<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.
Inleiding
Om die stand van die Afrikaanse letterkunde te ondersoek (poolshoogte daarvan te neem) juis 20 jaar ná demokrasie, veronderstel dat die politieke wending van 1994 belangrike gevolge vir die Afrikaanse letterkunde ingehou het. Ek dink nie dat hierdie veronderstelling onwaar is nie, maar in hierdie opstel gaan ek aantoon dat daar gedurende juis hierdie 20 jaar ook baie ander belangrike veranderings in die wêreld (die literêre wêreld sowel as die ekonomiese, sosiale, en geopolitieke wêrelde) plaasgevind het wat eweneens ’n groot, en dalk selfs ’n groter, invloed op die Afrikaanse letterkunde van die afgelope 20 jaar gehad het.
Pascale Casanova
|
Derick Attridge
|
Thomas Vaessens
|
In die eerste deel van hierdie opstel gaan ek ’n hele aantal invloede op die Afrikaanse letterkunde van die afgelope 20 jaar bespreek ten einde aan te dui dat die verskuiwings en veranderings in die Afrikaanse literatuur van die afgelope twee dekades veel ingewikkelder is as bloot die gevolge van die demokratisering van Suid-Afrika.
Daarna identifiseer ek, in die tweede deel, ’n viertal (soms oorvleuelende) verskuiwings wat binne die Afrikaanse letterkunde waargeneem kan word. Anders as wat dikwels gebeur wanneer ’n oorsig oor die letterkunde gegee word, is hierdie "verskuiwings" nie bloot die aandui van "tendense" bínne die Afrikaanse letterkunde nie, maar dit is verskuiwings wat impliseer dat ook die definisies van wat (Afrikaanse) letterkunde is, aan die verskuif is.
Verder wil ek hier aan die begin beklemtoon dat ’n mens nie sommer net kan aanvaar dat politieke, ekonomiese of sosiale veranderings sonder meer op direkte wyse verbind kan word aan veranderings op die literêre veld1 nie, en ook nie dat die letterkunde bloot hierdie maatskaplike, ekonomiese of politieke omstandighede afspieël nie. Só ’n beskouing van literatuur is té eenvoudig en ontken uiteindelik die sonderlingheid2 van elke individuele literêre teks. Pascale Casanova worstel ook met hierdie probleem: "Is it possible," vra sy, "to re-establish the lost bond between literature, history and the world, while still maintaining a full sense of the irreducible singularity of literary texts?" (Casanova, 2014:193).
Hoe lees ons dus individuele literêre tekste, met waardering vir die uitsonderlikheid en "betowering" daarvan (met fyn aandag aan die teks self – soos close reading vereis – maar ook soos Attridge, 2004, pleit vir die erkenning van die sonderlingheid van elke literêre teks in The Singularity of Literature), sonder om totaal van die wêreld en geskiedenis te onttrek? Terwyl so ’n onttrekking van die wêreld en die geskiedenis onaanvaarbaar is (soos die onderwerp vir hierdie debat ook suggereer), is ’n eenvoudige, direkte skakel tussen literatuur en geskiedenis ook nie sonder meer te lê nie. Só skryf Casanova oor die manier waarop byvoorbeeld postkoloniale teorie verbande tussen literatuur en geskiedenis lê:
Post-colonialism posits a direct link between literature and history, one that is exclusively political. From this, it moves to an external criticism that runs the risk of reducing the literary to the political, imposing a series of annexations or short circuits, and often passing in silence over the actual aesthetic, formal or stylistic characteristics that actually “make” literature. (Casanova 2014:193).
Casanova wil ’n manier vind om verby die probleem van ’n "eksterne kritiek" (soos postkolonialisme wat sy as voorbeeld noem) aan die een kant, en ’n "interne kritiek" (close reading) aan die ander kant te beweeg.
- Interne kritiek ignoreer die wêreld en word nutteloos.
- Eksterne kritiek reduseer die teks tot algemeenhede, tot politiek of tot sosiale geskiedenis.3
Die vraag is hoe ’n mens interne kritiek en eksterne kritiek gelyktydig kan onderneem. Vir Casanova lê die oplossing daarin om ’n "bemiddelende ruimte" tussen die teks en die wêreld te veronderstel:
I want to propose a hypothesis that would move beyond this division between internal and external criticism. Let us say a mediating space exists between literature and the world: a parallel territory, relatively autonomous from the political domain, and dedicated as a result to questions, debates, inventions of a specifically literary nature. Here, struggles of all sorts – political, social, national, gender, ethnic – come to be refracted, diluted, deformed or transformed according to a literary logic, and in literary forms. (Casanova 2014:193)
Hierdie komplekse wyse waarop die wêreld van geskiedenis, politiek en ekonomie verdun, vervorm en verander word in literêre tekste, verdien om deurgaans in gedagte gehou te word wanneer ons soms oorhaastig probeer om verbande te lê tussen letterkunde en die historiese gebeurtenisse van die afgelope 20 jaar.
1. Verskuiwings in en invloede op die Afrikaanse letterkunde: 1994–2014
In sy Geschiedenis van de moderne Nederlandse literatuur vra Thomas Vaessens (2013:49) onder meer die volgende vrae:
Wat zijn de argumenten om de literatuur van één taalgebied, of zelfs van één land, te bestuderen in een tijd van Europese eenwording en globalisering, gekenmerkt door communicatiemiddelen die zich van (taal)grenzen weining aantrekken? En hoe zorgen we ervoor dat onze kijk op de lokale Nederlandse literatuuur zich voldoende rekenschap geeft van de internationale inbedding ervan op alle niveaus: productie, distrubutie en receptie?
’n Mens sou dieselfde vrae met vrug ook oor die Afrikaanse letterkunde kon vra, veral nou, 20 jaar na die oorgang van 1994:
- Wat sou die argumente daarvoor wees om Afrikaanse letterkunde (of selfs Suid-Afrikaanse letterkunde) af te grens en in afsondering te bestudeer in ’n tyd van globalisering waarin kapitaalvloei en kommunikasietegnologie geen agting vir grense het nie?
- En hoe hou mens poolshoogte van Afrikaanse letterkunde terwyl jy die internasionale inbedding daarvan in op alle terreine in ag neem?
Soortgelyke vrae sou 20 jaar gelede kwalik bedink kon gewees het, aangesien die prosesse van globalisering en die geweldige ontwikkeling op die gebied van kommunikasietegnologie wat (onder meer) aanleiding tot hierdie vrae gee, eers gedurende die afgelope 20 jaar ons wêreld radikaal verander het.
Dit is natuurlik verleidelik om vir hierdie poolshoogte op die Afrikaanse letterkunde in isolasie te fokus. Dit sou veel makliker wees om eksklusief op Afrikaanse tekste en Afrikaanse resensies en die Afrikaanse akademiese navorsing te fokus as om juis te probeer om rekenskap te gee van die internasionale inbedding van die Afrikaanse letterkunde. Een van die belangrikste aspekte van Afrikaanse letterkunde oor die afgelope 20 jaar is egter juis die besef dat hierdie letterkunde nie (meer) in isolasie bestudeer kan word nie.
Die onmoontlikheid daarvan om sinvol na Afrikaanse letterkunde in isolasie te kyk, was nie maar net ’n "politieke" gevolg van die einde van apartheid se isolasie en die aanbreek van die demokrasie nie.4 Die imperatief om anders te kyk na alle nasionale letterkundes in ’n verskeidenheid lande en tale (wat wel reeds eeue lank deur ’n klein minderheid binne die filologie en literatuurstudie aangemoedig word), word in hierdie tyd so sterk juis weens die prosesse van globalisering (ekonomies, tegnologies en kultureel) wat saamgeval het met die nuutgevonde oopheid ná 1994.
Vaessens formuleer die impak van globalisering op die Nederlandse literatuur as "de bereidheid Nederlandse literatuur niet alleen als een zichzelf regulerend systeem te zien, maar als een verzameling teksten die zich letterlijk inschrijft in de wereldliteratuur. Maar ook: de bereidheid de studie van de nationale literaturen te integreren in bredere, transdisciplinaire en internationale academiese discoursen" (Vaessens 2013:66).
Vaessens beskou dit om twee redes as ’n gelukkige verandering in die studie van die Nederlandse literatuur: enersyds word die Neerlandici meer bewus van besprekings wat elders in die wêreld oor vraagstukke gevoer word, wat lei tot beter insig in hulle "eie" vraagstukke, en andersyds word die ondersoekende blik op Nederlandse literatuur "ruimer én skerper".
Die politieke wending van die vroeë 1990's het ongetwyfeld bygedra tot ’n besef dat dit nie langer moontlik is om Afrikaanse letterkunde slegs binne ’n enger (wit) Afrikaanse (literêre) wêreld te lees nie. (Net soos wat die nuwe oopheid ook daartoe bygedra het dat Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers nie meer ’n stryd tussen WP en Noord-Transvaal as die barometer van wêreldrugby kon beskou nie.)
