Titel: Kaar
Skrywer: Marlene van Niekerk
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798163057
Koop Kaar nou by Kalarhari.com.
1. Vooraf
Kaar is Marlene van Niekerk se eerste digbundel sedert Groenstaar (1983) (wat op Sprokkelster (1977) gevolg het). Sedert die twee vroeë digbundels is daar enorme groei in die hantering van die taal, die beeld en die gedig as medium, maar die onderliggende temas toon ’n duidelike verwantskap. Miskien is die mees opvallende eienskap van die drie bundels die intense bewustheid van die land en die landskap. Die land leef in hierdie gedigte – hoofsaaklik Suid-Afrika, maar ook talle ander plekke in die wêreld. Die ruimte is dikwels in hierdie digter se werk ’n bepalende faktor by die interpretasie van ’n gedig. In Van Niekerk se roman Agaat was die land en die plek, die spesifieke plekke, ook sentraal. Naas die land leef ook die flora en fauna van die land in die teks, en ruimte en tyd ontmoet mekaar gereeld in die seisoene. Die seisoene en die betrokke ruimte bepaal dikwels die lees en verstaan van ’n teks.
Die ooreenkomste van Kaar met die twee vroeëre bundels gaan egter veel verder as net die rol van die land en die landskap. Ten minste net so sterk is die rol van die enkeling teenoor die groep. Van Niekerk se gedigte word bevolk deur ’n wye verskeidenheid figure en karakters, soms te onderskei van "mense". Haar eerste twee bundels het mens reeds die romanskrywer, die verteller, in die onderbou laat vermoed, net soos haar romans telkens ook die digter laat deurskemer het. In hierdie nuwe en uitgebreide bundel is die digter getrou aan die digkuns as medium, maar staan die romanskrywer ook telkens agter die teks. Sonder om verder in te gaan op die verhouding digter-romanskrywer, is dit nie ’n faktor om te ignoreer nie. In die meeste gevalle versterk dit die teks, alhoewel daar gevalle is waar die twee mediums effens lyf skuur en mekaar nie aanvul nie. Maar nou ja, hoef ’n leser regtig die twee vorme altyd uitmekaar te hou?
In ’n gedig oor "mevrou cs steen-van den heuvel (79, arts) in ’n boodskap aan die jeug" lui dit:
speur reëlmatig deur die hol gewelwe
van julle drome en jul ingewande
na die onvermoeide strakke dirigent
van alle menslike motiveringe
en wees beskeie in jul verdigsels
ek laat my nie vang met mooi woorde nie
ek is swart en wit
abstrak en onverbiddelik
ek is die einde van alle vereenselwiging. (Groenstaar, 26)
In hierdie aanhaling van die geleerde arts vermaan die dame die jeug om hulle individualiteit te behou, om nie in die gang van drome die ruwe realiteit te ontken nie en om selfs in die abstrakte denke die streng orde én wanorde van die lewe te herken en te erken. Die digkuns van Van Niekerk vertoon hierdie elemente: die filosofie en die wrede werklikheid word met mekaar versoen; die individu loop nie agter die algemene tendense aan nie; en "mooi woorde" word geïnterpreteer as die volledige Afrikaanse leksikon wat bestaan, aktief en passief, en dit word verreken binne die grense van die teks, in hierdie geval die poësie, eerder die gedig, as woordbouwerk. Wees onverbiddelik ook met die taal, seg "mevrou cs steen-van den heuvel". Wees egter ook bewus van die "onvermoeide strakke dirigent" wat die mees onverwagte wendinge inbou in sy lees van die lewe as partituur. Ook hierdie kenmerke is wesenlik deel van Kaar.
