Hoe gesond is die Afrikaanse akademiese uitgewersbedryf?

  • 2

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.

Die plaaslike boekuitgewersbedryf bestaan uit drie subsektore wat verskillende markte bedien: algemeen (fiksie en niefiksie vir die handelsmark), opvoedkundig (boeke vir die skoolmark) en akademies (boeke vir die tersiêre en professionele mark).

Hierdie bydrae tot die Poolshoogte-bestekopname fokus op ontwikkelinge en breë patrone in die uitgee van Afrikaanse (letterkundeverwante) boeke vir die akademiese subsektor die afgelope 20 jaar, teen die agtergrond van die voorafgaande era. Hierdie subsektor bestaan uit drie produkkategorieë: tersiêre handboeke, navorsingsgebaseerde vakkundige (“scholarly”) boeke en professionele boeke (vir beroepe soos die regte). Laasgenoemde kategorie word nie vir hierdie bespreking in ag geneem nie.

Rudi Venter

Rudi Venter se proefskrif (2006) is baanbrekerswerk wat die veranderende landskap van die uitgee van Afrikaanse volwassenefiksie vir die algemene mark karteer deur die rekonstruksie van ’n oorkoepelende produksieprofiel (aantal en soorte titels gepubliseer) en uitgeweryprofiel (aantal en soorte uitgewerye betrokke) vir die tydperk 1990 tot 2005. ’n Soortgelyke ondersoek na die landskap van Afrikaanse (letterkundeverwante) tersiêre handboeke en vakkundige boeke moet nog onderneem word om vas te stel hoeveel en watter titels deur hoeveel en watter uitgewerye sedert die 1990’s uitgegee is. ’n Diepgaande ondersoek van hierdie aard is nodig om die volle impak van die getransformeerde hoëronderwys-landskap op die produksie van Afrikaanse (letterkundeverwante) akademiese boeke te bepaal.

Die goue era

Die Afrikaanse (en Afrikaner-beheerde) uitgewersbedryf het gedurende die 1980’s en die vroeë 1990’s ’n bloeitydperk beleef. Daar was verskillende uitgewerye en drukname (in getal en soort) wat ’n verskeidenheid soorte boeke vir die drie subsektore uitgegee het. Dit was ’n kunsmatig “gesonde” bedryf wat gedy het onder institusionele bevoordeling deur, onder andere, die uitgebreide aankope van skoolhandboeke en voorgeskrewe fiksietitels deur die staat asook die ruim biblioteekbegrotings vir Afrikaanse boeke. Die bedryf was verskans teen die werklikhede van ekonomiese marktoestande, die uitdagings van die veeltalige kultuurlandskap en die politieke en ekonomiese transformasie wat in die volgende era sou volg.

Die mark vir tersiêre handboeke en ander opleidingsmateriaal is deur veral drie hoofstroom-uitgewerye/drukname bedien. JL van Schaik publiseer talle handboeke in Afrikaans en Engels in vakgebiede soos publieke administrasie, (bedryfs)ekonomie, finansiële bestuur, bemarking, regte, Bybelkunde, opvoedkunde, taalkunde en literatuurstudie, asook woordeboeke en ander naslaanwerke (Van Schaik en Raubenheimer 1992:485–7). H&R se akademiese filiaal, Academica, gee boeke vir 25 vakgebiede uit, insluitende geskiedenis, sosiologie, wysbegeerte, opvoedkunde en literatuurstudie (Steyn 1992:346–7; Human 2006:104). HAUM-Opvoedkundig (later HAUM-Tersiêr) is as die akademiese afdeling van HAUM gevestig en gee talle handboeke op ’n verskeidenheid vakgebiede uit, insluitende bestuurskunde, ekonomie, geneeskunde, opvoedkunde, politieke administrasie en rekeningkunde. In hierdie tyd is daar ook geredelik studiehandleidings, handboeke en gidse vir Afrikaanse taal- en literatuurstudie deur kleiner onafhanklike rolspelers uitgegee.

