|
Opsomming: Die stand van die demokrasie in Suid-Afrika: ’n kritiese perspektief
Meer as vyftien jaar nadat Suid-Afrika die volle oorgang na ’n inklusiewe demokrasie gemaak het, is baie Suid-Afrikaners trots oor die sukses wat bereik is. Daar heers egter kommer by talle waarnemers oor die vraag of die demokratiese model wel geslaagd is en steeds deur alle akteurs in stand gehou en die waardes en beginsels daarvan onderskryf word. Die eerste groep waarnemers meen dat veral die Mbeki-regering nie die spelreëls van demokratiese regering gedurende sy twee termyne nagekom het nie, maar maatreëls ingestel het wat mag toenemend in die uitvoerende gesag gekonsentreer het, die wetgewende gesag ’n blote rubberstempel gemaak het en die regsprekende gesag soms vir eng politieke doeleindes ondermyn het. ’n Tweede groep verklaar dat demokrasie gekortwiek is deur inherente strukturele tekortkominge wat teruggevoer kan word na oordeelsfoute tydens die grondwetlike beraad wat die oorgang na demokrasie voorafgegaan het. ’n Derde groep beweer dat die swak vordering deur vorige regerings om die sosio-ekonomiese ongelykhede in die Suid-Afrikaanse samelewing uit die weg te ruim, ’n ernstige struikelblok in die weg van suksesvolle demokratiese konsolidasie is, en ’n vierde groep dat ’n demokratiese kultuur nog nie stewig onder alle Suid-Afrikaners posgevat het nie.
In hierdie artikel word die universeel aanvaarde noodsaaklike toestande of vereistes van ’n suksesvolle demokratiese bestel ondersoek ten einde ons jong Suid-Afrikaanse demokrasie daaraan te toets. Daar word bevind dat ’n demokratiese historiese erfenis, ’n twee- of veelpartystelsel, gereelde vrye verkiesings, die reg op belange-artikulasie, burgerregte en -vryhede, burgerverantwoordelikhede, en individuele en organisatoriese outonomie belangrik is, asook ’n geletterde, opgevoede burgery, magsverdeling, magskeiding, burgerlike beheer oor die gewapende magte, mediavryheid, ’n oorwegend mark-ekonomie-stelsel, respek vir die sosiale kontrak, beperkte kulturele klowings, ’n hoë vlak van sosio-ekonomiese ontwikkeling en gelyke verspreiding van politieke hulpbronne essensiële vereistes is. Die huidige bedeling voldoen aan etlikes hiervan of glad nie, of slegs gedeeltelik. Die slotsom is dus dat talle waarnemers se kommer oor die vooruitsigte vir suksesvolle demokratiese konsolidasie in Suid-Afrika nie heeltemal ongegrond is nie.
Abstract: The state of democracy in South Africa: a critical perspective
More than fifteen years since South Africa made a full transition toward an inclusive democracy many South Africans are proud of the success achieved. However, there are many observers who are concerned about whether the democratic model is successful and whether all actors are still committed to maintaining it and adher ing to its values and principles. The first group believes that particularly the Mbeki government did not adhere strictly to the basic rules of democratic governance during its two terms of office and took measures that concentrated power in the executive, used the legislature as a mere rubber stamp and at times undermined the judiciary for narrow political ends . A second group declares that our democracy is hampered by inherent structural shortcomings traceable back to errors of judgement during the constitutional summit preceding the formal transition. A third group believes that previous governments' poor performance in eradicating the socio-economic disparities in South African society are a serious hindrance to successful democratic consolidation, and a fourth group that a democratic political culture has not yet firmly taken root amongst all South Africans.
This article attempts to identify those universally accepted conditions or requirements necessary for successful democracy in order to determine whether our young South African democracy meets them. It is concluded that conditions such as a historic democratic legacy, regular free and fair elections, a two- or multiparty system, interest articulation, civil rights and freedoms, civil responsibilities, and individual and organisational autonomy are important prerequisites, as are a literate, educated citizenry, division of power, separation of power, civil control over the military, media freedom , a predominantly market economy, respect for the social contract, limited cultural cleavages, a high level of socio-economic development, and equal distribution of political resources are essential. The current dispensation satisfies only some of these requirements, and some only partially. The concern of many observers regarding the prospects for successful democratic consolidation cannot, therefore, be wholly dismissed.
Die stand van die demokrasie in Suid-Afrika: ’n kritiese perspektief
1. Inleiding
Meer as vyftien jaar nadat Suid-Afrika die volle oorgang na ’n inklusiewe demokrasie gemaak het, heers daar ’n gevoel van trots en tevredenheid onder talle Suid-Afrikaners oor die sukses wat met hul jong demokrasie bereik is. Dit is veral die feit dat vier vrye en regverdige verkiesings sedert 1994 gehou is wat as rede vir die gevoel van trots vermeld word. Verder word die suksesvolle onderhandelings tussen politieke partye en bewegings wat ideologies radikaal met mekaar verskil het, na vyftien jaar steeds positief ervaar. Ook word die wyse waarop ’n nuwe demokratiese grondwet opgestel en in werking gestel is vir ’n politieke dilemma wat deur talle waarnemers sowel plaaslik as elders as haas onoplosbaar beskou is, steeds voorgehou as ’n voorbeeld van die sukses wat bereik kan word indien strydende partye en ’n heterogene bevolking die nodige politieke wil toon om ’n konflik op te los en ’n vreedsame toekoms te betree.
Dit kan nie ontken word dat die oorgang na volle demokrasie in Suid-Afrika glad verloop het, die eerste aantal jare van demokratiese regering aan die verwagtings voldoen het en vier vrye en regverdige algemene verkiesings gehou is nie. Daar heers egter kommer by verskeie groepe waarnemers oor die vooruitsigte vir die Suid-Afrikaanse demokratiese bestel.
Die eerste groep is die mening toegedaan dat, veral tydens die Mbeki-regering, die spelreëls van demokratiese regering nie nougeset nagekom is nie. In hierdie verband word verwys na die maatreëls wat getref is om mag in die uitvoerende gesag te konsentreer, die wetgewende gesag toenemend as ’n rubberstempel te gebruik en die regsprekende gesag in sy arbitersrol soms vir eng politieke oogmerke te ondermyn. ’n Tweede groep beweer dat die demokratiese orde in Suid-Afrika gekortwiek is deur strukturele tekortkominge wat teruggevoer kan word na oordeelsfoute wat begaan is tydens die konstitusionele grondleggingsfase in die vroeë negentigerjare. Die derde groep verwys na die swak vordering deur vorige regerings om die sosio-ekonomiese dispariteite in die Suid-Afrikaanse samelewing uit die weg te ruim. Die vierde groep huldig die mening dat ’n demokratiese politieke kultuur na vyftien jaar nog nie stewig by alle Suid-Afrikaners posgevat het nie.
In hierdie artikel word gepoog om te bepaal of die kommer wat by sekere waarnemers oor die demokratiese orde in Suid-Afrika bestaan, enige substansie het. Die werkswyse wat gevolg word, is om daardie vereistes wat universeel as noodsaaklik vir suksesvolle demokrasie beskou word te identifiseer en daarna te probeer vasstel of die hedendaagse Suid-Afrika daaraan voldoen al dan nie. Alvorens egter daartoe oorgegaan word, is dit belangrik om die konsep demokrasie kortliks te omskryf, die verskillende vorme of modelle aan te toon, asook die ontwikkelingsgang en belangrikheid daarvan aan te dui.
2. Demokrasie as owerheidsvorm
2.1 Die konsep demokrasie
Die konsep demokrasie verwys essensieel na ’n owerheidsvorm waar die finale regeergesag by die burgers van ’n staat berus. Vanweë die grootte en kompleksiteit van moderne samelewings oefen die burgers hierdie gesag egter nie direk uit nie, maar op indirekte wyse deur die stelsel van politieke partye wat op ’n gereelde basis aan algemene verkiesings deelneem. Die verteenwoordigers wat op hierdie wyse verkies word, regeer dus met die toestemming en in opdrag van die burgers. Die wyse waarop die regeertaak verrig word, is normaalweg in ’n geskrewe grondwet uiteengesit met die regsprekende gesag as die bewaker en finale arbiter.
Ofskoon daar geen definisie van demokrasie bestaan wat universeel aanvaar word nie, en die konsep gevolglik in vaagheid omhul is, bly dit desnieteenstaande een van die mees populêre, gerespekteerde en gebruikte politieke konsepte in die moderne era. Die vaagheid betreffende die konsep kan waarskynlik ten beste oorkom word deur van byvoeglike naamwoorde gebruik te maak. So kan byvoorbeeld verwys word na deelnemende demokrasie - ’n tipe demokrasie waar politieke deelname nie tot die blote uitbring van ’n stem beperk is nie, maar waar gestreef word om aan alle kiesers betekenisvolle deelname aan politieke besluitneming te verseker (Participatory Democracy s.j.); verteenwoordigende demokrasie - ’n politieke stelsel waar ’n aantal mense regeer namens en, in ’n sekere mate, in die belang van, die kiesers wat hul tot hul regeerposisie verkies het (Representative Democracy s.j.); liberale demokrasie - ’n stelsel waar mag omskryf en beperk word ten einde legitieme regering binne ’n raamwerk van geregtigheid en vryheid te verseker (Liberal Democracy s.j.) en konstitusionele demokrasie - ’n stelsel gebaseer op populêre soewereiniteit waarin die strukture, magte en beperkings van die regering in ’n geskrewe grondwet uiteengesit word (Constitutional Democracy s.j.). Ofskoon dié lys nie op volledigheid aanspraak maak nie, word na hierdie vorme van demokrasie ook soms as “demokrasie volgens die Westerse styl” of bloot “Westerse demokrasie” verwys. Laastens kan gemeld word dat Robert Dahl (aangehaal in Heywood 2002:33) die term polyarchy (poliargie) geskep het om na Westerse demokrasie te verwys, terwyl Arend Lijphart (aangehaal in Heywood 2002:33) weer ’n onderskeid tussen meerderheidsdemokrasie en konsensusdemokrasie tref.
Dit is belangrik om aan te toon dat die konsep demokrasie gedurende die Koue Oorlog gebruik is, en in sommige gevalle steeds gebruik word, om aansien en legitimiteit aan outoritêre sosialistiese of kommunistiese regimes te verleen. Die gevolg was dat talle sodanige regimes begin het om na hulself as volksdemokrasieë, demokratiese volksrepublieke, demokratiese republieke of bloot volksrepublieke te verwys. Die waarheid is dat hierdie state nooit demokrasieë was nie, maar broederlike bondgenote, navolgers of satellietstate van die voormalige Sowjetunie (People’s Democracy s.j.).
Van ewe groot belang is die feit dat reeds in die vorige eeu sommige Marxiste begin het om na hulself as demokratiese sosialiste te verwys. Hul hoofoogmerk was om die konsep demokrasie te gebruik ten einde bepaalde ideologiese oogmerke te verwesenlik. Onder die vaandel van sosiale demokrasie het hierdie groep van die standpunt uitgegaan dat die werkersklas, as die grootste groep in die samelewing, die staat kon gebruik om armoede, ongelykheid en klassediskriminasie uit die weg te ruim. Volgens leidende eksponente, soos Eduard Bernstein (1850-1932), sou sosialisme in ’n samelewing op hierdie wyse sonder die klassestryd en op vreedsame wyse deur middel van wetgewing wat deur die meerderheid aangeneem is, tot stand gebring kon word (Social Democracy s.j.).
Die uitgangspunte van sogenaamde sosiale demokrasie sou egter, soos dit die geval was met sosialisme en kommunisme, onder intense kritiek deurloop. Die gevolg was dat dit op ’n vroeë stadium reeds, maar veral gedurende die tydperk na die Koue Oorlog, genoodsaak was om van die gevestigde paradigmas ontslae te raak en die uitgangspunte van Westerse demokrasie te aanvaar. Dit het onder meer die aanvaarding van ’n mark-ekonomie-stelsel, persoonlikekeuse-vryheid, die opperbelang van die individu, vrye meningsuiting en private ondernemerskap ingesluit (Social Democracy s.j.). Hierdie paradigmaverskuiwing het meegebring dat dit vandag eintlik meer gepas is om na sosiale demokrasie op een van die volgende maniere te verwys: sosiale kapitalisme, soos toegepas in Duitsland, Oostenryk, die Benelux- en Skandinawiese state (Heywood 2002:182); kollektiewe kapitalisme, soos toegepas in Japan, Suid-Korea, Taiwan en Singapoer (Heywood 2002:182-3); sosiale markekonomie, soos toegepas in Duitsland gedurende die vyftigerjare van die vorige eeu (Heywood 2002:182-3); of "die derde weg”, soos toegepas deur die Demokratiese Party in die VSA onder die leiding van president Bill Clinton en deur die Arbeidersparty in Brittanje onder die leiding van eerste minister Tony Blair (Heywood 2002:58-9).
Dit is dus duidelik dat die konsep demokrasie deur die jare verskillende betekenisse aangeneem het. In hierdie artikel sal na demokrasie volgens sy Westerse definisies verwys word. Daar is immers weinig verskil tussen die uitgangspunte wat deelnemende, verteenwoordigende, liberale en konstitusionele demokrasie of ander manifestasies van Westerse demokrasie ten grondslag lê. Die noodsaaklike toestande of vereistes wat die suksesvolle inwerkingstelling van die verskillende vorme van demokrasie ten grondslag lê, en wat die tema van hierdie artikel vorm, is ook grootliks dieselfde by alle vorme van Westerse demokrasie.
2.2 Ontwikkelingsgang van demokrasie
Die geskiedenis van demokrasie as owerheidsvorm strek oor etlike millennia. Volgens politieke wetenskaplikes is aanduidings van die bestaan daarvan gevind in die internasionale stelsels wat gedurende die era van die Chou-dinastie in China (1122-221 v.C.) en die Griekse stadstaatstelsel (800–322 v.C.) bestaan het (Holsti 1995:25-42). Schraeder (2004:30-1) toon aan dat daar ook tekens van demokratiese regering in prekoloniale Afrika se outonome kleindorpstelsel te bespeur is. Dit was egter eers in die moderne Europese staatstelsel wat in 1648, tydens die Vrede van Wesfale, ontstaan het dat demokrasie as owerheidsvorm momentum begin ontwikkel het. In hierdie verband was dit die Franse Revolusie wat die vonk verskaf het en uiteindelik tot die verval van vorstelike absolutisme sou lei.
Volgens Samuel P. Huntington (aangehaal in Muhlberger s.j.), een van die invloedrykste politieke wetenskaplikes die afgelope vyftig jaar, en ondersteun deur talle gesaghebbendes (Heywood 2002:32-3), het demokrasie in die moderne geskiedenis ’n ontwikkelingsproses deurloop wat deur drie golfbewegings gekenmerk is. Die eerste beweging het tussen 1828 en 1926 plaasgevind en het state soos die VSA, Frankryk en die Verenigde Koninkryk ingesluit. Die tweede het tussen die jare 1943 en 1962 plaasgevind en state soos Wes-Duitsland, Italië, Japan en Indië ingesluit. Die derde golfbeweging het in 1989 met die verval van Marxisties-Leninistiese outoritarisme begin.
Dit was egter laasgenoemde gebeurtenis wat daartoe sou lei dat demokrasie soos ’n tsoenami oor die kontemporêre internasionale stelsel sou spoel en wêreldwyd ’n uiters positiewe konnotasie sou ontwikkel. Twintig jaar nadat die proses van Marxisties-Leninistiese verval ingetree het, kon Freedom House (2009), ’n Amerikaanse nieregeringsinstelling wat navorsing doen oor en hom beywer vir vryheid en menseregte, aandui dat in 2008 nie minder nie as 119 uit die 193 state in die internasionale stelsel as verkose demokrasieë beskou kon word. Die getal state wat deur Freedom House as “vry” beskou is, het op 89 (wat 46% van die wêreldbevolking verteenwoordig) te staan gekom, terwyl 62 (20% van die wêreldbevolking) as “gedeeltelik vry” beskou is. Volgens die opname was 42 state (34% van die wêreldbevolking) egter as “nie vry nie” beskou - die Chinese Volksrepubliek het 60% van laasgemelde persentasie verteenwoordig.
Afrika is ook nie deur hierdie na-Koue Oorlogse sistemiese verwikkeling onaangeraak gelaat nie, met die gevolg dat talle state op die kontinent die oorgang na demokrasie gemaak het. Waarskynlik die belangrikste gebeurtenis in hierdie verband was die feit dat die apartheidsbewind in Suid-Afrika nie staande kon bly nie en deur die derde demokratiese golf verswelg is. Dit moet egter beklemtoon word dat demokratiese vooruitgang in Afrika gedurende die onderhawige era nie glad verloop het nie, maar deur terugslae geteister is. Volgens Freedom House (2009) het 25% van die demokratiese state in Sub-Sahara-Afrika (SSA) gedurende 2008 terugslae ondervind, terwyl demokrasie in Noord–Afrika in hierdie jaar gestagneer het.
