Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met die brandende kwessies van 2019.
Menán van Heerden gesels met Chris Nelson oor die stand van ons demokrasie.
.......
Lees ook op LitNet Akademies:
- 2010: Die stand van die demokrasie in Suid-Afrika: ’n kritiese perspektief
- 2014: Die Suid-Afrikaanse regstaat na twintig jaar: gekonsolideer of besig om in outoritarisme te verval?
- 2018: Die rol van politieke partye en verkiesings in die konsolidering van demokrasie in samelewings, met spesiale verwysing na eietydse Suid-Afrika.
Chris, in ons 2017 “Demokrasie en Suid-Afrika in 2017”-LitNet Akademies-onderhoud het jy oor die aard en vlak van staatskaping in Suid-Afrika uitgebrei.
Wat is jou gedagtes rondom die onlangse onthullings rakende die Zondo-kommissie?
Wanneer ek luister na en lees oor die onthullings voor die Regterlike Kommissie van Ondersoek na Bewerings van Staatskaping, algemeen bekend as die Zondo-kommissie, kan ek nie anders nie as om te besef dat alles wat ek in 2017 tydens ons onderhoud te sê gehad het oor die stand van die demokratiese orde, geleidelik bevestig word.
Talle Suid-Afrikaanse owerheidsinstellings was in 2017 na agt jaar van blootstelling aan die patologie van persoonlike heerskappy, neopatrimonialisme en ’n imperiale presidentskap min of meer ten volle gekaap.
Nie alleen was belangrike instellings soos die Nasionale Vervolgingsgesag, die Spesiale Ondersoek-eenheid van die polisie, die staatsbeheerde ondernemings en die tesourie onder die beheer van ontplooide kaders nie, maar was die staatskas aan plundering blootgestel; was kliëntelisme toegepas; was baantjies vir boeties en patronaatskappe geskep; en was ’n verskeidenheid vorme van predatoriese optrede deur regeringslui aan die orde van die dag. Kortom: Korrupsie het hoogty gevier en het sistemiese afmetings aangeneem.
Suid-Afrika kon weliswaar nie in 2017 as ’n mislukte staat beskou word nie, maar dit was beslis deur staatskaping gereduseer tot ’n swak staat. Die uitvoerende gesag was grootliks onverantwoordbaar; die wetgewende gesag se oorsigrol is deur die ontplooiing van lojale kaders afgetakel; die infrastruktuur was besig om te verkrummel; wetteloosheid het toegeneem; en ’n eens produktiewe ekonomie het agteruitgang beleef. Die enigste ligpunt was die regsprekende gesag, wat sy onafhanklikheid oor die regspraak behou en dit deurentyd gedemonstreer het.
Verdere gedagtes wat opkom met die aanhoor van die onthullings voor die Zondo-kommissie, is die besef dat baie van die onthullings wat nou na die oppervlak opborrel, reeds in 2018 grootliks bekend was.
In hierdie verband verwys ek na die verslag van die Openbare Beskermer; die erkenning deur adjunkpresident Cyril Ramaphosa dat staatskaping reeds ongekende afmetings aangeneem het en dat etlike miljarde rand gesteel is en herwin moet word; die bevestiging daarvan deur ’n magdom uitgelekte e-posse in die media; die bevindings van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) dat Suid-Afrika as gevolg van staatskaping met ’n mafiastaat vergelyk kan word; en die verdoemende getuienis deur die State Capacity Research Group dat ’n “stille staatsgreep” reeds plaasgevind het. Die staat was egter so effektief gekaap dat daar nie met daadwerklike optrede vorendag gekom is nie.
Die gedagte wat ook onwillekeurig opkom, is of al die onthullings wat tot dusver voor die Zondo-kommissie gemaak is, en oënskynlik nog gemaak sal word, ’n nuwe hoofstuk in die politieke geskiedenis van Suid-Afrika sal inlui. Sommige waarnemers wys daarop dat hierdie kommissie se bevindings uiteindelik nie geregtigheid tot gevolg sal hê nie, maar dit eerder sal verhoed.