Daarbenewens het die poststrukturalistiese teorieë wat sedert die 1960's ’n uitdeinende invloed op denke in die menswetenskappe gehad het, ook ’n sterker invloed gedurende die 1990's in die Afrikaanse literêre wêreld begin uitoefen. Hieruit spruit ’n sensitiwiteit dat ’n begrip soos "dié Afrikaanse letterkunde" (veral met die bepaalde lidwoord vooraan), soos in die gesprekstema geformuleer, maklik ’n essensialistiese vorm kan aanneem – asof dit ’n vaste gegewe is, bestaande uit ’n kanon van definiërende werke. Op soortgelyke wyse kan "dié Afrikaanse gemeenskap" of "dié Afrikanerkultuur" net so maklik beskou word as vaste, onafhanklik-bestaande entiteite. Agterdog teenoor die gebruik van dergelike begrippe, asof hulle vanselfsprekend en "natuurlik" is, het in die spoor van poststrukturalistiese denke gedurende die 1980's en 1990's steeds sterker geword. Die besef dat sowel "die Afrikaanse letterkunde" as "die Afrikanerkultuuur" konstrukte is (’n "imagined community" of ’n "imagined literature" in Benedict Anderson se terme) en dat hierdie konstruksies ook voortdurend aan die verander en verskuif is, het bygedra tot die behoefte om meer krities daarmee om te gaan en dit binne ’n groter perspektief te plaas.
Rita Barnard
|
Op hierdie stadium is dit onmoontlik om ’n sinvolle poolshoogte van die Afrikaanse letterkunde te neem as die Afrikaanse letterkunde as ’n selfregulerende, afgeslote sisteem gesien word. Natuurlik was die Afrikaanse letterkunde ook nie tevore so ’n afgeslote sisteem nie, maar golwe van poststrukturalistiese teorie, verskeie vorme van globalisering, die opkoms van "wêreldletterkunde", sowel as die politieke wending van 1994 tel onder die komplekse faktore wat ’n ander beskouing van letterkunde wat in Afrikaans geskryf word, noodsaak.
Dit gaan egter nie slegs oor die teoretiese en kritiese diskoers óór Afrikaanse skryfwerk wat verskuif het nie. Die skryfwerk sélf getuig ook van ’n verruiming oor die afgelope 20 jaar. Leon de Kock het reeds in 2005 geskryf: "Over the past ten to 15 years, Afrikaans writing has developed as if the restraint of apartheid had been holding it back" (De Kock 2005:805). Hiermee word nie gesuggereer dat ’n Afrikaanse literêre tradisie die enigste tradisie was waarbinne skrywers voor 1994 geskryf het nie (selfs die plaasroman is immers nie te lande "uitgevind" nie, maar spruit uit onder meer ’n Vlaamse tradisie van Streuvels; die Dertigers sluit aan by die modernistiese stroming; die Sestigers vind hul inspirasie in die nouveau roman en die eksistensialisme, ens); maar oor die afgelope 20 jaar het dit waarskynlik vir ’n groot groep skrywers nog minder ’n uitsluitende of beperkende tradisie geword waarteen geskryf is. Rita Barnard dui byvoorbeeld aan (na aanleiding van Moretti) hoedat die misdaadromans van Deon Meyer gebruik maak van "internasionale plot", "lokale karakters en lokale vertelstem" (Barnard 1012:668).6
2. Nasionale letterkunde
Die idee van ’n afsonderlike Afrikaanse letterkunde en die bestudering daarvan in departemente Afrikaans (of Afrikaans en Nederlands) asof dit ’n selfgenoegsame sisteem sou wees, is natuurlik geen apartheidskepping nie. Die verband tussen taal, letterkunde en nasionalisme bestaan oral: “Through its essential link with language – itself always national, since invariably appropriated by national authorities as a symbol of identity – literary heritage is a matter of foremost national interest” (Casanova 2009:330),
Reeds sedert die 17de eeu het literatuur ’n belangrike rol in die identiteit van nasies gespeel. ’n Direkte verband kan gelê word tussen die opkoms van die eerste nasionale Europese state en die vorming van “gemeenskaplike tale”, wat later “nasionale tale” word:
From the existence of an organic bond, or interdependence, between the appearance of national states, the expansion of vernaculars into common languages, and the corresponding development of new literatures written in these vernaculars, it follows that the accumulation of literary resources is necessarily rooted in the political history of states. (Casanova 2009:330)
Nog belangriker vir Casanova is dat hierdie staatvorming en die ontstaan van nuwe letterkundes in "volkstale" eintlik ontwikkel het uit die beginsel van differensiasie: omdat die verskillende state in Europa hulle van mekaar wou onderskei, het hulle die verskille beklemtoon. Taal was in die ontstaan van Europese state die sentrale merker van verskil. Taal lê dus aan die basis van die opkomende state, maar skep ook verskillende literêre ruimtes in hierdie vroeë politieke geskiedenis van nasionale state. Vroeë skrywers in die omgangstale tydens die Renaissance het almal die nuwe tale op literêre en politieke wyse bevorder (net soos wat Afrikaanse skrywers van die taalbewegings dit ook hier ten opsigte van Afrikaans gedoen het).
Wat volgens Casanova in Europa gebeur het, is dat die verkillende lande probeer het om hulle literatuur te definieer volgens die “nasionale karakter” daarvan – om daardeur die verskil ten opsigte van ander letterkundes (en dus nasies) te beklemtoon. Letterkunde in Engeland en Duitsland is byvoorbeeld, volgens haar, gestruktureer in opposisie teenoor die destydse dominante Franse literatuur. Die opkomende magte daag die hegemonie van die Franse uit deur ’n doelbewuste kontrastering met die oorheersende land: “Literatures are therefore not a pure emanation of national identity; they are constructed through literary rivalries, which are always denied, and struggles, which are always international (Casanova 2009:331).
Met die opkoms van nasionale state in die 19de eeu het die idee van nasionale letterkundes ook gegroei. Literatuurgeskiedenisse van die verskillende letterkundes is geskryf om die literêre prestasies van die afsonderlike nasies terugwerkend toe te eien. Kanons van werke waarmee die verskillende nasies kon identifiseer, het so tot stand gekom. Letterkunde het dus gedien om ’n nasionale identiteit te ondersteun.
Eugène Marais
|
Die Afrikaanse letterkunde is op soortgelyke wyse van vroeg af ingespan om ’n spesifieke (Afrikaner-) nasionale identiteit te ondersteun. Dink maar aan hoe Marais se "Winternag" ingespan is as bewys dat Afrikaans (teenoor Engels of Nederlands) as volwaardige taal tot poëtiese hoogtepunte in staat is. (Ironies is selfs literatuur, soos die werk van sommige sestigers, wat sterk krities gestaan het teenoor Afrikaner-nasionalisme, soms met trots as "ons" letterkunde aangebied.)
Vir baie Suid-Afrikaners was dit vóór 1994 onmoontlik om met die Afrikaanse letterkunde te identifiseer, aangesien dit ’n aparte, uitsluitende, Afrikaner-nasionalisme veronderstel het. Die feit dat daar binne Suid-Afrika verskeie letterkundes, in ’n hele aantal tale, bestaan, het daartoe gelei dat daar ook telkens oproepe was om juis ’n wyer Suid-Afrikaanse letterkunde te bestudeer (kyk onder meer Grey 1979 en Gérard 1993). Verskeie pogings is al aangewend om ’n omvattende Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis te skryf, maar dit het telkens onder kwaai kritiek deurgeloop (Grey 1979; Chapman 1996). ’n Mens kan redeneer dat agter sulke oproepe ’n soortgelyke nasionalistiese veronderstelling lê, naamlik dat daar vir alle Suid-Afrikaners ’n aantal tekste behoort te wees waarmee hulle identifiseer: ’n Suid-Afrikaanse letterkunde vir ’n Suid-Afrikaanse identiteit.
Die verwagting dat Suid-Afrika ná 1994 nader sou kom aan ’n gedeelde kultuur, soos uitgedruk in die Castle-advertensie van "een span, een nasie, een bier", en daarom ook "een letterkunde", het nie eensklaps gerealiseer nie. Twee jaar gelede het die Cambridge History of South African Literature verskyn waaraan letterkundiges van al die verskillende Suid-Afrikaanse letterkundes saamgewerk het. Sterk argumente vir ’n insluitende Suid-Afrikaanse letterkunde word deur Attwell en Attridge in hul voorwoord tot hierdie literatuurgeskiedenis gemaak. Die vraag wat hulle stel, is juis of daar voortgegaan kan word om die verskillende letterkundes in Suid-Afrika afsonderlik te bestudeer. Hulle voer aan dat klem op die immanente ontwikkeling binne die letterkunde van ’n spesifieke taal ’n sekere bevrediging ("certain satisfactions") inhou en dat dit ook in die verlede bruikbare weergawes van die Suid-Afrikaanse letterkunde opgelewer het, maar hulle redeneer dat hierdie taalgebonde benaderings eintlik nostalgies aandoen, met wortels in ’n romantiese beskouing dat die nasionale karakter uitdrukking vind in ’n nasionale taal (en letterkunde). Daarom lewer hulle ’n pleidooi (op die spoor van voorlopers soos Gérard, Grey, Chapman en Oliphant) dat ’n veeltalige benadering tot literatuurstudie in Suid-Afrika gevolg moet word.
In ’n baie belangrike opmerking erken Attwell en Attridge (2013:10) dat Oliphant korrek is wanneer hy beweer dat daar geen sprake is daarvan dat Suid-Afrika, as geopolitiese en juridiese eenheid, deur ’n gedeelde nasionale kultuur onderlê word nie. Daarom aanvaar hulle ook dat hulle poging om ’n insluitende geskiedenis van al die letterkundes van Suid-Afrika te skryf, nie ’n enkele nasionale identiteit sal kan ondersteun nie. Hulle besef dat so ’n poging futiel sou wees in die lig daarvan dat kulturele eenheid tans nie ’n historiese moontlikheid is nie en aanvaar daarom Oliphant se voorstel as uitgangspunt vir hulle geskiedenis: "a single all-embracing narrative with a nationalist theme in which all the literatures are shown to have participated over time".
