Dominique Botha oor die Dansende Digtersfees 2014

  • 0
Dominique Botha

Francis Galloway stel ’n paar vrae aan Dominique Botha oor die pad van die fees.

Hoe het dit gebeur dat die Dansende Digtersfees by Spier aangebied word? Wat is jou betrokkenheid daarby?

Die Spier Kunstrust se betrokkenheid by die bevordering van die kunste het ’n lang geskiedenis. Deur die jare het die trust verskeie en uiteenlopende projekte op verskillende plekke moontlik gemaak, dikwels in samewerking met ander kultuurinstansies, waarvan die eertydse Somerkunsseisoen in die Spier Amfiteater die vlagskip was.

Die trustees besef dat Suid-Afrika, wat die beskerming van die kunste betref, tussen die Europese en Amerikaanse tradisies val. In Europa is daar ’n lang-bestaande tradisie waarvolgens die groot museums, operahuise en dies meer deur die staat onderhou word. In Amerika word die befondsing merendeels deur privaatborge verskaf. In die afwesigheid van, of tekort aan, staatsteun dra die privaatsektor ’n groter verantwoordelikheid om steun aan te vul. Bygesê, die staat behoort nie vrygeskeld te word van sy verpligtinge nie.

Spier se raad van trustees is verbind tot voortgesette ondersteuning van die kunste, met die middele tot ons beskikking en met ’n vergrootglas op die bestaansdoel van die trust. Om die kunste te bevorder in ’n land van skreiende maatskaplike nood is nie aldag maklik regverdigbaar nie. Terwyl ’n eenvoudige oplossing nie bestaan nie, bly die trustees oortuig van die rol van die kunste as ’n a priori-noodsaaklikheid.

Prakties gesproke beteken dit die verantwoordelikheid om die diversiteit van gehore en deelnemende stemme ter harte te neem – ’n belangrike kwessie waarmee die Spier Kunstrust al jare worstel. Om een voorbeeld te noem: met die eertydse Somerkunsseisoen is ’n aantal kaartjies vir elke opvoering opsy gesit en vervoer gereël met die doel om bywoning meer toeganklik te maak.

Uiteindelik het die Somerkunsseisoen Kaapstad toe “migreer” met die spesifieke doel om die lokaal en die gehoordiversiteit te verruim. Die fees word steeds deur die Spier Kunstrust geborg en staan deesdae as Infecting the City bekend. Alle opvoerings word gratis aangebied, in lokale wat toeganklik is vir mense wat nie normaalweg opvoerings, poësievoorlesings en dies meer sou kon/wou bywoon nie. Hierdie skakel vertel meer: http://www.infectingthecity.com.

Tog het Spier die afwesigheid van die kunste op die landgoed as ’n verlies ervaar en daarom, deur middel van die Spier Kunstrust, die Pirogue Kollektief genader om ’n digtersfees van stapel te stuur.

In my hoedanigheid as raadslid van die Spier Kunstrust en as lid van die Pirogue Kollektief dien ek as skakelpersoon tussen die twee instansies en werk ek as deel van die produksiespan om die fees te laat plaasvind.

Vertel asseblief iets meer oor die werksaamhede van die Pirogue Kollektief, met verwysing na ander plaaslike (en nieplaaslike) projekte.

Die Pirogue Kollektief is byeengeroep deur Breyten Breytenbach om die Gorée Instituut in Senegal se kulturele projekte vorm te gee en te bevorder. ’n Pirogue is die visserskuitjie waarvan talle soos bontgeverfde piesangskille die Senegalese kus versier. “Kollektief” is miskien ’n imposante versamelnaam wat eintlik maar net verwys na ’n klein groepie begeesterde mense wat mooi dinge saamdoen waar en wanneer moontlik. Pirogue het dus geen sekretariaat, geen kantoor, geen salarisse, geen verwagtinge nie, buiten dit wat die Pirogistes vrywillig tot stand bring binne die raamwerk van hulle eie netwerke, bevoegdhede en idees.

Wat Pirogue soepel maak, maar ook ’n bietjie oorspanne, is die feit dat daar geen “organisasie” of hiërargie is nie en dat dit bloot op versterking van bestaande infrastrukture berus. Pirogue is ook van so ’n aard dat daar aanknoping of deurvloeiendheid tussen verskillende aktiwiteite is – met altyd die klem op kwaliteit.