Dit is belangrik om aan te toon dat die politieke wetenskaplike Heywood (2002:67) hierdie massiewe verskuiwing ten gunste van demokrasie en die oorweldigend positiewe konnotasie wat die konsep wêreldwyd sou ontwikkel, as een van die mees dramatiese en betekenisvolle gebeure in die politieke geskiedenis beskou. Hy wys daarop dat terwyl die meeste ideologiese stelsels in die laat twintigste eeu gewankel of ineengestort het, die demokratiese vlam al helderder brand. Namate die gewaande aanloklikhede van kommunisme en sosialisme verdwyn het en die verdienstes van kapitalisme in die spervuur sou kom, het demokrasie na vore getree as waarskynlik die enigste stabiele en standhoudende beginsel in die postmoderne politieke landskap.
2.3 Belangrikheid van demokrasie
Die belangrikheid van demokrasie in die kontemporêre internasionale stelsel is nie alleen daarin geleë dat dit as die beste owerheidsvorm beskou word om menslike vryheid, vooruitgang en ontwikkeling op alle terreine van die lewe moontlik te maak nie, maar ook omdat dit oor die grootste potensiaal beskik om ’n daadwerklike bydrae tot internasionale vrede en veiligheid te lewer. In ’n deurtastende ondersoek na laasgemelde aspek het Rummel (s.j.) bevind dat demokrasieë sedert die ontstaan van die modene staatstelsel in geen oorlog teen mekaar te staan gekom het nie. Dit is dus nie vergesog om te beweer dat daar ’n direkte verwantskap tussen internasionale vrede en veiligheid en demokrasie is nie.
Teen hierdie agtergrond word Heywood se uitgangspunt dat demokrasie die ware krag van positiewe verandering in die kontemporêre internasionale stelsel is, beaam. Terselfdertyd word die vroeëre aansprake deur die voorstanders van die Marxisties-Leninistiese ideologie dat dié ideologie die ware revolusionêre krag in die internasionale stelsel sou wees, verwerp. Volgens ’n voormalige Amerikaanse president, Woodrow Wilson (1856-1924), is die krag van demokrasie veral daarin geleë dat dit die energie van elke menslike wese ontsluit (Democracy Quotes s.j.). Francis Fukujama (aangehaal in Heywood 2002:31) het die belangrikheid van demokrasie beklemtoon deur selfs so ver te gaan om te voorspel dat liberale demokrasie in besonder, die finale menslike owerheidsvorm sal wees.
3. Vereistes noodsaaklik vir suksesvolle demokrasie
In die literatuur oor demokrasie is daar wye instemming onder politieke wetenskaplikes en staatslui uit verskillende eras dat sekere vereistes en toestande as noodsaaklik beskou kan word vir die suksesvolle voortbestaan van ’n demokratiese orde. Soos gemeld is, word in hierdie artikel ondersoek ingestel na die mate waarin hedendaagse Suid-Afrika aan elkeen van die geïdentifiseerde toestande of vereistes voldoen al dan nie. Dit moet egter beklemtoon word dat dit nie ’n gedetailleerde ondersoek is nie. Daar sal slegs met saaklike en oorsigtelike kommentaar volstaan word.
3.1 ’n Demokratiese historiese erfenis of tradisie
Reeds gedurende die vorige eeu het die geroemde politieke wetenskaplike Dahl, wat destyds as die doyen van politieke wetenskaplikes beskou is, beklemtoon dat ’n demokratiese samelewing se kanse op sukses verhoog sal word indien die lede van daardie samelewing vir ’n langdurige tydperk aan ’n demokratiese politieke kultuur blootgestel was en dit aktief beoefen het (1984:83). Meer onlangs het die vorige Amerikaanse president, George W. Bush, verklaar dat ’n suksesvolle demokrasie die gekonsentreerde werk van geslagte is, terwyl die vorige Britse premier, Tony Blair, glo dat dit baie moeilik is om demokrasie in state te vestig waar dit nie voorheen bestaan het nie (Alexander 2005–6).
Die meeste Suid-Afrikaners beskik oor ’n politieke erfenis of tradisie wat meebring dat die suksesvolle voortbestaan van die demokratiese orde wat in 1994 gevestig is, nie as ’n voldonge feit en ’n uitgemaakte saak beskou kan word nie. ’n Breë oorsig van Suid-Afrika se politieke geskiedenis behoort die stelling te illustreer.
Die tradisionele inheemse politieke stelsels wat gedurende die prekoloniale era in Suid-Afrika bestaan het, was nie alleen uiters rudimentêr nie, maar ook wesenlik outoritêr. Gedurende die periode van Nederlandse en Britse koloniale heerskappy, wat vanaf die middel 17de eeu tot die vroeë 20ste eeu gestrek het, was daar uiteraard geen sprake van deelnemende demokratiese regering in die gebied wat vandag die RSA vorm nie.
Die onafhanklike republieke wat gedurende die 18de eeu deur die Voortrekkers in die lewe geroep is en slegs vir etlike dekades bestaan het, was beperkte demokrasieë deurdat slegs blanke mans stemreg gehad het, terwyl die meerderheid van die bevolkings in daardie state swart mense was. Die Unie van Suid-Afrika wat in 1910 tot stand gekom het, asook die Republiek van Suid-Afrika wat in 1961 gevorm is, was insgelyks nie volwaardige demokrasieë nie, deurdat uitsluiting van, of beperkings op, algemene stemreg en die politiek van etniese mobilisasie en pogings tot aparte staatstigting vir die verskillende etniese groeperings aan die orde van die dag was.
Wanneer die politieke ontwikkeling van swart politieke groeperings in Suid-Afrika sedert Uniewording in oënskou geneem word, is dit belangrik om aan te dui dat ook hierdie groeperings ’n ontwikkelingsgang deurloop het wat nie sou meehelp dat ’n demokratiese bestel uit die staanspoor suksesvol sou wees nie. Met spesifieke verwysing na die geskiedenis van die tans regerende African National Congress (ANC), die dominante party wat die politieke sienings van swart Suid-Afrikaners verteenwoordig het en steeds verteenwoordig, is dit opvallend dat die party ná sy stigting in 1912 in ’n weerstands- en bevrydingsbeweging ontwikkel het. Die rede hiervoor is alombekend, naamlik die uitsluiting van swart mense uit die heersende politieke proses. ’n Verdere aspek van belang in die ontwikkeling van die ANC was die feit dat die party gedurende die tydperk van stryd (“struggle”) deur die destydse Unie van Sosialistiese Sowjet-republieke (USSR) en sy satellietstate ondersteun is. In die proses is die party sterk deur die Marxisties-Leninistiese ideologie beïnvloed.
Die ANC het dus ook nie oor ’n duidelike demokratiese historiese erfenis of tradisie beskik met die oorgang na demokrasie in 1994 nie. Dat die party na vyftien jaar aan bewind in ’n demokratiese bestel oënskynlik steeds nie ’n volledige paradigmaskuif ten gunste van demokrasie, soos hier bo verduidelik, gemaak het nie, blyk uit die feit dat dit steeds voortgaan met sy alliansie met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), ’n instelling wat ideologies tot ’n bevelsekonomiese stelsel en regeringsbeheer oor alle fasette van die lewe gebonde is. Die vakbondfederasie Congress of South African Trade Unions (COSATU), met ’n sterk sosialistiese oriëntasie en ook voorstanders van omvattende regeringsbeheer, het intussen ook deel van die bondgenootskap tussen hierdie instellings, bekend as die Drieparty-alliansie, geword.
Voorts gaan die ANC voort om sy oorkoepelende strategiese doelwit vir Suid-Afrika, naamlik die skepping van ’n “nasionale demokratiese samelewing” by wyse van ’n “nasionale demokratiese revolusie” (NDR), te propageer (African National Congress s.j.). Ofskoon die NDR, soos John Kane-Berman (2009) van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasse-aangeleenthede (SAIRA) opmerk, nie prominent in die ANC se onlangse verkiesingsveldtog vermeld is nie, is dit nietemin vir die ANC self ’n kwessie van groot belang. Volgens ’n ANC-besprekingsdokument getiteld Building a National Democratic Society (Strategy and Tactics of the ANC), wat in 2007 opgestel is, is die essensie van die NDR daarin geleë dat die bestaande orde in Suid-Afrika revolusionêr verander moet word (ANC 2007).
Die dokument stel dit dat die nuwe orde gebaseer moet wees op die wil van die mense. Verder moet waardige lewenskwaliteit vir elkeen verseker word, en moet die geboortereg van veral swart Suid-Afrikaners, naamlik toegang tot grond en ander bronne, herstel word.
Terwyl daar op sigself geen fout te vind is met hierdie doelwitte nie, en hulle inderdaad as noodsaaklik beskou word ter vestiging van ’n demokratiese bestel, is daar aspekte van die NDR wat minder duidelik is en by demokratiese waarnemers kommer en onsekerheid wek.
Ten eerste is daar die beklemtoning van revolusie wat deur talle met opstand, stryd, oproer, chaos en dikwels met outoritarisme verbind word. Tweedens wil dit voorkom asof die gevisualiseerde nasionale demokratiese staat ’n spesiale tipe demokrasie moet wees, omdat Suid-Afrika ’n spesiale tipe kolonialisme (“colonialism of a special type”) gehad het (ANC 2007). Volgens die besprekingsdokument het hierdie spesiale tipe kolonialisme Suid-Afrika met drie onderling verwante antagonistiese kontradiksies gelaat, naamlik klas, ras en patriargale onderdrukking. Hierdie kontradiksies kan nie deur hervorming opgelos word nie, maar moet vernietig word (ANC 2007). Presies hoe die proses van vernietiging egter sal verloop en hoe die finale resultaat daar sal uitsien, is minder duidelik. Die dokument lewer ook nie ’n bydrae om die onduidelikheid uit die weg te ruim nie. Dit word slegs gestel dat die strategie en taktiek ter voltrekking van die NDR baie buigsaam en opportunisties sal wees en op enige gegewe stadium deur die heersende kragte en omstandighede, nasionaal en internasionaal, bepaal sal word (ANC 2007).
In ’n onlangse artikel het Du Toit (2009) ’n uiters somber prentjie geskilder van die NDR, wat hy as die ANC se “bloudruk” beskou. Sy siening is waarskynlik die beste illustrasie van die onduidelikheid wat by talle waarnemers heers oor die aard en oogmerke van die NDR. Hy verwys na Kane-Berman se bewering dat die NDR sosialisme as einddoel het; na André Duvenhage se stelling dat die ANC deur klassieke Marxisme, Leninisme en Stalinisme beïnvloed is; en na Helen Zille se uitlating dat die NDR “vernietigend” en “allesbehalwe demokraties” is. Voorts beweer hy onder meer dat die SAKP verantwoordelik was vir die verfyning van die NDR; dat Joe Slovo, voormalige sekretaris-generaal van die SAKP, gedurende die laat tagtigerjare reeds voorgestel het dat terwyl die NDR gevoer word, daar nie te hard daaroor gepraat moet word nie; dat die dokument rakende die strategie en taktiek wat gevolg moet word om die NDR te voltrek in honderde resolusies omskep is tydens die ANC se nasionale konferensie in Polokwane in 2008; dat die NDR vir die ANC die rigtingwyser is en nie die Grondwet nie; en dat die proses om die NDR te voer en te voltrek, deur die Zuma-regering versnel sal word.
Die ander twee lede van die Drieparty-alliansie verkeer in selfs swakker posisies as die ANC wat ’n historiese demokratiese erfenis betref. Waar die ANC na 1994 nog enigsins bereid was om sy vroeëre verbintenis tot Marxisme-Leninisme te temper en hom tot deelname aan die onderhandelde grondwet en navolging van ’n oorwegend mark-ekonomie-stelsel te verbind, het hierdie instellings tot op hede voortgegaan om hul aktief vir die vestiging van ’n bevelsekonomiese of sosialistiese stelsel in Suid-Afrika te beywer (History Matters 2009).
Teen hierdie agtergrond blyk dit duidelik dat die konsep demokrasie vir baie Suid-Afrikaners ’n relatief nuwe, vreemde, onduidelike en selfs onaanvaarbare konsep is. Sommige is oënskynlik selfs bereid om die betekenis daarvan te manipuleer ter regverdiging van bepaalde ideologiese oogmerke. Kortom: ’n ware demokratiese politieke kultuur het ná vyftien jaar nog nie stewig by alle Suid-Afrikaners wortel geskiet nie. Dat hierdie besondere toedrag van sake noodwendig daartoe sal bydra dat die konsolidasie van demokrasie alhier aan ’n periode van spanning en selfs bedreiging onderwerp sal wees, kan nie uitgesluit word nie.
Dit is belangrik om te beklemtoon dat die gebrek aan ’n demokratiese erfenis of tradisie by die meeste komponente van die samelewing egter nie beteken dat ’n suksesvolle demokratiese orde in Suid-Afrika tot mislukking gedoem is nie. Indien die kerninstellings van die bestaande demokratiese bestel die geleentheid gegun word om te groei en te ontwikkel, kan ’n ware demokratiese politieke kultuur uiteindelik ontwikkel. ’n Belangwekkende onlangse verwikkeling in hierdie verband is die uitdruklike wyse waarop die nuutverkose president, Jacob Zuma, hom tot die uitbouing en versterking van die demokrasie in Suid-Afrika verbind het. In sy inhuldigingsrede op 9 Mei 2009 het hy beklemtoon dat deelnemende demokrasie nie alleen verdiep moet word nie, maar dat die demokratiese owerheidsinstellings ook versterk moet word. Voorts het hy beklemtoon dat die instellings wat die beskerming van die demokrasie ten doel het, se onafhanklikheid erken en beveilig moet word (SA Government Information 2009). Sou president Zuma daarin slaag om sy voorneme suksesvol ten uitvoer te bring, kan sy bydrae in die toekoms as ’n belangrike mylpaal in die uiteindelike vestiging van ’n ware demokrasie in Suid-Afrika aangeteken word.
3.2 Twee- of veelpartystelsel met die geleentheid tot mededinging om mag
Sonder ’n twee- of veelpartystelsel is dit onwaarskynlik dat ’n demokratiese bestel met enige hoop op sukses in werking gestel kan word, aangesien politieke partye die instrumente is waarmee die kiesers hul regeergesag uitoefen. Oppervlakkig beoordeel voldoen die nuwe Suid-Afrika aan hierdie essensiële vereiste vir suksesvolle demokrasie. Tientalle partye bestaan, waarvan dertien ná die algemene verkiesing van 22 April 2009 oor parlementêre verteenwoordiging beskik (South Africa.info. 2009a). Die meeste van hierdie partye het reeds aan vier algemene verkiesings sedert 1994 deelgeneem. Nie minder nie as 42 partye het provinsiaal en nasionaal aan die jongste algemene verkiesing deelgeneem, terwyl 117 partye by die Onafhanklike Verkiesingskommissie vir die verkiesing geregistreer was (Gabara 2009).
Op die keper beskou blyk dit egter dat Suid-Afrika sedert 1994 deur een dominante rolspeler, naamlik die Drieparty-alliansie, regeer word. Ook van belang is die feit dat COSATU nie ’n politieke party is nie, terwyl die SAKP, vanweë die strategie van koöptering wat deur die ANC toegepas word (Schraeder 2004:181-2), tot dusver nie as ’n selfstandige party aan verkiesings deelgeneem het nie. Die SAKP se lidmaatskap oorvleuel met dié van die ANC, met die gevolg dat sy werklike steun onder die kieserspubliek nog nooit getoets is nie.
Hierdie besondere toedrag van sake, tesame met die feit dat die opposisiepartye swak, verdeeld en grootliks rasgebaseerd is, en in sekere gevalle dinamiese leiding ontbreek, bring mee dat Suid-Afrika as ’n dominante eenpartystelsel beskou kan word. Die Drieparty-alliansie beskik, ná die algemene verkiesing van 22 April 2009, steeds oor bykans ’n tweederde-meerderheid in die parlement, wat meebring dat dit met gemak maatreëls op die wetboek kan plaas. Selfs die vorming van die Congress of the People (COPE), ’n wegbreekgroep van die ANC, en beduidende kiesersteun vir sowel die betrokke party as die amptelike opposisie, die Demokratiese Alliansie (DA), kon nie meehelp om die steunbasis van die Drieparty-alliansie wesenlik aan te tas nie.
Terwyl Scheiner (s.j.) daarop wys dat demokrasie in ’n dominante eenpartystelsel wel moontlik is en dat talle voorbeelde inderdaad bestaan, word sodanige stelsel normaalweg nie as gewens vir die voortbestaan van ’n demokratiese orde beskou nie. Die bekende waarskuwing deur lord Acton (Lord Acton Quotes s.j.) dat te veel politieke mag geneig is om tot magsmisbruik en korrupsie te lei, word as die groot probleem beskou. ’n Verdere rede word ook deur Giliomee (s.j.) aangedui. Volgens hom word dominante eenpartystelsels onder meer gekenmerk deur die feit dat die skeidslyne tussen party, regering en staat met verloop van tyd vervaag. Met spesifieke verwysing na Suid-Afrika kan genoem word dat sowel lord Acton as Giliomee se waarskuwings reeds bewaarheid is. Nie alleen het korrupsie sedert die ANC se bewindsoorname sistemiese afmetings aangeneem nie, maar daar is ook aanduidings dat die skeidslyn tussen party, regering en staat besig is om te vervaag.
Dit is egter belangrik om daarop te wys dat die nuwe ANC-regering, onder die leiding van president Zuma, onderneem het om korrupsie daadkragtig te bekamp en goeie regering te verseker (Beeld 2009). Slegs tydsverloop sal egter aantoon of hy suksesvol sal wees of nie.
