Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met die brandende kwessies van 2019.
In die nuutste Weerdink-artikel skryf Chris Nelson oor die stand van ons demokrasie in die lig van die onlangse bedanking van Mmusi Maimane en ander prominente leiersfigure uit die DA.
...........
Lees meer oor die stand van ons demokrasie tussen 2010 en 2019 (voor die verkiesing):
2010: Die stand van die demokrasie in Suid-Afrika: ’n kritiese perspektief
2014: Die Suid-Afrikaanse regstaat na twintig jaar: gekonsolideer of besig om in outoritarisme te verval?
2017: Demokrasie en Suid-Afrika in 2017
2019: LitNet Akademies Weerdink: Verkiesing 2019
...........
Inleiding
Die onlangse bedanking van Mmusi Maimane as leier van die Demokratiese Alliansie (DA) en Herman Mashaba as burgemeester van die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit, sowel as etlike ander prominente leiersfigure in die DA, word allerweë as ’n opspraakwekkende politieke gebeurtenis beskou. Dit het nie alleen die amptelike opposisie leierloos gelaat nie, maar ook die voortbestaan van die koalisieregering in die plaaslike regering van Johannesburg in onsekerheid gedompel. Verder hou hierdie bedankings uiters negatiewe implikasies in vir die voortgang en konsolidering van die demokratiese orde in Suid-Afrika. Veral betekenisvol is die feit dat hierdie bedankings die klowe in die DA sowel as die breë samelewing op onverbloemde wyse tot op die been oopgevlek het.
Die vrae wat ná hierdie gebeure na vore getree het en waarmee talle Suid-Afrikaners tans worstel is: Waarom het Mmusi Maimane en die ander prominente leiers in die DA tot hierdie uiterste optrede oorgegaan? Wat is die simboliek daarvan? Kan die bedankings bloot aan die bestaan van persoonlike verskille en interne spanninge en struwelinge binne die leierskorps toegeskryf word? Is die politieke terugkeer van Helen Zille as voorsitter van die DA se federale raad en haar uitspraak dat “blankes die DA verlaat en swartes die instelling transformeer” die oorsaak van hierdie traumatiese gebeure? Is die bedankings die direkte gevolg van die uitslae van die afgelope algemene verkiesing waarin die DA 1,5 % kiesersteun aan ander partye afgestaan het? Is Mmusi Maimane se bedanking in die besonder ’n reaksie in partygeledere op sy oorwoë pogings om die steunbasis van die party te verbreed deur die steun van swart kiesers te werf? Het sy bereidwilligheid om begrip en steun te toon vir die beleidsprogramme van ander politieke partye en in besonder die programme van die ANC sy posisie in die DA onhoudbaar gemaak? In hoeverre is die bedanking van hierdie leiers ’n funksie van bepaalde kragte, invloede en tendense wat sigself in wyer globale verband tans prominent kenbaar maak?
In hierdie meningsartikel in LitNet Akademies se Weerdink-reeks word twee verklarings aangebied ter beantwoording van sommige van die voormelde tergende vrae. Die standpunt wat ingeneem word, is dat terwyl dit aanvaar word dat interne faktore soos persoonlike geskille, rasseverskille, ideologiese verskille en verkiesingsuitslae wel ’n rol gespeel het, ’n volledige beeld nie verkry kan word indien die invloed van bepaalde toestande en tendense in die internasionale stelsel nie verreken word nie. Die wêreld het immers in ’n “globale dorp” verander en eietydse Suid-Afrika bevind sigself nie buite hierdie leefruimte nie. Kortom: Suid-Afrikaanse politieke leiers en politieke partye word geaffekteer deur dieselfde tendense wat die funksionering van politieke partye in die meeste ander state in die internasionale stelsel beïnvloed.
Die eerste verklaring wat voorgehou word vir die opspraakwekkende gebeure in die DA hou verband met die kragtige oplewing wêreldwyd van identiteitspolitiek en die ekstreme weergawe daarvan, naamlik populistiese mobilisering. Die tweede verklaring hou verband met die traagheid van politieke leiers om in hulle beleidsformulering ideologiese aanpasbaarheid en buigsaamheid aan die dag te lê ten einde maatskaplike en ekonomiese ongelykheid in samelewings te bekamp wat deur die oorheersing van neoliberalisme in die internasionale politieke stelsel geskep is.