Een doelwit van Pirogue is om die uiteenlopende stemme van die Afrika-kontinent te vertoon deur allerlei gebeurtenisse sinvol te fasiliteer en moontlik te maak. Dit berus op ’n baie belangrike grondbeginsel: “If something is worth doing it is worth doing beautifully.” Deur publikasies, feeste, werkswinkels en kunstenaarsverblyf, poog die inisiatief om dialoog tussen skrywers en kunstenaars dwarsoor die kontinent asook ander wêrelddele te bevorder.

Pirogue se uitgewery, Island Position, publiseer jaarliks, in samewerking met die Hollandse Eva Tas Stigting, ’n Afrika-bundel met opstelle, kortverhale en gedigte onder die titel Imagine Africa. Imagine Africa 2 is saamgestel deur Jill Schoolman van Archipelago Books in New York en Georges Lory, vertaler en digter in Parys, en dien as voorbeeld van die Kollektief se werksaamhede. ’n Ander reeks is die Pirogue Poets, ook in samewerking met Eva Tas en Archipelago, wat poog om belangrike Afrika-digters se werk te vertaal en versprei. Die reeks spog reeds met ’n Abedellatif Laabi-bundel asook ’n uitgawe van Corsino Fortes wat binnekort vrygestel word. Pirogue het ook bygedra tot die verskyning van On a burning sea, saamgestel deur Marlise Joubert onder die vaandel van Protea Boekhuis. In die Maison Soros op Gorée-eiland word skryfwerkwinkels aangebied wat bekend staan as Taalifkat Tudunya (Wolof vir “Skrywers van die Wêreld”). Die Gorée Instituut beskik ook oor ’n grafiese ateljee waar besoekende en plaaslike kunstenaars saamwerk, en dit dien as kunstenaarsverblyf. ’n Uiteindelike doelwit is om ’n halssnoer van sulke eilandverblywe om die kontinent te skep. Ons droom ook van ’n karavaan na Timboektoe, as ’n bewegende skeppingsruimte wat verfilm, geteken en beskryf moet word. En dan is daar natuurlik die Dansende Digtersfees by Spier.

Mense wonder dalk wat die aard van die verwantskap tussen Senegal en Suid-Afrika mag wees, omdat die historiese verbintenis tussen die 1987-Dakar-beraad en die daaropvolgende stigting van die Gorée Instituut oor die jare in Suid-Afrikaners se heugenis versand het. Op die eiland self bly daar ’n gekoesterde bewustheid van die Suid-Afrikaanse konneksie, wat lewend gehou word deur die nalatenskap van Frederik Van Zyl Slabbert se voorsitterskap asook Breyten Breytenbach en ander Suid-Afrikaners se voortgesette betrokkenheid by die instituut se werksaamhede.

Die instituut het uit die staanspoor skeppende mense se insette as ’n noodsaaklike bydrae tot politieke prosesse geag. Die burgerlike samelewing en die politieke wêreld word dikwels as teenstellend beskou, terwyl kern-gewaarwordings en werklike behoeftes is wat veel sterker deur kultureel skeppende mense as deur politici oorgedra kan word. Hieronder val aangeleenthede soos identiteit, burgerlike verantwoordelikheid, die verbintenis en seggenskap van mense teenoor hulle geskiedenis en omgewing, die noodsaak tot omvorming, asook die etiese verbeelding in teenstelling met die gebrek daaraan – iets wat mens byvoorbeeld assosieer met Wole Soyinka en omtrent nooit met die Abachas van die wêreld nie.

Die behoefte wat Spier gevoel het om ’n leemte te vul en die tussengrond te verken, is dus net een van die redes waarom Dancing in Other Words ontstaan het. Ander doelstellings sluit in om wêreldstemme na plaaslike gehore te bring, en andersom, om vertaling op die voorgrond te plaas en om digters die geleentheid te bied om saam te reis in ’n karavaan-meestersklas.