In ’n onlangse gesprek met ’n vriend oor die getuienis voor die Zondo-kommissie het hy aan my gesê: “Die son sal opkom, die maan sal opkom, die getye sal inkom en die waarheid sal uitkom. Wat die son, die maan en die getye aanbetref, het ek sekerheid. Wat egter met die waarhede wat deur die Zondo-kommissie onthul word, sal gebeur, daaroor is ek onseker!”
Talle Suid-Afrikaners oor die volle spektrum heen is egter oortuig dat Suid-Afrika onder die leiding van president Cyril Ramaphosa reeds ’n nuwe daeraad betree het. Alhoewel dit nie bekend is of hy na die komende algemene verkiesing ’n regeerposisie sal beklee nie, het hy nietemin die politieke wil gedemonstreer om staatskaping en die destruktiewe gevolge daarvan die hoof te bied en die staatskip in ’n nuwe rigting te stuur.
Die vooruitsigte vir demokrasie in 2019 word ook in ons 2017-onderhoud bespreek:
[Indien] die Ramaphosa-faksie seëvier, is die vooruitsigte vir die herstel van nie alleen die ekonomie nie, maar ook die konsolidasie van die demokratiese bestel uitstekend.
In jou November 2018 LitNet Akademies-artikel bespreek jy ook die rol van politieke partye in die konsolidering van demokrasie in eietydse Suid-Afrika asook die belangrikheid en funksies van verkiesings.
Wat is jou gedagtes rondom die Mei-verkeising vanjaar, asook Patricia de Lille se Good politieke party, die politieke party African Transformation Movement (ATM) en Cope?
In die lig van wat ek hier bo gesê het, is die komende algemene verkiesing van die allegrootste belang. Ek wil dit waag om te sê dat dit selfs belangriker is as die vorige vyf algemene verkiesings. Verder wil ek beklemtoon dat die rol van die gewone kieser in die komende algemene verkiesing van deurslaggewende belang sal wees. Presies hoe belangrik dit vir elke kieser is om in Mei by die stembus op te daag, blyk uit die huidige stand van sake in Suid-Afrika. Sonder om na besondere statistiek en posisies op indekse te verwys is die volgende tekenend van die kwessies wat die dringende aandag van die politieke leierskap verdien:
- die hoë voorkoms van misdaad
- die hoë werkloosheidsyfer, veral onder jeugdiges
- die hardnekkige voorkoms van korrupsie
- die afwesigheid van of gebrekkige dienslewering
- die wanbestuur en wanfunksionering van etlike provinsiale owerhede
- die wanbestuur en wanfunksionering van daardie staatsbeheerde ondernemings van kritieke belang vir sosio-ekonomiese ontwikkeling
- die wanbestuur en wanfunksionering van die meeste plaaslike owerhede
- die stadige ekonomiese groei
- die afgradering van Suid-Afrika se beleggingstatus deur die leidende internasionale graderingsagentskappe
- die wydverspreide armoede
- die swak onderwys-en-opleidingstelsel
- die ongelykheid in die samelewing, wat tans as die mees ongelyke ter wêreld beskou word.
Ek wil beklemtoon dat dit by wyse van verkiesingsprosesse is dat politieke leiers deur die burgery verantwoordbaar gehou word om nie alleen veiligheid te verseker nie, maar ook daardie goedere en dienste te lewer wat noodsaaklik is vir die skep van ’n stabiele omgewing waarin sosio-ekonomiese ontwikkeling kan geskied.
Terwyl kiesers in vorige verkiesings die stembus vermy het wanneer oor moeilike en komplekse kwessies uitspraak gelewer moes word, is die kwessies wat vandag aandag verdien, van sodanige ernstige aard dat elke kieser onder die verpligting verkeer om sy/haar stem te laat hoor.
