Francis Galloway reageer op The Cambridge History of South African Literature

  • 0

Hierdie gesprek vind sy oorsprong in David Attwell en Derek Attridge se The Cambridge History of South African Literature.

Ampie Coetzee het oor Breytenbach se tronk-oeuvre, soos in The Cambridge History of South African Literature hanteer, geskryf. Hieronder lewer Francis Galloway kommentaar.

Twee uitsprake in The Cambridge History of South African Literature (Attwell en Attridge 2012) met betrekking tot die oeuvre-ontwikkeling, uitgeegeskiedenis en loopbaan van Breyten Breytenbach verdien kritiese kommentaar:

  • Daniel Roux (in sy hoofstuk “Writing the prison”) voer aan dat Breytenbach tydens sy sewe jaar lange politieke gevangeskap slegs “some semi-fictional autobiographical sketches” neergeskryf het wat na sy vrylating gepubliseer is as Mouroir (1983); sy tronk-memoire, [The] True Confessions of an Albino Terrorist, is na sy vrylating geskryf, “while in exile (sic) in France” (bl 552).
  • Michael Green (“The ‘experimental line’ in fiction”) maak die volgende stelling: “Although [his] work was never banned, he served seven years of a nine-year prison sentence [...]. Two books came directly out of the experience, The True confessions of an Albino Terrorist (1985) and Mouroir [...]. Barred from painting, Breytenbach was allowed to write in prison, although anything he wrote was taken from his cell to be examined by the authorities as soon as it was written. Returned to him after his release, it is this writing that makes up the thirty-eight discrete sections of Mouroir, which range from surreal to hyperrealistic fragments, impressions and stories about his experiences in prison (bl 793).

Hierdie aannames en uitsprake is foutief en getuig van onvoldoende navorsing – spesifiek swak verkenning van sekondêre en primêre bronne.

Die wanopvatting oor die ontstaan en die publikasie van Breytenbach se uitgebreide tronk-oeuvre (wat ook vyf digbundels en die literêr-poëtiese bestekopname, Boek (deel een), insluit) is reeds hier aangespreek deur Ampie Coetzee, wat die rol van die onafhanklike en “ondergrondse” uitgewery Taurus toelig. Dit is duidelik dat Roux en Green nie bewus is van bestaande argivale materiaal (insluitende handgeskrewe manuskripte en korrespondensie) en gesaghebbende sekondêre bronne oor die ontstaan- en resepsiegeskiedenis van die werk wat in die tronk geskryf is nie. Ek het self uitgebreid daaroor verslag gedoen in die monografie  Breyten Breytenbach as openbare figuur (1990:184–90, 191–4, 286–300) en dit ook onlangs op LitNet in ’n oorsig van Breytenbach se uitgeegeskiedenis karteer.

Die foutiewe stelling dat Breytenbach nooit ’n slagoffer van die drakoniese Suid-Afrikaanse sensuurstelsel was nie, moet ook reggestel word. Breytenbach se digbundel Skryt – om ’n sinkende skip blou te verf (Meulenhoff 1972) was in Junie 1975 die eerste slagoffer van die 1974-sensuurbedeling, en hierdie verbod  het ’n impak gehad op sy verhoor op aanklagte ingevolge die Wet op Terrorisme in dieselfde jaar (Galloway 1990:163–9). Ander sensuurverwante strategieë is ook teen hom ingespan ten einde die (literatuur-) sisteem te verskans.  

In sy The Literature Police – Apartheid Censorship and its Cultural Consequences (2009), wat gebaseer is op die verkenning van die argiewe van die eertydse Sensuurraad, belig Peter D McDonald die komplekse lot wat Breytenbach aan die hand van die sensors te beurt geval het (2009:42–3, 94–100, 258–65, 272–8). Die belangrikste feite in hierdie verband kan op die webwerf theliteraturepolice gevind word.

Dit is baie jammer dat slordige navorsingspraktyke aanleiding gee tot foutiewe uitsprake (en persepsies) rondom die oeuvre en loopbaan van ’n transnasionale skrywersfiguur soos Breytenbach.

Bronne

Galloway, Francis. 1990. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM-Literêr.

McDonald, Peter D. 2009. The Literature Police – Apartheid Censorship and its Culturul Consequences. Oxford: Oxford University Press.

 


Lees resensies oor The Cambridge History of South African Literature deur Helize van Vuuren, Andries Oliphant en Linda Kwatsha.

Lees ’n reaksie van Hennie van Coller op Helize van Vuuren se resensie.

Lees ’n reaksie van Waldemar Gouws op Helize van Vuuren se resensie.

Lees DW Gouws se rotskuns as vertelling-skrywe.

Read Writing in prison: Ampie Coetzee responds to Helize van Vuuren.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top