50 jaar gelede: tydlyn van Breyten Breytenbach se traumatiese jaar

  • 0

Foto van Breyten Breytenbach: Izak de Vries

Vanjaar het bepaalde brokkies oor Breyten1 in Die Burger se Uittreksels-rubriek “50 jaar gelede” my op ’n klein tydlynreis geneem.

Die “50 jaar gelede”-brokkies is kort uittreksels uit prominente voorbladberigte; elders in die koerant kon daar ook aanvullende berigte wees. Ek haal dié brokkies aan wat direk oor Breytenbach handel, asook dié oor die betrokke algemene politieke konteks. Verdere toeligting word verskaf by wyse van verwysings na Jack Viviers se Breyten (1978) en my Breyten Breytenbach as openbare figuur (1990), waaruit geparafraseer word, of opmerkings deur my wat met ’n sterretjie aangedui word.

 

1 Augustus 1975 (Vrydag)

Die Burger, 50 jaar gelede

Politieke konteks:

Honderde vlug uit Angola na SWA: Die voorlopers in die verwagte stormloop van vlugtelinge uit Angola het in Suidwes aangekom. Die eerste konvooi van 44 ligte en agt swaar vragmotors met sowat 150 mense het Grootfontein bereik, terwyl nagenoeg nog 150 van die grens onderweg is. Die meeste vlugtelinge praat van nog groter groepe wat in hul spoor volg.2

* Dit is op hierdie datum dat Breyten met ’n vals paspoort die land as “Christian Galaska” binnekom. Op die vliegtuig ontmoet hy die lugwaardin Annatjie van Schalkwyk3 wat haar adres en telefoonnommer aan die “Fransman” gee met die uitnodiging dat hy haar kan kontak as hy iemand nodig kry om hom in Johannesburg rond te wys. Hy was vir 20 dae in die land en die Veiligheidspolisie was op sy spoor.

Die datum 1 Augustus word verskaf in Henning van Aswegen se blog van 23 Maart 2025, “Okhela and Breyten Breytenbach – the romantic poet”. Breyten noem in The true confessions of an albino terrorist (1984:77) dat dit laat Julie was toe hy met ’n SAL-vlug van Rome vertrek het, met oorstaan in Portugal. Jack Viviers in Breyten – verslag oor Breyten Breytenbach (1978:23) dui ook Breyten se aankomsdatum as 1 Augustus aan.

 

Van 1 tot 19 Augustus 1975

* Tydens die verhoor het die staatsgetuies bepaalde inligting oor Breyten en sy bewegings in hierdie tyd verskaf. In Breyten se Confessions gee hy sy eie weergawe van sy bewegings. Onlangs vertel Henning van Aswegen in sy blog hoe Breyten in Kaapstad dopgehou is deur lede van die Buro vir Staatsveiligheid en dat Breyten hulle daar ontglip het.4

ViviersBreyten (24):
Hy voer aan dat die owerheid later ’n seël van geheimhouding geplaas het oor wat in die 20 dae gebeur het. Selfs die hofstukke in die argiewe van die Pretoriase afdeling van die Hooggeregshof sou vroeg in 1978 spoorloos verdwyn.

 

19 Augustus 1975 (Dinsdag)

Die Burger, 50 jaar gelede, 20/8/75

– Politieke konteks:

Vorster skep ’n nuwe era vir SA na buite: Nuwe brûe van vriendskap en samewerking wat groot belofte vir die toekoms inhou, is gebou op die historiese reis van die Eerste Minister, mnr BJ Vorster, aan Latyns-Amerika. Mnr Vorster, wat gisteroggend saam met sy geselskap teruggekeer het, is die eerste Suid-Afrikaanse premier wat Suid-Amerika amptelik besoek het.

Galloway – Openbare figuur (169)
Breyten word op 19 Augustus op die lughawe Jan Smuts in hegtenis geneem – juis toe die eerste minister en sy entourage (insluitend Breyten se fotograaf-broer Cloete) van ’n détente-besoek aan Paraguay en Uruguay terugkeer.

 

Van 19 tot 26 Augustus 1975

*Daar is geen verwysing in Die Burger na Breyten en die gebeure rondom hom nie. Dit word eers ’n week later in die media aangekondig dat hy in hegtenis geneem is.

 

27 Augustus 1975 (Woensdag)

Die Burger, 50 jaar gelede, 27/8/75

Breyten in SA gevang: Was vermom: Op sy geheime besoek aan Suid-Afrika het die skrywer en digter Breyten Breytenbach hom na bewering daarop toegespits om kontak te maak met mense met verbintenisse met NUSAS. Vyf van die mense met wie hy onder andere kom praat het, is deur die Veiligheidspolisie aangehou – ’n dag nadat Breytenbach op die lughawe Jan Smuts in hegtenis geneem was. Die verrassende aankondiging is gister in Pretoria deur die Minister van Justisie, Polisie en Gevangeniswese, mnr JT Kruger, gedoen.

Parys gis oor die naam Galaska: Die inhegtenisneming van Breyten Breytenbach het in Parys onheilspellende gissinge laat ontstaan oor die identiteit van Christian Galaska, die Fransman wat hy in Suid-Afrika voorgegee het hy is. Die inligting is dat Breytenbach verraai is deur ’n swart lid van die Anti-Apartheid Movement.

* Nog ’n berig verskyn op bl 2 van die koerant.

– Politieke konteks:

Groot “golf” op pad na Suidwes: Die volgende golf van die Angolese volksverhuising sal Suidwes na verwagting aanstaande week tref, wanneer ’n reuse-konvooi van meer as drieduisend voertuie met sowat twaalfduisend vlugtelinge by die noord-oostelike grens sal aankom.

 

28 Augustus 1975 (Donderdag)

Die Burger, 50 jaar gelede, 28/8/75

Yolande wis van alles niks: Yolande Breytenbach het vir die eerste keer van haar man se aanhouding gehoor toe Die Burger se korrespondent in Parys haar gisteroggend om tienuur die nuus oor die telefoon meedeel.5

Kern-navorser se vrou gevang: Die jong eggenote van ’n kern-navorser van die Atoomkragraad word in Pretoria deur die veiligheidspolisie aangehou, na bewering in verband met die geheime besoek wat die skrywer-digter Breyten Breytenbach aan Suid-Afrika gebring het. Die vrou is swanger. Sy is mev Clara [sic] Röhm, eggenote van dr HF Röhm, wat tot vroeër vanjaar senior lektor aan die Universiteit van Pretoria was en nou navorsing doen vir die Atoomkragraad.