Dit wat tydens die bewindstermyn van die vorige president gebeur het, is grootliks daaraan te wyte dat die kieserspubliek nie die leierskap tydens die verkiesing van 2014 tot verantwoording geroep het nie.
Ofskoon daar tendense in die internasionale stelsel is wat op die teendeel dui, speel politieke partye steeds ’n kritieke rol in die konsolidering van demokrasie in enige staat. Politieke wetenskaplikes aanvaar selfs die feit dat hoe meer politieke partye daar in ’n samelewing sigbaar is, hoe groter die waarskynlikheid dat demokratiese konsolidering kan geskied.
Hoe lyk die huidige prentjie met betrekking tot politieke partye in Suid-Afrika? Volgens die OVK het 563 politieke partye reeds vir vanjaar se algemene verkiesing geregistreer. Tans geniet slegs 100 verteenwoordiging in wetgewende liggame, waarvan 56 op nasionale vlak en 13 spesifiek in die Nasionale Vergadering.
Teen hierdie agtergrond is dit ’n ope vraag of die nuwe party van Patricia de Lille en die nuwe party van Mzwanele Manyi en die gevestigde party van Mosiuoa Lekota by die stembus sukses sal behaal en of hulle bloot deel van die statistiek sal wees wat deur die OVK gehou word. Al hierdie leiers beskik weliswaar oor die nodige eienskappe om hulself as politici te vestig, maar uiteindelik sal die kiesers (en fondse!) die finale oordeel vel.
In jou 2018-artikel bespreek jy verwikkelinge rondom die onteiening van grond sonder vergoeding.
Volgens ’n News24-artikel verskil die ANC en EFF “fundamenteel oor die inhoud van so ’n wysiging en hoe grondbesit in Suid-Afrika moet lyk ...”
Wat is die implikasies vir die moontlike wysinging van die Grondwet in hierdie verband?
Dit is korrek dat die ANC en die EFF fundamenteel met mekaar verskil oor die wysiging van die Grondwet en hoe grondbesit in Suid-Afrika moet lyk. Met die indiening van die mosie gedurende Februarie 2018 dat ’n parlementêre komitee die kwessie moet ondersoek, was die partye eenstemmig oor hoe die kwessie hanteer moes word.
Sedertdien het egter beduidende verskille ingetree. Waar die ANC bloot die wyses van grondonteiening in presiese en eksplisiete terme wil omskryf, is die EFF ten gunste van die nasionalisering van alle grond.
Dit is op hierdie stadium onbekend of die Grondwet wel gewysig sal word en of die wetgewing wat die bestaande grondwetlike bepalings in werking sal stel, bloot op uitdruklike wyse omskryf sal word. Streng gesproke is dit nie nodig om die Grondwet te wysig nie, aangesien dit reeds vir die onteiening van grond selfs sonder vergoeding voorsiening maak.
Wat wel belangrik is, is dat grondhervorming moet geskied en dat dit eerstens in die stedelike gebiede teen ’n snelle tempo moet plaasvind. Grondhervorming met spesifieke verwysing na landbougrond is belangrik, maar die besit van eiendom in stedelike gebiede is van kardinale belang ten einde armoede en ongelykheid te bekamp, en behoort gevolglik voorrang te geniet.
Die uitreik van titelaktes aan stedelike inwoners ten aansien van die eiendomme waarin hulle woon, vind reeds plaas, maar behoort drasties versnel te word. Dit is van kritieke belang dat elke Suid-Afrikaner eiendom moet besit.
Die ANC is, soos ons weet, die dominante party. In die 2014 algemene verkiesing het die EFF minder as 7% van die stemme ingewin. Waarom, dink jy, groei die ondersteuningsbasis, veral met die EFF se beloftes vir grond en “ekonomiese vryheid” in gedagte, nie bestendig nie?