Daar is verdere taal- en ander liefdes wat oral deurspeel – die parodie, die satire, maar ook die menslikheid, die deernis, en die woede oor onreg
2. Periandros praat met Arioon, die digter
Wanneer Periandros alles verloor het en opdrag gee vir sy eie moord, praat hy daarna, in Arioon se afwesigheid, met die digter en gee goeie raad:
So maklik word die gedig ’n abstrakte gesprek wat weg beweeg van die aardse realiteit, of wat vasgestrik raak in metafisiese vlugte. Sekerlik is daar plek vir metafisiese en abstrakte poësie, maar in minder bekwame hande as dié van ’n Arioon of ’n NP Van Wyk Louw verloor dit die kontak met die natuur, die aardse skepping en die brutaliteit, selfs banaliteit, van menswees. Die spel rondom die argetipiese, die filosofiese insig, en die onsigbare kan so maklik in vaagheid verval waar die "ding van God" oorskadu word deur die bieg, die selfbeheptheid en "de gekrulde ik". Persoonlike ervaring word meer as net ’n stimulant vir ’n vers; dit word die gedig self. Wanneer Periandros hierdie woorde spreek, het hy al die gruwels wat hy ontketen het, beleef, en wag hy op sy drie stelle sluipmoordenaars. Die lewe het sy orde verloor, en as loon vir die versteuring van die orde moet Periandros geslag word soos die wildevark.
In Kaar stuit Marlene van Niekerk nie voor die wanorde, die chaos, wat sy waarneem nie. Die gedigte in hierdie bundel betrek nie die volle baaierd soos in Opperman se werk nie, maar dit is bewus van insek, plant, die aardse, land en verval. Dwarsdeur die bundel is die aarde daar as "elke ding van God", maar die verval van Periandros en sy stad Korinthe staan direk daarnaas.
Die bundel begin met liriese verse, gaan oor in verse oor aktuele sake, en keer terug na die liriese. Maar niks is helaas suiwer nie; in alles is daar die ruheid van die werklikheid. In "Seun wat visvang" (10) stap ’n vaalhaarseun met die visstok op sy skouer om by die maalgat te gaan hengel – ’n mooi pastorale toneel waar die jeug in verhouding tree met die natuur. Vir die seun word dit ’n ontmoeting met die water, die visse en sy eie emosies. So saggies soos "op pote van muskeljaatkat" kom hy aan by sy bestemming. Hy moet self die onrus versteur, want hy moet die vis verskrik en wag op die pluk aan die lyn. Maar dan is daar vir hom geen keer aan sy jeugdige wellus en wreedheid nie, en dit word ’n orgie van magsvertoon:
En so skep die kind die middag lank vis op vis wat hy terugsmyt
in die gat, die konings, die vasalle, handlangers,
rooivlerke, bloubekke, silwer karnalle.
Moeg van heers, sat van geluk, die hengel onverskillig
slap langs sy knapsak met verveelde brood
beur hy ’n klipkolom uit die plaat en bom dit in die kuil,
vee vloekend af wat opskiet oor sy bors,
onder hom die poel ’n pupil van verskrikking,
die gras aan die oewer soos wimpers neerflakkerend
vir ’n nagwaak by verwondes.
Die rustige toneel word ’n veld van verwoesting. "Tog," sê Periandros, "met Korinthe het ek in die wêreld magte losgemaak/ wat ek as enkeling en niemand ooit weer baas sal raak" (116). Die digter is enersyds Periandros wat binne die digkuns ’n heerser is, ook egter ’n Arioon wat alles moet notuleer.
Na die visvangs stap die vaalhaarkind terug na die kamp, die bier en "die lamsnek aan die spit":
Met sy tongpunt
stryk hy triest ’n rouplek in sy linkerkies, terwyl sy vader
hande vat en hardop vir die braaivleis bid.
In die geheel is hierdie gedig ’n patroon van kontraste, en word dit om daardie rede so erg menslik; ook is dit ’n beeld van orde en versteurde orde, van emosionele wellus, en word dit openbaring van interne menslike konflik. In hierdie teks is daar ’n samehang van die natuur in sy eie gang en rus, die verwoestende mens, en tog ook die deernis vir die mens uitgelewer aan sy eie aard. Dié pragtige gedig spreek vir homself, en geen diep "analise" is nodig om by die kern te kom nie.