’n Mens kan aanvoer dat hulle poging in hierdie opsig ook nie werklik geslaag het nie, aangesien die eindproduk nie ’n enkele omvattende narratief is nie, maar eerder ’n aantal losstaande narratiewe wat in een band byeengebring is. In ’n sekere sin bevestig hierdie lofwaardige poging dat daar (op enkele uitsonderings na) nie sprake is van ’n gedeelde nasionale letterkunde nie – selfs nie byna 20 jaar (die boek het in 2012 verskyn) na die einde van apartheid nie.
Ook Rita Barnard wys daarop dat ’n mens nie te gou opgewonde moet raak oor ’n onmiddellike verandering van die Suid-Afrikaanse literêre veld as gevolg van die politieke oorgang nie, net soos wat daar ook geen onmiddellike verandering op maatskaplike en ekonomiese terreine plaasgevind het nie. Die vrylating van Mandela en die verkiesing van 1994 het nie eensklaps alles verander nie:
[The elections] did not mean that a unified national culture, bridging earlier divisions between black and white, between literary and linguistic traditions, between expatriate and local writers, or between privileged and the deprived immediately came into being. (2012:652)
Hoop dat die verskillende letterkundes in die land ná 1994 nader aan mekaar sou beweeg, het beskaam. Leon de Kock het ’n belangrike bydrae hieroor in ’n terugskouende artikel in 2005, tien jaar ná die aanbreek van die post-anti-apartheidera, gelewer. In die artikel "Does South African Literature Still Exist? Or: South African Literature is Dead, Long Live Literature in South Africa" keer hy eintlik terug na sy vorige invloedryke artikel, "South Africa in the Global Imaginary: An Introduction", wat oorspronklik in 2001 verskyn het. In hierdie artikel het hy die metafoor van die "naat" (seam) as teoretiese konsep gebruik om die Suid-Afrikaanse letterkunde mee te beskryf.
Leon de Kock
|
Volgens sy teorie van die “naat” was letterkunde uit Suid-Afrika nog nooit ’n enkele geheel nie, net soos wat die mense in die land nooit regtig ’n enkele geheel gevorm het nie. Om te praat van ’n Suid-Afrikaanse letterkunde is volgens hom ’n probleem (benewens die probleem dat daarmee dikwels net bedoel word alles wat in Engels in Suid-Afrika geskryf word). Al die verskillende letterkundes van die land word eintlik volgens hierdie metafoor op ’n ongemaklike manier aan mekaar vasgestik en daar bly ’n duidelike wondnaat (suture), soos by ’n wond wat met steke geheg is. Hierdie naat is ’n plek van sowel skeiding as ontmoeting.
Vir De Kock is die naat juis ’n plek van botsing en twis. Dit is hier waar die moeilike verhouding tussen rasse en tussen kulture en tussen tale bymekaar kom – waar hulle ongemaklik aan mekaar vasgestik is. Die Suid-Afrikaanse letterkunde van voor 1994 staan vir hom in die teken van hierdie naat. Talle skrywers het "op die naat” geskryf, met ander woorde hulle het juis uit hulle afsonderlike hoeke oor die problematiese verhoudings tussen rasse en kulture, die koloniale verlede en die apartheidsverlede geskryf. Skrywers soos JM Coetzee, Nadine Gordimer en André P Brink het hulle internasionale erkenning deels te danke daaraan dat hulle dit waarvoor Suid-Afrika internasionaal bekend was, beskryf en betwis het. Brink het ook ’n oproep om "betrokkenheid" vroeg in die sewentigerjare gedoen.
Ook akademiese letterkunde-ondersoek het op hierdie naat gefokus: Marxistiese teorieë is ingespan en later postkoloniale teorie om onreg bloot te lê en ideale te formuleer. Op ’n teenstrydige manier word die naat – daardie ruimte van twis waar alles dreig om uit mekaar te skeur – dus in die anti-apartheidstryd die bindende faktor in Suid-Afrikaanse letterkunde.
In sy opvolgartikel (2005) redeneer De Kock dat die situasie van ’n Suid-Afrikaanse letterkunde wat tydens die anti-apartheidstryd ongemaklik deur ’n wondnaat geheg is, sedert 1994 verander het. Hoewel die verskillende kultuurgroepe en taalgroepe nou saamgevoeg is tot ’n enkele reënboognasie, het die klem op institusionele apartheid, die oorsaak van die naat, grootliks verdwyn. Bevry van die beperking om oor die Suid-Afrikaanse konflik, twis en onreg te skryf, kan skrywers al meer by internasionale tendense aansluit, is hulle vry om soveel ander aspekte van menslike bestaan op ’n verskeidenheid ander maniere te ondersoek, eerder as om in die sosiaal-realistiese vorm te bly vassteek.
Die ironie dat die uiteindelike verdwyning van die stryd teen apartheid ook gelei het tot die verdwyning van ’n samehangende (al was dit dan ’n kontesterende) eenheid van Suid-Afrikaanse letterkunde, is vir De Kock nie te betreur nie. Hy sien eerder veel meer kreatiewe moontlikhede vir al die letterkundes in Suid-Afrika in die vryheid om losgeskeur te wees van die naat. Skrywers kan die vryheid vier om letterkunde te geniet in ’n wêreld van eksponensieel vermeerderde vloeibaarheid (De Kock 2005:82).
Een van die Afrikaanse skrywers wie se werk toenemend (danksy vertaling) wyd buite die Afrikaanse letterkunde bestudeer word, is Marlene van Niekerk. In Agaat maak Jakkie naby aan die einde van die roman (bl 709), kort na sy vertrek uit Suid-Afrika, die volgende opmerking:
Dis nie ’n land vir my om in te woon nie. Om te bestudeer, ja. Die dik Anna-Seties, Die Stormbergvastrap. Niemand het nog opgeskryf hoe dié musiek presies gewerk het in die identiteitsformasie van die Afrikaner nie. Nog altyd net Heimwee van S Leroux Marais. Sal mens met die beste wil ter wêreld nie ’n fado kan noem nie.
Gister se koerant het ek op die lughawe gelos. Merkwaardige joernalistiek. Rugbyspelers op die voorblaaie en die agterblaaie en die middelblaaie, wetteloosheid en korrupsie, kinderverkragting, politieke ontkenning van AIDS, middelklas-seksskandale, briewe van ontstoke kreasioniste.
Hóé in godsnaam moet dit hier verder?
Marlene van Niekerk
|
Koop Agaat by Kalahari.com.
Lees ook: |
Dit is duidelik dat hy hom van hierdie eng wêreld wil distansieer, en daarom is dit betekenisvol dat hy na Kanada terugkeer. Al word sy emigrasie soms geïnterpreteer as ’n aanduiding van die roman se visie dat daar nie plek vir Afrikaners / wit mense in Suid-Afrika is nie, sou mens ook kon redeneer dat sy onttrekking van die plaas en Suid-Afrika te make het met ’n onttrekking aan ’n kleinskaalse, benouende denkwêreld (rugby, kreasioniste, hoë kultuur). Hierdie interpretasie kan verder gemotiveer word uit die slotgedeelte van die roman, waarin herhaaldelike verwysings na onder meer Deense en Britse digters (Peterson, McNiece en Philip Larkin) voorkom (in Deens en Engels aangehaal), om sodoende te beklemtoon dat hierdie roman onder meer ’n poging is om uit die nouer Afrikaanse wêreld te tree na ’n kosmopolitaanse, ruimer wêreld.
Soos verskeie ander kommentators het die sosioloë Jean en John Comaroff (2001) daarop gewys dat die nuwe Suid-Afrika (net soos talle ander demokrasieë wat ná die val van die Berlynmuur tot stand gekom het) met ’n byna onmoontlike uitdaging gekonfronteer is, naamlik om ’n projek van nasiebou te onderneem op ’n historiese tydstip waarin globalisering daartoe lei dat ekonomiese, kulturele en demografiese faktore die idee van nasionale grense ondermyn. Die implikasie hiervan is, soos Barnard (2012:667) aandui, dat konsepte soos "nasionale kultuur," "burgerskap" en "staat" herbedink en op nuwe maniere aangewend moes word en dat nasionale kultuur toenemend as ’n globaal-bemarkbare "erfenis" gekommersialiseer geraak het (’n idee waarmee Houllebecq in The Map and the Territory worstel en waarby Etienne van Heerden ook in In stede van die liefde aansluit).
Een van die invloedryke maniere waarop letterkunde oor die afgelope twee dekades herbedink word, is die idee van wêreldletterkunde. Wêreldletterkunde word tans volgens D'Haen (2013:1) regoor die wêreld die oorheersende paradigma vir die ondersoek van letterkunde. Volgens hom kan hierdie opkoms van "wêreldletterkunde" as oorheersende paradigma teruggevoer word na die jaar 1994 met die verskyning van Sarah Lawall se boek Reading World Literature: Theory, History, Practice. Dat die politieke wending in Suid-Afrika ook saamval met hierdie wending in die manier waarop na letterkunde gekyk word, is betekenisvol wanneer gepoog word om ’n oorsig oor ’n "nasionale" letterkunde te gee.