Vir Pirogue is dit ’n geleentheid om ’n ruimte oop te maak, om ’n proses te ontketen sonder om te weet waarheen dit mag lei. ’n Fees waar daar per definisie omgegaan word met die veel groter ruimte van omgewing en bevolking wat toegespits is op suiwer poësie, op gasvryheid, op die omgaan met mense en die omgewing en ons verskriklik komplekse en gefragmenteerde geskiedenis. Hopelik iets wat die teenoorgestelde van ’n kultuurkommoditeit is, wat vanselfsprekendhede (soos die moraliserende) in gedrang bring en bevraagteken. Ons is gelukkig dat ons vennote het wat kunstebemiddeling as ’n "eie-kop-oopmaak"-ervaring beskou en ons dus ’n kans gee.

Is die Dansende Digtersfees van 2013 as ’n eenmalige gebeurtenis bedink, of as die afskop van ’n gereelde gebeurtenis? Vertel iets oor die formaat van die eerste fees en ook oor wat die organiseerders as die unieke elemente daarvan beskou en wat dus behou behoort te word noudat daar ’n opvolgfees is.

My antwoord op die vraag of die Dansende Digtersfees as ’n eenmalige gebeurtenis bedink is, is “ja-nee”. Die oorspronklike bedoeling was om elke tweede jaar ’n fees by Spier te reël, en dan in die “oorslaanjaar” ’n karavaan elders in Wes-Afrika of die Wes-Kaap op die been te bring. Na afloop van die eerste fees het Pirogue, op versoek van die Spierbestuur, ooreengekom om hierdie moontlikheid jaarliks ter tafel te lê.

Die Dansende Digtersfees is dus een vergestalting van ’n deurlopende betrokkenheid van die Pirogue Kollektief (terloops, ek lees daar het ’n splintergroep op Versindaba ontstaan wat hulleself die Pinotage Korrektief noem) om met ’n groter aantal mense dit wat vir ons mooi en belangrik is, te kan deel.

“Fees” is miskien die verkeerde woord, omdat dit omtrent moet bontstaan as beskrywing vir uiteenlopende gebeurtenisse. Mens sou kon sê die Dansende Digters is eerder ’n karavaan met voorlesings, omdat die saamreis eintlik die kern van die konsep is. Dis wonderlik hoeveel feeste van groot omvang wel in die Wes-Kaap plaasvind, en alhoewel ons ’n ligter tred het, word nuwe roetes karteer waarlangs gedagtes en verbintenisse kan aanhou reis.

Natuurlik is ons baie dankbaar vir die ruimte en infrastruktuur by Spier, maar ons hoop om dit verder te kan voer en uit te brei. Die idee is dat die “karavaan”-element daarvan uitgebou kan word. Miskien vaar ons die land in met boeke in ’n Venter-sleepwaentjie. Of Timboektoe toe, en maak ’n fliek. Ons hou dus die verbintenis soepel en vloeibaar. Ons beskou die mense wat deelgeneem het en kom luister het as aandeelhouers in die hele proses. Die uitsluitsel of dit werk of nie, of dit nodig is of nie, gaan tot ’n mate deur hulle bepaal word. Ons wil nie die poësie in diens van iets stel nie – ons het nie begin omdat ons ’n groot fees met baie deelnemers wou hê nie, maar omdat ons ’n sinergie wou skep, ’n geleentheid vir “saam mekaar anders maak”, in die woorde van die kurator.

Ons behou dus grotendeels die formaat van die eerste byeenkoms, wat ten spyte van die beperkinge in terme van deelnemers en gehore goed gewerk het. Wat betref die unieke elemente sou ons kon beweer dat dit een van die min geleenthede is waar digters die tyd gegun word om werklik tyd saam te spandeer deur saam te reis.

Die terugvoering wat ons van verlede jaar se deelnemers gekry het (almal deurwinterde feesgangers en -organiseerders), getuig van die juistheid van ons huidige formaat. Ek verskaf interessantheidshalwe ’n aanhaling uit ’n brief van Joachim Sartorius, die gewese hoof van die Goethe Instituut wêreldwyd, asook die direkteur van Berlin Festivals, en een van die digters van 2013:

After the magical splendour of the Cape now back in Berlin, from bright autumn to flowering spring, but with vistas not so large and breathtaking, with no barrels of delicious wine around, no korean monk greeting the sunset with a soft howl!! I have been to so many poetry festivals, but none has been prepared with so much care and love, with such overwhelming hospitality.

