......
“Die grootste enkele faktor wat daartoe bygedra het dat die Britse kieserspubliek hulle in 2016 tot Brexit verbind het, was die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die moderne internasionale stelsel.”
......
Chris Nelson het in sy LitNet Akademies-artikels “Die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die eietydse internasionale stelsel – Deel 1” (en “Deel 2”) (Julie 2019) kortliks na die stand van Brexit verwys. Hiermee ’n meer breedvoerige, hedendaagse ontleding van die Britse onttrekking aan die Europese Unie.
Die Britse onttrekking aan die Europese Unie (EU): Wat het daartoe bygedra en wat is die gevolge vir die VK, die EU en ander state?
1. Inleiding
Op 31 Januarie 2020 om 23:00 het die Verenigde Koninkryk (VK) sy lidmaatskap van die Europese Unie (EU) na 47 jaar beëindig. Met hierdie stap is die stempel geplaas op die uitslag van ’n nasionale referendum wat op 23 Junie 2016 gehou is. In hierdie referendum, wat deur die voormalige Britse eerste minister, David Cameron, uitgeroep is, het 17 410 742 (51,89%) Britse kiesers ten gunste van onttrekking (Brexit) gestem terwyl 16 141 241 (48,11%) daarteen gekant was (BBC 2016).
Wat veronderstel was om ’n eenvoudige en relatief snelle onttrekkingsproses te wees het egter nie gebeur nie. Dit het langer as drie jaar geduur om ’n onttrekkingsooreenkoms met die EU te beding en het tot die bedanking van twee eerste ministers gelei. Verder is hierdie onttrekkingsooreenkoms by nie minder nie as drie geleenthede deur die Britse parlement verwerp. Dit was eers op 12 Desember 2019 dat die Konserwatiewe Party, onder die leiding van die huidige eerste minister, Boris Johnson, die nodige meerderheid tydens ’n algemene verkiesing kon bekom om die ooreenkoms met die EU te finaliseer en in wetgewing te omskep.
Die groot ironie is dat die onttrekkingsproses nog nie afgehandel is nie. Ingevolge die onttrekkingsooreenkoms wat deur Johnson beding is, sal die finale besonderhede gedurende die res van hierdie jaar onderhandel word. Wat die finale uitslag van hierdie onderhandelings sal wees, is onbekend. Wat wel bekend is, is dat dit beloof om ’n uitgerekte en ingewikkelde proses te wees. Die moontlikheid bestaan selfs dat die VK aan die einde van 2020 sonder ’n onderhandelde ooreenkoms (“no-deal Brexit”) die EU kan verlaat.
......
“Dit het langer as drie jaar geduur om ’n onttrekkingsooreenkoms met die EU te beding en het tot die bedanking van twee eerste ministers gelei. Verder is hierdie onttrekkingsooreenkoms by nie minder nie as drie geleenthede deur die Britse parlement verwerp.”
......
Eerste minister Johnson is nietemin optimisties dat ’n nuwe handelsooreenkoms met die EU wel moontlik is. Tydens die Brexit-feesvieringe in Londen op 31 Januarie 2020 het hy verder beklemtoon dat Brexit die begin is van ’n nuwe daeraad wat vir die VK aangebreek het. In die nuwe era sal nie alleen ware nasionale vernuwing geskied nie, maar sal dit ook tot die herlewing van die VK se mag tot onafhanklike denke en optrede lei. Dit herinner sterk aan die slagspreuk van Donald Trump: “Make America great again.”
In hierdie meningsartikel sal eerstens ondersoek ingestel word na daardie enkele faktor wat op beslissende wyse daartoe bygedra het dat die meerderheid van die Britse bevolking hulself in 2016 verbind het tot die beëindiging van die VK se lidmaatskap van die EU van bykans 50 jaar. Tweedens sal ondersoek ingestel word na die gevolge wat die beëindiging van die VK se lidmaatskap vir die VK self, vir die EU en vir ander state en staatgroeperings inhou.
2. Die grootste enkele faktor wat Brexit tot gevolg gehad het
Die grootste enkele faktor wat daartoe bygedra het dat die Britse kieserspubliek hulle in 2016 tot Brexit verbind het, was die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die moderne internasionale stelsel. Meer rakende hierdie kragtige oplewing kan gelees word in ’n artikel wat ek in 2019 in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) in twee dele gepubliseer het onder die titel “Die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die eietydse internasionale stelsel: voorkoms, oorsake en gevolge”.
