Onderwys, opvoeding en gebruike in ’n nuwe era

  • 0

Alle mensgemaakte uitvindings is nie noodwendig positiewe vooruitgang nie. Sommige uitvindings is skadelik vir die natuur en mense behoort dit te weet.

Gesprek van Estelle Kruger met Henriëtte Loubser oor haar artikel:

Uitdagings van die Antroposeen: Onderwys in die era van ’n mensgemaakte wêreld

Henriëtte, hierdie artikel is jou vierde een oor omgewingsopvoeding (OO). Hierdie keer fokus jy egter dieper, naamlik op die Antroposeen, wat eintlik ’n diepgewortelde kulturele raamwerk is waarvolgens mense hulleself as die meerdere van ander bestaansvorme beskou. Hoe het jy van die beskouing bewus geword?

Estelle, toe ek begin met my navorsing, was ek reeds deeglik bewus van die heersende toestand van verbruik en misbruik van die aarde se natuurlike hulpbronne, maar ek het nooit werklik besin oor die meerderwaardigheid waarmee die mens die niemenslike bejeën nie. Die term Antroposeen was ook vir my totaal nuut. Dit was Chris Reddy, my promotor, wat dit die eerste keer gebruik het en ek was totaal in die duister – het nie geweet waarvan die man praat nie. Totdat ek daaroor begin oplees het – en nog nie weer opgehou het nie.

Dit blyk uit jou artikel dat mense kan aanleer hoe om diep-ingebedde gedragspatrone te herken en uiteindelik aan te spreek en te verander. Sou jy sê dat mense oor die algemeen bewus is van hierdie gedragspatrone? Hoekom (of nie)?

Nee, ek dink nie mense is bewus van hierdie gedrag nie. Dit is so ingebed in optredes en aksies dat dit rustig voortgaan totdat ’n mens op een of ander manier daarop gewys word. Dit is eers dan dat hierdie patrone in eie gedrag duidelik herkenbaar word.

Hoe pas die kennis en insig oor die Antroposeen by die sg nuwe materialisme? Kan jy dit asseblief verduidelik aan iemand wat belangstel maar niks hiervan af weet nie?

Die nuwe materialisme kan as ’n uitvloeisel van die Antroposeen gesien word, waar mense bewus geraak het van die skade wat die mens aan die natuurlike omgewing aanrig en die gevolglike ontstaan van ’n nuwe teoretiese raamwerk waarvolgens daar ’n “terugkeer na die materiële (tasbare) wêreld” bepraat en ondersoek kon word. Die studieveld van die nuwe materialisme behels ’n nuwe manier van kyk na die eeue oue mens-natuur-verhouding en die intense vervlegtheid van alle bestaande dinge. Dit behels ’n soort terugkeer, ’n erkenning van die feit dat die een nie sonder die ander kan nie – dat die mens en die niemenslike nie sonder mekaar kan voortbestaan nie.

Jy noem ’n aantal kritieke menslike optredes wat in veral nywerhede die ekologie skade aandoen – kan jy ook aan menslike optredes dink wat in die alledaagse lewe skadelik is vir die ekologie?

Daar is so oneindig baie skadelike optredes/gebruike van mense. Ek kan maar net dink aan weggooidoeke as voorbeeld. Volgens navorsers sal dit ’n weggooidoek ongeveer 400 jaar neem om ten volle te vergaan.

In jou artikel verwys jy na die “groot versnelling” en die belangrikste uitwerking van globale menslike aktiwiteit op aarde, naamlik die chemiese en biologie gevolge daarvan – siftingsas en tegnofossiele. Dan verwys jy na tipiese tekens van die Atroposeen in spesifiek Groenland. Is daar ook bepaalde voorbeelde van hierdie soort skade aan die ekologie wat in Suid-Afrika geïdentifiseer is?

Ek dink hier onmiddelik aan die onlangse bekendmaking van die besoedelingsvlakke van die Vaalrivier. Hoe daar feitlik geen lewe meer in daardie rivier oor is nie. Hoe visse op die oewers uitspoel, hoe hele families otters uitgewis is, weens die impak van die besoedeling op die watergehalte van die rivier. Hier kan ’n kenner soos Dave Pepler ’n legio voorbeelde aan ons voorlê, maar ek dink in Suid-Afrika, soos waarskynlik in die hele Afrika, is skade aan ekostelsels en die ekologie (deur die mens aangerig) reusagtig.

