Persverklaring: Huldeblyk aan Breyten Breytenbach, ’n pionier in Afrikaanse Letterkunde

  • 1

Die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) neem met diepe hartseer kennis van die afsterwe van Breyten Breytenbach, een van die merkwaardigste figure in die Afrikaanse letterkunde en ’n baanbreker op verskeie terreine.

As ’n leier van die Sestigerbeweging het Breytenbach nie net die Afrikaanse literêre landskap hervorm nie, maar ook die morele en politieke bewussyn van sy era uitgedaag. Sy onverskrokke kritiek teen apartheid en sy verbintenis tot geregtigheid het hom as ’n stem van waarheid gevestig, ten spyte van die groot persoonlike opofferings wat dit van hom geverg het.

Breytenbach het oor dekades heen internasionale erkenning geniet en is bekroon met talle toekennings, waaronder die Hertzogprys, die oudste en vernaamste prestigeprys in Afrikaanse letterkunde, wat hy in 1999 en 2008 ontvang het. Dit is betekenisvol dat hierdie toekennings gekom het nadat die prys in die 1960’s en 1970’s om ideologiese redes van hom weerhou is en hy dit in 1984 van die hand gewys het. Sy werk, wat in verskeie tale vertaal is, is steeds ’n kernonderdeel van Suid-Afrika se literêre erfenis en word wyd bestudeer, selfs as voorgeskrewe werke op skoolvlak.

Breytenbach se skrywerskap is onlangs gevier met die publikasie van ʼn Huldiging: Breyten Breytenbach Woordenaar Woordnar deur Francis Galloway as redakteur. Hierdie bundel, wat deel vorm van die SAAWK se reeks oor Hertzogpryswenners, werp op vernuwende wyse lig op die uiteenlopende aspekte van die diepgaande én speelse aard van sy skryfwerk. Dit bied waardevolle insigte in sy loopbaan as skrywer en openbare figuur, terwyl dit sy onmisbare bydrae tot die Afrikaanse kultuurerfenis huldig.

Breytenbach se nalatenskap as kunstenaar, skrywer en denker sal bly voortleef in die kollektiewe geheue van die Afrikaanse gemeenskap en die internasionale samelewing. Sy stem, deurdring met kreatiwiteit en integriteit, sal aanhou om generasies te inspireer.

Die SAAWK betuig ons innige meegevoel aan sy familie en naasbestaandes. Ons eer hom vir die ryk skat van woorde, idees en verbeelding waarmee hy ons agterlaat.

Lees ook:

Gesprekskuns: Breytenbach se blywende, lewende nalatenskap

Altyd Breyten, die man met die groen trui

Breytenbach family press release

  • 1

Kommentaar

  • Melanie Grobler

    kwartels in die loekwart en laat word in die lewe. knippe en krotte. kruise en tjaans. tjaans. verkluimde trekganse in die bitterbessiebos. liefde en verlange.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top