Grepe uit die uitgeegeskiedenis van Breyten Breytenbach

  • 1

Die institusionele benadering

My navorsing oor Breyten Breytenbach se uitgeegeskiedenis is gefundeer in die institusionele benadering tot die “kulturele veld”. Die kulturele veld is die ruimte van beskikbare posisies wat verskillende rolspelers gedurende hulle loopbane opbou en wat op mekaar inspeel. Literêre werke het hulle status, waarde en rangorde nie alleen aan die aktiwiteite van skrywers te danke nie, maak ook aan die kwaliteit en status van materiële produsente (byvoorbeeld die prestige van ’n uitgewery) en verspreiders (byvoorbeeld die elite-boekhandel teenoor die boekklub of supermark) asook simboliese rolspelers (byvoorbeeld die reputasie van kritici, prysbeoordelaars, mediakanale).

Die uitgewery word gewoonlik geassosieer met ’n hekwagtersrol, maar dit speel ’n veel omvattender rol in die loopbaan en reputasie-ontwikkeling van ’n skrywer wat basies in drie fases verdeel kan word: die leertyd-fase, die aanloop-tot-erkenning-fase en die fase van definitiewe erkenning.

Die uitgewery bepaal wie deel word van die boektoneel; wie hulself “skrywer” kan noem; die uitgewery reguleer die verskyning van werke op die mark, rig die skrywer af, besluit wie sal voortgaan om gepubliseer te word en wie nie. Die uitgewery bepaal die finale weergawe waarin die teks gepubliseer word en het die laaste woord oor die bandontwerp en voorkoms. Verder kies die uitgewery die spesifieke eksploiteringstrategie – om die teks uit te gee as hardeband, slapband, boekklub-uitgawe, heruitgawe in ’n goedkoper reeks, opname in ’n “klassieke” reeks of, waar van toepassing, in ’n versamelde werk. Die uitgewery kan ook van die begin af ’n rol in die simboliese produksie van die werk speel deur byvoorbeeld die teks of skrywer binne die raamwerk van ’n bepaalde produksiekategorie, stroming, skrywersgroepering of mode-neiging te posisioneer.

Die literêre veld en periodes in die produksie van Breyten Breytenbach se oeuvre

In plaaslike literatuurgeskiedenisse word Breyten Breytenbach se poëtiese oeuvre volgens die gebruiklike dekade-indeling geanker in Sestig. Dit word ook, soos Helize van Vuuren aantoon, geperiodiseer rondom die waterskeidingsgebeurtenis van sy gevangeskap en die tematiese verskuiwings in sy werk: ’n voor-tronkfase (1964-1973), ’n tronkfase (1975-1985) en ’n na-tronkfase (sedert 1990).

Wat Breytenbach se uitgeegeskiedenis betref, kan daar óók drie periodes onderskei word, maar hierdie eras word gekonstitueer deur die produksie- en produsentprofiel van sy oeuvre. Hierdie periodes is gekoppel aan die rol wat die uitgewery-institusie in die oeuvre- en reputasie-ontwikkeling van die skrywer speel.

 

Die eerste produksieperiode (1964–1976): Rondomtalie

Konteks

Die grense van hierdie produksieperiode word bepaal deur die eerste en laaste tekste wat deur die Afrikaanse Pers-Boekhandel, wat later bekend sou staan as Perskor, uitgegee is. Naas hierdie “hoofstroom”-uitgewery, wat gekoppel was aan ’n mediamaatskappy, was daar in hierdie periode ook twee klein onafhanklike uitgewerye by die produksie van die oeuvre betrokke, naamlik Human & Rousseau en Buren. In dié periode van twaalf jaar is tien titels uitgegee.

