Die boek in krisis: 'n Reaksie op ''Die onsigbare voet van marksensuur'' deur Laurens van Krevelen

  • 0
Laurens van Krevelen het op 18 Desember 2010 die jaarlikse Nederlandse PEN-lesing by De Balie in Amsterdam gehou (http://www.debalie.nl). Lees Francis Galloway se Afrikaanse verwerking van die lesing hier. Ons hoop dat die plasing van hierdie lesing ’n gesprek sal stimuleer oor die stand van die (Afrikaanse) boekbedryf. Is daar ook hier by ons tekens van die wêreldwye impak van winsbejag en marksensuur? Is daar ’n afname in die verskeidenheid en geskakeerdheid van die boek-aanbod? Watter teenvoeters vir hierdie tendens is besig om te ontwikkel (of nie)?  

 

Die dilemma

Daar is ’n ander manier om na die huidige dilemma in die boekbedryf te kyk. Gabriel Zaid, kunsskrywer en kritikus, vat dit só saam: “The reading of books is growing arithmetically; the writing of books is growing exponentially. If our passion for writing goes unchecked, in the near future there will be more people writing books than reading them” (2004:9). Hy kontekstualiseer sy standpunt:

Since the invention of the television, the world population has grown 1,8 percent each year (as compared to 0,3 percent annually over the preceding five hundred years) and the publication of books has grown 2,8 percent (as compared to 1,6 percent). […] In the first century of printing (1450-1550), 35 000 titles were published; in the last half-century (1950-2000), there were a thousand times more – 36 million. The human race publishes a book every thirty seconds. […] Books are published at such a rapid rate that they make us exponentially more ignorant. If a person read a book a day, he would be neglecting to read four thousand others, published the same day. In other words, the books he didn’t read would pile up four thousand times faster than the books he did read, and his ignorance would grow four thousand times faster than his knowledge (Zaid 2004:21-2).

Die eintlike vraag is dus: Hoe reageer leidende uitgewers op hierdie verdringing in die mark?

Die huidige situasie in die boekbedryf kan miskien só opgesom word: In ’n poging om markaandeel van mededingers te wen, spandeer uitgewers méér geld aan minder titels. Die fokus verskuif na topskrywers wat groter voorskotte1 kry om hulle lojaliteit by ’n uitgewershuis te verseker, en die ruim(er) bemarkingsbegroting word gespandeer op slegs ’n klein aantal uitverkore titels. Dié groter koste van bemarking het in die afgelope dekades algaande by uitgewers ’n groter behoefte aan kapitaal geskep. Hannes van Zyl, voorheen uitvoerende hoof van NB-Uitgewers, verduidelik: “Dit het goedkoper geword om boeke te maak, maar duurder om die regte boek betyds by die regte leser te kry. Daarby het boekhandelaars in die afgelope drie dekades al meer die risiko ten opsigte van voorraad op uitgewerye afgewentel.”

In Suid-Afrika ding plaaslike uitgewerye regstreeks mee met die groot rolspelers soos Bertelsmann, Holzbrink en Hachette wat hul Engelstalige titels in die land bemark en versprei. Om steeds mededingend te bly (veral met die handelsvoorwaardes wat oorsese rolspelers afdwing), word plaaslike uitgewers genoodsaak om voordeliger kortingstrukture aan boekhandelaars toe te staan. Die mededinging het só straf geword dat die winsgewendheid van plaaslike uitgewers onder druk verkeer. Die krimpende mark, in kombinasie met die ooraanbod van produkte, lei op sy beurt weer tot prysverlagings wat die ekonomiese aantreklikheid van die bedryf verminder. Trouens, die pryse van boeke het oor eeue heen gedaal, vanaf die eerste boeke wat deur Gutenberg gedruk is tot by die massamark-sagtebande van vandag. Hedendaagse digitale reproduksiemiddele en -metodes het tot verdere kosteverlaging bygedra. Daarby het gebruikers al groter bedingingsmag, danksy die globalisering van die bedryf wat geografiese grense ophef en ook ’n mark vir tweedehandse boeke op die internet skep.

Een van die gevolge van die dominansie van groot konglomerate is dat die voortbestaan van kleiner, onafhanklike uitgewers in gedrang kom. Die gaping tussen uitgewerye wat die mark beheer en kleiner uitgewerye wat op nismarkte fokus, raak steeds groter. Schiffrin (2000:142) skets die situasie in die VSA soos volg:

The Bowker data bank of publishing houses lists a mind-boggling fifty-three thousand publishers in the country. But this number must be kept in perspective. Remember: 93 percent of annual sales are controlled by the top twenty firms, another 2 percent by the hundred-plus university presses. All of 5 percent of book sales are left to be fought over by this vast number of publishers. […] The vast majority of the small firms are publishers of how-to books, religious and inspirational books, regional guides, and the like.