3. NP Van Wyk Louw praat met die leser
"Vir die werklike verstaners (nie die 'kenners' nie) moet ek byvoeg: ’n vers kan meer as een implikasie hê – nie betekenis nie" (Rondom eie werk, 15). So maklik word daar van verskeie betekenisse gepraat. In die semantiek is dit moontlik dat ’n woord meer as een betekenisveld kan hê, en natuurlik kan dieselfde "vorm" leksikografies verskillende betekenisse, dikwels verwysings, akkommodeer. ’n Gedig egter kan ’n verskeidenheid lesings oplewer, mits die teks en sy verwysingsraamwerk dit toelaat.
In die gedig oor die seun wat visvang, kan daar sekerlik verskeie interpretasies wees. Maar eers moet die primêre betekenis gelees word. Louw verwys na ’n gediggie uit sy
"Klipwerk" (Nuwe Verse, 66):
jangroentjie brand die middag
hy maak die kafhok groen
wêreld wêreld wêreld wyd
die kind sy wou dit doen.
Hy merk op dat wie nie ’n vers kan hóór nie, nie oor poësie moet praat nie. Dit gaan hier oor klank en assosiasie. In die wêreld van hierdie gediggie is die primêre betekenis duidelik, en kleur en klank is die binding. Ook Merwe Scholtz het by geleentheid opgemerk dat poësie klank is: ritme, herhaling, geluid. In Kaar is die blote genot van die woord en die klank ’n groot bate. In "Dennebol" (18), wat vir sekere lesers ’n verwantskap met die gelyknamige gedig van DJ Opperman sou kon oproep, is daar net sintuie, oral:
Die digter dra die "bot gedompte den" na die voordeur en "(dek) dit op ’n wit bord/ op my werkplek:
die reuk van hars, die suis
van duisende gelate maste,
my voorkop na die lig gekeer,
vlae boogsproei op my wang.
Die klank en die sintuiglike verwysings, die ligte en bewegende ritme roep verdere sintuiglike herinnerings van ’n seereis op, dié van die individu in ballingskap. Deur die bekoring van die gegewe self en die klank word ’n uitbreidende ruimte geskep, en soos die dennebol oopbars om sy saad te versprei, so vertrek die gedig uit sy eie Umwelt. Sekerlik ’n vers wat heelwat interpretasies sal kan dra, maar wat ook uit eie reg, en soos dit daar staan, ’n loutere sintuiglike genot bring. Van Niekerk se verse is nooit sentimenteel nie, eerder bra presentimenteel. En daarom spreek dit van die aarde self, en die ruwe kante van lewe waar daar nie plek vir sentiment is nie.
Louw noem die opvatting dat "poësie oor die poësie” ’n kettery is. Hy gee toe dat daar sulke kunsteoretiese gedigte geskryf word, maar het dit daarteen dat elke tweede gedig kunsteoreties is, of dat dit ’n wesenskenmerk van ’n gedig is. In ’n moedswillige bui merk hy op: "... dat dit ’n soort kuns-teoretiese laag het ... dít verlaag die poësie: dit maak dié kuns wat so wyd soos die lewe self kan wees, tot ’n soort gepeuter vir professore en ander skoolmeesters" (Louw, 73). Dit is ietwat van ’n oordrewe stelling, maar te dikwels word hierdie idee verkondig. Saam daarmee gaan die ewige soeke na invloede op die digter en sy/haar gedigte. Dit word uiteindelik net literêre gimnastiek. Om Louw weer by te haal: "Waarom, waarom tog moet ons so telkens met ’n teorie op loop sit?" (Louw, 80).
By die lees van Kaar sal die soeke na allerlei invloede uit verskillende literature sekerlik ’n groot rol speel. En alhoewel daar gedigte is wat die leser na ’n kunsteoretiese lesing lei, is dit nie ’n tema in hierdie bundel nie, hoegenaamd nie. Dat verskeie teorieë bygehaal sal word om die gedigte van ’n bepaalde lesing te voorsien, verg geen profetiese insig nie. Tog, weer in Louw se woorde: "Laat ons tog self erváár, luister; net na die woord."
