In my vel deur Azille Coetzee: ’n skrywer wat haarself blootlê sodat ons onsself kan sien

  • 1

In my vel
Azille Coetzee
Uitgewer: Tafelberg

ISBN: 9780624087298

“A good book … leaves you wanting to reread the book. A great book compels you to reread your own soul,” skryf Richard Flanagan in The narrow road to the deep north. En dit is wat Azille Coetzee dekselswil met ’n mens doen – op die mees onpretensieuse manier moontlik. Die laaste keer dat ek so iets beleef het, was toe ek Jacob Dlamini se Native nostalgia gelees het. Jacob se grootwordwêreld kon nie meer hemelsbreed van my eie verskil nie, maar tog het hy nostalgie só vernuftig ingespan dat ek eensklaps besig was om terselfdertyd my eie verhaal in my kop te skryf. Azille doen dieselfde met ’n mens.

Hierdie boek is bedrieglik. Azille sleur ’n mens mee met haar herinneringe aan haar kinder- en studentedae; sy boei ’n mens (wie sal dan nou nié geboei wees nie!) met die verhaal van haar liefdesverhoudings: die Suid-Afrikaanse kêrel wat haar na Nederland vergesel, en wat sy saam met haar wit skuld soos ’n swaar vel afskud sodat sy die ligtheid van die Nederlandse “kleurloosheid” kan geniet. Die Nederlandse lover wat die stede van Europa vir haar oopmaak. Die eksentrisiteite van die Nederlandse samelewing, soos die immer teenwoordige agendas waarin afsprake aangeteken word en die Nederlandse beheptheid met stokperdjies. Die vreemdhede van die taal – en die stryd om te onderskei wanneer iets “leuk” of “lekker” is. Dit lees soos soetkoek. En voor jy jou kom kry, het sy jou saggies aan die hand gelei, en wroeg jy saam met haar oor wat dit beteken om wit te wees in ’n vreemde land waar witheid die norm is; wat dit beteken om die erfgenaam te wees van ’n koloniale plundertog in die land van Jan van Riebeeck se herkoms, waar sy naam in die vergetelheid vervaag het. Snaaks dat die Nederlanders nie die woord wroeg ken nie. Ek en ’n paar Afrikaanse kollegas het op ’n slag aan ’n Nederlandse besoeker probeer verduidelik wat wroeg beteken. Hoe wroeging ’n onlosmaaklike deel van die Afrikaanse psige is.

Ons (wit Suid-Afrikaners, wit Afrikaners) is die oorblyfsels van die koloniale projek, het dit by my opgekom terwyl ek die boek lees. Ons put daagliks voordeel uit die hiërargiese samelewing wat hier aan die suidpunt van Afrika gevestig is. Die koloniale meesters het lank gelede teruggetrek na hul rykmanshuise in Amsterdam se grachtengordel, of Londen se Park Lane. Laasgenoemde het in die laat 19de eeu die voorkeuradres geword vir Suid-Afrikaanse mynmagnate wat hul skatte daar gaan geniet het.

In die stede van Europa kon die eertydse heersers gerieflik vergeet van die verwoesting wat hulle elders gesaai het, want hulle hoef nie die nagevolge van hul dade in die oë te kyk nie. Hul nasate in die kolonies het die projek lustig op eie stoom voortgesit, tot dit uiteindelik in duie gestort het. Vandag word die Suid-Afrikaanse middelklas gedwing om vas te kyk in die nadraai van kolonialisme en apartheid. En in reaksie daarop trek ons terug in sekuriteitskomplekse waar ons vir ’n oomblik ons oë vir die ongelykhede om ons kan sluit. En waar ons in gemak kan wroeg. Tog, vra Azille, “[i]s Nederland anders as ’n baie groot Rosebank of Tamboerskloof of Welgedacht, op ’n wêreldskaal?” (114). Want die wêreld se armoede en ongelykheid word eenvoudig net buite die landsgrense gehou, waar niemand dit kan sien nie.

Sy tob oor die homogeniteit van die Nederlandse samelewing, iets wat aan die Nederlanders soveel sekerheid in hul identiteit gee. Almal praat dieselfde taal, almal is middelklas, almal kyk dieselfde televisieprogramme. Dit staan vir haar in kontras met die pluraliteit van ons Suid-Afrikaanse samelewing: “In my land leef ons met soveel dubbelsinnigheid, paradoks en kompleksiteit, met soveel pluraliteit, beweging en verskil, dat ons koppe oopstaan, ons hande reg, ons monde los, ons nekke lank, ons lywe lekker tegendraads” (141). Ek knik ywerig saam terwyl ek dit lees. En dan skud ek ook my kop.

