’n Transnasionale poëtika in Afrikaans: ’n onderhoud met Louise Viljoen

  • 1

Louise Viljoen is in Mei vanjaar met ’n ATKV|SA Akademie-prys bekroon vir haar LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel “‘’n Postkoloniale Umweltkas’: die vraag na ’n transnasionale poëtika in Afrikaans aan die hand van Marlene van Niekerk se Kaar” (2017).

Janien Linde het met Louise ’n onderhoud oor haar artikel gevoer.

Al is die prys reeds in Mei 2019 aangekondig, kan Louise Viljoen gerus weer gelukgewens word met die toekenning van die ATKV|SA Akademie-prys vir hierdie artikel. Dit is voorwaar ’n wonderlike prestasie. 

Hiermee ’n paar vrae oor die artikel. 

Louise Viljoen


Hoe moet ’n mens transnasionale poëtika as begrip verstaan?
 

Ek skryf aan die begin van die artikel dat poësie vanweë die verknooptheid daarvan met ’n spesifieke taal as byna onhebbelik lokaal beskou kan word, maar dat dit aan die ander kant teer op ’n uitgebreide stoorkamer van poëtikale opvattings, denkraamwerke, vorme, tegnieke, trope, beelde en verwysings wat nie gebonde is aan nasionale of talige grense nie en wêreldwyd sirkuleer.

Die begrip transnasionale poëtika is dus nodig of nuttig wanneer ’n mens probeer beskryf in watter mate ’n bepaalde digter se poëtika (dit is, opvattings oor die aard van poësie) nie slegs gebonde is aan die nasionale of talige konteks nie (’n mens moet onthou dat Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde nie ’n nasionale taal of letterkunde is nie, maar slegs een van verskeie tale en letterkundes in Suid-Afrika).

Die Afrikaanse poësie is in die loop van sy ontwikkeling blootgestel aan ’n magdom invloede van oor die hele wêreld, met die gevolg dat dit al baie lank nie meer net gebaseer is op opvattings eie aan die spesifieke konteks waarin dit geskryf is nie. Daar is byvoorbeeld die invloed van die modernisme (later ook die postmodernisme), die formaliste se opvattings oor kuns (dit kan die mens se ervaring van die bekende wêreld vreemd maak deur taal afwykend te maak), en ’n verskeidenheid ander maniere van dink oor die poësie.

Dit is waarom ek in hierdie artikel ondersoek wou instel na in watter opsig ’n mens aan die hand van ’n toetsgeval soos Marlene van Niekerk se digbundel Kaar sou kon bewys dat daar in Afrikaans wel sprake is van ’n transnasionale poëtika. Dit was besonder lonend om na juis haar poësie te kyk: Sy het in verskillende onderhoude baie duidelik uitgespel watter poëtikale opvattings, filosofiese raamwerke en kontemporêre vraagstukke die onderbou van haar poësie vorm. Verder kom dit ook baie duidelik na vore in Kaar en die vier gedigte wat ek gekies het om meer deurtastend te ontleed. 

Jy beskryf Kaar as “’n postkoloniale Umweltkas”. Wat bedoel jy hiermee? 

Ek het die frase gehaal uit die gedig “Etologie” in Kaar wat ek in die artikel bespreek. In my artikel verwys ek na die feit dat Afrikaans ’n produk of uitvloeisel is van die kolonialisme as een van die groot prosesse van transnasionale beweging wat in die loop van ons planeet se geskiedenis plaasgevind het.

Die taal is die produk van die vestiging van die VOC se verversingstasie aan die Kaap en die vermengings en kreoliserings wat daarop gevolg het. Die letterkunde in Afrikaans is eweneens die resultaat van hierdie geskiedenis en put boonop uit die wye wêreld vir vormlike en inhoudelike inspirasie. As inwoner van postkoloniale Suid-Afrika tree Marlene van Niekerk in die gedigte wat ek bespreek eksplisiet in gesprek met haar eie geskiedenis as die afstammeling van Nederlandse setlaars in Suid-Afrika en dus as produk van hierdie transnasionale proses.