Die jaaroorsigreeks SA Literature/Literatuur van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se eertydse Sentrum vir Letterkundenavorsing (Sensal) karteer die stand van sake rondom die publikasie van spesifiek Afrikaanse letterkundeverwante boeke in die eerste helfte van die tagtigerjare. Die oorsigreeks doen verslag oor 85 van hierdie soort titels wat gedurende die tydperk 1980 tot 1985 verskyn het: 20 in 1980; 14 in 1981; 12 in 1982; 9 in 1983; 16 in 1984; 14 in 1985.

Hierdie produksie van 85 letterkundeverwante titels oor ses jaar verteenwoordig verskillende soorte tekste, insluitende handleidings en handboeke vir die bestudering van die letterkunde (18); literatuur- en kultuurverwante geskiedskrywing; bronnegidse/bibliografieë (’n tekssoort wat na hierdie dekade nie weer gepubliseer word nie); versamelings van verskillende aard; enkelskrywer-opstelbundels (11 titels); meerdere-skrywers-opstelbundels of huldigingsbundels (14) asook proefskrifte wat as monografieë uitgegee is (6).

Dit was ’n verskeidenheid soorte uitgewerye/drukname wat verantwoordelik was vir hierdie produksie, insluitende dié verbonde aan mediamaatskappye of ander groepe; uitgewerye/drukkerye verbonde aan navorsings- of tersiêre instansies; klein en groter onafhanklike uitgewerye asook alternatiewe onafhanklike uitgewerye. In volgorde van aantal titels uitgegee was die produksiebydrae van hierdie produsente soos volg: Perskor (23 titels); Tafelberg (15); H&R (9); H&R-Academica (7); die Departement van Sentrale Publikasies van die PU vir CHO (5); die RGN (4); Taurus, Butterworth en HAUM-Literêr (3 elk); JL van Schaik, Kampen, Saayman & Weber (2 elk); en 7 rolspelers wat een titel elk geproduseer het (Nasou, Skryfhuiskollege, Africana Pers, CUM, Juventus, Wits University Press en die UWK-drukkery).

Vanaf die laat 1980’s verander – en verskraal – die produsentelandskap van Afrikaanse letterkundeverwante akademiese boeke.

Die oudste uitgewery in die land, Juta, loods wel in 1988 die druknaam Jutalit en ’n klein letterkunde-verwante vakkundige publikasielys (oorheers deur een skrywer) word oor vyf jaar opgebou totdat die inisiatief in 1992 doodloop. Die moedermaatskappy sou voortaan toegespits bly op sy kernbesigheid, naamlik die uitgee van oorheersend Engelse professionele materiaal.

HAUM se druknaam HAUM-Literêr bou vanaf 1984 tot 1994 ’n vernuwende letterkundeverwante akademiese lys op wat onder andere handboeke, standaardnaslaanwerke, uitgawes van Sensal se jaaroorsigreeks asook gepubliseerde proefskrifte/monografieë insluit. Hierdie druknaam was veral in die 1980’s, met die stryd tussen die mediahuise van die noorde en suide nog aan die woed, ’n gedugte teenstander vir Naspers se suidelike algemene uitgewerye. In 1994 word die eeu oue HAUM (spesifiek vir sy groot aandeel in die opvoedkundige mark) gekoop deur die swart bemagtigingsgroep Kagiso Trust en ’n konsortium aandeelhouers; hierna staan dit as Kagiso Publishers bekend.