Nog nooit tevore het soveel mense, vanuit verskillende oorde, my van ’n boek vertel en gesê dat dit hulle aan my laat dink het nie. En as mens eers die boek begin lees, is dit maklik om te verstaan, want daar is ’n paar klinkklare ooreenkomste tussen my intellektuele grootwordverhaal en dié van Azille.

En tog ook nie.

Van wat ek kan aflei, is ek maar vyf jaar ouer as Azille. ’n Klein, maar soms beduidende verskil, want wêrelde kan in vyf jaar verskuif. Waar Azille in die gemaklike Afrikaansheid van Bellville grootgeword het, het ek my laerskooldae in pre-1994 Hartbeespoortdam deurgebring, in die jare toe die stadsraad nog die dorp se ongereptheid wou bewaar deur ontwikkeling te verhoed. Deesdae kan ek dit nie verdra om die plek te besoek nie – met al die ontwikkelaars wat sedert 1994 ingestroom het, het dit onherkenbaar geword, en dit verwoes my nostalgiese herinneringe aan die stil dorpie waar ons ongestoord in die strate met ons fietse kon rondry. Daar was nie ’n township, of “lokasie”, soos ons dit destyds genoem het, in sig nie. Die enigste swart mense wat mens ooit teëgekom het, het in jou huis of in jou tuin gewerk, en saans het hulle stil-stil verdwyn – waarheen, het ons as kinders nie eens gewonder nie. Almal was middelklas – dalk laer, middel- of hoër middelklas, maar nietemin middelklas. Almal het Afrikaans gepraat – die paar verdwaalde Engelse ook. Die drie susterkerke – en die enkele AGS-kerk – het mooi in gelid op ’n ry gestaan, in dieselfde straat, oorkant die laerskool. Dit was die laaste jare van Christelike Hoër Onderwys, waar kerk en skool só met mekaar vervleg was dat hulle aan mens ’n gesamentlike opvoeding gebied het. Wit en Afrikaans was die norm – die ekwivalent van ’n groot sekuriteitskompleks soos Welgedacht, waar Azille grootgeword het, maar sonder die veiligheidswagte en mure, want apartheid was genoeg om dit in stand te hou.

Waar Azille dalk te klein was om Nelson Mandela se vrylating en die eerste demokratiese verkiesings te onthou, het ek duidelike herinneringe aan albei dae, alhoewel ek destyds nie mooi begryp het wat dit alles behels nie. Op beide dae was ek hard besig om te speel – met neefs en niggies, en met skoolmaats. Aan my eie wêreld was daar geen veranderinge te bespeur nie.

Die sekerheid van my Afrikaanse wêreld het aan skerwe gespat toe ons na Sandton verhuis het. Skielik was ek in ’n Engelse skool met ’n klomp rykmanskinders, en ’n handjievol swart kinders. Sommiges was lid van die nuwe swart elite, ander het vroeg daardie oggend opgestaan om ’n taxi skool toe te haal sodat hulle ook ’n Model C-skool-opvoeding kon ontvang. Ek het weinig van hulle stories geken. Hulle het hulself meestal eenkant bymekaar geskaar om hulself te pantser teen die oorheersende Engelse witheid wat hier die norm was. Ek was ingestel op my eie oorlewing, en het nie verder as my eie belewenis gedink of gekyk nie. Skielik is ek “Dutchman” en “rockspider” genoem, skeldname wat ek nog nooit vantevore gehoor het nie, en aanvanklik nie verstaan het nie. In hierdie wêreld was ek beslis nie wit genoeg nie – net soos wat Azille in Nederland beleef het. Daar is skakerings van wit.

Met verbystering onthou ek hoe ’n klompie van ons eendag in ’n kringetjie gestaan het, almal van ons wit, twee van ons Afrikaans, buiten een enkele swart meisie – sy was nuut, en het niemand geken nie. “Twee van die meisies in hierdie kring is Afrikaans – kan jy hulle uitken?” het een van die Engelse meisies aan die swart meisie gesê. Want in daardie wêreld was Afrikaners eintlik ’n ander ras op sigself. Sy het rondgekyk, en na die ander Afrikaanse meisie gewys. “You smell like a Boer,” het sy gesê, terwyl almal geskater het van die lag. Vir my kon sy nie uitken nie.

