
’n Skermgreep uit die musiekvideo "Die Land" (Foto: YouTube)
- Gaan lees nog ’n perspektief op uitbeeldings van Afrikanerwees in Afrikaanse musiek in die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel “De la Rey, De la Rey, sal jy die Boere kom lei?”, tien jaar gelede gepubliseer.
Ek skryf na aanleiding van die storm wat tans rondom Steve Hofmeyr, die Ghoemas, MultiChoice en Hofmeyr en ander kunstenaars se musiekvideo “Die Land” woed.
Burgers van postapartheid Suid-Afrika word in beginsel en praktyk ruim vryhede in hulle vorme van spraak gegun. Anders as met sensuur gedurende apartheid, word Hofmeyr en andere se musiekvideo “Die Land” en Hofmeyr se ander dikwels kontroversiële aktiwiteite en aktivisme byvoorbeeld nie deur ’n sensuurraad en uitsaaier van die staat verbied nie. “Die Land” is vrylik toeganklik via die internet. Openbare debat daaroor word toegelaat.
Nietemin het MultiChoice gedreig om hul borgskap van die Ghoemas te onttrek indien Hofmeyr se musiekvideo se benoeming vir ’n Ghoema-toekenning nie onttrek word nie. Twee skrywers van wie ek bewus is wat alreeds op hierdie polemiek gereageer het, blyk dit goed te dink dat MultiChoice weens vryheid van assosiasie hierdie voorwaardes aan die Ghoemas kon stel.
Na my mening is MultiChoice se besluit rakende Hofmeyr en die Ghoemas kommerwekkend. Te danke aan dekades se disfunksionele bestuur by die SABC en die afwesigheid van enige ander kabel- of satelliettelevisiemaatskappye is MultiChoice Suid-Afrika se de facto-uitsaaier. Boonop het MultiChoice intussen nog ’n verdere verklaring uitgereik dat hulle nie meer enige inhoud van of oor Steve Hofmeyr gaan uitsaai nie. Hierdie skuif marginaliseer gevolglik vir Hofmeyr en verplaas enige diskoers oor hom uit die hoofstroommedia na die regse rande van die internet, waar wit nasionaliste se teorieë oor ’n verskeidenheid samesweringskomplotte floreer.
Hofmeyr se talle volgelinge word sodoende byna noodgedwonge aan ’n ekosisteem van verregse gedagtes blootgestel; aan uiters konserwatiewe gedagtes waarmee hulle waarskynlik alreeds tot ’n mate identifiseer, maar ook binne ’n omgewing waar daardie gedagtes nie deur enige verantwoordelike teennarratiewe getemper of gekontekstualiseer kan word nie. Enige sosiaal bewuste (en funksionele) uitsaaier van die staat sou hierdie verloop van sake wou vermy, nie deur Hofmeyr en sy soms ekstreme uitlatinge te verban nie, maar juis deur eerder binne die hoofstroommedia op daardie uitlatinge te reageer.
Hofmeyr se ideologiese opponente in die uitsaaiwese en kunstebedryf sal waarskynlik argumenteer dat hy, sy musiek en sy aktivisme nie meer binne die grense van normale omstandighede val nie. Moontlike voorbeelde wat genoem kan word om so ’n stelling te staaf, is Hofmeyr se ongegronde opmerking op sosiale media dat swart mense eintlik die argitekte van apartheid was, sy uitvoerings by kunstefeeste en in konserte van die apartheidvolkslied “Die Stem van Suid-Afrika”, sy klaarblyklike heldeverering van die ontslape AWB-leier Eugène Terre'Blanche, en sy posering in foto’s op sosiale media voor die ou Suid-Afrikaanse vlag.
