Oor die sin en sinloosheid van kunsverbranding

  • 2

loammiwolf_uctkuns

As mens die woord “kunsverbranding” hoor, dink mens amper outomaties aan die kuns- en boekeverbranding deur die Nazi’s se gepeupel. Die vlamme wat die kunswerke en boeke verteer het op die Opera-plein in Berlyn in 1933 het die einde van die kreatiewe ontploffing tydens die Weimar-republiek ingelei. Alle “ontaarde kuns” (entartete Kunst) is verban en ongewenste kunskenners is uit hulle poste by kulturele instansies ontslaan.

Alles is as “ontaarde kuns” gebrandmerk wat nie in die prentjie van fascistiese skoonheidsideale en volksverheerliking gepas het nie. Alle moderne kunsstrominge, soos ekspressionisme, Dadaïsme, die nuwe saaklikheid, surrealisme en kubisme, het onder die byl geval. Kunswerke van onder meer Otto Dix, Oskar Kokoschka, Franz Marc, Lovis Corinth en Emil Nolde is uit die museums verwyder.

Van hierdie grootse kunswerke het egter dikwels in die private kunsversamelings van prominente Nazi’s beland. So het Herman Göring Van Gogh se portret van dr Gachet gesteel. Museums het groot verliese gely deur die konfiskering van kuns, baie kunstenaars moes vlug of kon nie meer genoeg verdien om te oorlewe nie, en talle het selfmoord gepleeg.

In Julie 1937 het die Nazi’s ’n verdere openbare propagandaveldtog teen “ontaarde kuns” geloods en ’n groot uitstalling van 650 gekonfiskeerde kunswerke wat hulle van 32 museums gesteel het in München gehou. Die ironie was dat die uitstalling oor die twee miljoen besoekers gelok het. ’n Uitstalling van kuns wat in die smaak van die Nazi’s geval het, het net 400 000 besoekers gelok.

So maklik as wat dit is om die verbranding en sensuur van kuns deur die Nazi’s te veroordeel, so moeilik is dit om sonder meer die skending of verbranding van kunswerke by die Universiteit Kaapstad wat uit Suid-Afrika se koloniale era stam en aanstoot gee, te veroordeel. Dis om verskeie redes ’n tweesnydende swaard.

Ek was eerlik verwonderd dat Rhodes se standbeeld wat van die Kaap na Kaïro kyk en waarskynlik een van die mees prominente simbole van Britse imperialisme is, so lank bly staan het. Na die val van die Berlynse Muur het die Oos-Europese state wat dekades lank onder Sowjet-heerskappy gely en na hulself as die “bloodlands” verwys het, taamlik vinnig alle standbeelde van Stalin en Lenin uit die openbare oog verwyder.

Wat die situasie by die Universiteit Kaapstad moeilik maak, is die skeidslyn tussen onregmatige vandalisme en regmatige opstand teen simbole van koloniale verheerliking.

Mens moet dalk begin deur te kyk wát gebeur het, veral omdat die feite ook vanuit ’n regsperspektief belangrik is. Volgens koerantberigte het ’n klein groepie studente (die getal 30 is genoem) van die #RhodesMustFall-protesbeweging ’n hut opgeslaan in ’n besige straat op die bo-kampus en daarnaas vuur gemaak om te braai. Hulle is deur universiteitsbeamptes aangesê om die hut te verwyder. In die eskalering van die konflik het van die studente ’n aantal skilderye uit twee koshuise gestroop en dit op ’n hoop verbrand. Die studente het blykbaar ook voertuie en die kantoor van die rektor aan die brand gesteek. Die brandweer en polisie is ingeroep om die vuur te blus.

Die rektor het met die volgende stelling daarop reageer: “It is utterly regrettable that a movement that began with such promise and purports to be fighting for social justice matters has now deteriorated into a group that engages in criminality.”

Sulke optrede is inderdaad problematies, omdat die studente klaarblyklik glo dat die doel die middele heilig en dat hulle die reg in eie hande mag neem. Die staatsreggeleerde Pierre de Vos sê tereg dat almal gebonde is om die grondwetlike raamwerk wat deur ’n demokraties gelegitimeerde regering opgestel is, te respekteer. Die brandstigting moet in ’n ernstige kriminele lig gesien word.