 

29 Augustus 1975 (Vrydag)

Die Burger, 50 jaar gelede, 29/8/75

Breyten kuier week by mooi waardin: Breyten Breytenbach was op sy geheime besoek aan Johannesburg langer as ’n week voortdurend in die geselskap van ’n aanvallige donkerkoplugwaardin van die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Die 25-jarige mev Annatjie van Schalkwyk, ’n geskeide vrou, het Breytenbach op ’n oorsese vlug na Suid-Afrika ontmoet en het vas geglo hy is ’n Fransman, Christian Galaska, wat op Frans na net gebroke Engels kon praat.

– Politieke konteks:

SA mynveërs gaan Angolese help: Twee mynveërs van die Suid-Afrikaanse Vloot, die SAS Pretoria en die SAS Kimberley, vertrek vanoggend uit Simonstad om Portugese vlugtelinge langs die verraderlike Kus van die Dood te red, berig ons skeepsvaartverslaggewer.

* Na die berig van 29 Augustus verskyn daar eers twee weke later weer ’n voorbladberig. En dit nogal op Breyten se verjaardag, 16 September.

 

16 September 1975 (Dinsdag)

Die Burger, 50 jaar gelede, 16/9/75

Kring word al wyer om Breyten: Die Breyten Breytenbach-ondersoek kring al wyer uit ná die aanhouding gister van mnr Horst Kleinschmidt, ’n hoë amptenaar van die Christelike Instituut, en nog twee jong blankes van Johannesburg naby Oudtshoorn. Die ondersoek is nog nie afgehandel nie en nog aanhoudinge word verwag. Intussen word Breytenbach, wat op 19 Augustus op die lughawe Jan Smuts aangekeer is toe hy die land wou verlaat, steeds intensief ondervra.

Viviers Breyten (24–5) en GallowayOpenbare figuur (169):
Annatjie van Schalkwyk is in Johannesburg ondervra; vriende van Breytenbach is as medepligtiges aangehou / het verklarings afgelê. James Polley en sy vriendin Megan Riley is in Kaapstad aangehou, saam met Glenn Moss, Gerry Maré en Gordon Young. Die net is wyer gespan en mev Dürten Röhm is in Pretoria aangehou. Later is Karel Tip, Norman Lewis, Laurence Dworkin, Nicholas Martens en Horst Kleinschmidt na gevangenisse gebring en ondervra. Terwyl Breytenbach ondervra is, het sy vriende in die buiteland weggeraak – maande lank kon niemand sê wat van Barend Schuitema en Don Morton geword het nie.

– Politieke konteks:

Drie beseer in LM-terreur: Teenstanders van die Frelimo-bewind het in die naweek met ’n veldtog van stedelike terreur in Lourenço Marques begin waarin drie mense, twee mans en ’n kind, met twee vulpenbomme beseer is.

 

Van 17 September tot 22 Oktober 1975

* Daar verskyn geen voorbladberigte oor Breyten in Die Burger nie.

 

23 Oktober 1975 (Donderdag)

Die Burger, 50 jaar gelede, 23/10/75

Yolande vra visum vir Breyten-hofsaak: Yolande Breytenbach, Viëtnamese vrou van die Afrikaanse digter Breyten Breytenbach, het in Londen aansoek gedoen om ’n visum om Suid-Afrika te besoek vir die hofsaak waarin haar man sal verskyn op aanklagte ingevolge die Wet op Terrorisme.

* Hier is nou vir die eerste keer ’n aanduiding van wat die aanklagte teen Breyten behels.

 

25 Oktober 1975 (Saterdag)

Die Burger, 50 jaar gelede, 25/10/75

Breyten se vrou mag na SA kom: Die aansoek van Yolande Breytenbach, vrou van die skrywer Breyten Breytenbach, om na Suid-Afrika te kom vir die hofsaak waarin haar man op aanklagte ingevolge die Wet op Terrorisme sal verskyn, is deur die Departement van Binnelandse Sake toegestaan.6

 

Van 26 Oktober tot 7 November 1975

* In hierdie tyd verskyn daar geen voorbladberigte oor Breyten in Die Burger nie.

 

8 November 1975 (Saterdag)

Die Burger, 50 jaar gelede, 8/11/75

Breyten werktuig van ANC – staat: Die kern van die staat se saak teen Breyten Breytenbach is dat hy vir ’n nuwe organisasie, wat as die wit vleuel van die African National Congress beskou word, hier en oorsee opgetree het. Die klagstaat ... is gister in die tronk aan Breytenbach beteken. Die hoofaanklag is terrorisme, met twee alternatiewe aanklagte kragtens die Wet op Onderdrukking van die Kommunisme. Breytenbach word Maandag alleen in die Pretoriase landdroshof aangekla.7

Bonn-diefstal: Dokter gesoek: ’n Duitse vriend van Breyten Breytenbach is in Bonn, Duitsland, deur die polisie geëien as een van twee mans wat na bewering verantwoordelik was vir die diefstal van staatsgeheime uit die Suid-Afrikaanse ambassade. Die vriend is dr Frederick Geisler, hoogs aangeskrewe lid van die Duitse Anti-Apartheidsbeweging.

– Politieke konteks:

Angola: G’n sprake van skietstilstand: Hewige gevegte woed nog om Luanda tussen die drie strydende nasionalistiese bewegings in Angola. Hulle veg nou om strategiese gebiede voordat die land Dinsdag onafhanklik word. Van ’n skietstilstand is daar geen sprake nie.

 

10 November 1975 (Maandag)

* Breyten word alleen in die Pretoriase Landdroshof aangekla. Hier is die oorspronklike/volledige klagstaat aan hom voorgelê.

 

11 November 1975 (Dinsdag)

Die Burger, 50 jaar gelede, 11/11/75

* Geen berig met spesifieke inligting oor die verrigtinge van die vorige dag verskyn nie.

Sleutelman by Breyten het ontglip: Die sleutelfiguur agter die geheime organisasie Atlas – die wit vleuel van die ANC waarvan Breyten Breytenbach volgens aanklagte teen hom lid was – was vroeër vanjaar saam met Breytenbach onder ’n vals naam en met ’n vals paspoort in Suid-Afrika. Hy het die Veiligheidspolisie net-net ontglip. Die man is Barend Schuitema, ’n Suid-Afrikaner van Klerksdorp wat sonder vaste woonplek en werk in Amsterdam woon.

