Navorser Chris Nelson noem in sy LitNet Akademies-artikel “Voldoen eietydse Suid-Afrika aan die vereistes vir die inwerkingstelling van ’n ontwikkelingstaatstrategie?” dat Suid-Afrika die besluit geneem het om ’n ontwikkelingstaatstrategie te implementeer met die oog op vinnige ekonomiese ontwikkeling.
Menán van Heerden het met hom gesels oor die haalbaarheid van so ’n strategie in die huidige klimaat van korrupsie, die hoë werkloosheidsyfer, die lae groeikoers, gebreke in die opvoedkundige stelsel, ens.
Hoe definieer jy Suid-Afrika as ’n ontwikkelingstaat / ontwikkelende staat?
Suid-Afrika is nie ’n ontwikkelingstaat nie. Die betrokke konsep word soms onnadenkend deur navorsers gebruik. Ontwikkelingstaat impliseer ’n besondere staatstipe wat Suid-Afrika, of enige ander staat, nie is nie. Suid-Afrika is ’n konstitusionele demokrasie (regstaat). Voorts is dit ’n republiek met federale en unitêre eienskappe en ’n hibriede stelsel van uitvoerende gesag wat parlementêre sowel as presidensiële elemente bevat.
Suid-Afrika is wel ’n ontwikkelende staat, ook soms genoem ’n minder ontwikkelde staat of ’n onderontwikkelde staat. Dit beteken dat Suid-Afrika wel ’n soewereine onafhanklike staat is, maar, relatief tot ander state, gekenmerk word deur ’n lae vlak van nywerheidsontwikkeling en ’n mediumvlak op die Mense-ontwikkelingsindeks (MOI). Hierdie indeks is deur die Verenigde Nasies Ontwikkelingsprogram ontwikkel en meet die maatskaplike en ekonomiese ontwikkelingsvlakke van state veral ten opsigte van opvoedingsvlak, lewensverwagting en bruto nasionale inkomste per kapita. Tans beklee Suid-Afrika die 119de posisie uit 168 state op hierdie indeks. Om op te som: Suid-Afrika is nie ’n ontwikkelingstaat nie, maar wel ’n ontwikkelende staat.
Wat behels ’n ontwikkelingstaatstrategie en kan dit sosio-ekonomiese transformasie bewerkstellig?
Die konsep ontwikkelingstaatmodel of ontwikkelingstaatstrategie is deur die Amerikaanse wetenskaplike Chalmers Johnson (1931–2010) geskep om die snelle en radikale ekonomiese groei wat Japan in die vorige eeu beleef het, te beskryf en te verduidelik. Die fundamentele uitgangspunt wat sodanige model of strategie ten grondslag lê, is dat die sosio-ekonomiese ontwikkeling van ontwikkelende samelewings teen ’n snelle tempo en op ’n inklusiewe wyse kan geskied wanneer die staat oor uitgebreide mag beskik nie alleen om die ekonomiese, politieke en maatskaplike lewe te beïnvloed nie, maar ook om die rigting van ontwikkeling te bepaal.
Alhoewel ’n ontwikkelingstaatstrategie wel staatsinmenging in die ekonomie impliseer, beteken dit nie outoritarisme, sosialisme of die afwesigheid van ekonomiese liberalisme nie. Inteendeel, hoe belangrik en noodsaaklik staatsbetrokkenheid deur die staat ook al geag word om ekonomiese groei te bewerkstellig en sodoende die lewenstandaard van die armste gedeeltes van die samelewing te verbeter, moet hierdie inmenging geskied binne die raamwerk van ’n demokratiese politieke bestel en ’n kapitalistiese ekonomiese stelsel. Dit is bekend dat waar ook al outoritêre en sosialistiese eksperimente in die wêreld toegepas is, daardie eksperimente misluk het of tans in die proses van verval is. Sommige navorsers plaas ’n ontwikkelingstaatstrategie halfweg tussen ’n liberale ope ekonomie en ’n sentraal-beplande ekonomie, terwyl ander hierdie strategie beskou as ’n vennootskap tussen die staat en die hoof ekonomiese belangegroepe, hoofsaaklik die georganiseerde grootsakesektor en georganiseerde arbeid.