Die ANC is inderdaad die dominante party in Suid-Afrika. Tekenend is die feit dat die ANC reeds die afgelope vyf algemene verkiesings deur die kiesers as die dominante party aangewys is. Selfs die feit dat die ANC se populêre steun tydens verkiesings afgeneem het van 53% in 1994 tot 36% in 2014; dat dit tydens die jongste algemene verkiesing 17 setels in die Nasionale Vergadering prysgegee het; dat die amptelike opposisie, die DA, se steun met 22 setels toegeneem het; dat die EFF as ’n betreklik nuwe party 25 setels verower het; en dat ander opposisiepartye gesamentlik 21 setels verower het, het die algehele prentjie nie wesenlik verander nie.
Die redes hiervoor moet uiteraard gesoek word in die wyses waarop kiesers hulle partypolitieke keuses uitoefen. Daar is verskillende maniere: Eerstens die party-identifiseringsmodel, waar kiesers ’n bepaalde party blindelings ondersteun vanweë hulle sielkundige gebondenheid daaraan.
Tweedens die sosiologiese model, waar kiesers ’n bepaalde politieke party ondersteun op grond van die party se belyning en affiliasie met ’n bepaalde klas, geslag, geloof, streek, etniese of rassegroep. Laastens is daar die dominante-ideologie-model, waar kiesers ’n bepaalde party ondersteun op grond van ’n verbintenis tot ’n stel idees en ideale (ideologie).
Die rede waarom die ondersteuningsbasis van partye soos die EFF beperk is en waarskynlik beperk sal bly, het grootliks te doen met die wyses waarop kiesers in Suid-Afrika tot dusver hulle partypolitieke keuses uitgeoefen het. Kiesers wat op grond van bogemelde oorwegings hul partypolitieke keuse uitoefen, sal nie maklik hulle party-affiliasie verander nie.
Die ou verskynsel van “bloed-Natte” en “bloed-Sappe” in die geskiedenis van Suid-Afrika het getoon dat hoe hegter die lojaliteit van ’n kieser aan ’n politieke party is, hoe hegter sal daardie verbintenis bly voortbestaan. Waar kiesers wel vertroue in hulle gekose partye verloor het, het hulle nie na ander partye oorgestap nie, maar eerder buite stemming gebly.
Verdere faktore wat die groei van partye soos die EFF belemmer, sluit in die wyse waarop populistiese mobilisering as politieke strategie deur die leierskap toegepas word. Partye wat hierdie strategie toepas, kan, soos dit tans regoor die wêreld in toenemende mate blyk, beduidende sukses daarmee bereik.
Alhoewel die toepassing van populistiese mobilisering as politieke strategie deur leiers en politieke partye sukses by die stembus tot gevolg kan hê, maak leiers en partye hulle dikwels skuldig aan misleiding deur aan die burgery maklike oplossings vir komplekse probleme te belowe en aan hulle dit te vertel wat hulle graag wil hoor. Dit is presies wat met die EFF gebeur.
Die beloftes aan die kiesers wat deur die EFF gemaak word met betrekking tot nasionalisering van bedrywe, grondbesit, werksgeleenthede en verskeie ander kwessies word nie as geloofwaardig beskou nie. ’n Verdere verswarende faktor is die beweerde betrokkenheid van prominente EFF-leiers by korrupsie. In hierdie verband kan na die bewerings van betrokkenheid by die VBS-bankskandaal verwys word.
Jy belig ook die wyse waarop kiesers partypolitieke keuses uitoefen.
’n 2014-News24-artikel bespreek die simboliek van die EFF se kleredrag en barette.
Dink jy die simboliek en “branding” van ’n party het ’n groot invloed op die wyse waarop partypolitieke keuses uitgeoefen word?
Indien wel, is De Lille se party en die ATM in hierdie verband sterk genoeg?
Daarmee saam, is ’n gebrek aan sterk branding ’n rede waarom Agang South Africa (in 2013 deur Mamphela Ramphele gestig) en Makhosi Khoza se African Democratic Change (ADeC) nie op dreef gekom het nie?