– Politieke konteks:

Rooi gevaar “aan SA se grense”: Die “helse gevaar” van die Kommunisme, met die chaos en wanorde wat hy veroorsaak, het tot op Suid-Afrika se grense gekom. Dit sal gestuit moet word, nie net ter wille van Suider-Afrika nie, maar ter wille van die Vrye Wêreld. Só het mnr PW Botha, minister van verdediging en Kaaplandse NP-leier, gisteraand in Bellville gesê.

Aantal dae in aanhouding / van ondervraging (tot verhoor begin)
Van 19 Augustus met sy inhegtenisneming tot die begin van die hofsaak op 21 November verloop 95 dae.

Van 19 Augustus met sy inhegtenisneming tot hy aangekla word op 10 November, verloop 84 dae.

* Breyten skryf oor ’n tydperk van ses weke tydens sy aanhouding en ondervraging (van September tot middel-Oktober) gedigte onder aanmoediging van die hoofondersoekbeampte van die Veiligheidspolisie (alias Huntingdon). Die manuskrip wat so ontstaan, is opgedra aan Yolande, sy oupa aan moederskant (Stephanus Cloete) en die ondersoekbeampte – “met dank aan Kolonel Broodryk JC” (Confessions, 138). Die bundel Voetskrif word vroeg in 1976, na Breyten se vonnisoplegging en sonder dat hy die manuskrip kon hersien of korrigeer, deur Perskor gepubliseer en bekroon. Dit is volgens die uitgewer ’n soort debuut – die eerste Afrikaanse digbundel wat deur iemand in aanhouding geskryf is.

 

21 November 1975 (Vrydag) – Die verhoor begin8 – dag 1

Die Burger, 50 jaar gelede, 21/11/75

Breyten: 3 vroue sal getuig: Die jong vrou van ’n Suid-Afrikaanse atoomwetenskaplike, dr HF Röhm van die Atoomkragraad, is onder die minstens drie vroue wat gevra sal word om in die Pretoriase Hooggeregshof teen Breyten Breytenbach te getuig. Die saak begin vandag.

– Politieke konteks:

MPLA nou gelei deur Rooies: Russiese deskundiges wat internasionaal bekend is om hul kundigheid in burgeroorlogvoering ... in verskeie dele van die wêreld, het die bevel oor die MPLA se magte in Angola oorgeneem.

Angola: Muller maan teen Rooies: Dit sou tragies vir Suider-Afrika wees as Rusland ’n vastrapplek in Angola kry, het die Minister van Buitelandse Sake, dr Hilgard Muller, eergisteraand in ’n radio-onderhoud met die BBC gesê.

GallowayOpenbare figuur (169):
Regter PM Cillié, Regter-president van Transvaal het besluit om self die verhoor waar te neem en op hierdie dag verskyn Breyten voor hom om te antwoord op die klagstaat. Die aanklaer was dr Percy Yutar en hy is bygestaan deur advokate Dennis Rothwell, T Verschoor en JWF van Jaarsveld. ’n Senior advokaat, dr Piet Henning (in opdrag van mnr Sam Norval van die prokureursfirma Couzyn, Hertzog en Horak), het namens Breyten opgetree.

ViviersBreyten (26 ev):
Breytenbach daag saam met die Veiligheidspolisiemanne wat hom aanhou op en stap die beskuldigdebank binne. Van die mense in die hof is sy vader en sy suster, die lugwaardin Annatjie van Schalkwyk, en drie van sy skrywersvriende. Om 10h00 neem regter Cillié sy plek in. Dr Yutar roep die saak en oorhandig ’n sertifikaat aan die regtersklerk waarin hy ’n summiere verhoor magtig. In sy antwoord op ’n vraag van die regtersklerk sê Breytenbach sy naam hardop. Hy word gevra om op die aanklagte in die lywige klagstaat te pleit. Dr Henning deel regter Cillié mee dat Breytenbach sy skuld op die aanklagte beken, maar met sekere wysigings van die klagstaat. Henning vra dat hy die regter verder daaroor mag toespreek.

Breytenbach, deur sy regsverteenwoordiger, beken skuld op feitlik al die beweringe in die klagstaat en nadat die oorspronklike klagstaat gewysig is en dr Yutar dit aanvaar het, bevestig Breytenbach self hardop in die hof dat sy skulderkentenis aanvaar moet word. Hy erken dat op versoek van die onwettige ANC ’n geheime organisasie bekend as Atlas/Okhela gestig is met wit lede wat hulle beywer het om revolusionêre verandering in Suid-Afrika teweeg te bring: onder meer deur gewapende stryd en ondergrondse bedrywighede. Hulle wou die blanke regering van SA omverwerp en dit met ’n swart regering vervang. Hy erken sy aandeel in die stigting van die organisasie en bevestig dat hy, Barend Schuitema, Donald Moerdijk, Jobst Grapow en John Makhatini saamgesweer het om die doelwitte van die organisasie na te streef.

(* Die besonderhede van sy bekentenis word uiteengesit op 27–9.)

Hierna lewer dr Yutar sy betoog en behandel die staat se beweringe teen Breytenbach een na die ander. Hy beklemtoon dat die oogmerke van Atlas/Okhela was om die wit regering van SA tot ’n val te bring – selfs indien nodig deur revolusie en wapengeweld. Die regering sou dan vervang word deur ’n swart regering, waarskynlik lede van die ANC en die SAKP.

Ondanks Breytenbach se bekentenis, kondig dr Yutar aan dat die staat nietemin getuienis sal lei. Aanvanklik sou die staat 40 getuies geroep het, maar na sy skuldbekentenis is besluit om minder getuies te roep.

Die eerste getuie wat geroep word, is Dürten Röhm, Jobst Grapow se suster wat deur hom as lid van die organisasie gewerf is – sy was Breytenbach se eerste kontak op sy geheime sending. Sy getuig oor verskeie ontmoetings tussen hulle, reeds in 1973 toe hy in die land was op ’n uitgebreide besoek. Teen Julie 1974 begin haar werk as “telefoon” en skakel vir lede van die organisasie wat in vermomming die land binnekom. In kruisverhoor deur dr Henning erken sy dat sy, anders as Breytenbach wat Suid-Afrika hartstogtelik liefhet, apartheid-Suid-Afrika haat en dat haar huwelik ongelukkig is (30–3).