3.3 Periodieke vrye en regverdige verkiesings met algemene stemreg
Geen politieke bestel kan daarop roem dat hy as demokraties beskou kan word indien vrye en regverdige verkiesings nie op ’n gereelde grondslag plaasvind nie. Dit kan gestel word dat Suid-Afrika grootliks aan hierdie belangrike vereiste vir suksesvolle demokrasie voldoen. Onder die leiding van die Onafhanklike Verkiesingskommissie is reeds vier algemene verkiesings gehou wat deur sowel plaaslike as buitelandse moniteringsagente as vry en regverdig verklaar is.
’n Aspek wat egter as problematies beskou word, is agtereenvolgende ANC-regerings se weiering om aanpassings aan die bestaande verkiesingstelsel aan te bring. Tydens die konstitusionele beraad te Kempton Park gedurende die vroeë negentigerjare is op die geslote partylysmetode van die stelsel van proporsionele verteenwoordiging besluit. Ingevolge hierdie stelsel stem die kiesers vir lyste kandidate wat deur die onderskeie partye opgestel is. Die nadeel hieraan verbonde is die feit dat die kieser nie ’n direk verantwoordbare verteenwoordiger in die parlement kies nie en die verkose verteenwoordigers op hul beurt veel eerder die partyleiers as die kiesers ter wille wil wees (EISA s.j.). ’n Verdere nadeel is dat dit die vorming van ’n menigte klein politieke partye wat nie werklik lewensvatbaar is nie, maar slegs daartoe bydra om die opposisie te verswak en te verdeel, in die hand werk.
Tydens die konstitusionele onderhandelings is die verwagting uitgespreek dat die stelsel van proporsionele verteenwoordiging mettertyd aangepas moes word ten gunste van ’n enkellidkiesafdelingstelsel volgens die relatiewe of absolute meerderheidsmetode. ’n Taakspan onder die leiding van Frederik Van Zyl Slabbert is inderdaad in 2002 deur die Mbeki-regering aangestel om die aangeleentheid te ondersoek. Die taakspan het met aanbevelings vorendag gekom wat vir die gebruik van sowel die proporsionele as die enkellidkiesafdelingstelsel voorsiening gemaak het. Die aanbevelings is egter nie deur die regering aanvaar nie (Southall 2004). Ten einde egter die nadele van die stelsel van proporsionele verteenwoordiging teen te werk, het die Mbeki-regering besluit dat sekere areas aan die parlementêre verteenwoordigers toegewys moet word en dat toelaes aan lede betaal moet word ten einde hulle in staat te stel om in gereelde kontak met die kiesers te bly (A Better Electoral System for South Africa s.j.).
Ander aspekte betreffende verkiesings in Suid-Afrika wat tot onlangs as uiters problematies beskou is, is die aanvaarding van wetgewing deur die Mbeki-regering ingevolge waarvan parlementêre en ander openbare verteenwoordigers toegelaat was om tweejaarliks, gedurende ’n sogenaamde vensterperiode, hul party-lidmaatskap te verander. Hierdie vorm van verkiesingsmanipulasie, wat grootliks die ANC bevoordeel het, was wesenlik ondemokraties. Dieselfde kan verklaar word van die wysigings aan die Kieswet wat sekere burgers wat hulle in die buiteland bevind het, van hul stemreg ontneem het. Beide maatreëls is egter onlangs deur ’n besluit van die parlement en ’n uitspraak deur die Konstitusionele Hof van die wetboek verwyder (South Africa 2009a; Mbola 2009).
3.4 Vrye optrede deur belangegroepe ter beïnvloeding van regeringsbesluite
Kenmerkend van enige demokratiese orde is die bestaan van ’n burgerlike samelewing. Die burgerlike samelewing is alle instellings wat nie deel van die staat is nie, soos universiteite, kerke, vakbonde, die onafhanklike media en vrywilligerinstellings. In ’n demokrasie moet hierdie instellings die reg hê om regeringsoptrede te probeer beïnvloed.
Dit kan gestel word dat Suid-Afrika aan hierdie vereiste vir suksesvolle demokrasie voldoen. Die etlike duisende druk- en belangegroepe in die burgerlike samelewing beskik oor die reg en vryheid om regeringsbesluite deur petisionering, voorleggings en onderhandeling te probeer beïnvloed of te verander. Dat hierdie groepe en die breë publiek egter nie altyd suksesvol in hul beïnvloedingspogings is nie, staan soos ’n paal bo water. Vertoë deur talle instansies in die burgerlike samelewing dat die doodstraf heringestel en misdaad en korrupsie op meer kragdadige wyse bekamp moet word, het byvoorbeeld tot dusver op dowe ore geval (Nduru 2009).
Nog ’n onlangse voorbeeld was die Motlanthe-regering se bereidwilligheid om petisies te ontvang en openbare voorleggings aan te hoor rakende die besluit om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se Direktoraat vir Spesiale Operasies (Skerpioene) te ontbind, wel wetende dat sulke petisies en voorleggings geen verskil sou maak aan die reeds genome besluit nie (Eye on Crime 2009). Dit is tog belangrik om daarop te wys dat in enkele gevalle vorige regerings wel van sekere voornemens afgesien het na die aanhoor van vertoë uit die burgerlike samelewing. Die tydelike opskorting van pogings om wetgewing ten aansien van eensydige grondonteiening aan te neem, kan as voorbeeld in hierdie verband genoem word.
3.5 Erkenning en beskerming van fundamentele menseregte en -vryhede
Die erkenning en beskerming van fundamentele menseregte en -vryhede is die lewensbloed van elke volwaardige demokrasie. Die uitgangspunt is dat geen mens ’n volwaardige en sinvolle bestaan kan voer sonder sekere burger-, ekonomiese en maatskaplike regte nie. Die volle spektrum fundamentele menseregte en -vryhede word uitvoerig in die Suid-Afrikaanse Grondwet gewaarborg by wyse van ’n Handves van Regte asook beskerming daarvan deur die Konstitusionele Hof. Verder word hierdie konstitusionele en judisiële beskerming versterk deur die bestaan van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (Human Rights Commission s.j.). Die Mbeki- en Motlanthe-regerings se verbintenis tot die bevordering van menseveiligheid (“human security”) in Suid-Afrika se binne- sowel as buitelandse beleid, kan as ’n verdere voorbeeld vermeld word van die prominensie wat aan die aangeleentheid verleen is (Ferreira 2009).
Dit kan dus gestel word dat Suid-Afrika teoreties in etlike opsigte aan hierdie kernvereiste vir demokrasie voldoen.
Wanneer ondersoek ingestel word na die beskerming en bevordering van menseregte en vryhede, asook menseveiligheid in die praktyk, is dit egter duidelik dat leemtes bestaan en dat lippediens dikwels aan die orde van die dag was. Die kritiek teen vorige regerings deur die openbare media het veral gewentel om hul onvermoë om misdaad en sistemiese korrupsie te bekamp; versuim om in etlike gevalle Suid-Afrikaanse burgers se belange in Zimbabwe te beskerm; versuim om buitelanders se veiligheid in Suid-Afrika te verseker (tydens die onlangse vlaag xenofobiese geweld); weiering om die universeel-gerespekteerde Tibettaanse kampvegter vir menseregte, die Dalai Lama, toegang tot die land te verleen (ABC News 2009); steun aan outoritêre regimes in Zimbabwe en Swaziland; en voornemens om deur middel van wetgewing eensydige grondonteiening toe te pas.
Amnestie Internasionaal het in sy jaarverslag vir 2008 na ’n hele reeks menseregskendings in Suid-Afrika verwys (Amnesty International Report 2008). Die skendings wat spesifiek vermeld is, het gehandel oor die swak behandeling van vlugtelinge, asielsoekers en migrante; die oormatige gebruik van geweld deur die polisie; marteling en mishandeling van aangehoudenes deur die polisie; onaanvaarbare tronktoestande; swak wetstoepassing wat daartoe lei dat misdadigers straffeloos wegkom; geweld teen vroue; en swak gesondheidstoestande, veral vir VIGS-lyers.
Alhoewel daar aanvaar word dat die beskerming van menseregte-, -vryhede en -veiligheid in ’n samelewing nooit in absolute terme toegepas kan word nie, is bogemelde voorbeelde kommerwekkend, omdat hulle ’n belemmerende uitwerking op die suksesvolle voortbestaan en konsolidasie van ’n demokratiese orde het.
3.6 Populêre aanvaarding van burgerverantwoordelikhede
Dit word vandag universeel aanvaar dat demokratiese samelewings nie alleen oor fundamentele menseregte en -vryhede moet beskik nie, maar dat die burgery op hul beurt ook sekere verpligtinge en verantwoordelikhede moet nakom. Volgens sekere politieke wetenskaplikes (Ibele 1972:58-9) is daar twee spesifieke burgerverantwoordelikhede wat essensieel is vir ’n demokratiese politieke orde om beslag te kry en suksesvol voort te bestaan, naamlik selfdissipline en wetsgehoorsaamheid. Individue in ’n vrye demokratiese samelewing moet te alle tye daarvan bewus wees dat hul regte en vryhede eindig waar hul medeburgers se regte en vryhede begin. In die daaglikse leefwêreld van elke individu vereis hierdie ingesteldheid selfdissipline, gedragsregulering en respek vir andere op ’n deurlopende en volgehoue grondslag. Voorts moet elke individu in ’n demokratiese samelewing daarvan bewus wees dat ware vryheid slegs te vinde is in wetsgehoorsaamheid en nie in wetsongehoorsaamheid nie. Die bekende uitdrukking “freedomunder the law, not against the law”, som die korrekte ingesteldheid treffend op.
Hierbenewens word dit ook van die burgery in ’n demokratiese samelewing verwag om verdraagsaamheid, gematigdheid en rasionaliteit aan die dag te lê. Soos hier onder aangetoon sal word, vereis die beginsel van wederkerige beheer wat die sosialekontrak-teorie ten grondslag lê, verder dat die burgery polities meelewend moet optree. Dit beteken dat individue onder die verpligting verkeer om, individueel en/of kollektief, ’n wakende oog oor regeringsoptrede te hou.
In Suid-Afrika word hierdie basiese burgerverantwoordelikhede deur beduidende getalle individue nie nagekom nie. Die verbysterende wyse waarop padverkeersregulasies deur derduisende (miljoene?) Suid-Afrikaners verontagsaam word, is waarskynlik ’n goeie aanduiding van die nienakoming van burgerverantwoordelikhede op grondvlak. Voorts is dit bekend dat daar talle individue in gesagsposisies is, in sowel die openbare as die privaatsektor, wat glo die doel heilig die middele en dus nie skroom om diefstal en korrupsie te pleeg nie. Ofskoon dit moeilik is om die omvang van korrupsie presies te bepaal, kan ’n aanduiding verkry word uit die feit dat Suid-Afrika in 2008 die 54ste plek uit 180 state op Transparency International (2008) se korrupsiepersepsie-indeks beklee het. Die syfer wat toegeken is, was 4,9, wat daarop dui dat Suid-Afrika wel ‘n problematiese situasie ten aansien van die aangeleentheid in die gesig staar.
Die gevolg van hierdie ingesteldheid deur talle individue is nie alleen tot korrupsie beperk nie, maar strek veel wyer. Wat ook algemeen in die samelewing voorkom, is blatante ignorering van reëls en regulasies, miskenning van universeel aanvaarde etiese en morele waardes en norme, geweldpleging, verkragtings, kindermolestering, gewelddadige roof en moord. Dit is bekend dat Suid-Afrika oor van die hoogste gewelddadige-misdaadvlakke in die wêreld beskik. Volgens die Instituut vir Veiligheidstudies was daar gedurende 2007-8 nie minder nie as 18 487 moorde, 18 795 pogings tot moord en 210 104 aanvalle wat daarop gemik was om ernstige liggaamlike beserings toe te dien (Institute for Security Studies s.j.). Die Mbeki- en Motlanthe-regerings kon in die verlede nie daarin slaag om ’n daling in hierdie syfers te bewerkstellig nie.
Vir die suksesvolle voortbestaan van ’n demokratiese bestel hou hierdie toedrag van sake ernstige implikasies in. Daar kan met veiligheid beweer word dat as wetsongehoorsaamheid, misdaad en sistemiese korrupsie in Suid-Afrika nie daadwerklik bekamp word nie, en beduidende getalle burgers nie die burgerverantwoordelikhede waarna hier bo verwys is, nakom nie, die uiteindelike disintegrasie van die samelewing en die einde van demokrasie nie uitgesluit sal bly nie. Die hoop word nietemin gekoester dat die nuutverkose Zuma-regering se verklaarde beleid om goeie regering te verseker en maatskaplike euwels soos misdaad en korrupsie kragdadig te bekamp (ANC 2008), met sukses bekroon sal word.
3.7 Aanvaarding van die beginsel van individuele en organisatoriese outonomie
Die opperbelang van die individuele persoonlikheid en outonomie van instellings in die burgerlike samelewing is in alle demokratiese samelewings van die allergrootste belang. In Suid-Afrika word die opperbelang van die individu weliswaar konstitusioneel in ’n Handves van Regte erken, maar die beginsel van organisatoriese outonomie is tot dusver, om bepaalde redes, nie nougeset toegepas ten aansien van die instellings wat in die burgerlike samelewing funksioneer nie. Dit is veral sake-ondernemings, grondeienaars en sportverenigings wat swaar gebuk gaan onder oormatige regulering, ongenuanseerde regstellende aksie en voorskriftelikheid vanaf owerheidskant.
Die afmetings wat regstellende aksie aangeneem het, het die voormalige president, F.W. de Klerk selfs beweeg om te verklaar dat sodanige optrede nie alleen onkonstitusioneel is nie, maar ook rassisties (Die Burger 2009a). Volgens hom is die wyse waarop regstellende aksie tot dusver deur die regering toegepas is, nie in ooreenstemming met die bedoeling wat die konstitusionele grondleggers gehad het toe artikel 9(2) van die Grondwet onderhandel is nie. Die enigste terreine waar regstellende aksie, volgens De Klerk, toelaatbaar sou wees, is die staatsdiens en die regbank. In reaksie op hierdie siening het regskenners soos Pierre de Vos en Ockert Dupper (Die Burger 2009b) egter verklaar dat die betrokke artikel nie op sodanige wyse geïnterpreteer kan word nie. Volgens hierdie kenners is regverdigheid die sentrale kwessie en nie gelyke behandeling bo alles nie. Gevolglik móét ras in ag geneem word, omdat daar in die verlede onregverdigheid was.
Terwyl dit dus nie ontken kan word dat regstellende aksie in Suid-Afrika, vanweë die rassediskriminasie wat in die verlede plaasgevind het, ’n noodsaaklike beleidsmaatreël is nie, kan die ongenuanseerde en merietelose toepassing daarvan wel in botsing kom met diepgewortelde demokratiese beginsels. Dat dit ook dienslewering en ekonomiese ontwikkeling nadelig kan beïnvloed, is voor die hand liggend. Hoe egter tot ’n werkbare akkoord gekom kan word om die netelige kwessie ter bevrediging van alle betrokkenes op te los en demokratiese beginsels te beskerm, sal ’n turksvy bly totdat die maatreël uiteindelik geskrap word.
3. 8 ’n Geletterde en opgevoede burgery
Daar word reeds vir eeue aanvaar dat ’n burgery met hoë geletterdheids- en opvoedkundige vlakke ’n allernoodsaaklike vereiste vir die suksesvolle voortbestaan van demokrasie is (Rodee e.a. 1957:99). Die opsteller van die Amerikaanse Verklaring van Onafhanklikheid en derde president van die VSA, Thomas Jefferson (1743-1826), het die noodsaak van ’n opgevoede burgery vir ’n volhoubare demokrasie soos volg beskryf: “If we’re going to have a successful democratic society, we have to have a well educated and healthy citizenry” (The Right to Health Care … Now! s.j.). Meer onlangs, gedurende September 2008, het die Amerikaanse Council of Colleges of Arts and Sciences die belangrikheid van ’n opgevoede burgery vir ’n sterk demokrasie in die 21ste eeu in ’n ope brief aan die volgende Amerikaanse president en kongres beklemtoon (CCAS 2008).
Geletterdheid en opvoeding is van kardinale belang vir demokrasie, omdat dit nie alleen daartoe bydra dat mense se lewensuitkyk verbreed word nie, maar hulle ook in staat stel om aan die demokratiese vereistes van verdraagsaamheid, gematigdheid en rasionaliteit te voldoen. Alhoewel geletterde en opgevoede mense nie noodwendig demokraties is nie, word dit nietemin aanvaar dat ’n demokratiese orde suksesvol behoort voort te bestaan in samelewings met ’n hoë vlak van geletterdheid en opvoeding, ’n publiek wat goed ingelig is oor openbare aangeleenthede, en oop kommunikasiekanale.
In die geheel beskou, beskik die Suid-Afrikaanse samelewing in die ouderdomsgroep bo 20 jaar nie oor ’n uitermate hoë opvoedings- en geletterdheidsvlak nie. Hierdie ouderdomsgroep is om twee redes van besondere belang vir enige samelewing: eerstens beskik die groep oor die kennis en vaardighede wat nodig is vir sosio-ekonomiese ontwikkeling; tweedens is dit hierdie groep wat by uitstek vir politieke deelname en meelewing verantwoordelik is. Die syfers ten opsigte van hierdie bevolkingsgroep, soos blyk uit die Departement Statistiek se Gemeenskapsopname van 2007, dien ter illustrasie (Statistics South Africa 2007).