Ek onthou die oomblik, waaroor ek vandag my kop in skaamte laat sak, as ’n keerpunt. Hoekom, as ons almal wit is, as ons dan dieselfde lyk, is ons so verskillend? het my 14-jarige self gevra. Die enigste antwoord wat ek op daardie brose ouderdom kon gee, was dat daar ’n verskil in mentaliteit moet wees. Dit was iets wat ek toe al, pynlik, kon aanvoel. Witheid is nie homogeen nie. Op universiteit, by die destydse RAU, het dit die tema van my studies geword: ’n poging om mentaliteit, of identiteit, uit te pluis. Met ’n ompad het dit my tot by DF Malan gebring, die man na wie Azille se skool vernoem is, en ek het sy biografie geskryf. Dit het daaroor gegaan om Afrikaners te probeer verstaan, om Afrikaners aan hulself en aan die wêreld te probeer verduidelik. Nie om te regverdig nie, maar om te begryp wat gebeur het. Om dit te kon regkry, het ek juis, per abuis, skuiling gevind in die gemaklike, onnadenkende wit wêrelde waarvan Azille skryf.

Ek is na Stellenbosch vir my doktorsgraad in geskiedenis – nog ’n plek van gemaklike witheid, wat vir Azille ’n naatlose voortsetting van die witte Bellville was. Natuurlik was die dorp se bekoring vir my ’n sterk aantrekkingskrag, maar dit het eintlik gegaan oor my promotor, iemand wat al vir jare die ou argaïese nasionalistiese narratiewe in sy werk uitgedaag het. In Johannesburg het ek ’n lang disclaimer gereed gehad om te verduidelik waarom ek iemand soos DF Malan – of selfs Afrikaners! – bestudeer. Mense het sommer dadelik aangeneem dat as ’n mens nasionalisme bestudeer, jy self ook ’n nasionalis moet wees. En waarom wit Afrikaners bestudeer terwyl soveel swart verhale vir so lank geïgnoreer is, en uiteindelik vertel kan word? Tydens my voorgraadse kursus aan die RAU was daar, ten spyte van die universiteit se naam, nie ’n enkele module wat eksklusief oor Afrikaner-geskiedenis gehandel het nie – die fokus was op strugglegeskiedenis, arbeidsgeskiedenis, stedelike geskiedenis, Afrika-geskiedenis, ras, gender ens. Dit was die geskiedenis van mense wie se verhale voorheen nie vertel is nie, in weerwil van die ou wit mans wat ons skoolhandboeke oorheers het.

Stellenbosch se Geskiedenisdepartement, of altans die departement van dertien jaar gelede, het vernuwende temas in die geskiedenis aangepak, maar daardie vernuwing was grotendeels toegespits op Afrikanergeskiedenis. En dit was baie nodig, want uiteindelik was daar die ruimte om ontslae te raak van die ou, verstokte nasionalistiese narratiewe en om Afrikaners se veelvoudigheid uit te lig. In dié departement, waar ’n mens nou sou argumenteer dat witheid die norm was, kon ek die verhaal van ’n Afrikaner-leier op sy kop keer.

Die witheid van die dorp en die kampus het my aanvanklik gepla. In die eerste weke wou ek mense aan die skouers skud, hulle uit hul gemak uit ruk, en vir hulle skree: “Julle bly nie in die regte Suid-Afrika nie!” Vir ’n Johannesburger is die vergenoegdheid van die Wes-Kaap verstommend. Maar kort voor lank het ek deel van die gemak geword. En dit was heerlik, verligtend – ’n voorsmakie van wat Azille in Nederland sou beleef. Tog het die vrees om oor ’n apartheidsleier te skryf aan my bly knaag. Ek moes nog verder reis om dit af te skud.

Ek is 2008 na Nederland, waar ek ’n jaar by die Universiteit van Groningen se Biografie-instituut spandeer het. Ek het nie gegaan om aan Suid-Afrika te ontsnap nie – ek wou meer oor biografie leer, want ek het gou agtergekom biografie skryf is nie dieselfde as “gewone” geskiedenis skryf nie. En dan was daar nog die vooruitsig van ’n Europese avontuur – ek was nog nooit tevore oorsee nie. En soos Azille wou ek, toe ek daar aankom, sommer vir ewig daar bly. Ek het soggens deur Groningen se Noorderplantsoen na die universiteit gestap. Daar was ’n lamppaal waar ek elke dag verbygestap het (ek sien dit nog so in my geestesoog), en ek het lus gevoel om myself aan die lamppaal vas te ketting, sodat niemand my hier kon wegneem nie. Ek het skielik so líg gevoel – die ligtheid waarvan Azille skryf – want hier skud mens jou wit vel af. “Vir my, as wit middelklas-Afrikaner,” skryf Azille, “is daar die verligting dat ek kan ophou skuldig voel oor hoe gemaklik my lewe is, oor my wit vel. Ook op hierdie manier begin ek ligter leef: die skuld en vrees wat my wit welstand in Suid-Afrika deurdrenk, begin stadig wegsypel” (15).