Na haar word Norman Lewis as getuie geroep – en sy getuienis word gelei deur adv Rothwell. Hy en Nicholas Martens, oudstudente van Wits, was die eerste lede van die Atlas/Okhela-groep wat in Parys deur Breytenbach touwys gemaak is in ondergrondse bedrywighede. Daar was “vele besprekings, maar geen resultate nie”. Dr Henning vra vir ’n verdaging van die verrigtinge. Die eerste hofdag is verby. Breytenbach kan ’n paar minute in ’n vertrek agter in die hofsaal saam met sy vader en suster deurbring (34–7).

 

22 November 1975 (Saterdag)

Die Burger, 50 jaar gelede, 22/11/75

* Berigte verwys na die getuienis wat op Vrydag 21 November deur Dürten Röhm gelewer is.

Breyten-groep het ambassade besteel: Breyten Breytenbach het mev Dürten Röhm, die aantreklike jong vrou van ’n atoomkragnavorser van die Atoomkragraad, aangesê om inligting oor Suid-Afrika se kernnavorsing deur haar man te verkry. Dié inligting moes dokumente aanvul wat sy geheime organisasie uit ’n Suid-Afrikaanse ambassade gesteel het, het sy gister in die Pretoriase Hooggeregshof beweer. Mev Röhm was ook lid van die organisasie.

Skiet my, sê mev Röhm: Die aantreklike jong vrou van ’n atoomnavorser van die Atoomkragraad, mev Dürten Röhm, het gister in die Pretoriase Hooggeregshof gesê sy moet doodgeskiet word vir haar aandeel in die organisasie van Breyten Breytenbach. Sy haat Suid-Afrika.

* Nog berigte en foto’s op bl 11 van die koerant.

– Politieke konteks:

FNLA gereed vir finale aanslag: ’n Aanval op Luanda deur die MPLA se teenstanders kan binnekort verwag word. Die troepe van die FNLA en Unita maak hulle gereed om die stad te bestorm nadat hulle die hoofspoorlyn van die land en op een na al die hawens ingeneem het.

 

24 November 1975 (Maandag) – dag 2 van die verhoor

Die Burger, 50 jaar gelede, 24/11/75

* Nie op Netwerk24 beskikbaar nie.

ViviersBreyten (38–42):
Die staat se getuienis (in Engels) duur voort. Eerste kom Karel Tip aan die beurt. Hy is byna die hele oggend in die getuiebank en hy laat Breytenbach en Schuitema se plan vir Suid-Afrika stap vir stap ontvou. Glenn Moss vertel van sy en Gerry Maré se ontmoeting met Breytenbach in Seepunt waar hulle hom by sy hotel opgelaai het en in die rigting van Kampsbaai gery het, maar hom in die stad afgelaai het toe hulle verdagte motors agter hulle gewaar het. Lawrence Philip Dworkin het Schuitema en Breytenbach einde 1974 in Europa ontmoet. Hy was Schuitema se kontak toe laasgenoemde in 1975 na Suid-Afrika gekom het – ná die koerante berig het dat Breytenbach aangehou word, het Schuitema daarin geslaag om weg te kom. Nadat Dworkin en Moss getuig het, is Breytenbach gereed om getuienis ter versagting aan te bied. Regter Cillié verdaag die saak tot die volgende dag vir skuldigbevinding. Breytenbach kan vir ’n rukkie in ’n kantoor met sy pa, suster en broer gesels.

 

25 November 1975 (Dinsdag) – dag 3 van die verhoor, die skuldigbevinding

Die Burger, 50 jaar gelede, 25/11/75

Breyten getuig dalk self vandag: Breyten Breytenbach sal waarskynlik vandag self in die Hooggeregshof in Pretoria getuig ter versagting van sy selferkende oortredinge ingevolge die Wet op Terrorisme. Die staat het sy saak gister gesluit en die verdediging het daarna geen getuies opgeroep nie.

NUSAS-manne getuig teen Breyten: Die Atlas/Okhela-organisasie waarvan Breyten Breytenbach ’n selferkende stigterslid was, het daarin geglo dat blankes bereid moet wees om die wapen op te neem om swartmense in Suid-Afrika te “bevry”, is gister in die Pretoriase Hooggeregshof deur die uittredende voorsitter van NUSAS, mnr Karel Tip, getuig.

* Nog ’n berig en foto verskyn op bl. 2 van die koerant.

– Politieke konteks:

FNLA kry terugslae: Die groot teenoffensief van die MPLA het begin. In die Noorde is die gesamentlike magte van Unita en die FNLA hard geslaan en het die MPLA op twee plekke deurgebreek. In die Ooste en die Suidooste is die toestand ook sorgwekkend.

GallowayOpenbare figuur (170–2) en ViviersBreyten (43 ev):
Regter Cillié vra Breytenbach om in die beskuldigde bank op te staan en hom aan te hoor. In sy uitspraak som die regter die klagtes teen hom op en merk op dat Breytenbach skuld beken op ’n klagstaat waaruit verwysings na wapengeweld, plofstowwe, die optrede van ander mense en die Kommunistiese Party gehaal is. Hy verwys na die getuies wat die staat geroep het en na Breytenbach se doen en late in Suid-Afrika. Hy stel dit: “Die staat se saak dat die beskuldigde hom aan elf terroristiese dade ter bevordering van die sameswering skuldig gemaak het, word deur die getuienis en die beskuldige se bekentenisse bewys.” Hierna gaan die regter voort om die elf dade uitvoerig te beskyf. Hy kom tot die besluit:

Deur die getuienis afgelê en die bekentenisse van die beskuldigde, sowel as sy skuldbekentenis, het die staat bo redelike twyfel bewys dat die beskuldigde gedurende die tydperk 10 Desember 1972 tot Augustus 1975 in die Republiek en elders, wederregtelik, onwettig en met die opset om die handhawing van wet en orde in die Republiek in gevaar te stel, deelgeneem het aan terroristiese dade.

Daarom word hy skuldig bevind aan die hoofaanklag wat hom ten laste gelê is.

