos Van Wynsberghe en Donhauser (2017) reken dit is moontlik om robotika in ekosisteme te integreer om die snelle verandering in omgewings-, klimaats- en biodiversiteitverandering teen te werk. Met ander woorde iets soos omgewingsrobotika!
Die voordeel van robotte as plaasvervangers in lewensbedreigende situasies, byvoorbeeld in oorlogvoering, of die aanwending van robotte in die bekamping van ongeneeslike siektes, is voorwaar aanloklik.
.......
“Die ideale kurrikulum sal interdissiplinêr van aard wees, waar daar oor vakgebiede heen volle samewerking is met een hoofdoel voor oë: dat leerders taal- en wiskundevaardighede sal bemeester. Máár: sentraal in hierdie kurrikulum sal omgewingsopvoeding en die ontwikkeling van ekogeletterdheid by leerders staan.”
.......
Dit klink dalk alles goed en wel en deur wetenskapfiksie sou ’n mens kon beleef hoe robotte saam met die mens stry teen die vernietiging van die planeet. Die realiteit is egter, soos reeds genoem, dat robotte mensgemaak is en dat dit gevolglik nie natuurlik deel is van die lewensvorme op aarde nie, en dit kan ook nie (tans) op natuurlike wyses vergaan nie. Die druk op ’n reeds oorbesoedelde planeet word sodoende net al groter.
Die probleem lê daarin dat menslike intelligensie, menslike vaardighede en menslike uitnemendheid verantwoordelik is vir hierdie bestaansvorme (soos robotte), maar saam daarmee kom menslike onverantwoordelikheid en feilbaarheid.
Saoedi-Arabië het in 2017 die eerste land geword wat vir ’n robot burgerskap gee. In ’n berig hieroor word daar geargumenteer dat hierdie robot meer regte as vroue en migrante het in Saoedi-Arabië. Menseregte vir ’n robot. Maak dit sin?
Na die lees van Elizabeth Wasserman se Anna Atoom-boeke sou ’n mens graag burgerskap en menseregte aan haar boetie, die kuborg Pip, wou gee. Daar word reeds na robotte verwys as “electric persons” (Isa 2018), maar menseregte aan robotte eerder as aan vroue, nee. Dit is te dik vir ’n daalder.
Lees meer oor die Antroposeen in LitNet Akademies-artikels:
Aantekening: Om globale omgewingsreg en -regulering in die antroposeen te herbedink
Lees hierdie LitNet Akademies-artikel wat die waarde van omgewingsgeoriënteerde fiksietekste met die oog op omgewingsbewusmaking en –opvoeding van die jeug bespreek:
LitNet Akademies Weerdink: Van Voëlvry na Voëlvryf na Spoegwolf
Lees meer oor volhoubare ontwikkeling:
Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met aktuele sake:
LitNet Akademies Weerdink: Die "Die Land"-musiekvideo, mites en nostalgie
LitNet Akademies Weerdink: ’n Globale perspektief op groepregte en diversiteit