Praatjie oor Vlam in die sneeu: U3A Hermanus, 21 Augustus 2017

  • 1

Inleidend

Ek gaan vandag aan die hand van my eie betrokkenheid daarby gesels oor die boek Vlam in die sneeu wat bestaan uit die liefdesbriewe wat André P Brink en Ingrid Jonker aan mekaar geskryf het oor ’n periode van twee jaar, van April 1963 tot April 1965.

Kom ons plaas onsself terug na die vroeë 1960’s. Waar was ons (ek en jy) in 1963, 1964, 1965? Wat was ons persoonlike lewenskonteks, ons bewussyn en kennis van die Afrikaanse letterkunde, van die plaaslike en internasionale kultuurwêreld op daardie stadium? Ek lees graag die rubriek “Vandag 50 jaar gelede in Die Burger” op die koerant se brieweblad en skud dikwels my kop in ongeloof of verleentheid vir dit wat in die sestigerjare ons lewe en denke gerig het. So is daar op 22 Julie vanjaar die volgende uittreksel uit ’n berig wat op 22 Julie 1967 in Die Burger verskyn het:

Tendense in die letterkunde: ’n Pestilensie bekruip die Afrikaner in die donker en iets moet gebeur om die volk wakker te skud, het Dr. P.C. Schoonees gister op Stellenbosch gesê. Dr Schoonees het by die A.S.B. se leierskursus gepraat oor die skadelike tendense in die letterkunde. Hy het die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns aangeval, o.m. oor sy bekroning van Sewe dae by die Silbersteins van Etienne Leroux. 

Konteks / agtergrond

Die dekade van sestig staan in die teken van die vernuwing van die Afrikaanse literatuur (veral van die prosa). Die eerste fase van die Sestiger-beweging was dié van “debuut en eksperiment” en strek vanaf die publikasie van Jan Rabie se Een-en-twintig (in 1956) tot die publikasie van die versamelbundel Windroos in 1964 – met bydraes deur Hennie Aucamp, Chris Barnard, André P Brink, Abraham H de Vries, Ingrid Jonker, Etienne Leroux, Jan Rabie, Adam Small, Dolf van Niekerk en Pieter Venter. Die tweede fase van die beweging, van 1965 tot die einde van die dekade, was een van “ryping en konsolidering” waarin die debuteerders hulle reputasies gevestig het. Die vernuwing het plaasgevind binne die klimaat van vrees en agterdog wat deur die 1963-sensuurwet geskep is en wat uitgewerye versigtig gemaak het vir moontlike “onwenslike” manuskripte.

André Brink en Ingrid Jonker het mekaar op Donderdag 18 April 1963 ontmoet in Cheviot Place, Groenpunt – die kunstenaarshuis van die skilders Erik Laubscher en sy vrou Claude Bouscharain wat hulle gedeel het met die skrywer Jan Rabie en sy vrou, die skilder Marjorie Wallace. Die geleentheid was ’n byeenkoms waartydens ’n groep skrywers en kunstenaars protes teen die voorgestelde nuwe sensuurwet (aangevoor deur die politikus en skrywer Abraham H Jonker) beplan het.

Brink was 28 jaar oud, afkomstig uit ’n tradisionele Afrikanergesin, opgegroei op die platteland en opgelei aan die PUCHO, ’n dosent in die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Rhodes in Grahamstad, getroud met sy universiteitsmeisie Estelle en die pa van ’n sewe maande oue seuntjie, en ’n gepubliseerde skrywer (sy eksperimentele roman Lobola vir die lewe is in 1962 uitgegee). Jonker was 29½ jaar oud, afkomstig uit ’n gebroke en disfunksionele gesin, die dogter van Abraham Jonker, geskei van die ouer skrywer Pieter Venter, ma van ’n vyfjarige dogtertjie, werkend as proefleser by Citadel-pers in Kaapstad (wat sy die “Grys Gat” noem), betrokke in ’n onstabiele (en ook traumatiese) verhouding (insluitende ’n agterstraat-aborsie) met die Engelse skrywer Jack Cope – en ook soms in ander verhoudings (op hierdie stadium met die kunstenaar Nico Hagen) – en ’n gepubliseerde digter (haar debuutdigbundel Ontvlugting is in 1956 gepubliseer). Brink skryf jare later in sy memoir ’n Vurk in die pad soos volg oor hierdie ontmoeting:

Dit was in die laatmiddag van ’n blou-en-goue laatsomersdag [...] dat Ingrid in my netjies geordende lewe ingestap en alles onderstebo gekeer het. Tot op daardie oomblik was ek ingeboks in my gereëlde en uiteindelike voorspelbare bestaan as eggenoot-en-vader, dosent in die letterkunde, met nog hoofsaaklik onverwesentlike drome oor ’n toekoms as skrywer [...] alte pynlik bewus van die eise en bedreigings van burgerlike gemaklikheid, ’n bestaan as ’n klein vissie in ’n klein dammetjie. En daarna —? ’n Wêreld waarin niks ooit weer seker en veilig sou wees nie en waar álles, vanaf die mees private tot die mees openbare, van liefde tot politiek, blootgestel sou word aan onsekerheid en gevaar.