 

Afrikaanse Pers-Boekhandel / Afrikaanse Pers Bpk

Die Afrikaanse Pers-Boekhandel is in 1932 gestig; in 1962 amalgameer die maatskappy en Dagbreekpers tot die Afrikaanse Pers Bpk. Gedurende die sestigerjare was die APB ’n konserwatiewe maatskappy met die destydse eerste minister, HF Verwoerd, as voorsitter van sy raad. Die bestuurder van die algemene boekhandel, Bartho Smit, was egter self ’n skrywer van die nuwe jong geslag en op soek na talent om sy ontluikende fiksielys uit te bou. Hy reageer positief op die avant-garde manuskripte wat Breyten Breytenbach, onder aanmoediging van die joernalis-skrywer Chris Barnard, uit Parys aan hom stuur en hy ontvang die jong skrywer gul in sy stal. Breytenbach maak sy dubbele debuut teen die einde van 1964 met Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes; resensente loof oor die algemeen die grensverskuiwende literêre vernuwing wat die tekste teweegbring en die invloedryke APB-huisprys word aan hom toegeken.

Hierdie vroeë erkenning van die kant van die kritici loods Breytenbach se loopbaan as Sestiger en is bepalend vir sy toekomstige posisie as die toonaangewende digter van sy generasie. Die openbare kabaal wat losbars rondom die verering van die skrywer (wat gepaard gaan met ’n visumweiering aan sy vrou van Viëtnamese afkoms) loods ook sy openbare loopbaan as politieke banneling en as uitgesproke kritikus van die apartheidstelsel.

Breytenbach verbreek bande met die APB omdat hy sy uitgewery blameer vir die onwelkome publisiteit rondom sy privaatlewe en omdat ’n nuwe prosa-manuskrip, Om te vlieg, van die hand gewys word. Dit was die begin van ’n rondomtalie-uitgeeloopbaan en ’n uitgeegeskiedenis wat intiem verweef is met die kulturele en politieke bestel van die land.

 

Human & Rousseau

Breytenbach se tweede poësiebundel, Die huis van die dowe, word met heelwat wysigings en die uitlaat van minstens een gedig deur Human & Rousseau, wat in Februarie 1959 tot stand gekom het, uitgegee. Alhoewel daar aanvanklik ’n gewilligheid was om ook Om te vlieg uit te gee het twee van die drukkers wat die uitgewery se drukwerk doen, geweier om dit te set. In 1968 probeer die nuwe eerste minister, John Vorster, ingryp by die besluit om die CNA-prys aan Breytenbach toe te ken vir Die huis van die dowe. Die skrywer se openbare kritiek hierop, asook sy toenemend heftige standpuntinname teen die apartheidbestel in die Nederlandse pers, kulmineer in ’n snydende ope brief van sy uitgewers waarin hulle hul distansieer van sy politieke posisie. Breytenbach beskou dit as ’n daad van verloëning en hy verbreek bande met Human & Rousseau.

Buren

Vir die tweede maal in vier jaar is die nou reeds twee maal bekroonde skrywer sonder ’n uitgewer. Sy derde poësiebundel, Kouevuur, verskyn in 1969 by ’n klein onafhanklike uitgewery, Buren, en dit word die volgende jaar bekroon met die CNA-prys. Ook uit hierdie bundel word daar gedigte weggelaat omdat drukkers vervolging asook diskriminasie van die kant van ander invloedryke en vermoënde kliënte vrees. In 1970 neem die eienaar-uitgewer Daantjie Saayman die dapper besluit om die aktuele verse wat weggelaat is uit Kouevuur in ’n beperkte oplaag van 150 eksemplare te publiseer. Hierdie klein bundel, Oorblyfsels uit die pelgrim se reis na die tydelike, kon net direk van die uitgewer bestel word en is per pos versend; dit is waarskynlik die eerste voorbeeld van ’n ondergrondse (samizdat-) publikasie in Afrikaans.

Tussen die skrywer en sy uitgewer ontwikkel daar, vir die eerste maal in Breytenbach se onortodokse skrywersloopbaan, ’n vertrouens- en selfs vriendskapsverhouding en Buren publiseer oor die volgende paar jaar nog drie van Breytenbach se tekste: Lotus in 1970 (wat bekroon word met die CNA-prys); Om te vlieg, die prosateks wat deur twee ander uitgewerye afgekeur is, in 1971; en die vyfde poësiebundel, Met ander woorde,in 1973.