Kortliks verwys “populistiese mobilisering” na daardie politieke strategie wat deur personalistiese politieke leiers, politieke partye en politieke bewegings regoor die politieke spektrum aangewend word en wat gekenmerk word deur ’n anti-elitistiese en nasionalistiese retoriek wat daarop ingestel is om by wyse van direkte kommunikasie ’n spesifieke bevolkings- of ondersteunersgroep op te hemel as die suiwer, ware, goeie, legitieme, outentieke, soewereine en ten volle verenigde lede van die samelewing (“the true people”) ten einde hulle sodoende te motiveer en te mobiliseer om tot prominente, sigbare en kontroversiële politieke optrede oor te gaan ter verkryging van politieke mag en daarna die bekamping van ’n bepaalde sosio-ekonomiese of kulturele krisis wat hulle in die gesig staar.
In die VK is populistiese mobilisering tydens die referendum in 2016 deur faksies in beide die regerende Konserwatiewe Party en die amptelike opposisie, die Arbeidersparty, as politieke strategie aangewend. Hierdie faksies, bekend as die Brexiteers, het deur veral die gebruik van nasionalistiese retoriek die gewone burgery in Brittanje oortuig dat voortgesette lidmaatskap van die EU, soos voorgestaan deur die “Remainers”, met skeptisisme bejeën moet word omdat dit nie Britse ekonomiese belange bevorder nie en inderdaad ’n maatskaplike en kulturele krisis vir die samelewing daarstel. Die aanwending van hierdie besondere strategie is op beduidende wyse vergemaklik deurdat groot gedeeltes van die Britse burgery reeds vir etlike dekades ’n diepgewortelde antipatie jeens die EU gekoester het. Die algemene term wat gebruik is om hierdie ingesteldheid te beskryf is Euroskeptisisme. Euroskeptici propageer nie alleen onttrekking van lidstate aan die EU nie, maar bepleit ook strenger beheer oor immigrasie, en die aftakeling of vaartbelyning van die EU se burokratiese strukture (EAVI 2018).
......
“Die groot ironie is dat die onttrekkingsproses nog nie afgehandel is nie.”
......
Waarskynlik die beste verduideliking van die krag van Euroskeptisisme in die VK is te vinde in die argumente wat deur David Blake (2018) aangevoer word vir waarom die meerderheid van die Britse kieserspubliek besluit het dat dit in hulle staat se belang is om van die EU te onttrek. Die volgende is ’n opsomming van sy argumente:
- Die EU is nie alleen ’n “aggressiewe bullebak” nie, maar ook ’n proteksionistiese handelsblok. Die EU bepaal 100% van handelsregulasies vir VK-ondernemings ofskoon slegs 8% van hierdie ondernemings met die EU handel dryf; die uitvoer van goedere deur die VK na die 11 stigterslede van die EU het tussen 1993 en 2015 met slegs 1% toegeneem terwyl die uitvoere deur die VK na 111 ander state ingevolge die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie oor dieselfde tydperk met 2,8% toegeneem het; uitvoere van die VK na die EU het sedert 1993 van 60% tot 44% afgeneem.
- Die EU is skuldig aan die wantoedeling van bronne. Ongeveer 40% van die EU se begroting word ingevolge die Gemeenskaplike Landboubeleid (CAP) aan landbou toegewys, ofskoon hierdie sektor slegs 1% van die EU se BBP vorm.
- Die EU is as politieke projek in wese ondemokraties. Terwyl die EU veronderstel is om ’n “dubbele demokrasie” te wees vanweë die bestaan van instellings soos die Europese Raad en die Europese Parlement, word die EU deur die onverkose burokrate van die Europese Kommissie bestuur.
- Die wetgewing van die EU is doelgerig van aard (“purposive”). Binne die EU word die Europese Geregshof gemagtig om wetgewing te interpreteer en te herinterpreteer om in ooreenstemming te wees met die bedoelings van die Europese Kommissie. Hierdie praktyk vorm ’n skrille kontras met die presiese en duidelike aard van Britse wetgewing en regspraak.
- Die dwaasheid (“folly”) wat gepaard gaan met die aanvaarding van die euro as geldeenheid. Die skepping van hierdie geldeenheid vir ’n groep state in die EU wie se ekonomieë hemelsbreed van mekaar verskil, sou noodwendig daartoe lei dat ’n enkele monetêre beleid en rentekoers die ekonomies dominante state sou bevoordeel en die ekonomies swakker state sou benadeel. (Dit is interessant om te meld dat die Blair-regering in 1997 besluit het om nie die euro in die VK te gebruik nie maar voortgegaan het om die pond van die Bank van Engeland as nasionale geldeenheid te gebruik.)