ViviersBreyten (49–52):
Breytenbach is skuldig en uit die uitspraak kom ’n donker wolk te voorskyn. Die regter verwys na planne van “geweldpleging”, die één woord wat Breytenbach juis uit die klagstaat laat haal het voordat hy skuld erken het. In getuienis het dit teruggesluip; hy is daaraan skuldig bevind.

Na ete deel dr Henning die hof mee dat hy getuienis ter versagting gaan aanbied en hy roep mev Cecile Cilliers na die getuiebank (sy is ’n huisvrou besig met ’n doktorale studie oor “Die verhouding tussen die literêre kunswerk en sy bron” aan die RAU). Sy kontekstualiseer Breytenbach se skeppende werk en lees toe met ’n welluidende stem gedigte voor: “Seisoenegids”, “’n Brief van hulle vakansie” en “Die hand vol vere”. Haar voordrag en Breytenbach se gedigte het almal in die hof diep aangegryp.

ViviersBreyten (53–61):
Na ’n kort teepouse, teen 11h30, begin mense teruggaan in die hof. Daar was skielik ’n heeltemal nuwe atmosfeer in die hof. Die koue, feitelike beskrywings in Engels van terroristeplanne en geheime organisasies het gewyk. Die Breytenbach-gedigte het vele geroer en daarna het die ondersoekbeampte in die saak, kol Kalfie Broodryk, self vir Breytenbach ’n lansie gebreek. Breytenbach, ’n romantikus en skrywer, was bitter spyt oor wat hy gedoen het, het Broodryk gesê.

Wat nou?

Eers lees dr Henning voor wat Breytenbach in verklarings geskryf het kort nadat hy deur die Veiligheidspolisie aangehou is. Daarna dui Henning aan dat Breytenbach gevra het “om sonder beïnvloeding van die regsverteenwoordigers, sonder beïnvloeding van die Veiligheidspolisie” sy eie gedagtes op skrif te stel. Henning versoek nou dat daardie verklaring aan die regter voorgelees word.

Hierna lees Breyten sy “bestaansbelydenis” (ook opgeneem in die bundel Parool/Parole). Hy skets sy kinder- en jeugjare in die Boland en sy studietyd aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy vir die eerste keer mense van ’n ander velkleur op gelyke vlak ontmoet het en bewus geraak het van politieke kwessies. Hy vertel van sy aankoms in Parys, ontmoeting met Yolande met wie hy in 1962 getroud is. In 1965 kom die skok toe ’n visum vir ’n besoek aan Suid-Afrika aan sy vrou geweier word op grond van die Wet op Gemengde Huwelike wat hulle huwelik onwettig maak. Dit was die begin van die tweeslagtige verhouding met sy land. Mettertyd het die bohaai oor sy huwelik, sy uitlatings en sy situasie as banneling ander uitgewekenes na hom getrek en geleidelik het hy betrokke geraak by hul saak en aktiwiteite. Volgens hom was sy politieke optrede nie teen Suid-Afrika gerig nie, maar teen wat hy as onregverdighede beskou het. Hy besef nou dat die manier en metodes waarop hy wou werk verkeerd was. Hy vra dié om verskoning wat hy beledig het en bedank dié wat hom op ’n menslike manier behandel het.

(* Hierdie betoog betrap die gehoor in die volgepakte hofsaal onkant en daarna sou dit as “bekentenis” deur vriend en vyand óf aanvaar óf verwerp word.)

Dr Yutar leun ’n oomblik oor na adv Rothwell en fluister iets. Daar is ’n ongemaklike stilte in die hof. Yutar staan op en erken dat hy diep beïndruk is met Breytenbach se betoog. Hy vra die hof om ’n rukkie te verdaag sodat hy met sy kollegas kan beraadslaag. Dit word toegestaan. Regter Cillié bly ’n paar minute weg en neem toe weer sy plek in. Yutar kom op die been en van toe af is daar van die kant van die staat ’n skielike ommeswaai.

Yutar sê aan Breytenbach dat hy hom nie onder kruisverhoor wil neem nie, maar ’n paar punte wil opklaar. In hierdie “gesprek” sê Yutar hy gee toe dat Breytenbach nie die opsteller van die Okhela-manifes was nie en hy lê die skuld daarvan aan die deure van Schuitema en Morton. Yutar beskuldig hulle daarvan dat hulle jong en beïnvloedbare studente vir hulle eie doel beïnvloed en na Suid-Afrika stuur “om hulle vuil werk te doen terwyl hulle self in gemak en weelde in die buiteland sit”. Breytenbach stem saam en die gesprek duur voort totdat Yutar en Breytenbach by die Christelike Instituut uitkom en saamstem dat die instelling oënskynlik soms onwettig optree.

ViviersBreyten (62–5):
Die hofverrigtinge word na Breytenbach se verklaring en die gesprek met Yutar hervat en die verdediging begin om sy betoog ter versagting te lewer. Breytenbach kan nou weer sit. Binnekort sou hy weet hoe hard die hand van die gereg kan slaan. Dr Henning sou probeer om daardie hou so lig moontlik te maak. Hy begin sy betoog soos volg:

Uniek, minstens wat die persoonlikheid van die beskuldigde betref. Geen verhoor van hierdie aard in hierdie land het, vir sover dit die gesindheid van die beskuldigde betref, op ’n meer positiewe noot geëindig as hierdie verhoor nie.

Hy dui aan (met verwysing na die getuienis wat vir die staat gelewer is) dat die hele ontwerp wat daardeur geskilder is, “avontuurlik en idealisties was, terselfdertyd totaal onprakties en totaal onuitvoerbaar”. Hy sluit af:

Ek vra u om al die omstandighede in ag te neem, om die getuienis en elke aspek daarvan in sy samehang te sien en onder al die omstandighede en meer bepaald wanneer dit nou gaan om subjektiewe oorweginge, wanneer dit gaan om die persoon, die persoonlikheid van die beskuldigde, vra ek u om die wetlike voorgeskrewe minimum [gevangenisstraf van 5 jaar] op te lê.

Dr Yutar kom op die been en wend hom na regter Cillié en dui aan dat hy ook beïndruk is deur die weldeurdagte betoog van die verdediging. Hy wil alles sorgvuldig oorweeg. Hy vra die regter om hom oornag kans te gee en dan sou hy die hof toespreek.

 

26 November 1975 (Woensdag) – dag 4 van die verhoor – die vonnis

* Die berigte oor Breyten verwys na wat die vorige dag in die hof gebeur het.

