Steve Hofmeyr: Bannelingskap redux – stil is die windjie en skraal

  • 2

Bron: https://stevehofmeyr.co.za

O tempora! O mores! Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle presies dieselfde. Ex Africa semper aliquid antiqui.

Toe ek nou die dag die nuusblaaie oopwerp en so te sê oral hedendaagse vorme van bannelingskap raaklees, is dít die gedagtes wat deur my kop flits.

In Australië word Israel Folau, ’n professionele rugbyspeler van Tongaanse afkoms, ’n beroepsduisternis ingestuur omdat hy, volgens die meerderheid metropolitaanse Australiërs, die duisternis verkondig.

In Nederland word die Oranje-deur toegesmyt in die gesig van Steven Anderson, Arizona se sogenaamde haatprediker. ’n Visum is hom nie beskore nie. Malusi Gigaba, Suid-Afrika se voormalige minister van binnelandse sake, het dié tendens – en ’n tendens het dit gewis geword – in 2016 hier van stapel gestuur toe hy Anderson nie net ’n visum geweier het nie, maar selfs by voorbaat ’n verbod die toekoms in op sy binnekoms gelê het.

In die VK het daardie land se minister van binnelandse sake onlangs Shamima Begum, die sogenaamde Jihadi-bruid, van haar Britse burgerskap ontneem, met die hoop dat sy haar in Bangladesj, haar ouers se heimat, sou moes vestig.

In die VSA is Harvey Weinstein, Kevin Spacey en hoeveel ander beweerde sekspeste deur die hof van openbare mening uit hul eertydse kalklig gestu.

En nóú is die koerante en die twitter-heelal druk aan’t gons oor nóg ’n nuwe vorm van ballingskap wat hier ter plaatse sy kop uitgesteek het: die uitsaaimaatskappy MultiChoice het ’n verbod uitgevaardig op Steve Hofmeyr, die troebadoer van ’n sekere sektor van wit Afrikanerdom, en ’n akteur en skrywer.

Die idee dat die ordelike en ordentlike samelewing, die openbare ruimte binne die staat, sigself van probleemgevalle, van plae en van plaaggeeste kan suiwer deur hulle na buite die staat se grense te verban, is natuurlik so oud soos die berge.

Reeds in die bekende wetboek van die Babiloniese koning Hammoerabi (ca 1810–1750 vC) het verbanning deel van die staatsapparatuur uitgemaak. Sy verordening nommer 154 bepaal dat ’n man wat bloedskandelik met sy dogter omgegaan het, uit die stad verban sou moes word.

In antieke Griekeland én Rome was vorme van verbanning of uitwerping eweneens kragtige strawwe in die staat se arsenaal.

In Rome kon burgers eweneens by wyse van capitis deminutio op een van drie grade van ingryping van hul burgerskap ontneem word.

In antieke Athene weer was daar die ding met die naam ostrakismos. Iedere jaar kon die burgers van Athene – in die ekklesia, hul vernaamste volksvergadering – besluit om só ’n uitwerping of uitbanning toe te pas. As die meerderheidstem ten gunste daarvan uitgebring is, sou ’n seremonie gehou word waar name op potskerwe uitgegriffel is en in kruike laat val is. Met die telslag sou al die stukkies met X se naam daarop op ’n hopie geplaas word en een vir een afgetel word; so ook wat Y en Z, ens betref. Die wenkandidaat sou dus, anders as in Shirley Jackson se kortverhaal “The Lottery”, demokraties verkies word. Die stadspoorte was sy voorland. Van klagstaat en ’n reg op ’n verdediging was daar geen sprake nie.

In Middeleeuse Engeland is daar ’n kinkel in dié kabel gesit deur die gebruik dat misdadigers toevlug tot ’n kerkgebou kon neem om vervolging vry te spring. Daarná sou hulle hul burgerskap moes opsê en die land verlaat.

In so te sê alle gelowe is daar boonop ’n vorm van ekskommunikasie of shunning. Deesdae is die Sciëntoloë se gebruik daarvan dikwels in die nuus.

Dít als bring ons by die interessante en dalk verrassende hedendaagse neiging die wêreld oor – en ook hiér in Suid-Afrika – om die heersende morele konsensus toe te bou deur diegene wat strydig daarmee optree, ’n vorm van bannelingskap op te lê – hetsy by wyse van staatsoptrede, soos in the gevalle van Anderson en Begum, of deur die uitoefening van kontraktuele of ander kommersiële krag jeens ’n medekontraksparty of private individu.