Die transformasie van die onderwysstelsel in 1996/1997 het ’n ingrypende impak op opvoedkundige uitgewerye – en uitkringend op die akademiese subsektor – gehad. Perskor, wat self ’n samesmelting tussen die eertydse Voortrekkerpers en die Afrikaanse Pers Bpk was, en deur Educum sy grootste produksieaandeel in die opvoedkundige mark gehad het, word in 1997 gedwing om met Kagiso Publishers saam te smelt. In 1998 verkry die Caxton-groep die maatskappy Kagiso/Perskor en daardeur word die twee eertydse Afrikaner-beheerde maatskappye deur die groot multinasionale opvoedkundige uitgewery Maskew Miller Longman (MML) oorgeneem. In 2001 word MML se eenheid Hoër Onderwys/Algemeen/Professioneel ’n aparte maatskappy, naamlik Pearson Education SA. Op hierdie wyse verdwyn groot maatskappye wat ook betrokke was by die uitgee van Afrikaanse handboeke en vakkundige boeke. (Sien Venter 2006:338 ev.)

In 1986 aanvaar die familiebesigheid JL van Schaik ’n aanbod van Naspers om die boekhandel-afdeling en die uitgewery as filiaal oor te neem en so word JL van Schaik (Edms) Bpk en Van Schaik-Boekhandel (Edms) Bpk by Naspers ingelyf. In 1989 word die fondslys van H&R-Academica, behalwe die letterkundeverwante titels wat na H&R gaan, deel van JL van Schaik. Vanaf 1998 is Van Schaik die uitsluitlike akademiese uitgewery van hierdie mediamaatskappy. Tot laat in die vorige eeu het die firma, ten spyte van die afname in Afrikaanse voorskryfgetalle aan tersiêre instansies, nog “tweeling-publikasies” van handboeke vir verskillende vakke uitgegee. Dit was ’n strategie van kruissubsidiëring wat daarop neerkom dat die groter drukoplaag van die Engelse uitgawe van ’n titel die kleiner Afrikaanse oplaag finansieel ondersteun.

Die era van transformasie en inkrimping

Klik hier om Logos
aanlyn te lees.

Sedert die aanbreek van die nuwe politieke bedeling in die middel van die 1990’s moes die Afrikaanse boekbedryf transformeer vanaf funksionering in ’n konteks van kolonialisme en apartheid tot funksionering in ’n ontplooiende postapartheid demokrasie. Een manifestasie van hierdie proses is die toenemende inkrimping van die mark vir Afrikaanse handboeke en vakkundige boeke soos wat die landskap vir hoër onderwys transformeer en die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal ingekort word. (Galloway 2002 en 2009 verskaf oorsigte van die impak van transformasie op die uitgewersbedryf.)

Die impak op die produksie van Afrikaanse akademiese boeke in die 2000’s word weerspieël in data bevat in oorkoepelende bedryfsoorsigte wat deur die Publishers’ Association of South Africa (PASA) geloods is. Hierdie oorsigte, wat bekend staan as die Annual Book Industry Survey,verskaf onder andere oorkoepelende produksie-inligting ten opsigte van die drie subsektore van die plaaslike boekuitgewersbedryf. Die produksie-inligting oor boeke vir die akademiese subsektor (spesifiek handboeke en vakkundige boeke) sluit boeke vir alle vakgebiede in en dit is nie moontlik om enige afleiding oor Afrikaanse letterkundeverwante produksie te maak nie. Omdat die oorsigte gekonsolideerde data verskaf, is dit ook nie moontlik om produksie aan spesifieke uitgewerye/drukname te koppel nie. Afleidings oor die algemene stand van Afrikaanse akademiese boeke kan wel gemaak word.

Die 2006-oorsig is die eerste waarin verslag gedoen word oor hoeveel van die nuwe/hersiene uitgawes van akademiese boeke in ’n bepaalde taal uitgegee is. In hierdie jaar publiseer die uitgewerye wat aan die opname deelneem, 211 tersiêre handboeke (31 daarvan in Afrikaans) en 41 vakkundige boeke, almal in Engels. Die 31 Afrikaanse uit 252 titels maak 12,3% van die totale produksie van handboeke en vakkundige boeke uit.

