.......
Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met aktuele sake.
Wie is Afrikaans rock in 2020?
Gaan terug in tyd en lees ook Martina Viljoen se 2011-ontleding van Jack Parow se “Cooler as ekke” as ’n konstruksie van “’n weergawe van Afrikaner-identiteit ... wat vashou aan oorbekende, alledaagse simbole van die ‘zef’ Afrikaanse lewe.”
.......
Die stowwerige show tot nadenke
Tydens die jaarlikse Woordfees op Stellenbosch staan ek sonder ’n kaartjie in die agterstewe van ’n rysende, siedende skare jongmense.
Dit is die Dagdrome in die Boland-jeugfees (hoewel ek vermoed “jeugfees” sou meer gepas wees as benaming vir die Voortrekkermonument-openingsdag se afterparty in die 1940’s), ’n samedreuning van alternatiewe-Afrikaanse-musiek-kunstenaars wat die jonges teen ’n billike studenteprys – R100 vir sowat 10 bekende rockers en rappers – weglok van die gewone watergate en middedorp, sodat die beskaafde ouer generasie nie snags tussen dronk studente heen moet navigeer na afloop van ’n Woordfees-vertoning by die Adam Small-teater of elders nie.
Andersins is dit seker ook ’n reaksie op die jare lange gekla dat die Woordfees om verskeie redes nie toeganklik is vir jongmense nie. Die Dagdrome in die Boland-fees funksioneer byna soos Netwerk24 se Die student-meningsblad: ’n crèche waar die jonges kan raas en blaas terwyl die grootmense op die hoofblaaie kan speel en verguis.
Ek het per ongeluk op die feesterrein beland. Ek is met die aankoms na die toegangshekke aan die oorkant van die Van der Stel-sportgronde heengewys en ek verdwaal toe deur ’n oop skarebeheerskans tot onder Francois van Coke se neus, sonder om ’n sent te betaal.
Van hier het ek die smorgasbord van Afrikaanse alternatiewe musiek staan en geniet terwyl ek ook die skare dophou. Dit was opvallend hoe die gemiddelde ouderdom, gemeet vanaf die voorste voetsoldate teen die verhoogblad tot die brullende skare se verste buitewyke, stelselmatig afneem. Die randeiers, gewapen met duurder drank en ’n verskeidenheid e-sigarette en vapes, is seker in hul laat 30’s tot vroeë 40’s. Daar is jillende kleuters wat om hul voete maal en om hul pa’s se nekke swaai. Om my rond is ons klomp middelkinders, tussen middel-20’s en vroeë tot middel-30’s, belas met ’n eerste werk, nagraadse studie en beslis almal virgins vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. En dan, tot teen die verhoog is die voorgraadses: Almal energiek en jonk in die 20’s of nog op skool. Daaruit peul die spulse geur van dagga, jenewer, Marlboro Blue Beyond en sweet.
Saam met hierdie organiese ouderdomsverdeling skuif ook die gewildste liedere en strydkrete. Byna soos die klankman in sy hok die knoppe draai om die luidsprekers tussen songs te balanseer, so spring die saamsingery tussen die generasies heen. Karakters uit die 2010’s se Fokofpolisiekar, Van Coke Kartel, Die Heuwels Fantasties en AKing word een na die ander deur die verhoogmeester, Francois van Coke, vorentoe geroep vir ’n duo, wat die agterkant van die skare laat dreun, terwyl die jongstes nog hap-hap na lirieke wat hulle met die tyd ontwyk het. Arno Carstens bederf ons met die Nudies se treffer “Blue Eyes”. Die lied is ’n persoonlike gunsteling en ek sing luidkeels saam, terwyl my vriende sukkel om die liedjie te identifiseer. Agter my sing die 40-somethings darem nostalgies saam, terwyl die eerstejaarsgroepie voor my Shazam aanskakel.
Teen die laaste paar items is daar ’n hygende gesmeek voor by die verhoog.