Dit lyk dus asof onafhanklike uitgewers se bydrae nietig is, maar al besit hulle ’n baie beperkte markaandeel, het hulle ’n uiters belangrike funksie, en dit is om diversiteit in die boekewêreld te vestig en te behou: “Without their presence, it would be impossible for many beginning authors to find an audience.”

Om die tendense op te som: Onstuimigheid in die uitgewerswêreld word veral gedryf deur (1) ’n krimpende lesersgemeenskap, (2) strawwer mededinging van oorsese rolspelers vir wie geografiese uitbreiding na ontwikkelende lande die enigste manier is om markaandeel te wen en te behou, (3) ’n gevolglike afname in winsgewendheid van die bedryf en (4) klantbehoeftes wat verander, sodat boeke al sterker teen ander vorme van vermaak moet meeding om besteebare rande, terwyl (5) die inherente waarde van boeke in ’n stryd om oorlewing vernietig word deur té lae pryse.

Watter soort produk is ’n boek?

Boeke vorm – saam met musiek en rolprente – ’n unieke kategorie produkte. ’n Strategiese gesprek in die boekbedryf sou ingelei kon word deur dié oorbekende vraag: “What kind of business are we really in?” “Die media-bedryf” is die voor die hand liggende antwoord. Want meestal word boeke, koerante, tydskrifte, films, musiek, radio, TV en die internet saamgegroepeer. Die middelpuntsoekende krag is inhoud wat op verskillende wyses verpak word. ’n Mediamaatskappy sal dus sy bedrywighede kan saamvat deur te sê: ons verpak en verkoop inhoud. En tog is ’n samevoeging van hierdie produkte binne een maatskappy nie altyd suksesvol of winsgewend nie. Waarom nie? Die antwoord lê straks in die soort produk wat ’n boek is.

Zaid (2004:66) beklemtoon ’n belangrike ekonomiese verskil tussen die boek as medium en die res van die media:

It is the business of the press, radio, and television to gather an audience that can be sold to a third party. In the case of the book, there are no third parties: all costs are paid by the consumer. Where commercial broadcast radio and television are concerned, the opposite is true: the audience pays for nothing except the purchase of the equipment. Newspapers and magazines are paid for partly by third parties and partly by the consumer.

Boeke is dus (relatief) goedkoop in verhouding tot ander media, wat beteken dat geen derde party – adverteerders – betrokke hoef te wees nie. Bykans elke individu kan ’n boek besit. Ook die kapitaalbesteding is minimaal wanneer die oprigting van ’n uitgewery byvoorbeeld vergelyk word met die begroting vir ’n Hollywood-film. Die wesenlike verskil is dat alhoewel boeke soms as massaproduk funksioneer, dit nie ’n ware refleksie is van die inherente aard van die boek nie. Inteendeel, die meeste boeke word nie vir ’n groot homogene groep lesers geskep nie, maar is gerig op die belangstelling en behoeftes van ’n beperkte lesersgehoor. Daarom bestaan ’n aantal onafhanklike uitgewers wat boeke in ’n klein oplaag druk vir ’n nismark. Boeke – as medium – leen hul by uitstek tot diversiteit. Jason Epstein, gerekende uitgewer, sê: “Trade book publishing is by nature a cottage industry, decentralized, improvisational, personal; best performed by small groups of like-minded people, devoted to their craft, jealous of their autonomy, sensitive to the needs of writers and to the diverse interest of readers” (2001:3). En juis hiér lê die knoop: marktendense lei tot die vestiging van groot konglomerate, maar die aard van die boekbedryf roep om diversiteit.

Die boek as unieke produk

Die vraag is nou: Hoe verkoop ’n uitgewer individuele titels in ’n klimaat wat wentel om die behoefte en smaak van die massamark?

Elke nuwe boek moet – soos ’n film of musiekopname – met groot entoesiasme bemark word. Goeie verspreidingskanale is nodig – net soos vir televisie, koerante of tydskrifte – anders verdwyn ’n goeie titel dalk sonder dat dit die potensiële groep lesers behoorlik bereik. Maar al het die uitgewer goeie toegang tot boekwinkels, boekklubs en internetverkope, met uitstekende reklame, publisiteit en verspreiding daarby ingereken, is skaflike, individuele titels steeds nodig om sukses te behaal.