Die kragtige oplewing van identiteitspolitiek en populistiese mobilisering wêreldwyd
Die bedanking van Mmusi Maimane en ander prominente leiers uit die DA is in geen geringe mate beïnvloed deur die kragtige opkoms van identiteitspolitiek en populistiese mobilisering wêreldwyd nie. Identiteitspolitiek verwys na die geneigdheid van leiers van groeperings in samelewings met ’n bepaalde godsdienstige, etniese, maatskaplike, kulturele, rasse- of ander identiteit om hulle eiesoortige belange te bevorder sonder inagneming van die belange van ander groeperings of dié van die samelewing in sy geheel. Populistiese mobilisering daarteenoor probeer om ’n direkte charismatiese verbintenis tussen ’n leier en ’n bepaalde groepering in die samelewing (“the true people”) te bewerkstellig deur die lede van die besondere groepering in onweerstaanbare terme op te roep om hulle besondere belange op fanatieke wyse na te streef en dit op ’n wyse te doen wat tot uitsluiting van die belange van ander groeperings en die res van die samelewing sal lei. Die aanwending van hierdie besondere politieke strategie deur die Economic Freedom Fighters (EFF) dien as voorbeeld.
Wêreldwyd is die oplewing van identiteitspolitiek in die besonder van sodanige kragtige en intense aard in samelewings dat die Amerikaanse politieke wetenskaplike, Francis Fukuyama (2018), nie alleen daarna verwys as “the new tribalism” nie, maar dit ook as die “meesterkonsep” beskou ingevolge waarvan alle gebeure en tendense in samelewings regoor die wêreld verklaar kan word.
In Suid-Afrika is die regerende African National Congress (ANC), sowel as die meeste opposisiepartye, op aktiewe wyse verbind tot die bedryf en propagering van identiteitspolitiek. Die ANC gee gestalte daaraan by wyse van etlike sosiale en ekonomiese transformasieprogramme en wat daarop gerig is om die lot van swart Suid-Afrikaners te verbeter. Hierdie rasgedrewe programme deur die ANC sou die DA as ’n party wat nie-rassigheid voorstaan en klassieke liberale waardes onderskryf (kyk hier onder wat hierdie waardes behels) onder groot druk plaas. Dit was veral Mmusi Maimane as swart leier van die DA wat hierdie druk openlik en op subtiele wyse sou ervaar. Uiteindelik het hy onder hierdie druk geswig en openlik laat blyk dat hy wel ten gunste is van daardie sosiale en ekonomiese transformasieprogramme wat die opheffing van benadeelde swart Suid-Afrikaners ten oogmerk het. Hierdie besondere posisionering deur Maimane het mettertyd ook uitgekring na ander leiers in die DA wat hulle noodwendig in konflik sou bring met die res van die leierskap wat om ideologiese redes ras nie as faktor in beleidsformulering beskou nie.
Waarskynlik die beste aanduiding van die spanning wat hierdie herposisionering van leiers binne die DA tot gevolg sou hê, was die verklaring van Maimane dat die DA nie geskik is om die visie van die party, naamlik “een Suid-Afrika vir almal”, met sy bestaande program van beginsels tot vervulling te bring nie. In aansluiting hierby het Herman Mashaba op sy beurt laat blyk dat hy hom nie met ’n party kan vereenselwig wat ras as irrelevant beskou in die bekamping van ongelykheid en armoede nie.
Hierdie spanningstoestand moes onafwendbaar vroeër of later tot uitbarsting kom. In die geval van die DA was dit die hertoetrede van Helen Zille, bekend vir haar omstrede uitsprake en veral twiets op sosiale media oor rasse- en talle ander netelige kwessies, as federale raadsvoorsitter wat die spreekwoordelike strooi was wat die kameel se rug sou knak en tot die bedanking van Maimane en ander leiersfigure sou lei. Die groot ironie hieraan verbonde is die feit dat Maimane enkele jare gelede deur Helen Zille as haar opvolger en leier van die DA geïdentifiseer is en dat sy op aktiewe wyse meegehelp het om sy politieke loopbaan te rig.