Volgens die 2007-oorsig was daar oor die algemeen ’n skerp daling in produksie, met 135 nuwe/hersiene tersiêre handboeke (4 daarvan in Afrikaans) en 19 vakkundige boeke, almal in Engels. Die 4 Afrikaanses uit 154 titels is 2,6% van die totale produksie.

In 2008 is daar weer groei in die produksie van boeke van hierdie aard. Daar verskyn 188 nuwe/hersiene handboeke (14 daarvan in Afrikaans) en 63 navorsingsgebaseerde boeke in Engels. Die 16 Afrikaanses uit 251 titels verteenwoordig 6,4% van die totale produksie van titels van hierdie aard.

Die 2009-oorsig dui weer eens ’n algemene daling in die produksie van nuwe/hersiene uitgawes van akademiese boeke aan, maar gee nie rekenskap van die taalverspreiding nie. In 2010 is 7 van die 144 nuwe/hersiene handboeke in Afrikaans, terwyl daar weer eens geen Afrikaanse titel onder die 30 vakkundige boeke is nie. Die 7 Afrikaanse titels uit 174 kom neer op 4% van die totale produksie.

Volgens hierdie bedryfsbron het die produksie van Afrikaanse handboeke (in getal en aandeel aan totale produksie) sedert 2006 vanaf ’n reeds klein basis toenemend afgeneem. In die produkkategorie vakkundige boeke lyk dit of die fonteintjie opgedroog het.

Die huidige produsentelandskap

Wat is die huidige stand van sake met betrekking tot die produsente (uitgewerye en drukname) van Afrikaanse letterkundeverwante akademiese boeke?

Die sogenaamde scholarly presses,wat meestal vakkundige boeke vir die akademiese (en algemene) mark publiseer, is die Engelse universiteitsuitgewerye University of Cape Town Press (’n druknaam van Juta), University of KwaZulu-Natal Press, Unisa Press, Witwatersrand University Press en die HSRC Press. Dit is slegs by uitsondering dat ’n Afrikaanse titel by een van hierdie uitgewerye verskyn. Die plaaslike takke van die internasionale scholarly firmas Oxford University Press en Cambridge University Press het afdelings vir die uitgee van plaaslike tersiêre handboeke in Engels.

Juta (tans ’n volfiliaal van Kagiso Media) gee professionele boeke uit, asook tersiêre handboeke wat voorgeskryf word vir onder andere rekenwese, gesondheid, kommunikasiekunde en opvoedkunde. Daar verskyn wel nog ’n paar heruitgawes van Afrikaanse handboeke op die katalogus en in 2013 is ’n bundel regsopstelle ook in Afrikaans uitgegee.

Volgens die katalogus op Van Schaik se webwerf is die beskikbare Afrikaanse titels in hooffokusgebiede soos handel, menslike en sosiale wetenskappe, opvoedkunde, gesondheidswetenskappe, publieke en ontwikkelingsbestuur en navorsing almal heruitgawes of herdrukke van handboeke wat jare gelede vir die eerste keer uitgegee is. Die 18 Afrikaanse titels onder die subkategorie tale in die kategorie menslike en sosiale wetenskappe is heruitgawes/herdrukke van boeke wat in die 1990’s verskyn het, dikwels met ondersteuning van die LW Hiemstra-trust. Hierdie titels sluit standaardwerke (ook letterkundeverwant) in wat waarskynlik nog in krimpende Afrikaans-departemente voorgeskryf of aanbeveel word. Slegs twee nuwe letterkundeverwante vakkundige Afrikaanse titels het sedert 2008 onder die subkategorie tale verskyn: ’n enkelskrywer-opstelbundel en ’n geleentheidspublikasie.

Daar bestaan nie meer ’n hoofstroom-uitgewery wat aan letterkundeverwante asook ander Afrikaanse akademiese boeke toegewy is nie. Daar is wel enkele kleiner rolspelers wat hierdie niewinsgewende/gesubsidieerde nismark in ag neem en soms Afrikaanse handboeke en/of vakkundige boeke publiseer.