......
“Ook Amadeo (2020) wys op die negatiewe uitwerking wat Brexit reeds op die VK gehad het en in die toekoms sal hê, byvoorbeeld ’n daling in ekonomiese groei.”
......
- Die demografiese veroudering van die EU se bevolking. Vanweë ’n kombinasie van ’n stygende lewensverwagting en dalende bevolkingsgetalle sal die EU se bevolking as deel van die globale bevolking daal van 7% tans tot 4% aan die einde van die eeu en sal 90% van globale ekonomiese groei oor hierdie tydperk buite die EU plaasvind.
- Die EU bevorder die ontstaan van regionale separatistiese groepe deurdat ’n “sitplek” vir hulle aan die “hooftafel” in die vooruitsig gestel word. In hierdie verband kan verwys word na die separatistiese strewes van Katalonië, Skotland en Korsika.
- Die toename in Euroskeptisisme binne die EU. Tipiese voorbeelde is die anti-EU-uitlatings van etlike prominente leiersfigure in EU-lidstate. Die uitlatings van die Hongaarse president, Viktor Orbàn, dien as voorbeeld.
- Die EU is is deels verantwoordelik vir die heersende spanning tussen Rusland en die Oekraïne.
- Die EU versuim om massiewe korrupsie hok te slaan. Uitgawes ten bedrae van 100 miljard euro deur EU-burokrate oor die afgelope 20 jaar is nie verklaar nie.
Aangevuur deur hierdie beskouings en sterk beklemtoon deur prominente leiersfigure in Britse politieke partye was dit ’n voldonge feit dat die meerderheid van die Britse kieserspubliek hulle in die referendum van 2016 ten gunste van Brexit sou uitspreek.
3. Gevolge wat Brexit inhou vir die VK, die EU en ander state
3.1 Gevolge vir die VK
Die feit dat die VK sy lidmaatskap van die EU op 31 Januarie 2020 amptelik beëindig het, beteken nie dat alle verbintenisse finaal beëindig is nie. Dit dui slegs op die einde van een hoofstuk in die verhaal. Die volgende, en belangriker, hoofstukke moet binne die volgende 11 maande geskryf word, tensy daar oor ’n verdere finale datum onderhandel word. Volgens die onttrekkingsooreenkoms wat deur Johnson onderhandel is en noue ooreenkoms toon met die ooreenkoms wat deur sy voorganger, Theresa May, beding is, sal die status quo vir die volgende 11 maande behou word.
Enkele van die uitsonderings in die onderhandelde ooreenkoms behels volgens Amadeo (2020) die volgende:
- Die VK sal nie meer deel wees van die doeane-unie nie. Dit sluit die Britse gebied Noord-Ierland in, maar laasgemelde sal toegelaat word om ’n “sagte grens” met die Republiek van Ierland, wat ’n lid van die EU is, te skep.
- Die VK en die EU sal ’n handelsooreenkoms sluit wat voorsiening sal maak vir die heffing van tariewe op mekaar se invoere.
......
“Die drie miljoen Europese burgers wat reeds in die VK woon, sal toegelaat word om sonder werksvisums in die VK te bly woon en werk. Die 1,3 miljoen burgers van die VK wat in die EU woon en werk, sal soortgelyk behandel word.”
......
- Die drie miljoen Europese burgers wat reeds in die VK woon, sal toegelaat word om sonder werksvisums in die VK te bly woon en werk. Die 1,3 miljoen burgers van die VK wat in die EU woon en werk, sal soortgelyk behandel word. Wat die toekoms aanbetref, het die VK reeds ’n immigrasiestelsel voorgestel wat op die vaardighede van werkers gebaseer sal wees.
- Die VK sal ’n “skeidingspakket” van 33 miljard Britse pond betaal om enige oorblywende finansiële verpligtinge na te kom.