In "joeliewoorde vir my pa" (85) is daar ’n terselfdertyd vrolike en elegiese spel met woorde:
hoe onmoontlik die hoek van verplasing, pa;
tussen kwiek en grys, hoe koper die pendoelie
wat alles verpurper in een uitswaai
van die riem oor valsbaai en dit met die terugslag
weer omfloers in rokerige toelie, die skadu
op die skouer van bangbroek ’n magnoelie
van gedagtes waar ek fietsry bokant middelvlei,
hier wiek twee wildemakoue met wieltjies
in die strot, dis rudolf en rosalie op trou
na rooiels, sou jy toe ek klein was sê,
nou moet ek vokale vir jou uitspel en onthou.
Deur die klank soos in ’n wetenskapformule telkens te verplaas, word enersyds ’n jeugwêreld en andersyds intense nostalgie opgeroep. Deur die kinderklanke te kontrasteer met die laaste reël van hierdie aanhaling kom daar weer die presentimentele beduidenis van hierdie bundel na vore. Die emosie speel saam in die klank, en in hierdie kinderwoorde word die verhouding tussen kind en pa vasgelê. Effens later in die gedig staan hierdie reël: "kleintyd het jy my gewys dat alles in patrone duur en weeg". Dit word ’n kenmerk van hierdie bundel: alles weeg in patrone, alles is deel van ’n groter geheel, alles vorm ’n poëtiese "swaartekrag van sub-atome".
In sommige gedigte is die aanbod van woorde so oorvloedig dat dit die leser laat wipplank ry. En dikwels sal die leser die woordeboeke en simbool-verklarings van die rak moet afhaal, maar juis dít maak die lees van hierdie gedigte ’n avontuur. Louw verwys (65) na die "een dieper betekenis na die ander" en noem dit die afskil-metode van verklaar. Weer moedswillig sê hy dat hierdie soort lees vir die kritici ’n groot voordeel inhou: "[D]it ontslaan hulle van die plig om poësie ook met die óór te benader." Kaar bied uitstekende geleentheid om met die oor na die gedigte te gaan. Woord en betekenis, woord en klank, soos in "joeliewoorde vir my pa", lewer wonderlike vondste op vir die leser sonder om teorie by te bring. Die oorlading van literêre tekste met geleerdheid ontneem soveel lesers die genot van lees. Letterkundiges moet wel iets te doen hê, en sekerlik kan interpretasies gevoed deur bepaalde teorieë besonder verrykende lesings oplewer, maar lees éérs die woord, die primêre teks. En Kaar is ’n uitstekende bundel om op die woord te konsentreer, en natuurlik op die klank.
4. Die aard van Kaar
In "Woordverklaring" (10) gee die digter die verklaring van die titel van die bundel:
Die betekenis, met verskillende verwysingsobjekte, is dus ’n houer. Wat jy alles in die kaar kan versamel, beïnvloed nie die betekenis nie. Die gedig sou ’n onderskrif kon hê: “’n taalles deur Ferdinand de Saussure”. Hierdie beroemde Switserse taalkundige was die grondlegger van die moderne semantiek, en sy begrippe signifiant en signifié het die onderskeid tussen betekenis en verwysing duidelik omlyn. In "Woordverklaring" maak Van Niekerk dit duidelik met die lemma "kaar": die betekenis is ’n houer, die verwysing is na wat alles in die houer gebêre kan word. In ’n hoë mate is dit ook die onderbou van die bundel: ’n sentrale betekenis in die gedig, en daarnaas ’n "verklaring" van hierdie betekenis deur betekenis in verhouding te bring met verwysings. "Kaar" as ’n gedig is die houer van die volle register van menswees: daar is wolke, die vis, die kiem, die wyn, die brood en die klank, soos minne, orewoet, doupunt, furore. En uiteindelik:
In ’n kaar
wil ek begrawe word,
geen vuur, geen kis.
Alle menswees kom dus tot by ’n doelpunt, in ’n kaar.
Met heelwat sulke uitlok-gedigte speel die digter ’n soek-en-vind-speletjie met die leser. Veral doen sy dit deur die opstapel van woorde – sommiges nuutskeppinge, sommiges verouderde woorde en sommiges pure klank.