In 1974 verloor Buren die appélsaak teen die verbod op André P Brink se roman Kennis van die aand, die eerste Afrikaanse boek wat verbied is onder die nuwe sensuurwetgewing, en moet kort daarna om finansiële redes sluit. Dit bring ’n einde aan die vrugbare samewerking tussen Breytenbach en sy lojale uitgewery.

Voor hy egter op soek kon gaan na ’n nuwe tuiste vir sy oeuvre, en ’n nuwe begeleier van sy skrywersloopbaan, word hy op 19 Augustus 1975 in hegtenis geneem.

Perskor

Perskor kom in 1971 tot stand deur die samesmelting van Voortrekkerpers (gestig in 1937) en die Afrikaanse Pers Bpk. Vroeg in 1976 verskyn Voetskrif, die bundel wat die skrywer in aanhouding skryf en aan die ondersoekbeampte in sy saak opdra, by Perskor. Die gedigte in hierdie bundel sou die laaste gepubliseerde nuwe poësie uit Breytenbach se pen vir baie jare wees.

Teen die einde van 1976 verskyn die langverwagte ’n Seisoen in die paradys ook by Perskor – dus weer ’n tweekuns soos met Breytenbach se debuut in 1964. Eers met die verskyning van The true confessions of an albino terrorist, ná Breytenbach se vrylating, sou hy die geleentheid kry om sy verleentheid oor hierdie episode in sy uitgeegeskiedenis te verwoord.

 

Buiteland

In hierdie periode raak Breytenbach ook in die buiteland bekend – spesifiek in Nederland. Hy maak sy Nederlandse debuut in 1972 met die Afrikaanstalige digbundel Skryt – Om ’n sinkende skip blou te verf, wat Meulenhoff in ’n koproduksie met die Rotterdamse Stichting Poetry International uitgee.

In 1974 gee Van Gennep De boom achter de maan uit.

In 1976, terwyl Breytenbach in die tronk is, publiseer Meulenhoff Het huis van de dowe – Gedichten 1964–1969, ’n Afrikaanse versamelbundel wat sy eerste drie digbundels asook ’n woordelys bevat.

Opsommend

Hierdie eerste periode in Breytenbach se oeuvre- en reputasie-ontwikkeling was een van “aanhou beweeg – van een uitgewery na die ander – en geraas maak”. Op ’n rondomtalie-manier begin en eindig hy sy voortronk-loopbaan by ’n hoofstroom-uitgewery binne ’n mediahuis met ’n basies konserwatiewe uitgeefilosofie en redaksionele beleid. Die onderdak-kom by Human & Rousseau, wat sigself geposisioneer het as ’n jong en ondernemende firma wat nuwe dinge aandurf, was van korte duur. En wat na ’n tuiskoms by ’n onafhanklike uitgewery met waagmoed, Buren, gelyk het, blyk toe ook net ’n tydelike tuiste te wees.

Wat sou in die volgende nege jaar met die skrywer se loopbaan gebeur terwyl hy in die gevangenis is? Sou hy vergete raak? Sou hy toegelaat word om te skryf en te publiseer? En daarna? Wie sou hom onderdak gee?

 

Die tweede produksieperiode (1977-1994): In die stal en in die wye wêreld in

Konteks

Die grense van hierdie produksieperiode word bepaal deur die eerste en laaste tekste wat deur die eertydse onafhanklike, alternatiewe uitgewery Taurus geproduseer is. Die enigste ander plaaslike uitgewer wat in hierdie periode by die oeuvre-ontwikkeling van Breytenbach betrokke is, is David Phillip Publishers, ook onafhanklik en alternatief.

Die periode omvat: ses maer jare (tydens gevangeskap) waarin daar twee bloemlesings en ’n bundel verspreide tekste verskyn; ses vet jare (na vrylating) waarin sewe nuwe tekste, wat in die tronk ontstaan of daaraan gekoppel is, uitgegee word; en ses produktiewe oorgangsjare waarin sewe titels, wat voor of na gevangeskap ontstaan het, die oeuvre en die skrywersbeeld verder ontwikkel. In die bestek van agtien jaar word die skrywer se oeuvre dus met altesaam sewentien titels uitgebou deur veral een uitgewery.