Sou die VK en die EU aan die einde van 2020 nie daarin slaag om ’n nuwe handelsooreenkoms te beding nie en die VK die EU sonder ’n ooreenkoms verlaat, kan die VK meer nadelige gevolge ervaar as dié wat dit reeds moes verduur sedert die uitslag van die referendum in 2016 bekend gemaak is. Die prys wat die VK reeds moes betaal vanweë die onsekerheid wat ná die Brexit-referendum ingetree het, word deur Pippa Norris (2020) aangetoon. Sy wys daarop dat die onsekerheid en ontwrigting wat deur Brexit geskep is, die Britse ekonomie reeds 170 miljard VSA-dollar gekos het. Die bedrag sal teen die einde van 2020 tot 260 miljard VSA-dollar styg, wat meer is as die totale ledegeld wat die VK die afgelope 47 jaar aan die EU betaal het. Voeg hierby die verdeeldheid in die Britse samelewing wat deur Brexit tussen die Brexiteers en die Remainers geskep is en selfs tot die afskeiding van Skotland en die hereniging van Noord-Ierland en die Republiek van Ierland kan lei, en ’n uiters somber prentjie kom na vore.
Ook Amadeo (2020) wys op die negatiewe uitwerking wat Brexit reeds op die VK gehad het en in die toekoms sal hê:
- ’n Daling in ekonomiese groei van 2,4% in 2015 tot 1,5% in 2018.
- ’n Daling in ekonomiese groei in die stad Londen van 1,4% in 2018 tot nul in 2019. Investering deur sakeondernemings in die stad het met 11% afgeneem.
- Die erkenning deur die regering dat Brexit ekonomiese groei oor die volgende 15 jaar met 6,7% sal verlaag selfs al word ’n nuwe handelsooreenkoms met die EU bereik.
......
“Voeg hierby die verdeeldheid in die Britse samelewing wat deur Brexit tussen die Brexiteers en die Remainers geskep is en selfs tot die afskeiding van Skotland en die hereniging van Noord-Ierland en die Republiek van Ierland kan lei, en ’n uiters somber prentjie kom na vore.”
......
Die ernstige ontwrigting wat die VK in die gesig staar sou ’n “geen-ooreenkoms-Brexit” ’n werklikheid word, is deur die BBC (2019) uitgelig. Die volgende is pertinent vermeld:
- 30% van die voedsel wat in die VK verbruik word, is van die EU afkomstig.
- 45% van die gas wat in die VK verbruik word, bereik die VK deur die Europese pyplynstelsel.
- 54 miljoen reise “(travels”) is in 2018 vanaf die VK na EU state onderneem.
- 12 000 tipes medikasie word in die VK gebruik waarvan 7 000 deur EU-lidstate voorsien word.
- Migrasie vanuit EU-lidstate na die VK het afgeneem van ongeveer 250 000 in 2017 na ongeveer 50 000 in 2019.
- In 2017 het die getal Europees-gebore werkers wat om werksgeleenthede in die VK aansoek gedoen het, met 95% gedaal. Dit is veral die laaggeskoolde en mediumgeskoolde beroepe wat die nadeligste getref is.
3.2 Gevolge vir die EU
Die gevolge wat Brexit vir die EU inhou, is van minder ernstige aard. Die besluit deur Britse kiesers het weliswaar gelei tot die versterking van Europese politieke partye wat populistiese mobilisering as politieke strategie aanwend, maar dit is onwaarskynlik dat hierdie partye in leidende state soos Duitsland en Frankryk sodanige steun sal kan verkry om uiteindelik die voortbestaan van die EU te bedreig. Amadeo (2020) wys daarop dat die meeste EU-burgers volgens onlangse meningspeilings sterk ondersteuners van die EU en sy instellings is.
Betreffende die ekonomiese gevolge wat Brexit vir die EU mag inhou is die prentjie ook nie baie donker nie. Indien die VK en die EU op ’n standaard vryehandelsooreenkoms sou besluit, sal die uitset van die oorblywende 27 state volgens Chen ea (2018) verbonde aan die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) met 0,8% daal en indiensneming met 0,3%. Indien ’n ooreenkoms nie bereik word nie en die Wêreldhandelsorganisasie se reëls toegepas word, sal die oorblywende EU-state se uitset met 1,5% daal en indiensneming met 0,7%. Sou die partye op die Noorweegse model ooreenkom (toegang tot die Europese Handelsblok (European Single Market), maar nie deel van die doeane-unie nie) sal die afname in uitset en indiensneming vir die oorblywende 27 EU-state onbeduidend wees.
3.3 Gevolge vir die VSA
Dit is bekend dat die politieke leiers in die VK en die VSA tradisioneel uiters noue betrekkinge en verhoudings gehandhaaf het. Van die mees uitstaande voorbeelde in hierdie verband is die verhoudings tussen Franklin Roosevelt en Winston Churchill, Ronald Reagan en Margaret Thatcher en Bill Clinton en Tony Blair. Sodanig was die samewerking tussen Britse en Amerikaanse leiers in die verlede dat navorsers soos Sloat (2019) na die bestaan van ’n “spesiale verhouding” tussen hierdie twee state verwys.