Minister Nzimande het ook kritiek ten opsigte van die vandalisme by verskeie universiteite uitgespreek. Hy het die ouers gekritiseer wat die studente aangehits het en gesê dat die skade van meer as R300 m wat deur vandalisme by verskeie universiteite aangerig is, nie sommer goedgepraat kan word nie.

’n Verdere aspek is die lukrake populisme wat in die woede van die oomblik met die verbranding van die skilderye gepaard gegaan het. Een van die betogers het byvoorbeeld getwiet: “Whiteness is burning.”

Een van die skilderye wat verbrand is, was egter ’n taamlik kosbare skildery van die anti-apartheid-kunstenaar Kersemose Richard Baholo. Hy het dit in 1993 geskilder as sosiale kommentaar tydens die studenteproteste by die universiteit en dit dra die titel Extinguished torch of academic freedom. Dit illustreer die sinloosheid van die aksie.

Intussen word ernstig gekyk na meer hulpprogramme vir arm swart studente en om meer fondse tot die beskikking van universiteite te stel. As mens egter in gedagte hou dat swart geletterdheid sedert 1994 met 50% gestyg het, dat ongeletterdheid van die jeug vandag net 4% is, en dat al hoe meer matriek skryf, kan gevra word waarom daar nie ook meer universiteite en opleidingsentrums gebou word nie. Is dit ook ’n geval van ontoereikende toekomsbeplanning soos in die geval van elektrisiteitsvoorsiening?

Die onthutsende realiteit is dat swak opleiding steeds ’n groot deel van die swart jeug in armoede vasvang. Volgens ’n onlangse studie het die aantal studente wat by universiteite inskryf, sterk toegeneem, maar dié wat klaarmaak met hulle opleiding is minder as die persentasie swart studente wat met sukses in 1994 kwalifiseer het. Die sluiting van kolleges word ook as ’n dwaalspoor betrag, omdat hulle veral jong swart onderwysers en verpleegpersoneel effektief opgelei het.

Om egter tot die verbranding van kuns terug te kom: ek wil graag kortliks fokus op ’n paar stellings wat Edward Tsumele, ’n bekroonde joernalis, gemaak het in die puik onderhoud wat Hans Pienaar met hom gevoer het. Hulle sny ’n hele aantal interessante kwessies aan.

Tsumele beskou die tydelike verwydering van 75 kunswerke wat dwarsoor die universiteit uitgestal was, as sensuur van die kuns. Volgens hom behoort net die meriete van die kunswerke te tel, selfs al veroorsaak dit ongemak vir ’n sekere deel van die kampus se studente en personeel.

Hy glo: “Let the art prevail, colonial or not colonial. This is an expression of how certain artists interpreted what they saw at certain times in history. Let us as the public view everything, colonial or postcolonial. As the public we have the right to be offended or inspired by art.”

Hy voeg egter by dat daar sensitiwiteit openbaar moet word waar bepaalde kunswerke uitgestal word en dat dit nie wys is om kunswerke waarteen swart studente weens die koloniale implikasies daarvan aanstoot neem, in hulle koshuise op te hang nie.

Dit gaan veral vir hom om kunsvryheid: “Artists must be allowed to be influenced by anyone, overseas or local. Society should not attempt to dictate who should influence artists. Society should never meddle in artists' creative inspiration. There should never be dictatorship with regard to how artists represent the human condition in their works; whether we agree or do not agree with such representation, it is none of our business as society. We have the choice to either accept or reject such representation, but have no right to meddle in the creative process.”

Ek dink mens moet versigtig wees om die tydelike stoor van die 75 kunswerke tot tyd en wyl die taakspan van die universiteitsraad besluit het hoe om die situasie te hanteer, as sensuur te betrag. Die handves van menseregte in die Grondwet waarborg nie net kunsvryheid en vryheid van spraak nie, maar ook menswaardigheid en die reg om protes aan te teken (binne regsperke). Hierdie regte is egter nie absoluut nie, maar moet almal gelyktydig gerealiseer word sover dit moontlik is. Die belange van die een reg moet dus afgeweeg word teen die ander, en dis presies wat die universiteit tans doen. Daar is blykbaar veral 10 kunswerke wat aanstoot gee. Die vraag is wat die universiteit gaan doen omtrent hierdie kunswerke. Daarop wil ek later ingaan.