Samevattend kan dus gesê word dat die terugkyk op 20 jaar van Afrikaanse letterkunde nie bloot inhou dat die politieke wending in die land in 1994 die enigste of selfs grootste impak gehad het op Afrikaanse letterkunde nie. Saam met die "vryheid" om los te wees van die naat – wat deur De Kock gevier word – is daar ook die verwagting om deel te bly van die naat in die hoop dat ’n nuwe nasionale kultuur, identiteit en letterkunde uiteindelike tot stand kan kom (Attwell, Barnard). Maar terselfdertyd verander die manier waarop na letterkunde (en kultuur in die algemeen) gekyk word en waarop na nasie gekyk word weens globalisering. Dit is, soos Arjun Appadurai (1996) oor moderniteit gewaarsku het, ook vir die letterkunde geen eenvoudige proses nie en daar vind, soos in die geval van modernisering, "verinheemsing" plaas, en die ongelyktydigheid (disjuncture) veroorsaak dat die verskuiwings en veranderings nie bloot – soos soms deur Casanova of Moretti se modelle voorgestel word – ’n eensydige vloei van sentrum na periferie is nie.
Teen die agtergrond van al hierdie veranderlikes word nou enkele waarnemings oor die Afrikaanse literatuur in hierdie 20 jaar gemaak.
3. Veranderende spelreëls – veranderende literatuur
Die internasionalisering van literatuurstudie, vinnige uitwisseling van idees danksy die internet, wyer verspreiding van tekste deur vertalings, die groter mobiliteit van mense, en die groei in die breë kulturele aanbod (byvoorbeeld TV-kanale, YouTube) en die gepaardgaande relatief kleiner plek van letterkunde in hierdie breë kulturele aanbod, het die spelreëls vir letterkunde verander, en selfs definisies van letterkunde word hierdeur uitgedaag. Ek wys hier op twee aspekte van sekere tradisionele definisies wat oor die afgelope twee dekades toenemend uitgedaag is. Ek noem hulle die "populêre wending" en "realiteitshonger". Daarna word gefokus op ’n ander kenmerkende aspek van die literatuur van die afgelope twee dekades wat aansluit by die gedagte van die einde van (’n eksklusiewe) Afrikaanse literatuur en by die aanbreek van wêreldletterkunde – wat ek hier die "opkoms van die middelwêreld" sal noem. Ten slotte word gekyk na die bemoeienis met die verlede, die geskiedenis – met ’n fokus op die spanning tussen optimisme en nostalgie (die twee uiterstes wat Berki7 aangedui het as die maniere waarop mense in ’n tyd van krisis reageer)
3.1 Die populêre wending
Met populêre wending bedoel ek hier aan die een kant dat daar oor die afgelope dekades (eintlik reeds sedert die kulturele wending van die 1960's en 1970's) al meer akademiese aandag gegee is aan die populêre kultuur. Dit het ook meegebring dat populêre fiksie al hoe meer aandag binne letterkundedepartemente begin ontvang het (nie in departemente Afrikaans nie). Aan die ander kant wil ek ook hiermee beweer dat daar ’n neiging is om meer toeganklik, meer populêr toeganklik, te skryf en dat die radikale eksperimentering van die modernisme en postmodernisme al minder voorkom. (Jonathan Franzen se The Corrections het op byna skokkende wyse verras deur nou aan te sluit by die tradisionele vertelwyse van die realisme.)
Soos wat die letterkunde tydens die hoogbloei van die modernisme al meer outonoom geword het, ’n eie, onafhanklike veld geword het, het die invloed daarvan op die gewone leefwêreld van mense ook gekwyn. Vaessens redeneer in De revanche van de roman dat hierdie onttrekking van letterkunde in ’n eie, outonome literêre veld waarin geëksperimenteer word en waarin werke steeds komplekser word, daartoe gelei het dat literêre tekste al hoe minder "betrokke" was by die gewone leefwêreld van mense. Sommige literêre werke het byna uit die gewone leefwêreld onttrek in ’n afgeslote "literêre wêreld" van interne kunsverwysings wat baie lesers vervreem het. Gevolglik het die grootte van die leserspubliek vir hierdie soort tekste ook verklein. Hoewel sommige skrywers (tydens die hoogbloei van die modernisme) juis daarop geroem het dat hulle net vir die "elite-lesers" skryf, en dit eintlik as ’n belediging beskou het as hulle werk wye populêre aanhang sou vind (populariteit onder die massa is beskou as teken dat dit nie ’n "ware kunswerk" sou wees nie), het ander skrywers toenemend na ’n groter leserspubliek begin soek.
Die idee van die kunstenaar as gewroegte persoon wat honger ly en briljante kunswerke skep wat nie deur sy/haar tydgenote waardeer word nie (’n soort Van Gogh-sindroom), het oor die afgelope paar dekades aan gewildheid ingeboet. Die opkoms van die glanspersoonlikheidskultuur (celebrity culture) en ’n gemeenskap waarin sukses toenemend aan materiële goedere gemeet word, het bes moontlik daartoe bygedra dat skrywers dit nie meer as ’n belediging beskou as die sirkulasiesyfers groot is nie. Maar meer waarskynlik is die behoefte aan ’n groter leserspubliek eerder toe te skryf aan die kwynende invloed van "hoë"/"elite"-kultuur.
Vir ’n baie lang tyd (sedert die Verligting) is aanvaar dat ’n blootstelling aan die beste kunswerke en filosofie ’n manier is waarop die heel beste waardes en idees wat deur die eeue ontstaan het, oorgedra kan word. Daarom is filosofiese en literêre tekste deeglik aan universiteite bestudeer, sodat die "ewige waarhede" wat daarin vervat is, oorgedra kon word. Die Britse skoolinspekteur en digter Matthew Arnold het in 1869 die idee dat jongmense blootgestel moet word aan die "beste wat deur die eeue geskryf en gedink is", verwoord en aangevoer dat skoolkinders juis daarmee opgevoed moet word. Deur hulle bloot te stel aan die hoogste prestasies van die menslike gees ("Hoë Kultuur"), sal goeie waardes oorgedra kan word en sodoende vorm hierdie "Kultuur" ’n bolwerk teen die materialistiese anargie (wat met die opkoms van industrialisering volgens Arnold ’n bedreiging ingehou het) (Arnold 2008).
Die idee dat "hoë kultuur" (kunswerke) uitdrukkings is van die “waarlik menslike” wat “ewig” en “universeel” geld, is sedert die 1960’s toenemend uitgedaag. Al hoe meer het die besef posgevat dat alle waardes, alle idees wat uitgedruk word, bepaal word deur die tyd waarin dit geformuleer word. Alle waardes en opvattings oor wat goed, skoon en waar is, is tydgebonde, word in bepaalde omstandighede (plek en tyd) gekonstrueer en kan daarom nie sonder meer as universeel en tydloos beskou word nie. Die idee van die kunstenaar as ’n "profeet" wat toegang het tot vaste en ewige waarhede wat deur die werk van die kunstenaar openbaar gemaak word, word sedert die middel van die 20ste eeu toenemend bevraagteken. Trouens, die pogings om hierdie "beste wat deur mense gedink en geskryf is" as ’n kulturele bolwerk teen "barbarisme" op te hou, is ontmasker as pogings om ’n bepaalde konserwatiewe ideologie in stand te hou – aangesien die kulturele bolwerk juis deur diegene met mag gekonstrueer is.
Mike Nicol
|
Deon Meyer
|
Koop Infanta by Kalahari.com.
Lees ook: |
Die sogenaamde kulturele wending van die 1960's en 1970's het die idee van "hoë kultuur" uitgedaag.8 Die besef dat waardes sosiale konstruksies is en nie ewige vaste waarhede wat deur sekere individue (in hulle skryfwerk) openbaar gemaak word nie, het daartoe gelei dat dit nie meer noodsaaklik geag is om "hoë kultuur" te bestudeer nie. Wat veel belangriker geword het, was om die prosesse waarvolgens sekere waardes of idees prominensie en invloed gekry het, te probeer verstaan: Hoe gebeur dit byvoorbeeld dat ’n kanon van "goeie" literêre werke gevestig raak? Watter magstrukture in die samelewing maak dit moontlik en waarom?
Die fokus verskuif dus weg van die studie van "spesiale" kunswerke van hoë waarde wat veronderstel is om van die leser daarvan ’n "beter mens" te maak. Vrae word eerder gevra na die redes waarom juis sekere kunswerke as "spesiaal" uitgesonder word: Wie se belange word daardeur gedien, wie se vooroordele word daardeur uitgedruk? Hierdie vrae is eintlik daarop gerig om vas te stel wat die prosesse is waardeur sekere waardes in die gemeenskap tot stand kom en in stand gehou word. Ook is dit natuurlik moontlik om hierdie prosesse te bestudeer sonder om uitsluitlik "hoë kultuur" te ondersoek. Alle kultuurverskynsels kan op dieselfde manier ondersoek word om vas te stel hoe die prosesse van konstruksie, van in- en uitsluiting in die samelewing werk. Gevolglik is dit ewe waardevol om glanspersoonlikheidstydskrifte te bestudeer as wat dit is om poësie te bestudeer. Die besondere status wat tradisioneel (tot ongeveer die middel van die vorige eeu) aan "hoë kultuur" toegeken is, kwyn as gevolg van hierdie kulturele wending.