Die bundel herinner aan die speurgedig "Spermutasie" van DJ Opperman in Dolosse,waar die digter die "kenners" uitdaag om ’n literêre en mitologiese moord te ondersoek. Hulle moet verder gaan, want as die "jongste godjies" moet hulle uiteindelik nie net die spel ontrafel nie, maar ’n oordeel uitspreek. Sonder om dit in die vorm van ’n raaisel te stel, gee Kaar ook baie sleutels en leidrade vir die leser, wat dan na eie geleerdheid en beheptheid, en na eie gemoeidheid die bundel kan verken. Alhoewel daar dan gedigte is wat "uitgepluis" kan word, is daar die sentrale tematiek waarbinne al die gedigte ook gelees kan word – selfs, en veral, op primêre vlak gelees kan word.
Die gedigte is antropomorfies, soos dit gedigte betaam. Maar elke gedig in die bundel spreek tot ’n mens, ’n figuur, ’n voorbeeld van menswees. Soms kry die leser die gevoel dat gedig en mens onskeibaar gekoppel is in hierdie verse. Die land is ’n gegewe, maar dan is die mens universeel en verteenwoordig die bundel ook die klein mens, nie net die beroemde figuur oor wie daar graag gedigte geskryf word nie. Alhoewel daar heelwat verwysings is na die klassieke kulture, is hier ruim plek vir die "naakte" mens, die afgetakelde, die een wat ly. Die bundel buig die gedig af na die gewone, na ’n seun wat visvang, na die ongenoemde, na ’n grysaard met ’n plastieksak en stok.
Deur die loop van Kaar is die leser bewus van ’n onderliggende menslikheid, ’n deernis. En geen groot letterkunde kan sonder deernis kan wees nie. En ook nie sonder die mite en die mitologie nie. Dit was Borges wat geskryf het: "For in the beginning of literature is the myth, and in the end as well." In Kaar is daar nie alleen ruim verwysings na die mitologie en mitologiese figure nie, maar die bundel ontwikkel ook ’n eie mitologie. Hierdie mitologie het te make met die bedremmeldheid van die mens. In "Fan mail Freddy mercury" (96) word die wêreld van pop-kunstenaars ontmitologiseer, maar in die oomblik van ontmitologisering word hulle binne die grense van die gedig opnuut mites van ons verwarde tyd:
Uit ’n erke van Parse in Zanzibar stulp ’n man-anemoon
op die podiums van Londen – Mister Bad Guy
met ’n sprank Zoroaster in die skof. Hy splyt sy bloes
tot onder die nawel, poseer sy hoef soos ’n hings en kwisp
fisanterig sy flankevere óm die skietlood van die mikrofoon.
"Radio ga-ga" kom ook die vers binne saam met ander "mediokere" toevoegings.
Hierdie mitologisering gaan hand aan hand met die parodieë, waarvan daar heelwat voorkom, soms minder opvallend as ander, maar soms op die woord af. In "Herout" (97) wat gesitueer is in Central Park in New York, is daar die ou man wat krummels bring vir die duiwe, maar in hierdie berugte en beroemde park, bekend vir onder meer rustigheid én seks, gebeur meer:
In hierdie stadsgedig tree die verborge bestaan subtiel op die voorgrond, en word die beeld van die feniks die konstante herlewing van die oeroue menslike drange en sentimente, die presentimentele binne die mens self. Die gedig is tegelyk deernisvol én ontluisterend, soos trouens baie gedigte in die bundel. In alles vind die digter die beswerende en ontstellende krag van die gedig, of dan die poësie. Nêrens ontwyk die digter die bepalende opdrag van die poësie nie, soos waar in "Brandaan" van DJ Opperman die digter die opdrag van die toornige engel kry:
Jy het die waarheid in die vuur verbrand,
maar nou gebied die Here God dat jy
ook in die gramadoelas van jou land
Sy wondere sien en koninkryk uitbrei.
en later:
Die waarheid word nie deur die vuur verbrand,
maar lewe in die hart se kaggel voort
en sal daar rook en smeul, maar eindelik brand
en onverwags uitflikker in die woord. (Engel uit die klip, 47, 54)
Alhoewel Van Niekerk se digkuns ver van Opperman s’n verwyderd is, is hierdie onverbiddelike opdrag ook in haar werk te vind: soms wreed, soms begeesterd, soms waansinnig. En sonder waansin is poësie ook nie moontlik nie.