“Hulle skree ‘Danie! Danie! Danie!’,” verduidelik ek aan iemand wat vra. Francois paai die volk soos ’n pa wat sy kind ’n bederfie belowe het.
Toe verskyn Afrikaans se troebadoer op die verhoog.
Hy glimlag skitterwit en slaan sy hande op sy heupe terwyl hy vir ’n oomblik verblyd en verbaas na die begerige grypendes teen die tralies staar. ’n Ruising styg om my heen; jong meisiestemme skree uitbundig. Dit is die Wolwemanie, ’n kulturele nakomeling van Beatlemania en op Afrikaanse bodem gebrou.
Agter my het dit wel stiller geword. ’n Paartjie agter my het nog geen plooie of grysbaarde nie, maar hulle gaan sit glimlaggend op kampstoele en voer hul kindertjies slaptjips. In hul oë draai nie die skitterende spronge en gladde musiek van Afrikaans se troebadoer en sy Wolwe nie, maar eerder mistige, rokerige gedagtes aan daardie klipharde Kaapse voorstedelike nagte vol “punk en plesierigheid” van ’n dekade tevore.
Wie is Afrikaanse rock?
Selfs voor die stowwerige show het ek gewonder oor die geskiedenis van Afrikaanse rock, en wat ’n besinning daaroor ’n mens kan leer oor die jong Afrikanerpsige. Afrikaanse rock het vir seker nie alleenlik Afrikaner-volgelinge nie, maar wat dié taalgenre binne rock betref, is dit veilig om te sê dat Afrikaanse rock deur Afrikaner-Afrikaanssprekendes oorheers word en selfs tot taalgenre geskep is. Indien jy na Afrikaanse rock oor die jare luister, sal jy hoor dat daar vanuit ’n unieke Afrikaner-posisionaliteit gesing word.
Dit is baie moeiliker as wat die konvensionele kennis dit het om die grense van ’n generasie, of selfs die definisie van een te bepaal. Demografiese terminologie soos Generasie X, Millenniërs en Baby boomers het ongelukkig tot die onkritiese hoofstroom deurgeglip. In hierdie stadium van laatkapitalisme, waar almal sedert die ontnugterende finansiële krisis van 2008 op soek is na identiteit binne flentergatglobalisering, trek veral jonger mense vinnig arbitrêre lyne tussen opeenvolgende geboortejare en verklaar dan dat iemand in Generasie-so-en-so behoort en dus sekere generiese eienskappe behoort te vertoon.
Dis egter nie so eenvoudig nie. ’n 1979-gebore Generasie X’er en ’n 1982-gebore Millenniër deel veel meer as ’n 1982-gebore Millenniër en ’n 1993-gebore Millenniër. Wat Afrikaanse rock oor die generasies betref, is dit beter om ’n glyskaalbenadering tot mense se kennis oor fases van die taalgenre te volg. Ek en die 40-somethings agter my by die Dagdrome-fees is streng gesproke mede-Millenniërs, maar wat ons Afrikaanse rock-ervaring betref, het ons met verskillende rockfases in ons tienerjare te doen gehad.
Fase 1 van Afrikaanse rock: Voëlvry
Toe die manne van die Gereformeerde Blues Band sing oor hoe gatvol hulle vir PW (Botha) se gesig is, en hoe die NG Kerk-en-Volksraad-sittende Natte in hul BMW’s rondry terwyl apartheid die land doodwurg, het jong Afrikaners uiteindelik ’n alternatiewe politieke stem gekry. Na jare se isolasie van liberaliserende wêreldgebeure, soos die Amerikaans-gebore counterculture van die ‘60’s en vroeë ‘70’s, het diegene wat op die grens voos geskiet en op tuisbodem voos gepreek is oor die Rooi en Swart Gevaar, die kans gehad om die establishment met musiek uit te daag. Die Voëlvry-era is een wat jong Afrikaners vir die eerste keer in uitbundige opstand saamgesnoer het teen hul eie politieke vaders. Afrikaanse jongmense het hul oë vir die euwels van apartheid oopgemaak en by protesorkeste saam met Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel die vrome volksgees van die jare ’80 uitgedaag en verwerp. Hul definiërende eienskap was politieke weerstand teen die apartheidsbestel en wisselende vlakke van identifikasie met die onderliggende Afrikanerwees. Hierdie konflik kan veral in die briljante film Johnny is nie dood nie (2016) beskou word.
