Wie was De la Rey?

  • 1

De la Rey, Boereleier, generaal en volksheld wat veral tydens die Anglo-Boereoorlog tot en met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog ’n sterk rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het, se naam is weer, soos byna 100 jaar gelede, op almal se lippe. Maar wie was hy, en verdien hy die heldeverering waarmee hy bejeën word?
         
Bok van Blerk het oornag beroemd geraak vir sy trefferliedjie “De la Rey”, wat reeds talle verkooprekords laat tuimel het. Dit het veral onder die Afrikaner-jeug ’n emosionele reaksie veroorsaak – ’n verskynsel waaroor die media eindeloos spekuleer en waarin talle duister komplotte en vermeende gevare as ’n uitvloeisel geïdentifiseer word. Almal ken dus die liedjie en weet wie is Bok van Blerk, maar wie weet regtig iets van generaal De la Rey?
         
Generaal JH de la Rey is ’n indrukwekkende man wat ’n formidabele teenwoordigheid uitstraal. Hy het ’n hoë voorkop, blitsende swart oë, ’n prominente, effens gekromde neus en ’n volbaard en lyk soos ’n Bybelse patriarg. Hy is iemand wat hoë godsdienstige en morele waardes handhaaf. Hy is saggeaard, hoogs intelligent, ’n man van min woorde, uiters beskaafd en altyd hoflik teenoor alle mense, hetsy vriend of vyand. Tog het hy soms ’n humeur wat hy met moeite beteuel, maar wat gewoonlik slegs van korte duur is. Hy word deur die Britte as ’n ware “gentleman” beskou.

Hy boer in die omgewing van Wolmaransstad en Lichtenburg en raak veral in Wes-Transvaal wyd bekend, onder andere as plaaslike veldkornet, kommandant en Volksraadslid van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR). Later word hy in die volksmond “Die Leeu van die Weste”.

Hoewel hy in wese ’n beskeie persoon is, het hy ’n trotse houding wat beklemtoon word deur sy altyd netjiese persoon en kleredrag. As prominente leier en Lid van die Volksraad word hy deur almal gerespekteer en vertrou. In alle omstrede sake word daar eers vooraf met hom gekonsulteer. Hy dien in talle belangrike kommissies. Veral in die Volksraad beïndruk hy met sy waardigheid en kalm persoonlikheid.

Hy is aanvanklik gekant teen oorlog met Brittanje, omdat hy glo dat dit uiteindelik die einde van die Boererepublieke sal beteken. Hy glo dat ’n oorlog uiteindelik onafwendbaar gaan wees, maar dat die Boererepublieke tyd (’n paar jaar) nodig het om hulle daarvoor voor te berei. Hy huldig die mening dat konfrontasie op kort termyn vermy kan word en dat daar deur middel van onderhandeling oplossings gevind moet word om die spanning te verlig.

Sy standpunt teen oorlog, wat hom gewild maak onder die Britte, lei uiteindelik daartoe dat hy as lid van president Kruger se Volksraad direk in botsing met die President kom ten tye van die finale besluit vir of teen oorlog met Brittanje. De la Rey het kalm en bedaard sy standpunt beredeneer, maar is deur Kruger beskuldig van lafhartigheid – ’n aanklag wat hy met minagting verwerp het en profeties verklaar het dat hy (De la Rey) en sy manne nog sal veg lank nadat Kruger en sy volgelinge reeds na die buiteland uitgewyk het. Toe dit blyk dat die meerderheid ten gunste van onmiddellike oorlog is, gee De la Rey sy onvoorwaardelike steun en lojaliteit aan die ZAR.

Hy word deur Kruger aangestel as adviseur vir generaal Piet Cronjé, die man wat later tot groot skande met duisende manne sou oorgee. Hy en Cronjé kom glad nie oor die weg nie en sy pos word dié van veggeneraal. Hy kom onder die besef van die Boere se basiese ongedissiplineerdheid asook die feit dat hulle maklik dros wanneer hulle bekommerd raak oor hulle plase en families. Hy implementeer ’n verlofstelsel sodat Boere gereeld hulle plase en/of families kan besoek.

Op die slagveld onderskei De la Rey hom as ’n vegter van formaat en as ’n aanvoerder en leier wat deur sy eie optrede en voorbeeld sy manskappe aanspoor tot nog groter suksesse. Hy het ’n onwrikbare geloof in God en homself en sê dikwels dat hy niks en niemand buiten God vrees nie. Hy is gevolglik nie bang vir die dood nie – ’n eienskap wat hy telkens demonstreer deur die heldhaftige wyse waarop hy teen die vyand veg.

Hy word vinnig gefrustreer deur die onbeholpe wyse waarop die Boeremagte soms geleenthede verspeel, nie vinnig opvolg op suksesse nie en tyd verspil met ’n sinlose beleëring van dorpe – ’n handeling wat groot getalle Boere van aktiewe optrede weerhou terwyl die Britte die tyd gebruik om meer versterkings te mobiliseer.

De la Rey motiveer sy manne soos niemand anders kan nie. “Waarvoor is julle bang?” sou hy skreeu terwyl hy ongewapend deur die vyand se vuurlyn ry. “Kom my seuns, veg met my! God is aan ons kant! Kom! Kom! ...” Dit was genoeg om die byna gehipnotiseerde Boere weer eens vorentoe te laat storm.