Die aanvaarding van ’n ontwikkelingstaatstrategie het inderdaad in talle state snelle en radikale sosio-ekonomiese transformasie bewerkstellig. Waarskynlik die beste eietydse voorbeeld is die Volksrepubliek van China (VRC). Sedert die VRC in 1978 sosialisme laat vaar en in die plek daarvan ’n kapitalisties-gebaseerde ontwikkelingstaatstrategie aanvaar het, het die ekonomie gemiddeld met 10 persent per jaar gegroei – die vinnigste tempo deur ’n groot ekonomie in die geskiedenis. Hierdie besondere groeistrategie het daartoe bygedra dat die VRC binne ’n relatief kort tydsverloop meer as 800 miljoen van sy 1,3 miljard burgers van die juk van armoede verlos het; reeds teen 2015 die VN se Millennium-ontwikkelingsdoelwitte bereik het; tans die tweede grootste ekonomie ter wêreld is; oor ’n middelklas beskik wat groter as die VSA se bevolking is; en sedert die globale finansiële krisis van 2008 die belangrikste en mees invloedryke rol in die ontwikkeling van die globale ekonomie gespeel het.
Ongeveer 17 miljoen Suid-Afrikaners is afhanklik van maatskaplike toelaes. In watter mate dra hierdie toelaes by tot sosio-ekonomiese transformasie en is ’n maatskaplikewelsynstelsel volhoubaar?
Dit is bekend dat Suid-Afrika een van die state in die internasionale stelsel is met die grootste inkomste-ongelykheid. Volgens die Gini-indeks, wat inkomste-ongelykheid in state meet, beklee Suid-Afrika die tweede plek uit 145 state. Tien persent van die bevolking verdien tussen 55 en 60 persent van alle inkomste vergeleke met slegs 20 tot 35 persent in die ontwikkelde state. Wanneer ondersoek ingestel word na die vlak van rykdom, kom selfs ’n meer somber prentjie na vore. Wat hierdie aspek aanbetref, word dit bereken dat 10 persent van die Suid-Afrikaanse bevolking ongeveer 90 tot 95 persent van alle bates besit. Hierdie syfer is beduidend hoër as in die ontwikkelde state, waar die rykste 10 persent “slegs” 50 tot 75 persent van alle bates besit.
Teen hierdie agtergrond is dit nie vreemd dat in eietydse Suid-Afrika ’n hoë vlak van staatsbesteding aan maatskaplike programme aan die orde van die dag is nie. Tans word bykans 63 persent van staatsbesteding aan maatskaplike dienste toegewys. Dit is ’n dramatiese toename vanaf die 49 persent wat ’n dekade gelede aan sodanige programme bestee is. Met spesifieke verwysing na maatskaplike toelaes is dit bekend dat bykans 17 miljoen Suid-Afrikaners tans daarby baat vind. Dié getal verteenwoordig ongeveer 31 persent van die totale bevolking en is ’n dramatiese styging vanaf die ongeveer 13 persent van die bevolking wat sodanige toelaes in 2003 ontvang het.
Daar bestaan geen twyfel dat die regering se maatskaplikehulpprogram ’n beduidende en betekenisvolle bydrae tot sosio-ekonomiese transformasie lewer nie. Sonder hierdie program sou miljoene Suid-Afrikaners tot uiterste armoede gedoem wees. Gegewe hierdie feit is die maatskaplikehulpprogram vir die regering ononderhandelbaar. Die regering verkeer dus nie alleen onder die morele verpligting om wydverspreide armoede en ongelykheid in die samelewing te bekamp nie, maar hierdie program lewer ook ’n bydrae om ’n ekonomiese ineenstorting in veral die plattelandse gebiede van Suid-Afrika te voorkom. Die feit dat hierdie maatskaplike program beduidende politieke dividende vir die regerende party oplewer, is uiteraard voor die hand liggend. Die hoof uitvoerende beampte van die SAIRV, Frans Cronjè, het gedurende 2015 selfs die bewering gemaak dat die ANC-regering armoede nodig het om polities te oorleef.