Taurus en die maer jare (1977-1982)

By sy skuldigbevinding onder die Wet op die Onderdrukking van Terrorisme is Breytenbach se werke nie verbied nie. Hy is ook toegelaat om, onder spesifieke voorskrifte, tydens sy gevangeskap te skryf. Daar was egter geen kans dat hierdie nuwe werk gepubliseer kon word nie. En al sou daar sprake kon wees van publikasie, sou hy hom nie graag na sy laaste uitgewery, Perskor, wou wend nie. Die kans was dus goed dat hy uit die lesersoog kon verdwyn. Dit het egter nie gebeur nie – as gevolg van die ontstaan en die inisiatiewe van ’n nuwe uitgewery.

Een uitvloeisel van die streng nuwe sensuurwetgewing wat gelei het tot die verbod op die werk van Afrikaanse skrywers, was die loodsing van die subversiewe, anti-establishment uitgewery Taurus in November 1975 deur drie letterkundiges – Ampie Coetzee, John Miles en Ernst Lindenberg (by wie later sou aansluit Gerrit Olivier, Tienie du Plessis en Hans Pienaar). Hierdie uitgewery se besigheidsmodel was niewinsgedrewe, sy uitgeefilosofie anargisties en sy produksie- en verspreidingstrategie onortodoks, naamlik “ondergrondse” setwerk en direkte posverspreiding aan ondersteuners van die “vrye boek” gekoppel aan ’n intekenaar-adreslys. Dit is hierdie waaghalsige nuwe onderneming wat na Breytenbach in die tronk uitreik, via sy vrou, wat in hierdie tydperk sy intellektuele eiendom bestuur en die rol van literêre agent vervul.

Taurus stel twee bloemlesings uit Breytenbach se werk saam: Blomskryf: uit die gedigte van Breyten Breytenbach en Jan Blom (1977) en ’n bundel verspreide kortprosa-tekste getitel Die miernes swel op (1980). Die uitgewery onderhandel verder suksesvol vir die heruitgawe van Kouevuur (met insluiting van die gedigte wat Buren afsonderlik uitgegee het as Oorblyfsels) en Lotus (1981). Taurus publiseer ook ’n akademiese teks oor Breytenbach se werk, Woorde teen die wolke, wat verder bydra tot sy posisionering in die literêre veld. En hulle skakel met die skrywer se Nederlandse uitgewers. Die vindingryke eksploiteringstrategie van Taurus het wal gegooi teen die moontlikheid dat Breytenbach uit die oog verdwyn en sy posisie in die literêre veld verloor.

Buiteland

Intussen het buitelandse (byvoorbeeld in Nederland en Duitsland) bloemlesings, versamelings en vertalings van Breytenbach se bestaande oeuvre in hierdie tyd van opsluiting gesorg dat die skrywer se reputasie buite die Afrikaanse literêre veld uitbrei. Hy maak sy loopbaandeurbraak in die  Engelse mark met die publikasie van die Engelse vertaling van Skryt (Oasis in Toronto) en twee vertaalde Engelse bloemlesings, naamlik In Africa even the flies are happy: selected poems 1964-1977 (John Calder in Londen en Riverrun in New York), en And death white as words: an anthology (Rex Collings in Londen). Rike Vaughan se Engelse vertaling van die Afrikaanse weergawe van Seisoen word in 1980 in Londen uitgegee deur Jonathan Cope; die volgende jaar verskyn dit ook in New York by Persea Books.

Opsommend

Die maer jare was inderwaarheid ’n era van volgehoue oeuvre-uitbouing en instandhouding plaaslik en in die buiteland. Die gebeurtenis van Breytenbach se gevangeskap word ’n hoeksteen in die reputasie-ontwikkeling van sy loopbaan.