Ons was bymekaar in die skemerige, stowwerige voorkamer van die ou kasarm van ’n huis in Cheviot Place [...].

En toe het sy daar ingestap, klein en stil, maar so gespanne soos ’n opgewende veer, haar donkerblonde krulle deurmekaar, haar bruin oë sku maar smeulend. [...] Sy het ’n los wit manshemp aangehad, ’n paar nommers te groot vir haar; en ’n nousluitende groen langbroek, ’n paar nommers te knap. Sy het ’n sigaret tussen twee vingers gehad. Haar kaal voete was klein en smal en pragtig.

[...]

Dit was vir ons albei liefde met die eerste oogopslag [...].

Hy skryf verder oor hoe hierdie klein vrou “die hele koers van [sy] lewe en [sy] skryfwerk sou verander”; “die keuse van vrouekarakters in [sy] boeke en [sy] betrokkenheid by ander mense die volgende veertig jaar” sou beïnvloed; en sy “opvattinge oor verhoudings” sou bepaal.

Van briewe in bruin koeverte in ’n boks tot brieweboek (al ’n “briefroman” genoem)

Oor die jare heen is daar bespiegel oor die korrespondensie tussen Brink en Jonker – bestaan daar werklik briewe? Het die briewe behoue gebly? Sou dit ooit toeganklik wees vir navorsers / die publiek?

12 jaar na Jonker se dood, gedurende 1977, het die sielkundige LM van der Merwe – toe hy navorsing vir sy doktorale proefskrif onderneem het – onderhoude gevoer met mense wat haar geken het. Die inhoud van hierdie gesprekke, wat op kassetbande opgeneem is, is eers in 2006 openbaar gemaak toe transkripsies daarvan in die boek Gesprekke oor Ingrid Jonker deur die uitgewery Hemel & See Boeke gepubliseer is. In die hoofstuk wat handel oor sy gesprek met Brink in Grahamstad vertel Van der Merwe:

Brink het op ’n leertjie geklim om ’n boks van ’n boonste boekrak af te haal. “Dis eintlik om ’n hele lewe saam te vat in ’n gesprek,” het hy gesê. “Ek sit met ’n skat van geskrewe materiaal in die vorm van briewe en die dagboeke wat ek self daagliks gehou het in daardie paar jaar. Maar uit die aard van die saak is ’n mens só betrokke daarby dat ek nogal vasklou daaraan. Ek gaan net so vlugtig deurblaai, en as ek op dinge afkom ...”

En toe lees Brink hier en daar uittreksels uit Jonker se briewe aan Van der Merwe voor. Hy rep egter geen woord daaroor dat daardie boks ook sy eie briewe aan Jonker bevat nie.

In 2014 het Brink (onder aanmoediging van sy vrou Karina – die vyfde mev Brink) besluit om die briefwisseling tussen hom en Jonker te publiseer. Dit is vir byna 50 jaar in bruin koeverte in ’n boks in sy studeerkamer bewaar: Jonker se oorspronklike getikte of handgeskrewe briewe in hulle blou lugposkoeverte, asook afskrifte (gemaak met “bloutjies” / blou deurslagpapier) van sy eie getikte of handgeskrewe briewe aan haar.

Brink het ’n verkennende gesprek oor die publikasie van die briewe met sy nuwe uitgewers by Penguin Random House SA gevoer. (Hy het kort tevore besluit om van sy dekadelange uitgewery H&R oor te skuif na PRH.) Hy het egter nog nie aandag begin gee aan die projek toe hy onverwags op 6 Februarie 2015 in ’n vliegtuig bo Brazzaville oorlede is nie. Dit sou sy weduwee wees wat sy besluit tot uitvoer sou bring en as bewaker (custodian) van die projek optree.

My betrokkenheid by die projek en die tydlyn van die produksie

Ek is in Maart 2015 tydens die Woordfees op Stellenbosch deur die uitgewer van die brieweboek genader om aanvanklik in raadgewende hoedanigheid by die publikasieprojek betrokke te raak. Fourie Botha was die uitgewer by die druknaam Umuzi van PRH en ’n oudstudent van my in Uitgewerswese aan die UP. Hy het my om die volgende redes as raadgewer vir hierdie potensieel opspraakwekkende boek genader: my ervaring van argivale navorsing en die lees van handgeskrewe dokumente; my navorsingsagtergrond in boekgeskiedenis; my vaardigheid om sowel die groter konteks as besonderhede in ag te neem wanneer dit kom by literatuurgeskiedskrywing; en omdat ek geen gevestigde belang by die publikasie van die briewe het nie – ek is nie ’n Brink- óf ’n Jonker-navorser (of apologeet) nie, maar die Sestiger-era in die algemeen is een van my belangstellings as literatuursosioloog.