Dit moet beklemtoon word dat die sakesektor egter ernstige bedenkinge oor die omvang van die maatskaplike toelaes in die besonder uitgespreek het, omdat dit op medium- en lang termyn nie as volhoubaar beskou word nie. Volgens Sanlam is die volhoubaarheid van hierdie toelaes problematies, aangesien daar bykans vier keer meer ontvangers van sodanige toelaes is as belastingbetalers. Nog ander sakeleiers is die mening toegedaan dat hierdie vlak van maatskaplike besteding slegs onder omstandighede van beduidende ekonomiese groei, soos in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP 2030) in die vooruitsig gestel word, volhoubaar is. Tans is dit nie die geval nie, aangesien die groeikoers minder as een persent beloop, met die vooruitsig van voortgesette stagnasie.
In jou artikel bespreek jy vereistes waaraan eietydse Suid-Afrika nié voldoen vir die inwerkingstelling van ’n ontwikkelingstaatstrategie nie. Hoe belangrik is verantwoordbaarheid van die regering rakende die implementering van ’n ontwikkelingstaatstrategie?
In ’n vorige artikel wat gedurende Desember 2014 in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) gepubliseer is, getiteld “Die Suid-Afrikaanse regstaat na twintig jaar: gekonsolideer of besig om in outoritarisme te verval?”, is die beginsel vermeld dat in enige konstitusionele demokrasie (regstaat) alle regeringsoptrede meetbaar, berekenbaar, deursigtig, voorspelbaar en verantwoordbaar moet wees. Verder is aangetoon dat uitvoerendegesagsuitoefening in sodanige state gebaseer moet wees op die beginsels van moraliteit, rasionaliteit, billikheid, integriteit en geregtigheid. In die betrokke artikel is tot die gevolgtrekking gekom dat die Suid-Afrikaanse regstaat in terme van hierdie beginsel nie as gekonsolideer beskou kan word nie en dat daar duidelik tekens te bespeur is dat uitvoerendegesagsuitoefening Suid-Afrika inderdaad in die rigting van outoritarisme stuur.
Teen bogemelde agtergrond beskou is dit onwaarskynlik dat ’n ontwikkelingstaatstrategie in Suid-Afrika met enige hoop op sukses in werking gestel sal kan word. Die huidige regering is duidelik nie verbind tot meetbare, berekenbare, deursigtige, voorspelbare en verantwoordbare gesagsuitoefening nie. Verder is dit duidelik dat die huidige regering in sy gesagsuitoefening ook nie ten volle verbind is tot die toepassing van die beginsels van moraliteit, rasionaliteit, billikheid, integriteit en geregtigheid nie.
Die volgende voorbeelde dien ter illustrasie:
-
Die vestiging van ’n persoonlike heersersnetwerk (patronaatnetwerk) deur die President op alle vlakke van regering en die staatsbeheerde ondernemings.
-
Korrupsie deur veral die “patronaatpolitici” wat nou met die President geassosieer is in die vorm van persoonlike verryking (“rent-seeking”), staatsplundering en die sanksionering van staatskaping deur sakeondernemings wat op gewetenlose winsbejag ingestel is.
-
Kaderontplooiing in die staatsburokrasie en staatsbeheerde ondernemings met politiekemagskonsolidasie en die bevordering van eiebelang as primêre oorwegings.