Afrikaanse rock van die Voëlvry-era is jonk en eksperimenteel. Ironies genoeg is dit pionierswerk, in die gees van die skeppers daarvan se Voortrekkervoorsate wat so dikwels deur die Natte gemitologiseer is. Dit kon nie ’n maklike era gewees het nie. Benewens die afkeer van die oorgrote meerderheid Afrikaners, wat die Voëlvryers as kommuniste, volksverraaiers en niksnut-anargiste beskou het, sou selfs verligte hoofstroomrockliefhebbers van Afrikaanse of wit Engelse afkoms waarskynlik die klomp “Boere-hippies” afgemaak het. Once a rockspider, always a rockspider. Nietemin kan ons Voëlvry se rol in die sterfdae van apartheid as belangrike protesrock beskou wat die pas aangegee het vir die era van interne ontnugtering wat sou kom: Voëlvryf.
“Dis klaar te laat / Luister julle nie?”: Afrikaanse punk en grunge
In die histeriese en uitputtende 1990’s ervaar ’n klompie Afrikanerjonges uit die noordelike voorstede van Kaapstad ’n angswekkende teenstrydigheid tussen die politieke veranderinge in Suid-Afrika en die interne laertrekkery onder Afrikaners. Terwyl Mandela, die WVK en die nuwe liberaal-demokratiese Grondwet ’n nuwe era van hoop en inklusiwiteit inlui, verander daar min in die voorstedelike lewens van hierdie jong Afrikaners. Terwyl die ou volksvaders van die Nasionale Party en ander konserwatiewe politieke magte wegkwyn en uitsterf, probeer gewone Afrikanerouers (self slagoffers van die Grensoorlog en die neerdrukkende noodtoestande) binne die Nuwe Suid-Afrika hul kinders volgens die ou voorskrifte grootmaak, te midde van misdadige geweld en politieke vernuwing.
Die oop ekonomie bring egter invloede van elders en skielik lyk die wêreld vir Afrikanerjongmense vol halwe waarhede en onsekerhede. Dit is in hierdie krisismilieu dat jong Afrikaanse rockers uit die Kaapse voorstede hul revolusionêre opgang maak. Fokofpolisiekar bars in 2003 op die toneel met gille van angs, woede en verwerping van die Afrikaner se eng houvas aan geloofs- en maatskaplike gebooie. Hul punkrock is kliphard, minder eksperimenteel as Voëlvry s’n en gevul met ’n ander gees. Pleks van politieke protes, kyk Fokofpolisiekar inwaarts en bevraagteken Afrikaners se vasklou aan selfopgelegde Groot Waarhede oor godsdiens, seks, dwelms, drank en vloek. Hul shows ontaard keer op keer tot wanordelike en angswekkende woedebuie en hul volgelinge skreeu hul frustrasies met die Afrikaner- sosiokulturele orde ten hemele.
Ten tye van alles is hulle nooit ’n selfaangestelde revolusionêre beweging nie – tot vandag toe is hul tong-in-die-kies houding dat die band nooit van plan was om grootskaalse sosiale ommekeer te veroorsaak nie; dis alles ’n grap. Op dié manier ironiseer Fokofpolisiekar die adolessente angs van hul beginjare tot ’n siniese nihilisme.
Die Voëlvryf-era, ’n naam wat ek gebruik om Afrikaanse rock se punk- en grunge-gedrewe tweede fase te beskryf, verkry sy naam van Fokofpolisiekar se berugte toer in 2005. Die naam is ’n selfspottery en roep ’n vergelyking op met die voorafgaande Voëlvry-era. Die naam is ook ’n openbaarmaking en normalisering van ’n welbekende seksuele daad binne ’n seksueel konserwatiewe Afrikaanse gemeenskap.