......
“Sou die VK en die EU aan die einde van 2020 nie daarin slaag om ’n nuwe handelsooreenkoms te beding nie en die VK die EU sonder ’n ooreenkoms verlaat, kan die VK meer nadelige gevolge ervaar as dié wat dit reeds moes verduur sedert die uitslag van die referendum in 2016 bekend gemaak is.”
......
Gegewe die feit dat beide Boris Johnson en Donald Trump hulle regeerposisies grootliks te danke het aan die effektiewe wyse waarop hulle populistiese mobilisering in hulle verkiesingsveldtogte aangewend het; dat beide as Euroskeptici getipeer kan word; en dat beide hulle pertinent verbind het tot die sluiting van ’n spesiale handelsooreenkoms dui daarop dat hierdie spesiale verhouding na afhandeling van die Brexit-proses verder uitgebou sal word. Trump het reeds in Junie 2019 aangebied om na afhandeling van die Brexit-proses ’n “fenomenale” handelsooreenkoms met die VK te sluit.
3.4 Gevolge vir ander state, insluitende state in Afrika
Die visie van Boris Johnson vir die vestiging van ’n “Globale Brittanje” kan na die voltooiing van die Brexit-proses ook tot die voordeel van state in ander wêrelddele strek. Met spesifieke verwysing na Afrika het Paduano (2020) reeds so ver gegaan om na Boris Johnson se nuwe “scramble for Africa” te verwys. ’n Aanduiding dat hierdie nuwe “geskarrel vir Afrika” besig is om gestalte te kry is die VK-Afrika-beleggingsberaad wat op 20 Januarie 2020 in Londen onder die voorsitterskap van Boris Johnson plaasgevind het. Die beraad is bygewoon deur verteenwoordigers van 21 state in Afrika. Tydens die beraad het die VK onderneem om teen 2022 met beleggings van twee miljard Britse pond in Afrika vorendag te kom (Worley 2020). Vir Suid-Afrika kom hierdie Britse inisiatief op ’n geleë tyd, aangesien die regering reeds met ’n veldtog begin het om, ten einde die ekonomie te stimuleer, buitelandse beleggings van R1,2 triljoen oor die volgende vyf jaar te lok.
4. Slot
Die besluit deur die Britse kiesers in 2016 om die VK se lidmaatskap van die EU ná 47 jaar te beëindig kan grootliks toegeskryf word aan die aanwending van populistiese mobilisering as politieke strategie deur die dominante politieke partye in daardie samelewing. Hierdie instellings se taak is aansienlik vergemaklik deurdat die Britse kieserspubliek, bekend vir hulle onblusbare gees van onafhanklikheid, hulself nie kon vereenselwig met die dominasie en voorskriftelikheid van ’n supranasionale instelling soos die EU nie. Dat die Britse kieserspubliek bereid was, en steeds bereid is, om ’n prys te betaal en ’n nuwe koers in te slaan blyk uit die groot meerderheid waarmee die Konserwatiewe Party onder die leiding van Boris Johnson op 12 Desember 2019 verkies is. Met die belofte “(to) get Brexit done” het hy nie minder nie as 365 van die 650 setels in die Laerhuis verower.
Bibliografie
Amadeo, K. 2020. Brexit Consequences for the UK, the EU, and the United States. The Balance. 1 Februarie 2020. https://www.thebalance.com/brexit-consequences-4062999 (1 Februarie 2020 geraadpleeg).
BBC. 2016. EU Referendum. Results. https://www.bbc.com/news/politics/eu_referendum/results (2 Februarie 2020 geraadpleeg).
—. 2019. No-deal Brexit: 10 ways it could affect you. 11 Oktober 2019. https://www.bbc.com/news/uk-politics-47470864 (2 Februarie 2020 geraadpleeg).
Blake, D. 2018. Ten reasons that justify the UK’s decision to leave the European Union. Briefings for Britain. 26 Oktober 2018. https://briefingsforbritain.co.uk/ten-reasons-that-justify-the-uks-decision-to-leave-the-european-union (2 Februarie 2020 geraadpleeg).
Chen, J, C Ebeke, L Lin, H Qu en J Siminitz. 2018. The long-term impact of Brexit on the European Union. IMFBlog, 10 Augustus 2018. https://blogs.imf.org/2018/08/10/the-long-term-impact-of-brexit-on-the-european-union (2 Februarie 2020 geraadpleeg).