Op 7 April 2015 was daar by PRH ’n verkennende gesprek saam met Karina Brink. Dit was my eerste kennismaking met die fisiese briewe en ons het die pad vorentoe beplan: die rangskikking, skandering, transkribering / oortik, redigering en vertaling van die briewe. Van die begin af was die klem op die integriteit van die proses, byvoorbeeld so min moontlike inmenging met die inhoud van die briewe, asook die veiligheid en die bewaring daarvan. Om te kon sien met hoeveel eerbied Karina Brink die oorspronklike briewe van Jonker, op dun blou deurskynende uieskil-papier, hanteer (soos blou vlinders in die intieme gesprekskamer van glas en chroom), was vir my ’n besonderse ervaring. Ek is diep geraak deur die brose materialiteit van die briewe wat deur die jare ’n mitiese bestaan gekry het.

Hierna het Karina die briewe in kronologiese volgorde rangskik (waar dit vasgestel kon word) en dit gefotostateer / inskandeer. Die transkribering daarvan is gedoen deur Erika Viljoen, ’n oudstudent van André Brink en ’n huisvriendin van die Brinks. (Hulle het albei op LitNet vertel van hulle betrokkenheid by die projek.)

Op 4 Junie ontvang ek ’n elektroniese weergawe en ’n uitdruk van die tikskrif met meer as 200 briewe en op 28 Junie verskaf ek my terugvoering as raadgewer. My terugvoering fokus op die uitwys van enkele afwykings in die volgorde van die briewe in die tikskrif; die verwysings in briewe na telegramme wat ook opgeneem moet word indien dit nog bestaan; die volledigheid van die korrespondensie (sekere briewe waarna verwys word, ontbreek); moontlike snitte ter wille van die lengte van die manuskrip (ek beveel aan dat niks gesny of weggelaat moet word nie, want dit sal die narratief versteur en die integriteit van die korrespondensie aantas); die aantoon van opvallende stylkenmerke en voorstelle om leesbaarheid te verhoog; die uitwys van potensieel problematiese teksgedeeltes op grond van etiese oorwegings of moontlike regsimplikasies – hiervoor het ek verskillende tekskleure gebruik om verwysings na gesinslede, familie, vriende, bekendes en ander karakters in die briewe uit te lig. Ek maak ook ’n voorstel vir ’n effense aanpassing in die werkstitel van die boek “Vlammetjie in die sneeu” (soos Jonker vir Brink noem in ’n brief wat sy op 11 April 1964 uit Londen aan hom geskryf het) na Vlam in die sneeu.

My betrokkenheid het toe nie hier tot einde gekom nie, maar inderdaad uitgebrei van raadgewer na redakteur. Nou was ek verantwoordelik vir die “ligte redigering” van die briewe aan die hand van stylriglyne wat ek opgestel het (soos uiteengesit in die redakteursnota aan die einde van die boek) – die briefskrywers se skryfstyl, insluitende die gebruik van kru woorde en seksuele taalgebruik, is gerespekteer; ek het verskeie stelle proewe gelees en die persoonsregister help opstel. Ek sal hier onder terugkeer na bepaalde take wat ek as redakteur uitgevoer het. Intussen het ek ook as skakel opgetree tussen die twee vertalers van die briewe (Karin Schimke wat Jonker se briewe en Leon de Kock wat Brink se briewe vertaal het) en die redigeerder van die Engelse teks (Lynda Gilfillan) wat op drie kontinente (en dus in verskillende tydsones!) gewerk het. Op 27 September stuur ek die finale bladproewe van die Afrikaanse brieweboek aan die uitgewer. Op 12 November is daar ’n ontmoeting by PRH waar die eerste eksemplare van die eerste hardeband standaarduitgawe van Vlam in die sneeu aan Karina Brink en aan my oorhandig is. Die Engelse weergawe van die boek verskyn ’n paar weke later. Daar het ook ’n spesiale verpakking van Vlam en Flame verskyn – in ’n genommerde uitgawe, verpak in ’n boekkoker met alternatiewe omslag, addisionele foto’s en ’n faksimilee van ’n brief van Jonker.

Spesifieke redakteurstake

Vasstel van die tydlyn van die verhouding

Omdat daar “gapings” in die “verhaal” is wat aan die hand van die korrespondensie ontplooi (Brink en Jonker het immers nie briewe aan mekaar geskryf wanneer hulle bymekaar was nie), moes ek die tydlyn van die verhouding rekonstrueer deur die briewe stip te lees en ook ander bronne te raadpleeg – soos ’n Vurk in die pad, Petrovna Metelerkamp se Ingrid Jonker. Beeld van ’n digter en Louise Viljoen se sakbiografie van Jonker. Hierdie tydlyn was noodsaaklik om vas te stel wanneer Brink in die Kaap gaan kuier het (en daar dus nie briewe geskryf is nie), om ongedateerde briewe in die regte volgorde te kon plaas en telegramme op die regte plek in te voeg. In die proses het ek agterkom dat Brink dit bietjie oordryf in ’n Vurk in die pad waar hy dit stel dat hy na hulle eerste ontmoeting “al om die ander naweek Kaap toe” gery het met sy wit Volksie.