By enkele geleenthede het hy selfs nie geskroom om met ’n sambok onder sy eie manne in te vlieg wanneer hy gedink het hulle moet vinniger reageer om die vlugtende Britte te volg nie. Sy kort bevel, “Veg! Veg!” was genoeg om hulle te besiel om hom met groot geesdrif te volg terwyl hy “soos ’n engel, soekend na vergelding met ’n baard wat waai in die wind – die verpersoonliking van God se wraak op die vyand – vorentoe storm!”

Hy blyk ’n briljante militêre strateeg te wees met ’n buitengewone vermoë om vyandelike bewegings en aksies korrek te antisipeer. Hy is die eerste een wat, nog voor generaal De Wet, gebruik maak van loopgrawe en wat die konsep van guerrilla-oorlogvoering vir plaaslike omstandighede ontwikkel en toepas. Hy ryg die suksesse in en die Britte kry ’n heilige ontsag vir hom. Hy loods in Maart 1902 ’n aanval op ’n Britse konvooi waartydens lord Methuen gewond en gearresteer word. Hy laat hom spoedig vry, ’n stap waarvoor hy erg deur sy eie manne gekritiseer word, maar wat in Europa, en meer spesifiek Brittanje, geweldig positiewe publisiteit en reaksie ontketen.

De la Rey het geen politieke aspirasies nie, behalwe om alles in sy vermoë te doen om die veiligheid en voortbestaan van die onafhanklike Boererepublieke te verseker, natuurlik met die klem oponafhanklikheid. Vir hierdie ideaal sal hy sy lewe neerlê en is hy bereid om voort te gaan met die oorlog. Dit is met moeite dat hy later oortuig word dat almal nie kan aangaan nie en dat die tyd gekom het om die wapens neer te lê.

Sy aanvanklike besluit tot oorlog was gemotiveer deur die hoë waarde wat hy aan volkseenheid geheg het. Dit is weer eens die eenheidsgedagte (of liewer die bedreiging van eenheid, naamlik verdeeldheid) wat hom oortuig om die vredesooreenkoms in Vereniging te onderteken. Dit, en natuurlik sy grenslose vertroue in genl Louis Botha en Jan Smuts, want dit was hulle wat hom in die finale instansie laat verstaan het dat die Boere weer die onafhanklikheid van hulle Republieke sal terugeis van Brittanje sodra die tyd aanbreek.

Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog en die Britse toetrede (4 Augustus 1914), wat ook die betrokkenheid van die Unie van Suid-Afrika impliseer, word deur De la Rey en ’n groot deel van die Boerevolk gesien as ’n Godgegewe geleentheid om ontslae te raak van Brittanje en om hulle verlore onafhanklikheid terug te wen.

Helaas, hierdie sentimente word nie deur Botha en Smuts gedeel nie – ’n geweldige skok en teleurstelling vir De la Rey, wat nie kan glo dat sy boesemvriende van weleer hulle gesamentlike ideaal om onafhanklikheid vir die Boererepublieke te bewerkstellig, nou nalaat nie. Hy is bewus van die feit dat hy fisies dopgehou word en besef dat Botha en Smuts selfs nie sal skroom om hom te arresteer indien hulle dit nodig sou vind nie. Weer eens, ter wille van eenheid en om ten alle koste die bloedvergieting van ’n burgeroorlog te vermy, besluit hy om hom te weerhou van sodanige optrede.

Hy kan egter nie sy eie gewete verkrag nie. Tydens ’n Senaatsvergadering in Kaapstad op 12 September 1914, waartydens die moontlike Unie-inval van Suidwes-Afrika (SWA) bespreek word, lewer De la Rey ’n kragtige toespraak waartydens hy onder meer sê: “Toe ek die Verdrag van Vereniging onderteken het, het die gedagte nooit by my opgekom dat my handtekening my land tot ’n oorlog verbind indien Brittanje daarin betrokke sou raak nie. Die mense van Suid-Afrika kan min bydra wanneer dit om ’n Wêreldoorlog gaan – waarom dus sy mense in gevaar stel? Sedert die Verdrag van Vereniging is die bevolking nie skuldig aan enige optrede dislojaal teenoor die Britse vlag nie. Dit sal heeltemal ’n ander saak wees as ’n Duitse mag sou probeer om Suid-Afrika in te neem. Dan sal ek vir een my allerbeste doen om ons land te beskerm ...”

Hy was nog altyd bereid om sy dienste ter verdediging van sy land te lewer, maar hy kan nie ten gunste van ’n SWA-inval stem nie, want sy gewete laat dit nie toe nie. Hy verkies om liewer nie te stem nie, nie daarvoor of daarteen nie. Enigiemand wat dieselfde ervarings as hy beleef het, sal sy objeksies begryp. Baie mense kyk na hom vir leiding en hy het ’n verantwoordelikheid teenoor hulle.

Hy reis per trein na Johannesburg, waar hy op 15 September 1914 vir kommandant-generaal CF Beyers, wat pas sy bedanking as hoof van die Weermag ingedien het, besoek. Daardie aand is hulle per motor onderweg na Potchefstroom. In die buitewyke van Johannesburg word die generaals gekonfronteer met ’n polisie-padblokkade. Hulle beveel die chauffeur om nie stil te hou nie. Later word hulle weer deur twee gewapende polisiemanne versoek om stil te hou, maar reageer ook nie daarop nie. Een van die polisiemanne vuur op die motor en generaal De la Rey word noodlottig getref. Hy sterf op die toneel ...

Sou dit werklik sy einde wees, of het De la Rey steeds ’n simboliese rol te speel?

 

Bibliografie
Johannes Meintjes: De la Rey – Lion of the West. Johannesburg, Hugh Keartland Publishers, 1966.
Thomas Pakenham: The Boer War. London, Futura Publications, 1988.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top