Taurus en die vet jare (1983-1987)

Dwarsdeur sy gevangeskap was daar internasionale pleidooie en versoekskrifte vir Breytenbach se vrylating, maar dit het op dowe ore geval. Vroeg in 1982 is ’n wetswysiging wat voorsiening maak vir die vervroegde vrylating of vrylating op parool van mense wat skuldig bevind is aan misdrywe teen die veiligheid van die staat, deurgevoer. Breytenbach word onverwags op 2 Desember 1982 vrygelaat en in die hande geplaas van sy “literêre raadgewer” tydens die laaste deel van sy gevangeskap, Merwe Scholtz. Na sy sewe jaar in niemandsland vertrek Breytenbach, met Scholtz se buffelleerboektas gevul met sy kosbare tronkgeskrifte, na Parys en van hier af sou hy sy nomadiese skrywersloopbaan uitbou. Oor die volgende dekade verskyn Breytenbach-tekste wêreldwyd, insluitende nuwe werk, vertalings, herdrukke en heruitgawes. Wêreldregte op sy werk word gehou deur die Nederlandse uitgewerye Van Gennep en Meulenhoff.

Vir die eerste maal in sy skrywersloopbaan het Breytenbach ’n “uitgewershuis” en beklee hy die posisie van ’n “in-huis”-skrywer wat langertermynbeplanning met sy uitgewers kan doen. In ’n uitvoerige brief 1 aan Ampie Coetzee en John Miles, gedateer 9 Januarie 1983, bedank Breytenbach hulle vir hulle hulp en ondersteuning, vir alles wat hulle oor die jare gedoen het, en onderneem hy om nou sy kant te bring. Hy beskryf die manuskrip-materiaal vir nege boeke: vyf bundels wat saam “Die ongedanste dans” maak; ’n bundel kortverhale, Mouroir; en Boek,wat in een dik band gepubliseer sou kon word, maar ook afsonderlik as drie boeke. Hy maak ook melding van ’n beplande manuskrip – “die straight forward relaas van ‘hoe is het nou precies gebeurd’, dws die tronkboek”. Hy lig enkele probleme of oorwegings uit en samevattend sê hy: “Boys, ek is jammer ek het so baie gaan skryf; en nog jammerder dat sekere keuseprobleme nou op julle afgeskuif moet word. Laat weet wat julle dink.” Hy self is nie gretig om met Koos Human, wat al voelers uitgesteek het (en dus met Nasionale Pers waarvan Human & Rousseau nou deel uitmaak), saam te werk nie en vra die Taurus-uitgewers: “Sien julle kans? Ek bedoel nou, afgesien van die publiseerbare gehalte al dan nie – sien Taurus kans vir so baie? Ek noem dit – en julle moet eerlik vir my sê wat julle dink en nie wil heengaan en publiseer uit lojaliteit of so nie, of die bul gaan versuip nie ...”

In hulle antwoord op hierdie brief blyk dit duidelik dat Taurus nie kieskeurig is nie – “in beginsel wil ons alles uitgee, en veral die tronkboek (absoluut)” – en dat hulle “finansieel sal regkom”. Die uitgeevoorwaardes is oop en wyd: hulle sal uitgee sonder enige “katering” (“maak nie saak volgens watter wet nie”); die skrywer kan kies tussen tantieme (’n minimum van 15%) en/of voorskotbetaling (“ons het daarvoor begroot”); tweetaligheid is nie ’n probleem nie; die skrywer behou alle addisionele regte, insluitende kopie-, bloemlesing-, vertaal- en filmregte; en die skrywer het seggenskap in die vormgewing van die tekste – formaat, binnewerk, lettertipe, bandontwerp in kleur en die finale goedkeuring van proewe.

Hulle bied selfs aan om hom te help om van sy werk in plaaslike literêre tydskrifte gepubliseer te kry (hulle speel dus ook ’n agentrol). Hulle stel voor dat al die materiaal binne twee jaar uitgegee word. Hulle voer twee redes daarvoor aan om so gou moontlik alles uit te kry: “Literêr is dit beter om alles wat in daardie 7 jaar geskryf is so gou moontlik uit te gee – anders raak mens agter met die nuwe dinge wat jy gaan skryf en moet dít dus uitgestel word. En finansieel is dit beter om na die drukker te gaan met ’n ‘kontrak’ vir ses boeke. Jy kry afslag. Nietemin: sê wat jy dink.”