Die Burger, 50 jaar gelede, 26/11/75

Breyten bieg en vra SA om verskoning: Breyten Breytenbach het gister in Pretoria in die Paleis van Justisie sy diepste hartstog, sy weemoed oor sy verkwiste jare en berou oor sy dade blootgelê in ’n verklaring aan regter-pres PM Cillié waarin hy by sy land en sy mense om verskoning pleit. Breytenbach is skuldig bevind aan 11 oortredinge ingevolge die Wet op Terrorisme en sal waarskynlik vandag gevonnis word.

En toe word alles ewe gemoedelik ...: Dit was onwerklik. In ’n verhoor in die Hooggeregshof waar ’n man daaraan skuldig bevind is dat hy die regering met wapengeweld tot ’n val wou dwing en deur ’n swart regering wou vervang, het die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte opgeklink en het die polisie-offisier wat die saak teen hom ondersoek het, ter versagting getuig. Die man, Breyten Breytenbach, het met berou in die getuiebank geklim en almal – onder andere die eerste minister, mnr BJ Vorster – om verskoning gevra en gesê hy vra geen versagting nie.

* In ’n kassie op die voorblad word verwys na ander artikels wat ook in die koerant verskyn: “Breyten se verhaal”, “Henning vra minimum straf”, “So het Breyten die wet oortree”, “Uit liefde vir my land”, “Hof vasgevang deur poësie”.

– Politieke konteks:

4 val in stryd teen terreur: Onder die vier manne wat tydens ’n strafekspedisie in die naweek in die operasionele gebied deur Swapo-terroriste doodgeskiet is, was twee Staande Maglede wat altesame sewe kinders agterlaat. Minstens 15 Swapo-terroriste is in die skermutseling doodgeskiet, en die weermag het beslag gelê op ’n groot hoeveelheid Russiese wapens.

Gety in Angola draai, sê MPLA: Die verloop van die Angolese burgeroorlog het geheel en al verander nadat troepe van die MPLA, gesteun deur Rusland, sy aanvallers uit die noorde en suide gestuit het, luidens ’n uitsending deur die MPLA oor Radio Luanda.

Viviers Breyten (66–74)

Viviers beskryf wat op dag 4 in die hof gebeur. Volgens hom het niemand meer getwyfel dat dit die minimum vonnis gaan wees nie.

Hy verskaf ’n woordelikse weergawe van dr Yutar se betoog. Dit was Yutar se laaste betoog in ’n groot saak as prokureur-generaal van Transvaal en dit sou ’n vreemde betoog vir ’n staatsadvokaat wees. Yutar voer aan dat die feite van die saak nie die maksimum vonnis vra nie. Hy skets kortliks die verswarende omstandighede in die saak: dat die argitekte van die Okhela-manifes (Schuitema en Morton) hulle volgelinge opdrag gegee het om die vrugbare velde van rekrute op te soek (NUSAS, die vakbonde en die “progressiewe” kerke) – al was daar baie bespreking, maar min resultate. Hierna lig hy versagtende omstandighede / sewe redes ter steun van die pleit vir ’n minimum vonnis uit: (1) Breytenbach is nie die werklike pleger en opsteller van die Okhela-manifes nie. (2) Hy is om verskillende redes misbruik. (3) Hy het van die begin af gebieg en sy spyt en berou getoon. (4) Die duur van die hofsaak is daardeur tot ’n week beperk. (5) Skuld is beken en getuienis aanvaar. (6) Die beskuldigde het getuienis onder eed afgelê en hom op die genade van die hof beroep. (7) Hy aanvaar sy verantwoordelikhede soos ’n man. Yutar vestig ook die aandag daarop dat die beskuldigde nie militêre opleiding ondergaan het nie – sy opleiding handel oor spioenasie en inligting. Ten slotte meen hy: Genadiglik is die ander aangehoudenes nie geroep nie en is hulle die vernedering gespaar om in die ope hof en onder eed hulle aandeel in die sameswering te onthul.

Hierna sê Breytenbach via dr Henning dat hy iets wil byvoeg by sy vroeëre verklaring, naamlik dat hy dankbaar teenoor die gevangeniswese is vir “hul besonder korrekte behandeling” sedert hy by hulle is. Dit het onder sy aandag gekom dat hierdie opmerking nie in die vorige dag se koerantberiggewing aangedui is nie.

Dr Henning reageer kortliks in repliek op dr Yutar se betoog. Hy voer aan dat die studente wat getuig het of aangehou is, nie bloot onskuldig en deur ander verlei is nie – miskien het hulle juis die persone in Europa gebruik en misbruik vir húl doeleindes. Hy meen die regter behoort Breytenbach wat straftoemeting betref, op sy eie handelinge (en nie dié van betrokke instansies nie) te beoordeel en dat sy persoonlike omstandighede in ag geneem moet word.

Die hof verdaag – en hervat weer 12h00. Regter Cillié lewer nou sy uitspraak. Hy verskaf eers die jongste voorligting van die hoogste hof in die land ten opsigte van strafoplegging: By die oorweging van ’n gepaste vonnis moet die persoonlike omstandighede van die beskuldigde, die aard van die misdaad en die belange van die maatskappy in aanmerking geneem word. Hy raak dan die redes aan waarom hy besluit het op die vonnis wat hy beplan om op te lê: (1) Wat die aard van die oortreding betref: Dit is ’n misdaad “met ’n lelike naam” en die vorming van die geheime organisasie op versoek van die ANC het groot gevaar vir die Suid-Afrikaanse staat ingehou. (2) Wat sy persoonlike omstandighede betref: Die beskuldigde is ’n groot figuur in die Suid-Afrikaanse letterkunde, maar hy het hom laat misbruik en het in die hof ’n verduideliking gegee van wat gebeur het en opreg berou betoon. (3) Die hof moet omsien na die belange van die maatskappy – sonder inmenging van buite, insluitende heimlike kontakmaking deur individue met die regter, deur die media en beriggewing asook deur amptenare van die hof.

Volgens die regter is die erns van die misdaad in hierdie geval besonder belangrik en is dit slegs die persoonlike omstandigheid, die betuiging van berou, wat hom noop om ’n “ligter vonnis” op te lê – maar dit is nie vir hom moontlik om die minimum vonnis op te lê nie:

In die omstandighede wat vandag bestaan, die klimaat wat nou heers, is wat u gedoen het ’n ernstige bedreiging vir die veiligheid van die staat en die vreedsame naasbestaan van die inwoners van hierdie land.