-
Die eliminasie van daardie politieke leiers wat dit durf waag om voormelde korrupte praktyke teen te staan. Tekenend hiervan is die onlangse afdanking deur die President van die nasionaal en internasionaal gerespekteerde minister van finansies, Pravin Gordhan, sowel as die adjunkminister van finansies, Mcebesi Jonas, op uiters twyfelagtige gronde en onder raaiselagtige omstandighede.
-
Die “dissiplinering” deur die President van adjunkpresident Cyril Ramaphosa, asook die sekretaris-generaal van die ANC en die tesourier-generaal van die ANC ná hul kritiese kommentaar oor die arbitrêre kabinetsherskommeling deur die President.
-
Die voortgesette subsidiëring van honderde ondoeltreffende en disfunksionele staatsbeheerde ondernemings omdat hierdie instellings ’n ideale omgewing skep waar ’n verskeidenheid korrupte praktyke relatief ongehinderd toegepas kan word. Regeringswaarborge aan hierdie ondernemings beloop tans ongeveer R467 miljard.
-
Die begrensing van ekonomiese vryheid deur die regering by wyse van onbuigsame arbeidsregulasies en ’n ondoeltreffende regulerende raamwerk.
-
Die doelbewuste gebruik deur die President en sy ondersteuners van opruiende propagandistiese slagspreuke en doktrines soos “radikale ekonomiese transformasie”, “blanke monopoliekapitaal”, “interne kolonialisme” (“colonialism of a special type”), “nasionale demokratiese revolusie”, “onteiening sonder vergoeding” en “terugneem van gesteelde grond”. Hierdie slagspreuke en doktrines word doelbewus en berekend versprei ten einde bepaalde sektore, klasse, groeperings, bewegings of instellings te benadeel en ander te bevoordeel of hul onvoorwaardelike steun te verkry.
Die afwyking deur die huidige regering van die beginsel van meetbare, berekenbare, deursigtige, voorspelbare en verantwoordbare gesagsuitoefening was primêr daarvoor verantwoordelik dat Suid-Afrika onlangs deur twee van die wêreld se leidende kredietgraderingsagentskappe tot rommelstatus afgegradeer is.
Hoe skiet die effektiwiteit van die land se opvoedkundige stelsel tekort om ’n ontwikkelingstaatstrategie te aktiveer?
Die inwerkingstelling van ’n ontwikkelingstaatstrategie in Suid-Afrika, soos vergestalt in die NOP 2030, word in velerlei opsigte deur gebreke in die opvoedkundige stelsel gekortwiek. Die enkele grootste gebrek is die openbareskoolstelsel. Navorsers beweer dat 80 persent van die bykans 24 000 openbare skole as disfunksioneel beskou kan word. Die direkte gevolg is dat uit 10 leerders wat in enige gegewe jaar vir graad 1 registreer, slegs vyf matriek sal bereik, drie matriek sal slaag en slegs een matriek sal slaag met ’n slaagsyfer van meer as 50 persent in wiskunde.
Volgens navorsers is die volgende faktore verantwoordelik vir hierdie sorgwekkende toestand in die openbareskoolstelsel:
-
Leerders se gebrekkige lees-, skryf- en syfervaardighede.
-
Onderwysers se gebrekkige pedagogiese vermoëns en lae kennisvlakke.
-
Aanwending van bronne sonder verantwoording en deursigtigheid.
-
Onvoldoende organisatoriese steun aan onderwysers.
-
Voortdurende veranderings aan die onderwyskurrikulum.
-
Onvermoë van die onderwysdepartemente om kernverantwoordelikhede na te kom.
-
Afwesigheid van ’n leeskultuur by leerders.
-
Onvermoë van gemeenskappe en families om leerders te inspireer en te motiveer.
-
Gebrekkige dissipline aan die kant van onderwysers en onvermoë om die basiese funksies van onderrig te verrig.
-
’n Leerder-onderwyser-verhouding gelykstaande aan meer as dubbel die verhouding in onafhanklike skole.
-
Die magspel tussen ’n oënskynlik magtige onderwysvakbond, naamlik die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) en die staat.