Alhoewel die boek as generiese produk dus gedra word deur die gehalte van die uitgewer se verspreiding en bemarking, moet elke individuele titel ook as ’n nuwe produk aangebied word – selfs al is die skrywer ’n gevestigde naam met ’n lojale groep lesers. Of, om dit meer beeldryk te stel: “To write, publish or distribute a book is like putting a message in a bottle and tossing it into the sea: its destination is uncertain” (Zaid 2004:100). Die praktiese implikasies is enorm:

There are “infinite” books in the world, and “infinite” people. Who will match these two infinites to yield the short list of encounters ordained by the content of a text and a reader’s personal history? […] In most cases, a book’s natural audience is limited to the hundreds or thousands of people to whom it has something to say. They are so few that a list of them might be practical. But no one knows how to find the names, print the correct number of copies of the book, distribute those copies around the planet, and alert the readers. This book was written for you: here it is, now read it. (Zaid 2004:111)

Die boek is dus – soos ’n koerant, tydskrif of televisiekanaal – afhanklik van ’n goeie verspreidingstruktuur, maar staan ook alleen soos geen enkele TV-program, tydskrifartikel of koerantberig alleen hoef te staan nie. En toenemend word boeke soos tydskrifte hanteer, wat beteken dat die rakleeftyd verkort en die venster van blootstelling aan potensiële lesers verklein. Dit het vir die boekhandelaar net té duur geword om boeke in voorraad te hou waarvan die draaisnelheid op die rak te laag is. Die dilemma is duidelik: “The main obstacle to the circulation of books is not price, but the different interests of the author and the reader, the properties of the text, and the difficulties of reading and writing” (Zaid 2004:66). Want wat sou die waarde van ’n boek wees indien niemand daarvan weet of dit koop nie? Die beste boeke word nutteloos wanneer dit in die verkeerde boekwinkel, biblioteek of katalogus buite bereik van die teikengroep geplaas word. Indien ’n boek nie vir ’n leser onmiddellik op aanvraag beskikbaar is nie, het dit sy waarde verloor.

Wat is die werklike koste vir die leser?

In ’n vorige argument is die aard van die boek as ’n baie spesifieke soort produk beklemtoon, een wat vra om ’n gediversifiseerde bedryf. Tegnologiese ontwikkeling het hierdie eienskap versterk deur die metodes van reproduksie en verpakking te vermenigvuldig. Inhoud is in ’n oorweldigende verskeidenheid van media en platforms beskikbaar. Met elke nuwe ontwikkeling – die internet, die e-boek – is die einde van die boek aangekondig. En tog word daar steeds meer boeke gepubliseer wat ’n groter spektrum van temas oorspan: “If not a single book were published from this moment on, it would still take 250 000 years for us to acquaint ourselves with those books already written. Simply reading a list of them (author and title) would take some fifteen years” (Zaid 2004:30).

Die implikasie hiervan is dat die prys van die boek nie die werklike koste vir die leser is nie, maar die tyd wat hy daaraan bestee. “Time is by far the most expensive aspect of reading, excepting time spent in certain circumstances: in transit, ill health, prison, or retirement. In a wealthy economy, time is worth more than things, and it is easier to buy things than to find the time to enjoy them” (Zaid 2004:88).

Wat beteken dit vir die uitgewersbedryf? Die eis wat implisiet aan skrywers en uitgewers gestel word, is om groter respek teenoor hulle lesers te toon. Hierdie koste-aspek kan beter bestuur word indien manuskripte van mindere gehalte beter versorg word, of glad nie gepubliseer word nie. Daar skuil ’n groot gevaar in uitgewers se wedloop na vinnige verkopers wat gou wins oplewer. Nie net word gehalte makliker ingeboet nie, maar daar is geen formule vir die skep van blitsverkopers nie.

Die boek: kulturele artefak of kommersiële produk?

Daar bestaan dus ’n wesenlike spanning tussen die twee uiteenlopende eienskappe van die boek, die spanning tussen diversiteit en konsentrasie. Enersyds is die boek – as kulturele medium – gerig op diversiteit. Hedendaagse omstandighede bevorder hierdie kiem van diversiteit wat reeds in die aard van die boek opgesluit lê:

The diversity of subject matter is multiplied by the growth of knowledge, the proliferation of specialities, greater contact among countries and cultures, and social creativity on all levels. In a rich and educated society, the strangest of hobbies is able to interest a few thousand readers, which makes it worthwhile to publish a book on the subject. This increases the number of titles published per capita. (Zaid 2004:143)