Hulle bring die naweek na hulle ontmoeting, 19 en 20 April 1963, saam deur in Jonker se klein woonstel wat sy gedeel het met ’n vriendin in Bantrybaai – ’n idilliese, hartstogtelike én onstuimige samesyn, wat die patroon van hulle verhouding, soos verwoord in hulle briewe, sou word. Gekoppel aan ’n reeks lesings op Stellenbosch, bring Brink ’n Kaapse besoek tussen 19 en 26 Mei. Jonker bly nou tydelik in ’n losieshuis in Groenpunt en hy gaan ook daar tuis. In die briewe na die besoek is daar sprake van ’n ringetjie met granaatsteen wat Brink vir haar gegee het – Jonker verwys daarna as hulle “verlowing” en na die paar dae wat hulle in Franschhoek deurbring as hulle “wittebrood” – asook van hulle bywoning van ’n skrywersparty op WA (Bill) de Klerk se plaas Saffier, waartydens Cope weer toenadering by Jonker soek. Teen vroeg Junie het Brink sy vrou vertel van Jonker. Hy kuier van 9 tot 16 Junie by Jonker wat nou saam met haar dogtertjie in Castella, Wesselstraat, Groenpunt bly. In die briewe na hierdie kuier is daar verwysings na ’n uitstappie na Houtbaai. Op 27 Junie skryf Jonker dat Cope sy aan-en-af verhouding met haar verbreek het. Die volgende besoek van Brink is tussen 10 en 20 Julie – in die briewe daarna is daar sprake van verblyf in Castella, uitstappies na Seepunt en elders; Cope is weer in die prentjie. Die volgende Kaapse kuier vind tussen 27 September en 1 Oktober plaas en in die briewe daarna is daar verwysings na verblyf in Castella en die Cedarwood Hotel (Stellenbosch-omgewing) en uitstappies in die stad. Tussen 8 en 14 November is Brink weer in Kaapstad en oor die naweek van 5 tot 7 November gaan hulle in die Van Riebeeck Hotel op Gordonsbaai tuis. In die briewe ná die kuier is daar ’n verwysing na ’n onstuimige rusie die nag van die 13de. In sy Desember-briewe reik Brink egter weer uit na Jonker en beplan ’n kuier vroeg in die nuwe jaar.

Brink en sy gesin is tussen 15 en 22 Januarie 1964 in Kaapstad en in die briewe daarna word verwys na ’n uitstappie in die Tuine met Brink se seuntjie, ’n naweekverblyf in die Van Riebeeck Hotel op Gordonsbaai en ’n groot uitval wat Jonker beskou as “die verbreking van die verlowing” (en wat ’n ingrypende impak op haar gesondheid het), die vreugde en teleurstellings gekoppel aan Jonker se bekroning met die APB-prys en haar planne vir ’n oorsese reis. Sy vertrek op 27 Maart per boot oorsee. Brink sluit op 20 Junie by haar aan en hulle is vir ’n paar dae saam in Amsterdam, Parys en in Spanje, maar sy keer terug na Parys waar sy gehospitaliseer word en dan op 10 Julie terugvlieg na Suid-Afrika. Na sy terugkeer uit Spanje hervat hulle korrespondensie en van 4 tot 14 Desember gaan kuier Brink in Kaapstad. Jonker woon nou in Bonne Esperance 204, Kusweg, Drieankerbaai. Briewe ná hierdie kuier verwys na ’n naweek in die Van Riebeeck Hotel en ’n spanningsvolle gebeurtenis die laaste aand (waartydens Jonker dreig om selfdood te pleeg).

Vroeg in 1965 skryf Jonker dikwels oor haar gesondheids-, geldelike en werksprobleme. Tussen 20 Januarie en 10 Februarie is Brink in Kaapstad vir reëlings rondom die publikasie van Orgie; Jonker ontmoet op 7 Februarie die skilder / beeldhouer Herman van Nazareth. Op 26 Maart verskyn Orgie en Brink is weer in die Kaap en hulle bring tyd saam deur; ook hy het intussen begin korrespondeer met ’n ander vrou. Die laaste brief van Jonker is gedateer 18 April – sy deel hom onder andere mee dat sy weer nie swanger is nie. Die laaste brief van Brink is gedateer 27 April en daarin deel hy haar mee dat daar ’n ander vrou is met wie hy intiem verkeer het en hy groet haar – “met liefde”.

Drie maande na haar laaste brief aan Brink stap Jonker in die nag van 18 / 19 Julie die see by Drieankerbaai in en hy kry die tyding van haar dood later die dag in Pretoria waar hy op besoek is.

Ontbrekende briewe

Al die briewe wat in die boks in Brink se studeerkamer bewaar is, is in die brieweboek opgeneem. Maar in die proses van die bepaling van die tydlyn van hulle verhouding, die rangskikking en die ontleding van die inhoud van die briewe het dit duidelik geword dat daar wel enkele briewe wat aan mekaar geskryf is, ontbreek.

Daar ontbreek byvoorbeeld briewe wat Brink in 1964 aan Jonker geskryf het terwyl sy oorsee gereis het en waarna sy in haar briewe aan hom verwys. Hy het klaarblyklik nie sy gebruiklike afskrifte met deurslagpapier daarvan gemaak nie – en oor die redes daarvoor kan mens bloot bespiegel. Ek het gewonder of ons dalk hierdie (en die ander oorspronklike briewe van Brink aan Jonker) in haar nagelate dokumente kon opspoor en het dit ondersoek.