In al die omstandighede het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die vonnis wat ek moet oplê, een is van NEGE JAAR GEVANGENISSTRAF en dít word u dan opgelê.

Breytenbach word bleek. Stilte heers in die hof. Nadat die regter uitgestap het, word Breytenbach vinnig na die kantore van die Veiligheidspolisie gebring en daar – in ’n kantoor waar sy vader en suster hom bystaan – bars hy in trane uit. Ure later word hy weggestuur om sy vonnis te gaan uitdien.

In die laaste minute gee hy vir Viviers ’n stukkie papier, met die gedig wat sedertdien telkens aangehaal en getoonset is:

Mag die bome groen bly
en die sterre wit,
en mag daar altyd mense wees
wat mekaar sonder skaamte
in die oë kan kyk –
want die lewe is ’n asem lank
en die sterre op die Anderplek donker ...

 

27 November 1975 (Donderdag)

* Die berigte verwys na wat die vorige dag in die hof gebeur het.

Die Burger, 50 jaar gelede, 27/11/75

Breyten huil bitterlik: Breyten Breytenbach het gistermiddag sy gesig in sy hande laat sak en bitterlik gehuil oor die gevangenisstraf wat regter-pres. PM Cillié in Pretoria in die Paleis van Justisie aan hom opgelê het. Soos baie ander het hy ’n ligter vonnis verwag. Die Regterpresident het Breytenbach tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis ondanks ’n vurige pleidooi deur die Prokureur-generaal, dr Percy Yutar, SC, wat gesê het as gebaar van genade sal hy Breytenbach se medebetrokkenes nie vervolg nie.

Dit is baie ernstig, sê Cillié: Wat Breyten Breytenbach gedoen het, kon gelei het tot geweld wat hy met sy eie groot vaardigheid nie sou kon beskryf het nie, het Regter-president PM Cillié gister gesê toe hy die vonnis oor die Afrikaanse digter gevel het.

* Daar is nog ’n hoofberig wat verband hou met die Breyten-saak: “Agt jubelend na vryheid”, wat handel oor aangehoudenes in die saak wat die vorige dag vrygelaat is omdat die staat besluit het om hulle nie te vervolg nie.

In ’n kassie word ander berigte elders in die koerant gelys: “So is die regering gekritiseer”, “Sy vader het verslae koers gekry”, “Dit is baie ernstig sê Cilliers”, “Ek bewonder Breytenbach – Yutar”, “Cillié vra optrede ...”, “Betogers wil Breyten probeer bevry”, “Gedig vir ’n ...” asook verskeie foto’s.

– Politieke konteks:

Weermag in beheer, sê Botha: Alle berigte wat die indruk wek dat die Weermag nie in beheer is van die operasionele gebiede aan die grens nie, is kwaadwillig en van alle waarheid ontbloot, het die Minister van Verdediging, mnr PW Botha, gisteraand gesê.

 

28 November 1975 (Vrydag)

Die Burger, 50 jaar gelede, 28/11/75

Nog geen besluit oor Breytenbach-appèl: Hulle het nog nie besluit of teen die digter Breyten Breytenbach se vonnis van nege jaar gevangenisstraf appelleer gaan word nie, het sy advokaat, dr PJ van R Henning, gister gesê.

Okhela-man is lank nie klaar: Eerw Don Morton, een van die hooffigure agter Breyten Breytenbach se terroriste-planne en die man wat uit Suid-Afrika gevlug het nadat hy ’n 16-jarige meisie verlei en sy vrou en twee kinders net so gelos het, is nog lank nie klaar met sy planne teen Suid-Afrika nie ... Morton het in die verhoor van Breytenbach geblyk een van die opstellers van die Okhela-manifes te wees.

Alan Paton wil NUSAS nou los: Mnr Alan Paton, skrywer en gewese leier van die Liberale Party, oorweeg dit ernstig om te bedank as ere-voorsitter van NUSAS weens die onlangse betrokkenheid van sekere leiers by radikale aktivisme.

* ’n Ander berig op die voorblad is getitel: Röhms “verpletter”.

– Politieke konteks:

Twee jong Bolanders sterf aan grens: Nog twee dienspligtiges, albei van die Boland, het vroeër vandeesweek in die operasionele grensgebied gesterf, het die Verdedigingshoofkwartier gister in Pretoria bekend gemaak. Dit bring die getal Suid-Afrikaners wat sedert 15 November aan die grens gesneuwel het, op 11 te staan.

 

4 Desember 1975 (Donderdag)

Die Burger, 50 jaar gelede, 4/12/75

Breyten vra verlof tot appèl: Breyten Breytenbach het gister kennis gegee van ’n aansoek om verlof om teen sy vonnis van nege jaar gevangenisstraf te appelleer. In die gronde vir appèl wat gister deur sy regsverteenwoordigers saam met die aansoek ingedien is, word gesê dat “die vonnis buitengewoon swaar is en ’n gevoel van skok verleen”.

– Politieke konteks:

SAP na Ovambo om grens te bewaak: ’n Groep polisiemanne van die Suid-Afrikaanse Polisie se afdeling teen-insurgensie is gister na Ovambo gestuur om teen insypelaars op te tree. Nog ’n groep vertrek vandag.

* ’n Ander berig op die voorblad: Lektor, 3 van NUSAS verskyn in die hof op aanklagte ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme.

Vanaf Desember 1975 volg die NUSAS-verhoor met vyf aangeklaagdes: Glenn Moss, Charles Nupen, Eddie Webster (lektor), Cedric de Beer en Karel Tip. Die staat voer aan dat hulle in ’n sameswering betrokke was om die doelwitte van kommunisme en van die ANC en die SAKP te bevorder. Op die span van die verdediging is Arthur Chaskalson en George Bizos. In die uitspraak wat oor twee dae gelewer word in Desember 1976 word die vyf aangeklaagdes onskuldig bevind op grond daarvan dat die staat nie daarin kon slaag om ’n sameswering te bewys nie.

Die SASO/BPC-verhoor (South African Students’ Organisation en Black People’s Convention), ook bekend as die Black Consciousness Trial, vind van 31 Januarie 1975 tot 21 Desember 1976 in die Pretoriase Hooggeregshof plaas. Hierdie hofsaak was dus nog in volle swang tydens Breyten se verhoor. Die nege SASO-lede word almal skuldig bevind onder die Wet op Terrorisme en tot tronkstraf op Robbeneiland gevonnis.