-
Gebrekkige fasiliteite, infrastruktuur en leermateriaal.
-
Wydverspreide armoede, hongersnood en ongeletterdheid in die geledere van die ouers van leerders.
Wat hoër onderwys betref, is navorsers minder krities ingestel as teenoor basiese onderwys. Sonder uitsondering wys almal daarop dat Suid-Afrika inderdaad oor ’n lewenskragtige hoëronderwyssektor beskik wat uit 23 staatsondersteunde universiteite bestaan: 11 universiteite, ses universiteite van tegnologie en ses omvattende hoër opvoedkundige instellings (die samevoeging van klein universiteite en technikons). Verder word twee nuwe instellings vir hoër onderwys in onderskeidelik die Noord-Kaap en Mpumalanga gevestig. Talle Suid-Afrikaanse universiteite is toonaangewende instellings wat wêreldwyd gerespekteer word vir die gehalte van onderrig, navorsing en diens aan die samelewing. Benewens die staatsondersteunde universiteite word hoër onderwys ook deur meer as 100 onafhanklike instellings aangebied.
Alhoewel die hoëronderwysstelsel in Suid-Afrika vermelding verdien vir die voortreflike aard daarvan, is dit belangrik om te meld dat hierdie stelsel wel met ernstige vraagstukke te kampe het wat die inwerkingstelling van ’n ontwikkelingstaat bemoeilik. Die volgende is van die vernaamste tekortkominge:
-
Die verstoppings in die hoëronderwyspyplyn wat veroorsaak word deur die lae persentasie studente in die skoolstelsel wat universiteitstoelating ontvang (slegs 28,3% in 2015) asook die swak prestasie in wiskunde en wetenskap.
-
Die hoë druipsyfer onder eerstejaarstudente. Gedurende 2013 het meer as die helfte van hierdie groep studente gedruip of hul studie gestaak.
-
Die beperkte aantal kundiges in die bestuurs- en professionele beroepe wat jaarliks deur die universitêre instellings tot die arbeidsmag gevoeg word. In 2010 het die stelsel slegs 153 741 kwalifikasies op alle vlakke toegeken. Hiervan was 74 612 kwalifikasies in die geestes- en sosiale wetenskappe, 41 724 in die handels- en bestuurswetenskappe, en 37 405 in wetenskaps- en tegnologiese rigtings.
-
Die afname in die getalle van doktorale studente.
-
Die politieke eise om die korps van akademici verteenwoordigend van die bevolkingsamestelling te maak, terwyl genoeg potensiële kandidate nie plaaslik beskikbaar is nie.
-
Die ideologies-geïnspireerde eise om die hoëronderwysstelsel te “dekoloniseer” en te “Afrikaniseer”.
-
Die eise van ’n gedeelte van die studentekorps om gratis “hoëgehalte-onderrig” te ontvang en eise te stel rakende die lewens- en woonomstandighede op kampusse. In etlike gevalle gaan die eise deur hierdie studente gepaard met geweld.
-
Die beperkte staatsbesteding aan tersiêre opvoeding. In 2014 is slegs 0,75% van die BNP aan hoër onderwys bestee. Verder het dit op daardie stadium ’n dalende neiging getoon. Besteding het inderdaad gedaal van 49% in 2000 tot 40% in 2014. As gevolg van hierdie daling was universiteite genoodsaak om onderriggelde as persentasie van inkomste te verhoog van 24% in 2000 tot 35% in 2014.
Binne die konteks van ’n lae groeikoers en ’n hoë werkloosheidsyfer, voel jy dat die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP 2030) doeltreffend geïmplementeer word?