My kêrel was in Suid-Afrika – dit was die derde jaar van ons langafstandverhouding, want hy het reeds in Johannesburg agtergebly toe ek sak en pak na Stellenbosch verhuis het. Hy het saans laat gewerk, en het my dan op die werk se rekening na my kantoorfoon toe gebel. So het ons ons verhouding aan die gang gehou, in die dae toe ’n goeie internetkonneksie en Skype nog ’n luukse was.

Die Groningen wat ek beleef het, was in vele opsigte baie anders as die Amsterdam wat Azille beleef het. Groningen is plattelands, ver verwyderd van die res van Nederland, kleiner, rustiger, meer konserwatief, en nóg witter. As ’n Groninger agterkom dat jy Nederlands kan verstaan, is daar nie ’n manier wat hulle sal oorslaan na Engels nie. En ek het ook bewustelik besluit om nie Engels te praat nie. Met ’n geradbraakte mengelmoes van Afrikaans en Nederlands het ek oor die weg gekom. Ek kon op enige plek, met enigiemand ’n gesprek aanknoop oor die ooreenkomste en verskille tussen ons tale, en dit het dan gelei tot ’n vriendelike en gemoedelike gemeenskaplikheid. Veral ouer mense het op die busse en treine heerlik met my gesels en my oor Suid-Afrika uitgevra. Ek het nie ’n enkele sot teëgekom wat vir my, soos vir Azille, gevra het hoe dit dan is dat mens wit is, en uit Afrika kom nie.

En in Nederland se oorheersende witheid en die ligtheid wat daarmee gepaard gegaan het, kon ek uiteindelik my vrees om oor DF Malan te skryf, afskud. Vir Groningen se biograwe was dit onsinnig dat ek moes wroeg oor die skryf van ’n apartheidsleier se biografie. Beteken dit dat daar geen biografieë van Hitler en Stalin geskryf kan word nie? Die Nederlandse direktheid was iets waaraan ek gewoond moes raak – ons is in Suid-Afrika so gewoond daaraan om ons woorde versigtig te kies en ons denke te patrolleer. Maar dit was intellektueel bevrydend. Want jy is nie bang vir ander se reaksie nie. Skielik kon ek myself toelaat om te dink op maniere wat ek voorheen nooit sou gewaag het nie. Die eenvoudige sprong om my af te vra wat my eie opinie van DF Malan is, is iets wat ek net in Nederland kon maak. Om hom te durf vermenslik, en daardeur ongemak by my lesers te wek, is die produk van Nederlandse vreesloosheid.

Dit was vir my ironies, toe my boek uiteindelik saam met dié van Johnny Steinberg (A man of Good Hope) en Jacob Dlamini (Askari) vir die Sunday Times se Alan Paton-prys benoem is, om te besef dat ons al drie ons boeke in die buiteland geskryf het – of in my geval, gedeeltelik in die buiteland. In sy aanvaardingstoespraak het Jacob verwys na die wyse waarop die land se armoede en ongeregtigheid ons afstomp: “I’ve been away from South Africa for 12 years now, but I come home quite often, and I know that I’ve been back home for too long when I stop noticing the beggars on the street. That’s when I know that I’ve been back home too long. When I come back and it still registers, that there’s something going on in this country, that it’s not right, I know that I’m trying to see this place with fresh eyes. There’s something about this place that deadens the soul. That deadens the imagination.”

En dit is waar ek dit tegelykertyd met Azille eens is en met haar verskil. Want Suid-Afrika, met al sy ongelykheid, ongeregtigheid en kompleksiteit daag ’n mens uit en konfronteer jou soos wat ’n gerieflike plek soos Nederland nie kan nie. En terselfdertyd stomp dit jou af, en hok dit jou in. Vir my het dit omtrent gevoel ek moes ontvlug om oor Suid-Afrika te kon dink. En gaan dit net oor wit ruimtes, of is afstand ook ter sprake?

