Die dans met die dooies: Karsten se nuutste ’n Roman van Groot Belang

  • 0

’n Man van min belang
Chris Karsten
Human & Rousseau, 2013
ISBN: 9780798157766

 

 

 

Koop ’n Man van min belang van Kalahari.com.

 

 

 

As naaswenner van Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2012 is die nuwe roman van Chris Karsten beslis die lees werd. Sedert 2007 se eerste roman vir volwassenes, Frats, het Karsten natuurlik ook Seisoen van sonde en die uitstaande Abel Lotz-trilogie gepen.

Wat Karsten as skrywer vir my onderskei, is die sonderlinge manier waarop hy die roman as grensverskuiwende fiktiewe ruimte ontgin om met die werklikheid om te gaan: die soom van verbeelding in Karsten se werk is so fyn dat sy romans méér as net ontvlugting van die werklikheid (die ou cliché van die spanningsroman) bied. Sy herskepping van wat ons dink ons weet (en voel) oor sekere onderwerpe dwing die leser om sy of haar standpunte te heroorweeg; die vervlegtheid van historiese elemente met hedendaagse etiese en morele kwessies hier is onmiskenbaar.

Met Karsten se vermoë as skrywer bo verdenking is dit dus my taak as resensent om noukeurig oordeel te vel, sonder om die roman se geheime te verklap.

Soos die geval met Ingrid Winterbach se jongste is Karsten se werk hier ’n amalgamasie van vorige tematiek, styl en vorm: die gevolge van die polisieveldtog teen ANC-kaders kort voor demokratisering is een van die verhaallyn se dryfvere, soos in Seisoen van Sonde; Frats se volgehoue sensitiwiteit en fokus op psigiese eerder as fisiese geweld en trauma duik by ’n mens op terwyl jy hier lees; die ensiklopediese, verstommende omgang met antropologiese elemente en die natuur, en die fyn waarnemings van geskonde intimiteit en gebroke familie-verhoudinge soos in die Abel-romans.

Met ’n Man het Karsten ’n weinig-verkende tema in Afrikaanse fiksie as dryfveer gekies: die opsporing en identifisering van die beendere van politieke aktiviste wat om die lewe gebring is gedurende die laaste asem van apartheid. Die roman se katalisator is die oorskot van vier jongmense wie se oorskot op ’n fynbosplaas in die Langkloof deur ’n boer oopgeploeg word.

Die opgrawe van die beendere dien as plot-drywer en vlek ook die sentrale tema van opgrawing en identifikasie oop: fisiese sowel as psigiese opgrawing, die oopgrou van ’n verlies van onskuld, die gesig van wreedheid en ontnugtering, die soektog na wraak en vergelding, die gebeendere van geheuenis en die soektog na die spoor van hoop wanneer smart en ellende dreig. Die roman is ook enduit met die broosheid en nut van waarheid asook die mens se verganklikheid en uiteindelike aanvaarding van die dood gemoeid.

Alhoewel daar volop aksie in die roman plaasvind – uiters aktueel, belig uit ’n verskeidenheid invalshoeke, met tye intens en enduit boeiend – is die verskeidenheid volronde en egte karakters die murg en been om die roman se geloofwaardigheid en morele impulse. Karsten skep karakters wat léwe.

Die man van min belang van die titel is kolonel Eddie Thom, op die oog af slegs ’n klein wiel in die apartheidsmasjien as “ondervraer” en “inkwisiteur” van die polisie. Thom is egter iemand wat eindelik die reg oor lewe en dood handhaaf. Sy teenwoordigheid is diep in die sentrale konflik van die roman begrawe.

Die mariene bioloog Luca Thom volg die spoor wat agtergelaat is deur sy pa na sy klaarblyklik grusame dood in 1995, volgens die geregtelike ondersoek. Sy “opgrawing” van sy pa se lewenswending lei hom op ’n haas ongelooflike emosionele tog uit Suid-Afrika, na ’n fabelagtige eindbestemming. Meld ook hier die eenvoudig fantastiese toevoeging van ’n filosofiese sprokie van Goethe wat deur die are van die roman pols, en feite rondom die sekslewe van die seepok, Balanus Glandula, wat weinig ander outeurs so soomloos met die res van die prosa sou kon integreer. Wie sou dit waag?

Naas Abel Lotz is Eddie Thom se broer Booger dalk Karsten se mees onvergeetlike karakter tot op hede, ’n kleurvolle, aweregse grootmeester van die skrootwerf met sy eie stel geheime. Booger is versot op die mooiste en vinnigste motors, die filmdivas van die veertigerjare en die bokshelde van toeka se dae. Sy verhouding met veral die jong en later die volwassene Luca is ryk geskakeer en werklik treffend, en dit is een van die vele sedimente in ’n roman wat stadig maar seker as ’n geslypte diamant verhelder.

Met familieverwantskap tussen pa, oom en seun ’n hoeksteen van hierdie roman vind ons die teenvoeter vir Eddie, Booger en Luca in die vorm van die geheimsinnige sekurokraat Mosman en die joernalis Luther. Mosman is die direkteur van ’n obskure intelligensie-afdeling, die Taakspan vir Vermiste Persone, en sy onbegonne taak is om die slagoffers van Suid-Afrika se eie “vuil oorlog” op te spoor en te identifiseer. Mosman beskou dit as sy morele roeping en plig om antwoorde te soek op vrae wat baie mense eerder begrawe sou sien, en hy worstel met die akute pyn van dood en verlies in sy eie lewe. So is daar ook die joernalis Luther – op die drumpel van aftrede – wat as sy laaste storie die vonds van die geraamtes ondersoek, en sy eie narratief van verlies en ontnugtering in die proses oopvlek.

Karsten behandel ook nie sy vroulike hoofkarakters te stief nie, en Eddie se vrou, die aktrise Carlita, en die anderwêreldse Snowy Lamilami, word met bevredigende diepte ontgin.

Telkemale neem die roman verrassende wendings, met die emosioneel aangrypende en intieme slot uiters oortuigend. Karsten, wat vreesloos is in sy oopkrap van wonde, is ook ’n skrywer wat elke wond se (on)moontlike heling ondersoek. Daar is egter selde vooraf sekerheid oor waar en hoe heling sal kan geskied. Karsten se alombekende vernuf in die manier waarop hy ’n magdom verskillende verhaallyne saamsnoer tot ’n hegte eenheid is egter wat mens hier oorbluf - die ou tameletjie van blote toeval bly hier onaangeraak. Ander skrywers kan gerus by Karsten gaan aanklop.

Metatekstuele speurverhaal, ewewigtige politieke roman, uitdagende ondersoek na die aard van transformasie en die mens se omgang met die verlede ... ’n Man van min belang verskuif die grense van die spanningsroman. Dit is naas Karin Brynard se Onse Vaders genoegsame bewys dat die misdaad-genre in Afrikaans wel betrokke en toeganklik kan wees sonder om intellektuele integriteit prys te gee, en beklemtoon weer eens die absolute noodsaaklikheid van die roman in Afrikaans en in ons samelewing vandag.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top