Oor die transkripsie van Vlam in die sneeu se liefdesbriewe

  • 3

Erika Viljoen is 'n leser, skrywer, vriend en voormalige student van André P Brink. Sy het die liefdesbriewe tussen hom en Ingrid Jonker transkribeer en deel haar ervaringe met LitNet. 


 

Lees ook:
Flame in the Snow – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker
The heart has spaces – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker

Dit bly vir ons moeilik om André P Brink, die wêreldfiguur, te versoen met die André wat ons sagmoedige vriend was. Amper so moeilik as om te glo dat hy ons nooit weer met ’n gulle "Halloooo …"  sal groet by sy voordeur nie. So moeilik as om te glo dat hy nooit weer by ons braaiete sal aansit met "jissis, Kobus" nie.

Ek het hom die eerste keer in lewende lywe gesien en gehoor by ’n gaslesing toe ek ’n derdejaarstudent by Stellenbosch was. Toe al het sy woordtoordery my aangegryp en om hom te hoor praat het vir amper 30 jaar een van my groot vreugdes gebly. Dit was ’n voorreg om sy student te wees, om aan die uitmuntende akademikus se voete te leer. Hy was, soos dit met die grotes gaan, altyd toeganklik en sjarmant, altyd gretig om te help, altyd die jintelman. Onder sy leiding kon ek vir die eerste keer my stem vind, kon ek ontdek en groei, terwyl ons verhouding toe nog ver was van die vriendskap waarmee dit geëindig het. Ek was onder druk van ’n onderwysbeursverpligting en moes ’n tesis vinnig klaarkry – elke Vrydag het ek my week se werk in sy poshokkie gaan los, om dit die Maandag weer te gaan afhaal met sy bemoedigende kommentaar. Sy leiding was soos hy: nie indringerig nie, nie oordonderend nie, maar met insig wat my self laat vind het wat ek moes kry.

Toe trou ek in Grahamstad se katedraal, André kon dit bywoon – die enigste huweliksgas wat nog steeds ons vriend is. Met sy aanmoediging kon ek ’n toespraak hou, destyds ongehoord dat die bruid ook haar stem dik maak. Ons trek Kaap toe, en soos die toeval dit wou hê, kom André na die Universiteit van Kaapstad.  Ons verhouding was nie meer student-leermeester nie, waarop hy my vra om tog maar die "Prof" te drop. Geleidelik het ’n heerlike vriendskap begin, terwyl ons eintlik nog ’n bietjie verskrik was oor die eer van die verbintenis. Ons moes leer dat hy net ’n mens is, veral ’n mens wat lojaal en lief is, wat lekker eet en drink en baie van rugby hou. Ek moes spesiaal borde en messegoed leen vir die eerste keer dat hy by ons tafel kom eet het, ’n ander keer het ons heeltemal oorboord gegaan met kos waarmee ons wou beïndruk, soos gestopte blomskorsies … Tyd het ons geleer dat André gewoond was aan spoggerige kos, ons het nie nodig gehad vir tierlantyntjies nie. Wanneer hy by vriende gekuier het, wou hy ontspan en teruggaan na sy wortels, kompleet met tjops en wors. Ek het onlangs weer sy Vurk in die Pad-memoir gelees en weer verstaan dat sy boeretone nooit uit die sand uit geloop het nie, hy het altyd die onopgesmukte eenvoud van egtheid waardeer en gesoek. Nie dat hy nie ook die grênd baadjie kon aantrek nie, dit was heel duidelik dat hy net so gemaklik was met wêreldcuisine, soos sy geliefde foie gras wat hy wel ’n slag met ons gedeel het. By die geleentheid van die herdenking van sy lewe en werk vanjaar by Solms Delta, as deel van die Franschhoek Literêre Fees, het die gevierde Deon Meyer gesê dat hy enige tyd sý foie gras met André sou deel, soos wat hy inderdaad gedoen het.

André was die eerste besoeker na ons Roland gebore is, en het deurgaans ’n lewendige belangstelling in ons kinders gewys, op sy stil, eerbiedige manier wat nooit neergesien het op korter mensies nie. Mika se streephemp het telkemale ’n kompliment uitgelok, en die finale woord op hulle verhouding met hom lê in ons seuns se inskrywings in sy gedenkboek.

"Liewe André. Dankie dat jy vir my my hele lewe lank geleer het hoe om aktief en passief met blydskap te lewe. Roland"

 "Liewe André, Selfs as ek jou nie soe goet ken nie, is jy – en jy sal altyd – een van my beste (en snaakste) rol moedelle wees, leef lank in ons harte. Mika"

 Hulle het baie goed bevriend geraak met André se Olga, wat een van die mees vertederende uitdrukkings in sy oë ontlok het, daar was altyd groot blydskap as hulle hoor dat Olga kom saamkuier. André en Karina was ook van die eerste mense vir wie ons vertel het dat Roland gay is, omdat ons geweet het dat hulle trots sal wees op ons en ons dapper kind. Kort daarna het André vir my ’n storie van iemand anders vertel, en gesê: “Hy is so gay soos ’n hoenderhaan ... o gaats, ek moet dit nou seker nie vir jou sê nie!” Ek het tog geweet dat hy verdraagsaamheid beliggaam.