Die plekke wat vir Azille plekke van onnadenkende gerief was, was vir my plekke waar ek vir ’n oomblik kon ophou wroeg, ophou bang wees, en my denke kon bevry. Ek weet nie hoe ek daaroor moet voel nie. Maar ek voel ongemaklik met die gebruik van witheid as ’n alles-oorheersende raamwerk om dit te beskryf. Dat witheid hier ter sprake is, ly geen twyfel nie, en witheid is ’n sinvolle teoretiese raamwerk, maar daar is ook iets absolutisties daarin. Die raamwerk is so homogeen dat dit nie historiese kompleksiteit kan weerspieël nie, en die resultaat is dan ook ’n simplistiese beskrywing van die plekke ter sprake.

Vir my is witheid net té eenvoudig, en wanneer iets só ’n maklike verklaring bied, en dit nie ruimte laat vir veelvoudige verklarings nie, wek dit my intellektuele agterdog. Dalk is dit die punt waar die historikus en die filosoof se paaie skei.

Die Nederland wat ek in 2008 beleef het, was meer kompleks as Azille s’n. Dit was die jaar waarin Geert Wilders Fitna, sy uiters kontroversiële en rassistiese anti-Moslem film, vrygestel het. Onder die progressiewe Nederlanders saam met wie ek gewerk het, was die ontsteltenis groot. Ek is voorgestel aan die rappers Lange Frans en Baas B, wat ’n duidelike bewustheid getoon het dat Nederland se Goue Eeu niks minder was as ’n wêreldwye plundertog nie, en gewys het op apartheid se Nederlandse wortels (kyk https://www.youtube.com/watch?v=yayMuZxlttc).

In die Nederlandse media was daar deurgaans ’n wroeging oor die Marokkaanse gemeenskap se plek in die breër samelewing. Daar was die eis dat immigrante moes “integreer” (die kulturele arrogansie van so ’n eis het my verstand te bowe gegaan), maar terselfdertyd was daar ook ’n aandrang dat die Nederlandse identiteit nie meer noodwendig met ras kan saamval nie. In die jare daarop was daar heftige debatte oor Swarte ? Zwarte? Piet (Nederland se institusionele blackface, waarna Azille ook verwys), en dié debatte woed steeds voort. Vir my, soos vir Azille, was dit ’n samelewing waar witheid die norm bepaal, maar dié witheid word wél uitgedaag. Die hoofstroomreaksie strek Nederland nie noodwendig tot eer nie, en ook in Nederland, soos in die res van Europa en die VSA, is daar ’n politieke verskuiwing na regs. Die regse teenreaksie op diversiteit dui op ’n samelewing waar daar ongemak is, en waar die lyn tussen identiteit en stereotipering papierdun is. Nederland se vermeende homogeniteit is bedrieglik, en dit dui eerder op sy ondeurdringbaarheid, waarteen Azille telkens te staan gekom het.

My tyd in Nederland was veel korter as Azille s’n. Na ’n jaar moes ek terug, en ek was teësinnig. Ek het in die fel Januarie-son hier aangekom, en die lig het my verblind. Ek het vir die eerste paar weke binne gebly, met die gordyne toe. My eerste uitstappie na Pick n Pay het in trane geëindig – ek kon die alledaagse aggressie en stille vyandigheid nie hanteer nie. Dit het verkeerd gevoel dat iemand anders my inkopies in ’n sakkie pak. Ek het dit verpes dat my bewegings weer gekontroleer word – skielik is daar altyd iemand vir wie jy moet laat weet waar jy is, wanneer jy op pad is, en of jy veilig aangekom het. In Europa kon ek binne ’n halwe dag, op my eie, deur drie verskillende lande reis sonder om dit aan enigiemand te meld. In die daaropvolgende jare het ek Nederland telkens besoek, en het ek meer as een keer probeer om terug te keer, maar ek kon nie daarin slaag nie. Want Suid-Afrika wil ’n mens eenvoudig nie laat los nie. Want in Suid-Afrika het my lewe betekenis. Elders sal ek bloot net ’n bestaan voer. Ná haar terugkeer skryf Azille aan haar eks-Suid-Afrikaanse kêrel, wat in Nederland agtergebly het: “[H]ier in Suid-Afrika wroeg ons oor ... dinge. Die lewe het sin! Kom huis toe” (183).