Die onafhanklike uitgewery Protea Boekhuis se algemene niefiksie-fondslys wat sedert 1997 opgebou is, getuig van ’n besonderse gewaagdheid ten opsigte van die heruitgee van klassieke Afrikaanse geskiedkundige (en ook andersoortige) tekste wat uit druk is, asook van nuwe vakkundige nismarktitels in bepaalde fokusgebiede, insluitende ’n paar letterkundeverwante titels.

African SUN MeDIA publiseer akademiese, algemene en kongresverwante inhoud. Akademiese en navorsingsgebaseerde titels verskyn onder die druknaam SUN PReSS. Die firma se sakemodel is hoofsaaklik op digitale druk-op-aanvraag-tegnologie gebaseer wat dit in staat stel om nis- en spesialisnavorsingstitels te publiseer al is die eerste drukoplaag klein. Die firma voer aan dat dit in die bevoorregte posisie is om publikasies op meriete te kies en nie volgens kommersiële potensiaal nie. Die fondslys wat sedert 2003 opgebou is, is oorwegend Engels, maar sluit wel enkele Afrikaanse handboeke en naslaanbronne, asook vakkundige gedenk- en versamelbundels en letterkundige studies, in.

Die mees onlangse PASA-jaaroorsig, Annual Book Industry Survey 2012, verskaf die volgende inligting oor die produksie van tersiêre handboeke en vakkundige boeke vir die akademiese subsektor.

Gedurende 2012 is daar 223 nuwe/hersiene uitgawes deur deelnemende uitgewerye gepubliseer: 183 daarvan is tersiêre handboeke en 40 nuwe ewekniebeoordeelde vakkundige boeke. Slegs 9 van die 183 handboeke en 1 van die 40 vakkundige boeke is in Afrikaans. Die Afrikaanse produksie in die akademiese subsektor beloop dus 4,5% van totale produksie in die twee betrokke produkkategorieë.

Die 2011-verslag het dit reeds duidelik gestel: “Very few [academic] books are published in any language apart from English, due to the demands of the market.” Die 2012-verslag bevind: “Considerable investment was made in new titles across both product categories [academic textbooks and scholarly books].” Hierdie stelling geld nie vir die ontwikkeling van akademiese boeke in Afrikaans nie.

Ten slotte

Uit hierdie oorsig is dit duidelik dat die Afrikaanse letterkundeverwante akademiese en navorsingsgebaseerde vakkundige boek en sy tradisionele publikasiekanale onder toenemende druk verkeer. Voeg hierby die mindere status wat publikasie in boekvorm in die Departement van Hoër Onderwys se akkreditasiestelsel beklee, asook die krimpende en verouderende senior navorsersprofiel, met talle toonaangewende Afrikaanse (letter)kundiges wat in hierdie tyd by verskillende instansies aftree-ouderdom bereik.

Vrae wat met navorsing opgevolg behoort te word, is onder andere: Hoe het die speelveld verander en watter geleenthede is daar vir nuwe rolspelers? Watter nuwe (soorte) kanale, platforms en formate is daar (of behoort daar van stapel gestuur te word) vir die produksie van letterkundeverwante akademiese inhoud in Afrikaans? Watter nuwe besigheidsmodelle kan nuwe lewe in die uitgeelandskap blaas? Wie gaan onder watter aanmoedigende omstandighede inhoud vir lewensvatbare Afrikaanse handboeke en navorsingsgebaseerde vakkundige boeke genereer? Is die tyd van sodanige Afrikaanse boeke besig om verby te gaan?

 

Bronne

Annual Book Industry Surveys. Beskikbaar by: http://www.publishsa.co.za/about-us/industry-statistics.