Hoewel ons een keer baie moeite gedoen het om vir André eend gaar te maak – nog een van sy groot gunstelinge – het ons weldra besef dat ’n braai die pad deur sy maag na sy hart is. As ons bietjie lank getalm het met nog ’n uitnodiging, sou ’n skuinserige oproep van hom ons herinner daaraan dat die tyd aangebreek het om vure aan te steek. Hy sou ons ook baie vinnig na ’n oorsese besoek bel, om te vertel hoe dit gegaan het en om te hoor wanneer ons kan kuier. Die naaste wat ons kon kom aan die man van roem, was die geluk dat ons dikwels verjaar het naby die uitgawe van nog een van sy boeke en ’n beter geskenk kon ons nie kry nie.

En toe kom Karina: eers het ons haar leer ken in die stoute liggies in André se oë, pas na hulle ontmoet het. Sy vertel anderdag dat hy haar voorberei het op pad na haar eerste braai by ons met die waarskuwing dat Kobus ’n rowwe diamant is, gelukkig het sy ’n goeie sin vir humor en ’n soortgelyke gees, hulle deel nie verniet ’n geboortedag nie. En Karina moes iewers ook boerebloed ingekry het, sy kon dadelik net so lekker saameet. Die ooglopende liefde tussen hulle was vir ons ’n riem onder die hart, al het hy net soos voorheen soos ’n duiwel die steil pad van ons af gejaag wanneer dit huistoegaantyd was, gelukkig altyd veilig. Met Karina het daar ook ’n balans in ons vriendskap gekom, daarin dat tussen my en André se wedersydse (steeds sedert my studentedae) skimmelrigheid Karina en my geliefde die gesprek lewendig aan die gang kon hou. Dit het altyd so gebly, André het min geïnisieer, hy het nie gebabbel oor nietighede nie, terwyl mens altyd voel dat jy hom wil uitlok om net te vertel van sy uitsonderlike ervarings, wat nog die ander wyshede wat hy tóg van tyd tot tyd kon kwytraak.

Ons het waarlik lief en leed gedeel, oor ’n hele paar jaar waarvan die drie laastes die bestes was, op ’n manier. André se verswakking was swaar vir ons om te aanskou, hoewel dit nie gekeer het dat ons altydonthoubare tye saam kon hê nie. Een keer het ons ’n naweek saam beplan op vriende se plaas, en moes beraadslaag oor watter vorm die etes sou aanneem, een aand braai en een aand iets anders, of albei aande braai? André het vinnig ingespring voor enigiemand kon roer: "Altwee aande braai!"

André se ander groot liefde, Parys, het hy ook met ons gedeel. Ons het oë toegeknyp en saam met ons kinders vir tien dae in die stad van lig en liefde rondgeloop, met daaglikse SMS’e na Karina. Sy en André het raad en wenke gestuur, en van ganser harte saamgeleef in ons ontdekking. Toe ek hom later vra wat hy sou voorstel as ons ooit weer die kans sou hê om Europa te besoek, weer Parys of dalk Rome? Sy antwoord: "Altyd Parys."

Toe kom die aand in Februarie wat altyd in ons harte sal brand, met Karina se oproep uit die vliegtuig iewers bokant Afrika. Die reis na Europa, vir hom om die eredoktorsgraad te ontvang van die Universiteit van Leuven, het groot vreugde gebring, en toe skok en ontsetting en hartseer. Hy het laat in verlede jaar gebel om die nuus te deel dat hy die graad sou ontvang, wat hom besonder verbly het omdat sy geliefde Rob Antonissen ook van daardie universiteit was. En hy het ook gesê dat hy gedink het die tyd vir sulke ere is verby, daarom het dit soveel beteken. Ons het die aand van die toekenning moeite gedoen om die regstreekse uitsending via die universiteit se webwerf te aanskou, en was weer so trots op André se vlot Frans, al het ons nie ’n snars daarvan verstaan nie.

Die laaste keer dat ek hom gesien het, was toe ek en Karina na Jan Vermeiren is om ’n spesiale skildery te gaan haal vir Kobus se 50ste verjaardag. Die vorige keer dat ons daar was, is André spesiaal saam om te help kies, en ten spyte van my wisselvalligheid oor die onmoontlike keuse uit Jan se versameling, het André my keer op keer teruggeroep na ’n jongvrou waaroor hy nie getwyfel het vir Kobus nie. Die laaste keer dat ek André gesien het, was hy in die bed met gordelroos, en vies vir die irritasie daarvan. Nietemin het hy, soos soveel ander kere, ’n kompliment gehad vir my “gewaadjie” – die sjarmantheid wat hy was.