 

29 Januarie 1976

GallowayOpenbare figuur (172):
Op hierdie datum word Breyten se aansoek om appèl afgewys deur regter Cillié. Dr Henning het daarna ’n petisie opgestel vir die Hoofregter wat ook dít verwerp het. Breyten sou geen appèl teen die vonnis van nege jaar kon aanteken nie. En in Maart 1979 weier minister Jimmy Kruger parool aan hom.9

Reaksie van die pers, die publiek en ingeligte lesers op die verhoor
Dit word volledig bespreek in Galloway, Openbare figuur (172–84).

 

Bibliografie

Breytenbach, Breyten. 1984. The true confessions of an albino terrorist. Emmerentia: Taurus.

—. 2015. ’n Bestaansbelydenis, nie ’n geloofsbelydenis nie. In Parool / Parole. Versamelde toesprake / Collected speeches. Kaapstad: Penguin Books.

Galloway, Francis. 1990. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM-Literêr.

Viviers, Jack. 1978. Breyten. ’n Verslag oor Breyten Breytenbach. Kaapstad: Tafelberg.

 

Eindnotas

1 Ek veroorloof my om na hom op sy voornaam te verwys; wanneer ander stemme aan die beurt is, dan wel na hom op sy van.

2 In 1975 voer Breyten se broer, Jan Breytenbach, Operasie Savannah aan – die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) se geheime ingryping in die Angolese Burgeroorlog. Die oorblyfsels van hierdie groep vorm later die elite 32-Bataljon, wat ook bekend staan onder die byname die Buffalo Battalion en Os Terríveis, Portugees vir “Die Skrikwekkendes”.

3 Breyten noem haar Anna van Niekerk in Confessions (77).

4 Henning van Aswegen se blog is ’n weergawe van hoe Breytenbach in Kaapstad dopgehou is deur die BfSS (Bureau for State Security / Buro vir Staatsveiligheid – in die omgang algemeen bekend as BOSS), insluitende die volgende vreemde bewering: dat Breytenbach op 14 Augustus 1975 ’n Afrikaanse taalfees in die Paarl bygewoon het: “Many of the writers and poets attending the festival knew Breytenbach well and were not quite sure how to react to the strange sight of the famous poet wandering around, insisting that he indeed was Christian Galaska from France, but speaking to old university friends and colleagues in Afrikaans.”

Feit: Die Taalmuseum is in 1972 gekoop, gerestoureer en op 14 Augustus 1975 geopen met die 100-jarige viering van die GRA – geen inligting is beskikbaar wat daarop dui dat dit ’n geleentheid was wat deur talle feesgangers bygewoon is nie. Die Taalmonument is op 10 Oktober 1975 ingewy, en Breyten was toe in aanhouding.

Breyten verwys na hierdie “mite” in Confessions (191–2) wanneer hy beskryf hoe hy per motor en trein uit Kaapstad weggekom het nadat hy daarvan bewus geword het dat hy dopgehou word. Die “Swami” (James Polley) het hom via Paarl na Wellington geneem, van waar hy die trein na Johannesburg gehaal het. In Paarl het hulle ’n rukkie rondgestap in die buitewyke van die dorp en vrugte by ’n Portugese groentewinkel gekoop, daarna verder na Wellington, waar hulle verby sy eertydse ouerhuis gery het. Oor die Taalmonument noem hy dat hy dit nooit gesien het nie: “But one of the fancies of the security police which I found very difficult to contradict, was that I had attended the inauguration of this monument [...], disguised as a woman. God only knows how that deduction or observation got into the omnipotent files of the Greyshits. I assume that I was supposed to have been wearing one of those Voortrekker dresses reaching down to the ground, and with a ‘kappie’ on my head – as those deep, sinister sun-bonnets are called. How else could I have disguised my hairy legs and my moustache?”

5 Volgens Viviers in Breyten (24) het Yolande gedink Breytenbach is in Swaziland.

6 Volgens Yolande het sy eers ná die verhoor in die land aangekom – op Breyten se versoek dat sy nie die hofsaak moet bywoon nie. (Whatsapp, 25/11/25)

7 Viviers in Breyten (25): In die wetboek word by skuldigbevinding ingevolge die Wet op Terrorisme voorsiening gemaak vir die doodstraf.

8 Breyten word presies 50 jaar na sy verhoor begin het, op 21 November 2025 saam met ander Franse burgers deur pres Emmanuel Macron by die Vryheidspark vereer vir hulle deelname aan die stryd teen apartheid.

9 Tydens die tweede verhoor (Junie–Julie 1977) kom dit aan die lig dat dit tydens die eerste verhoor aan hom voorgehou is dat indien hy sou “saamwerk”, Breyten alle rede het om te hoop op die minimum vonnis en dat die Veiligheidspolisie enige poging vir ’n vroeë ontslag sou steun. Sy sogenaamde skuldbelydenis (wat hom van talle mense vervreem het) en apologie aan minister Vorster verkry dus ander implikasies in die lig van hierdie “ooreenkoms” met die Veiligheidspolisie/Staat. Ten spyte van die ooreenkoms het pleidooie vir ’n ligte vonnis en/of opskorting daarvan nie geslaag nie. In Augustus 1985 publiseer Pretoria News en The Star besonderhede van die ooreenkoms. (Hierdie aangeleentheid word bespreek in Galloway, Openbare figuur, 196–8.)

Vroeg in 1982 word ’n wetswysiging aanvaar wat voorsiening maak vir die vervroegde vrylating of vrylating op parool van mense wat skuldig bevind is aan misdrywe teen die veiligheid van die apartheidstaat. Hierdie toegewing maak deel uit van die destydse hervormingspolitiek. Op 2 Desember 1982 word Breyten onverwags ná sewe jaar in die tronk vrygelaat. Op 2 Desember 2025 is dit 43 jaar sedert sy vrylating – en hy is op daardie stadium 43 jaar oud. Hy en Yolande kom op 5 Desember 1982 in Parys aan.

Lees ook:

My pad met Breyten – op die taalspoor

Die lang man met die bril: ’n fotolegkaart van 60 jaar gelede

Praatjie oor Vlam in die sneeu: U3A Hermanus, 21 Augustus 2017

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top