In die reklamewese word dit aanvaar dat enige instelling of onderneming wat ’n produk of diens aan die breë publiek wil lewer, ’n bepaalde unieke handelsmerk (brand) moet ontwikkel en vestig. Hierdie waarheid geld ook vir politieke partye.
In vorige eras was die “handelsmerk” van politieke partye grootliks bepaal deur die charisma van die leier, die ideologie en die program van beginsels wat die party onderskryf.
Met die huidige oplewing in die gebruik van populistiese mobilisering as politieke strategie en die direkte appèl wat tot die gewone burgery gerig word, het die prentjie egter verander.
Politieke leiers projekteer hulle vandag nie alleen as welwillende kampvegters vir die burgery nie, maar maak ook gebruik van slagspreuke en die verlening van prominensie aan sekere kwessies, soos immigrasie, globalisering, werkloosheid, armoede en ongelykheid, ten einde die steun van die massas te wen.
Terselfdertyd is politieke leiers aktief besig om die gevestigde gesagsinstellings (die elite) te diskrediteer. In Suid-Afrika is die gebruik van slagspreuke soos “white monopoly capital”, “pay back the money” en “a new dawn” voorbeelde. Dikwels word die handelsmerke van politieke partye geaksentueer deur die leiers se kleredrag, gedragswyses, die sing van bepaalde liedere en die name van die partye.
Tekenend is die naam van die party wat onlangs deur Patricia de Lille gestig is. Deur haar party bloot Good te noem probeer sy in die toepassing van ’n populistiese mobiliseringstrategie die beeld skep van ’n welwillende kampvegter vir alle “goeie” mense in hulle stryd teen die heersende elite, wat dan by implikasie nie so “goed” is nie.
Dit word aanvaar dat die politieke partye van Mamphele Ramphele en Makhosi Khoza, soos die meeste van die 563 geregistreerde partye, oor uitstekende beleidsmanifeste beskik, maar tekortkominge ten aansien van ’n gepaste en unieke handelsmerk en die toepassing van ’n populistiese mobiliseringstrategie openbaar.
Jou 2014-LitNet Akademiese-artikel stel die vraag: “Die Suid-Afrikaanse regstaat na twintig jaar: gekonsolideer of besig om in outoritarisme te verval?”
Wat is die prentjie in 2019?
In gemelde artikel het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die Suid-Afrikaanse regstaat met sy 20ste-bestaansjaar-viering ten aansien van die volgende fundamentele regstaatlike beginsels as gekonsolideer beskou kon word: die oppergesag van die Grondwet, die skeiding van magte, regterlike onafhanklikheid oor die regspraak, fundamentele menseregte en -vryhede, regsoewereiniteit en administratiewe geregtigheid.
Ten aansien van die volgende regstaatlike beginsels het ek egter tot die gevolgtrekking gekom dat die Suid-Afrikaanse regstaat nie as gekonsolideer beskou kon word nie: Eerstens is die regstaatlike beginsel van demokrasie in die teorie onderskryf, maar dit was nie gekonsolideer nie.
Suid-Afrika het aan weinig van die strukturele of prosesgedrewe toestande wat as noodsaaklik beskou word vir suksesvolle demokratiese konsolidering voldoen. In die lig van die onlosmaaklike verwantskap tussen demokrasie en die regstaat is gevolglik bevind dat beide in gevaar verkeer en dat Suid-Afrika besig was om geleidelik in outoritarisme te verval.
Tweedens is bevind dat die regstaatlike beginsel ten aansien van verantwoordbare, deursigtige, meetbare, voorspelbare en berekenbare optrede deur die uitvoerende gesag nie as gekonsolideer beskou kon word nie. Die voorbeelde van onverantwoordbare, ondeursigtige, onmeetbare, onberekenbare en onvoorspelbare magsuitoefening deur die uitvoerende gesag op terreine van kritieke belang vir die oorlewing en behoud van ’n regstaat was so talryk en van sodanige ernstige aard dat die uitgangspunt dat Suid-Afrika besig was om in outoritarisme te verval as geregverdig beskou is.