Hoogste opvoedkundige vlak van Suid-Afrikaners bo 20 jaar (persentasies)
Jaar |
Geen skoolonderrig |
’n Mate van primêre onderrig Graad 1-6 |
Primêre onderrig (Voltooi) Graad 7 |
’n Mate van sekondêre onderrig Graad 8-11 |
Graad 12 (voltooi) |
Hoër onderrig |
1996 |
19 ,3 |
16 ,7 |
7 ,5 |
33 ,9 |
16 ,4 |
8 ,2 |
2001 |
17 ,9 |
16 ,0 |
6 ,4 |
30 ,8 |
20 ,4 |
8 ,4 |
2007 |
10 ,3 |
16 ,0 |
5 ,9 |
40 ,1 |
18 ,6 |
9 ,1 |
Terwyl daar sedert 1996 ’n verbetering in die geletterdheids- en opvoedkundige vlak van Suid-Afrikaners in hierdie kategorie te bespeur is, moet dit egter beklemtoon word dat die vlak in die algemeen nie uitermate hoog is nie. Dat daar op kort en medium termyn ook nie dramatiese veranderings te wagte kan wees nie, blyk uit die feit dat die onderwysstelsel vele gebreke het. Hierdie toestand bestaan nieteenstaande die feit dat bykans 19% van die jaarlikse begroting aan onderwys bestee word (NationMaster s.j.). Pogings deur vorige ANC-regerings om die onderwysstelsel te verbeter, onder meer deur die oorskakeling na ’n stelsel van uitkomsgebaseerde onderwys, was nie baie geslaagd nie. Volgens Mamphela Ramphele, voormalige visekanselier van die Universiteit van Kaapstad en direkteur van die Wêreldbank, is uitkomsgebaseerde onderwys in Suid-Afrika ’n mislukking en is sy selfs bereid om voor die parlementsgebou daarteen te betoog (The Right Perspective 2009). Die ANC het egter verklaar dat daar nie met die model weggedoen sal word nie, maar dat eerder op die korrekte implementering daarvan gekonsentreer sal word (Govender 2008).
Die politieke implikasies wat lae opvoedkundige en hoë ongeletterdheidsyfers tesame met ’n swak en ontoereikende onderwysstelsel vir Suid-Afrika inhou, word waarskynlik ten beste geïllustreer deur die feit dat een derde van die raadslede in plaaslike regerings gedurende 2008 ongeletterd was (News24.com. 2008a). Dit is bekend dat dienslewering op hierdie regeringsvlak veel te wense oorlaat en dat talle munisipaliteite inderdaad disfunksioneel is, soos hier onder aangetoon sal word.
Andermaal is dit belangrik om te beklemtoon dat die Zuma-regering hom daartoe verbind het om gedurende sy bewindstermyn die hoogste prioriteit aan onderwys en opvoeding te verleen. Van die maatreëls wat reeds getref is, is die verdeling van die departement van onderwys in twee departemente. Een departement is belas met basiese onderwys, terwyl die ander spesifiek op hoër onderwys fokus (South African Government Information 2009).
3.9 Die verdeling van regeringsmag ter akkommodering van pluraliteit en beskerming van eiesoortige belange
’n Kenmerk van alle demokratiese politieke stelsels met groot grondoppervlaktes of waar verskillende kultuurgroepe of -gemeenskappe dieselfde grondgebied bewoon, is dat die mag om te regeer tussen verskillende instansies gedeel of verdeel word. Na sulke stelsels word normaalweg as federasies of federale state verwys (Ball 1992:51-2; Heywood 2002:160-65). Wat normaalweg gebeur, is dat die aangeleenthede van nasionale belang, soos verdediging en buitelandse sake, aan die sentrale of federale regeringsinstelling toevertrou word, terwyl die res aan die deelstate (in die geval van geografiese federasies) of groeps- of persoonsgebonde instellings (in die geval van korporatiewe federasies) toevertrou word. In laasgemelde tipe federasie word dikwels ook ’n vorm van konsosiatiewe besluitneming, dit wil sê besluitneming deur ’n “groot koalisie” van segmentele leiers, aangetref. In die hoërhuis of tweede kamer van die nasionale wetgewende liggaam het die samestellende eenhede normaalweg gelyke verteenwoordiging. Die uitgangspunt wat die federale staatsvorm ten grondslag lê, is om te verseker dat aan daardie individue, streke en groepe met eiesoortige belange die maksimum geleentheid tot selfregering gegee word.
Teenoor die federale staatsvorm word die unitêre staatsvorm aangetref (Ball 1992:52; Heywood, 2002:165-9). In unitêre staatsvorme word alle mag in die sentrale regering gekonsentreer en alle subnasionale strukture ondergeskik aan die sentrale regering gestel. Terwyl ’n unitêre staatsvorm geskik is vir homogene samelewings, en demokrasie in sulke samelewings moontlik maak, word dit normaalweg nie as die ideaal vir heterogene of multinasionale samelewings beskou nie.
Met betrekking tot Suid-Afrika kan gemeld word dat die konstitusionele grondleggers die mag om op die grondslag van ’n geografiese federasie te regeer, tussen nege provinsies en ’n sentrale regering verdeel het. Die provinsies sou oor gelyke verteenwoordiging in die hoërhuis (Nasionale Raad van Provinsies) beskik. Terwyl die keuse van die federale staatsvorm as die korrekte keuse beskou word, is daar egter op tweërlei wyse gefouteer met die wyse waarop die mag verdeel is. Ten eerste is, anders as wat normaalweg in geografies-gebaseerde federale state gebeur, slegs beperkte bevoegdhede aan die samestellende eenhede (provinsies) verleen. Daarteenoor is die magte wat aan die sentrale regering verleen is, omvangryk. Hierdie besondere reëling sou vir toekomstige regerings die weg baan om mag selfs verder in die sentrale regering te konsentreer. Die jongste voorbeeld van magskonsentrasie was die besluit deur die Motlanthe-regering om gedurende Maart 2009 ’n wetsontwerp goed te keur ingevolge waarvan die Grondwet gewysig sal word om direkte ingryping deur die sentrale regering in munisipaliteite moontlik te maak (Die Burger 2009c). Dit wil voorkom asof die Zuma-regering bereid is om nie alleen met die wetgewing voort te gaan nie, maar dit selfs verder te voer. Op 22 Junie 2009 het Sicelo Shiceka, die minister van koöperatiewe regering en tradisionele sake, verklaar dat veranderings aan die stelsel van sowel plaaslike as provinsiale regering bestudeer word met die oog daarop om dit in Maart 2010 in werking te stel (Die Burger 2009d).
Tweedens word die wyse waarop die konstitusionele grondleggers die regte van kultuur, godsdiens- en taalgemeenskappe beskerm het, as ontoereikend beskou. Die wyse waarop instellings soos die Menseregtekommissie, die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, die Kommissie vir Geslagsgelykheid en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe sedert hul stigting gefunksioneer het en steeds funksioneer, dien ter illustrasie. Betreffende die beskerming van taalgemeenskappe se regte het oudpresident F.W. de Klerk onlangs selfs so ver gegaan as om ANC-regerings daarvan te beskuldig dat hulle tot dusver feitlik elkeen van die grondwetlike taalregte van Suid-Afrikaners geïgnoreer het (Die Burger 2009e).
Dit is belangrik om te meld dat terwyl wye erkenning verleen is aan die stelsel van tradisionele leierskap in Suid-Afrika, daar ook op hierdie terrein etlike aangeleenthede is wat as problematies beskou word en aandag verdien (Hugh 2004).
Die gevolgtrekking waartoe dus geraak kan word, is dat vir die sukses en uiteindelike konsolidasie van demokrasie in Suid-Afrika, die bestaande stelsel van magsverdeling tussen die nasionale en subnasionale regeringsinstellings nie as ideaal beskou kan word nie. Die skepping van ’n volwaardige geografiese federasie met maksimum desentralisering van regsprekende, uitvoerende en wetgewende magte aan die samestellende eenhede sou ’n veel beter opsie gewees het. Bekende politieke filosowe soos Alexis de Tocqueville en John Stuart Mill was daarvan oortuig dat die desentralisering van politieke mag as ’n noodsaaklike komponent van demokrasie beskou moet word (Pennock e.a. 1964:519). Selfs die skepping van ’n demokratiese konsosiasie sou vir Suid-Afrika meer betekenisvol gewees het. Hierdie tipe demokrasie is ontwikkel met die spesifieke doel om magsdeling en noue assosiasie tussen ’n aantal partye en politieke groeperings in verdeelde samelewings moontlik te maak. Bekende voorbeelde van gevestigde demokratiese konsosiasies is België, Oostenryk en Switserland (Heywood 2002:34).
3.10 Die skeiding van regeringsmagte
Een van die mees uitstaande kenmerke van alle volwaardige demokratiese state is die skeiding tussen die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesagstrukture. In die Amerikaanse presidensiële of buiteparlementêre regeringsvorm (Ball 1992:53; Heywood 2002:338-42), het die driedelingsleer (die leer van die “trias politica”), waarskynlik die suiwerste toepassing gevind. In dié staat word die president, die hoof van die uitvoerende gesag, direk deur die kiesers verkies. Hy/sy en sy/haar kabinetslede is nie deel van die wetgewende gesag nie en is ook nie aan die wetgewende gesag verantwoording verskuldig nie. Kabinetslede se aanstellings moet wel deur die Senaat bekragtig word. Hierdie besondere reëling vorm deel van ’n uitgebreide stelsel van wigte en teenwigte tussen die regeringsmagte. Verder is die president sowel staats- as regeringshoof. Die uitgangspunt van die Amerikaanse konstitusionele grondleggers was dat indien die regeringsmagte nie geskei word nie, daar geen sprake van werklike vryheid sou wees nie, aangesien een of meer persone alle mag sou kon bekom en dan willekeurig sou kon optree. Die bewering word soms gemaak dat die Amerikaanse demokrasie meer “demokraties” as ander Westerse demokrasieë is, omdat dit magskonsentrasie beter aan bande lê.
Dit is belangrik om daarop te wys dat terwyl die afsonderlike bestaan van die regsprekende gesag in alle demokrasieë as vanselfsprekend en noodsaaklik beskou word (gewoonlik word daarna as regsoewereiniteit, oftewel “the rule of law”, verwys), die skeiding tussen die wetgewende en uitvoerende gesag nie altyd so rigied is soos in die VSA nie. In hierdie opsig is verskeie modelle van wetgewende-uitvoerende magskeiding ontwikkel, naamlik die parlementêre of die kabinetstelsel (soms ook die eerste-ministeriële of Westminster-regeringsvorm genoem) (Ball 1992:53; Heywood 2002:342-8). ’n Goeie voorbeeld hiervan is die Britse regeringstelsel. Die uitstaande kenmerk van die betrokke stelsel is dat die wetgewende en uitvoerende mag nie geskei is nie. Dit is aaneengeskakel deurdat die lede van die uitvoerende gesag (eerste minister en kabinet) ook lede van die wetgewende gesag is en aan laasgenoemde verantwoording verskuldig is. Die eerste minister word voorts nie direk deur die kiesers tot die amp verkies nie, maar bekom sy/haar amp op grond daarvan dat hy/sy die leier van die sterkste party in die parlement (Laerhuis / House of Commons) is. Kenmerkend van die parlementêre stelsel is ook die feit dat die staatshoof normaalweg slegs ’n seremoniële rol speel, met beperkte politieke invloed. Die staatshoof kan ’n president of ’n monarg wees.
In Frankryk word ’n vermenging van die parlementêre en presidensiële regeringsvorme aangetref. Die president word direk deur die kiesers verkies en is nie ’n lid van die wetgewende gesag nie. Die eerste minister en sy/haar kabinetslede is egter wel lede van die wetgewende gesag en is ook verantwoording aan daardie liggaam verskuldig (Ball 1992:54; Heywood 2002:342-3).
Wanneer die Suid-Afrikaanse stelsel van wetgewende-uitvoerende magskeiding ontleed word, word bemerk dat dit in wese met die Westminster-regeringsvorm ooreenstem, nieteenstaande die feit dat daar in die Grondwet vir ’n president en nie ’n eerste minister nie voorsiening gemaak is. Die wetgewende en uitvoerende gesag is, soos in Brittanje, aaneengeskakel deurdat die president en kabinetslede lede van die parlement is en ook verantwoording aan daardie liggaam verskuldig is. Hierdie aaneenskakeling van magte sou, veral gedurende die termyne van die Mbeki-regering, daartoe lei dat mag op toenemende wyse in die uitvoerende gesag gekonsentreer is. Ofskoon Suid-Afrika nie ’n volledige toestand van uitvoerende oppergesag bereik het nie, is die toesigrol van die wetgewende gesag gedurende hierdie tydperk aansienlik beperk en dikwels tot ’n blote rubberstempel gereduseer (Gumede 2005). Die vernaamste kritiek het gesentreer om die feit dat ministers nie vrae beantwoord het nie en soms sessies en sittings van parlementêre komitees nie bygewoon het nie. Wanneer daar egter oor wetsontwerpe gestem moes word, is dit van lede van die regerende party verwag om ten gunste daarvan te stem. Gedurende Januarie 2009 het ’n onafhanklike paneel wat twee jaar gelede deur die speaker en voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies aangestel is om die funksionering van die parlement te ondersoek, bevind dat daar inderdaad etlike knelpunte is wat uit die weg geruim moet word (Die Burger 2009f).
Teen hierdie agtergrond beskou behoort dit voor die hand liggend te wees dat die stelsel van magskeiding tussen die wetgewende en uitvoerende gesag soos dit tans in Suid-Afrika bestaan, nie ideaal geskik is vir die behoud en konsolidasie van ’n volwaardige demokratiese orde nie. Daar kan slegs gehoop word dat toekomstige politieke leiers die wysheid aan die dag sal lê om groter skeiding tussen die wetgewende en die uitvoerende gesag te bewerkstellig deur veral die parlement toe te laat om sy toesigrol oor die uitvoerende gesag na behore te vervul. In die afwesigheid van ’n sterk opposisie sal sodanige stap nie alleen magskonsentrasie bemoeilik nie, maar ook ’n bydrae tot goeie regering lewer.
Die ideaal vir Suid-Afrika sou natuurlik wees om geheel en al met die Westminster-regeringsvorm weg te doen en oor te skakel na die presidensiële regeringsvorm volgens die Amerikaanse of Franse voorbeeld. Erkenning word verleen aan die feit dat ’n direk verkose president wat nie by wyse van ’n politieke mosie van wantroue deur die wetgewende gesag verwyder kan word nie, tot outoritêre presidensialisme kan lei en die demokratiese orde sodoende kan ondermyn. Wanneer hierdie waarskynlikheid egter opgeweeg word teen die feit dat outoritêre kabinets- en/of eerste-ministeriële regering ewe moontlik is, en inderdaad dikwels vir lang tydperke in Westminster-stelsels voorkom, blyk die presidensiële stelsel met sy ingeboude stelsel van wigte en teenwigte steeds die voorkeuropsie vir Suid-Afrika te wees. In die mate dat ’n stelsel van wigte en teenwigte ook in Westminster-stelsels mag voorkom, kan genoem word dat dit swak ontwikkel is vanweë die aaneenskakeling van wetgewende en uitvoerende magte in hierdie stelsels.
Wat wel as ’n positiewe resente ontwikkeling ten opsigte van magskeiding in Suid-Afrika beskou kan word, is die aankondiging deur president Zuma dat die parlement voortaan toegelaat sal word om sy toesigrol oor die uitvoerende gesag na behore te vervul (ANC Hot Topics s.j.). Die aanstelling van Max Sisulu as nuwe speaker word insgelyks as positief beskou, aangesien hy ’n lid van die paneel was wat die funksionering van die parlement ondersoek het en waarna hier bo verwys is.
’n Uiters positiewe aspek betreffende die skeiding van magte in Suid-Afrika is egter die konstitusionele voorsiening dat Suid-Afrika ’n regstaat sal wees. Dit beteken dat die hoogste en finale gesag by die Konstitusionele Hof sal berus. Met hierdie besluit het die konstitusionele grondleggers die stelsel van parlementêre soewereiniteit wat sedert Uniewording in Suid-Afrika bestaan het, vervang deur ’n stelsel van regsoewereiniteit met die Grondwet as die finale toetssteen. Tot dusver het regerings en regeringsinstansies hul grootliks daarvan weerhou om die onafhanklikheid en soewereiniteit van die regsprekende gesag aan te tas, ofskoon daar tog etlike gevalle voorgekom het waar politici en regeringslui hul wel daaraan skuldig gemaak het. Gedurende Oktober 2008 het selfs hoofregter Pius Langa dit nodig geag om, tydens ’n voordrag voor die Statebond se Vereniging vir Landdroste en Regters, daarop te wys dat die regsprekende gesag se onafhanklikheid op sagte en subtiele wyse ondermyn word (InfoUpdate no. 28 2008; Die Burger 2008). Ofskoon pertinente voorbeelde nie genoem is nie, kan die volgende ter illustrasie van die verskynsel vermeld word:
- Die gebruik van ’n regterlike kommissie van ondersoek (Erasmus-kommissie) deur die vorige premier van die Wes-Kaap, Ibrahim Rasool, met die primêre doel om die DA-opposisie in daardie provinsie te diskrediteer (News24.com 2008b).