Die kulturele wending is nie slegs die gevolg van verwerping van die tradisies van die humanisme se geloof in die ewige goeie en skone wat vasgevang word in kunswerke nie. Die laaste deel van die 20ste eeu was ook ’n tydperk waarin die breë kultuuraanbod geweldige groei beleef het. Die koms van TV en later die internet en selfoonnetwerke het die verspreiding van ’n baie breë aanbod van kultuurprodukte veel makliker gemaak. Teen die agtergrond van hierdie breër (populêre) kultuuraanbod het die relatiewe invloed van "hoë kultuur" aansienlik kleiner geword, aangesien dit immers slegs ’n baie klein onderdeel van die ganse kultuuraanbod uitmaak.
In hierdie omstandighede sluit sommige skrywers, ten einde ’n groter leserspubliek te bereik en groter relevansie te ervaar, eerder by die populêre genres aan. De Kock (2011) skryf in ’n resensie van Mike Nicol se Black Heart: “Black Heart is the novel that completes Mike Nicol's trilogy of what his publisher, Umuzi, categorises as ‘crime thriller’ fiction. I think it is more than that – in South African writing the well-turned ‘crime thriller’ is becoming one of the few forms that can combine readability with socio-political analysis.” Die voorbeeld van Nicol is boonop interessant omdat hy ’n skrywer is wat aanvanklik "hoë literatuur" geskryf het maar hom sedert die einde van die 1990's op die skryf van misdaadfiksie toegelê het.
Andries Wessels (2007) het in ’n studie van Deon Meyer se Infanta op ’n soortgelyke bemoeienis met die Suid-Afrikaanse misdaadwerklikheid gewys. In hierdie populêre misdaadroman word een van die belangrike probleme van die Suid-Afrikaanse gemeenskap – die idee by sommige om reg in eie hande te neem omdat die regstelsel skynbaar faal – betrek.
Die populariteit van misdaadfiksie is een voorbeeld van die groei in belangstelling in die genrefiksie. Mike Nicol en Deon Meyer is seker die voor die hand liggende voorbeelde van Suid-Afrikaanse misdaadfiksieskrywers wat ook (deur vertaling) ’n groeiende internasionale mark gevind het en hulle word ook kennelik as die navolgenswaardige rolmodelle beskou. Op een na die ander misdaadromans deur ander skrywers word telkens op die buiteblad of agterflap verkondig dat dit “die nuwe Deon Meyer” is of word ’n aanhaling van Deon Meyer of Mike Nicol op die buiteblaaie geplaas.9
Toenemend word hierdie boeke ook beskou as ernstige mededingers om literêre pryse. (Chris Karsten se ’n Man van min belang was byvoorbeeld naaswenner van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012.) Dit is nie vreemd om misdaadfiksie en romanses te vind onder die tekste wat ingeskryf word vir literêre pryse wat tradisioneel gegaan het aan "hoë" literatuur (soos die Hertzogprys of UJ-prys) nie, terwyl die inskrywings vir die ATKV-Woordveertjies ook romans insluit deur gevestigde "literêre" skrywers. Die "debat" tussen Van Coller (2011) en Snyman (2011) oor die gebruik van kategorieë soos "middelmootliteratuur" is ook ’n aanduiding daarvan dat die tradisionele onderskeid tussen "hoë" en "lae" (of "middelmoot") toenemend uitgedaag word. Snyman redeneer in haar reaksie op Van Coller se artikel dat die Afrikaanse letterkunde "te klein" is om ’n skerp onderskeid tussen "hoog" en "middelmoot" en "laag" ekonomies te handhaaf.
Dit is duidelik dat die tradisionele definisies van letterkunde uitgedaag word deur skrywers wie se werk nie geredelik kategoriseerbaar is as "hoog" of "laag" of "populêr" nie en dat hierdie onderskeid toenemend onder druk kom.
3.2 Realiteitshonger
David Shields
|
Antjie Krog
|
In sy omstrede werk Reality Hunger (2010) verduidelik David Shields dat romans in die 21ste eeu vervelig geword het omdat dit te gebonde is aan intrige en heeltemal te oudmodies is om die spoed van die 21ste-eeuse lewe mee te deel. Hy laat hom in hierdie polemiese werk uit teen die "goedgeskrewe literêre roman" (soos McEwan se Atonement of Franzen se The Corrections), aangesien hulle volgens hom lyk soos "antediluvian texts that are essentially still working in the Flaubertian novel mode. In no way do they convey what if feels like to live in the 21st century. Like most novels, they are essentially works of nostalgic entertainment" (2010:19). Volgens Shields kan ’n 21ste-eeuse leser nie meer in "geskepte" fiksiekarakters glo nie: “The creators of characters, in the traditional sense, no longer manage to offer us anything more than puppets in which they themselves have ceased to believe (Shields 2010:21).
Shields se menings is, baie soos dié van Julius Malema, nie altyd oortuigend nie en meestal polemies opgestel, maar hy slaag, soos Malema, daarin om ’n groot deel van die bevolking se ervaring te verwoord.
As ’n mens bloot al die beskikbare kanale op DStv as voorbeeld sou neem, is dit duidelik dat ’n baie groot groep mense verkies om nie deur fiksie nie, maar deur sogenaamde "realiteitsprogramme" vermaak te word: van dokumentêre programme oor die natuur tot programme oor vendusiejagters, modes, kook- en reisprogramme, programme oor huisherstelwerk en bouwerk, geskiedenis, rekords van allerlei soorte en ongelukke. "Ware ervarings" van "regte mense" in "werklike omstandighede" is kennelik baie gewild. (Hier word nie nou verder ingegaan op die komplekse verhouding tussen feit en fiksie en die mate waarin elke sogenaamde realiteitsprogram ook maar gemanipuleerde "fiktiewe" realiteit is nie.)
Die punt is bloot dat die honger na realiteit – soos met die populêre wending – ’n geleentheid geskep het vir tekste wat ’n wyer aantal lesers tref en dat dit lei tot hibriede vorme, waarin allerlei vorme van realiteit (soos die essay, die memoires, die biografie, die etnografie, die joernalistieke verslag, die akademiese ondersoek) met fiksie gekombineer word.
Antjie Krog se prosa is ’n voor die hand liggende voorbeeld van werk wat aansluit by Shields se agterdog teenoor fiksie. Reeds met Country of my skull (waarin die vermenging van feit en fiksie ook tot omstredenheid gelei het), maar ook daarna in ’n Ander tongval en in Begging to be black, lei die realiteit van die WVK of lewe in Suid-Afrika nie tot die skep van fiksiekarakters in "goedgeskrewe" roman-intriges nie. Naby aan die slot van ’n Ander tongval (en hierdie plasing van die insident naby aan die slot van die werk beklemtoon die belang daarvan)vertel die digter se broer haar van ’n gesprek wat hy met hulle skrywer-ma, Dot Serfontein, gehad het. Hy het hul ma gevra waarom sy aanvanklik in haar loopbaan romans geskryf het, maar haar later op die skryf van essays toegelê het. Hy het hierdie vraag gevra na aanleiding van ’n opmerking van sy letterkundedosent wat dit “die hele tyd gehad het oor die bevrydende mag van die verbeelding, en dat skrywers wat so in die rioolpype rondgrawe, die verbeelding in die steek laat” (399). Hy verduidelik hoe sy ma die vraag beantwoord het:
Sy't gesê skryf en lees gee jou toegang tot ’n ander, groter wêreld. Fiksie kon in die ou tyd jou tot ’n ander wêreld bevry. Maar deesdae is dié ander wêreld so vreeslik teenwoordig op haar werf en stoep en in haar gastekamer en kombuis, sit hy soveel stoele aan haar tafel vol, het hy aanhoudend ’n mond vol te sê oor haar kos, dat ’n mens vanweë die televisie en die koerante heeltemal opgeskeep sit met die ander wêreld. ’n Mens wil eintlik ontslae raak van die ander wêreld, want jy wonder desperaat hoe jy hom gaan oorleef. Toe sê sy dis net die intimiteit van jou eie wêreld wat jou in staat stel om die alomteenwoordige ander wêreld te oorleef. (400)
Hierdie antwoord van Dot Serfontein is uiteindelik ook ’n deel van Krog se motivering vir die wyse waarop sy skryf. Fiksie is nie meer noodsaaklik in hierdie tyd waarin ons leef nie. Soos Serfontein in ’n veranderde wêreld ’n ander vorm moes vind (wegbeweeg van fiksie na die essay), is dit ook vir Krog noodsaaklik om ’n ander vorm te vind, nader aan die "rondgrawe in die rioolpype" (wat sy letterlik in ’n Ander tongval doen!) en verder van die vrye "verbeeldingsvlug".
Verskeie ander skrywers is ook op uiteenlopende maniere besig om die realiteitshonger van ons tyd te voer. Theo Kemp se Skool (2011) sluit ook by literatuur aan wat ondersoekende verslag en persoonlike ervaring kombineer. Die woorde "ware verhaal", is vir baie mense aanloklik. Boeke soos Dis ek, Anna (2005) bied ’n soort outentisiteit wat skynbaar talle lesers bevredig – die wete dat die verhaal nie ’n fiksieroman met fiktiewe karakters is nie, maar dat dit ’n lewende persoon se "regte" ervarings is (hoe aanvegbaar ’n eenvoudige opvatting van die verhouding oor fiksie en die werklikheid ook al kan wees), is baie oortuigend. Sommige mense verkies om geen fiksie te lees nie, maar lees gretig aan boeke wat as "ware verhale" bekend staan. Memoires of die outobiografie is waarskynlik die algemeenste soort "ware verhaal". Die biografie/outo-etnografie het reeds byna naatloos deel van literatuurstudie geword. Dink maar net aan die wyse waarop Jacob Dlamini se Native Nostalgia (2009) sonder meer as "literêre teks" deur letterkundiges beskou word (vergelyk bv Medalie 2010).