Maar die boek is ook kommersiële objek waarin konsentrasie sentraal staan. Daarom word boeke toenemend as massaproduk ingespan vanweë die groot ekonomiese voordeel wat dit inhou:

The literary agents and the conglomerates of the last two decades created a market focused on bestsellers, which plucked financial stars from the constellations where they made sense and set them in another kind of “constellation” – the star system. At the same time, the financial horizon, the life-cycle of books, and the employment cycles of publishers in the service of conglomerates were shortened. Independent publishers, who weren’t well-paid executives in constant rotation but owners content to earn little because they enjoyed their freedom and were able to think in terms of decades, lost their major source of funding for the long-term development of new authors to executives who thought in quarterly terms and had to engineer spectacular coups for the larger public, the mass media, and the banks. (Zaid 2004:139)

Boeke vorm dus die grondslag van ’n kulturele gesprek wat diversiteit in vele opsigte bevorder en ondersteun. Maar as kommersiële produk is boeke ook deel van ’n ekonomiese wêreld waarin konsentrasie voorrang geniet. Dit kom neer op ’n oeroue spanning in uitgewershuise, naamlik dié tussen winsgewendheid en verantwoordelikheid.  Hoe hanteer Suid-Afrikaanse uitgewers dié konflik tussen winsgewendheid en hulle groter verantwoordelikheid teenoor die samelewing?

Die telkaart

Die eerste vraag sou wees of Suid-Afrikaanse uitgewers ’n hoë premie op gehalte plaas en meer as net winsbejag op die agenda het?

As antwoord hierop kan enkele voorbeelde genoem word van topverkopers wat ook toonaangewende literêre pryse wen, plaaslik sowel as in die buiteland. Hierdie titels vaar uitstekend op die internasionale markplein. Hiermee word geïmpliseer dat kommersiële sukses nie noodwendig gehalte uitsluit of hoef uit te sluit nie. 

Die treffendste voorbeeld is waarskynlik Marlene van Niekerk se Agaat, wat met talle literêre pryse bekroon is. Die verkope was uit die staanspoor verbysterend, hier sowel as in die buiteland. Die Nederlandse uitgawe het van die rakke gevlieg met verkope van meer as 50 000 eksemplare, waarna dié titel ook die markte in Italië, Frankryk en Swede tref / sal tref. Maar miskien is die grootste waarmerk van gehalte dié opmerking van Toni Morisson: “I was immediately mesmerized ... Its beauty matches its depth and her achievement is as brilliant as it is haunting.” Onnodig om by te voeg dat die Britse en Amerikaanse uitgawes ’n oorweldigende sukses was: die Britse uitgawe haal die kortlys van ses vir die Independent Foreign Fiction Prize in 2008 en Agaat pryk op die voorblad van die New York Times Book Review van 23 Mei 2010.

Deon Meyer se jongste roman, Spoor, se sukses in die mark is eweneens verstommend. Maar dit gaan hier om veel meer as kommersiële sukses. Deon Meyer se romans het al in twaalf tale verskyn. In Frankryk het hy twee groot pryse ingepalm vir die Franse uitgawes van sy spanningsromans: vir Feniks Le Grand Prix de Littérature Policiére in 2003, en vir Orion die Prix Mystère de la Critique in 2004. Proteus verskyn op die langlys vir die IMPAC literêre toekenning en die Duitse vertaling het in 2006 die Deutsche Krimi Preis in die internasionale kategorie ontvang. In 2004 is die Engelse vertaling van Proteus, The Heart of the Hunter, deur die Chicago Tribune aangewys as een van die tien beste spanningsromans in Amerika. Die Sweedse uitgawe van Orion (Död i gryningen) was in 2008 op die kortlys van die Martin Beck-toekenning vir vertaalde misdaadfiksie.

Karin Brynard se debuutroman Plaasmoord is ’n ander voorbeeld wat toon dat gehalte en kommersiële sukses mekaar nie hoef uit te sluit nie. Hierdie roman was meteens ’n blitsverkoper, maar verower ook twee belangrike literêre pryse. Een van die beoordelaars (uit ’n paneel van nege lesers vir die UJ-prys) sê: “Brynard se roman verdien lof vir die wyse waarop ’n hoogs kontensieuse en eietydse Suid-Afrikaanse verskynsel op die kop gedraai word.”

Die tweede vraag is of uitgewers genoeg doen om diversiteit in die boekbedryf aan te moedig en te bevorder. Word daar genoeg aandag geskenk aan die soeke na nuwe talent en die aandurf van tersaaklike temas wat oor ’n breë spektrum strek?