- Die etikettering van regters van die Konstitusionele Hof deur die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, as “teen-revolusionêr” (De Vries 2008).
- Die bevraagtekening van die oppergesag van die Konstitusionele Hof deur die leier van die ANC, Jacob Zuma, en sy aandrang op die hervorming daarvan (Karim 2009).
- Die bewering deur die afgedankte direkteur van die NV, Vusi Pikoli, dat die uitvoerende gesag tydens die Mbeki-regering die onafhanklikheid van die regsprekende gesag ondermyn het (Polity.org.za 2009).
- Die terugtrekking van korrupsieklagte teen Jacob Zuma deur die NV ná ’n volgehoue veldtog van druk op die instelling deur die Drieparty-alliansie Economist.com 2009). Die leier van die African National Congress se Jeugliga (ANCYL) het selfs met die “doodmaak” en later met die “eliminasie" van opponente gedreig (Francis 2009), terwyl die Mkhonto we Sizwe Militêre Veteranevereniging die dreigement van ’n burgeroorlog geopper het (Blog South Africa 2008).
- Die onlangse uitstel van ’n vergadering van die outonome Regterlike Dienskommissie (RDK) om vakatures vir regters te vul, deur die huidige minister van justisie, Jeff Radebe (Die Burger 2009g).
Vir die suksesvolle voortbestaan van die konstitusionele demokrasie is die voorbeelde waarna hier bo verwys is, onaanvaarbaar. Die onafhanklikheid van die regsprekende gesag is een van die hoofpilare waarop elke demokratiese bestel rus. Sou dit aangetas word, is dit onafwendbaar dat die hele bestel uiteindelik in duie sal stort.
3.11 Burgerlike beheer oor die gewapende magte
Die gewapende magte van ’n staat speel ’n uiters belangrike rol in die politieke proses van daardie staat. Die betrokkenheid kan voorgestel word as ’n spektrum van burgerlik-militêre verhoudings. Dit wissel van ’n baie lae vlak van betrokkenheid aan die een kant van die spektrum tot totale dominasie aan die ander kant. Volgens Schraeder (2004:205-9) is dit moontlik om vyf modelle van burgerlik-militêre verhoudings op hierdie spektrum van betrokkenheid te onderskei. Eerstens is daar die burgerlike-oppergesag-model wat gekenmerk word deur die feit dat die finale gesag ten opsigte van militêre aangeleenthede ten volle by die burgerlike regering berus. Volgens die model is die gewapende magte bloot ’n instrument wat deur die regering, as die agent van die staat, gebruik kan word om sy beleid te implementeer. In die kontemporêre internasionale stelsel is die beginsels onderliggend aan hierdie model die heersende praktyk in elke volwaardige demokrasie. Om die waarheid te sê, dit word aanvaar dat demokrasie daarsonder nie werklik moontlik is nie. Dit sal geredelik besef word as in gedagte gehou word dat verder op die spektrum daar die waghond-model, die gebalanseerde-wiel-model, die direkte-regeer-model en die maatskaplike-transformasie-model is. Al hierdie modelle dui op ’n meerdere of mindere mate van betrokkenheid deur die gewapende magte in die regeerproses.
Wanneer die situasie in Suid-Afrika in terme van die stelsel van burgerlik-militêre verhoudings ontleed word, is dit duidelik dat die konstitusionele grondleggers op uiters korrekte wyse op die burgerlike-oppergesag-model besluit het. Nie alleen is formele konstitusionele voorsiening vir burgerlike beheer oor die gewapende magte gemaak nie, maar die ANC-regering het in 1996 die presiese aard daarvan ook in Die Witskrif oor Verdediging, bekend as Verdediging in ’n Demokrasie, uiteengesit (Departement van Verdediging 1996). Daar kan dus verklaar word dat Suid-Afrika volledig aan hierdie belangrike vereiste vir suksesvolle demokrasie voldoen. Dit kan ook genoem word dat die model wat aanvaar is, nou ooreenstem met die demokratiese model van objektiewe burgerlik-militêre verhoudings soos deur Huntington gekonsipieer (aangehaal in Heywood 2002:284) en die demokratiese model van liberale burgerlik-militêre verhoudings wat deur Eric Nordlinger geformuleer is (aangehaal deur Heywood 2002:284).
’n Aspek wat egter kommerwekkend is en vermelding verdien, is die feit dat die ANC se militêre vleuel gedurende die periode van stryd teen apartheidregerings en tans nog georganiseer in die Mkhonto we Sizwe Militêre Veteranevereniging, oënskynlik steeds met ’n bepaalde politieke agenda ten behoewe van die ANC opereer. Tekenend hiervan was hierdie veteranevereniging se dreigement in 2008 dat die land in ’n burgeroorlog gedompel sal word indien die president van die ANC, Jacob Zuma, deur ’n hof skuldig bevind sou word (Blog South Africa 2008). Na afloop van die onlangse algemene verkiesing is ’n soortgelyke dreigement herhaal. Hierdie keer is die opposisiebeheerde Wes-Kaapse provinsiale regering gedreig dat die provinsie onregeerbaar gemaak sal word indien die premier, Helen Zille, haar nie van “beledigende” kritiek op president Zuma weerhou nie (News24.com 2009). Dit behoort duidelik te blyk dat veterane wat politieke dreigemente maak en in gevegsuniforms deur die strate marsjeer ten einde geloofwaardigheid aan hul dreigemente te verleen, allermins bevorderlik is vir die vestiging en voortbestaan van ’n demokratiese orde.
3.12 Vryheid van kommunikasiemedia
Vir die behoud en konsolidasie van ’n demokratiese samelewing is dit belangrik dat regeringsbeheer en -besit van die massakommunikasiemedia in die grootste moontlike mate beperk moet word. Hierdie noodsaak vloei voort uit die feit dat mediavryheid nie alleen help om basiese menseregte en -vryhede te beskerm nie, maar ook meehelp om deursigtige regeringsoptrede en -beleid te verseker. Die president van die Raad van Europa se Parlementêre Vergadering, René van der Linden, beskou vryheid van uitdrukking as van sodanige belang dat hy daarna as die suurstof van ’n demokratiese bestel verwys het (Council of Europe 2009).
Wanneer die huidige stand van mediavryheid in Suid-Afrika in oënskou geneem word, blyk dit dat daar ’n ruim mate van vryheid bestaan en dat hierdie vryheid ook konstitusioneel gewaarborg word. Die uitsondering in hierdie verband is die openbare uitsaaier, die SABC, wat onder ministeriële beheer staan, terwyl die beheerraad ook deur die regering aangestel word. Die langdurige konflik tussen die SABC-raad en die hoof uitvoerende beampte is ’n aanduiding van pogings deur wedywerende groeperings binne die Drieparty-alliansie om die instelling vir politieke doeleindes te gebruik (Myburgh 2009). Ingevolge wysigings aan die uitsaaiwet wat in 2008 voorgestel is, sal die parlement met die bevoegdheid beklee word om die beheerraad van die SABC te verwyder sou die liggaam tot sodanige gevolgtrekking kom (Moerdyk 2009). Hierdie maatreël sal geld nieteenstaande die feit dat hoofstuk 9 van die Grondwet vir ’n onafhanklike owerheid om die openbare uitsaaier te reguleer, voorsiening maak.
Terwyl die media in Suid-Afrika tans oor ’n ruim mate van vryheid beskik, is daar nietemin tekens dat vorige regerings probeer het om hierdie vryheid aan bande te lê. ’n Sprekende voorbeeld hiervan was die poging om deur middel van wetgewing groter beheer oor die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (OKOSA), te verkry (Freedom of Expression Institute 2008). Verder is druk ook van regeringskant uitgeoefen dat die media inligtingsbronne bekend moet maak, regstellende aksie moet toepas en ’n gedragskode daar moet stel. Voorts is dit bekend dat regeringslui hul ook by etlike geleenthede ten gunste van ’n mediatribunaal uitgespreek het.
Volgens Pillay (2008) beklee Suid-Afrika die 36ste plek uit 173 state op die persvryheidsindeks wat jaarliks deur die nieregeringsorganisasie Verslaggewers Sonder Grense opgestel word. Hy verwys ook na die mediakenner Anton Harber, wat sy kommer uitgespreek het oor die politieke dreigemente teen die media, die onafhanklikheid van die openbare uitsaaier, die toegang tot die internet, apartheidswette wat steeds voortbestaan, litigasie ten einde die media te teister (“harass”), en die regering se aandrang op ’n mediatribunaal.
’n Onlangse maatreël wat ernstige gevolge vir mediavryheid in Suid-Afrika kan inhou, is die voorgestelde wetgewing rakende die “beskerming” van inligting. Hiervolgens kan regeringsinstellings inligting wat as van “nasionale belang” beskou word, as geklassifiseerde inligting hanteer. Indien die media hierdie geklassifiseerde inligting sou openbaar maak, sal hulle vervolging in die gesig staar (Freedom of Expression Institute 2008).
Die Instituut vir Vryheid van Uitdrukking het in 2008 sy kommer oor die vlak van mediavryheid in Suid-Afrika uitgespreek (Freedom of Expression Institute 2008). Hierdie siening is kommerwekkend, want sou mediavryheid in die slag bly, kan dit ernstige gevolge vir die demokrasie in Suid-Afrika inhou, veral as in gedagte gehou word dat die media, in die afwesigheid van ’n sterk partypolitieke opposisie, ’n uiters positiewe en noodsaaklike rol in hierdie verband vervul.
3.13 ’n Oorwegend mark-ekonomie-stelsel
Dit word vandag wyd aanvaar dat ’n oorwegend mark-ekonomie-stelsel ’n essensiële voorwaarde vir suksesvolle demokrasie is. Ter agtergrond word genoem dat politieke wetenskaplikes ’n onderskeid tussen vier ekonomiese stelsels tref (Valdehueza 2009). Eerstens is daar die tradisionele ekonomiese stelsel, wat in wese ’n familie- of gemeenskapsgebaseerde stelsel met kommunale grondbesit is. Tweedens kan ’n mark-ekonomie-stelsel onderskei word wat ’n individu- of verbruikergebaseerde stelsel is wat van verbruikerskeuses afhanklik is. Die derde stelsel is die bevelsekonomiese stelsel, wat ’n sentraalbeheerde stelsel is met die regering in volle beheer van alle fasette van die samelewing. Die vierde stelsel is die gemengde-ekonomie-stelsel, waarin die vryemarkstelsel opereer, maar daar ook ’n sekere mate van regeringsbetrokkenheid in die ekonomie voorkom.
Dit is belangrik om aan te toon dat daar selde in die moderne internasionale stelsel tradisionele ekonomiese stelsels voorkom, en dat waar dit wel die geval is, dit tot sekere onderontwikkelde gebiede binne state beperk is. Met die ineenstorting van die voormalige Sowjetunie aan die einde van die tagtigerjare, die beëindiging van die Koue Oorlog daarna en die ekonomiese liberalisering wat die afgelope aantal jare in die Chinese Volksrepubliek plaasgevind het, het die bevelsekonomiese stelsel vrywel van die toneel verdwyn. Die enigste stelsels wat dus oorgebly het, is die mark-ekonomiese en die gemengde-ekonomie-stelsels.
Op die keper beskou bestaan daar egter in die werklike lewe geen mark-ekonomie-stelsel wat honderd persent suiwer is nie. Dié feit word geïllustreer deur die moderne vorme van kapitalisme wat deur Heywood (2002:180-83) onderskei word. Hy is die mening toegedaan dat dit moontlik is om ’n onderskeid tussen sosiale kapitalisme, kollektiewe kapitalisme en ondernemingskapitalisme te tref. Selfs in die VSA, waar die idee vanlaissez-faire-kapitalisme (suiwer kapitalisme) voorgestaan word, is sodanige regerings verplig om sekere rolle in die ekonomie te vervul. In hierdie verband het wetenskaplikes (Ibele 1984:474-8) na die volgende verwys:
- Dit moet orde en wet handhaaf.
- Dit moet die sakesektor bystaan deur maatreëls soos arbeidswetgewing, subsidies, belastingvoordele, tariefregulasies en die skepping van infrastruktuur.
- Dit moet as ’n balanserende krag (“countervailing force”) in die mark optree deur hulp te verleen aan die “swak bedingers” by wyse van subsidies, toelaes, maatreëls teen monopolievorming, maatreëls vir kollektiewe bedinging en gesondheidsorg.
- Dit moet die sakesiklus teenwerk, omdat produksie nie altyd op verbruikersvraag reageer nie.
- Dit moet die mark beteuel en selfs vervang wanneer markkragte wendings neem wat skadelik is vir die algemene welstand van die samelewing deur maatreëls soos veiligheidsregulasies, depositoversekering vir banke, reserwes vir versekeringsmaatskappye, sonering van eiendomme en besoedelingsmaatreëls. (Tans is sowel die Obama-regering in die VSA as ander Westerse regerings genoodsaak om selfs private sake-ondernemings in die openbare belang oor te neem of finansieel te ondersteun en met omvangryke stimuleringsmaatreëls vorendag te kom ten einde die finansiële krisis die hoof te bied.)
Die finansiële krisis wat die wêreld onlangs getref het, is waarskynlik die heel beste bewys dat die markekonomiese stelsel nie in ’n suiwer of ongebreidelde vorm kan voortbestaan nie. Die tradisionele opvatting dat die markmeganisme (die “onsigbare hand”) op suksesvolle wyse selfregulerend kan optree, is deur hierdie krisis finaal as ongeldig ontmasker. Terwyl dit aanvaar word dat ’n markekonomiese stelsel geen gelyke het betreffende die skepping van welvaart nie, moet sodanige stelsel egter voortdurend deur die regering en sy regulatoriese instellings (die “vierde arm van regering”) beteuel word. Hierdie noodsaak sal geredelik besef word as in gedagte gehou word dat die huidige krisis primêr ontstaan het omdat regerings oor ’n wye front versuim het om die regulatoriese instellings tot hulle beskikking te gebruik ten einde die uiters aggressiewe en eksploitatiewe markkragte wat die afgelope dekades toegepas is, behoorlik te beteuel (Kodres e.a. 2009).
Toegepas op Suid-Afrika kan dit gestel word dat daar grootliks aan die vereiste vir ’n oorwegend markekonomiese stelsel voldoen word. Regeringsbetrokkenheid in die ekonomie was tot dusver slegs daarop ingestel om ’n balanserende rol te speel ten behoewe van “swak bedingers” en voorheen benadeeldes, asook om stabiliteit in die finansiële stelsel te verseker. Metodes wat gebruik is om spesifiek die armoede- en ongelykheidsprobleme te oorkom, was arbeidsbeskerming, maatskaplike hulpprogramme, swartbemagtigingsprogramme, belastinghervorming, verbreding van opvoedkundige geleenthede, vaardigheidsontwikkeling en behuisingsprogramme.
Met hierdie benadering om stabiliteit en groter “ekonomiese demokrasie” te bewerkstellig kan uiteraard geen fout gevind word nie. Inteendeel, in ’n ontwikkelende staat soos Suid-Afrika met enorme dispariteite op velerlei terreine, word die voorgemelde stappe as noodsaaklik vir die konsolidasie van demokrasie beskou. Die gevaar verbonde aan sodanige balanseringsrol is egter dat regeringsbetrokkenheid op sodanige wyse kan intensiveer dat dit tot sosialisme en gevolglik groter staatsinmenging en sentralisering van mag kan lei. Beide is nie bevorderlik vir demokrasie nie. Terwyl hierdie moontlikheid bestaan vanweë die prominente teenwoordigheid van kommuniste en sosialiste in die huidige regering, is dit belangrik om te vermeld dat die nuutverkose president, Jacob Zuma, aangekondig het dat terwyl klem gelê sal word op armoedeverligting in die samelewing deur ’n groter rol aan die regering toe te ken deur die aanvaarding van die konsep van ’n ontwikkelingstaat, daar nie van die bestaande ekonomiese beleidsrigtings afgewyk sal word nie (Berger 2009). Die afleiding wat dus gemaak kan word, is dat daar met die huidige oorwegend kapitalistiese stelsel voortgegaan sal word, maar dat dit vanweë die aanvaarding van die konsep van ’n ontwikkelingstaat na alle waarskynlikheid as sosiale kapitalisme, kollektiewe kapitalisme of die “derde weg” sal manifesteer. Hierdie vorme van kapitalisme is hier bo kortliks verduidelik.