Literêre niefiksie (ook al "die vierde genre" genoem) het oor die afgelope sowat 20 jaar gewoon deel van die studieveld van letterkunde geword (vgl bv Myburgh 2009). Dit is dus duidelik dat die definisie van letterkunde steeds aan die verskuif is, en daarom het die landskap van die Afrikaanse letterkunde gedurende die afgelope 20 jaar aansienlik verander.
3.3 Middelwêreld
Van die opwindendste boeke in ons tyd word geskryf deur migrante – mense wat uit hul plek van herkoms na ’n ander omgewing verplaas word. In ’n tyd van globalisering, ’n tyd waarin reis veel makliker geword het en waar werk oor landsgrense heen alledaags geword het, leef ’n groot deel van die wêreldbevolking nie meer in hul lande van herkoms nie. Benewens die veel makliker vrywillige uitwisseling van mense tussen lande word ook miljoene mense wêreldwyd weens oorlog, onderdrukking en ander rampe gedwing om uit hulle vaderlande te vlug.
Breyten Breytenbach
|
SJ Naudé
|
Koop Alfabet van die voëls by Kalahari.com.
Lees ook: |
Etienne van Heerden
|
Koop In stede van die liefde by Kalahari.com.
Lees ook: |
Breyten Breytenbach noem mense wat uit hul land van herkoms weg is om in ’n ander land te vestig, maar wat dáár, in die nuwe land, vreemd bly voel, terwyl hulle ook nie meer kan terugkeer nie, omdat hulle in hulle oorspronklike woonplek ewe ontuis is, inwoners van die "middelwêreld".
Burgers van die middelwêreld is ontuis waar hulle aanland, maar kan nie terugkeer na ’n bekende tuiste nie, omdat dit eweneens vir hulle vreemd geword het. In hierdie toestand van ontuisheid begin hulle, soos ’n mens kan verwag, om vrae te vra oor wie hulle is, oor wat aan ’n mens jou identiteit gee. Maar hulle vra ook vrae oor al die bekende kategorieë en raamwerke waarvolgens hulle voorheen hulle wêreld beskryf en verstaan het.
Wanneer ’n mens tuis en gemaklik is op die plek waar jy jou bevind, word die noodsaak om hierdie soort ongemaklike vrae te vra, nie so dikwels ervaar nie. Meestal sal sulke vrae nie eens by ’n mens wat gemaklik in ’n vertroude omgewing is, opkom nie. Maar as jy eers uit jou gemaksone geskud is en begin wonder oor al die vaste verwysingspunte wat dit vir jou moontlik maak om sin te gee aan die wêreld, dan bevind jy jou in Breytenbach se “middelwêreld”.
In sy Notes from the Middle World (2009) verduidelik Breytenbach dat hoewel mense wat hulle so vervreemd en ontuis voel, meestal immigrante, vlugtelinge of nomades is, daar ook mense is wat ontuis voel al het hulle nog nooit gereis nie (hy noem die voorbeeld van Kafka), terwyl sommige reisigers en vlugtelinge maklik tuis voel in die nuwe plek en dus nie in die middelwêreld woon nie.
In die Afrikaanse letterkunde kom hierdie gevoel van ontheemdheid, van ontuisheid en die gevolglike vrae oor identiteit, in die werk van skrywers in die diaspora voor (dink aan die talle boeke oor jongmense wat in Londen gaan werk – soos Jaco Fouché se Die ryk van die rawe), maar ook in die werk van talle skrywers vir wie die "nuwe Suid-Afrika" ’n vreemde plek geword het waarin hulle ongemaklik voel en opnuut met vrae om identiteit worstel.
In sommige skrywers word die ervaring van lewe in die middelwêreld tot sentrale tema gemaak. SJ Naudé se Alfabet van die voëls (2011) is waarskynlik een van die mees boeiende onlangse tekste van hierdie aard. Die idee van trekvoëls wat reeds deur die titel gesuggereer word, word herhaaldelik op verskeie maniere in die bundel aangetref. Talle van die karakters woon en werk in Europa en reis na die Ooste en die VSA. Die gevolge van globalisering, die impak op gesinne wat aan ’n diaspora onderwerp is, word baie fyn ondersoek. Daar is telkens in die verhale sprake van ’n terugkeer na Suid-Afrika, maar hulle verblyf is dikwels tydelik. In die verhaal "Los" word hierdie ervaring van vervreemding tydens ’n terugkeer na Suid-Afrika baie duidelik. Die hoofkarakter besoek ’n kunsuitstalling in ’n verlate kantoorgebou in Pretoria, naby die dieretuin. Inwoners van die gebou, wat in die 1970's gebou is, moet nou daarin vuur maak om te kan kook. Hy hoor ook baie mense wat Frans praat – ’n verdere aanduiding van die vloei van mense oor grense, ’n bevestiging dat talle mense in ’n tyd van globalisering vreemdelinge is (2011:107). Geluide van hiënas en ape is uit die dieretuin hoorbaar en talle gomsnuiwers en tikverslaafdes woon in die gebou, terwyl die meeste van die mense wat die kunsuitstalling op die dak van hierdie gebou bywoon, Afrikaanse "kinders" in hulle twintigerjare is (2011:109). Nietemin is dit nie vir die hoofkarakter moontlik om in hierdie vreemde, kosmopolitaanse omgewing ’n tuiste te vind nie. Trouens, dit is juis in hierdie omstandighede dat hy besef dat hy nie na Suid-Afrika kan terugkeer nie (2011:109).
Homi Bhabha is een van die teoretici wat die ervaring van die middelwêreld teoretiseer. Hy verduidelik dat die lot van die tusseninner ook die posisie van die hibried is: dit wat nóg die een nóg die ander is. Bhabha herinner ons ook daaraan dat hibriditeit nie sonder meer iets is wat gevier behoort te word nie. Dit is nie bloot ’n herlewing wat gevind word in die saamvoeg van uitgediende tradisies nie, maar ’n pynlike proses van stryd (Huddart 2006:113). Die rampspoedige gevolge van mense se vlug oor landgrense weens hongersnood of geweld is reeds in 1999 in Chris Barnard se Boendoe aangeroer.
Etienne van Heerden het reeds in die 1980's die "lied van die boeings" as metaforiese verwysing na die groeiende beweeglikheid van mense genoem en in In stede van die liefde word die mobiliteit tussen (nasionale en internasionale) stede en die maatskaplike gevolge wat vlugtelinge inhou, sentraal gestel in die manier waarop die wêreld beleef word.
Vir Rita Barnard (2012:667–9) is die opvallendste kenmerk van globalisering die versnelde vloei van kapitaal. Wanneer kapitaal in ’n streek invloei, het dit ’n impak op die plaaslike belewenis – die invloed daarvan word ook op die kunswêreld ondersoek in In stede van die liefde.
Minstens twee aspekte van die middelwêreld/diaspora/migranteliteratuur/kosmopolitanisme oor die afgelope 20 jaar verdien aandag:
- Enersyds is daar baie tekste waarin die vloei oor grense en die impak daarvan op onder meer identiteit ondersoek word.
- Andersyds is dit ook belangrik om te let op die veranderde eise wat deur hierdie vloei oor grense aan die studie van letterkunde stel. Word tekste anders gelees binne transnasionale verband? Iemand soos Franco Moretti (2012:161) is van mening dat dit eintlik nie meer sinvol is om letterkunde slegs binne nasionale verband te lees nie en pleit vir "distant reading" sodat letterkunde op wêreldwye skaal bestudeer kan word. Een van die implikasies hiervan is dat ’n mens ook moet kyk na hoe sekere tekste oor landsgrense migreer. Die rol van vertaling in hierdie prosesse is baie belangrik. Waarom word sekere Afrikaanse skrywers met groot sukses vertaal terwyl ander skrywers se werk skynbaar nie goed reis nie? Moretti verduidelik dat Jameson se redenasie dat die abstrakte, formele patrone van die Europese roman buite Europa met "plaaslike" inhoud gekombineer word, vir hom (Moretti) ’n oorvereenvoudiging is: "For me, it's more of a triangle: foreign form, local material – and local form. Simplifying somewhat: foreign plot; local characters; and then, local narrative voice" (Moretti 2012:164). ’n Mens kan hierby ook Appadurai se opvatting van modernisme van toepassing op letterkunde maak: weens ongelyktydigheid en oorvleueling is dit nie so eenvoudig as om te dink dat daar bloot ’n vloei van die sentrum (Europese roman) na die periferie sal wees nie. Die manier waarop verskillende landskappe (scapes, soos Appadurai dit noem) oorvleuel, is dikwels baie ingewikkeld en dit hoef nie noodwendig vanuit die oogpunt van Moretti se Europese hoek bekyk te word nie. Daar is dus ook juis ritme in hierdie verband om ’n meer spesifieke Suid-Afrikaanse hoek hierop te formuleer.
3.4 Historiese imperatief
In talle oorsigte oor die Suid-Afrikaanse letterkunde van die afgelope twee dekades word gewys op die sentrale plek wat ’n bemoeienis met die verlede in die letterkunde inneem. (Hennie van Coller (2009) het dit by geleentheid ’n byna "obsessionele belangstelling in en bemoeienis met die geskiedenis" genoem.) Veral aanvanklik, gedurende die 1990's, het die bemoeienis met die verlede aangesluit by die werksaamhede van die WVK.