Daar is tans meer skrywerskompetisies as ooit vantevore, met aanloklike prysgeld. Verskeie instansies skep unieke platforms vir die ontwikkeling van skrywerstalent, onder meer:

  • Die Jan Rabie en Marjorie Wallace-beurs van R350 000 vir ’n Afrikaanse skrywer. Steward van Wyk, professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sê oor die nuwe beurs: “Die Jan Rabie en Marjorie Wallace-beurs is ’n reusehupstoot vir die Afrikaanse skryfkuns in besonder en die Suid-Afrikaanse kulturele lewe in die algemeen. Die monetêre waarde van die toekenning maak dit die grootste enkele beurs en/of prys in Suid-Afrika en dit alreeds behels dat die beurs voortaan ’n baken op die kunste-kalender sal wees; ontwikkelinge sal herlei kan word tot die beurs en ons sal kan aandui watter grensverlegging en verruiming die eindproduk tot gevolg gehad het.
  • SkryfNet, die aanlyn-skryfskool by LitNet, ontwikkel talent van prosa- en poësieskrywers wat nog nie ’n eie debuut gemaak het nie. Die kursus duur ongeveer drie maande en die skrywersleiding word deur bekende figure in die Afrikaanse literêre bedryf behartig. 
  • Die Nuwe stemme-reeks, ’n opwindende projek waarmee Tafelberg-Uitgewers vierjaarliks publikasiegeleenthede skep vir jong digters wat nog nie genoeg gedigte vir ’n eie, selfstandige debuut het nie.
  • By NB-Uitgewers is daar twee kompetisies: die Sanlam-prys vir jeuglektuur, met pryse in ses kategorieë (Afrikaans, Engels, Nguni-tale, Sotho-tale, Tshivenda en Xitsonga), en die romanwedstryd, waar prysgeld van altesaam R458 000 op die spel is.
  • Verskeie universiteite (waaronder UP, US en UK) bied nagraadse kursusse in kreatiewe skryfwerk aan wat verdere gehalte toevoeg tot manuskripte wat aan uitgewers voorgelê word. Beide debutante sowel as ervare skrywers het al hierby gebaat.
  • Daar is meer literêre pryse beskikbaar (met groter bedrae betrokke) as ooit vantevore, onder meer die Via Afrika-, M-Net-, Commonwealth-, Suid-Afrikaanse Akademie-, Universiteit van Johannesburg-, SALA-, IBBY-, SATI-  en Ingrid Jonker-pryse.
  • Selfpublikasie neem toe; tegnologiese ontwikkeling plaas die kostebegroting van ’n beperkte oplaag binne die bereik van die individu wat eie werk wil uitgee. En die geleenthede word steeds meer, veral met platforms soos Crink wat aan nuwelinge kundige raad en ondersteuning bied.

 

Slotopmerking

In sy artikel oor aanpassings in die uitgewersbedryf bevestig Hannes van Zyl (2007:98) dat Naspers se uitgewerye in hul uitgeebesluite dikwels gelei is “deur ’n besef [...] dat hulle die verantwoordelikheid het om die Afrikaanse letterkunde in stand te hou”. Daarby bevestig hy dat Koos Bekker en die direksie van Naspers die teikens vir die algemene uitgewerye in moeilike tye “met spesiale toegewings bewillig het”. En dit is binne hierdie sterk literêre tradisie dat uitgewers hulle kulturele taak binne samelewingsverband wil en sal nakom. “Culture is conversation. Writing, reading, editing, printing, distributing, cataloguing, reviewing, can be fuel for that conversation, ways of keeping it lively” (Zaid 2004:40). Maar nié sonder om die uitdaging van winsgewendheid en die strewe na volhoubare groei uit die oog te verloor nie.

 

Bronne
Epstein, J. 2001. Book Business: Publishing Past Present and Future. WW Norton.
Schiffrin, A. 2000. The Business of Books: How International Conglomerates Took Over Publishing and Changed the Way We Read. Londen: Verso.
Van Zyl, H. 2001. NB-Uitgewers: Waarom herskik, waarheen vorentoe? Ongepubliseerde PJ Nienaber-gedenklesing gelewer te NALN, Bloemfontein.
Van Zyl, H. 2007. Aanpassing in die uitgewersbedryf: Die geval van NB-Uitgewers rondom die millenniumwending. In Werkwinkel, 2(1):87-100.
Zaid, G. 2004. So Many Books. Londen: Sort of Books.

1 As voorbeeld: “HarperCollins announced that it had written off $270 million worth of unearned advances” (Schiffrin 2000:114).


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top