Terselfdertyd argumenteer sy dat die mens sigself nie alleenlik moet plaas binne ’n mensgeoriënteerde siening van die geskiedenis nie, maar ook binne “’n wyer biosemiotiese konteks”, soos wat sy dit in ’n onderhoud met Louis Esterhuizen op Versindaba stel. Die mens is maar een element tussen miljoene ander op ons planeet wat reeds grondig aangetas is deur die inwerking van die mens.

Die gedig “Etologie” verwys onder andere na die werk van die biosemiotikus Jakob von Uexküll en Giorgio Agamben se kommentaar daarop om te suggereer dat die spreker in die gedig nie veel verskil van die luis (een van Von Uexküll se voorbeelde) wat volkome ingestel is op bepaalde seine uit haar “Umwelt” (die omgewing soos ervaar vanuit ’n spesifieke perspektief) nie.

Net so reageer die spreker in die gedig op die seine gestuur deur die postkoloniale Umwelt Suid-Afrika in die 21ste eeu waarin sy haar bevind (sy is bewus van haar bevoorregting, bang vir geweld, skrik vir haar eie skaduwee, ens). Ten slotte dink sy dat haar soort (’n middeljarige wit vrou in Suid-Afrika) eintlik uitgestal behoort te word in “’n postkoloniale Umweltkas” by die Departement van Binnelandse Sake as ’n soort vertoonstuk van ’n bepaalde soort Suid-Afrikaner wat aan die uitsterf is.

Vir my was dit ’n frase wat ’n hele aantal van die kwessies wat ek in die artikel wou ondersoek, bymekaargebring het: die belangrike rol wat die kolonialisme en postkolonialisme speel in die transnasionale aard van die Afrikaanse taal en die Afrikaanse letterkunde, die spreker in die gedigte waarop ek fokus se doelbewuste gesprek met haar geskiedenis as afstammeling van Nederlandse setlaars in Suid-Afrika, en die gevoel van blootgesteldheid en weerloosheid wat sy in die postkoloniale wêreld ervaar. Daarbenewens bring die verwysing na “Umwelt” in die frase ook die spreker in die bundel se siening van die mens in biosemiotiese verband, as maar een van die entiteite op ons planeet, na vore.

Mense beweeg reeds van antieke tye af oor die aarde rond. Hoe verskil die moderne mens se bewegings van dié uit vroeër tye? En dan: Hoe verskil die begrip transnasionaal van ander begrippe soos globaal en internasionaal? Watter ander teoretiese moontlikhede bied dié begrip en term, en waarom is dit juis relevant vir die studie van letterkunde?

Die moderne mens se bewegings oor die aarde heen verskil van dié van vroeër deurdat dit as gevolg van allerlei ontwikkelinge makliker, meer toeganklik en meer algemeen geword het, ook dat die bewegings vinniger kan plaasvind. Verder word die beweeglikheid natuurlik ook op virtuele vlak bemiddel: deur middel van die internet kan gedagte-inhoude, invloede, en so meer al hoe vinniger beweeg en bepaalde uitwerkings hê.

Wat die onderskeid tussen transnasionaal en globaal betref, word daar gesê dat transnasionaal wel iets oordra van ’n skrywer of ’n teks se plasing binne ’n bepaalde (nasionale) konteks en die roetes daarvandaan oor bepaalde grense heen, teenoor globaal, wat geneig is om alles gelyk te stel in ’n homogene geheel.

Vir baie mense impliseer globalisering integrasie in ’n enkele sisteem, wat veral kulturele verskille nivelleer om die agenda van die magtiges in die wêreld te dien. Jahan Ramazani, na wie se boek Transnational poetics ek in die artikel verwys, beweer dat internasionaal verwys na ’n uitruiling tussen statiese nasionale entiteite, terwyl transnasionaal groter vloeibaarheid oor die grense van nasiestate, streke en allerlei ander grense in verskillende rigtings heen suggereer. Hy is egter versigtig genoeg om daarop te wys dat transnasionale bewegings positiewe verskynsels (kulturele uitruilings, verruiming) én negatiewe verskynsels (terrorisme, stralerjakkery, neoliberale globalisme) kan versprei.