Koop Tolbos by Kalahari.com.
Lees ook: |
Koop Sirkusboere by Kalahari.com.
Lees ook: |
’n Bemoeienis met die verlede is nie beperk tot die Suid-Afrikaanse letterkunde nie. ’n Mens kan maar net kyk na die Booker-prystoekennings van die afgelope paar jaar om ’n aanduiding te kry dat die historiese roman tans besonder gewild is (’n verskynsel wat ook dalk verband hou met die realiteitshonger wat hier bo bespreek is?): in 2009 is die Booker-prys aan Hilary Mantel toegeken vir haar historiese roman oor die tyd van Henry VIII, Wolf Hall. Die prys is in 2012 weer aan haar toegeken vir die opvolg op hierdie roman, Bring up the Bodies. Verlede jaar het die prys weer aan ’n historiese roman gegaan: Eleonor Catton se The Luminaries.
Gegewe Suid-Afrika se ongelukkige verlede van onderdrukking en uitbuiting kan ’n mens te wagte wees dat hierdie onstabiele verlede in die letterkunde ondersoek sal word. Aan die een kant is die vergrype van die apartheidspolisie byvoorbeeld al vroeg in die 1990's ondersoek in John Miles se Kroniek uit die doofpot, maar ook in populêre fiksie word steeds, nou nog, teruggekeer na die 1960's–1980's met pogings om te probeer verstaan hoedat "ons nie kon geweet het nie" (Irma Joubert se Tolbos, 2013, as onlangse voorbeeld). In verskeie "grootwordromans", byvoorbeeld Mark Behr se Die reuk van appels, Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie, word die ervaring van ’n gelukkige jeug in ’n vreedsame en voorspoedige wêreld vernietig deur die verlies van onskuld wat verband hou met die besef dat hierdie wêreld ’n leuen is wat op uitbuiting en onderdrukking gebou word. Carl van der Merwe se Nasleep en Chris Karsten se ’n Man van min belang is ook tekste waarin die onlangse apartheidsverlede ondersoek word.
Veral aan die einde van die 1990s, in aanloop tot die honderdjarige herdenking van die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog), is op verskeie maniere na hierdie deurslaggewende oorlog in Suid-Afrika se geskiedenis gekyk: Christoffel Coetzee se Op soek na generaal Mannetjies Mentz; Engela van Rooyen se Vuur op die horison; PG du Plessis se gewilde Fees van die ongenooides; Sonja Loots se Sirkusboere en Deon Opperman se ambisieuse Donkerland (eers as drama, toe as TV-reeks en later roman) as lukrake voorbeelde.
Daar word ook verder terug in die geskiedenis gedelf deur Dalene Matthee (Pieternella van die Kaap), Dan Sleigh (Eilande), Karel Schoeman (Verkenning) en André P Brink (Philida), as lukraakgekose voorbeelde.
Die verlede word dikwels op parodiese wyse ondersoek, veral in tekste wat as "postmodernisties" beskryf is. Hierdie soort tekste, wat deur Linda Hutcheon as "historiografiese metafiksie" beskryf word, is gemoeid met die prosesse wat aan die gang is wanneer die verlede beskryf word. In hierdie tekste word telkens bevraagteken wat die moontlikhede is om die verlede te kan ken, om die argiefbronne te kan vertrou, en hoe daaroor verslag gedoen kan word. Sodoende word bestaande weergawes van die verlede uitgedaag en geparodieer. (In sommige ekstreme gevalle word ligtelik en op spottende wyse met die amptelike geskiedenis gespot – Suidpunt-jazz van André Letoit in die laat 1980's is ’n voorbeeld daarvan, maar in talle ander weergawes word telkens verwys na die onbetroubaarheid van die geheue, die moeite om kennis in te win en ’n openlike erkenning van die noodsaaklike rol wat die verbeelding en wensdenkery in die proses van herinnering en geskiedskrywing speel – Elsa Joubert in Die reise van Isobelle, Schoeman in Verliesfontein, Van Heerden in Die swye van Mario Salviati.)
Volgens Van Coller sluit so ’n selfbewuste of parodiese benadering tot die verlede nostalgie uit, maar dit is duidelik dat daar ook sommige werke is waarin nostalgiese herinneringe aan ’n ongekompliseerde "ou Suid-Afrika" ook voorkom. Selfs in werk waarin die politieke verandering in die land oënskynlik aanvaar of verwelkom word, skyn daar dikwels ’n verlange na die "goeie ou dae" deur. Dana Snyman is ’n meester wanneer dit kom by die oproep van die verlede op ’n manier wat lesers emosioneel baie nou betrek. Hy slaag telkens daarin om (veral dalk ’n sekere generasie Afrikaanse?) lesers emosioneel te roer deur sy besonder sterk sintuiglike beskrywings van vervloë dae.
Deur die noem van enkele handelsname (’n Valiant-motor, ’n Datsun-bakkie, ’n Tempest-radio), of ’n reuk (politoer, vars brood, pannekoek), of klanke (Jim Reeves, Robin Alexander se deurnagradioprogram), of deur die verwysing na volkstradisies (huisgodsdiens, Kersdienste, basaars), of deur die noem van ’n kenmerkende periodestyl (haarstyl, kleredrag, ducktails), slaag hy telkens daarin om nie net ’n vergange era bloot op te roep nie, maar die leser as't ware in ’n ander era te plaas, sodat die leser dit nóú kan ruik en kan hoor en kan proe.
Hierdie herinneringe aan ’n vorige era, ’n ander tydperk, word in skerp kontras teenoor die hede gestel. Teenoor die herinneringsknoppies wat Snyman so bedrewe kan druk om ’n bekende verlede by die leser op te roep, en saam met die bekendheid ’n gevoel van vreedsaamheid, heelheid, geborgenheid, eenvoud en verstaanbaarheid, word die hede ervaar as ’n tyd wat deurmekaar is, ’n tydperk van anargie en ingewikkeldheid, van konflik en konfrontasie.
In Snyman se kortverhale, soos "Anderkant die scrap" en "’n Nuwe waarheid uit die ou-ou woorde", word byvoorbeeld gewys op die NG Kerk wat telkens van opinie verander het en nie meer seker leiding bied nie. Mense in leiersposisies kan nie vertrou word nie en daar is voortdurende konflik en agterdog tussen mense van verskillende rasse en klasse en geslagte.
Die hede word in al twee hierdie verhale as ingewikkeld en onseker ervaar. Mense weet nie hoe hulle behoort op te tree nie – nie teenoor hulle eie verlede, hulle ouers, hulle eie mense se tradisies nie, maar ook nie teenoor "ander" mense met ander tradisies nie.
Deesdae, so blyk dit uit hierdie verhale, is identiteit ingewikkeld weens skuldgevoelens en talle onsekerhede en ontmaskerde leuens oor godsdiens, tradisionele gebruike en politieke assosiasies. Hierteenoor word ’n vervloë era opgetower toe al hierdie goed nog eenvoudig was, toe alles verstaanbaar was.
Hierdie teenwoordigstelling van ’n vergange era van eenvoud en die kontrastering daarvan met ’n ingewikkelde en onaangename hede is natuurlik nostalgie en dit kom dikwels ook voor in Snyman en ander skrywers wat glad nie probeer om die apartheidsverlede goed te praat nie, omdat die "onskuldige" jeugherinnerings dikwels so besonder sintuiglik opgeroep word. (Dink maar aan Helena Gunter, Jan van Tonder.)
Nostalgie is eintlik ’n reaksie op die hede, eerder as wat dit bloot die onthou van die verlede is. Die verlede word immers op ’n baie spesifieke manier onthou – baie onaangename aspekte word vergeet sodat ’n ideale verlede onthou word. Nostalgie het ’n kragtige werking juis omdat dit die leser emosioneel betrokke kry by die verlore (ideale) verlede en terselfdertyd ’n emosionele weerstand teen die deurmekaar hede wek.
Die gewildheid van reistydskrifte, van 4x4-safari's en van al meer wildplase dui ook op ’n soort nostalgie. Kyk gerus hoe die advertensies en artikels lesers laat verlang na ’n era toe Afrika nog ’n wilde, leë en eenvoudige plek was – onbegrens en vol wilde diere wat vrylik getrek het. Natuurlik berus hierdie "ideale" voormalige era op die "vergeet" van die mense in Afrika (ook van al die mense wat van plase af na dorpe verskuif word om plek te maak vir lodges).
Nostalgie kan gevaarlik wees, juis omdat dit so emosioneel kragtig tot mense spreek, en mens behoort krities te kyk na ’n Bok van Blerk-land-van-melk-en-heuning wat aanloklik lyk vir mense wie se huidige situasie aan hulle voorgehou word as ’n posisie van onreg en miskenning. Abraham de Vries waarsku in Tot verhaal kom hierteen en eksperimenteer daarin met maniere van vertel wat hierdie slaggat van nostalgie vermy.