In Folau se geval lyk die regskwessies ter sprake redelik eenvoudig. Al het ek nie sy dienskontrak gesien het, is die volgende waarskynlik die geval. Folau het ’n materiële beding ten aansien van sy openbare uitsprake wat in sy dienskontrak met Rugby Australia ingeskryf is, verbreek. Om daardie rede is laasgenoemde regtens by magte om sy dienskontrak te beëindig. Selfs as daar geen spesifieke beding in die kontrak was wat byvoorbeeld homofobiese plasings op sosiale media verban nie – en dít blyk ’n argument te wees waarop Folau tans steun – was sy optrede waarskynlik strydig met riglyne wat Rugby Australia vir sy spelers se optrede stel – welke riglyne direk of by implikasie in sy dienskontrak ingeborduur is.

Dalk is die argument ook – wat ook al die meriete daarvan – dat  sy optrede boonop teen ander landswette, oor onder meer gelykheid, ingedruis het.

In Steve Hofmeyr se geval is sake effe meer ingewikkeld. MultiChoice blyk nie ’n spesifieke kontrak met hom te hê nie. MultiChoice het dus nie gesê: “Hofmeyr, jy’t jou kontrak as inhoudverskaffer aan MultiChoice verbreek en daarom beëindig ons dit terstond” nie.

Nee, soos voormalige minister Gigaba met Anderson gemaak het, doen MultiChoice iets anders. Soos die Grieke van ouds, hou dit ’n private ostrakismos. Sonder ’n klagstaat en sonder om vir Hofmeyr die geleentheid te gee om homself te verdedig, besluit die MultiChoice-uitsaai-opperhere dat hý die stad moet uit: die kultuurprodukte wat hy in die verlede geskep het, sal voortaan nie op hul “platforms” speeltyd gegee word nie.

Sy rederykersmaskers moet stof vergaar en sy luit vergaan. Sy stem moet stil.

Dalk is ’n eenvoudiger voorsaat van dié klas van optrede om iemand summier op die swartlys te plaas omdat hy slegte skuld gemaak het – of daar nou ’n morele of regstegniese verontskuldiging daarvoor is of nie. (Lees in die uitspraak van die Kaapse hof in RFS Catering Supplies v Bernard Bigara Enterprises CC 2002 (1) SA 896 (C) die oorsprong na van hierdie tegniek om geldskieters te beskerm.)

Selfs al is mens geen aanhanger van Hofmeyr se politiek nie (soos ek – jare gelede is ek op sy blog en in sy boek Mense van my asem as ’n Domdrol van die Week uitgekryt vir ’n satiriese rubriek oor hom), kan mens beswaarlik die gevoel keer dat die uitbanning van diegene met ekstreme stemme ’n stap terug die verlede in is. Dit is in ’n oop en lewenskragtige demokrasie juis nodig dat stemme wat teen die hegemonie indruis, nie onderdruk word nie. Dat hulle juis gehoor moet word.

Dis immers so dat haatspraak as sodanig (en daar is dié wat redeneer dat Hofmeyr soms ten minste baie naby aan haatspraak kom) strafregtelik in die howe bereg word.

Meer nog, mens moet jou afvra of dit dan ’n goeie ding is dat ’n entiteit soos MultiChoice, ’n voorste vlagswaaier van die kapitalisme, mag besluit wie in die openbare sfeer mag praat en wat gesê mag word.

Vandag is dit Hofmeyr. Maar môre is dit dalk ’n stem wat om andere redes onrustigheid saai. Is daar nie ’n krieweling wat by mens se ruggraat oploop as dit die boontjietellers wat in só ’n maatskappy byeen is, is wat besluite van só ’n fundamentele aard kan neem nie?

Die Atheners het die besluit ten minste aan die burgery oorgelaat.

Uit ’n regsoogpunt is die knoop op die oog af dalk ’n eenvoudige een. ’n Maatskappy soos MultiChoice wat ’n winsoogmerk najaag – trouens enige private individu of regspersoon – mag tog, solank hul optrede binne die wetboek bly, doen net wat hulle wil. Hulle mag met ander potensiële kontrakspartye doen wat hulle wil om ’n groter inkomste te genereer.

Hulle mag kontrakteer of besluit om nie te kontrakteer nie.

En in dié tydsgewrig voel dit sekerlik vir MultiChoice dat Afrikaanse skottelverrinneweerders getallegewys deur ander TV-kykende oë oorskadu word. Dat om vir Hofmeyr die deur te wys hulle sal baat.

Die penningmeesters glimlag tevrede. Maar is dit vir die res van ons – vir ons demokrasie – iets goeds?

In die Handves van Menseregte in die Grondwet het Hofmeyr soos enigiemand anders ’n blommerangskikking van regte. Artikel 22 het die hofie “Vryheid van bedryf, beroep en professie” en lees so: “Elke burger het die reg om vrylik ʼn bedryf, beroep of professie te kies. Die beoefening van ʼn bedryf, beroep of professie kan deur die reg gereguleer word.”