3.14 Nakoming van die sosiale kontrak deur die vestiging van goeie regering en ’n effektiewe staatsadministrasie
Volgens die Britse filosoof Thomas Hobbes (1588-1679), is die staat doelbewus deur die mens geskep by wyse van ’n sosiale kontrak waartoe elke individu in die samelewing sy toestemming verleen het. Politieke wetenskaplikes (Rodee e.a. 1957:21) wys daarop dat ingevolge die sosialekontrak-teorie alle mense gelyk is, met ’n onvervreembare reg om absolute eiebelang en vryheid na te streef. Aangesien hierdie oogmerke slegs ten koste van ander bereik kan word, ontstaan die waarskynlikheid van onbeheerde konflik en stryd (“’n oorlog deur almal, teen almal”). Ten einde dus totale selfvernietiging en volslae chaos te verhoed en veiligheid, orde en vrede te bewerkstellig, het die mens, as sosiale en politieke wese, dit wys en nodig geag om ’n sosiale kontrak aan te gaan. Ingevolge die kontrak doen elke individu afstand van sy/haar eksklusiewe regte ten gunste van ’n verkose regering. Laasgemelde het dan die taak om, synde die agent van die staat, as trustee te regeer in die belang van die kontrakterende partye. Om die regering voorts in staat te stel om sy regeertaak na behore te vervul en na die kontrakterende partye se belange om te sien, is hy met omvattende wetgewende, uitvoerende en regsprekende magte beklee. Verder is hy gemagtig om ’n effektiewe veiligheidstelsel en staatsadministrasie daar te stel. Die beginsels waarvolgens die regeertaak verrig moet word, is oorreding en wederkerige beheer, terwyl alle regerings- en administratiewe handelinge aan die vereistes van deursigtigheid en verantwoordbaarheid moet voldoen. Sou die regering in die taak faal, loop dit die gevaar om deur die kiesers met ’n ander vervang te word.
In Suid-Afrika was daar gedurende die termyne van die Mbeki- en Motlanthe-regerings ooglopend nie ’n sterk verbintenis tot die nakoming van die sosiale kontrak in al sy fasette nie. Veral die vestiging van ’n effektiewe staatsadministrasie en die aanvaarding van die beginsels van oorreding en wederkerige kontrole het nie altyd aan die verwagtings voldoen nie. Die vernaamste rede vir hierdie toedrag van sake was die feit dat die Drieparty-alliansie na elke algemene verkiesing met ’n oorweldigende meerderheid aan bewind gestel is en as gevolg daarvan nie die vrees gekoester het dat dit uit die kussings gelig sou word nie. Uitsprake deur ANC-leiers in die verlede dat die party tot die Wederkoms sal regeer (The Real ANC Today 2008), tesame met eensydige besluitneming, ignorering en verkleinering van opposisiepartye en die omskepping van die parlement (die direk verkose verteenwoordigers wat moet toesien dat die sosiale kontrak nagekom word) tot ’n rubberstempel, het op ’n gebrek aan erkenning van hierdie uiters belangrike beginsel gedui.
Vorige regerings se nienakoming van die sosiale kontrak word ten beste geïllustreer deur beleidsrigtings en praktyke wat gevolg is en direk tot ’n afname in goeie regering en die effektiwiteit van die staatsadministrasie sou lei. Eerstens kan verwys word na die toepassing van kaderontplooiing, ongenuanseerde regstellende aksie, nepotisme en die versuim om etlike duisende vakante poste te vul. Tweedens is nagelaat om streng maatreëls in te stel om korrupsie en verkwisting aan bande te lê (Politicsweb 2009a). Gouws (2009) verwys ook na die rol wat die begunstiger-begunstigde- (“patron-client”) siening van demokrasie in hierdie verband gespeel het. Ingevolge hierdie siening word ’n bepaalde stel spelreëls onderskryf en is dit nie vreemd dat die wenners in ’n verkiesing (die politieke elite) die faksies of individue wat hulle ondersteun het, vergoed vir hul ondersteuning nie. Volgens hierdie siening word dit selfs as geoorloof en legitiem beskou dat die vergoeding uit die tesourie mag geskied. Hierdie praktyk stem ooreen met die verskynsel van persoonlike heersersnetwerke wat, volgens Schraeder (2004:183-5), gedurende die nakoloniale periode wydverspreid in Afrika-state voorgekom het.
Teen die agtergrond van bostaande was dit onafwendbaar dat die sentrale staatsdepartemente en provinsiale regerings oor ’n breë front blootgestel sou word aan óf wanbestuur óf verval, of aan beide. ’n Aanduiding van die omvang van die problematiese toestand kan verkry word uit ’n mededeling aan die Kaapstadse Persklub deur die ouditeur-generaal, Terence Nombembe, gedurende September 2009. In sy verklaring het hy aangetoon dat slegs 7 uit 34 sentrale staatsdepartemente wat verlede jaar geouditeer is, gunstige verslae ontvang het. Op provinsiale vlak het slegs 7 van die 119 geouditeerde departemente aan die vereistes vir gesonde finansiële bestuur voldoen (Ensor 2009). ’n Verdere noodwendige gevolg van die afname in goeie regering en die effektiwiteit van die staatsadministrasie was dat dienslewering en die instandhouding van infrastruktuur nadelig getref sou word. Dienslewering op die terreine van die onderwys en gesondheid is enkele voorbeelde waarna verwys kan word. Die amptelike opposisie (Trollip en Mazibuko 2009) het onlangs daarop gewys dat Suid-Afrika die afgelope jaar op die internasionale Mislukte State-indeks met 19 plekke gedaal het. In die geheel het Suid-Afrika die afgelope jaar in 16 uit 20 internasionale indekse laer graderings ontvang.
Die nienakoming van die sosiale kontrak deur vorige regerings sou ook tot gevolg hê dat die staatsbeheerde maatskappye in Suid-Afrika nie die proses van institusionele agteruitgang en verval sou ontsnap nie. Tekenend hiervan was die wanbestuur en finansiële chaos wat in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), die SABC, Transnet, ESKOM, die Krygtuigkorporasie (KRYGKOR) en die Landbank voorgekom het. Volgens ramings het die onlangse ineenstorting van die elektrisiteitsnetwerk Suid-Afrika ongeveer R50 miljard gekos (De Lange 2009a), terwyl staatshulp aan die staatsbeheerde maatskappye gedurende die 2008-2009-boekjaar sowat R189 miljard beloop het (Styan e.a, 2009).
Die probleme van swak dienslewering, korrupsie, wanbestuur en verval het hul ook op ongeëwenaarde en rampspoedige wyse op plaaslikeregeringsvlak gemanifesteer. Gedurende 2008 het die Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika (IDASA) se Eenheid vir Plaaslike Regering sy plaaslikeregeringsbarometer bekend gemaak. Tekortkominge by die meeste is op haas elke terrein van plaaslike regering blootgelê (Memela e.a. 2008). Volgens die ouditeur-generaal het slegs 3 van die 283 munisipaliteite in Suid-Afrika hul boekhouding gedurende die afgelope finansiële jaar korrek uitgevoer (Ensor 2009). Die noodwendige gevolg van hierdie disfunksionaliteit was dat wydverspreide en soms gewelddadige protesaksies teen swak dienslewering voorgekom het. Municipal IQ wys daarop dat daar teen November 2009 reeds twee keer meer protesaksies plaasgevind het as in die vorige jaar (Die Burger 2009j). Hough (2008:1-13) het ook bevind dat hierdie protesaksies teen swak dienslewering op plaaslikeregeringsvlak, vanweë die intensiteit en omvang daarvan oor die potensiaal beskik om tot ’n volskaalse revolusie te ontwikkel indien die regering nie met bepaalde beleidsmaatreëls en drastiese optrede vorendag kom nie.
Dit is dus duidelik dat vorige ANC-regerings toegelaat het dat die wydgekoesterde demokratiese ideale wat met die sluiting van die nuwe sosiale kontrak in 1994 ontstaan het, grootliks deur institusionele disfunksionaliteit geïnhibeer is. Dit wil egter voorkom asof die nakoming van die sosiale kontrak deur die nuwe regering verskillend hanteer sal word. Tydens sy inhuldiging het president Zuma hom nie alleen formeel tot goeie regering en beter dienslewering verbind nie, maar, soos hier onder aangedui sal word, ook die kabinet geherstruktureer om dit moontlik te maak. Voorts het hy met die bekendmaking van die kabinetsportefeuljes dit ook duidelik aan die staatsamptenary gestel dat dienslewering van die uiterste belang is; dat ’n era van harde werk aangebreek het en dat geen luiheid voortaan geduld sal word nie (Politicsweb 2009b). Vir die voortbestaan van die demokratiese orde in Suid-Afrika is die herstel en nakoming van die sosiale kontrak deur die heropbou en herstrukturering van die staatsadministrasie en die toepassing van deursigtigheid en verantwoordbaarheid in alle regerings- en administratiewe handelinge van kardinale belang.
3.15 Beperkte subkulturele klowings
Die gesaghebbende politieke wetenskaplikes Dahl (1984:90-91) en Lijphart (1977) het reeds in die sewentiger- en tagtigerjare van die vorige eeu daarop gewys dat kulturele en etniese homogeniteit of heterogeniteit in ’n samelewing ’n bepalende invloed op die sukses of mislukking van demokrasie in sodanige samelewings het. Veral Lijphart het dit beklemtoon dat ’n demokratiese konsosiasie geskep behoort te word om demokrasie in plurale en veral diep verdeelde samelewings moontlik te maak. Dat die besondere kwessie in die moderne era steeds as relevant beskou word, blyk uit die feit dat die Duitse Politieke Wetenskapvereniging (DVPW), die Internasionale Politieke Wetenskapvereniging (IPSA) en die Berlynse Sosiale Wetenskapnavorsingsentrum (WZB) in Junie 2009 ’n gesamentlike internasionale konferensie in Berlyn belê het om die verband tussen heterogeniteit en demokrasie te bespreek (wuertzburg.de 2009).
Die Afrika-kontinent is waarskynlik een van die beste kontemporêre voorbeelde van die noue verband tussen heterogeniteit en demokrasie. Die onstabiliteit, konflik, outoritarisme en gebrek aan sosio-ekonomiese ontwikkeling wat tot dusver kenmerkend van samelewings op die kontinent was, kan direk herlei word tot die bestaan van diep subkulturele klowings in daardie samelewings. Die mees onlangse voorbeeld was die burgerlike onrus wat in Kenia, ’n relatief homogene samelewing, voorgekom het.
Die Suid-Afrikaanse samelewing word ook gekenmerk deur etniese en kulturele heterogeniteit. Om die waarheid te sê, die heterogeniteit van die samelewing is so omvangryk dat Suid-Afrika al as ’n kleiner weergawe van die makrokosmos beskryf is. Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het dan ook heel tereg na die samelewing as ’n “reënboognasie” verwys (Freebase s.j.). As in gedagte gehou word dat hierdie heterogeniteit nie genoegsaam in die bestaande gesentraliseerde geografiese federale staatstruktuur geakkommodeer is nie, en sodanige heterogeniteit ook ’n sterk aanwyser van swak ekonomiese-ontwikkelingspotensiaal is, sal geredelik besef word dat die demokratiese orde in Suid-Afrika voortdurend ’n latente bedreiging in die gesig staar.
As verder in ag geneem word dat etnisiteit, volgens Schraeder (2004:101), so ’n belangrike rol in die politieke prosesse van die meeste Afrika-state speel dat dit nie geïgnoreer durf word nie en dat daar, volgens navorsing wat deur Gibson en Gouws (2002) gedoen is, ook hoë vlakke van onverdraagsaamheid in die Suid-Afrikaanse samelewing voorkom, raak die prentjie selfs meer somber. Volgens Alexander (2005-6) is ’n demokratiese bestel sonder meer tot mislukking gedoem indien onverdraagsaamheid en polarisasie toegelaat word om tot permanente eienskappe van ’n samelewing te gedy.
Dit is dus duidelik dat die etniese en kulturele heterogeniteit wat die Suid-Afrikaanse samelewing kenmerk, en die spanningstoestande onderliggend daaraan, ’n donker wolk op die demokratiese horison daarstel. Oudpresident Nelson Mandela het die destruktiewe potensiaal van etniese en kulturele heterogeniteit besef en deur versoenende leierskap daarin geslaag om gedurende sy bewindstermyn ’n gees van nasionale eenheid en samehorigheid te skep. Sy onmiddellike opvolgers was egter oënskynlik minder sensitief hiervoor. Die nuutverkose president, Zuma, het hom egter daartoe verbind om in die voetspore van Mandela te volg. Slegs die tyd sal leer of hy dieselfde sukses as sy ikoniese voorganger sal behaal.
3.16 ’n Hoë vlak van sosio-ekonomiese ontwikkeling
Dat die vlak van sosio-ekonomiese ontwikkeling waarop ’n samelewing verkeer, ’n bepalende invloed op die sukses of mislukking van die politieke stelsel van daardie samelewing het, kan bykans as aksiomaties aanvaar word. Die besondere verband tussen sosio-ekonomiese ontwikkelingsvlak en suksesvolle demokrasie kan ten beste geïllustreer word aan die hand van spesifieke aanwysers. Samelewings met ’n hoë per kapita-inkomste, ’n hoë geletterdheids- en opvoedkundige syfer, ’n hoë vlak van verstedeliking, ’n klein landboubevolking, ’n lae sterftesyfer, ensovoorts kan bykans sonder uitsondering as demokraties getipeer word (Dahl 1984:83-6).
Wanneer die situasie in die hedendaagse Suid-Afrika ontleed word, word bemerk dat daar ernstige sosio-ekonomiese probleme bestaan. Hier bo is reeds aangetoon dat die geletterdheids- en opvoedkundige vlak van die bevolking bo die ouderdom van 20 jaar nie hoog is nie. Met verwysing na inkomsteverdeling bestaan daar, soos hier onder aangedui sal word, ’n enorme gaping tussen rykes en armes. Suid-Afrikaners gaan ook swaar gebuk onder die las van armoede. Volgens navorsing deur Schwabe (2008), wat aan die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) verbonde is, het 57% van alle Suid-Afrikaners in 2001 onder die armoedelyn geleef. In die Oos-Kaap het die syfer op 72% gestaan, terwyl 77% van die inwoners van Limpopo onder die armoedelyn geleef het. Volgens Gumede (2008) het die syfer ten opsigte van sowel die boonste armoedelyn (R322 per maand) as die onderste armoedelyn (R174 per maand) nasionaal tot 48% in 2008 gedaal. Dit is egter steeds uitermate hoog.
Betreffende verstedelikingsvlakke kan gemeld word dat dit slegs blankes, bruines en Indiërs is wat hoë verstedelikingsyfers toon, dit wil sê meer as 80%. Wat swart mense, die grootste komponent van die bevolking, aanbetref, het die syfer in 2008 op 40% te staan gekom. Verstedeliking deur swart mense is egter besig om teen ’n snelle tempo plaas te vind. Dit word bereken dat soveel as 73% van die bevolking teen 2010 verstedelik sal wees. Dat hierdie snelle verstedelikingsproses met enorme probleme gepaard gaan, is voor die hand liggend (EnviroFacts 2008).
Suid-Afrika vaar ook swak wat ander indikators betref. Volgens die United Nations Human Development Program (2008) is Suid-Afrika se Mense-ontwikkelingsindeks (MOI) 0,674, wat beteken dat Suid-Afrika die 121ste plek op die wêreldranglys beklee, terwyl die African News Agency (2009) daarop wys dat Suid-Afrika die afgelope aantal jare met 35 plekke op die indeks gedaal het. Die MOI word deur die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram gebruik om lewensverwagting by geboorte, opvoedkundige prestasie, gesondheidsdienste en per kapita-inkomste te meet. Dit wissel van 1,000 tot 0,000. Dit word opgedeel in drie kategorieë, naamlik hoog (1,000 tot 0,800), medium (0,799 tot 0,500) en laag (0,499 tot 0,000) (McGowan e.a. 2006:400).
Dit is dus duidelik dat tot tyd en wyl bogemelde syfers nie aanmerklik verbeter nie, demokratiese konsolidasie in Suid-Afrika aan spanning onderwerp sal wees. Soos etlike kere hier bo genoem, het die Zuma-regering hom egter daartoe verbind om binne die volgende vyf jaar sigbare en tasbare sosio-ekonomiese ontwikkeling te bewerkstellig. Tydens sy staatsrede op 3 Junie 2009 het president Zuma aangekondig dat 500 000 nuwe werksgeleenthede teen die einde van die jaar by wyse van ’n openbarewerke-program geskep sal word (Die Burger 2009(h)). Om ’n groter intervensionistiese rol vir die staat moontlik te maak, het hy beslag gegee aan die konsep van ’n ontwikkelingstaat (“developmental state”) vir Suid-Afrika (Mazwai 2009). Ingevolge dié besondere staatsbeskouing is etlike instellings geskep wat direk gemoeid sal wees met die ontwikkelingsbehoeftes van die bevolking (South Africa.info 2009b). In hierdie verband kan verwys word na die Nasionale Beplanningskommissie en die Ministerie van Monitering en Evaluering wat beide in die Presidensie gesetel sal wees. Voorts is ’n nuwe Ministerie van Ekonomiese Ontwikkeling geskep. Die vorige minister van finansies, Trevor Manuel, sal aan die hoof van die Nasionale Beplanningskommissie staan en die leidende rol in die ontwikkelingsinisiatiewe speel.