Fokofpolisiekar se punkrock ontwikkel uit die staanspoor ook saam met ’n parallelle dog kleiner opgaaf van grunge, daardie stadiger swaarmetaal-en-punk-mengsel wat vir Nirvana, Pearl Jam en Alice in Chains in die vroeë 1990’s soveel faam besorg het. Op Fokof se latere albums. Monoloog in stereo en Swanesang, is daar veral ’n reeks liedjies wat depressiewe, swaar besinning teen ’n stadiger grungeagtige tempo is. Luister gerus na “Backstage”, “Morning star Durbanville”, “Déjà Vu” of “Die seksuele revolusie” vir ’n smakie hiervan.
Maar die geweldig emosionele sak sout wat Fokofpolisiekar namens ’n generasie gesleep het, maak die punkrockers moeg, en teen Januarie 2007 gaan die band op ’n breuk. Uit hierdie rustydperk spring die lede aan die werk om ’n afsluitende stertjie aan die Voëlvryf-tydperk te voeg, en hieruit spruit Die Heuwels Fantasties, Van Coke Kartel en AKing (laasgenoemde sing wel in Engels), wat tot vandag toe suksesvolle Afrikaanse rock beoefen en die gees van Afrikaner- sosiokulturele bevraagtekening aan die lewe hou. Fokofpolisiekar se waagstuk het ook gelei tot die eerste openbare uitbeeldings en musiekweergawes van die Afrikanerwerkers- en -onderklaskultuur, bekend as zef, in die vorm van rap en hip-hop deur Jack Parow en Die Antwoord, en hul meer gematigde kollegas soos Bittereinder.
En as Afrikaners deur die bakoond van sosiokulturele bevryding beweeg het, wat bly oor? Soos ons sal sien, in die vorm van ’n heel nuwe tematiese rockmusiek: Die liefde.
Wolwemanie: Spoegwolf en die Stellenbosse Boys
As twee jong woelgeeste uit die Afrikaner-bakermat Stellenbosch sou ’n mens kan sê die Du Toit-broers Danie en Moskou is byna stereotipiese voorbeelde van Afrikaners uit die dorpie. Hulle van, Du Toit, herinner aan die vroegste Hugenootwynboere wat aan die Kaap hul familie- en wingerdwortels kom neerlê het. Hulle was in ’n bekende Bolandse skool; Danie het aan die Universiteit Stellenbosch studeer, en sjef Moskou werk vandag as mede-eienaar van die suksesvolle en unieke Dorpstraatse restaurant Drum.
Danie, Moskou, Albert van der Merwe en Chris von Wielligh se band Spoegwolf het die land aan die gons met hul unieke en gladgesnyde rock. Hul shows is energiek en hul benadering is persoonlik. Mense op die dorp noem met skitteroë die bandlede op hul voorname, so asof almal hulle persoonlik ken. In teenstelling met die Voëlvry- en Voëlvryf-era is daar onder hul modus operandi en liriekwerk nie ’n fokus op politieke bevryding of sosiokulturele taboes nie. Dit is eerder ’n tipe viering van liefde, genesing en van dit wat sag en kosbaar tussen mense is.
In Voëlvry was vloek betreklik seldsaam en gereserveer vir sy politieke krag. In Voëlvryf was vloek ’n uitroep van bevryding uit sosiokulturele verkramping. In Spoegwolf is vloek byna ’n teken van teerheid; van ’n tipe sofistikasie.
Die rock wat jy in Spoegwolf vind, is nie die eksperimentele politieke krete van die antinormale punk en grunge van hul voorgangers nie.
Spoegwolf se rock is triomfantelik, wawyd wakker soos vroegopstaan by die see, huislik en ontspannend; ’n woordekonomiese liefdemakery. Spoegwolf se musiek verhef die kuns van liefhê en liefkry.