EAVI. 2018. What is Euroscepticism? https://eavi.eu/what-is-euroscepticism (2 Februarie 2020 geraadpleeg).
Norris, P. 2020. Brexit is just the beginning. The United Kingdom heads into the storm after the storm. Foreign Affairs, 31 Januarie 2020. https://www.foreignaffairs.com/articles/united-kingdom/2020-01-31/brexit-just-beginning (2 Februarie geraadpleeg).
Paduano, S. 2020. Boris Johnson’s new scramble for Africa. Foreign Policy. 29 Januarie 2020. https://foreignpolicy.com/2020/01/29/boris-johnsons-new-scramble-for-africa (2 Februarie 2020 geraadpleeg).
Sloat, A. 2019. What Boris Johnson means for US-UK relations. Brookings, 31 Julie 2019. https://www.brookings.edu/blog/order-from-chaos/2019/07/31/what-boris-johnson-means-for-us-uk-relations (2 Februarie 2020 geraadpleeg).
Worley, W. 2020. All the news from the UK-Africa Investment Summit. Devex. 21 Januarie 2020. https://www.devex.com/news/all-the-news-from-the-uk-africa-investment-summit-96394 (2 Februarie 2020 geraadpleeg).
Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met aktuele sake:
LitNet Akademies Weerdink: Van Voëlvry na Voëlvryf na Spoegwolf
LitNet Akademies Weerdink: ’n Globale perspektief op groepregte en diversiteit
LitNet Akademies Weerdink: Die "Die Land"-musiekvideo, mites en nostalgie
LitNet Akademies Weerdink: Die klaskamer in ’n posthumanistiese samelewing
Kommentaar
Ek onthou nog so 15 jaar gelede, op universiteit, toe vertel die politieke wetenskaplikes ons dat ons nou die einde van die "nasiestaat" bereik het. Ons sal voortaan regeer word deur "transnasionale maatskappy" en misdadige bendes ... Nou ja toe ...
Op die lang duur is Brexit die regte besluit. Mens moes dikwels toekyk hoe arrogant Jean Claude Juncker en van sy adjudante in die EU was en hoe neerhalend hulle oor Britanje en sy mense gepraat het nadat "remainers" die referendum verloor het. En wat 'n gesukkel was dit nie om uit die EU se kloue te kom nie; 'n verdere bewys van die houvas wat hulle reeds oor Britanje en sy kiesers gehad het.
Soveel magte is oor die jare weggegee dat die gesukkel groot was vir die meerderheid Brexiteers om hulle te kon loswikkel uit die EU. Dìt is hoekom Britanje moes uit, om hulle soewereiniteit terug te kry; sodat die finale besluit oor belangrike sake by Britanje en sy mense self lê, en nie by die EU se onverkose lede nie. Indien Brittanje "Remain" gestem het, sou oor tyd van nog meer en meer mag afstand gedoen moes word. Die gevolg sou wees dat die meeste besluite vorentoe deur die EU geneem sou word en nie deur die Britse Parlement wat deur die mense self verkies is nie. In so 'n geval word die Britse kieser 'ontkieser' en is daar min sprake van Britse demokrasie naamlik om uiting te gee aan die wil van die mense sonder enige ander inmenging.
Met Brexit is die Britse Parlement weer in beheer van sy sake. Hy hoef nie sy grense oop te gooi vir 'vreemdes' nie, kan self sy prioriteite bepaal, begrotings opstel en uitvoering gee aan die wil van sy mense. Indien die EU 'n instelling was waar oor sake van gemeenskaplike belang gepraat kan word (wat baie belangrik is) sonder dat lidlande verplig word om afstand te doen van magte waarmee hulle dit nie eens is nie, sou dit 'n totaal ander saak wees. In werklikheid was dit die aanvanklike bedoeling maar oor jare het die reëling ontspoor. Die verstommende ding is dat daar mense is (Remainers) wat nou dink hulle is nie meer Europees nie. Verstommend! Natuurlik is hulle steeds Europees territoriaal gewys. Die verskil kom net daarby dat hulle nie meer bakhand hoef te staan wanneer hulle iets gedoen wil hê nie. Skakeling en ooreenkomste sal daar steeds wees (dis in algemene belang ook vir die EU lande) maar dan op die terme van Brittanje self.
Ek stem heelhartig saam met die kommentaar van Gustaf Claassens.