Nostalgie is ’n reaksie op ’n ervaring van ontheemding in ’n tyd van krisis. Die politieke filosoof Robert Berki (in Megill 1987:113) redeneer dat mense in ’n tyd van krisis óf optimisties óf nostalgies reageer. Ook in die Afrikaanse verhaalkuns is daar voorbeelde van optimistiese reaksies op die ervaring van krisis (Izak de Vries se kortverhale, Etienne van Heerden se Klimtol, Elsa Joubert se Die reise van Isobelle). Skrywers wat "optimisties" reageer, bied nie noodwendig ’n naïewe optimisme oor ’n voorspoedige toekoms nie, maar is kreatief besig om alternatiewe moontlike maniere van bestaan kreatief te ondersoek, en daarom is ook Antjie Krog en Breyten Breytenbach se prosa hierby in te sluit.
Gevolgtrekking
Die stand van die Afrikaanse letterkunde 20 jaar na demokrasie is dus nie so eenvoudig op te som asof alles wat gebeur het direk te wyte / te danke is aan die politieke verandering in die land nie. Dit was juis ook ’n tydperk waarin letterkunde wêreldwyd deur talle verskuiwings geraak is. Die implikasies is onder meer dat Afrikaanse letterkunde al minder in isolasie geskryf of bestudeer kan word. Definisies van wat (Afrikaanse) letterkunde is, en wat dit behoort te wees, verskuif ook in hierdie tyd weens wat hier bo as die populêre wending en realiteitshonger beskryf is. Die geskiedenis word ook op verskeie maniere (nostalgies en optimisties) ondersoek in ’n tydperk wat soms as ’n krisistyd ervaar word. ’n Bewustheid van groeiende transnasionalisme kom nie alleen in die Afrikaanse letterkunde voor nie, maar dit lei daartoe dat ander eise gestel word aan die manier waarop (Afrikaanse) letterkunde gelees word. Op hierdie uitdagings kan natuurlik ook nostalgies of optimisties gereageer word. Ek is optimisties oor die nuwe moontlikhede wat oopgemaak word wanneer Afrikaanse skrywers hulself in die wêreldletterkunde inskryf deur uit die Afrikaanse wêreld te put en oor die moontlikhede om Afrikaanse letterkunde binne ’n veel ruimer verband te lees.
Bibliografie
Arnold, M. 2008 (1882). Culture and Anarchy. Aanlyn beskikbaar by http://www.gutenberg.org/ebooks/4212 (15 November 2010 geraadpleeg).
Attridge, Derek. 2004. The Singularity of Literature. Londen: Routledge.
Attwell, David en Derek Attridge (reds). 2012. The Cambridge History of South African Literature. Cambridge: Cambridge University Press.
Barnard, Rita. 2012. Rewriting the Nation. In Attwell en Attridge (reds) 2012.
Bourdieu, Pierre. 1993. The Field of Cultural Production. Cambridge: Polity Press.
Breytenbach, B. 2009. Notes from the Middle World. Chicago: Haymarket Books.
Casanova, Pascale. 2009. The World Republic of Letters. Cambridge: Harvard University Press.
—. 2014 (2005). Literature as a World. In Damrosch (red) 2014.
Chapman, Michael. 1996. Southern African Literatures. Pietermaritzburg: UN Press.
Comaroff, J en JL Comaroff. 2001. Nurturing the Nation: Aliens, Apocalypse, and the Postcolonial State. Journal of South African Studies. 27(3):627–55.
Damrosch, David (red). 2014 (2005). World Literature in Theory. Oxford: Wiley Blackwell.
De Kock, Leon. 2001. South Africa in the Global Imaginary: An Introduction. In De Kock ea 2001.
—. 2005. Does South African Literature still Exist? Or: South African Literature is Dead, Long Live Literature in South Africa. English in Africa. 32(2):69–83.
—. 2011. High noon in the badlands. Mail & Guardian Online: http://mg.co.za/article/2011-05-06-high-noon-in-the-badlands.
De Kock, L, L Bethlehem en S Laden. 2001. South Africa in the Global Imaginary. Pretoria: Unisa Press.
D'Haen, Theo. 2012. The Routledge Concise History of World Literature. Londen: Routledge.
Gérard, AS. 1993. Towards a National History of South African Literature and Postscript. In Gérard en Hanekom 1993.
Gérard, AS en W Hanekom. 1993. Comparative Literature and African Literatures. Pretoria: Via Afrika.
Grey, S. 1979. South African Literature: An Introduction. Cape Town: David Philip.
Huddart, David. 2006. Homi K Bhabha. Londen: Routledge.
McDonald, Rónán. 2007. The Death of the Critic. Londen: Continuum.
Medalie, David. 2010. The Uses of Nostalgia. English in Africa, 53(1):35–44.
Megill, Allan. 1987 (1985). Prophets of Extremity. Nietzsche, Heidegger, Foucault, Derrida. Berkeley: University of California Press.
Moretti, Franco. 2012. Conjectures on World Literature (2000) and More Conjectures (2003). In Damrosch 2014.
Myburgh, HMM. 2009. Die vierde genre: De plaag (Van Reybrouck) as voorbeeld van literêre niefiksie. Ongepubliseerde MA-verhandeling: Unisa.
Naudé, SJ. 2011. Alfabet van die voëls. Kaapstad: Umuzi.
Shields,David. 2010. Reality Hunger. Londen: Hamish Hamilton.
Snyman, Maritha. 2011. Maritha Snyman gesels oor die plek van middelmoot-literatuur in die literêre sisteem. https://www.litnet.co.za/Article/litnet-akademies-maritha-snyman-gesels-oor-die-plek-van-middel (13 Mei 2014 geraadpleeg).
Spivak, Gyatri Chakravorty en David Damrosch. 2014 (2011). Comparative Literature/World Literature. A Discussion. In Damrosch (red) 2014.
Vaessens, T. 2009. De revanche van de roman. Literatuur, autoriteit en engagement. Nijmegen: Uitgeverij Vantilt.
Vaessens, Thomas. 2013. Geschiedenis van de moderne Nederlandse literatuur. Nijmegen: Vantilt.
Van Coller, HP. 2009a. Tussenstand: Letterkundige opstelle. Prosakroniek: 1998–2000. Skrywers op die tweesprong. Pretoria: Van Schaik
—. 2009b. Tussenstand: Letterkundige opstelle. Tussen nostalgie en parodie: die Afrikaanse prosa in die jare negentig I en II. Pretoria: Van Schaik
—. 2011. Literatuur in die marge: Die plek van die middelmoot-literatuur. LitNet Akademies, 8(2).
Van Niekerk, Marlene. 2004. Agaat. Kaapstad: Tafelberg.
Wessels, Andries. 2007. Problematisering van die etiese: Deon Meyer se Infanta as hard-boiled misdaadroman. Tydskrif vir Letterkunde, 44(2):104-118.
Eindnotas
2 "Sonderlingheid" is dalk ’n woord wat ietwat vreemd op die oor val, maar ek gebruik dit hier as Afrikaanse vertaling van "singularity" in die betekenis wat Derek Attridge daaraan koppel in The singularity of literature (2004).
3 Rónán McDonald redeneer in The Death of the Critic (2007) dat hierdie soort "eksterne kritiek" grootliks bygedra het daartoe dat literatuurstudie in diens van antropologie, sosiale geskiedenis, psigologie, sosiologie, filosofie of politieke studie beland het. Letterkundiges vrees dat hulle nie meer relevant is nie en daarom laat val hulle die klem eerder op die blootlegging van politieke motiewe van in- en uitsluiting ten einde te probeer om ten minste relevant voor te kom.
4 Daar bestaan immers ’n lang tradisie om oor nasionale grense heen na letterkunde te kyk (wat dikwels teruggevoer word na Goethe se opvatting van Weltliteratur). In die veld van vergelykende literatuurstudie is ook gedurende die 20ste eeu verskeie pogings aangewend om die beperkings van die afsonderlike bestudering van nasionale letterkundes te oorstyg. Hierdie studies is egter dikwels in afsonderlike departemente vir vergelykende literatuurstudie onderneem, terwyl die afsonderlike studie van verskillende tale se letterkundes dikwels byna ongeraak voortgegaan het. Eers sedert die 1990's, waarskynlik deur globalisering ondersteun, tree die belang daarvan om nasionale letterkundes binne die wyer konteks van wêreldletterkunde te onderneem, sterker na vore. Daar heers ’n soms baie vyandige debat tussen voorstanders van "Vergelykende literatuurstudie" en die voorstanders van "Wêreldletterkunde". (Kyk byvoorbeeld na die debat tussen Damrosch en Spivak, 2014.)
5 De Kock het dit in hierdie stelling (uit ’n artikel wat hier onder breedvoeriger bespreek word) in die eerste plek oor die feit dat Afrikaanse letterkunde nie soseer deur Suid-Afrikaanse literatuur in Engels beïnvloed word nie, maar by ’n baie wyer terrein aansluit.
6 Hierdie idee word hier onder verder ondersoek.
7 Berki, RN in Megill (1987:113).
8 Die "kulturele wending" word dikwels gekoppel aan die werk van Foucault, Bourdieu, Derrida, Hayden White, Geertz, Jameson en ander poststrukturalistiese denkers wat in die spoor van die "talige wending" gewerk het.
9 Twee onlangse voorbeelde: Op die buiteblad van Rudie van Rensburg se Kopskoot (2014) word Meyer aangehaal: "’n Vars bries en ’n lekkerlees-stem in Afrikaanse misdaadfiksie", en op die buiteblad van Joanne Macgregor se Dark Whispers (2014) word Nicol aangehaal: "Read this thriller. It's gripping – so shocking you won't be able to breathe until you get to the end."
<< Gaan terug na Poolshoogte <<