5. Die siklus van Kaar
Die bundel is in nege onderafdelings ingedeel. Daar is geen afdelingtitels nie, bloot nommers. Elke afdeling het ’n kern van bepaalde soorte verse, maar daar is konstant oorvleueling van temas. Hierdie benadering hou in sigself ’n konsep van siklus in, en dit verhinder ook ’n programmatiese lees van die bundel. Die woorde "dans" hulle dikwels vry van verstarde betekenisse; ook die gedigte dans hulle gereeld vry van konvensies, maar tog behou die digter ’n sterk balans tussen poëtiese vryheid en die eise van taaldissipline. Die hele bundel behou ’n eenheid, ’n baie soepele een, maar so is ook die taal deurgaans soepel in uitdrukkingsvermoë. Die verwysing na "dans" is geheel en al deel van die gedigte, en die woord kom dikwels voor. Die sikliese aard van die bundel word sterk ondersteun deur die herhaalde klem op een van die seisoene, en in elke vers waar daar ’n seisoen genoem word, speel dit duidelik in op die betekenis van die gedig. In een van die laaste gedigte, "Mei" (205), kom verskillende sikliese elemente bymekaar. Die gedig is gesetel in die natuur (Nedereindse plas) en die spreker begeer om die dood deur ’n verkyker af te loer. Die swaan met die "godkromme swanenek", die fluisterpopulier se "blaar van groen en silwer tweespalt" getuig alles van ’n herfsbeeld. As ’n mens die dood so kan sien, in skoonheid, hoe graag sou ’n mens dan na haar wou ingaan. Die seisoen, die natuur en die aardse, die spel en terg met die woord, die dood as eindpunt van ’n siklus – alles bou aan die siklus waarbinne die uitgelewerde en weerlose mens hom bevind.
As ’n leser wel wil soek na temas binne die onderafdelings, sou die suiwer liriese vers in die eerste afdeling oorheers. In die tweede afdeling gaan die liriese element voort, maar die klem lê op die nostalgie. Nostalgie dui in hierdie bundel op onthoubare kontoere, maar ook op versteurde kontoere. In afdeling drie oorheers die natuur en die seisoene, maar oral is die mens sigbaar in die "wondere" van die skepping en in die stille maar seker gang van die seisoene. Ook die ryk beelding in die bundel is steeds dáár.
Die vierde afdeling bring die nostalgie in nadere verband met die elegie. Ook hier is die elegie nie net ’n lied van treur nie, maar ’n weergawe van die mens in sy kleinheid, en word aan die grense van hierdie digsoort ’n nuwe dimensie gegee. In die teer en tog aardse vers "My pa se hemel" (87) sien die leser hierdie dimensie:
My pa se hemel was ’n perskeboord
met ’n krulhals oor ’n watersloot
’n eendedam met wilg omtralie
’n lamp met elke hoekpaal silwer
waarin gespeende lammers loop.
Vir wortels rape en radys
’n vierkant bedding haaks omgrens
dit was sy meetkuns van die paradys
waarin hy kwesbaarhede veilig wens....
(toe hy al kinds verby was)
... met ’n vingerhoed vol muskadel
óp na die barre kop bo Kleinmond
áf na die kille see, ’n helder heildronk
ingestel dat niks behalwe ogiesdraad
hom straks in die hiernamaals skei
van een, sy werf en twee, sy weduwee.Dit is ’n heining eindeloos
vol seshoekoë soos ’n heuningsel
waardeur ek hom nou elke dag
met gedeë voet- en vingersomme
die juwele van gods troon sien tel:
die wynrooi lelie van ’n haan se lel,
sy skimmelnek ’n reënboog kromme
in diepblou bloekomskaduwee.
Die vyfde afdeling konsentreer op persone, figure en karakters, dikwels verse van ontluistering; die sesde afdeling word sterk satiries en meer polities gemotiveer.
