Toe ek middel-Mei 2017 as bestuurder by my kantoor in die Breytenbach Sentrum aangekom het, het ek nog nie vir Breyten Breytenbach ontmoet nie. Ek het darem op 18 September 2015 ’n uitstalling van sy kunswerke by die Breytenbach Galery in die Sentrum bygewoon waar hy die spreker was tydens die opening daarvan.
Ek was dapper en het vir almal gesê hoe ek vir Breyten sou vertel wat ek anders sou wou doen by die Sentrum. “Don’t go that way” met Breyten, is ek gewaarsku. Toe Breyten uiteindelik by my kantoor instap en ons ’n paar woorde gewissel het, het ons aanklank gevind.
Ek het vinnig geleer om te luister en aantekeninge te maak oor sy voorstelle en idees oor die Sentrum. Ek het Breyten leer ken as ’n sagte, ordentlike mens wat driftig kon word oor onreg, oor uitsprake deur enigiemand wat nie standpunte wat van hom of haar verskil wou aanhoor en uitdaag nie, of na sulke uitsprake wou luister nie. Veral was hy ook diep beswaard oor die Afrikaanse taalkwessie op Stellenbosch.
Oor die betekenis van sy gedigte en kunswerke het ek nooit uitgevra nie. Ek is nie ’n opgeleide digter of kunstenaar nie en het gou geweet jy moet hom nie uitvra oor wat die simboliek van sekere elemente in sy kunswerke of gedigte is nie.
Breyten het ook baie gesteun op sy boesemvriend en “broer”, wyle Ampie Coetzee, stigterslid van die Sentrum, en Ampie se vrou Anne-Ghrett Erasmus, die kurator van die Breytenbach Galery.
Yolande, ’n besonder aangename, liefdevolle en sorgsame vrou, was Breyten se steunpilaar. Sy het verseker dat hy genoeg rus kry en was veral met die viering van sy 80ste verjaardag by Tuin van Digters in 2019 heeltyd naby hom.
Ek en Breyten het elke keer as hy en Yolande in Suid-Afrika was van Januarie tot einde Maart, of in September vir Tuin van Digters, ’n ontbytafspraak gehad. Dan het ons tot drie ure lank gesels oor die Sentrum, die tema van Tuin van Digters, projekte wat hy graag wou laat plaasvind, en sommer oor die politiek en ander gebeure van die dag. Ek het nooit rugby aangeroer nie en wonder nou nog of hy hoegenaamd rugby gekyk het of daarin belanggestel het.
Breyten het tydens sy jaarlikse besoeke moeite gedoen om sy oorlewende twee broers, Jan en Cloete, en suster Rachel te besoek. Basjan is ’n hele paar jaar gelede al oorlede. Die heengaan van eers Cloete, wat die Breytenbach-familie in die Sentrum se trust verteenwoordig het en Breyten se vertroueling en oor was, daarna Rachel, en toe sy oudste broer, Jan, in Junie vanjaar het hom diep getref.
Na Jan se afsterwe het Breyten nie meer gereeld per e-pos gekommunikeer nie en al hoe meer gesorg dat sy eie sake georganiseer word met die hulp van Yolande en van sy vriende.
Hy was ’n maand of meer in die hospitaal en het daarna tuis moedig probeer herstel.
Breyten het 2023 se Tuin van Digters met die volgende woorde afgesluit:
As jongste en skelmste vennoot hier wil ek my enkele woorde vergun (“famous last words,” sou my vrou sê), net om te onderstreep watter voorreg dit vir my is om hier voor julle te mag sit of staan (met ’n rondval na die teks) in ’n ruimte wat sonder voorbehoude en met al die denkbare onderlinge verskille gerespekteer in stand gehou word. Ons is ’n weerspieëling van wat die geskiedenis van ons gemaak het … en hoe ons mekaar mismaak het met die geskiedenis as verskoning. Punt is egter: Ons gee wragtag nie toe dat ons so gemaak en laat staan is nie. Want hierdie is ’n ruimte vir hibridisering en méér: vir saam-mekaarandersmaak. Dis ’n plek waar woorde lewe – in bevraagtekening ontvang en in die kreatiwiteit van omvorming gebore. Dis ’n kulturele ruimte eie aan die dorp en haar gemeenskappe – maar dan al die gemeenskappe – om van besit te neem, om dit in te klee, om by en van mekaar te leer, om meer as net verdraagsaamheid (’n verdrag om saam die vrag te dra) te vergestalt. Mens sou wil hê dat elke dorp en lokasie in hierdie streek oor so ’n ruimte moet kon beskik, outentiek en outonoom, of dit nou deur feeste of andersins vorm kry.
Dis ’n voorreg om meer te kan gee as wat jy ontvang of ontvang het. Niks is so bevrydend as om weg te kan kom van abstraksies en deel te kan wees van (en deel te neem aan) die bemagtiging van menswaardigheid nie.
Lewende rooi woorde
Breyten het gereeld, veral naby sy verjaardag op 16 September en die jaarlikse Tuin van Digters-fees ’n gedig per e-pos gestuur. Soms met die woorde “gebruik dit soos jy goed dink”.
Hy het in September 2023, net voor die 12de jaarlikse Tuin van Digters-fees, die laaste een (met die tema “lewende woorde”) wat hy sou bywoon, die volgende e-pos aangestuur.
From: Breyten Breytenbach
Sent: Thursday, 07 September 2023 13:32
To: François Lötter, Anne-Ghrett
Subject: Lewende rooi woorde
So met die inpak hier in Parys sien ek teen die muur geplak ’n vel papier – ek weet nou nie uit watter bundel nie – en dog toe dis dalk van pas vir volgende week, sommer net as ’n by-gedagte tussen ons:
hy sê die nagtelikse skryf
van die ure se gebeure
is ’n vergeefse poging
om die stuipe van lewe
styftrekkend te laat bedaar
tot ’n effense bewing
die register van asemhaling
se daal en styg
effentjies effentjies
kom nou
wees stil my hart
laat wat hiér is
be-daar
soos die bedelaar se hand
…
(n)oneness
: hierin
lê ons nonsens
en onsinnigheid
immers
intiem en innig nie-sinnig
opgewoord
want net die skaduwees van woorde bewewys
dat hulle substansie gehad het
en teenwoordig was
om die onthou lewend te onteien
Groete en sterkte met die voorbereidings! Ons sien mekaar binnekort.
Breyten
Dankie
Dankie, Breyten. Mag ons jou woorde en nalatenskap en visie en versiendheid in stand hou. Vandag en môre en altyd.
ALTYD BREYTEN
*
Francois Lötter, oudjoernalis, was van Mei 2017 tot einde November 2021 bestuurder en later direksielid by die Breytenbach Sentrum in Wellington. Hy het voortgegaan om die jaarlikse Tuin van Digters-fees, waarvan hy in 2024 die agtste jaar die programorganiseerder was, by die Sentrum te reël. Al die foto’s en herinneringe aan Breyten Breytenbach (16 Oktober 1939 – 24 November 2024) is deur Lötter.