Dit is moeilik om hierdie nuwe era van Afrikaanse rock van die persona van Danie du Toit te skei. Soos vroeër genoem, het Danie as rockster die beeld van ’n troebadoer: die musikale hartedief van die Hoë Middeleeue wat die ryk buurte deurkruis en sing van liefde, teleurstelling en genesing na pyn. Miskien in tred met die tydsgees bring Danie die troebadoer met sy aflewering van lirieke en voorsangerskap ’n vars briesie en ’n teenvoeter vir die eng, harde Afrikaner-manlikheid van die vorige eeu.
Dit is ook moeilik om die band se meteoriese tog van Danie te skei. As liedjieskrywer, digter en voorsanger het Danie ’n enorme invloed op die band se openbare beeld, en ’n groot deel van hul volgelinge is ook die dissipels van die Reënwolf-troebadoer.
Onder jong Afrikanervroue in hul vroeë tot middel-twintigs gedy die Wolwemanie, tot die mate dat daar ’n tipe subkultuur aan die vorm is. Spoegwolf-volgelinge is nie die punkrockers van die Voëlvryf-era wat met mening hul verwerping van die Afrikaanse godsdienstige en sosiale orde probeer wys met swart kleredrag, ’n aggressiewe gerook en ’n harde partytjie nie. Spoegwolf se diehard groupies is kleurvoller geklee en in baie gevalle met tevredenheid verbonde aan ’n charismatiese kerk, maar hulle dra die kulturele bevryding van Voëlvryf voort deur oper seksuele waardes en ’n strategiese gevloek. Hulle is lief vir jenewer-en-sjampanje-op-wynplaas-foto’s, “alles vir die Insta”, en leef die voordele van die informasie-era ten volle uit.
... na Spoegwolf na ...?
In my besinning het ek na enkele bands verwys wat tekenend van hul fases was. Dit sluit geensins die verskeie ander kleiner groepe uit wat onder die sambreel van elke fase ontstaan het en die tydsgees in musiek vertaal het nie. Selfs onder Spoegwolf, wat ’n era inlui, sal daar waarskynlik nog ’n reeks nadoeners en tematies verwante rockgroepe ontstaan. Elkeen van die groot fases van Afrikaanse rock is tegelyk ’n verwoording van generiese sentimente en ’n roetekaart vir die generasies wat hul musiek aangehang en beleef het. Dit dien as spieël vir die mense wat daarmee in kontak kom, en is uniek in die groter konteks van Suid-Afrika met sy woeste geskiedenis, hede en toekoms. Dit maak wel sin om die siel van ’n gemeenskap of ’n generasie in hul musiek te gaan soek. Sodoende verstaan ons mekaar en onsself beter, en kan ons onsself beter aan ander probeer verduidelik.
Daar is al harde bene gekou in die Afrikaanse gemeenskap, en daar gaan nog baie gekou en geblaf word. Gelukkig sal Afrikaanse rock met sy ryke erfenis altyd daar wees om die grense te druk en die gees van die tyd deur luidsprekers uit te basuin.
Lees nog Weerdink-artikels en -onderhoude mbt musiek en ander aktuele onderwerpe:
LitNet Akademies Weerdink: Die "Die Land"-musiekvideo, mites en nostalgie
LitNet Akademies Weerdink: ’n Globale perspektief op groepregte en diversiteit
LitNet Akademies Weerdink: Die klaskamer in ’n posthumanistiese samelewing
Kommentaar
Dankie Frederik. Dié generasie het die essay geniet!
Ek wonder net - as di. (vlietende) Alternatiewes nog per defenisie geïdentifiseer moet word of daar werklik aanspraak gemaak kan word op ñ taalgenre(?) Ons het die Voëlvry-tydperk met Johannes gestook. Toe was daar die Fokofkarre en my kinders luister na Die Heuwels en Spoegwolf.
Ek probeer mintens om die klompie se beddens in een kamer te skuif, maar helaas.