Breytenbach onderneem in ’n volgende brief dat hulle “alles kan kry [...] maar ses (6) boeke die eerste jaar lyk vir my bietjie kras – dis dan twee per elke lid van die leserspubliek”; hyself doen ’n ander uitgeevolgorde van die beskikbare materiaal aan die hand. So word ’n unieke skrywer-uitgewery-verhouding van stapel gestuur rondom sewe jaar se opgehoopte skryfwerk wat oor duisende kilometers gepos word en wat sonder die gerief van elektroniese kommunikasiemiddele in stand gehou word.

Een voorbeeld van die goeie samewerkingsverhouding tussen die skrywer en sy uitgewery is die aangeleentheid van materiële vormgewing. Breytenbach het sterk idees gehad oor die voorkoms van die boeke, veral die digbundels, en daar volg uitgebreide korrespondensie oor tipografiese voorkeure, die gebruik van tekeninge vir omslae en die moontlikheid van kleurdrukwerk.

Tussen 1983 en 1987 verskyn daar herdrukke van Breytenbach se werk (byvoorbeeld die vyfde druk van Ysterkoei by Perskor), maar dit is eintlik die periode van die sewe nuwe titels wat Taurus uitgee. In 1983 verskyn Mouroir en twee digbundels van “die ongedanste dans“, naamlik Eklips en die veelbekroonde (‘yk’) (1983). In 1984 verskyn Buffalo Bill en die tronk-memoire, The true confessions of an albino terrorist. In 1985 verskyn Lewendood en in 1987 die poëtikale refleksies, Boek (deel een): dryfpunt.

Foto's: NALN

Buiteland

In hierdie periode word Breytenbach se loopbaan egter op ’n veel groter verhoog as die plaaslike uitgespeel – en word sy skrywersreputasie verbreed deur sy nuutverworwe Franse burgerskap wat hom die geleentheid bied om internasionaal te reis en om hom as wêreldburger te posisioneer. Hy publiseer skeppende werk, lesings, opinie-artikels en opstelle in verskillende oorsese media. Hy word ’n bekende figuur op die internasionale konferensie- en lesing-kringloop.

Sy internasionale loopbaan as meningsvormer ontwikkel parallel met sy uitkringende skrywersloopbaan. In die tydperk 1983 tot 1987 word sy Nederlandse (en oorhoofse) oeuvre, naas talle herdrukke, met sewe nuwe titels uitgebrei. Drie bundels gevangenisgedigte word deur Meulenhoff uitgegee, in samewerking met Taurus. Die Nederlandse uitgawe van Confessions word in 1984 deur Van Gennep uitgegee en die uitgewer Rob van Gennep beheer die internasionale regte daarvan – hy tree dus as Breytenbach se internasionale agent op.

Die skrywer se tronk-prosa word in hierdie era ook wyd vertaal in ander (Europese) tale. Hierdie is egter die era waarin Breytenbach se status as wêreldskrywer in die Engelstalige literêre veld gevestig word met sy opname in die fondslyste van toonaangewende literêre uitgewers in Londen (Faber & Faber) en New York (Farrar Straus Giroux). Die Britse en Amerikaanse uitgawes bring ’n wending in die materiële produksie (in terme van die fisiese voorkoms) van Breytenbach se boeke. Vir die eerste maal word foto’s van die skrywer, biografiese inligting en aanhalings uit gesaghebbende media of uitsprake van prominente figure in die bandontwerp geïnkorporeer.

Opsommend

In die vyf jaar van 1983 tot 1987 het Taurus Breytenbach se tronkgeskrifte as sewe afsonderlike titels uitgegee, en daarmee word sy reputasie as een van die belangrikste skrywers van die Afrikaanse literêre veld gevestig. Dit is ook die era waarin hy bekend raak op wêreldverhoë en as wêreldskrywer wat op internasionale fondslyste opgeneem word saam met ander toonaangewende skrywers: Jean Genet, William Golding, Seamus Heany, Ted Hughes, Milan Kundera, Mario Vargas Llosa, en ander.