As in gedagte gehou word dat die NOP 2030 beoog om die bestaande ekonomiese en maatskaplike orde in Suid-Afrika teen 2030 radikaal te verander deur 11 miljoen nuwe werksgeleenthede te skep en ’n jaarlikse groei in BBP van 5,4% te bereik, dui die huidige lae groeikoers en hoë werkloosheidsyfer (so hoog soos 35 persent en selfs hoër in die geval van jeugdiges) daarop dat die plan nie doeltreffend in werking gestel kan word nie. Dit is wel waar dat die huidige adjunkpresident, Cyril Ramaphosa, deel gehad het aan die opstelling van die NOP 2030 en dat die minister vir beplanning, monitering en evaluering in die presidensie, Jeff Radebe, in 2014 ’n omvattende raamwerk vir die inwerkingstelling van die NOP 2030 bekendgestel het. Volgens hierdie raamwerk sal die NOP 2030 by wyse van drie vyfjaarplanne ten uitvoer gebring word. Gedurende die eerste vyfjaarplan wat vanaf 2014 tot 2019 strek, is die prioritiseringsraamwerk in die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk (MSR) uiteengesit. Hierdie raamwerk omsluit die 14 prioriteitsdoelwitte soos in die NOP 2030 vervat, asook die aksieplanne ter realisering daarvan. Teikens wat in ander ontwikkelingsplanne deur die regering gestel is, soos die New Growth Path, die Nasionale Infrastruktuurplan, die Nywerheidsbeleidsaksieplan en die Negepuntplan, sal met die MSR geïntegreer word.
Alhoewel die verwagting geskep is dat die MSR die begin van ’n nuwe fase in die inwerkingstelling van ’n ontwikkelingstaatstrategie in Suid-Afrika is, is nie alle waarnemers oortuig dat die regering beduidende sukses daarmee sal behaal nie. Die politieke leierskap is, soos reeds genoem, nie prestasiegedrewe en ontwikkelingsgeoriënteerd nie. Boonop word die President en die meerderheid kabinetslede aangevuur deur ’n verskeidenheid agendas wat primêr op die bevordering van eiebelang gerig is en weinig met die bevordering van die samelewing se belange te make het.
Watter rol speel die informele sektor en klein- en mediumsakeondernemings in die ekonomie (in vergelyking met makro-ekonomiese programme soos die NOP 2030)?
Terwyl dit ’n bewese feit is dat die grootsakesektor ’n beduidende en betekenisvolle rol in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse ekonomie speel, kan die rol van die informele en die klein-, medium- en mikrosakeondernemings (SMME’s) nie geringgeskat word nie. Die Bankvereniging van Suid-Afrika identifiseer dan ook heel tereg hierdie ondernemings as uiters belangrike drywers van inklusiewe ekonomiese groei en ontwikkeling. Volgens hierdie vereniging vorm SMME’s 91 persent van alle ondernemings; verskaf werk aan ongeveer 60 persent van die arbeidsmag; en is hul ekonomiese uitset verantwoordelik vir ongeveer 34 persent van die BBP.
Wat getalle aanbetref wys die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) daarop dat daar in Suid-Afrika in 2015 ongeveer 2 251 821 van hierdie tipe ondernemings bestaan het. Hiervan was 667 433 formele ondernemings en 1 497 860 informele ondernemings. ’n Belangrike onderskeid word tussen die formele en informele SMME’s getref. Die formele instellings is hoofsaaklik blank, terwyl die informele instellings hoofsaaklik swart is.
Benewens staatsbetrokkenheid (bv staatsbeheerde ondernemings), watter rol speel maatskaplike vennote soos die burgerlike samelewing en ander om ekonomiese groei te bewerkstellig?
Die bydrae wat organisasies sonder winsbejag (NPO’s) in die burgerlike samelewing op die terrein van sosio-ekonomiese ontwikkeling lewer, is beduidend en is besig om toe te neem. Volgens die departement van maatskaplike ontwikkeling was daar aan die einde van 2015 in Suid-Afrika 136 453 geregistreerde niewinsgewende instellings. Dit verteenwoordig ’n toename van bykans 17 persent vanaf die vorige jaar. Die meeste instellings is in Gauteng geregistreer (32 persent), gevolg deur KwaZulu-Natal (19 persent), Limpopo (10 persent), die Wes-Kaap (10 persent) en die Noord-Kaap (2 persent).