Na haar dood het Jonker se suster Anna (Jonker) Bairos eerste toegang tot haar besittings gehad en sy het self later vertel dat sy van Brink se intieme briewe aan Jonker opgeskeur het, omdat hulle “pornografies” en “waardeloos vir navorsing” was. Cope is aangewys as kurator van Jonker se boedel en hy het namens haar dogter kopiereg op Jonker se dokumente gekry en dit georden en aangevul. 12 jaar na haar dood plaas hy die dokumente (insluitende manuskripvariasies van gedigte, dagboeke, knipsels en ’n klompie briewe) in die sorg van die destydse NELM in Grahamstad. In die NELM-inventaris van die dokumente word 19 briewe van Brink, wat hy tussen 23 Maart en 3 Junie 1964 aan haar geskryf het, gelys. 16 daarvan is nie in die Brink-briefversameling wat opgeneem is in Vlam nie. Op die inventaris word daar by hierdie 19 briewe aangedui dat hulle “torn into fragments” of “fragments taped together, fragile” en onder embargo is. In 1989 het Cope toestemming gegee dat die Jonker-versameling aan Bairos gegee word, omdat sy ’n biografie oor haar suster wou skryf. Bairos sterf in 1997 en drie jaar later verkoop haar seun die dokumente vir R50 000 aan die Nederlandse digter / bloemleser Gerrit Komrij. Komrij sterf in 2012. Die Jonker-dokumente is ten tyde van die saamstel van Vlam in die sneeu steeds in sy huis in Portugal en was nie toeganklik vir hierdie publikasieprojek nie. (Of mens wel die opgeskeurde briewe leesbaar kan herstel, is ook nie ’n uitgemaakte saak nie.)

Briewe van Brink waarna Jonker verwys in die periode Oktober 1964 (na sy terugkeer van Spanje) tot 20 Januarie 1965 is nie in die Brink-briefversameling nie (hy het dus nie afskrifte gehou nie) en ook nie gelys in die Jonker-versameling nie (daaroor kan net bespiegel word).

Die laaste vyf briewe van Brink wat in Vlam opgeneem is (Februarie tot April 1965) bevat in die linkerkantse hoek die nota: “Teruggekry van Uys Krige Jan. 1966”. Volgens Brink in ’n Vurk in die pad het Krige na Jonker se dood hierdie briewe “wat Jack gekonfiskeer het, stilletjies uit sy besit gered” en aan Brink terug besorg om te verhoed dat Anna Bairos hulle opskeur of dat hulle “in die verkeerde hande sou beland”. Hierdie vyf briewe is dus nie “bloutjies” nie, maar oorspronklik.

Saamstel van ’n naamlys

Dit was nodig dat ek ’n naamlys opstel om die mense na wie daar in die briewe verwys word – soms net op voornaam, soms met voorletters of soms met ’n bynaam – te identifiseer. Om lesers tegemoet te kom, is personasies se volledige name tussen vierkantige hakies verskaf waar daar vir die eerste paar keer in briewe na hulle verwys word (byvoorbeeld om te onderskei tussen Jonker se vriend Chris Lombard en die Sestigerskrywer en uitgewer Chris Barnard). Hierdie naamlys is ook benut om die vertalers te help en om die persoonregister saam te stel.

Ontrafeling van die netwerk aanhalings / verwysings / toespelings

Daar is vroeg in die redaksieproses besluit dat die briewe nie geannoteer sal word nie (dus van voet- of eindnotas voorsien word nie), maar in die proses van redigering het ek wel die netwerk van direkte aanhalings uit, sydelingse verwysings na of toespelings op ander skrywers se werk geïdentifiseer sodat ooglopende foute reggestel kon word – en ook om die vertalers te help om te onderskei tussen Brink en Jonker se “eie woorde” en dié van ander waarmee hulle gewoeker het.

Die briefwisseling getuig van albei die jong skrywers se belesenheid en van hulle verkenning van die werk van tydgenote én klassieke woordkunstenaars. Twee van die belangrikste bronne waaruit telkens aangehaal word, is NP van Wyk Louw se grootse digbundel Tristia, wat in 1962 verskyn het, en Uys Krige se vertaling van gedigte van die Franse digter Paul Éluard, ook in 1962 gepubliseer as Éluard en die surrealisme (E&S).

Ek verwys slegs oorkoepelend na bepaalde voorbeelde van aanhalings en verwysings:

  • Brink noem Jonker in een van sy eerste briewe “my klein vleeslike vuur” – dit is ’n reël uit ’n gedig van Paul Éluard (E&S, bl 102); ander reëls uit dieselfde gedig kom in ander briewe voor: “hande wat mekaar vasvat het geen gewig nie / tussen oë wat na mekaar kyk loop die lig oor”; “op hierdie verspotte plein is jy nie alleniger nie / as ’n blaar in ’n boom as ’n voël in die wind / of ’n bevryde skat”. Talle ander aanhalings sonder verwysing na skrywer of bron kom uit hierdie gebundelde vertalings van Krige, byvoorbeeld “jy is rein, jy is nog reiner as ekself” (bl 74); “ek bly in my eie blare / ek bly in my eie spieël / ek meng sneeu met vuur / my klippers het my soetheid / en my seisoen is ewig” (bl 152).
  • Van Wyk Louw se gedig “Groet in bruin” uit Tristia is ’n interteks in die briewe en dit wemel van aanhalings uit hierdie bundel, byvoorbeeld: “ons dor papier kom en vra woorde: / [...]” (XXXII); “niemand mag mos óóp loop” (“Man met frokkie”); en “deur-die-pis” (LXIII); “O my heerlike en heilige / vel en hare en haartjies” (XX); “ek was glo soveel gif vir jou / soos jy gif was vir my” (XXIII); “spel wat ál verder na buite toe / kringe laat uitdy: weg, / weg van die klein, skuilende / verontregte, verontwaardigde, / ding: wat in die looggat / afkyk: homself gaan bewapen” (“Armed vision”); “my verraderlik klein boksmaat” (XLVIII) wat onder Jonker se hand “my heerlike klein boksmaat” word; “soos ’n seeblom uit die water trugvou / en sy eie moer word en sy eie / donkerte [...]” (“Saltimbanque en vriendin”); drank wat “bacchanties / en bevrydend spat teen die akante” (LXIV) en talle ander.
  • Hulle haal ook gereeld aan uit ander digbundels van Van Wyk Louw en uit die werk van ander Afrikaanse digters soos Elisabeth Eybers, Adam Small, DJ Opperman en ook ouer digters soos C Louis Leipoldt.
  • Britse en Amerikaanse skrywers en digters wat opduik, sluit – naas talle verwysings na Shakespeare – in: Lawrence Durrell; DH Lawrence; Francis Thompson; Louis MacNeice; TS Eliot; John Keats; Oscar Wilde; Walt Whitman; Gerard Manley Hopkins; Alexander Pope; George Barker; Lewis Carroll; John Wain; Alfred Lord Tennyson; Judith Wright; John Donne; F Scott Fitzgerald.
  • ’n Verkapte aanhaling wat soos ’n leitmotief deur Jonker se briewe loop, is reëls uit die gedig “News of the world: 3” van die Britse digter George Baker: “[...] before / The serried battalions of lies and the organizations of hate / Entirely encompass us / […] / Lie one night in my arms and give me peace”. ’n Ander refrein in haar briewe is die woorde: “And above all, do not make me ‘a thing with one face ... / Like water held in the hands would spill me / Otherwise kill me ...’”. Dit kom uit die gedig “Prayer before birth” van die Ierse digter en toneelskrywer Louis MacNeice.
  • Hulle haal wyd uit die werk van Nederlandse skrywers / digters aan: Paul van Ostaijen; Willem Kloos; M Vasalis; Piet Paaltjens; JH Leopold; Herman Gorter; Hans Warren; Paul Rodenko; Hetty van Waalwijk; Henriette Roland Holst-van der Schalk; Gerrit Kouwenaar; Lucebert; Nel Noordzij; Karel Jonckheere; Hans Andreus; PC Boutens; JB Charles; Gerrit Achterberg; PC Hooft.
  • Daar is ook verwysings na “antieke” skrywers soos Plato. Uys Krige se vertalings van Lorca-gedigte en selfs een van die Brasiliaanse digter Manuel Bandeira duik op. ’n Duitse gedig van Erich Fried word volledig aangehaal. Daar is verwysings na Franse digters (Baudelaire), die Chileen Pablo Neruda en die Italianers Giuseppe Tomasi di Lampedusa en veral Salvatore Quasimodo (“miskien bly die hart vir ons oor”). Daar is enkele verwysing na swart (Afrika-) skrywers en ’n Zen-meester.

Hierdie netwerk van verwysings bied ’n ryk skat vir verdere ondersoek – mens kan aan die hand daarvan die briefskrywers se leeskultuur herskep.

Moes die briewe gepubliseer word?

Bedenkinge

Daar was bedenkinge in die Afrikaanse literêre wêreld oor die wysheid om die briewe te publiseer. Een van my literêre vriende het dit so aan my gestel:

Eintlik beny ek jou glad nie die taak om deur daardie briewe te waad nie. En mens vra jou werklik af wat die belang daarvan sou kon wees (tog seker nie literêr nie) anders dan die bemoeisiekheid van die leser met die skrywers se intimiteit [...] ’n soort van kannibalistiese verkneukeling, ’n gevry met die handskoen.

Maar reeds met die eerste deurlees van die tikskrif – en die deurblaai van die afskrifte en uitdrukke van die geskandeerde briewe – het my bedenkinge begin verdwyn. Ek is ingetrek by die ontvouende verhaal. Ek het geëerd gevoel om die briewe tussen twee jong skrywers en geliefdes te lees en daarmee te werk om dit vir publikasie gereed te kry. Ek is diep geraak deur die aard van die korrespondensie: hartstogtelik én teer (kompleet met troetelnaampies); ontroerend én pynlik; liries én hartseer; intiem én openbarend; soms sentimenteel of snaaks; nié vulgêr of pornografies nie; en van literêre belang.