Die konsep ontwikkelingstaat het sy ontstaan gedurende die laat 20ste eeu in die staatsgeleide makro-ekonomiese beplanning in Oos-Asiatiese state, soos Japan en Suid-Korea, gehad. Die ontwikkelingstaat word as ’n kapitalistiese model beskou (soms word daarna ook as “staatsontwikkelingskapitalisme” of die “harde staat” verwys), maar word terselfdertyd deur sowel omvangryke staatsinmenging in as ekstensiewe regulering en beplanning van die ekonomie gekenmerk. Die primêre doel met ’n ontwikkelingstaat is om nywerheidsontwikkeling en sosio-ekonomiese groei teen ’n versnelde tempo moontlik te maak. Kenmerkend van die model is ook die noue samewerking wat tussen die regering, die sakesektor en georganiseerde arbeid plaasvind - ’n kenmerk wat sommige waarnemers beweeg het om na die ontwikkelingstaat as ’n “vennootskapstaat” te verwys. Die konsep is sedertdien gebruik om ook te verwys na state in ander wêrelddele wat aan die kriteria voldoen het (Developmental State 2009; Heywood 2002:96-7).
Tans is dit egter onduidelik welke vertolking deur die Drieparty-alliansie aan hierdie besondere staatsbeskouing gegee sal word. Aan die een kant is daar ’n groepering wat die idee van ’n ontwikkelingstaat min of meer volgens die klassieke beskouing voorstaan, terwyl ’n ander groepering hul op die ANC se strategiese beleidsdokument, Building a National Democratic Society (Strategy and Tactics of the ANC), wat in 2007 aanvaar is, beroep. In hierdie dokument, waarna reeds hier bo verwys is, word ’n ontwikkelingstaat in Suid-Afrika beskryf as ’n aktivistiese staat wat beslissend in die ekonomie moet optree ter realisering van ’n algemeen progressiewe agenda (ANC 2007). Hierdie uiteenlopende standpunte is nie alleen aanduidend van die verskillende ideologiese uitgangspunte en die verskillende interpretasies van die NDR wat in die Drieparty-alliansie heers nie, maar vorm ook deel van die groter stryd om die sogenaamde “siel” van die ANC.
’n Verdere problematiese aspek ten aansien van die inwerkingstelling van die ontwikkelingstaat-konsep in Suid-Afrika is die disfunksionaliteit wat in wisselende mate regdeur die staatsadministrasie voorkom. Volgens Trevor Manuel was daar in alle bekende en geslaagde voorbeelde van ontwikkelingstate ’n doeltreffende staatsdiens wat standaarde en dissipline kon ontwikkel en in vennootskap saam met die privaatsektor kon werk. Die staatsadministrasie waaroor Suid-Afrika tans beskik, is nie hiertoe in staat nie. Volgens Manuel sal die toepassing van beleid nie ’n werklikheid word tensy staatsamptenare getransformeer word tot ’n “eerste linie van ontwikkelingsaktiviste” nie (De Lange 2009b).
Vir die voortbestaan van ’n demokratiese orde in Suid-Afrika sal die finale uitslag oor die vertolking van die konsep ontwikkelingstaat binne die Drieparty-alliansie, asook die vermoë van die regerende party om die staatsdiens te transformeer ten einde gestalte aan die besondere staatsbeskouing te gee, van deurslaggewende belang wees.
3.17 Die gelyke verspreiding van politieke hulpbronne
Die gelyke verspreiding van politieke hulpbronne (geld, goedere, eiendom, grond, werksgeleenthede, ens.) word ook deur Dahl (1984:86) as van kardinale belang vir die suksesvolle onderhouding van ’n demokratiese politieke bestel beskou. Hy betwyfel dit of politieke demokrasie sal oorleef in samelewings waar ekonomiese mag in die hande van ’n betreklik klein gedeelte van die bevolking gekonsentreer is. Die dilemma wat hierdie toedrag van sake skep, is ’n toenemend groter wordende en magtige ekonomiese oligargie en ’n uitbreidende politieke demokrasie in dieselfde samelewing. Dit is bekend dat oligargiese en demokratiese kragte bestem is om te bots, aangesien die ekonomies kragtige komponent hul ekonomiese mag gebruik om politieke beleidsformulering in hul guns te beïnvloed, terwyl die populêre meerderheid met dieselfde toewyding probeer om hul politieke mag as hefboom te gebruik ter verbetering van hul ekonomiese en maatskaplike posisie (Rodee e.a. 1957:97).
Wanneer die verspreiding van politieke hulpbronne in Suid-Afrika in oënskou geneem word, blyk dit nie alleen dat sodanige bronne uiters ongelyk versprei is nie, maar dat die ongelyke verdeling, tot oormaat van ramp, ook in ’n ruim mate saamval met die rasseverdeling in die land. Ter illustrasie wys Ramokgoba (2008) daarop dat swart mense in Suid-Afrika 80% van die bevolking uitmaak, maar slegs 41% van die totale inkomste verdien. Hierteenoor verdien die blankes 45% van die totale inkomste, terwyl hulle slegs 9% van die bevolking vorm. Dat daar die afgelope 15 jaar nie juis vordering gemaak is om die ongelykheid uit die weg te ruim nie, blyk uit die feit dat die gaping tussen ryk en arm tans groter is as gedurende die apartheidsera (African News Agency 2009). Ramokgoba (2008) beklemtoon ook die feit dat Suid-Afrika se Gini-koëffisiënt gestyg het van 0,57 in 2000 tot die huidige 0,72. (Die Gini-koëffisiënt is ’n formule waarvolgens verskille in inkomsteverdeling in state gemeet word. ’n Skaal van 0 tot 1 word gebruik. Die syfer 0 dui op perfekte gelykheid, terwyl die syfer 1 op totale ongelykheid dui (PovertyNet 2009).)
Die prentjie ten aansien van indiensneming in Suid-Afrika vertoon ook swak. Volgens die jongste gegewens het die werkloosheidsyfer aan die begin van 2009 op 23,5% gestaan (The Times 2009). Dié syfer kan volgens die ekonoom Mike Schüssler selfs verder toeneem as mens in ag neem dat Suid-Afrika in ’n resessie verkeer (Die Burger 2009i). Om hierdie prentjie selfs somberder te maak, kan ook genoem word dat immigrante uit buurstate en ander dele van die kontinent Suid-Afrika in groot getalle op wettige en onwettige wyse binnekom. Vanselfsprekend plaas hierdie immigrante enorme druk op die bestaande infrastruktuur en beperkte hulpbronne. Terwyl dit volgens Solomon (2000) haas onmoontlik is om akkurate syfers ten aansien van onwettige immigrante in Suid-Afrika te bekom, het Statistiek Suid-Afrika onlangs aangedui dat meer as 13 miljoen besoekers die land sedert 1993 binnegekom het en hier gebly het. Daar word na hierdie besoekers as “foreign stayers” verwys. Die syfer ten aansien van besoekers wat die land binnegekom het en hier gebly het, was vir 2008 1,25 miljoen (UASA 2009).
’n Verdere negatiewe aspek ten opsigte van die verspreiding van politieke hulpbronne is die feit dat meer as 13 miljoen Suid-Afrikaners, oftewel 25% van die totale bevolking, uitsluitlik van staatstoelaes van een of ander aard of van pensioene afhanklik is (South Africa 2009b). Dat hierdie spesifieke toedrag van sake ’n uiters netelige situasie vir die behoud, voortgang en konsolidasie van demokrasie skep, blyk duidelik uit die bevinding van Alexander (2005-6) dat wanneer ’n beduidende persentasie van ’n samelewing vir hul voortbestaan uitsluitlik van die regering afhanklik is, die kanse op suksesvolle demokrasie ernstig ondermyn word.
Ook op die terrein van grondverdeling bestaan ’n ernstige dispariteit. In ’n poging om die wanbalans reg te stel het die Mbeki-regering vroeër planne aangekondig om teen 2014 sowat 30% van alle landbougrond aan swart mense oor te dra. Tans staan die syfer egter op slegs 5% (South Africa.info 2009c), wat daarop dui dat sake nie na wense verloop het nie.
Teen hierdie agtergrond behoort dit duidelik te blyk dat die ongelyke verspreiding van politieke hulpbronne in Suid-Afrika ’n enorme struikelblok is wat oorkom sal moet word alvorens ’n volhoubare demokratiese orde gevestig sal kan word. Soos dikwels hier bo vermeld, het die Zuma-regering hom egter tot die konsep van ’n ontwikkelingstaat vir Suid-Afrika verbind en onderneem om met ’n sosio-ekonomiese ontwikkelingsprogram vorendag te kom wat binne vyf jaar sigbare en tasbare resultate sal lewer.
4. Samevatting
Samevattend kan gestel word dat terwyl talle Suid-Afrikaners die vyftienjarige bestaan van inklusiewe demokrasie as ’n suksesverhaal beskou en hulle daarin verheug, daar waarnemers is by wie daar kommer heers oor die stand van die demokratiese orde. Dat hul kommer nie sonder meer verwerp kan word nie, blyk uit die faktore wat in hierdie artikel geïdentifiseer is wat inderdaad as problematies beskou kan word ten opsigte van die suksesvolle behoud, voortgang en konsolidasie van demokrasie. Dié faktore kan soos volg opgesom word:
- Die afwesigheid van ’n demokratiese politieke kultuur by talle Suid-Afrikaners.
- Die onduidelikheid oor die aard, oogmerke en implikasies van die ANC se strategiese doelwit, naamlik die totstandbrenging van ’n nasionale demokratiese samelewing by wyse van ’n nasionale demokratiese revolusie.
- Die bestaan van ’n dominante eenpartystelsel.
- Die bestaan van ’n partypolitieke opposisie wat nie alleen swak, verdeeld en rasgebaseerd is nie, maar in etlike gevalle ook dinamiese leiding ontbreek.
- Die weiering deur agtereenvolgende regerings om afstand te doen van die geslote partylysmetode van die proporsioneleverteenwoordiging-stelsel.
- Die inkonsekwente wyse waarop fundamentele menseregte en -vryhede beskerm is.
- Die afwysende wyse waarop versoeke uit die burgerlike samelewing dikwels hanteer word.
- Die nienakoming van basiese burgerverantwoordelikhede deur beduidende getalle Suid-Afrikaners.
- Die sistemiese voorkoms van korrupsie en misdaad in die samelewing en die onvermoë deur agtereenvolgende regerings om hierdie euwels te bekamp.
- Die toepassing van ongenuanseerde regstellende aksie deur agtereenvolgende regerings ongeag die implikasies daarvan vir dienslewering, sosio-ekonomiese ontwikkeling en die beskerming van menseregte en -vryhede.
- Die lae opvoedkundige en geletterdheidsyfer.
- Die gebrekkige onderwysstelsel.
- Die verdeling van regeringsmag in ’n gesentraliseerde geografiese federale staat wat nie die pluraliteit van die samelewing genoegsaam akkommodeer nie en ook magskonsentrasie deur die sentrale uitvoerende gesag moontlik maak.
- Die skeiding van regeringsmagte in ’n Westminster-tipe regeringstelsel wat dit, vanweë die aaneenskakeling van wetgewende en uitvoerende mag wat eie aan hierdie tipe stelsel is, vir die sentrale uitvoerende gesag moontlik maak om mag te konsentreer.
- Die onvermoë of versuim van die sentrale parlement om sy toesigrol oor die sentrale uitvoerende gesag na behore te vervul.
- Die subtiele aantasting van die onafhanklikheid van die regsprekende gesag.
- Die begrensing van die onafhanklike kommunikasiemedia se vryheid.
- Die maak van dreigemente met ’n politieke strekking deur ’n militêre-veterane-vereniging.
- Die nienakoming van die sosiale kontrak deurdat agtereenvolgende regerings toegelaat het dat die staatsadministrasie en staatsbeheerde maatskappye se effektiwiteit afgeneem het.
- Die waarneembare onverdraagsaamheid en polarisasie in die samelewing.
- Die lae vlak van sosio-ekonomiese ontwikkeling soos weerspieël in die voorkoms van armoede en die Mense-ontwikkelingsindeks van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram.
- Die ongelyke verspreiding van politieke hulpbronne soos weerspieël in die Gini-koëffisiënt, die werkloosheidsyfer, die verdeling van grond en die afhanklikheid van staatstoelaes.
- Die intensivering en verbreding van die ongelyke verspreiding van politieke hulpbronne vanweë die huidige swak ekonomiese klimaat en die teenwoordigheid van ’n groeiende getal buitelanders wat die land as besoekers binnekom en dan hier bly.
- Die verskille binne die Drieparty-alliansie oor die wyse waarop aan die konsep van ’n ontwikkelingstaat ideologies beslag gegee moet word.
- Die aanvaarding van die ontwikkelingstaat-konsep deur die Drieparty-alliansie terwyl die staatsadministrasie in sy huidige vorm nie oor die vermoë beskik om sy vennootskapsrol in die ontwikkelingsproses na behore te vervul nie.
Dit word erken dat Suid-Afrika na slegs 15 jaar ’n jong demokrasie is en dat sommige van die problematiese aspekte baie moeilik uit die weg geruim sal kan word. Erkenning word ook verleen aan die feit dat die resultate wat die regering met sy ontwikkelingsinisiatiewe beoog ten einde ware demokrasie moontlik te maak, nie op kort termyn gerealiseer sal kan word nie, maar tydsverloop, investering, houdingsverandering, volharding, opleiding, beleidsverandering en die korrekte ideologiese oriëntering sal verg. Tot tyd en wyl die demokrasie in Suid-Afrika wasdom bereik, rus daar ’n plig op elke individu, elke instansie in die burgerlike samelewing en elke openbare funksionaris om tot ware begrip te kom van wat demokrasie behels, wat die eise is wat dit aan individue, samelewings en regerings stel, en wat die gevare is wat dit bedreig. Langs die weg, tesame met versnelde sosio-ekonomiese ontwikkeling, kan die Suid-Afrikaanse demokrasie uiteindelik ontwikkel tot die model-demokrasie wat talle burgers dink dit reeds is.
Bibliografie
ABC News. 2009. Dalai Lama’s refusal “sad day for Africa”. http://www.abc.net.au/news/stories/2009/03/23/2525275.htm (8 Junie 2009 geraadpleeg).
A better electoral system for South Africa? s.j. http://www.uiowa.edu/~electdis/South Africa.htm (17 Mei 2009 geraadpleeg).
African National Congress. s.j. http:www.answers.com/topic/African-national-congress (2 Junie 2009 geraadpleeg).
African News Agency. 2009. http://www.afrol.com/ (1 Junie 2009 geraadpleeg).
Alexander, G. 2005-6. Making democracy stick. Hoover Institution. http://www.hoover.org/publications/policyreview/2920346.html (9 Maart 2009 geraadpleeg).
Amnesty International Report 2008. South Africa. http://archive.amnesty.org/air2008/eng/regions/africa/south-africa.html (03 Feb. 2010 geraadpleeg).
ANC. 2007. Building a national democratic society (Strategy and tactics of the ANC). Discussion document. February 2007. http://www.anc.org.za/ancdocs/discussion/building.html (1 Mei 2009 geraadpleeg).
ANC. 2008. Address by ANC president Jacob Zuma to Age of Turbulence International Investment Conference. 24 June 2008. http://www.anc.org.za/show.php?doc=ancdocs/history/zuma/2008/jz0624.html (27 Mei 2009 geraadpleeg).
ANC. 2009. Hot topics. Address by ANC president Jacob Zuma after the formal withdrawal of charges by the Durban High Court. http://www.anc.org.za/ancdocs/speeches/2009/sp0407.html (03 Feb. 2010 geraadpleeg).
Ball A.R. 1992. Modern politics and government. Vyfde uitgawe. Londen: Macmillan Press.
Beeld. 2009. Nuwe wind waai in ANC oor korrupsie. 10 Junie. http://jv.news24.com/Beeld/Opinie/Hoofartikels/0,,3-2085-65_2528123,00.html (03 Feb 2010 geraadpleeg).
Berger, S. 2009. South Africa’s Jacob Zuma chooses new economic policy team for cabinet. http://www.telegraph.co.uk/news/worldnews/africaandindianocean/southafrica/5310439/South-Africas-Jacob-Zuma-chooses-new-economic-policy-team-for-cabinet.html (24 Mei 2009 geraadpleeg).
Blog South Africa. 2008. Umkhonto we Sizwe Military Veterans Association threatens the country. http://www.blogsouthafrica.net/?p=445&
akst_action=share-this (22 Mei 2009 geraadpleeg).
CCAS 2008. Building a stronger democracy through an educated citizenry. http://www.ccas.net/files/public/Publications/Building_a_Stronger_Democracy_Sept08.pdf (6 Mei 2009 geraadpleeg).
Constitutional Democracy. s.j. http://dictionary.reference.com/browse/constitutional democracy (16 Mei 2009 geraadpleeg).
Council of Europe. 2009. Council of Europe Parliamentary Assembly (PACE) president on world press freedom day. http://wed.coe.int/ViewDoc.jsp?id=892651&Site=COE (11 Junie 2009 geraadpleeg).
Dahl R.A. 1984. Modern political analysis. Englewood Cliffs: Prentice-Hall.
De Lange, J. 2009a. Godsell wen dalk stryd tussen krag en ras. Die Burger, 9 November 2009.
—. 2009b. As staatsdiens vou, is beleid dalk nutteloos. Rapport, 1 November 2009.
Democracy Quotes. s.j. http://en.proverbia.net/citastema.asp?tematica=313 (4 Junie 2009 geraadpleeg).
Department of Defence. 1996. White Paper on Defence. Defence in a Democracy. Mei 1996.