En toe kom die briewe. Karina het veilig gevoel oor André reeds die wens uitgespreek het vir die publikasie van sy en Ingrid Jonker se korrespondensie. Dit was vir my ’n verrassing en ’n onthutsing toe sy vra of ek kans sien om dit te transkribeer, hoe op aarde klim mens in sulke intimiteit in? Hy het baie min vir ons vertel van hul verhouding, net dat Ingrid vroue vir altyd vir hom "opgefok" het. Ek het nie mooi geweet hoe om dit aan te pak nie, net ingeduik in die bekende handskrif waarvan ek nog ’n paar voorbeelde het in my werk en in briewe van hom. Ek was deeglik bewus van die sensitiwiteit van die materiaal, meer nog dat ek die eerste mens behalwe hulle twee was wat elke woord kon lees. Die druk waaronder die oortik moes gebeur, was ’n seëning, anders het ek dalk te veel aandag gegee aan die verlorenheid wat onder my vel begin lê het.

Eers was dit twee jong verliefdes wat versigtig aan mekaar proe op papier, maar reeds van die begin het die onvergelyklike aaneensnoer van woorde se lekkerte my gevang. Veral André s’n, uit die aard van my bekendheid daarmee. Ek het heeltyd onthou hoe jonk hy was, tussen al die sêgoed wat klokkies gelui het vir my. Ek was verstom oor sy wye wysheid, tussen die domastrante wulpsheid. Ek het soms vergeet dat dit hý was, die stille sjarmant, wanneer dit bloot ’n verhaal van desperate verlange en fatale gedrongenheid was. Dis ’n storie, ’n vervolgverhaal waar jy uitsien na die volgende aflewering, al begin jy vinnig snap dat elke kruin gevolg gaan word deur ’n misrabele slaggat. Dit terwyl ons weet hoe die end was, vir hulle albei. Ek het vies geraak vir hulle twee, dat hulle nie hulle gatte in rat kon kry om dit te laat werk nie, dan weer hartseer oor ek kon sien dat hulle altyd sou faal en gevang was in ’n maalkolk van omstandighede. Ek het baie jammer gevoel vir hulle, en vir die mense vir wie hulle seergemaak het. En ek hoop in my diepste hart dat die liefde vir hulle seergemaaktes wel sigbaar sal wees vir hulle, omdat dit vir mý so duidelik was. 

Die gevoel van voyeurisme was nie daar nie, miskien omdat André met voorbedagte rade sy korrespondensie gekopieer het, en dit self wou laat publiseer. Die briewe ís baie intiem, maar die naïewe en ewige hoop daarin, die durende en universele verlange, die skreeusnaakse beskrywings van die tyd waarin hulle geleef het en die hartroerende alledaagshede bewerkstellig ’n gemaklike afstand waarin ons onsself herken.

Vir ons wat André eers heelwat later leer ken het, is die briewe ’n kosbare insig in die jong man, jong skrywer. Van die heel roerendste is die versugting dat hy dalk nooit iets sal skryf wat die moeite werd is nie, terwyl ons maar te goed weet watter skatte hy agtergelaat het. Die jong, soekende André voel vreemd, terwyl die deerniswekkende sekerheid van sy werk reeds helder is. Mens voel die uiterse pyn, mens raak moeg vir die gesukkel, mens is bly oor die goeie tye wat hulle wel saam kon hê. Boweal tref die deurlopende literêre verwysings van twee boekversotte verliefdes, en dit maak die briewe ’n ryke mat wat tydloos bly.

Ek wou nie eintlik die boek klaar sien nie, omdat André se wegwees daaruit te permanent voel. Ek het wel ’n kopie gekry, en in druk is die afstand weer daar, ’n genade. Want sy handskrif hou aan vir my sê dat hy hier was en dat hy weg is.

  • 3

Kommentaar

  • Renee Grierson

    Ek was by die bekendstelling van die boek, Vlam in die Sneeu, by die Book Lounge (wat 'n eer) en my bewondering vir Karina se moed is baie groot en ook vir almal wat by die samestelling daarvan betrokke was. Baie dankie Erika Viljoen ook vir die skryf van hierdie artikel en vir jou eerlikheid.

  • Woord vir woord boei Erika Viljoen se ervaringe en vriendskap met Andre P Brink my. Net soos Vlam in die Sneeu. Oop, eerlik, deernisvol, eerbied en ook ware omgee. Ek so bly dat ek toevallig hierop afgekom het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top