Tsumela se sienswyse van kunsvryheid is prysenswaardig. Ek stem veral daarmee saam ten opsigte van kuns wat ná 1994 geskep is binne ’n konteks van gewaarborgde vryheid en gelykheid as sosiale kommentaar oor die transformasie van die gemeenskap.

Wat die era voor 1994 betref, is ’n beoordeling nie so maklik nie. Vroeër, voordat daar kameras was om historiese oomblikke te dokumenteer, was daar net skilders om die "heldhaftige" gebeure te verewig, maar ook in daardie tyd is kuns dikwels benut om sosiale kritiek te lewer. Dit verskaf ons dus ’n taamlik goeie moontlikheid om daardie era te visualiseer.

Maar as dit gaan om kunswerke wat byvoorbeeld met heldeverering ’n groot militêre slag of die onderwerping van ’n volk uitbeeld, is antagonisme te verwagte indien sulke kunswerke steeds prominent binne ’n versadigde voormalige koloniale milieu uitgestal word, omdat mense verneder of seergemaak of bedreig kan voel daardeur. Sulke kunswerke behoort met die nodige sensitiwiteit hanteer te word. Dit sou sinvol wees om dit eerder in ’n gekontekstualiseerde uitstalling op te neem. Dit kan ‘n belangrike bydrae lewer tot die integrering van ’n moeilike en pynlike verlede as deel van kollektiewe geheue om sodoende vrede te vind.

Die vraag gaan sekerlik ook wees wat die universiteitsraad wil doen met die 10 kunswerke wat studente as problematies gekenteken het. Miskien kan hulle oorweeg om dit te verkoop en die fondse vir ’n sinvolle projek te benut?

  • 2

Kommentaar

  • Ek dink dit was verkeerd om die Rhodes-standbeeld te verwyder. Dit het die bal aan die rol gesit vir verdere destruktiewe aksies van mense wat negatief voel oor alles waarvoor UCT en ander sg 'wit koloniale universiteite staan'. Rhodes was net die begin. Vervolgens skilderye, geboue ens. Dit sal nooit ophou nie en dit sal nie help om kompromisse te sluit nie. Staan net sterk. Hulle het dieselfde probeer by Oxford Universiteite. Rhodes must fall. Die bestuur daar het net gelag en gesê vergeet dit en dit was die einde.

  • George Bekker

    Die skrywer beweer: “Wat die situasie by die Universiteit Kaapstad moeilik maak, is die skeidslyn tussen onregmatige vandalisme en regmatige opstand teen simbole van koloniale verheerliking.”
    '... onregmatige vandalisme'? Is daar so iets, terwyl ons liewer nie eers dink aan 'regmatige vandalisme' nie? Vandalisme is vandalisme en klaar. Die Universiteit het self nie duidelikheid oor grense gehad nie. Die saak is eenvoudig: vreedsame protes is reg en geweld en beskadiging van eiendom is verkeerd. Die bestuur en rektor het hulle aan lamsakkige gedrag skuldig gemaak en sowaar gedink dat as 'n mens 'n klein bietjie minder ernstige geweld deur die vingers sien, kan jy groter geweld voorkom. Dit was nie nodig om uitdagend te wees nie, maar die grens moes gou duidelik gestel gewees het en met die eerste oorsteek van die grens moes daar beslissend teen oortreders opgetree gewees het, afgesien van die gevolge. Dit het nie gebeur nie en die gevolge is geskiedenis.
    Vir 'n geruime tyd is ons al by die punt waar die sensurering van kuns konsekwent veroordeel word. Wolf se probleem is hoe stel jy swart studente grootliks tevrede en skep terselfdertyd die indruk van 'geen sensuur'? As jy bv besluit om sekere skilderye nie in saal A uit te stal nie, maar wel in saal B, is dit nie maar ook sensuur nie? As die verkoop van 10 'problematiese' kunswerke (dit het nog nie gebeur nie) nie sensuur is nie (al word die fondse vir 'n “sinvolle projek benut”), wat is dit dan? Self al sus mens die swart studente is daar nie steeds Moslem, Joodse en ander studente/besoekers wat ontstel kan word nie of aanvaar jy eenvoudig dat ander groepe al sover gevorder het dat hulle maar sal swyg?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top