Anders as in die tussentydse Grondwet van weleer het die finale Grondwet wel ’n bepaling dat die Handves-regte ten dele horisontaal geld.

Artikel 8 se kop is “Toepassing” en die artikel sê: “ʼn Bepaling van die Handves van Regte bind ʼn natuurlike of ʼn regspersoon indien, en in die mate waarin, dit toepasbaar is met inagneming van die aard van die reg en die aard van enige plig deur die reg opgelê.”

Die private individu mag baie meer vrylik sê: “Met jou kontrakteer ek nie.”

Maar as Hofmeyr se regte wat in artikel 22 verskans is – soos hy nou suggereer – heeltemal aan bande gelê word? Daar is ten minste die sweem van ’n argument.

En sekere mededingingsregslui mag dalk wonder: Is MultiChoice in die konteks van vandag se Suid-Afrika en die Afrikaanse uitsaaiwêreld – dink maar aan kykNET, VIA, ens – nie ’n noodsaaklike fasiliteit waartoe iemand soos Hofmeyr toegang gegee moet word nie? Waarsonder hy nie die mark kan betree nie. Nes ’n hawe met ’n spesifieke ligging wat vir die uitvoer van sekere goedere noodsaaklik is.

Dié vrae word sekerlik tans êrens in ’n konsultasiekamer onder tien of meer duur oë geneem.

Wat Hofmeyr se volgende skuif sal wees, moet nog gesien word.

Die saak ten gunste van Afrikaans en Afrikaanses word ironies waarskynlik deur Hofmeyr se stilte bevorder. Al mag sommiges van ons dáárvoor dankbaar wees, is die vraag wat kwel, ’n wyer en groter een: Hang ons nie maar net die nypende tekortkominge van ons ou brose demokrasietjie aan die groot klok as ons toelaat dat Hofmeyr – en wie volgende? – die swye só opgelê word nie?

Lees ook

LitNet Akademies Weerdink: Skottelbraai in Ghoema-land: die grense van Steve Hofmeyr se identiteitspolitiek

''Die Land'', Steve Hofmeyr en die grondhervormingsdebat

LitNet Akademies Weerdink: Die "Die Land"-musiekvideo, mites en nostalgie

Rondom "Die Land", Steve Hofmeyr, vryheid van spraak, en wie se taal is Afrikaans in elk geval?

  • 2

Kommentaar

  • Chris du Plessis

    Ja dis nou ironies hoe hier op menseregte aanspraak gemaak word, maar het jy geweet dat ons swart meerderheidsregering reeds meer as 114 nuwe rasgebaseerde wette gemaak het wat teen blankes diskrimineer ?
    Apartheid het maar net 17 rasgebaseerde wette gehad, maar niemand kla daaroor nie, want dit mos ok omdat ons dit verdien ... Liberale houding..
    Dis tyd dat Afrikaners en ander volke vir hul reg op selfbeskikking opstaan, want demokrasie is net ’n tirannie van die massas. Identiteitpolitiek word bedryf deur swart politici, want dis die maklikste manier om ’n meerderheidstem te vries. ... en wittes is die swartskape in die stryd, veral Afrikaners. Die Nazis het dieselfde gedoen met die Jode in Europa volgens die president. En om pro-Afrikaner te wees word as rassisties uitgemaak, ten spyte van die feit dat die reg op selfbeskikking en internasionale menseregte dit stel dat volke of etniese groepe ("peoples") die reg het om hul eie kultuur , sosiale en ekonomiese welvaart te bevorder en selfs hul eie politieke status te bepaal. Suid-Afrika het selfs internasionale Verdrag vir Politieke en Burgerregte geteken in 1994 - ja die einste ANC.
    Maar wanneer ons dit toepas word ons as rassiste voorgehou en as mense wat terugverlang na apartheid - nie net deur swart politici en die media nie, maar deur ons eie Afrikaner elite. ( http://www.un.org/press/en/2013/gashc4085.doc.htm )
    Steve mag dalk n baie kras manier he om Afrikaners se belange te bevorder, maar lyk my dit is die enigste manier hoe ons ’n impak kan maak terwille van ons eie voortbestaan.
    Selfbeskikking is besig om die in ding te word in Europa. Dit is die nuwe liberalisme wat vryheid vir volke en minderheidsgroepe nou ’n prioriteit maak. Ek wonder wanneer gaan ons verligtes die lig sien. Hulle klou nog te veel vas aan apartheid en skuldgevoelens uit die verlede en hou dit hoofstroom ... maar hoe lank moet Afrikaners daaronder lei? Ons het ook ’n plek in die wêreld en dis tyd om dit te erken en realiseer. ( http://www.un.org/press/en/2013/gashc4085.doc.htm )

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top