Inhoud

Die briewe handel oor verskillende sake: die briefskrywers se handel en wandel in Kaapstad en Clifton en Grahamstad en by naweek-wegbreekplekke; hulle (lyflike) ervarings, ekstase en uitvalle terwyl hulle by mekaar was; hulle mislukte pogings om ’n “moesiekind” te maak; hulle verlange na mekaar / planne om mekaar weer te sien; verwysings na hulle telefoongesprekke, die bandjies wat hulle opneem en vir mekaar stuur, geskenkpakkies en tjekkies gestuur; hulle gesins- / familielewe; hulle werksomstandighede en finansies; allerlei nuusbrokkies; die skryfprojekte waarmee hulle besig is; aanhalings uit hulle leesstof; verwysings na die literêre en kulturele konteks waarbinne hulle lewens afspeel – soos die toenemende dreigement van sensuur, onderhoude met die pers, onderhandelinge met uitgewers, vriendskappe en ook onderlinge wedywering en selfs skinder of dwarsklappe na medeskrywers. Wat laasgenoemde betref, skryf Brink later in ’n Vurk in die pad dat die Sestigers “goed bevriend gebly het – weliswaar met periodieke misverstande en uitbarstings, maar nooit ernstig genoeg om die onderlinge bande te verbreek nie”.

Hulle skeppende skryfwerk staan sentraal in die ontplooiende verhaal-in-briewe: Brink se Lobola vir die lewe (die tweede, hersiene uitgawe gepubliseer in Mei 1963); Die ambassadeur (gepubliseer in Mei 1963); en Orgie (gepubliseer op 26 Maart 1965), en Jonker se tweede digbundel Rook en oker (gepubliseer in Oktober 1963), asook nuwe gedigte waaraan sy werk.

Wat is die waarde van die publikasie?

Volle waarheid / laaste woord?

Jonker se lewe (en dood) is dekadeslank gebruik (ook soms misbruik) vir verpakkings /  omskeppings / vertolkings (insluitend die skepping van mites) deur die skrywers van proefskrifte en biografiese oorsigte (insluitend die hoofstuk “Ingrid” in Brink se ’n Vurk in die pad), radio-omroepers, film- en dokkiemakers, dramaturge / akteurs, digters en liriekskrywers / sangers.

Is hierdie gepubliseerde briefversameling nou die volle waarheid oor Brink en Jonker se verhouding? Nee, dit is nie. Louise Viljoen stel dit só in haar sakbiografie oor Jonker:

Dokumente is nie onskuldige tekste nie. Daar is altyd ’n mate van selffabrikasie in dagboeke en briewe. Die skrywer presenteer hom-/haarself deur sy skrywe – veral in die geval van briewe aan ’n minnaar/minnares. ’n Mens moet nooit verlei word om te dink ’n [persoonlike] dokument gee die hele waarheid weer nie. Wanneer iets neergeskryf word, is dit reeds ’n vertolking van gebeure.

Inderdaad, die briewe tussen Brink en Jonker is nog ’n vertolking van hulle verhouding, maar wel ’n eerstehandse een. Deur die jare was daar soveel bespiegelinge, verwyte, skindery en agterdog in die Afrikaanse literêre wêreld en wyer oor die verhouding van hierdie twee spilfigure van Sestig, dat dit goed is dat hulle eie stemme nou gehoor kan word in hulle briewe aan mekaar. 

Waardetoevoeging

Brink en Jonker se briewe aan mekaar is nou in die openbare ruimte.

Die gepubliseerde privaatbriefwisseling kan vorige verpakkings / vertolkings in ’n ander lig stel, onthul as vals of gemanipuleer, dit bevraagteken, nuanseer, of bekragtig. En dit het reeds aanleiding gegee tot nuwe verpakkings / vertolkings. Vlam in die sneeu is nie die finale woord oor twee komplekse skrywersfigure nie, maar ’n belangrike bousteen in die verhaal van hulle lewens en hulle werk en daarom onmisbaar.

Die briefwisseling is van groot waarde vir eietydse (outo-) biograwe: Leon de Kock wat tans besig is met ’n biografie oor Brink; Petrovna Metelerkamp oor Jonker; Karina Brink se pas verskene The fifth Mrs Brink. Alhoewel daar reeds ander briewe van Jonker (aan vriende en Cope) gepubliseer of toeganklik is, sal haar korrespondensie met Brink soos gepubliseer in Vlam daarmee saam geïnterpreteer moet word.

Dit is skeppende skrywers wat aan die woord is in hierdie gepubliseerde briewe en albei van hulle is deurentyd bewus daarvan. Hulle skryfambag is dan ook ’n sterk fokus van die “praat-met-mekaar”. Die korrespondensie is dus ook waardevol vir die blik wat dit bied op die ontstaan en ontvangs van albei se skeppende skryfwerk in hierdie tyd en ook op hoe hulle mekaar se werk help skaaf het. Dit bied insig in wat hulle en hulle tydgenote gelees het. Die korrespondensie bied verder ’n boeiende blik op die literêre veld waarbinne hulle gewerk het. Die briefversameling is dus ’n bron van inligting vir letterkundiges, literatuurhistorici en navorsers in skeppende skryfwerk.