Tog is daar tot op hede niks in die postapartheid staat se liberale wetgewing wat hierdie spesifieke voorbeelde van ekstreme spraak verbied nie. (Die gelykheidshof gaan binnekort ’n toonaangewende uitspraak oor die ou Suid-Afrikaanse vlag lewer.) Wanneer sulke ekstreme spraak wel toegelaat word, maak MultiChoice se reaksie teen ’n myns insiens relatief onskuldige musiekvideo soos “Die Land” nie sin nie. MultiChoice wat die Guptas se nuuskanaal uitgesaai het. MultiChoice wat pornografie en geweld uitsaai. MultiChoice wat Christelike profete se sogenaamde genesing van mense met ongeneesbare siektes soos MIV/Vigs uitsaai.
Daar word geen uitdruklike haatspraak of ander onwettige spraak in “Die Land” geopper nie. Mens moet eers veelvlakkige subtekste en kontekste konstrueer – waarvoor hierdie liedjie in elk geval eintlik te banaal is – voordat enige soort ongewenste spraak daarin gelees kan word: die soort subtekste en kontekste wat byvoorbeeld Hofmeyr se stelling oor apartheid se vermeende swart argitekte in ag neem. Mens beweeg in so ’n interpretasie van musiek uiteraard al hoe verder weg van die musiekstuk self en kyk eerder na die werk se sosiale omstandighede, na die posisionering en ontvangs daarvan binne die samelewing.
So word dit dan moontlik om hierdie musiekvideo te lees in terme van die ooglopende rassisme wat by tye op sosiale media geuiter is deur sommiges met ultra-ekstreme sienings wat hulself daarmee en met Hofmeyr assosieer. Om van Hofmeyr te verlang om homself van hierdie volgelinge se rassistiese kommentaar te distansieer, is billik. Om met so ’n sosiomusikologiese interpretasie van “Die Land” se rassistiese resepsie Hofmeyr egter as ’n rassistiese persoon te tipeer, en hom daarvolgens van haatspraak te beskuldig, is baie moeilik, of selfs onmoontlik.
MultiChoice se toepassing van finansiële sensuur op Hofmeyr en “Die Land” het negatiewe gevolge vir Suid-Afrikaanse interkulturele dialoogvoering op ’n stadium in die postapartheid bestel se ontwikkeling wanneer daardie dialoog weer eens uiters noodsaaklik geword het. “Audi alteram partem” (“Luister na die ander kant”) is ’n verantwoordelike strategie in enige samelewing waar ’n regverdige samehorigheid die verlangde eindpunt is.
Grondhervorming blyk die mees aktuele onderwerp te wees waarop “Die Land” sinspeel. (Die musiekvideo is verder miskien ook bedoel vir persone wat hulle daagliks bekommer oor plaasmoorde.) Binne die konteks van die grondhervormingsdebat word enige besluit om Hofmeyr se spraak in “Die Land” te probeer stil maak, effektief verstaan as ’n poging om ’n teikengroep wit boere, vir wie hy dikwels as ’n spreekbuis dien, ook te probeer stil maak. Die marginalisering binne publieke diskoers van daardie bevolkingsgroep, die besluit van radikales om daardie boere uit die staanspoor heeltemal te ignoreer, om hulle deelname aan die grondhervormingsdebat as vanselfsprekend kolonialisties en rassisties af te maak, is ’n gevaarlike benadering tot hierdie brandende sosiale kwessie, waarvan die moontlike uiteinde ’n ekonomie is wat in duie stort en hongersnood.
Met my voorstel om te luister na die ander kant, bedoel ek nie dat almal met insae uiteindelik saam op dieselfde oplossings vir grondhervorming moet besluit nie. Dit gaan nooit gebeur nie. Hoekom? In hierdie spesifieke geval: Hofmeyr se publieke diskoers en aksies vorm dikwels deel van verregse, wit nasionalistiese gesprekke, wat uiteraard bots met die swart nasionalisme en populisme van sommige Suid-Afrikaanse politieke partye. Elkeen van hierdie meer ekstreme politieke posisies is in outentieke vorm onversoenbaar met mekaar.