 

Taurus en die na-oes en groen koring (1988-1994)

Gedurende die volgende sewe jaar, tot die aanbreek van die “Nuwe Suid-Afrika” in 1994, word Breytenbach se plaaslike oeuvre met ses nuwe titels (wat buite tronkverband ontstaan het en voor of na sy gevangeskap geskep is) deur Taurus en dié se kortstondige opvolgers (in redaksionele opvatting en gees ten minste) uitgebrei: die koproduksies Memory of snow and of dust (1989), All one horse en Soos die so (1990); en Hart-lam (1991), die laaste teks wat onder die Taurus-druknaam verskyn. Die (Suid-) Afrikaanse uitgewerykonteks was besig om te verander.

In 1993 verskyn die eerste bundel nuwe gedigte (wat ná die skrywer se vrylating ontstaan het), naamlik Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde,as koproduksie onder die drukname HOND (gestig deur Ryk Hattingh en Tienie du Plessis) en INTAKA (van Sandra Saayman), en dit word in 1996 met die Helgaard Steyn-prys bekroon. Plakboek. Moving on: verjaarde reisverse vir Hoang Lien word in 1994 deur HOND uitgegee met finansiële steun deur die Stigting vir die Skeppende Kunste tydens voorproduksie en deur ’n persoonlike bydrae deur advokaat Eberhard Bertelsmann. Dit was die eerste maal dat ’n Breytenbach-teks met eksterne befondsing uitgegee is – dit was ’n teken dat die onafhanklike uitgewerye nie meer die mas kon opkom nie.

Die onafhanklike, alternatiewe Engelstalige uitgewery David Phillip Publishers publiseer in 1993 twee tekste: die buitelandse koproduksie Return to paradise: an African journal en die geleentheidpublikasie Painting the eye.

Buiteland

In hierdie era raak die plaaslike en internasionale produksie van Breytenbach se werk al hegter verstrengel via sy Nederlandse uitgewers cum agente wat ’n leidende rol in die ontplooiing van sy na-tronk-loopbaan speel. Van Gennep en Meulenhoff, wat die wêreldregte op Breytenbach se werk het, speel die sentrale rol om sy nuwe werk op Britse en Amerikaanse publikasielyste te posisioneer.

Opsommend

Breytenbach se internasionale konneksies speel in hierdie tyd die leidende rol om sy oeuvre en reputasie te ontplooi. Terselfdertyd staan sy binnelandse skrywersloopbaan op die drempel van ’n nuwe era – nie net ten opsigte van die sosiopolitieke konteks nie, maar ook ten opsigte van die uitgewerylandskap.

Anders as ander Suid-Afrikaanse alternatiewe uitgewerye het Taurus vir ’n lang tyd oorleef sonder toegang tot eksterne finansiële hulp van internasionele anti-apartheid-organisasies. Maar ook Taurus se publikasieprogram word om verskillende redes in Februarie 1992 gestaak. Die impak van Taurus, bereken in materiële produksie (byvoorbeeld die aantal titels op die fondslys), was dalk nie aardskuddend nie. Maar Taurus het ’n stewige simboliese impak gemaak: hierdie klein uitgewery het werke uitgegee wat andersins waarskynlik nie uitgegee sou gewees het nie; dit het die verspreiding van sodanige werk verseker; dit het vir hulle lesers en skrywers ’n voorbeeld van integriteit en vasberadenheid gestel; en dit het gevestigde uitgewerye gedwing om groter kanse te waag ten einde nie aansien te verloor nie.

Reeds teen die einde van hierdie periode het daar verskuiwings in die politieke arena gekom – en in die perspektief wat Breytenbach daarop nahou – asook in die institusionele omgewing.

 

 

Die derde produksieperiode (1995 tot op hede): Die wiel het gedraai

Konteks

Die negentigerjare en eerste dekade van die nuwe millennium staan in die teken van politieke transformasie. Politieke transformasie impakteer op die funksionering van die Suid-Afrikaanse samelewing in die breë en op die struktuur en aard van organisasies en (kultuur-) bedrywe. Ekonomiese transformasie gee aanleiding tot toenemende privatisering en kommersialisering van organisasies en die uitgewersbedryf as sodanig. In watter uitgewershuis sou Breytenbach ’n tuiste kon vind in hierdie era van transformasie en onsekerheid?