Ek dink dat ons as letterkundiges sal moet dophou hoe die begrip transnasionaal ontwikkel. Binne die kulturele (en dus ook literêre) konteks word die term soms met groot optimisme gebruik om te dui op vrye uitruiling, samewerking en kreatiewe verhoudings oor grense heen, maar die term sal nog verder getoets en getakseer moet word.

Daar word vandag algemeen verwys na die “globale Noorde” en die “globale Suide” as ’n manier om na te dink oor die historiese verspreiding van kapitaal en hulpbronne oor die aarde heen. Is hierdie benamings nie weer eens ’n oorvereenvoudiging soos “Eerste- en Derdewêreldlande”, of die “Weste en die ander” nie? Waarom is hierdie tipe benaming in die huidige diskoers nuttig en watter bydrae lewer dit tot die verstaan van iets soos ’n transnasionale poëtika?

Jy is heeltemal reg om te dink dat die gebruik van die terme globale Noorde en globale Suide ’n oorvereenvoudiging van ’n baie komplekse geopolitiese en ekonomiese realiteit is. Die term globale Suide het in die afgelope aantal jare, veral onder die invloed van sosiale antropoloë soos John en Jean Comaroff, ’n nuttige maar veralgemenende term geword om bepaalde verskille te beskryf. Ek merk dat daar al hoe meer weerstand begin opbou teen die term globale Suide, veral omdat dit die enorme verskille tussen die geskiedenisse en omstandighede van lande in die Suidelike Halfrond saambring in ’n enkele term.

Ek gebruik self die terme globale Noorde en globale Suide in die artikel omdat dit iets vasvang van sommige van die teenstellings wat Marlene van Niekerk in die bundel ter sprake bring, veral dié tussen Nederland en Suid-Afrika. Sy gee egter besonder betekenisvolle en gedetailleerde inhoud aan die teenstelling en sinspeel ook met ’n gedig soos “Sorry suide” (waaroor ek ook in die artikel skryf) daarop dat daar verskillende “suides” is, nie net een Suidelike Halfrond nie.

Ek dink egter dit sal ons baat om nie te verval in vereenvoudigende teenstellings wanneer ons oor ’n transnasionale poëtika dink nie. Transnasionale bewegings waaier uit in alle rigtings (soos wat Kaar ook doen) en beweeg nie net tussen twee pole nie. Ek sal my terme in die toekoms versigtiger kies! 

Heelwat van Marlene van Niekerk se werk is al in ander tale, soos Engels en Nederlands, vertaal. Haar nuutste twee digbundels wat in 2017 verskyn het, Gesant van die mispels en In die stille agterkamer, bevat telkens die Afrikaanse en Nederlandse weergawes van elkeen van die gedigte. Kaar het egter nog nie in vertaalde vorm verskyn nie. Hoe verstaan ’n mens die transnasionale beweging van letterkunde in ’n klein taal soos Afrikaans, en veral dan in onvertaalde vorm? 

Ek dink een van die redes waarom Kaar nog nie in Nederlands of Engels vertaal is nie, is gewoon omdat dit so ’n komplekse, ryk en omvangryke bundel is. Dit gaan ’n enorme taak wees om die bundel uiteindelik te vertaal.

Die punt wat ek met hierdie artikel wou beklemtoon, is dat die bundel onderlê word deur ’n transnasionale poëtika: Dit beweeg oor allerlei grense heen om te put uit ’n verskeidenheid tale, poëtiese opvattings, intellektuele tradisies en wetenskaplike kennisvelde (om maar net enkele bronne te noem wat in die bundel ontgin word).

Verder fokus dit op politieke kwessies wat wêreldwyd om aandag vra, veral dié wat die omgewing raak. Dit gaan dus enersyds oor die transnasionale bewegings waardeur ’n skrywer en ’n letterkunde gevoed word. Andersyds gaan dit egter ook oor die transnasionale bewegings wat tekste kan onderneem wanneer hulle vertaal word en deur mense uit ander taalgebiede en lande gelees kan word sodat ook hulle kan put uit die wyse waarop Marlene van Niekerk die wêreld in haar poësie vertolk.