Developmental State. 2009. http://en.wikipedia.org/wiki/Developmental_state (4 Junie 2009 geraadpleeg).
De Vries, L. 2008. South Africa: Mantashe slated for attack on concourt. http://allafrica.com/stories/200810170046.html (24 Mei 2009 geraadpleeg).
Die Burger. 2008. 7 Oktober.
—. 2009a. Regstelaksie “rassisties”. 21 Mei.
—. 2009b. Beleid moet wel ras in ag neem. 22 Mei.
—. 2009c. Kabinet gee groen lig vir plan met grondwet. 10 April.
—. 2009d. Zille wil Zuma spreek oor wetswysigings. 24 Junie.
—. 2009e. Engels “neem oor in land”. 1 Mei.
—. 2009f. Lang pad na pronk parlement. 16 Januarie.
—. 2009g. Regering “moet onafhanklikheid van regbank verseker”. 15 Junie.
—. 2009h. President herbevestig ANC se beloftes, maar sê nog nie hóé. 4 Junie.
—. 2009i. Dienslewering. 7 Mei.
—. 2009j. 21 November.
Du Toit, P. 2009. Die ANC-bloudruk. Beeld, 10 Junie 2009. http://jv.news24.com/Beeld/In-Diepte/0,,3-67_2528122,00.html (10 Junie 2009 geraadpleeg).
Economist.com. 2009. South Africa. Dropping the charges. http://www.economist.com/world/mideast-africa/displaystory.cfm?story_id=13435586 (24 Mei 2009 geraadpleeg).
EISA. South Africa. s.j. Proportional representation: Pros and cons. http://www.eisa.org.za/WEP/sou3.htm (17 Mei 2009 geraadpleeg).
Ensor, L. 2009. Auditor-General’s “mixed bag” report. Business Day. http://allafrica.com./stories/200909110897.html (22 November 2009 geraadpleeg).
EnviroFacts. 2008. Urbanisation. http://www.bcb.uwc.ac.za/Envfacts/facts/urbanisation.htm (03 Feb 2010 geraadpleeg).
Eye On Crime. 2009. 100 000 citizens have their say over the disbandment of the Scorpions. http://www.eyeoncrime.co.za/pq=node/402 (17 Mei 2009 geraadpleeg).
Ferreira, R. 2009. “Operationalizing” human security in South Africa. Sagejournals Online. http://afs.sagepub.com/cgi/content/short/35/3/501 (17 Mei 2009 geraadpleeg).
Francis, C. 2009. Fighting talk. Is violent language a threat to democracy? The SA Civil Society Information Service. http://allafrica.com/stories/200902050656.html (24 Mei 2009 geraadpleeg).
Freebase. Archbishop Desmond Tutu, who is credited with coining the phrase “Rainbow Nation”. http://www.freebase.com/view/wikipedia/images/commons_id/48329 (27 Mei 2009 geraadpleeg).
Freedom of Expression Institute. 2008. http://www.fxi.org.za (17 September 2008 geraadpleeg).
Freedom House. 2009. Freedom in the world 2009: Freedom Retreats for Third Year http://www.freedomhouse.org/template.cfm?page=70&release=756 (03 Feb. 2010 geraadpleeg).
Gabara, N. 2009. South Africa: 42 parties to contest general election. http://allafrica.com/stories/200903030778.html (30 April 2009 geraadpleeg).
Gibson, J.L. en A. Gouws. 2002. Overcoming intolerance in South Africa. Cambridge: Cambridge University Press.
Giliomee, H. en C. Simkins. 1999. The awkward embrace: One-party domination and democracy in industrialising countries. Amsterdam: Overseas Publishers Association.
Gouws, A. 2009. Eskom en die verstaan van sekere spelreëls. Die Burger, 12 November 2009.
Govender. P. 2008. “OBE is here to stay.” http://www.theteacher.co.za/article/obe-here-to-stay (18 Desember 2009 geraadpleeg).
Gumede, V. 2008. South Africa, A developmental state. http://www.thoughtleader.co.za/vusigumede/2008/07/09/south-africa-a-developmental-state (4 Junie 2009 geraadpleeg).
Gumede, W.M. 2005. Democracy and the importance of criticism, dissent and public dialogue. Wolpe Lecture. University of KwaZulu-Natal. http://www.ukzn.ac.za/CCS/default.asp?1,22,5,698 (29 Mei 2009 geraadpleeg).
Heywood, A. 2002. Politics. Tweede uitgawe. New York: Palgrave Macmillan.
History Matters. 2009. Blade Nzimande and the way forward. http://historymatters.co.za/2009/05/10/blade-nzimande-and-the-way-forward (2 Junie 2009 geraadpleeg).
Holsti, K.J. 1995. International politics. A framework for analysis. Sewende uitgawe. Englewood Cliffs: Prentice-Hall.
Hough, M. 2008. Violent protest at local governmental level in South Africa: Revolutionary potential? Scientia Militaria. South African Journal of Military Studies. 36(1):1-13.
Hugh, B.A. 2004. Traditional leadership in South Africa: A critical evaluation of constitutional recognition of customary law and traditional leadership. http://etd.uwc.ac.za/usrfiles/modules/etd/docs/etd_init_2002_1175237042.pdf (8 Junie 2009 geraadpleeg).
Human Rights Commission. s.j. http://www.sahrc.org.za/sahrc_cms/publish/cat_index_88.shtml (17 Mei 2009 geraadpleeg).
Ibele, O. 1972. Political science. An introduction. Scranton: Chandler Publishing Company.
InfoUpdate no. 28. s.j. http://www.lawlibrary.co.za/notice/updates/2008/issue_28.htm (30 Junie 2009 geraadpleeg).
Institute for Security Studies. South African crime statistics. http://www.issafrica.org/index.php?link_id=2489link_type=128slink_type=128tmpl_id (30 April 2009 geraadpleeg).
Kane-Berman, J. 2009. SAIRR opinion: Risks of the “national democratic revolution”. http://www.sairr.org.za/press-office/archive/news_item.2009-03-19.1454039367 (2 Junie 2009 geraadpleeg).
Karim, M. 2009. Global voices. South Africa. Yet another Jacob Zuma fiasco. http://globalvoicesonline.org/2009/04/09/south-africa-yet-another-jacob-zuma-fiasco (24 Mei 2009 geraadpleeg).
Kodres, L. en A. Narain. 2009. What is to be done? Finance and development. Quarterly Magazine of the IMF. http://www.imf.org/external/pubs/ft/fandd/2009/03/kodres.htm (29 Mei 2009 geraadpleeg).
Liberal Democracy. s.j. http://www.australianpolitics.com/democracy/liberal_democracy.shtml (16 Mei 2009 geraadpleeg).
Lijphart, A. 1977. Democracy in plural societies: A comparative exploration. New Haven: Yale University Press. http://wikisum.com/w/Lijphart:_Democracy_in_plural_societies (03 Feb. 2010 geraadpleeg).
Lord Acton Quotes. s.j. http://www.quotationspage.com/quotes/Lord_Acton (14 Mei 2009 geraadpleeg).
MacGowan, P.J., S. Cornelissen en P. Nel. 2006. Power, wealth and global equity. An International Relations Textbook for Africa. Kaapstad: UCT Press.
Mazwai, T. 2009. No need to panic at SA’s developmental state. http://www.uj.ac.za/LatestNews/tabid/3962/articleType/ArticleView/articleId/863/Default.aspx (03 Feb. 2010 geraadpleeg).
Mbola, B. 2009. Registered voters to vote in April elections. http://allafrica.com/stories/200903120396.html (18 Desember 2009 geraadpleeg).
Memela, S. 2008. The state of local governance in SA. What does the Local Governance Barometer tells us? http://www.idasa.org.za/gbOutputFiles.asp?WriteContent=Y&RID=2308 (03 Feb. 2010 geraadpleeg).
Moerdyk, C. 2009. ANC backdown on SABC board doesn’t change anything. http://marketing.bizcommunity.com/Article/196/15/29255.html (24 Mei 2009 geraadpleeg).
Muhlberger, S. s.j. Chronology of modern democracy. Nipissing University for the World History of Democracy Site. The view of Samuel P. Huntington. http://www.nipissingu.ca/department/history/MUHLBERGER/HISTDEM/huntingd.htm (03 Feb. 2010 geraadpleeg).
Myburgh, J. 2009. Not the Sisulu Report (or how the ANC extended control over the SABC). http://www.ever-fasternews.com/index.php?php_action=read_article&article_id=214 (4 Mei 2009 geraadpleeg).
NationMaster. s.j. South African education statistics. http://www.nationmaster.com/country/sf-southafrica/edu-education (15 Junie 2009 geraadpleeg).
Nduru, N. 2009. Death penalty. Calls for the return of capital punishment in South Africa. http://ipsnews.net/news.asp?idnews=33527 (03 Feb. 2010 geraadpleeg).
News24.com. 2008a. SALGA defends councillors. http://www.news24.com/News24/South_Africa/Politics/0,,2-7-12_2384415,00.html (21 Mei 2009 geraadpleeg).
—. 2008b. Erasmus Commission “unlawful”. http://www.news24.com/News24/South_Africa/News/0,,2-7-1442_2386217,00.html (24 Mei 2009 geraadpleeg).
—. 2009. W. Cape “will be ungovernable”. http://www.news24.com/News24/South_Africa/Politics/0,,2-7-12_2515825,00.html (22 Mei 2009 geraadpleeg).
Participatory Democracy. s.j. http://www.allworlds.com/wordparticipatory+democracy.html (22 Junie 2009 geraadpleeg).
Pennock, J.R. en D.G. Smith. 1964. Political science. An introduction. Londen: Collier-MacMillan.
Pillay, V. 2008. SA’s press freedom under threat. http://www.news24.com/News24/South_Africa/News/0,,2-7-1442_2420336,00.html (22 Mei 2009 geraadpleeg).
Politicsweb. 2009a. How the ANC politicised the state. http://www.politicsweb.co.za/view/politicsweb/en/page71619?oid=1245498sn=Detail (24 Mei 2009 geraadpleeg).
—. 2009(b) Jacob Zuma announces cabinet choices. http://www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71619?oid=128222&sn=Detail (28 Mei 2009 geraadpleeg).
Polity.org.za. 2009. No undermining of judiciary – Motlanthe. http://www.polity.org.za/article/no-undermining-of-sa-judiciary-mothlante-2009-01-23 (24 Mei 2009 geraadpleeg).
PovertyNet. 2009. Measuring inequality. http://web.worldbank.org/WEBSITE/EXTERNAL/TOPICS/EXTPOVERTY/EXTPA/0,,contentMDK:20238991~menuPK:492138~pa (22 Junie 2009 geraadpleeg).
Ramokgoba, S. 2008. The widening gap between rich and poor in South Africa. http://www.helium.com/items/928661-the-widening-gap-between-rich-and-poor-in-South-Africa (31 Mei 2009 geraadpleeg).
Rodee, C.C., T.J. Anderson en C.Q. Christol. 1957. Introduction to political science. New York: McGraw-Hill Book Company.
Rummel, R. Power kills. s.j. Democracy as a method of non-violence. Google Book Preview. http://books.google.co.za/books?id=dyBwqI_6EOsC&dq=Democracy+as+a+method+of+ non-violence&printsec=frontcover&source=bn&hl=en&ei=J4tpS8HjJIKQjAfHh4XICQ&sa=X&oi=book_result&ct=result&resnum=4&ved=0CBQQ6AEwAw#v=onepage&q=&f=false (03 Feb. 2010 geraadpleeg).
SA Government Information. 2009. Address by the Honourable Mr Jacob Zuma on the occasion of his inauguration as fourth president of South Africa. http://www.info.gov.za/speeches/2009/09050912051001.htm (27 Mei 2009 geraadpleeg).
Schraeder, P.J. 2004. African Politics and Society. A Mosaic in Transformation. Tweede uitgawe. Belmont: Wadsworth/Thomson.
Scheiner, Ethan. s.j. Democracy without competition in Japan. Opposition failure in a one-party dominant state http://books.google.co.za/books?id=kTsA4k1IMCsC&printsec=frontcover&dq=Democracy+without+competition+in+Japan.+Opposition+failure+in+a+one-party+dominant+state&source=bl&ots=O1srOztGK1&sig=_hbebsDdr1l5YOfxlIrc10VUvCk&hl=en&ei=vYtpS-2cMMbKjAeqiZ2xCQ
&sa=X&oi=book_result&ct=result&resnum=1&ved=0CAcQ6AEwAA#v=onepage&q=&f=false (03 Feb 2010 geraadpleeg).
Schwabe, C. 2008. Fact sheet: Poverty in South Africa. http://www.sarpn.org.za/documents/d0000990/ (1 Junie 2009 geraadpleeg).
Social Democracy. 2001. The Canadian Encyclopedia. 2001. http://www.thecanadianencyclopedia.com/index.cfm?PgNm=TCE&Params=A1ARTA0007520 (03 Feb 2010 geraadpleeg).
Solomon, H. 2000. Contemplating the impact of illegal immigration on the Republic of South Africa. Centre for International Political Studies, University of Pretoria. http://www.queensu.ca/samp/sampresources/migrationdocuments/documents/2000/solomon.htm (03 Feb 2010 geraadpleeg).
South Africa. 2009a. The good news. Floor-crossing to be abolished. http://www.sagoodnews.co.za/politics/floor-crossing_to_be_abolished.html (17 Mei 2009 geraadpleeg).
—. 2009b. The good news. Raised grant threshold to help more of SA’s poor. http://www.sagoodnews.co.za/social_development/raised_grant_threshold_to_help_more_of_sas_poor.html (29 Mei 2009 geraadpleeg).
SouthAfrica.info. 2009a. Gateway to the nation. South Africa’s political parties. http://www.southafrica.info/about/democracy/polparties.htm (30 Junie 2009 geraadpleeg).
—. 2009b. Gateway to the Nation. http://www.southafrica.info/about/government (27 Mei 2009 geraadpleeg).
—. 2009c. Gateway to the Nation. Fair price for land reform. http://www.southafrica.info/business/economy/policies/landreform-policy.htm (11 Junie 2009 geraadpleeg).
South African Government Information. 2009. Statement by President Jacob Zuma on the appointment of the new cabinet. http://www.info.gov.za/events/2009/new_cabinet.htm (24 Mei 2009 geraadpleeg).
Southall, R. 2004. Post-election South Africa: The continuing case for electoral reform http://www.sabinet.co.za./abstracts/eisa_jae/eisa_jae_v3_n2_a8.xml (14 Mei 2009 geraadpleeg).
Statistics South Africa. 2007. Statistical release P0301. Community Survey, 2007 (Revised Version). 24 Oktober 2007.
Styan, J., A. Visser en J.M. de Waal. 2009. Bestuurlose staatsinstellings laat kollig weer op hul direksies val. Die Burger, 13 November 2009.
The Real ANC Today. 2008. Beyond the will of mortal men. http://realanctoday.wordpress.com/2008/06/27/beyond-the-will-of-mortal-men (24 Mei 2009 geraadpleeg).
The Right Perspective. 2009. South Africa’s failed educational outcomes get political. http://www.therightperspective.org/2009/01/04/sa-failed-education-outcomes-get-political/ (03 Feb 2010 geraadpleeg).
The Right to Health Care … Now! s.j. Relation of the “Right to health care” to being a functional democracy. http://www.righttohealthcare.org/Democracy.htm (6 Mei 2009 geraadpleeg).
The Times. 8 May 2009. http://www.thetimes.co.za/News/Article.aspx?id=993070 (8 Mei 2009 geraadpleeg).
Transparency International. 2008. The 2008 Transparency International Corruption Perception Index. The most and least corrupt nations. http://www.infoplease.com/world/statistics/2008
-transparency-international-corruption-perceptions.html (03 Feb 2010 geraadpleeg).
Trollip, A. en L. Mazibuko. 2009. How SA is really performing – DA. Politicsweb. http://www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71619?oid=150621&su=Marketingweb+detail (21 November 2009 geraadpleeg).
UASA. 2009. The 8th South African Employment Report. http://www.uasa.co.za/reports/EmpReportNo8.pdf (03 Feb 2010 geraadpleeg).
United Nations Human Development Program (UNHDP). s.j. Human Development Reports. http://hdrstats.undp.org/countries/country-fact-sheets/cty_fs_ZAF.html (7 Oktober 2008 geraadpleeg).
Valdehueza, G.D.E. 2009. The Economic System. http://www.slideshare.net/gar_dev/the-economic-system (21 Mei 2009 geraadpleeg).
Wikinews. 2009. South Africa sets deadline in land transfer scheme. http://en.wikinews.org/wiki/South_Africa_sets_deadline_in_land_transfer_scheme (27 Mei 2009 geraadpleeg).
wuertzburg.de 2009. http://www.politikwissenshaft.uni.wuertzburg.de/fileadmin/EXT00182/Call _for_Papers_Berlin_2008.pdf (25 Mei 2009 geraadpleeg).
Kommentaar
Goeiedag
Graag wil ons weet wie spreek die plaasmoorde en aanvalle aan in die DA? Ek glo u is bewus van alles wat net nie aandag kry vanaf regeringsvlak nie. Kyk op die net van al die moorde en hulp wat gevra word. Asb, sê ons, is almal se hande gebind in die geval?
Mense gee op. Doen asb iets. Groete San Stols.