Die traagheid van politieke leiers om ideologiese aanpasbaarheid en buigsaamheid aan die dag te lê in die bekamping van ongelykheid
Die tweede verklaring wat aangebied word vir die bedanking van Mmusi Maimane en ander leiers uit die DA hou verband met die traagheid van die leierskap in politieke partye wêreldwyd om aanpasbaarheid en buigsaamheid te demonstreer ten aansien van die ideologiese uitgangspunt wat onderskryf moet word om die ongelykheid wat in samelewings heers, te bekamp. In die geval van die DA het die betrokke party, sowel as die meeste partye waaruit dit gevorm is, deurlopend die standpunt gehuldig dat sekere tradisionele liberale waardes die enigste wyse is om Suid-Afrikaners se individuele belange te dien en demokrasie te bevorder. Volgens Kotse (2019) omsluit hierdie liberale waardes waartoe die DA sigself verbind het die volgende:
- die beskouing dat indiwidue die kern van die samelewing vorm;
- ’n vryemark ekonomie;
- ’n minimalistiese staat;
- ’n sterk privaat sektor wat geleenthede vir individue moet skep;
- universele menseregte om hierdie beginsels te beskerm; en
- geleenthede wat geskep word deur individuele meriete en nie deur groepsidentiteit nie.
Met ander woorde is ’n ongebreidelde kapitalistiese of vryemarkstelsel deur die DA as die finale antwoord beskou om ekonomiese groei te bewerkstellig en welvaart te versprei. Die party het met hierdie stellingname volhard nieteenstaande die feit dat Suid-Afrika nie alleen die mees ongelyke samelewing ter wêreld is nie, maar dat navorsers oor ’n wye front ook bevind het dat kapitalisme nie die probleem van ongelykheid in samelewings uit die weg ruim nie, maar dit veel eerder vererger.
Ter illustrasie kan in hierdie verband verwys word na die bevindings van die Franse ekonoom, Thomas Piketty (2014), enkele jare gelede. In sy veelgeroemde werk, Capital in the Twenty-First Century, het hy bevind dat alhoewel ’n kapitalistiese ekonomiese stelsel uitnemend daarin slaag om hoë vlakke van ekonomiese groei en ontwikkeling in samelewings te bewerkstellig, dit nie noodwendig ongelykheid in daardie samelewings uitwis nie. Inteendeel, hy het bevind dat die ongelykheid in samelewings oor die afgelope aantal eeue nie ’n toevallige onreëlmatigheid of anomalie is nie, maar primêr veroorsaak is deur strukturele gebreke eie aan die kapitalistiese stelsel en in besonder die sneeubal-effek van ’n oormatige konsentrasie van rykdom (“wealth”). Voorts het hy bevind dat hierdie ongelyke verspreiding van rykdom uit die weg geruim kan word slegs deur staatsinmenging in die ekonomie. Indien dit nie gebeur nie, word die voortbestaan van die ganse demokratiese orde in ’n staat bedreig.
Die DA sou egter met sy klassieke liberale beskouings volhard nieteenstaande die feit dat dit nie ongelykheid in die samelewing uit die weg geruim het nie. Nog meer: die party het met sy ideologiese stellingname volhard nieteenstaande die ontwikkeling van alternatiewe ekonomiese modelle wat nie alleen ontwerp is om ekonomiese en maatskaplike ongelykheid in samelewings teen te werk nie, maar ook ten volle versoenbaar is met liberale waardes. Ter illustrasie kan kortliks na die volgende modelle verwys word:
- ’n Ontwikkelingstaatstrategie waar die staat ’n aktiewe rol speel om ekonomiese ontwikkeling te bewerkstellig deur die nasionale hulpbronne aan te wend ten einde die behoeftes van die samelewing te bevredig; ’n balans tussen ekonomiese groei en maatskaplike ontwikkeling te bewerkstellig; en staatsbronne en -invloed te gebruik om armoede te beveg en ekonomiese geleenthede te skep.
- Sosiale demokrasie (ook bekend as die Nordiese model, sosiale mark-ekonomie, sosiale liberalisme en die Derde Weg) waar regeringsinmenging in ekonomiese aktiwiteite as positiewe optrede beskou word omdat sodanige inmenging private ekonomiese aktiwiteit beperk en die verspreiding van welvaart bevorder, veral tot die voordeel van die laer en agtergeblewe klasse in die samelewing.