In die sewende afdeling word protes die sentrale tema. ’n Besonder aangrypende gedig in hierdie afdeling is "Nagwaak vir Andries Tatane, Stellenbosch, Pase 2011" (163). Dié stuk polisie-wreedheid het die hele land geruk, soos die Marikana-gebeure, waaroor daar ook ’n gedig is, en die gedig oor Tatane word nie alleen protes oor die aaklige gebeurtenis nie, maar ook oor die gevoelloosheid van amptenary, en van vorm, konvensie. Ná die dood van Tatane hou ’n man die lyk vas:
Ewe, selfs meer, aangrypend is die vers "Ballade vir die seun van Angelino Cassamba" (168) oor die moord op ’n kleuter met ’n ysterpyp. Die gedig roep eggo's op van die vers "troetelwoorde vir ogilvie douglas" in Sprokkelster (11). Maar hierdie kind in Filippi op die Kaapse Vlakte is nie ’n mongoolkindjie nie, maar Adilson Cassamba is geen kans gegun om ooit te leef nie:
Hoor julle leiers van die wêreldverbond
hoor julle ministers van welsyn en brood
die letters van hout die letters van lood
speel vanoggend die wysie van Adilson Cassamba
by ons slaat jy kinders met ysterpype dood
hoor jul die maat van die mensemarimba?
Protes, hard en aards, maar met ’n oneindige deernis.
In afdeling agt keer die bundel terug na verse oor die kuns en na ’n romantiek; en in die laaste afdeling, die negende, is die dood iewers aanwesig, hoe ongemerk ook al.
Die bundel sluit met die seekat-gedig "Exit Octopus vulgaris", waar die digter ontluister word. Die digter, oorgevoelige wese, moet na die seekat gaan en wys word. Hierdie dier, sonder skulp, beskerm haar teerheid deur die hart betyds in nege dele te verdeel. En daar is dan hier, soos met die verklaring van die titel Kaar, ook ’n verklaring vir die nege dele. Die simboliek van die getal nege spreek vanself, en vir die digter, so weerloos soos elke mens, is die raad vir behoud om te pleit vir onskuld:
vlug kop eerste in die wolke der onwetendheid,
al jou sinne in een kraal.
En nou, ter Middeleeuse stigting, die troos van ’n Brandaan:
Ek het die wondere van God beskryf
en al die monsters uit my hart verdryf. (DJ Opperman)
Feitlik as ’n antiklimaks: Kaar is ’n merkwaardige bundel, ’n klein ensiklopedie van woord en digkuns. En ek gee, om DJ Opperman by te haal, aan NP Van Wyk Louw, wat "rus nou in die doderyk, volkome" wat betref klank en woord, en primêre betekenis, "gelyk".
Bibliografie
Borges, Jorge Luis. 2000. Labyrinths. Londen: Penguin.
Louw, NP Van Wyk. 1954. Nuwe Verse. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1970. Rondom Eie Werk. Kaapstad: Tafelberg.
Opperman, DJ. 1956. Periandros van Korinthe. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
—. 1978. Engel uit die klip. Kaapstad: Tafelberg.
Van Niekerk, Marlene. 1977. Sprokkelster. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 1983. Groenstaar. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 2013. Kaar. Kaapstad: Human & Rousseau.
Kommentaar
'n Indringende, verhelderende en verrykende resensie van wat duidelik 'n groot bundel is. Dankie, Henning Snyman. Bravo, geluk en groot dankie, Marlene van Niekerk!
Die satiriese Groenstaarvers van dertig jaar gelede wat Henning Snyman deels aanhaal, nl. "van die weledelgeleerde mevrou c. s. steen-van den heuvel (79, arts), 'n boodskap aan die jeug," eindig met die reel: "ek is die einde van alle vereenselwiging." Die eerste vier gedigte in Kaar gee voorbeelde van die spreker se vereenselwiging met die natuur - met die verminkte visse in die rivierpoel, p.11; met die waterbessieboom, p.14 - en met die eerste mense van die land, die Boesmans, p.13.
Hier is die beste resensie wat ek vanjaar gelees het. Baie dankie daarvoor!
Ai ek soek desperaat na die mens wat die "onmoontlike" woorde se verklarings op 'n lys wil sit? Ek kry dit ongelukkig nie uit die woorde van die gedigte afgelei nie en sien geen rede waarom ek as doodgewone leser onder die literêr-akademiese "spitefulness" gebuk moet gaan nie.