Vertaling is een van die maniere waarop die transnasionale beweging van ’n letterkunde in ’n klein taal soos Afrikaans kan plaasvind. ’n Ander manier sou die aktiewe samewerking met skrywers uit ander tale wees, dalk iets soos kreatiewe samewerkings waarin verskillende tale ’n rol speel, iets wat wel op die oomblik onder die jong digters in Suid-Afrika gebeur. 

In die artikel verwys jy na “’n nuwe transnasionale en planetêre bewussyn” wat in Kaar te sien is. Brei asseblief hierop uit? 

Ek het reeds in die vorige vraag kortliks hierna verwys. Ek sluit my bespreking van die bundel af met ’n verwysing na die gedig “Teorie en praktyk van die digkuns in ’n era van aardgas” met die subtitel “vir die meesters van Shell, ’n boodskap uit Suid-Afrika”.

In hierdie gedig is dit duidelik dat die spreker se bemoeienis en bekommernis wyer strek as net die nasionale probleme van Suid-Afrika. Daar is ’n bewustheid van deel-wees van ’n groter gemeenskap, naamlik dié van die bewoners van die planeet, wat oor nasionale grense heen sal moet saamwerk om die groot probleme van ons tyd aan te spreek. In die gedig, wat handel oor Shell se voornemens om breking in die Karoo te doen in die soeke na aardgas wat hulle kan ontgin, word daar solidariteit betuig met Ken Saro-Wiwa, ’n Nigeriese skrywer en aktivis wat Shell gekritiseer het vir die manier waarop hulle ontginning van olie die omgewing in Ogoniland besoedel het en mense vertrap het.

Saro-Wiwa is in die negentigerjare op hoogs verdagte en onregmatige wyse deur die destydse Nigeriese regering verhoor en tereggestel (iets waarvoor Shell onlangs meer as $15 miljoen skadevergoeding aan Saro-Wiwa se familie betaal het in ’n skikking buite die hof). Dit getuig vir my van ’n transnasionale solidariteit met ander digters wat hulle beywer het vir die bewaring van die omgewing en die regmatige verdeling van die opbrengste uit grondstowwe soos olie. Dit is verder ’n demonstrasie van die feit dat plaaslike belange altyd op die een of ander manier verbind is met transnasionale kwessies en dat die groot probleme van die wêreld deur transnasionale samewerking aangespreek sal moet word. 

Is daar ander Afrikaanse digters of skrywers in wie se werk soortgelyke bewegings sigbaar is? Kan jy ’n paar voorbeelde gee? 

Omdat my artikel gehandel het oor ’n transnasionale poëtika, sal ek verkies om in my antwoord te verwys na die situasie van Afrikaanse digters, maar sonder om name te noem. Ek dink daar is byna nie ’n digter in Afrikaans wie se werk nie berus op ’n transnasionale poëtika nie – die meeste Afrikaanse digters is beïnvloed deur poëtikale opvattings en intellektuele tradisies wat uit ’n groter wêreld as net die Afrikaanse of die Suid-Afrikaanse kom (hetsy Europa, die Ooste of Afrika).

Daar is ook talle digters wie se werk getuig van die soort aansluiting by planetêre vraagstukke wat ’n mens in Marlene van Niekerk se werk sien. Daar is minder digters wie se werk transnasionaal beweeg en wie se werk in ander tale as Afrikaans vertaal word. Slegs enkele Afrikaanse digters se werk word in ander tale soos Engels en Nederlands vertaal.

Vanweë die historiese en talige verbande kon Afrikaanse digters nog altyd reken op Nederland as ’n afsetruimte vir die Afrikaanse poësie. Myns insiens het dit te doen met die feit dat dit meestal moeiliker is om poësie te vertaal as prosa (dit is dalk ’n ondeurdagte stelling waarvoor vertalers my kan afransel), en ook omdat die roman ’n meer populêre en kommersieel suksesvolle genre is as die poësie. 

Baie dankie!

 

Lees ook

LitNet Akademies-resensie-essay: Kaar 'n klein ensiklopedie van woord en digkuns

Die hadeda as liminale dier in Kaar van Marlene van Niekerk

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top