Daar bestaan nietemin die moontlikheid om ’n ideologiese middelgrond te konstrueer, soos wat 25 jaar gelede in Suid-Afrika gebeur het. Hierdie middelgrond word moontlik gemaak deurdat ’n kritieke massa van verbeeldingryke mense met versigtigheid na alle dele van die politieke spektrum luister en dan toepaslike idees op pragmatiese wyse leen om iets nuuts en doenbaar te skep.
In ons huidige era van sterkmanpolitiek, aanlyn troldiskoerse en ideologies-gedrewe terrorisme word die moontlikheid om ’n middelgrond te konstrueer tog uiters moeilik. Diegene wat ’n middelgrond op voetsoolvlak wil bou, moet die noodsaaklikheid van kalm gesprekke en onderhandelinge met persone met uiteenlopende ideologiese perspektiewe verstaan. Genoeg alledaagse mense wat nie ekstremistiese wêreldbeskouings aanskryf nie, moet ook verstaan dat die uitvoering van vredevolle samelewings op kompromie staatmaak.
Soos Umberto Eco in ’n ander konteks verduidelik: In enige onderhandeling kan mens nie alles kry wat jy wil hê nie, maar mens is op die uiteinde tevrede omdat almal wat aan die onderhandeling deelneem, nie alles kry wat hulle wil hê nie. Waar grondhervorming ter sake is, gaan ons almal nie alles kry wat ons wil hê nie, of ons gaan ’n grootskaalse konflagrasie moet probeer trotseer waarin byna niemand kry wat hulle wil hê nie. Sensuur van mekaar se wettige spraak is een van die vinnigste maniere om daardie konflagrasie aan te hits, omdat dit al hoe erger vorme van spraak aanmoedig wat die geringste moontlikheid van ’n regverdige sosiale samehorigheid tussen Suid-Afrika se diverse kulture bemoeilik.
Lees ook
Steve Hofmeyr: Bannelingskap redux – stil is die windjie en skraal
Rondom "Die Land", Steve Hofmeyr, vryheid van spraak, en wie se taal is Afrikaans in elk geval?
LitNet Akademies Weerdink: Die "Die Land"-musiekvideo, mites en nostalgie
Kommentaar
Hoe meer Afrikaners en Afrikaner aktiviste uitgesonder word vir spesiale behandeling, hoe meer groei die steun vir Afrikaner nasionalisme en hoe beter raak die kans op selfbeskikking en onafhankkliheid.
Die meningstuk kort konteks tov werklike rassistiese uitsprake en idelogieë soos Julius Malema s'n. 'n Vergelyking met Steve se uitsprake sal beter agtergrond skep vir die leser.
Wat dink Steve Hofmeyr van Apartheid? Kyk maar hier en besluit of hy 'n rassis is ...
https://www.facebook.com/296874531178085/videos/2152820461690604/?__tn__=kC-R&eid=ARACx7z11WRCPBLGjxwT1AMOU4M1Lz8Y6OoA66oEYlvUkOuFx3sn0lH3LjnvFgSS9nKx48GJDeg_11N_&hc_ref=ARQa34us0XzZcE3xNy5GtIDK7746W3IjTWVPSJOieuWyo3epO9GCOicDoQfSmAUFIFA&fref=nf&__xts__%5B0%5D=68.ARCeg0cljT2k8RseL6hnNfw6CekjLb6CFM0jhxEkmTuTeQX6jC41zUstLjSl1T-Qi-JYOW3QT16RPZwr-i_wT-yvLjWLg0Gytd9QxSd9sHkdoRRPe8GnGiucJYTbIF3YihTDSh1a7xpeUNS_rsq-Vsukd2EO0fC7yOWPrPBBdm6pcudlCffyH1zRi8guYWHu_5mruLEtkEJxffnl6fFNeXh7Vlh3TBzg3kl7lCPXtLcUeUy4l_hwkMEIj5hg1_ne59AlWmUZPLuAC0Q-