Hoe sien die prentjie in 2019 daar uit? Die antwoord is grootliks dieselfde, ofskoon Ramaphosa belowe het om die demokratiese orde te versterk deur strukturele aanpassings en verantwoordbare, deursigtige, meetbare, berekenbare en voorspelbare geagsagsuitoefening deur die uitvoerende gesag as primêre rigsnoer tydens sy bewindstermyn te aanvaar. Hierdie is egter bloot beloftes, en die uitvoering daarvan sal grootliks bepaal word of hy in die komende algemene verkiesing in ’n posisie geplaas sal word om te regeer en sy mag te konsolideer.
Hoe het die landskap tot dusver in elke verkiesing verander sedert die begin van demokrasie?
Hierdie vraag sal ten beste beantwoord kan word wanneer daar ’n vergelyking getref word tussen die stand van die verskillende sektore in die Suid-Afrikaanse samelewing na die eerste verkiesing en die huidige stand van sake in elke sektor. Gegewe die feit dat dit boekdele sal verg om ’n volledige uiteensetting op hierdie grondslag te verstrek, sal ek slegs op die verkiesings self en die deelname daaraan deur die kieserspubliek konsentreer.
Die mees opvallende tendens wat hierdie aspek betref, is die vervreemding wat daar sedert 1994 tussen politieke partye, verkiesings en kiesers ingetree het. Dit is interessant om daarop te let dat hierdie besondere verskynsel nie tot Suid-Afrika beperk is nie, maar wêreldwyd voorkom sedert die derde demokratiese golf in die vroeë 1990’s ontstaan het.
In eietydse Suid-Afrika is die vervreemding tussen kiesers, politieke partye en verkiesings veral onder jeugdiges prominent. In die mees onlangse algemene verkiesing het sowat 44% van jeugdiges in die ouderdomsgroep 18 tot 34 aangedui dat hulle nie van voorneme is om aan die nasionale en provinsiale verkiesing deel te neem nie.
As in gedagte gehou word dat jeugdiges onder die ouderdom van 35 jaar sowat 66% van die Suid-Afrikaanse bevolking vorm, kan hierdie uitsonderlik hoë persentasie as ’n ernstige bedreiging vir die konsolidering van demokrasie beskou word.
Wanneer die registrasie van kiesers ontleed word, blyk dit dat in 2014 slegs 33% van Suid-Afrikaanse jeugdiges in die ouderdomsgroep 18 tot 19 jaar as kiesers geregistreer het. Die redes wat deur hulle verstrek is, is die hoë werkloosheidsyfer, korrupsie, gebrekkige infrastruktuur en ’n swak opvoedkundige stelsel.
Die omvang van die politieke vervreemding in Suid-Afrika is egter nie beperk tot jeugdiges nie, maar is kenmerkend van die totale kieserskorps. Aanduidend hiervan is nie alleen die daling in stempersentasies nie, maar ook die toename in die wegblystem tydens algemene verkiesings na 1994.
Terwyl in 1994 slegs 14% van die stemgeregtigde kiesers nie gestem het nie, het hierdie syfer tydens die algemene verkiesing in 2014 tot 41% gestyg. Die vervreemding blyk verder uit die feit dat terwyl die getal stemgeregtigde kiesers in Suid-Afrika in die eerste 20 jaar met 8,4 miljoen toegeneem het, die getal stemgeregtigde kiesers wat verkies het om van die stembus weg te bly met 9,4 miljoen toegeneem het.