Wat is vernuwend in die program en aanslag van die 2014-geleentheid?

Buiten die twee aande van openbare voorlesings by Spier word daar hierdie jaar verdere lesings binne die feesweek aangebied. In Kaapstad gaan ’n aantal plaaslike digters saam met van die besoekers voorlees onder leiding van Finuala Dowling, terwyl Joan Hambidge as sameroeper ’n keur van digters by die Breytenbach Sentrum in Wellington aan die woord gaan stel. Die UWK gaan ook gasheer speel vir ’n middaguur se voorlesing van digters en studente.

Mens kan natuurlik ook elke nuwe stem wat aan die geleentheid deelneem, as ’n vernuwing beskou, en vanjaar gaan ons Xhosa, Spaans, Wolof, Frans, Russies, Chinees en Nederlands hoor, buiten Engels en Afrikaans.

Ek het die voorreg gehad om Ilya Kaminsky in Berlyn te hoor voorlees. Daar was gesoute woordenaars in die gehoor wat met trane in die oë na hierdie jong dowe Russies-Amerikaner geluister het. Een van ons deelnemers van verlede jaar, Carolyn Forché, beskryf hom soos volg: “Kaminsky is more than a promising young poet; he is a poet of promise fulfilled. I am in awe of his gifts.”

Dan is daar Abdellatif Laâbi, ’n wonderlike Arabiese digter, onder andere ook die vertaler van Mahmoud Darwish, wat skuldig bevind is aan “crimes of opinion” en jare in Marokkaanse tronke aangehou en gemartel is. Hierdie digter se lewenstrajek het natuurlik ooreenkomste met Breytenbach se geskiedenis en hulle vriendskap kom van ver. Hier is ’n foto wat in 1985 in Parys geneem is, kort na Laâbi se bannelingskap in werking getree het, wat getuig van jare lange verbintenis en vriendskap.

Foto verskaf deur Dominique Botha.

Dan is daar Hans van den Waarsenburg, die groot gees agter die Maastricht International Poetry Nights, wat al jare lank as literatuur-aktivis optree.

Homero Aridjis, die befaamde Meksikaanse digter en skoenlapperbeskermer, bring ’n diepe omgewingsbewustheid en natuurlik Spaans saam.

So kan mens aangaan. Daar is rappers uit Senegal, Nimrod uit Chad, Duoduo uit China, om nie eers ons plaaslike deelnemers te noem nie: Mxolisi Nyeswa, Ingrid de Kok, Henning Pieterse en Breyten Breytenbach.

Ons beloof ook om weer onder die musikale bestuur van Neo Muyanga ’n ietwat sterker aanslag van dit wat plaaslik en enig is, te laat weerklink.

Daar was natuurlik ook teleurstellings: Dionne Brand uit Kanada moes op die nippertjie nee sê. Venus Khoury Gata ook. Michael Ondaatjie beloof nog om te kom.

So bou ons uit op ’n droom.

Baie dankie, Dominique, dat jy hierdie besonderse droompad met ons gedeel het. Die pad was lank (en swaar) vanaf Breyten se “ongedanste dans” tot by hierdie viering van die dansende digters wat in én met ander woorde vir én saam met die toehoorders dans. Mag hierdie karavaan aanhou beweeg en geraas maak:

From the beginning there was the need to go further and take along what I have to offer – salt, spices, stories, muskets, maybe slaves – to barter what I must obtain in order to continue. One travels so deeply from language to language (that is from riverbed to riverbed) that one is no longer a stranger in the place of destination.

One day I will return to where I set out from with another look in the eye and the resonance of distant places in my imagination.

The poem is my guide. There will be tribes of poems showing me the way. Some will come and whisper to me in my sleep, speaking low like the breezes of darkness; others will burn out my eyes and tear at my entrails.

Listen: you must continue travelling because the earth needs to be discovered and remembered again and again, cyclically, creatively, with her seasons and her sounds, with the warm breath of hospitality, with the healing of strangeness ... lest it becomes cold and impenetrable – a barren place of power and politics.

The origin of existence is movement.

(Breyten Breytenbach, “Looking for the road”. A veil of footsteps, 2008)

 


Lees ’n onderhoud met Breyten Breytenbach oor verlede jaar se fees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top