Verduidelik asseblief kortliks hoe hierdie negatiewe gedragspatrone mbt die ekologie herstel of verander kan word.

Daar is talle betoë dat die aarde onomkeerbaar beskadig is. Dat die skade onherstelbaar is. Ek is ’n aartsoptimis en ek glo dat ons steeds ’n verskil kan maak deur opvoeding. Deur die boodskap aan mense te bring, mense te motiveer tot groter verantwoordelikheid en om sodoende uiteindelik gemeenskappe te vorm wat ons in-die-natuur-wees, ons deel-van-die-natuur-wees, sal erken en daarvolgens sal laat leef.

Die gevare wat al die bogenoemde dinge inhou, klink so ver van die meeste mense af. Hoe kan ’n mens leerders op skool daarvan bewus maak sodat hulle nie net kennis opdoen nie, maar deur ervaring begin om ’n verskil in hulle omgewings te maak?

Hierdie vraag sluit aan by die vorige een. Deur bewusmaking, op watter manier ook al, kan kinders gelei word tot ’n beter begrip van wat met ons aarde aan die gebeur is, wat die uitwerking van onverantwoordelike menslike optrede op die natuurlike stelsels is en hoe hulle, deur veranderde denke en optredes, ’n verskil kan maak. Deur projekte soos dié wat ek in hierdie artikel noem, aan te pak en in skole te implementeer, kan kinders deel vorm van die soeke na oplossings.

Jy bepleit in jou artikel die gebruik van transformatiewe leer in OO. Wat behels dit presies?

Transformatiewe leer, of TL, is die proses van leer vir verandering. Met ander woorde, leer sodat jy toegerus is met die nodig kennis om anders en nuut te dink / op te tree. Dit behels ook die voorveronderstelling dat bestaande kennis vervang sal word, dat ingesteldhede omvorm sal word, ten einde veranderde of vernuwende denke te stimuleer. In hierdie geval sou ’n mens selfs daarvan kon praat as ’n soort “verlering” van antroposentrisme.

’n Voorbeeld hiervan sou wees om reeds tydens programme wat met vroeë kinderontwikkeling te doen het, die meerderwaardigheidsgevoel van die mens uit te daag deur die onderlinge afhanklikheid van alle bestaande dinge aan die jong kinders uit te wys en om hulle bewus te maak van die verweefdheid van alle dinge binne ’n meer-as-menslike wêreld. Kinders behoort te leer dat ons nie die natuur moet “bewaar” ten einde die mens te bevoordeel nie, maar dat ons interafhanklik is. Dat die natuur nie bewaar moet word bloot omdat dit vir ons kos en ander natuurlike produkte verskaf nie, of dat dit ’n lekker plek is om in te gaan speel nie, maar dat kinders begelei word om aktiewe deelnemers te wees, kritiese ondersoekers te wees, ten einde maniere te vind waarop ons almal saam in die wêreld kan wees.

Op watter ander maniere kan leerders bewus gemaak word? Nie almal neem die vak OO op hoogste vlak nie. Is daar voorbeelde in ander vakke van iets wat bewustheid kan kweek en negatiewe gedragspatrone kan begin teëwerk?

In enige vakgebied/leerarea kan opvoeding vir die omgewing plaasvind.

Inheemse kennis kan byvoorbeeld deur storieboeke of storievertelling opgedoen word. Daar bestaan verhale oor die San wat voorheen in suiwer harmonie met die natuur geleef het. Wat net uit die natuur geneem het dit wat hulle nodig het en wat elke keer die natuur (byvoorbeeld die dier wat hulle met pyl en boog geskiet het) te bedank dat hy sy lewe gee sodat die jagter en sy mense kan eet. Die jagter belowe die dier/natuur ook dat hy nie meer sal neem as wat hy nodig het nie. Hier kan die interafhanklikheid van die mens en die niemenslike aan die jong kind verduidelik word. Van die saadjie in die grond wat ’n plant word, die plant wat kos word vir die bok en die bok wat kos word vir die jagter en sy clan – die lewenskringloop met ander woorde. Op hierdie manier word die kind bewus van die mens se in-die-natuur-wees eerder as in-beheer-van-die natuur-wees. Hierdie kennis kan oorspoel na ander leerareas, soos die sosiale wetenskappe (aardrykskunde, plek en geskiedenis, voorkennis, tradisionele storievertelling), landbouwetenskappe (landbou vir volhoubaarheid), lewenswetenskappe (biodiversiteit, ekologie, habitatte, nisse edm), en selfs wiskunde (getalbegrip, syfervaardigheid deur byvoorbeeld teloefeninge met ’n eko-aanslag, en so meer). So word gemeenskappe gekweek wat in hulle daaglikse lewensgang verantwoordelik leef en optree.