Beukes, WD (red). 1992. Boekewêreld. Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Galloway, F. 2002. South African book publishing since the end of apartheid. LOGOS, 13(2):90–94. http://booksandjournals.brillonline.com/content/journals/18784712/20/1.

—. 2009. The current state of the South African book publishing industry. LOGOS, 20(1–4):206–16. http://booksandjournals.brillonline.com/content/journals/18784712/20/1.

Human, K. 2006. ’n Lewe met boeke. Kaapstad: Human & Rousseau.

SA Literature/Literatuur 1980. 1982. Literêre jaaroorsig-reeks. Samesteller F Galloway. Johannesburg: AD Donker.

SA Literature/Literatuur 1981. 1983. Literêre jaaroorsig-reeks. Samesteller F Galloway. Johannesburg: AD Donker.

SA Literature/Literatuur 1982. 1985. Literêre jaaroorsig-reeks. Samesteller F Galloway. Johannesburg: AD Donker.

SA Literature/Literatuur 1983. 1987. Literêre jaaroorsig-reeks. Samesteller F Galloway. Pretoria: HAUM-Literêr.

SA Literature/Literatuur 1984. 1989. Literêre jaaroorsig-reeks. Samesteller F Galloway. Pretoria: HAUM-Literêr.

SA Literature/Literatuur 1985. 1993. Literêre jaaroorsig-reeks. Redakteurs F Galloway en DH Steenberg. Literator, Supplement 1.

Steyn, JC. 1992. Human & Rousseau: Die nie-Sestigers. In Beukes (red.) 1992.

Van Schaik, JJ en HG Raubenheimer. 1992. Van Schaik. In Beukes (red.) 1992.

Venter, R [MR]. 2006. Die materiële produksie van Afrikaanse fiksie (1990–2005): ’n Empiriese ondersoek na die produksieprofiel en uitgeweryprofiel binne die uitgeesisteem. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Program Uitgewerswese, Universiteit van Pretoria.
http://upetd.up.ac.za/thesis/submitted/etd-08042008-112007/unrestricted/00front.pdf.

<< Gaan terug na Poolshoogte <<

Uit die LitNet-argief
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
’n Ontleding van Hertzogpryswenners se uitgeweryprofiele in terme van die Afrikaanse literêre netwerk en met behulp van Sosiale-netwerk-analise (SNA)
– Burgert Senekal
2013-10-09
Akademies
Voorwaardes vir die behoud van Afrikaans as wetenskapstaal: 'n taalbeplanningsperspektief
– Vic Webb
2006
Akademies
'n Volhoubare plek vir Afrikaans in hoër onderwys en regeringsteun daarvoor
– Niek Grové
2006
Akademies
Die staat en onderrigtaal aan universiteite
– Christo Viljoen
2006
Akademies
Die posisie van Afrikaans aan die Universiteite vir Tegnologie
– Johan Anker
2006
Akademies
Johan Combrink-gedenklesing: 'n Perspektief op Afrikaans
– Russel Botman
2007
Webseminare
Afrikaans en die US-taaldebat
2011-11-10
Webseminare
Die boek in krisis
– Riana Barnard
2011-01-26

Young Voices Conference 2004
Waarnatoe met die Afrikaanse fiksieboek?
– Rudi Venter
2004-11-25

Briewe deur die lug
Sprekers, steiltes, strukture
– André van der Walt
2000

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Waldemar Gouws

    Baie dankie vir hierdie suikerlose, deeglike beskrywing. Die vraag in die titel is summier beantwoord. Dat dit nou reeds onrusbarend geword het om Afrikaans te wees, is nie 'n grap nie. Iets belangriks is op die koffie.  

  • 'n Baie deeglike ontleding. Ek is jammer ek sien dit nou eers raak. Die bevindings is baie kommerwekkend, maar weerspieël duidelik die aanvraag. Dalk raak dit des te dringender dat departemente Afrikaans en Nederlands (!) onderskraag word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top