Dit is wat Azille self doen. Sy keer terug na Suid-Afrika, ’n Suid-Afrika waar debatte oor dekolonisasie en witheid tier. Waar daar soveel woede is dat dit vir wit mense beter is om stil te bly. Waar rassistiese uitlatings, soms blatant, soms subtiel, oral om mens geuiter word – en mens weer eens maar net stilbly. En hier stel sy die vraag, en dit word die kruks van die boek: “Hoe kan ek, as wit bevoorregte Afrikaanse Suid-Afrikaner, ’n etiese bestaan in Suid-Afrika voer? Hoe moet ek leef in ’n land waar my identiteit, taal en kultuur onlosmaaklik verweef is met ’n koloniale geskiedenis van verskriklike onderdrukking? En waar die bevoorregting waarmee ek leef moontlik gemaak is deur die uitbuiting en onderdrukking van ander? Hoe bewoon ek hierdie identiteit en hoe leef ek met al my bevoorregting op ’n herstellende, transformerende en etiese manier? Is dit moontlik?” (174).

Dit is vir my ’n groot en belangrike denkverskuiwing, weg van NP Van Wyk Louw se befaamde vraag oor hoe Afrikaners met geregtigheid kan oorleef. Want vir hom het dit gegaan oor die behoud van ’n volk – as volk. Dit het ook noodwendig oor mag gegaan – mag wat met geregtigheid gepaard moes gaan. In ’n tyd waarin debatte deurgaans in die Afrikaanse gemeenskap woed oor die behoud van die taal, is daar ook ’n oorlewingsnarratief wat dit, en vele ander debatte, onderlê. Azille Coetzee steur haar nie aan die oorlewingsraamwerk wat sedert die laat 19de eeu die Afrikaner se heersende metanarratief geword het nie. Sy aanvaar Afrikaanswees as vanselfsprekend. Sy kyk vanuit die perspektief van ’n postapartheid, postkoloniale Afrikaner, vir wie mag nie eens ter sprake is nie, en vra, weer eens: “Hoe kan ons op ’n aanvaarbare manier Afrikaans wees vandag? Aktief identifiseer met die identiteit sonder om die verlede stilswyend te kondoneer?” (193). Om te wees, nie om te oorleef nie. Na ’n eeu lange nasiebouprojek wat ’n “volk” moes skep (en in vandag se eufemisme as “gemeenskap” in stand moet hou), het ons ’n Afrikaanse denker wat wegbreek van dié obsessie, en wat ’n nuwe vraag stel.

By monde van haar vriendin gee sy die antwoord: “Die beste manier waarop mens Afrikaans kan wees, is om eksplisiet en openlik Afrikaans te wees ... Ek identifiseer nie as Afrikaner in die eng, uitsluitende sin nie, maar as Afrikaanssprekende wat een vir een mense se vooroordele teenoor ons verkeerd begin bewys ... Ons is ’n klomp verskillende soorte mense wat ’n liefde vir ’n taal deel. Maar min anders. Ook in ons geskiedenis was daar Afrikaners wat op allerhande verskillende maniere geleef het. Om Afrikaner te wees kan enige iets beteken. Kultuur en taal is beweeglik en mense is almal verskillend. Dis wat ek vir mense probeer wys met hoe ek Afrikaans is” (193–4). Amen – mag dit so wees.

Hierdie is ’n grondverskuiwende boek. Dit is slim. Dit is vlymskerp. Dit is uitstekend geskryf. Dit is ’n dapper skrywer wat haarself so blootlê, en wat haar eie verhaal gebruik om ons te laat besin. Die Suid-Afrikaanse kêrel is nie sommer maar net ’n kêrel nie; hy verteenwoordig alles wat ons wil agterlaat en waarna ons teen wil en dank terugkeer, want dit is waar ons betekenis vind. Die Nederlandse lover is nie sommer maar net ’n lover nie; hy is alles waarheen ons wil ontsnap – en al die leegheid wat ons aan die ander kant vind. Daar is laag op laag, en elkeen verdien verdere besinning. Ek wil hierdie boek weer en weer lees. En aan mense uitdeel. Dit bevat die gesprekke wat ons behoort te hê – nie net in kammakastige “woke” kringe nie, maar in ons hoofstroom. Dit open die weg vir ons om ons verlede in die oë te kyk, en dit dui vir ons ’n rigting aan vir die toekoms. Hierdie boek moet net die begin wees – “’n gelukkige begin” (199).

Kyk ook

Video: Kaapstad-bekendstelling van In my vel deur Azille Coetzee

Video: Stellenbosch-bekendstelling van In my vel deur Azille Coetzee

  • 1

Kommentaar

  • Ek het toe gisteraand my eerste Xhosaklas gaan bywoon. Dit was 'n direkte uitvloeisel van die lees van dié boek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top