- Staatswelvarisme (ook genoem die welvaartstaat), wat gebaseer is op die beginsels van gelykheid van geleentheid vir almal in die samelewing; gelyke verspreiding van welvaart; en die verantwoordelikheid deur die staat om by wyse van werkloosheidsversekering, maatskaplike pensioene en toelaes, asook gratis mediese en onderwysdienste, diegene by te staan wat nie in staat is om in die minimum bestaansbehoeftes te voorsien nie.
- ’n Maatskaplike investeringstaat waar staatsbystand verleen word om bestaansbehoeftes te bevredig deur investering in die ontwikkeling van mensekapitaal ten einde die burgery te bemagtig om aan die ekonomie te kan deelneem.
Gegewe die gebreke eie aan die kapitalistiese model in die bekamping van ongelykheid, sowel as die bestaan van alternatiewe ekonomiese modelle wat wel ongelykheid, armoede en werkloosheid kan teenwerk en bekamp, was dit onafwendbaar dat skerp ideologiese verskille tussen Maimane en etlike ander leiers in die DA sou ontstaan. Soos aangedui, was Maimane en ander leiers, in ’n poging om ongelykheid in die samelewing te bekamp, ten gunste van verskeie van die modelle wat hier bo vermeld is, terwyl die ander DA-leiers volhard het met ’n verbintenis tot klassieke liberale waardes. Andermaal was dit die hertoetrede van Helen Zille tot die bestuurskader van die DA as federale raadsvoorsitter en uitgesproke voorstander van die behoud klassieke liberale waardes wat die spanningstoestand in die party tot breekpunt sou voer en tot die bedanking van Maimane en verskeie ander prominente leiersfigure sou lei.
Samevatting
Die bedanking van Maimane en ander leiersfigure het die DA in ’n ernstige dilemma gedompel. Enige politieke party wat ’n leier by wyse van ’n bedanking verloor staar nie alleen ’n bestaanskrisis in die gesig nie, maar sal met ingrypende optrede vorendag moet kom om kiesersvertroue te herwin en oorlewing te verseker. In die lig daarvan dat die bedankings boonop die gevolg is van diepgaande ideologiese verskille, is die bedreiging soveel groter.
Die vraag wat tereg gestel kan word is: Op welke wyse moet die DA die dilemma waarin dit verkeer hanteer? Die aangewese weg skyn te wees om so spoedig moontlik ’n spesiale sitting van die hoogste besluitnemingsliggaam te belê om nie alleen nuwe leiers te verkies nie, maar om ook met groter ideologiese buigsaamheid vorendag te kom. Wat laasgemelde aspek betref, moet die party aanvaar dat in Suid-Afrika rasse-identiteit ’n faktor is wat nie in politieke besluitneming negeer kan word nie; dat die slaafse navolging van klassieke liberale waardes nie die ongelykheid, werkloosheid en armoede waaronder swart Suid-Afrikaners gebuk gaan sal bekamp nie; dat die staat ’n leidende rol in hierdie verband te vervul het; en dat modelle bestaan waarbinne dit kan geskied sonder die prysgawe van liberale waardes.
Bronnelys
Fukuyama, F. 2018. Against identity politics. The new tribalism and the crisis of democracy. https://www.foreignaffairs.com/articles/americas/2018-08-14/against-identity-politics-tribalism-francis-fukuyama (26 Oktober 2019 geraadpleeg).
Kotse, D. 2019. A turbulent transition: DA faces a rocky future. https://mg.co.za/article/2019-10-16-00-a-turbulent-transition-da-faces-a-rocky-future (26 Oktober 2019 geraadpleeg).
Piketty, T. 2014. Capital in the Twenty-First Century. Harvard University Press. http://www.hup.harvard.edu/catalog.php?isbn=9780674430006 (26 Oktober 2019 geraadpleeg).
...........
Lees ook
Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met aktuele sake:
LitNet Akademies Weerdink: Van Voëlvry na Voëlvryf na Spoegwolf
LitNet Akademies Weerdink: ’n Globale perspektief op groepregte en diversiteit
LitNet Akademies Weerdink: Die "Die Land"-musiekvideo, mites en nostalgie
LitNet Akademies Weerdink: Die klaskamer in ’n posthumanistiese samelewing
Kommentaar
Ek wonder of die verskille eerder op die vlak van wêreldbeskouing as ideologie lê. Ons kan dalk die pot heeltemal mis sit.