Ek merk dat daar reeds maniere is waarop leerders op skool deur middel van aksieleer (O’Donoghue 1993) en die EkoSkool-program (Rosenberg 2008) indringend kennis maak met genoemde ekologiese gevare en die moontlike optredes. Beskryf asseblief die volgende kortliks:

O’Donoghue se program van aksieleer

O’Donoghue se aksieleerprogram behels die proses van leer deur ervaring/belewenis/veldwerk. Sy raamwerk behels gesprekvoering oor omgewingskwessies, vraagstelling, toetsing, die inwin van inligting en die opstel van ’n aksieplan waar die kind deurentyd betrokke is. O’Donoghue (1993:34) beskou dit as ’n voorbeeld van ’n “enabling framework for fieldwork” wat vir die aanspreek van omgewingskwessies ontwikkel is.

Rosenberg se EkoSkool-program

Dit behels die uitrol van ’n ekoprogram by individuele skole, in samewerking met onderwysers van daardie skole. Die program word ondersteun deur Wessa (Wildlife and Environment Society South Africa) en die Wêreldnatuurfonds (WWF) Suid-Afrika. Gewilde projekte sluit in die aanlê en instandhouding van kostuine, herwinningsprojekte, grond- en vleilandrehabilitasie en programme vir verminderde water- en elektrisiteitsverbruik. Volgens Rosenberg kan hierdie program tot verbeterde onderwys en leer in skole bydra. Daar moet egter genoegsame steun aan onderwysers gebied word sodat hulle die program – en OO – kan bemeester.

Waarmee het jy gesukkel in die navorsing van hierdie spesifieke artikel? Watter struikelblokke het jy ervaar?

Ek het nie werklik met iets gesukkel nie, Estelle. Ek dink die aspek wat my die meeste aangeraak het, of wat die hardste tot my gespreek het in die hele proses, is die besef dat die mens werklik ’n geweldige impak op natuurstelsels het, die dringendheid van die dilemma en die erns van die saak – die opvoedkundesaak.

Wat was jou grootste ontdekking in hierdie navorsing-en-publikasie-proses?

Die besef dat daar hoop is en dat elke mens op sy/haar unieke manier ’n verskil kan maak. Jy weet, die druppel in die emmer ...

Is daar enige ekologiese projekte in jou omgewing waarby jy of jou kollegas of onderwysstudente betrokke is?

Net buite Stellenbosch is ’n ekodorpie geleë waar daar ’n skool is, asook ’n volhoubaarheidsentrum. Studente van die Opvoedkunde-fakulteit is baie betrokke en daar vind allerhande wonderlike dinge plaas. Tans is twee kollegas van my, Peter Rule en Krystle Ontong, ook betrokke by ’n plekgebaseerde projek in Enkanini. Hulle gaan ondersoek instel na wyses waarop inwoners ondersteun kan word en hoe inwoners hulle onmiddellike omgewing kan gebruik om vaardighede te ontwikkel. Hulle beoog ’n behoeftebepaling in die gemeenskap, die identifisering van bestaande vaardighede in die gemeenskap en wat gedoen kan word om dit deur OO te bevorder (soos hulp met die registrasie van groentetuine). Ek het self baie planne, maar alles is nog baie aan die begin en meestal nog net in my kop.

Die opvoedkundige waarde van ekoliterêre tekste: ’n Toepassing van Adrian Rainbow se sienings op ’n Afrikaanse jeugverhaal, ’n oorgangsroman en ’n prenteboek vir kinders

Met bome soos met boeke

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top