Resepsie / ontvangs van die teks

Die uitgewer van die boek het die belangstelling van die publiek reg ingeskat. Daar was ’n aanvanklike groot drukoplaag van die hardeband Afrikaanse weergawe (wel kleiner vir die Engelse vertaling) en dit is gou uitverkoop en in April 2016 opgevolg met ’n sagteband uitgawe. ’n Lewendige bespreking (en toeligting) rondom die boek het in die gedrukte en elektroniese media ontplooi.

Die amptelike kritiese ontvangs was buitengewoon positief en verhelderend. Hier onder volg enkele aanhalings uit resensies van Vlam.

Joan Hambidge:

En dis hoe ek hierdie liefdesbriewe lees: Nie as ’n skandalige onthulling van ’n privaat-pynlike liefdesverhouding wat in die selfdood van die een party geëindig het nie, maar as ’n openbarende psigoanalitiese verslag van hóé mense wat skryf (en in ’n intieme relasie staan) se skryfwerk beïnvloed en gekalibreer word deur ’n wedersydse skryfverhouding. (Die Burger / By, 12 November 2015)

Willie Burger:

Dit is fassinerende leesstof. Aan die een kant is dit baie insiggewend ten opsigte van die era. Hulle het in 1963 ontmoet en Jonker is in 1965 oorlede. Dit is ’n tydperk waarin die destydse regering al hoe hardhandiger opgetree het om enige denke en idees te onderdruk wat nie met hul baie nou “Christelik-nasionale” perspektief ooreengestem het nie. Dit was ’n tyd van toenemende anti-apartheidsprotes, van die Rivonia-verhore en die stasiebom, en die regering het drakoniese sensuurmaatreëls ingevoer. Brink en Jonker is juis deur hierdie stryd teen sensuur bymekaargebring. Die briewe bied baie insigte in die literêre, sosiale en politieke landskap van dié tyd. (Vrouekeur)

Henning Snyman wys op verskillende faktore wat bydra tot die literêre rykheid van die versameling:

As die leser die briewe lees sonder die konteks van die hopelose realiteit daarvan, word die briewe wel ook ’n letterkundige werk in eie reg. Bring dit tuis onder die hofie “Liefdesbriewe”, maar dit het ’n eiesoortige literêre waarde. (LitNet)

Reinhardt Fourie wys op die vrae wat daar vir die leser ontstaan:

Moet ons Vlam in die sneeu lees as niefiksie, as bloot dokumentêre bewys dat die regte persone Brink en Jonker wel geleef het en ’n vurige verhouding gehad het? Of lees ons die boek as ’n roman; as die storie oor die karakters André en Ingrid, met vertellers, en vernaamlik, outeurs? Is so ’n onderskeid enigsins moontlik? In die geval van die briewe as literêr historiese artefakte [...] bevat hierdie briewe ’n blik op ’n dekade wat bepalend sou word vir die (Suid-)Afrikaanse letterkunde. [...] Lees ’n mens [dit] as briefroman [...] is dit duidelik dat die leser hier toegang kry tot ’n komplekse en intieme vervlegting van emosies en kunstenaarskap. (Tydskrif vir Letterkunde)

Ten slotte

Staan hierdie projek in die teken van mediabemiddelde voyeurisme? Getuig dit van bemoeisiekheid wat hoogdrawend regverdig word deur mediaverklarings? Is dit sensasioneel? Gaan dit oor beoogde wins en geldmaak? Nee. Op geen stadium in die publikasieproses was daar enige teken daarvan nie. Almal betrokke het eerbied gehad vir die intense privaatheid van die korrespondensie en het baie lig op die boekmaakpad getrap. Die tantieme op boekverkope gaan aan die Ingrid Jonker-Trust (waaruit haar dogter Simone baat) en die André P Brink-Trust. Kritiek is wel uitgespreek teen die uitbring van die spesiale uitgawe wat kan lyk na deelname aan die “bedryf rondom Jonker as kultusfiguur”. Hierdie uitgawe sal egter ’n gesogte versamelitem word.

Aan die einde van sy boek met die getranskribeerde gesprekke wat hy in 1977 met mense na aan Jonker gevoer het, spreek LM van der Merwe die leser aan:

Jy het nou verskillende weergawes [van Ingrid Jonker se kort bestaan] in ’n beperkte tyd ingeneem. Laat dit in jou binneste ryp word sonder om te oordeel. Almal wat in goedgesindheid aan Ingrid Jonker aandag gee, bring haar terug in die lewe sonder om haar te probeer vashou en laat haar dan toe om weer deur ons vingers te glip. Sy wou nooit vasgevang word nie.

Vlam in die sneeu bevat al die briewe in daardie boks op Brink se boonste boekrak. Laat die briewe in Vlam in jou binneste ryp word sonder om te oordeel. Wees goedgesind teenoor Jonker en Brink, die jong geliefdes, en bring hulle so terug in die lewe sonder om hulle in te boks in vooroordele of bespiegeling.

Lees ook:

Flame in the Snow – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker

The heart has spaces – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker

Oor die transkripsie van Vlam in die sneeu se liefdesbriewe

  • 1

Kommentaar

  • Marie Ashpole

    Sjoe, wat ‘n interessante en indrukwekkende uiteensetting. Nou waardeer ek die boek nog meer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top