Die belangrikste redes vir hierdie vervreemding hou verband met die ontnugtering wat in die samelewing bestaan oor die arbitrêre, arrogante, onetiese, bedrieglike en korrupte wyse waarop talle politici die mag waarmee hulle deur die kiesers beklee is, uitoefen. ’n Opname deur die Stigting vir Menseregte het verlede jaar bevind dat onder ongeveer 25 000 Suid-Afrikaners, 65% nie langer die parlement as ’n instelling beskou wat sy verantwoordingspligtigheid nakom nie.
In dieselfde trant het die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) in 2016 bevind dat nieteenstaande die feit dat 200 politieke partye en 61 014 kandidate aan die plaaslike verkiesing van daardie jaar deelgeneem het, 57% van die kiesers aangedui het dat hulle ontevrede is met die politieke leierskap. Slegs 28% het hulle tevredenheid aangedui.
Veral veelseggend was die persepsie van Suid-Afrikaners dat politici verkiesings bloot beskou as ’n geskarrel om hulpbronne te bekom en dat hulle oortuig is dat die konsolidering van demokrasie nie onder sodanige omstandighede kan geskied nie.
Teen hierdie agtergrond beskou, behoort dit duidelik te blyk dat die verkiesingslandskap in Suid-Afrika drasties verander het sedert die begin van demokrasie en dat hierdie verandering negatief was. Daar kan slegs gehoop word dat die politieke apatie wat die kiesers tot dusver gedemonstreer het, in die komende algemene verkiesing laat vaar sal word.
Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met aktuele sake:
LitNet Akademies Weerdink: Van Voëlvry na Voëlvryf na Spoegwolf
LitNet Akademies Weerdink: ’n Globale perspektief op groepregte en diversiteit
LitNet Akademies Weerdink: Die "Die Land"-musiekvideo, mites en nostalgie
LitNet Akademies Weerdink: Die klaskamer in ’n posthumanistiese samelewing
Kommentaar
Die stellings en politiese gedagtes en statistieke is alles dalk waar, maar wat doen julle daarmee. Die kiesers is 80% onopgelei. Ek tel nie 'n 30%-slaagsyfer as opleiding nie. Wat is julle praktiese voorstel?
Ons kan/kon hierdie land in 20 jaar die beste maak:
Spandeer vir drie jaar 80% van die onderwysbegroting op pre-primêre skole. Maak dit verpligtend dat elke kind van drie tot ses hierdie skole moet bywoon. Elke dorp het 'n kerksaal, skousaal en elke plaas het 'n skuur of iets. Die kwaliteit is hier belangrik soos respek, moenie mors nie, raak leergierig. Vaardigheid met vingers ens. Ouers moet deel hê aan die proses.
Die volgende sewe jaar word die 70% van die geld spandeer aan Gr 1-7( 10% moet die laer groep in stand hou). Behoorlike opvoedkundige stelsel. Respek! Klaskamers met mense wat kan en wil wat elke dag opdaag met slaagsyfer van 50%.
Die volgende vyf jaar gaan 60% van geld aan hoërskole en onderhou vorige fases. Teenwoordigheid, respek leer oriëntasie, toekomsgedrewe.
Dan vir die laaste fase - universiteite, maar belangriker tegniese opleiding soos rekenaar-operateurs van rekenaargedrewe industrieë in die vervaardigingsbedryf, onderwyskolleges, verpleegkolleges, nasorgverpleging kolleges ens. Dan eers kan jy dink aan 'n staatsmediese hulpskema wat kan werk. Honderde duisende mense moet hiervoor opgelei word.
Ongelukkig sal die mense wat te oud is vir die fase vir eers nie gehelp kan word nie en sal "casualties of war" wees met die verstandhouding dat al die geld wat van Eskom-, SAUK-,SAL-base, korruptes in nasionale regering, provinsiale en plaaslik, verhaal word gebruik sal word vir werkskepping vir hierdie groep.
Maak asb iewers 'n werkbare praktiese plan, want die politikusse gaan dit nie doen nie. Ons die mense moet ons belasting kan weerhou en self die werk doen.