Gesprekskuns: Breytenbach se blywende, lewende nalatenskap

  • 0

Breyten Breytenbach en Willem de Vries in gesprek

Vroeër vanjaar het Breyten Breytenbach by korrespondensie ’n gedig ingesluit na aanleiding van die oorlye van my pa, Abraham de Vries (1937–2024), ’n mede-Sestiger. Oor my pa skryf hy:

Ek dink jou pa het ’n goeie en vervullende lewe gehad, so op die ou manier toe begrippe wyser was. Mens verwerk so ’n skeiding eintlik nooit. Met die tyd verander dit net. Alle lewe is om die dood nog te kan aanhou belewe.

Die gedig wat hy saamgestuur het, lees soos volg:

geen snoer
alles roer 
in die oersynmoer

dan ’n stolling in die tyd
geen kolk meer
die stilte onthou tussen bestaan 
en vergaan, bind en ontbind
sleg ’n holte in die aarde

(oorsprong/aard
aarde-aand)

Hierdie gedig lees ek vandag ook as ’n laaste distillasie van die ryk gesprek wat hy met die dood oor baie bundels en skilderye heen gevoer het. Dit is ’n gesprek wat nou verder voortduur by die lees van sy werk (“alles roer / in die oersynmoer”).

Saam-mekaar-anders-maak was nie iets wat hy by herhaling maar net bly sê het nie. Hy het die waarheid van hibriditeit as kern van menswees bly deurgee aan lesers oor die wêreld heen, nooit as ’n pamflet nie, maar as ’n veelkantige insig wat sy werk deurspek.

Breyten “met woorde wat werk soos paspoorte en beelde” aan Willem de Vries

Sy werk in (en oor) die Middelwêreld (met woorde wat werk soos paspoorte en beelde wat dien as karteerkuns wat werklikhede en verbeeldingsmoontlikhede met mekaar verbind, ruim denke, opregte woedes, geskakeerde waarderings, verhelderende én hermetiese besinnings) is ’n enorme, insigryke geskenk aan Afrikaans, Nederlands, Engels en vertalers. Dit het die ondankbaarhede van een tyd oorstyg en aan volgende geslagte ’n seldsame, ware noord gegee oor hoe om intellektueel gelaagde en diep menslike antwoorde te formuleer op die sperdenke van nasionalismes en mure, maniere van lewe en dood.
Baie dankie, Oubôbjaan, vir al die geselse oor baie jare op e-pos en vir die onderhoude, van die interessantste gesprekke wat ek al ooit met iemand gevoer het.

Baie liefde, groete en waardering

Willem

u immer Bederige Nelg*

(*Toe ek jare gelede ’n boekejoernalis by Die Burger was, het ek in ’n te snel geskrewe berig verwys na iemand as ’n skrywer van Bederland. Ek ontvang toe van Breyten die volgende: “Maar bedoel jy nie dalk Nelgië nie?”)

  • Foto’s: Izak de Vries

Lees ook:

Breytenbach family press release

Breyten Breytenbach (1939–2024)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top