Die meeste van hierdie instellings funksioneer op die terrein van maatskaplikehulpverlening (40 persent), gevolg deur ontwikkeling en behuising (21 persent), die godsdienssektor (12 persent), die gesondheidsektor (9 persent), en die opvoedkundige en navorsingsektor (7 persent).
Waarom is die kapitalistiese model en ’n demokratiese politieke bestel die grondslag vir ’n ontwikkelingstaatstrategie?
Soos reeds gemeld, het die moderne geskiedenis onweerlegbaar bewys dat oral waar outoritêre en sosialistiese eksperimente toegepas is, daardie eksperimente misluk het of tans in die proses van verval is. Enkele voorbeelde waarna in hierdie verband verwys kan word, is die voormalige Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke (USSR) en sy satellietstate, die VRC gedurende die sosialistiese era, Kuba en Venezuela. Dat ’n kapitalisties-gebaseerde ontwikkelingstaatstrategie inderdaad radikale ekonomiese transformasie kan bewerkstellig, soos deur president Zuma verlang, spreek duidelik uit die dramatiese ontwikkeling wat in die VRC en ander Asiatiese en Suidoos-Asiatiese state die afgelope dekades plaasgevind het.
Hou bogenoemde model verband met neoliberalisme? Waarom / waarom nie?
Die besondere kapitalistiese model wat aan die wortel van ’n ontwikkelingstaatstrategie lê, verskil van neoliberalisme, veral as gevolg van laasgemelde se beklemtoning van maksimale privatisering van staatseiendom, maksimale privaatbesit van alle produksiemiddele, maksimale deregulering, en ’n uiters beperkte rol vir die staat, deurdat by eersgenoemde wel ’n beduidende rol in die ekonomie aan die staat toegeken word.
Volgens die Amerikaanse navorser Meredith Jung-En Woo impliseer ’n ontwikkelingstaatstrategie ’n plan-rasionele kapitalistiese staat wat privaatbesit met staatsleiding vermeng en integreer. Die uitgangspunt wat hierdie besondere beskouing van ’n ontwikkelingstaatstrategie ten grondslag lê, is dat daar ’n onderling voordelige verhouding tussen die politieke elite en staatsburokrate aan die een kant en die niestaatlike entrepreneurs en werkers aan die ander kant geskep word en wel op sodanige wyse dat die een nie die ander oorheers nie. Eietydse Suid-Afrika het ’n groot gebrek aan hierdie besondere verhouding.
Binne die konteks van rassespanninge in mediadebatte, hoe belangrik is samelewingsamehorigheid as ’n vereiste vir die inwerkingstelling van ’n ontwikkelingstaatstrategie?
Die gebrek aan samelewingsamehorigheid het die potensiaal om nie alleen die inwerkingstelling van die ontwikkelingstaatstrategie waartoe Suid-Afrika homself in 2012 verbind het, te kelder nie, maar ook die regstaat wat in 1994, na dekades van pyn, lyding, smart en sinlose bloedvergieting gevestig is, te ondermyn. Gegewe hierdie realiteit verkeer die politieke leierskap en alle ander leiers in die Suid-Afrikaanse samelewing onder die verpligting om ’n nasionale konvensie, soortgelyk aan die destydse Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa), te belê waartydens alle deelnemers hulself opnuut kollektief kan verbind tot die sluiting van ’n nuwe sosiale kontrak. Tydens hierdie konvensie kan besin word oor die inwerkingstelling van ’n ontwikkelingstaatstrategie waarin die bestaande “ekonomiese koek” vergroot kan word tot die voordeel van alle Suid-Afrikaners pleks daarvan dat die bestaande ekonomiese koek bloot verdeel word in die belang van enkeles.