Die politieke rondomtalie veroorsaak dat Breytenbach op Human & Rousseau, die uitgewery wat hom in die laat sestigerjare in die openbaar afgewys het, se publikasielys beland toe hulle die Taurus-fondslys oorneem. So word die ontwikkeling in sy postapartheid-oeuvre en -loopbaan aan hierdie uitgewery gekoppel, aanvanklik teen wil en dank. Sedert 1995, met die publikasie van ’n bloemlesing gedigte (Die handvol vere, saamgestel deur Ampie Coetzee), word die oeuvre met sewentien nuwe produkte uitgebrei, wat getuig van die eksploitering van ’n volryp oes, insluitende nuwe poësiebundels, nuwe Afrikaanse en Engelse prosawerke, toneelstukke, CD-ROM-publikasies, bloemlesings en versamelde werk. Hierdie periode moet nog deeglik ondersoek word.


Samevatting

Die drie hoofperiodes in Breytenbach se oeuvre-produksie kan nie gelykgestel word aan die drie fases in die loopbaan- en reputasie-ontwikkeling van ’n skrywer waarna in die inleiding verwys is nie. Die eerste produksieperiode was inderwaarheid ’n periode waarin die verskillende fases saamgepers is: die leertyd, die aanloop tot erkenning en selfs die eerste tekens van definitiewe erkenning. Breytenbach se skrywerskap is reeds in sy volle omvang in sy debuut gemanifesteer en sy vernuwende bydrae is onmiddellik erken en beloon met die mees gesogte literêre prys van die tyd. Daar was nie sprake van geleidelike potensiaal-ontplooiing nie: hierdie skrywer is van die begin af produktief, skryf (en skilder) voltyds, doen mee aan die opkomende literêre kringloop van Sestig, trek die aandag van die (populêre) media en is betrokke by die vormgewing en voorkoms van sy boeke. Derde partye speel reeds vanaf sy debuut ’n toenemende rol in die beeldvorming rondom die skrywer (en openbare figuur), insluitende toonaangewende resensente, prysbeoordelaars, mediamense, medeskrywers en uitgewers.

Dit word vroeg in hierdie skrywersloopbaan duidelik dat die verhouding skrywer-uitgewery kompleks is en dat Breytenbach nie genoeë met die uitgewer se rol as afrigter en (pre-) sensor neem nie; hy huiwer ook nie om sy verbintenis met ’n uitgewery te verbreek nie. Ten spyte van hierdie los bande het die onderskeie uitgewerye wat gedurende die drie periodes by sy oeuvre-ontwikkeling betrokke was, elk sy eie eksploitasie-moontlikhede so deeglik moontlik ontplooi.

 

Bibliografie

Beukes, WD (red). 1992. Boekwêreld. Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990.

De Glas, F. 1998. Authors’ oeuvres as the backbone of publishers’ lists: studying the literary publishing house after Bourdieu. Poetics: Journal of Empirical Research on Literature, the Media and the Arts, 25:379–397.

Galloway, F. 1990. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM Literêr.

Venter, RM. 2006. Die materiële produksie van Afrikaanse fiksie (1990–2005). ’n Empiriese ondersoek na die produksieprofiel en uitgeweryprofiel binne die uitgeesisteem. Ongepubliseerde PhD-tesis. Universiteit van Pretoria.

—. 2007. Inventing an alternative through oppositional publishing: Afrikaans alternative book publishing in apartheid South Africa – the publishing house Taurus (1975–1991) as a case study. Innovation. Journal of Appropriate Librarianship and Information Work in Southern Africa, 35:91–124.


Praatjie gelewer by die Breyten Breytenbach Boekefees, 13–15 Julie 2012, Montagu.

[1] Aanhalings kom uit korrespondensie wat deel uitmaak van die Taurus-argief wat by NALN gehuisves word.

  • 1

Kommentaar

  • Baie dankie vir die uitstekende  oorsig. Twee aspekte  veral interessant : die belangrike werk van TAURUS

    en "Breytenbach se skrywerskap is reeds in sy volle omvang in sy debuut gemanifesteer"!
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top